Die Groot Geloofswoordeboek: Historiese Jesus
Die Groot Geloofswoordeboek: Historiese Jesus
Uit die Duitse teologie kry ons die teenstelling: die historiese Jesus en die verkondigde Christus. Onder “die historiese Jesus” is bedoel Jesus soos Hy regtig was en geleef het, terwyl onder “die verkondigde Christus” bedoel is die boodskap wat die vroeë Christene oor Hom verkondig het. Daar is ‘n taamlik algemene oortuiging dat die vroeë Christene interpretasies aan die betekenis van Jesus gegee het wat nog nie gegeld het tydens Jesus se lewe nie. Veral deur sy opstanding is Hy verheerlik en het die apostels Hom as hierdie Verheerlikte verkondig, terwyl Hy tydens sy lewe misken en verag is.
Dit is byvoorbeeld interessant om die begin van die Evangelie van Johannes te vergelyk met die ander drie. Matteus en Lukas begin met die geboortegeskiedenis van Jesus, die vervolging en vlug, die gewone offers in die tempel wat alle Jode moes bring, maar Johannes begin met die wonderlike gedig wat die heerlikheid van die Woord (wat in Jesus ‘n Mens geword het) van voor die skepping af besing, en selfs die gelykheid van die Woord aan God beklemtoon (1:18). Só is Hy nie beleef tydens sy aardse bediening nie. Inteendeel, die Fariseërs kan Hom aanval en beledig. Hulle noem Hom selfs ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars, wat in hulle oë ‘n skande was (Luk 7:34).
Die verskil tussen die historiese Jesus en die verkondigde Christus kom ook duidelik uit in Paulus se Briewe. Paulus verwys omtrent nooit na die aardse lewe van Jesus, sy *wonderwerke, sy lering, sy *gelykenisse nie. Vir Paulus is Hy nie die aardse Jesus nie, maar die gekruisigde en opgestane Here, die Verheerlikte. Daarom verkondig Paulus dinge oor Hom wat nooit ter sprake is in die Evangelies nie, byvoorbeeld dat Hy die doel van die skepping is, dat alles geskape is in beweging na Hom toe (“vir Hom geskep” – Kol 1:16), dat Hy die hele skepping met God versoen het (*Versoening), en dat God die hele skepping onder Hom as Hoof sal verenig (Ef 1:10; Kol 1:16, 20).
Daar hoef nie noodwendig spanning tussen hierdie twee te wees nie. Paulus leer Jesus eers ná die opstanding as die Verheerlikte ken, en daarom is dit nie vreemd dat dit by uitstek is hoe hy Hom verkondig nie.
Trouens, dis ‘n getuienis vir die *betroubaarheid van die Evangelies dat hierdie “hoë” dinge wat Paulus al dekades lank verkondig het toe die Evangelies eers teen 65 nC op skrif gestel is, nie in die Evangelies ingeskryf is nie.
Daar is egter teoloë wat ‘n hele kwessie daarvan maak dat die apostels, en veral Paulus, aan Jesus dinge toeskryf wat hulle self uitgedink het. Hulle verkondig dus iets soos ‘n aangedikte Jesus, en dit word dan “die verkondigde Christus” genoem. Die apostels sou aan sy kruis ‘n heilswaarde toegeken het wat onaanvaarbaar is, en sy opstanding sou net ‘n geestelike saak gewees het. Hy sou in der waarheid net in die harte van sy dissipels “opgestaan” het, terwyl die apostels die idee van die leë graf uitgedink het. (*”Nuwe Hervorming”, *Betroubaarheid van die Bybel)
Die wyse waarop hierdie sake deur hierdie teoloë behandel word, getuig nie van baie eerbied vir Jesus nie; trouens, selfs nie vir historiese dokumente nie. So ‘n spanning tussen Jesus soos Hy eintlik op aarde geleef het en hoe Hy later verkondig is, doen ‘n onreg aan die Nuwe Testament. Die saak is breedvoerig behandel onder die *betroubaarheid van die Bybel en die *”Nuwe Hervorming”.
Skrywer: Prof Adrio König