Die Groot Geloofswoordeboek: Hoop
Hoop
- Algemene hoop Christelike hoop
Daar is ‘n groot verskil tussen algemene hoop en Christelike hoop.
• Algemene hoop
Algemene hoop is maar ‘n brose ding. “Hoop vir die beste, die slegste kom vanself.” “Hoop in jou een hand en nies in jou ander hand, en kyk in watter hand het jy die meeste.” Ons sê selfs: “Dit help niks om te hoop jy is gered nie, weet jy dit?” Nogtans is hoop in ons gewone lewe baie belangrik. “Waar daar nog lewe is, is daar nog hoop.” “Hoop vergaan, alles vergaan.”
Die moeilikheid met algemene hoop is dat dit volkome van die omstandighede afhang of dit vervul word. Dit maak nie regtig saak hoe hard of hoe vurig jy hoop nie. Wat saak maak, is of daar omstandighede is wat die hoop gaan vervul. Dit maak nie saak hoe hard jy hoop dat dit sal reën nie, al wat saak maak, is hoe die lugstrome en lugdruk is.
Natuurlik is daar mense wat van nature meer optimisties is, en ander wat meer pessimisties is. Die een groep hoop baie vuriger en is baie meer opgewonde oor wat kan gebeur, die ander groep sit maar in ‘n gat en wag. Maar dit het alles weinig te doen met die vraag of die hoop vervul gaan word. Die grond van die algemene hoop is die omstandighede.
• Christelike hoop
Christelike hoop lyk egter heeltemal anders omdat dit ‘n ander grond en fondament het. Paulus skryf iewers “Die hoop beskaam nie” (Rom 5:5). Nogal ‘n stelling! Maar anders as wat ek nou gedoen het, het hy nie agter sy sinnetjie ‘n punt gesit nie, maar ‘n komma. En dit verander alles radikaal. “Die hoop beskaam nie, want God … ” Dit gee aan die hoop ‘n totaal ander grond en fondament. En dit maak al die verskil.
Die probleem met die hoop lê nie regtig in die hoop nie. Hoop op sigself is ‘n wonderlike ding. Staan ‘n bietjie een oggend heeltemal sonder hoop op. Jy sal glad nie opstaan nie! Hoop is ‘n vreeslike goeie ding. Dit gee lewenslus aan jou.
Die probleem is die vervulling van die hoop.
Maar die Christelike hoop het sekerheid. Dit het ook ‘n grond: God. En God is in staat om sy beloftes te vervul. (*God) Daarom sê Hebreërs 11:1 ons kan seker wees van die dinge wat ons hoop. (*Mag)
Abraham
Die merkwaardigste voorbeeld van hoop in die hele Bybel is Abraham. Die 1953-vertaling het gelui: “Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy die vader sou word van baie volke” soos God aan hom beloof het (Rom 4:18). As sy hoop afhanklik was van die omstandighede, was daar geen hoop nie.
Hy was lankal nie meer in staat om ‘n kind te verwek nie, en Sara ook nie. ‘n Mens sou kon dink hy het nog aanhou hoop net omdat hy dit nie mooi besef nie, maar ons lees: “Hy het goed besef dat sy liggaam al gedaan was” (Rom 4:19).
Maar hy het nog iets goed besef: “dat God mag het om te doen wat Hy beloof het” (Rom 4:21). Dit was die een en enigste grond vir sy hoop, maar dit was genoeg.
Abraham lyk na ‘n ongelooflike “hoopheld” net soos ons ook “geloofshelde” kry. Maar is dit so?
Die geskiedenis in Genesis lyk heeltemal anders. Abraham kry die belofte van ‘n groot nageslag wanneer die Here hom roep (Gen 12:1-3). Omtrent vyf jaar later herhaal God net die belofte terwyl Abraham se jare onrusbarend aanstap na seker omtrent 80 toe. Abraham het in die vyf jaar wat intussen verby is, duidelik sterk voorbehoude oor dié belofte ontwikkel, en daarom gee hy vir God ‘n “bietjie goeie raad”: hy sal maar sy slaaf Eliëser as sy erfgenaam beskou. En die Here se reaksie? Nie veel nie, net ‘n herhaling van die belofte: Nie jou slaaf nie, jou kind (Gen 15:1-6).
Nog omtrent vyf jaar en Abraham en Sara “weet nou vir seker” dit kan nie meer werk nie. Van “hoop teen hoop” is daar nie eens ‘n teken nie (Gen 16:1 ev). Hulle besluit om vir God by wyse van spreke ‘n “handjie by te sit”: Abraham sal by Sara se slavin vir hulle ‘n kind verwek. Terloops, in daardie tyd was dit nie so ongewoon nie. Die slavin was hulle wettige eiendom.
Die einde van die smart van hierdie “handjie bysit” is vandag nog nie in sig nie. Die nasate van klein Ismael, Abraham se kind by die slavin, is die Arabiere, en hulle en die Jode is tot vandag toe in ‘n stryd gewikkel. Miskien is dit verstandiger om die vervulling van God se beloftes in sy eie hande te laat.
Interessant dat God Abraham hierdie episode nie verkwalik nie. Sou Hy besef hoe moeilik dit is om net op Hom te vertrou as die omstandighede al erger teen jou draai? Al wat Hy doen, is om nog ‘n keer te kom en die belofte te herhaal, hierdie keer met die “amptelike instelling” van die verbond (Gen 17:1 ev). Hierdie keer gaan dit nog erger met Abraham as ooit tevore. Ons onthou altyd so goed die skande dat Sara gelag het toe die Here die soveelste keer sy belofte herhaal (Gen 18:12). Maar net na die instelling van die verbond herhaal God weer sy belofte, en dan lag Abraham ook (17:17).
Verskriklik! Lag as God sy belofte herhaal!
Of is dit so verskriklik? Sou enigeen van ons anders gedoen het? Abraham is omtrent 100, Sara 90. Hulle het die belofte al ‘n kwarteeu gelede gekry. Intussen is al wat gebeur het, dat die belofte elke vyf jaar herhaal is, en verder dat die laaste sprankie hoop dat daar dalk nog iets kon gebeur, saam met die jare begrawe is. Sou jou hoop nog gehou het?
Maar dan verstaan ons tog glad nie Paulus se oorweldigende loflied op Abraham se “hoop teen hoop” nie. Het hy nie die geskiedenis geken nie? Het hy nie geweet van Genesis 15 én 16 én 17 én 18 nie?
Hy het. Hierdie Jode het hulle Bybels (Ou Testament) so goed geken dat hulle dit kon lees sonder die klinkers. Probeer gerus ‘n keer al die klinkers uit ‘n redelik onbekende psalm uithaal en die psalm dan lees!
Maar daar is nog ‘n paar dinge wat Paulus goed geken het: die genade van God en die kruis op Golgota. Hy het geweet God kan vergewe. As Abraham maar net “so hier en daar”, so effens geglo en gehoop het (Gen 15:6; 18:22-33), het God die skokkende twyfel en ongeloof vergewe en vergeet. En sedert Genesis se tyd het Jesus nog die groot offer ook gebring.
Dit is God se goedheid en vergifnis wat van Abraham die “hoopheld” van Romeine 4 maak. En van jou ook.
Skrywer: Prof Adrio König