Die Groot Geloofswoordeboek: Kerk

Die Groot Geloofswoordeboek: Kerk

Kerk

(*Eienskappe van die kerk, *Kenmerke van die ware kerk)

  • Denominasie Lidmaat Gemeente Selgemeente Gemeentestruktuur Bedienings Die basisstruktuur van die gemeente

• Denominasie

Omdat daar nie net een kerk is nie, maar die Christendom in talle organisasies verdeel is, word hierdie eenhede apart aangedui. Ons praat van denominasies of van kerke in die sin van afsonderlike kerkorganisasies. Binne hierdie organisasies is daar dan kleiner plaaslike eenhede. Dit word soms gemeentes genoem, maar daar is groepe wat dit ook weer (plaaslike) kerke noem.

Intussen word die woord “kerk” ook nog vir die kerkgebou ge­bruik, en selfs vir die erediens (“Ons gaan kerk toe”), of die kerk as instansie of organisasie (“Die kerk het besluit”).

In die meeste gevalle het die Charismatiese beweging nie deno­minasies nie, maar selfstandige kerke op elke plek. Intussen het van hierdie kerke begin om ook op ander plekke “gemeentes” (?) te stig. Soms word van kampusse gepraat.

 

• Lidmaat

“Lidmaat” beteken dieselfde as “lid”, maar word net in verband met die kerk gebruik. ‘n Mens is “lid” van ‘n vereniging, maar “lid­maat” van ‘n kerk. Dit is nie onmoontlik dat dit afgelei is van “le­de­­maat” wat ‘n deel van ‘n mens se liggaam is nie. Indien wel, sal dit ge­tuienis wees vir die feit dat die gemeente op ‘n be­paal­de sta­dium eerder in terme van die *Liggaamsmodel as die *Her­der-kud­de-model verstaan is. Dit impliseer onmiddellik dat ‘n lid­maat ‘n we­senlike deel van die gemeente is en nie maar net ‘n aan­hang­sel nie. Paulus is baie ernstig oor die liggaam as model van die gemeente (1 Kor 12). ‘n Liggaam kan nie sonder al sy ledemate goed funk­­sio­neer nie, en net so ook nie die gemeente nie. Dit beteken dat die lid­ma­te, waarvan die predikant net een is, die bedienaars in die ge­meen­te is. “Elke lidmaat vervul sy funksie, en so bou die liggaam hom­self in liefde op” (Ef 4:16).

 

  • Gemeente

‘n Gemeente is ‘n plaaslike vorm van ‘n denomina­sie of kerk­ge­­nootskap. In sommige gevalle het dié gemeentes ‘n baie self­standige en onafhanklike bestaan, soos in die meeste Baptistede­nominasies, maar in ander gevalle is daar sterk bande tussen die gemeentes en word aspekte van hulle lewe selfs deur een ge­sag­struktuur beheer, soos ‘n sinode.

 

  • Selgemeente

‘n Selgemeente is ‘n kleiner groep in ‘n plaaslike gemeente. Dit bestaan in verskillende vorme met verskillende oogmerke, en kan ook selkerk, kleingroep, huisgemeente, Bybel­studiegroep en nog ander name genoem word. (Later in hierdie bespreking meer hier­-oor onder gemeenskap.)

 

• Gemeentestruktuur

Die gemeentestruktuur sal van twee kan­te af bekyk word. Eers kyk ons na die vraag hoe die gemeente be­dien word, deur die predikant/pastoor/priester en die kerkraad, of deur die ge­meente self in die vorm van bedienings. Daarna kyk ons na die basiese struktuur in terme waarvan die bedienings behoort te werk.

Daar is minstens twee modelle waarvolgens gemeentes bedien word, al is daar natuurlik baie variasies op elke model moontlik: die Herder-kudde-model en die Liggaamsmodel.

 

Die Herder-kudde-model

In beginsel is daar niks met die Herder-kudde-model verkeerd nie. Die Here is ons Herder, en ons is sy skape. Dis ‘n pragtige Bybelse model van God se sorg en ons afhanklikheid. Psalm 23, Johannes 10 en ook ander dele in die Bybel beteken soveel vir soveel mense.

Die moeilikheid is wanneer die Here nie meer ons Herder is nie, maar die predikant/pastoor/priester. As ‘n gemeente vakant is, bid die gemeente dat die Here weer vir hulle ‘n “herder” sal voorsien.

Die predikant/pastoor/priester is soms ook die enigste “be­die­­naar” wat die gemeente moet bedien. Hy of sy is die enigste be­taal­de ampsdraer, en die hele geestelike lewe en organisasie van die gemeente draai om hom of haar.

‘n Baie ou segswyse is dat die predikant “in die bediening” is. Hy of sy bedien hierdie of daardie gemeente, of hy of sy is nou “uit die bediening”. Dit is trouens ook waarvoor die predikant betaal word. Die gemeente is bereid om by te dra vir die traktement, huisvesting en reiskoste van die “bedienaar”, en hulle verwag dan dat hy of sy hulle sal bedien deur die gemeente-byeenkomste te lei, hulle gereeld te besoek, hulle kinders te doop en te katkiseer, en hulle te begrawe. En as die predikant die bediening getrou en met toe­wyding uitvoer, gaan dit “baie goed” in die gemeente: daar is goeie kerkbesoek en bydraes, selfs soveel dat ‘n bietjie vir sending kan gaan.

Natuurlik gaan dit selfs nog beter as daar ‘n kerkraad is wat die “herder” “bystaan”. (Dit moet “bystaan” wees, want die pre­di­kant is al een wat regtig in die “bediening” is.) Die ge­meentelede word dan nog beter “bedien”, want hulle word deur nog meer mense be­soek.

Dat dit van die predikant/pastoor/priester verwag word om die “geestelike werk” te doen is duidelik. Dink vir ‘n oomblik aan hospitaalbesoek. Die hele familie is elke aand by die hospitaal, maar nie een van hulle sal bid nie. Die predikant/pastoor/priester moet. En as hy of sy dit nie doen nie, is die tonge los: Wat vir ‘n “herder” is dit wat nie eens bid nie?

Wat beteken “goed gaan” in so ‘n Herder-kudde-gemeente? Wat gebeur as die predikant/pastoor/priester nie toegewyd is en voluit vir die Here werk nie? Dan val alles plat. Dan gaan daar niks aan nie. Die eer­ste wat in die slag bly, is gewoonlik die sendingbydrae.

Het die Here regtig bedoel dat alles in die gemeente van een persoon se toewyding en ywer moet afhang? En as daardie per­soon nie regtig ‘n “bedienaar” is nie en jare in ‘n gemeente bly, watter on­eindige skade word daar aan die gemeente aangerig!

Het die Here regtig bedoel dat die gemeente, soms honderde mense, net moet sit en bedien word? Hoe bereik ons die wêreld só? Deur nog ‘n paar predikante/pastore/priesters? Is hierdie vorm van die Herder-kudde-model nie een van die redes waarom Chris­tene ‘n krimpende persentasie van die wêreldbevolking is nie? Is dit nie die rede waarom ons so min werfkrag op die wêreld het nie? ‘n Passiewe Christendom wat net bedien word, vetgevoer en oor­gewig? En dit terwyl ons atlete op die resiesbaan moes gewees het.

 

Die Liggaamsmodel

Die Liggaamsmodel werk volgens heeltemal ‘n ander begin­sel. Die gemeente word nie bedien nie, die gemeente bedien self; elke ge­meentelid is in ‘n bediening betrokke. Nie net die predikant/pastoor/priester het ‘n bediening nie, die gemeente het ‘n bediening. Die predikant/pastoor/priester is een onder baie. Hy of sy het natuurlik ook ‘n bediening, maar dis nie “die be­diening” nie, dis een bediening onder baie ander bedienings in die gemeente.

Die Liggaamsmodel is gebou op Paulus se siening van die ga­wes van die Gees, veral 1 Korintiërs 12: elke lidmaat is ‘n deel van die liggaam, en elke deel moet sy of haar funksie vervul sodat die lig­gaam as geheel kan werk. Net een enkele toon wat regtig seer is, maak loop amper onmoontlik. Net een vinger in gips en ‘n mens kan skaars vat met daardie hand. As ‘n mens kyk in hoe­veel be­son­derhede Paulus hierdie beeld van die liggaam toepas, be­sef jy hoe ernstig Paulus dit bedoel. Selfs die lid wat heelte­mal on­be­dui­dend lyk, blyk later onontbeerlik te wees.

Elders (*Gawes) is daarop gewys dat “gemeente” in Paulus se briewe eintlik ‘n huisgemeente is, miskien so vyftien mense. Dit is ‘n groep wat regtig hul lewens met mekaar kan deel. Dit is ook omtrent die getal gawes wat Paulus noem. Hy het nooit die ge­dag­te gehad dat honderde mense almal mekaar met hul gawes kan bedien nie. Wat word van die arme man wat sy vrou verloor het en nou by die kerkdeur moet staan dat al 700 gemeentele­de met hom simpatiseer? Ons het vandag *selgemeentes of kleingroe­pe waar mense se persoonlike behoeftes wonderlik aange­spreek kan word. Vyftien mense kan mekaar se lewens individueel deel en mekaar met hul gawes bedien.

Dink weer aan die voorbeeld van hospitaalbesoek. Wat kan ‘n predikant/pastoor/priester in elk geval werklik tot die situasie by­dra? Dit is die moeder wat ernstig siek is. Sy gaan ‘n paar weke in die hospitaal wees, en daarna nog weer tuis ook in die bed. Die getroue predikant/pastoor/priester gaan elke week een keer, wie weet, dalk twee keer ‘n gebed doen en haar sterkte toewens. Dit sal ongetwyfeld baie vir haar beteken. Maar intussen werk haar man in die week uitstedig, en sy het drie kinders wat moet eet en skool toe vervoer word. Arme predikant/pastoor/priester! Arme ma!

Behalwe as sy in ‘n “gemeente” is, dit wil sê ‘n groep van so vier of vyf gesinne wat hulle lewens met mekaar deel. Behalwe dat van hulle elke aand by die hospitaal kan wees (en nie net een of twee keer per week nie), kan hulle kos maak, kinders vervoer, en op ‘n wonderlike manier regtig ‘n verskil maak in die nood van hierdie gesin.

Hier is eintlik nog niks verder geskryf oor die verskeidenheid bedienings wat in so ‘n groot gemeente kan ontwikkel as die lidmate in kleingroepe of selgemeentes leef nie. Dit kan ‘n ge­meente word wat nie net mekaar oneindig beter kan bedien as wat een persoon hulle kan bedien nie, maar wat uitreik na die ongelowiges om hulle na Christus te nooi. Die kerk, en dit is elke ge­lowige, is geroep om ‘n “sendeling” te wees (*Sending), nie net die predikante/pastore/priesters nie. En daar is soveel nood om ons dat ons almal op een of ander manier betrokke kan wees by die leniging van hierdie nood in die Naam bo alle name.

 

  • Bedienings

Bedienings is verantwoordelikhede wat individue of groepe in ‘n gemeente aanvaar. Dit hang saam met die ge­dag­te dat die Gees gawes aan gemeentelede gee, en nie net aan “amps­draers” nie. Hier­mee moet die gemeentelede me­kaar be­dien. Ge­meen­telede word ook gehelp om die gawe te “ont­dek” wat hulle ont­vang het. Struk­ture word dan in die ge­meen­te ge­skep waarin hierdie lidmate die gawe kan beoefen. ‘n Ge­meen­te kan hierdie bedieningstruktuur hand aan hand met die amp­struk­tuur im­plementeer, of van ‘n amps­bediening oorskakel na ‘n bedie­ning­struktuur. (Kyk later in hierdie bespreking onder gemeenskap.)

 

  • Die basisstruktuur van die gemeente

Viering, lering, gemeenskap en getuienis is vier elemente in die lewe van ‘n ge­meente wat as ‘n een­heid behandel moet word. Dit behoort eintlik die basisstruktuur van die lewe van elke gemeente te wees.

Viering geskied in die erediens en ander groot byeenkomste, lering in ‘n Bybelskool en kursusse, gemeenskap in selgemeentes of ander kleingroepe en bedienings, en getuienis is die taak van die gemeente in die wêreld. Dit is nie vier losstaande sake nie. Die eerste drie moet al drie uitloop op die vierde een. Viering, lering en gemeenskap se gesamentlike doel is getuienis.

Die kerk is in die wêreld om die wêreld na Christus te nooi. Die kerk is nie in die wêreld om homself in stand te hou of vir sy lede te sorg nie. (*Sending) Die kerk is ook nie in die wêreld om vir besondere groepe in die gemeente te sorg soos die bejaardes of die jongmense nie – hoe belangrik hierdie dinge ook al is. As dié dinge God se doel met die kerk was, sou Hy lankal die kerk “hemel” toe gevat het waar dit alles baie makliker sal wees. Daar is net een ding wat die kerk nie meer ná Christus se wederkoms sal kan doen nie, en dit is om die wêreld vir Christus te wen. Dís ons taak hier en nou, totdat Hy kom. Die totale lewe van die gemeente, met al sy fasette, moet hierop ingestel wees en hierin sy uiteindelike doel vind.

Dit is ook nie aanvaarbaar om “eers alles in die gemeente in orde te kry” en dan na buite te begin beweeg nie. Alles sal nooit in die gemeente in orde wees nie! Daarom is hierdie houding dikwels net ‘n manier om by onsself betrokke te bly. Dis eerder goed om dadelik na buite te begin beweeg. Dit bring dikwels juis die behoeftes na vore wat ons in die gemeente moet aanspreek om ons getuienis effektiewer te maak. Al drie die fasette van ons lewe na binne moet planmatig op ons getuienis ingestel wees.

 

Viering

Viering is die groot byeenkomste van die gemeente waar almal saam die Here loof, saam die Woord hoor en juig of hulle veroot­moe­dig, almal hulle saam verbind om die Here voluit te dien. Van hier af kan die groter projekte onderneem word wat nie in selgemeentes tereg kan kom nie. Hier moet die hele gemeente saam geïnspireer en gemotiveer word om hul getuienis na buite te laat hoor.

‘n Inspirerende erediens skep ‘n atmosfeer van entoesiasme in die hele gemeente. Eredienste wat vir lidmate blote pligpleging is, is teenproduktief. Liedere wat sonder en­toesiasme gesing word, is vervelig. ‘n Preek wat nie vooraf die prediker aangegryp het nie, gryp ook nie in die erediens mense aan nie. ‘n Mens gaan “kerk toe” wanneer daar “kerk” is, en nie wanneer jy lus is nie. Dit is ‘n slegte teken as ‘n gemeente uit twee groepe bestaan: og­gend­kerkgangers en aandkerkgangers.

Eredienste en groot byeenkomste is nie goeie leer- of per­soon­like gemeenskapsgeleenthede nie. Vir gemeenskap is hulle te groot. Honderdtalle of selfs net tientalle mense kan nie per­soonlike ge­meen­skap met mekaar hê nie. En vir lering het dit nie die nodige infrastruktuur nie.

Eredienste kan verskillende karakters vertoon. Alle eredien­ste hoef nie dieselfde verloop te hê nie. Lidmate behoort hulle daar­op toe te lê om verskillende soorte eredienste te geniet. Die Here het ons nie so klein gemaak dat ons net “kerk” op een ma­nier, óns manier, kan geniet nie.

Al is eredienste nie goeie leergeleenthede nie, kan daar tog wel leerstof aangebied word. Daar is verskillende soorte preke, en dit is nodig dat ‘n verskeidenheid aangebied word. Dit is eensydig om net altyd één teks, perikoop of hoofstuk te behandel. Daar moet ook oorsigtelik gepreek word, nie net uit die Bybel nie, maar ook oor die Bybel. Die gemeente moet bloot­gestel word aan die ont­staans­geskiedenis van die Bybel, aan die samestelling en die probleme. Die meeste lidmate in die his­to­riese kerke woon niks anders as een erediens per Sondag (dalk selfs maand?) by nie. Hulle kennis is so beperk dat hulle maklik “heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer” (Ef 4:14). As daar in openbare debatte na probleme in die Bybel verwys word, is hulle maklik diep geskok omdat hulle salig onbewus was daarvan na jare lange kerkgang. Hulle is ook baie vatbaar vir af­wykende sienings.

Een van die probleme is dat eensydige preke uit die Bybel die indruk gee dat alles in die Bybel op ‘n een-tot-een-verhouding op ons lewe toegepas kan word. Week na week lê die prediker ‘n ge­deel­te uit en pas dit probleemloos op ons lewe toe. Dit is die be­ginsel van *Fundamentalisme. Om oor die Bybel te preek beteken om sekere verbande te lê, sekere temas deur die Bybel te volg, seke­re ont­wikkelings aan te toon, en op dié maniere kom bepaalde pro­ble­me vanself na vore wat op ‘n simpatieke manier behandel kan word om ons geloof juis verantwoordeliker te maak in plaas van te skok.

Daar is ook ander vorme van preke as net ‘n halfuur lange mo­noloog. En daar is ander vorme van Woordverkondiging as preke in watter vorm ook al. ‘n Drama kan ook Woordverkondiging wees, ‘n getuienis en ‘n gesprek ook. Sang het ook sterk elemente van Woordverkondiging. (*Vernuwingsbeweging)

 

Lering

Vir grondige lering is ‘n bepaalde infrastruktuur nodig: stoele by tafels met skryfgoed, ‘n program en dieselfde “dosent” en “leerders” by elke geleentheid. Natuurlik kan ‘n spesialis op ‘n bepaalde onderwerp by geleentheid gebruik word. Lering is nie ter wille van lering nie, net soos viering ook nie ter wille van vie­ring is nie. Lering moet lidmate beter voorberei om hul getuienis na buite uit te dra.

‘n Bybelskool kan verskillende onderafdelings hê waarin ver­skillende bedienings onderrig word om hul bedienings des te beter bekend te stel en uit te voer. Daar kan dus algemene en ge­spesialiseerde kursusse aangebied word. Dit is aan te bevele dat lidmate leerstof kry om vooraf tuis voor te berei. Dit kan verhoed dat die Bybelskool ‘n sit-en-luister-skool word en liewer iets van ‘n doen-dit-self-karakter ontwikkel. As dieselfde lidmate gereeld om dieselfde tafel sit, ontwikkel verhoudings. As hulle dan ‘n re­delike deel van die Bybelskool se tyd aan gesprekke bestee oor wat hulle tuis moes voorberei, leer hulle om self hul geloof te formuleer. In hul getuienistaak is dit van die uiterste belang.

Binne hierdie struktuur skep lering wel geleentheid vir ‘n mate van persoonlike gemeenskap, maar dis eerder op ‘n saaklike vlak wat nie voldoende ruimte laat vir ander vorme van gemeenskap, soos persoonlike ondersteuning, nie.

 

Gemeenskap

Persoonlike gemeenskap kan net in klein groepe van so tussen tien en twintig mense geniet word. Die groot gemeen­teby­een­komste het sy eie vorme van gemeenskap, maar dit is nie op ‘n persoonlike vlak nie. ‘n Selgemeente, of watter ander naam ons ook al gebruik, is nie ‘n groep wat noodwendig gereeld byme­kaarkom nie – hoe belangrik dit ook al is – maar ‘n groep wat hul lewens met mekaar deel. Daarvoor is tyd, aandag, belangstelling en liefde nodig.

Daar behoort nie ‘n eenvormige struktuur vir alle selgroepe in ‘n gemeente te wees nie, eenvoudig omdat die behoeftes, situa­sies en bedienings van groepe baie verskil. Elke kleingroep be­hoort ‘n bediening buite die groep te hê. Hulle gemeenskap, wat ook bedoel is om in hulle eie behoeftes te voorsien, moet uit­eindelik daarop ge­mik wees om in die Naam van Jesus ‘n behoefte in die gemeenskap aan te spreek. Baie tyd van die groep sal dan ook opgeneem word deur voor­be­reiding om daardie spesifieke bediening uit te voer. ‘n Groep wat gerig is op traumapasiënte by ‘n hospitaal sal onderrig kry in trau­mahantering. Dit is klaar deel van die getuienis van die gemeente.

 

Getuienis

Die totale werk en lewe van die gemeente behoort op sy getuienis na buite gerig te wees. Die viering (groot byeenkomste) behoort die hele gemeente saam te inspireer om die wêreld uit te nooi om Jesus as Verlosser te aanvaar. Die gemeente behoort ook groot pro­jek­te aan te pak, of deel van groter projekte te word wat een ge­meente nie alleen kan aanpak nie.

Die lering behoort net soseer op getuienis gerig te wees. Daar­om behoort daar in groepskursusse aan spesifieke uitreikbehoeftes aan­dag gegee te word, en behoort die lidmate te leer om self hul geloof te verwoord en te verantwoord, en om mense wat buite die geloofsgemeenskap staan, te betrek en te lei om Jesus as Verlosser te aanvaar. Omdat die opleiding van pre­dikante ‘n wesenlike deel van die lering is, moet juis hierdie aspekte ook dáár aandag kry.

Die gemeenskap gehoort die kweekhuis te wees vir kleiner uitreike. Een van die ideale van die kleingroep/selgemeente behoort te wees om mense van buite op te neem sodat hulle iets van die gemeen­skap van die kinders van die Here kan beleef en só by die gemeente betrokke raak, en Jesus as Verlosser leer ken.

 

Skrywer : Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Kenmerke van die Kerk

Die Groot Geloofswoordeboek: Kenmerke van die ware Kerk

Kenmerke van die ware kerk

  • Woordverkondiging Sakramentsbediening Tug

Daar word gewoonlik onderskei tussen kenmerke en eienskappe van die kerk. Die kenmerke is die suiwer verkondiging van die Woord, die suiwer bediening van die sakramente en die suiwer toepassing van die tug.

*Eienskappe van die kerk behels eenheid, heiligheid, Chris­telik­heid of apostolisiteit, algemeenheid of katolisiteit. (*Kerk)

Daar is ‘n interessante onderskeid tussen die eienskappe en ken­merke van die kerk. Die eienskappe kom al ‘n lang pad saam met die kerk. Hulle staan van vroeg af in die *Apostoliese Geloofs­belydenis en die *Belydenis van Nicea. Daarteenoor is die ken­merke eers in die tyd van die *Kerkhervorming opgestel. Dit was ‘n poging om te sê waarom die Hervormers nie meer die *Katolie­ke Kerk as die ware kerk beskou het nie. Volgens die Hervormers het hulle nie meer die Woord suiwer verkondig nie, nie meer die sakramente suiwer bedien nie en nie meer die tug suiwer toegepas nie.

Die klag dat die Katolieke Kerk nie meer die Woord suiwer ver­kondig het nie, het gespruit uit wat die Hervormers as op­sigtelike dwalings gesien het, soos die beklemtoning dat goeie werke deels tot ons saligheid bydra. Wat die sakramente betref, het die Ka­tolie­ke sewe *sakramente gehad in plaas van net die twee van die Pro­te­s­tante (die doop en die nagmaal). Hulle het ook geglo dat die brood en die wyn tydens die nagmaal regtig verander en die liggaam en die bloed van Jesus word. (*Trans­substansiasie)

Wat die tug betref, het die Hervormers gevoel die Katolieke tree op teen hulle wat gelowiges is en doen niks aan mense in die kerk wat soos heidene leef nie. Daarteenoor was die tug veronder­stel om die kerk suiwer te hou, om mense wat afdwaal, weer nader te trek (“tug” kom van ‘n ou Duitse woord tiën, wat “trek” beteken; mense moes dus weer nader getrek word), of in uiterste gevalle uit die kerk uit te sit.

Daar is vandag baie huiwering oor hoe effektief ‘n kerk se sui­wer­heid regtig deur hierdie kenmerke getoets kan word. Die tug word in verreweg die meeste Protestantse kerke hoege­naamd nie of uiters selde gebruik. Die basiese probleem met die tug is dat dit net in ‘n klein, hegte geloofsgemeenskap kan werk, en nie in die ge­formaliseerde gemeenskap van die meeste historiese kerke nie. Oor die suiwer bediening van die sakramente is daar onder Prote­stante self soveel verskille dat dit eweneens nie eintlik as kenmerk kan funksioneer nie. Daar is ingrypende verskille oor die bediening én die betekenis van die doop, en net so oor die nag­maal.

‘n Mens sou ook graag ander eienskappe wou oor­weeg, soos die liefde. Jesus het dit nogal beklemtoon (Joh 13:35).

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Katolieke Kerk, Ortodokse Kerke en die Pous

Die Groot Geloofswoordeboek: Katolieke Kerk, Ortodokse Kerke en die Pous

Katolieke Kerk Pous Ortodokse Kerke

Die eerste kerkskeuring

Vir omtrent 1 000 jaar was die kerk net “die kerk”, daar was geen be­sondere name vir bepaalde kerke nie omdat daar nie ver­skil­len­de kerke was nie. Dit is uit hierdie tyd wat die *Apostoliese Geloofs­belydenis kom waarin ons oor die kerk bely: “Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk.” Dit beteken dat daar ‘n kerk is, net een, soos daar net een maan of een son is. Dit hoort so, en ons behoort vandag nog ons belydenis so te verstaan. Die Here het nooit in gedagte gehad dat daar ‘n klomp kerke sal wees wat mekaar ook nog opponeer nie.

In 1054 nC het daar egter ‘n skeuring gekom tussen die kerk in die Ooste en die kerk in die Weste. Onder “die kerk in die Ooste” verstaan ons die kerk in die Oos-Europese lande, soos Griekeland, Hongarye, Bulgarye, Rusland, en onder “die kerk in die Weste” die Katolieke Kerk in die Wes-Europese lande.

Na eeue lange verskilpunte oor ‘n hele aantal sake het die skeu­ring uiteindelik gekom oor een enkele klein woordjie wat in Latyn heet filioque en beteken “en vanuit die Seun”. Die kerk in die Weste, wat later die Katolieke Kerk genoem sou word, het hierdie woordjie by ‘n ou belydenis van die kerk bygevoeg. Die belydenis het gelui dat die Gees van die Vader uitgegaan het, wat beteken dat die Gees sy oorsprong in die Vader het. Maar die kerk in die Weste het geglo dat die Gees “ook van die Seun” uitgegaan het.

Om taamlik ingewikkelde redes wou die kerk in die Ooste dit nie aanvaar nie, en daardeur het daar ‘n skeuring gekom wat vandag nog nie geheel is nie. Vandag praat ons van die Katolieke Kerk en die Oosterse of die Ortodokse Kerke. Ons gebruik in hulle geval die meervoud (kerke) omdat hulle van land tot land taamlik selfstandig langs mekaar funksioneer en nie die soort strukturele eenheid van die Katolieke Kerk het nie.

 

Ortodokse Kerke

Die Ortodokse Kerke het nie dieselfde ontwikkelings as die Ka­tolieke Kerk gehad nie. Hulle het geglo dat net die hele kerk saam oor leerkwessies en belydenis kan besluit, en daarom het hulle by die ou belydenisse bly staan en nooit nuwe belydenisse oor nuwe probleme geformuleer nie omdat die hele kerk nie meer saam was nie.

 

Katolieke Kerk

Dit word verkeerdelik (en soms ook ‘n bietjie minagtend?) die Roomse Kerk of die Rooms-Katolieke Kerk genoem omdat hulle sentrale gesag in die Vatikaanstad in Rome gesetel is. Die woord “ka­to­liek” beteken “algemeen” en word in ons belydenis gebruik: “Ek glo aan ‘n heilige, algemene (ka­to­­lieke) kerk, die gemeenskap van die heiliges.” In dié sin bely ons saam met alle ander Christene dat ons (deel van) die alge­mene (katolieke) kerk is wat oor die hele aar­de versprei is. Maar tegnies word hierdie spesifieke kerk die Kato­lieke Kerk genoem. (*Algemeenheid van die kerk)

Die Katolieke Kerk is die grootste Christelike denominasie, met meer as een biljoen lidmate wêreldwyd. Dit is die enigste kerk wat wêreldwyd as een organisasie bestaan. Die ander tradisies het ver­skillende kerklike organisasies in die verskillende lande, soos verskillende Gereformeerde Kerke wat in die verskillende lande on­afhanklik van mekaar funksioneer. Maar die ganse Ka­tolieke Kerk is verenig onder die leierskap van die pous.

Net soos die Ortodokse Kerke maak hierdie kerk daarop aan­spraak dat hy die voortsetting is van die oorspronklike kerk wat deur die apostels in Handelinge begin is. Vir baie lank het hy homself ook as die enigste ware kerk beskou, maar hy het in die laaste halfeeu meer erkenning aan ander kerke begin gee. Dit is die kerk waarteen die Kerkhervormers soos Luther en Cal­vyn in die sestiende eeu in opstand gekom het. Die Kerkher­vor­mers (*Hervorming) was oortuig dat die Katolieke Kerk in die Middeleeue so ver van die waarheid afgedwaal het dat hulle nie meer die ware kerk kon wees nie. Daarom het die Her­vor­mers daarop aanspraak gemaak dat hulle die ware kerk ver­teen­woor­­dig omdat hulle die evangelie glo en verkondig soos dit oor­spronk­lik deur Jesus en die apostels aan ons oorgelewer is in die Nuwe Testament. Hulle het baie negatief oor die Katolieke Kerk geoordeel. Hulle het selfs na die pous as die *antichris verwys.

Ons kan dit nie meer vandag soos hulle doen nie omdat daar groot veranderings in hierdie kerk gekom het, veral tydens en na die tweede Vatikaanse Konsilie (1962-’65). Die pous is vandag ‘n simbool van die evangelie, hoe vreemd sommige van sy oor­tuigings ook al vir baie Christene is.

Alhoewel die Katolieke Kerk wêreldwyd een massiewe or­ga­nisasie is, is daar verskillende ordes of groeperings wat onder­ling hulle eie beklemtonings het. Hulle het dit egter reggekry om al hierdie groeperings onder een hoof, die pous, verenig te hou. Daar­mee het hulle aan die res van die Christene ‘n wonderlike voor­beeld gestel van eenheid in verskeidenheid, iets wat die Pro­testantse Kerke nooit aangeleer het nie. Die Protestante laat elke keer toe dat verskille hulle uitmekaar skeur en van mekaar verwyder, en so­dra ‘n groep ‘n eie selfstandige organisasie het, word hereniging uiters moeilik. Die kinders van die Hervorming vertoon ‘n patetiese prentjie van verdeeldheid aan die wêreld, wat die teenoorgestelde is van wat Christus bedoel het. (*Eenheid van die kerk)

 

Pous

Die pous is die leier van die Katolieke Kerk. Daar is twee ver­skillende sisteme van kerkleiding. Daar is kerke wat, soos die Ge­reformeerde Kerke, glo dat die leidende figure (ampte) in die kerk gelyk is. In die Gereformeerde kerkregering is daar drie be­son­dere ampte: *predikant, *ouderling en *diaken. (*Amp) Hier­die drie is gelyk en behartig saam die leiding in die kerk. Maar daar is baie kerke wat een persoon aanstel om die leiding te neem soos die *Charismatiese kerke en die *Katolieke Kerk. In die Ka­to­lie­ke Kerk is dit die pous. Onder hom dien die biskoppe, priesters en diakens.

‘n Vrou kan nie pous word of ‘n be­sondere amp (biskop of pries­ter of diaken) in die Katolieke Kerk beklee nie. Vrouens kan wel be­sondere dienste verrig, soos non­ne, maar hulle kan geen ge­sag in die kerk uitoefen nie. Die pous kan ook nie getroud wees nie; geen ampsdraer in die Katolieke Kerk mag trou nie. Hulle moet die “*selibaat” beoefen. Die pous word gekies uit die hoogste groep bis­koppe, die kardinale. Hy word lewenslank tot hierdie amp verkies.

Die Katolieke is oortuig dat die pous die opvolger van Petrus is. Hulle beskou Petrus as die eerste pous. *Petrus was inderdaad die leier onder die dissipels, en Jesus het aan hom besondere erkenning gegee. Die Katolieke glo dat Jesus Petrus aangewys het as die rots waarop Hy sy kerk sal bou (Matt 16:18, alhoewel baie Protestantse Christene nie met hierdie uitleg saamstem nie) en ook aan hom ‘n besondere verantwoordelikheid teenoor die an­der dissipels en die gelowiges in die algemeen gegee het (Luk 22:32; Joh 21:15-19).

Ons kry nêrens in die Bybel die indruk dat Petrus opge­volg moes word nie. Protestantse Christene glo dat sy amp, soos dié van die ander apostels, uniek was en nie op iemand ná hulle oor­ge­gaan het nie. Dit kon ook nie, omdat dit ‘n vereiste was dat iemand die Here ná sy opstanding moes gesien het om ‘n apostel te word (Hand 1:21-22). Daar was ná die apostels nie meer sulke mense in die kerk nie.

Die ander vraag wat die meeste ander Christene het, is dié oor die onfeilbaarheid van die pous. Beteken dit dat die pous nooit ‘n fout kan maak nie? Nee. Die Katolieke Kerk leer net dat die pous nie ‘n fout kan maak as hy amptelik (ex catedra) ‘n uit­spraak maak oor die leer van die kerk nie. Hulle beroep hulle op die belofte dat die Gees die kerk in die hele waarheid sal lei (Joh 16:13). As leier van die kerk sal hy dan altyd die waarheid uitspreek oor die leer van die kerk. Protestante vra egter hoe dit dan strook met wat vir ons lyk na opsigtelike dwalings in die ge­skiedenis van die Katolieke Kerk.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Joodse Feeste

Die Groot Geloofswoordeboek: Joodse Feeste

Joodse feeste

  • Die feeste wat in verband met die Sabbat staan Die groot feeste Die Groot Versoendag

Daar was baie Joodse feeste. Dit is nie korrek om te dink daar was net sewe nie. Maar dis wel waar dat die getal sewe heeltemal oorheersend is in die kalender van feeste.

•             Elke sewende dag was die Sabbat.

•             Elke sewende maand was ‘n heilige maand.

•             Elke sewende jaar was ‘n Sabbatsjaar.

•             Na 7 x 7 jare (49 jaar) is die Jubeljaar gevier – dus elke 50ste jaar.

•             Die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brode is veertien (2 x 7) dae na die begin van die maand gevier en die Fees van die Ongesuurde Brode het sewe dae geduur.

•             Die Pinksterfees was 49 dae (7 x 7) na die Paasfees.

 

Die Joodse feeste kan in drie groepe ingedeel word:

1.            Dié wat in verband staan met die Sabbat.

2.            Die groot feeste.

3.            Die Groot Versoendag

 

  • Die feeste wat in verband met die Sabbat staan

Die Sabbat

Elke sewende dag was Sabbat. Daar is geen aan­duiding dat die aartsvaders al die Sabbat gehou het nie. Israel begin skynbaar eers tydens die uittog daarmee. Volgens die een weergawe van die Tien Gebooie is dit onderhou in herinnering aan God se rus op die se­wende dag na die skepping (Eks 20). Volgens die ander weergawe is dit ter herinnering aan die uittog (Deut 5).

Dit is ‘n dag van volkome rus, selfs vir die slawe. Dit was nie in die eerste plek ‘n godsdienstige dag, soos ‘n dag van fees­vierings by die tempel nie, alhoewel die daaglikse brandoffer van ‘n lam op die Sabbatdag verdubbel is, en die gebruik later ont­wikkel het om op die Sabbat *sinagoge toe te gaan waar hulle wel gods­diens­oefeninge gehad het, soos ons dit nog in die tyd van Jesus en later ook kry (Luk 4:16). Maar die wette rondom die Sabbat was oorspronk­lik eensydig ingestel op rus van daaglikse werk (Eks 20:8-10; 23:12). Daarom het daar ook nie tydens die uittog op die Sabbat manna geval nie (Eks 16:22 ev), en die Jode kon nie hulle woon­plekke ver­laat of ‘n vuur aansteek nie (Eks 35:3). Die verbre­king van die Sabbats­wette was strafbaar met die dood (Eks 31:12-15). Hierdie is maar net ‘n paar van die talle wette wat op die Sabbat betrekking het.

Na die *ballingskap is daar nog talle ander wette bygevoeg in ‘n poging om die Sabbat so streng te onderhou dat so ‘n ver­nietigende straf van God soos die ballingskap hulle nooit weer sou tref nie (Neh 13:15 ev, veral v 17-18; Jes 56:1-8). Dit het groot­liks aanleiding gegee tot die erge vorme van *wettisisme waarteen Jesus in opstand gekom het.

Jesus het telkens met die Joodse leiers oor die Sabbat gebots (Luk 6:1-11; 13:10-17; 14:1-6). Dit het nooit gegaan oor die feit dat hul­le dit gevier het nie, maar eerder oor die manier waarop hulle dit ge­doen het. Sy beginsel dat die Sabbat vir die mens gemaak is en nie die mens vir die Sabbat nie (Mark 2:27), het beteken dat Hy ruim­te gehad het vir barmhartigheidswerk en noodleniging op die Sabbat.

 

Die Nuwemaan

Dit is moontlik dat daar oorspronklik ‘n ver­band was tussen die getal sewe, die Sabbat en die Nuwemaan. Die maan gaan maandeliks deur vier fases van sewe dae elk, wat beteken dat daar elke sewende dag ‘n Nuwemaansfees gevier is. Die profete het ook ‘n besondere gebruik van die Sabbat en die Nuwemaansfees gemaak, moontlik om met mense te praat (2 Kon 4:23). Op die Nuwemaan is besondere brandoffers en sondoffers gebring.

Die Nuwemaan van die sewende maand

Die sewende maand het ‘n besondere betekenis gehad. Op die eerste dag van hier­die maand is ‘n buitengewone Nuwemaan gevier (Num 29:1-6). Ons lees: “Dit is ‘n dag vol feesvreugde vir julle” (v 1).

 

Die Sabbatsjaar

Elke sewende jaar was ‘n Sabbatsjaar. Die doel was dat die land self moes rus. Dit beklemtoon die feit dat die Sabbat ‘n rusdag was, en nie ‘n feesdag soos die eerste dag van die week (*Sondag) vir Christene nie. Die land self kon nie op die Sabbatdag rus nie; daar­om moes daar ‘n volle jaar van rus kom wanneer niks geplant en geoes mag word nie. In hierdie jaar moes die slawe vrygelaat word en skuld afgeskryf word (Deut 15:1-6). Omdat Israel nie getrou hierdie jaar onderhou het nie, het die ballingskap 70 jaar lank geduur om die land kans te gee om sy agterstallige rus in te haal (2 Kron 36:21). Let nogeens op die getal 7 (70 = 7 x 10).

 

Die Jubeljaar

Na sewe Sabbatsjare volg die Jubeljaar in die 50ste jaar (Lev 25:8-55; 27:17-24). Behalwe dat die Joodse sla­we vrygelaat moes word, moes die grond na die oorspronklike eienaar teruggaan. Daar was besonder interessante gebruike in hierdie verband. Omdat die grond in beginsel aan die Here be­hoort het, kon dit nooit regtig ver­koop word nie (Lev 25:23). Al wat verkoop is, is die opbrengs van die land. Dit het beteken dat die koopprys bepaal is in die lig van die aantal oeste wat oor is voor die volgende Jubeljaar. Grond het dus al goedkoper geword soos die Jubeljaar nader gekom het.

 

  • Die groot feeste

Daar is drie groot feeste wat ‘n uiters belangrike ontwikkeling deurloop het. Dit was natuurfeeste wat oorspronklik direk met die oes (die natuur) in verband gestaan het, maar wat geleidelik met Israel se geskiedenis (God se bevrydingsdade) in verband gebring is. Al drie het onder verskillende name bekend gestaan:

•             die Paasfees saam met die Fees van die Ongesuurde Brode (Eks 12)

•             die Oesfees/die Fees van die Weke/die Pinksterfees/die Fees van die Eerste Vrugte (Eks 23:14 ev; 34:18 ev)

•             die Huttefees of die Insamelingsfees (Lev 23:33 ev)

Tydens hierdie feeste is die jaarlikse oes gevier: die Fees van die Ongesuurde Brode was aan die begin van die koringoes, die Pink­sterfees aan die einde, en die Insamelingsfees was die fees van die vrugte-oes. Maar die Paasfees het by die Fees van die On­ge­suurde Brode bygekom om die verlossing uit Egipte te vier, en die Huttefees het ook die deurtog deur die woestyn op pad na die beloofde land gevier. En uiteindelik het die Christene ook die Oes­fees/Pinksterfees gehistoriseer deurdat ons die koms van die Gees vier wat juis op die dag van die Joodse Pinksterfees uitgestort is.

Hierdie historisering van die feeste is van die uiterste belang. Dit getuig daarvan dat die Ortodokse Jode en die Christene ‘n ver­los­singsgeloof het en nie net ‘n voorsienigheidsgeloof nie. In ons ver­houding met God gaan dit om meer as die oes, meer as die daag­lik­se versorging – hoe belangrik dit ook al is en in hoe ‘n mate dit ook al in die Bybel beklemtoon word. Dit gaan om ‘n lang heilsgeskiedenis waarin God in ons lewe ingekom en ons verlos het, vir ou Israel uit Egipte en ons uit ons sonde. Hierdie verlossing is die wese van ons geloof, die *Voorsienigheid is ‘n wonderlike ekstra.

 

  • Die Groot Versoendag

Die Groot Versoendag is jaarliks gevier (Lev 16; 23:26 ev). Twee bokramme moes as sondeoffer vir die hele volk gebring word, een skaapram as brandoffer, en een bul as soenoffer vir die priesters.

Die vervulling van hierdie feeste in Christus

Sommige van die feeste is op ‘n merkwaardige manier in Christus vervul. Ty­dens die Paasfees stel Hy die nagmaal in as die fees van ons verlossing van sonde. Op die jaarlikse Joodse Pinksterfees word die Gees uitgestort as die een wat die oes kom insamel (Hand 2). Die Groot Versoendag is vervul in Christus wat as dié Hoëpriester dié offer gebring het as versoening vir ons sonde (die Hebreërsbrief). En Christus bring die eintlike rus, die rus van sonde, waarvan die Sabbatsrus ‘n voorteken was (Heb 4:8-11).

 

Skrywer: Prof Adrio König