Die Handelinge van die Apostels: Gemeenskaplike besit (Hand 4:32-37) – Francois Malan

4:32 ‘Die groot groep (plêthos)
wat gelowig geword het was een van hart en siel…’ Die Jode het die ‘hart’ as
die sentrum van die mens se denke beskou, en met ‘siel’ die setel van die mens
se wil. Saam verwys die twee terme na die hele innerlike lewe van die mens. Die
groeiende gemeente het dieselfde dinge gedink en wou dieselfde dinge hê.

Filippense 1:27 praat van ‘in een gees vasstaan en met een siel saam stry vir
die geloof in die evangelie.’

‘…en niemand het na enige van
sy besittings as sy eie verwys nie, maar hulle het alles gemeenskaplik besit.’
Die teks praat egter van elkeen se eie besittings en 5:4 erken die eiendomsreg
van elke lidmaat. Dit beteken dat niemand gesê het ‘wat ek besit behoort slegs
aan my nie.’ Hulle het hulle besittings beskou as iets wat die Here aan
hulle toevertrou he
t om ander wat gebrek ly, vrygewig daarmee te help.
Hulle het nie vasgeklou aan hulle besittings om slawe van hulle besittings te
word nie.Die besluit om van jou besittings te verkoop om te kan uitdeel
was vrywillig (vgl. 5:4). So het gelowiges uit barmhartigheid van tyd tot tyd
selfs van hulle besittings verkoop om behoeftiges te kan help, as die gevolg
van hulle liefdesband, hulle koinōnia met mekaar (2:44-45). In Deutr.
15:4-5 het die Here reeds beloof dat daar nie ’n arme in die beloofde land sal
wees nie, as die volk net na die Here sal luister en elke sewe jaar die skuld
van ’n mede-Israeliet afskryf (vgl. ook Lev 25:10 se landswye afskrywing van
skuld in die hersteljaar, elke 50ste jaar).

4:33 Die groot krag waarmee
die apostels getuig het oor die opstanding van die Here Jesus, is onderskraag
deur die gemeente se onderlinge verbondenheid en hulp aan mekaar, en is die
werk van die Heilige Gees in hulle. Dit het Jesus net voor sy hemelvaart aan
hulle belowe (Hand 1:8 ‘Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees
oor julle kom en julle sal my getuies wees…’). Die opstanding van Jesus het
hulle oortuig dat Jesus die Here is wat oor hulle lewe regeer; dat Hy God is
(vgl. 2:32-36). Met sy opstanding het die nuwe skepping begin, waarvan die
liefdesgemeenskap van die Christene ’n sigbare bewys is.
Dit is die
uitwerking van die groot genade van God wat oor al die gelowiges gekom het en
sy genade in hulle harte vir mekaar. En dit het hulle getuienis oor Jesus se
opstanding en dat Hy hulle Here is, voor ander mense geloofwaardig gemaak.

4:34-35 ‘want daar was nie ’n
behoeftige persoon onder hulle nie (endeês iemand wat nie het wat nodig
of noodsaaklik is om te bestaan nie), want wie eienaars van grond (chōrioi, vir
landerye of weiding) of huise was, het verkopers geword (pōlountes,
imperfektum deelwoord om aan te dui dat dit verkoop word soos wat daar behoefte
aan was) en het die opbrengs van die verkope gebring, en dit voor die voete van
die apostels neergesit; en dit is uitgedeel aan elkeen soos iemand ook al
behoefte gehad het.’ Al die Griekse werkwoorde in die twee verse is in die
onvoltooide tyd, wat aandui dat dit ’n proses is wat voortgegaan het soos
wat iemand ’n behoefte/tekort gehad het.

4:36-37 Lukas gee ’n voorbeeld van die barmhartigheidsdiens van die eerste gemeente. ‘En toe het Josef, wat die eienaar was van ’n stuk grond, dit verkoop en die geld aan die voete van die apostels neergesit.’ Josef was ’n Leviet, uit die stam van Levi. Die Leviete was die helpers van die priesters, ook onderwysers by die sinagoges, en het gehelp met die regspraak in die stede waar hulle tussen die stamme van Israel geplaas is. Die apostels het vir Josef die bynaam Barnabas gegee om hom te onderskei van die baie Josefs onder die Israeliete (vgl. Hand 1:23 Josef Barsabbas). Lukas se verklaring vir die bynaam Barnabas is huios paraklêsios, ‘seun van vertroosting, bemoediging, hulp,’ soos die naam van die Heilige Gees, Parakleet, ‘Helper, Trooster, Bemoediger.’ Barnabas ontferm hom oor Saulus ná Saulus se bekering (9:27); die gemeente stuur Barnabas om die gemeente in Antiogië te gaan help (Hand 11:22); hy gaan haal Saulus in Tarsus om in Antiogië te kom help; daardie gemeente stuur vir Barnabas en Saulus om hulle kollekte weg te bring na die broers in Judea, ná die swaar hongersnood (Hand 11:20); in opdrag van die Heilige Gees stuur die gemeente in Antiogië vir Barnabas en Saulus op hulle eerste sendingreis wat in Siprus begin, waarvandaan Barnabas gekom het. Van Siprus af noem Lukas vir Saulus op sy Latynse naam Paulus, ‘klein/gering’ (vgl. 1 Kor 15:9) wat daarvandaan eerste genoem word as die leier. Na die lang reis is Paulus en Barnabas na die vergadering in Jerusalem oor die vraag of bekeerlinge uit die heidendom besny moet word (Hand 15:2). Met die tweede sendingreis is Barnabas en Markus na Siprus (Hand 15:39). Dat die Leviet Josef, van die eiland Siprus in die Middellandse See, grond besit het in die gebied om Jerusalem, kan ’n aanduiding wees dat hy en/of sy ouers van die vroom Jode was wat by die stad kom woon het in afwagting op die koms van die Messias (vgl. Hand 2:5). Barnabas se bynaam was waarskynlik ’n beskrywing van sy goeie gesindheid en optrede as helper wat mense bemoedig. Dat die geld van die verkope aan die voete van die apostels neergelê is, is ’n aanduiding van ’n fonds wat deur hulle beheer is om aan behoeftiges uit te deel. Volgens 2:45 het gemeentelede self ook van hulle geld aan behoeftiges gegee.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Die gemeente se gebed om vrymoedigheid (Hand 4:23-31) – Francois Malan

4:23 As vrygelatenes deur die
Raad (4:21) is die eerste gedagte by Petrus en Johannes om na hulle ‘eie mense’
te gaan, die gemeente van Christusgelowiges bymekaar te kry en te vertel wat
met hulle gebeur het. Wie en waar  die
‘eie mense’ was, word nie gesê nie. Dit is egter nie ’n gesprek oor wat die
gelowiges moet doen teen die vervolging wat nou van die Raad se kant af begin
het nie. Dit is ’n gebed, die grootste gebed in die Nuwe Testament, wat herinner
aan Hiskia se gebed in die tempel (Jes 37:16-20; 2 Kon 19:15-19). Dit is ’n gesprek
met God oor wat gebeur het
, en hulle loof die Here in reaksie op die groot
verlossingsdade van God. Die geloofsekerheid van die Christelike gemeente word
gestel teenoor die onsekerheid van die Joodse leiers; en die eensgesindheid
tussen die gelowiges teenoor die tweespalt tussen die leiers en die volk. Hulle
vertel die Here wat die leierpriesters (die Sadduseër-dagbestuur van die
Sanhedrin) en die familiehoofde vir hulle gesê het (4:17,21), soos Hiskia die
brief van Sanherib voor die Here gelê het. 

4:24  Toe hulle die verslag van die apostels hoor,
het die gemeente eensgesind (homothumadon, soos in Hand 1:14, almal met
dieselfde gedagte) God geloof (hulle stemme tot God verhef) en gesê:
‘Soewereine Heerser (despotês wat volkome beheer het, soos in Luk 2:29)
U wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin (in die hemel en op die
aarde en in meer en see) gemaak het – soos in Eksodus 20:1 as deel van die
vierde gebod, en in Ps 146:6 as deel van Israel se lofsang/‘Halleluja.’ Die
hemel verwys na die hemelruim met al die hemelliggame soos die son maan en
sterre; alles op aarde verwys na plante, diere, mense op die vlaktes, berge en
in bosse; thalassa verwys na mere en die see (soet en sout water) – oor
die ganse heelal heers Hy as Skepper en Onderhouer. Daarom is Hy ook
Heer oor die geskiedenis van sy skepping en hou Hy ons lot in sy hande (vgl.
Jes 37:16).

4:25 Soewereine Heerser, U
‘wat deur die Heilige Gees, by monde van ons voorvader, u dienskneg Dawid, gesê
het:

Die gemeente verwys in hulle
gebed na Psalm 2:1-2 as ’n profesie van Dawid, en Lukas haal die Griekse
vertaling daarvan aan. Hulle aanvaar dat Dawid dié profetiese Psalm onder die
leiding van die Heilige Gees geskryf het, en daarom God se eie woord is, Hy wat
die Alleenheerser oor sy skepping is. Dawid word ‘ons voorvader’ en  ‘u dienskneg’ genoem. Daarmee
onderwerp die gemeente hulle as kinders van hulle voorvader Dawid as
diensknegte van God, die Alleenheerser. Die woord pais word vir ’n
persoonlike slaaf of vir ’n kind gebruik. Jesus is Dienskneg van
die Here volgens Jesaja 52-53, en Kind/Seun van God soos die Nuwe Testament Hom
bekend maak. Paulus gebruik nie die woord pais nie, maar tekna vir
kinders, bv. ‘Almal wat deur die Heilige Gees gelei word, hulle is kinders van
God’ (kinders tekna – van tiktō geboorte gee) omdat hulle aan die
Seun van God verbind is in geloof, wat deur die Heilige Gees geskenk word.

4:26 Ps 2 sê: ‘Waarom gaan die
nasies te kere’ – die werkwoord frussō verbind woede met sterk
teenstand, uitvaar en uitskel,om brutale woede te wys ‘…en bedink die
volke nietige dinge?’- meletaō ernstig bedink en beplan aan ’n
komplot; kena leë dinge, dwase dinge, wat geen doel dien nie. Die konings
van die aarde het hulleself opgestel en die heersers het op een plek
bymekaargekom teen die Here en teen sy Gesalfde (sy Christus).’

Die Jode het ook Ps 2 as ’n
Messiaanse Psalm beskou wat op hulle konings as God se gesalfde
(Messias/Christus) toegepas is, en hier pas die gemeente van Christus dit toe op
die teenstand van die leiers en konings
wat teen Jesus saamgespan het. Nou
is die woorde van Dawid, wat op sy tyd ook die tipe teenstand beleef het, in
Jesus vervul.

4:27 Die gebed van die gemeente
gaan voort om aan God te vertel hoe koning Herodus en goewerneur Pontius
Pilatus (vgl. bv. Luk 23:12), saam met die heidene (die soldate wat Jesus
bespot en gekruisig het) en die volke van Israel (Israeliete uit verskillende
stamme) in hierdie stad (in Jerusalem het dit toe werklik gebeur) saamgespan
het teen God se heilige Dienskneg/Seun Jesus, wat U gesalf het (echrisas,
verlede tyd van chriō, salf as teken van aanstelling en bonatuurlike
toerusting vir ’n taak). ‘Heilig’ beteken toegewy aan die diens van God, en met
goddelike eienskappe toegerus. Dat God vir Jesus gesalf het (met verwysing na
die Heilige Gees wat op Hom gekom het na sy doop, vgl. Luk 3:21-22), bevestig
dat Hy die beloofde en verwagte Messias van God is. Vers 27 verwys na waarneembare
feite. Vers 28 praat in die geloof dat Jesus se teenstanders niks anders kon
doen as om God se plan uit te voer nie.  

4:28 In hulle gebed tot God sê
die gemeente eintlik met die tong in die kies, dat die leiers en groepe wat in
vers 27 genoem is, met hulle brutale woede om Jesus uit te wis, iets saam
bedink het wat toe net mooi anders as wat hulle beplan het, uitgewerk het.
‘Hulle het (saamgespan) om alles te doen wat U deur u hand (figuurlik vir u
krag of mag) en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur.’ Hulle het teen Jesus
saamgespan sonder om te weet dat hulle besig was om God se krag aan die
werk te stel om Jesus te laat opstaan uit die dood en so die krag van die dood
te breek, die dood wat God as straf oor die mens se sonde gegee het (Gen 2:17).
Met hulle lawaai teen Jesus het hulle God se verlossingsplan deurgevoer. Uit
liefde het Jesus God se straf op die mensdom se sonde op Hom geneem en die mens
se verhouding met God reggestel. In sy wysheid het God hulle dwase geskreeu,
‘Kruisig, kruisig Hom!’ (Luk 23:21) gebruik om sy verlossingsplan vir die
wêreld uit te voer. Ps 2:4 sê: ‘Hy wat in die hemel sit, sal lag; my Heer dryf
die spot met hulle.’ Die gemeente dank nie die Here dat die apostels vrygelaat
is nie, maar prys God omdat sy raadsplan vervul is. Die Here het sy plan
uitgevoer selfs deur die optrede van goddelose mense; en nou ook met die
Sanhedrin se optrede teen die apostels.

4:29 ‘En nou oor dié dinge…’
met verwysing na wat nou met die apostels by die raadsvergadering gebeur het,
‘…Here (kurios kan verwys na God die Vader en/of na Jesus), slaan ag op
(eforaō om spesiale aandag te gee aan iets, met die implikasie om jou
daarmee te bemoei, soos in Jer 37:17) hulle dreigemente…’ die gemeente brei nie
hierop uit nie. Dit gaan nie soseer oor die Raad se dreiging van die apostels
nie, maar oor hulle eintlike dreiging teen Jesus, dat sy Naam nie eers
uit hulle mond gehoor mag word nie. Sy lyding word voortgesit deur wat aan sy
diensknegte gedoen word.  

‘…en gee aan u diensknegte (douloi
slawe) om u woord met alle vrymoedigheid te spreek…’  ‘Om u woord te spreek’ het in die vroeë kerk
’n tegniese term geword vir hulle prediking van die goeie nuus oor en van
Jesus. Hulle sien hulle prediking as die Here wat deur hulle spreek. Dit is ‘u
woord,’ en daarom is die dreiging eintlik teen Hom. Hulle is slegs hulle Here
se persoonlike slawe wat sy wil uitvoer. ‘Met alle vrymoedigheid’ beteken
sonder enige vrees en met volle vertroue op Hom, om sy woord te verkondig,
terwyl hulle juis verbied is om dit te doen.  

4:30 ‘deur u (magsvolle) hand uit te strek tot genesing, en deurdat tekens en wonders deur die Naam van u heilige pais, Dienskneg/Seun, Jesus geskied.’ So het Jesus ook sy hand uitgesteek en die melaatse genees (Luk 5:13). Deur genesings en wondertekens sal die Naam van Jesus as Redder bevestig word. So sien die apostels dat Jesus se genesende hand in en deur hulle swak hande werk, soos toe Petrus die lamme aan die hand gegryp het en hy op die woord ‘stap’ genees opgestaan en geloop het (3:7). Daarmee word die gebed van die gemeente afgesluit. 4:31 Nadat hulle by die Here gepleit het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud (saleuō nie so hewig soos ’n seismos, aardbewing, nie). Die skudding is ‘n teken van die werking van die hand van die Here, vgl. Eks 19:18 toe Sinaiberg geskud het; en Jesaja 6:4 dat die deure gerammel het van die serafs se geroep. ‘En almal van hulle (die hele gemeente) is met die Heilige Gees vervul en het die woord van God (oor Jesus se woorde en werke) met vrymoedigheid verkondig’ – soos hulle van die Here gevra het. Soos die Heilige Gees die 120 gelowiges op die Pinksterdag vervul het om oor die groot dade van God te getuig (2:4), word die hele groeiende gemeente deur die Heilige Gees toegerus om die woord van die Here te verkondig. Op dieselfde dag waarop die apostels verbied is om van Jesus te getuig, rus die Here die hele gemeente toe om vrymoedig oor Hom te getuig.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Die Joodse Raad se reaksie op Petrus se voordrag (Hand 4:13-22) – Francois Malan

4:13 Die Raad het uit die
optrede van die twee apostels gesien (theoreō) hoe vrymoedig hulle is en
deur ondervraging uitgevind (katalambánomai) dat hulle ongeleerde mense
is (agrammatoi wat nie formele opleiding gehad het nie, ongeletterde
vissers, Luk 5:2,10), en leke (idiōtai – sonder formele onderrig in ’n
spesifieke veld, hier waarskynlik die terrein van die Skrifte). ‘En die
raadslede was verwonderd oor die vrymoedige optrede van die eenvoudige
manne. En het hulle herken, dat hulle saam met Jesus was.’

Lukas skilder weer ’n
indrukwekkende teenstellende beeld: aan die een kant die vreugdevolle geloof
van die apostels, bewus van die oorwinning van Jesus oor sonde en dood, en sy
wondergenesing van die lamme. Aan die anderkant die stomgeslane verwonderde
raadslede. Hulleherken die apostels as volgelinge van Jesus (wat hulle
laat kruisig het); as ongeleerde eenvoudige mense van die volk; hulle
verstommende vrymoedigheid wat nie as aangeklaagdes optree nie, maar as
aanklaers van die Raad, as uitlêers van die Skrif en verkondigers van Jesus se
opwekking deur God, en van die genesing van die lamme deur dié Jesus wat hulle
doodgemaak het (vgl. ook die Jode se verwondering oor Jesus wat die Skrifte ken
sonder dat Hy dit bestudeer het (Joh 7:15), dat Hy hulle geleer het soos iemand
wat gesag het en nie soos die Skrifkenners nie (Mark 1:22).

4:14 Maar omdat hulle die man
wat genees is by Petrus en Johannes sien staan, het hulle niks om dit te
weerlê nie
(anteipen). Langs hulle, sonder om ’n woord te sê, staan
die geneesde man, wat hulle almal as die lam bedelaar ken. Sy wondergenesing is
’n sprekende getuienis van wat gebeur het. Verleë swyg die Raad. Nie een van
die apostels se teenstanders kon die apostels se wyse woorde wat Jesus in die
oomblik aan hulle gegee het, weerstaan of weerlê nie (anteipen, Luk
21:15). Teen die Skrifgegronde (Hand 4:11) Christusboodskap, wat Jesus die
apostels in die mond gelê het, het die Jode geen steekhoudende argument gehad
nie. Ten spyte daarvan bly hulle verstok, soos teenoor Jesus se pogings om
hulle bymekaar te maak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke (Luk 13:34;
vgl. Joh 5:39-40). Hulle harte is afgestomp (Volgens Matt 13:15 haal Jesus
Jesaja 6:9-10 aan; ook in Joh 12:40; Hand 28:26-27). Hulle sien nie die enigste
logiese gevolgtrekking nie: Jesus het deur sy volgelinge die wonder bewerk en
ons was verkeerd om Jesus se kruisiging te eis (Luk 3:23). 

4:15 Nadat hulle die apostels
en die geneesde man beveel het om uit die Raad(saal) uit te gaan (keleuō het
die idee van met gesag en/of geweld te beveel), het hulle met mekaar
beraadslaag. Die hoë raad het belaglik gelyk. Die ongeletterde volgelinge van
Jesus het hulle op hulle neuse laat kyk. Maar hulle bewaar die skyn van gesag.
Agter geslote deure soek hulle ’n uitweg uit hulle verleentheid. Lukas stel die
onbeholpe Joodse leiers
teenoor die jong oortuigde gemeente aanskoulik
voor.

4:16 Radeloos vra hulle vir
mekaar: ‘Wat gaan ons met hierdie mense doen? Want dat ’n kennelike teken deur
hulle geskied het, is vir al die inwoners van Jerusalem duidelik, en ons kan
dit nie ontken nie.’ Hulle vraag toon duidelik hulle  hulpeloosheid teen die manne se aanklag en
getuienis, en hulle moeilikheid om uit die pynlike situasie uit te kom. Vir al
Jerusalem se inwoners wat die lam man jarelank geken het, is sy genesing ’n
klinkklare wonder van God, en word daar oral gepraat. Dat die raadslede nie die
genesing kan ontken nie bevestig die wonder daarvan, maar hulle radelose vraag
wys ook hulle onwilligheid om dit as ’n getuienis oor Jesus te aanvaar.
Hulle sou dit graag wou ontken. Maar hulle onwilligheid om dit te glo toon die
verhardheid van hulle harte (vgl. dieselfde verhardheid in Joh 12:37-43 dat
hulle nie in Jesus geglo het nie ten spyte van die baie tekens wat Hy in hulle
teenwoordigheid gedoen het).       

4:17 Die besluit van die Raad
hou nie veel in nie. Dit praat nie van straf nie, maar hulle wil die apostels
stuit deur hulle met kwaai woorde te dreig. Hulle wil die volk probeer red uit
die invloed van die apostels. ’Maar sodat dit (die verkondiging van Jesus se
opstanding en kragvolle werking) nie verder onder die volk versprei nie (diamenō
versprei, kan ook beteken nie verder of langer onder die volk bly bestaan nie),
laat ons hulle dreig (apeileō dreigdat ons hulle leed sal
aandoen as hulle nie luister nie) om met geen mens meer te praat op grond van
hierdie naam nie.’ Omdat hulle nie kan ontken dat hier ’n kennelike teken
plaasgevind het nie, probeer hulle die oorvertel daarvan stopsit. Hulle waag
egter nie om die apostels te veroordeel as valse getuies nie, want die geneesde
man staan daar lang hulle. Hulle noem ook nie die gevaarlike Naam Jesus
Christus nie, maar verwys slegs na ‘hierdie naam,’ en ook nie na die
verkondiging van Jesus nie, maar slegs na ‘dit,’ hierdie saak, met ander woorde
die geloof in Jesus, om so die uitbreiding van sy gemeente te stop. Hulle
veroorloof hulleself om, van die uitspreek van die Jesusnaam wat die wonder
laat geskied het, verder te gaan en ’n verbod te plaas op alle verkondiging en
noem van die Naam Jesus – God se Messias wat Hy vir hulle gestuur het.

4:18 Hulle het hulle toe
geroep en beveel om glad nie meer te praat (fthengomai nie eers ’n
geluid te maak nie) en geensins te verkondig in die Naam Jesus nie – die Naam
enigsins te noem nie. Onder die Jode was dit gebruik om nie die Naam van God, Jahweh,
uit te spreek en so miskien ydellik te gebruik/misbruik, nie (vgl. Eks
20:7. Jahweh beteken ‘Ek is’ hier werkend teenwoordig, Eks 3:14-15).
Ironies plaas hulle nou dieselfde verbod op die noem van die Naam Jesus,
wat hier teenwoordig is en deur sy volgelinge werk. Eintlik is dit ’n
onbedoelde erkenning van Jesus se Godheid. Dit kom as opdrag van die hoogste
raad van die Jode. Die bevel gee dan aan die Raad die wetlike grond vir hulle
verdere optrede teen die apostels, as hulle nie sou luister nie, soos by die
tweede verhoor geblyk het (Hoofstuk 4).

4:19 Teen die Raad se
verwagting werk hulle dreigement toe nie. Petrus en Johannes daag hulle eintlik
uit. As antwoord op hulle dreigement kom die apostels met ’n opdrag aan die
Raadslede
: ‘Oordeel julle, is dit voor die aangesig van God (as Regter) reg
om eerder na julle te luister as na God.’ Die apostels beroep hulle op die
raadslede se sin vir geregtigheid voor God wat die veel hoër gesag as die
Sanhedrin is. Die vraag is of die Raad se besluit nie juis teen die wil van God
is nie, hulle wat juis voorgee dat hulle die wet van God handhaaf.   

4:20 Die slot van die apostels
se betoog is ’n baie besliste keuse aan hulle kant en stel dit aan die Raad om
’n besliste keuse te maak. ‘Want ons, ons kan nie swyg (nie praat) oor
wat ons gesien en gehoor het nie.’ Daarmee verwys hulle na wat hulle van Jesus
gesien het (sy wonders, dood, opstanding en sy genesing van die lam man), en
gehoor het (o.a. Jesus se opdrag om sy getuies te wees in 1:8; maar veral sy
hele onderrig aan hulle). Omdat hulle aan Jesus gehoorsaam is, weier hulle om
die Raad te gehoorsaam. Daarmee eis hulle eintlik dat die Raad sy besluit moet
verander. Hier begin die eerste konflik tussen Christene en die Joodse
owerheid, wat later uitloop op die skeiding tussen die kerk en die sinagoge.

4:21 Die Raad was in ’n dilemma geplaas en hulle reaksie is baie treurig en swak vir die hoogste Raad van die volk. Hulle maak toe nie die keuse nie en bly by hulle standpunt oor Jesus;  maar die volk het almal God geprys oor wat gebeur het. Die volk meen almal dat die genesing God se werk is, deur die apostels van Jesus. Die Raad was duidelik skrikkerig vir die volk en wou hulle invloed by die volk behou. Omdat die volk die genesing beskou het as ’n goeie daad aan ’n lid van die volk sou die Raad invloed by die volk verloor as hulle teen die apostels optree. Hulle kon ook geen werklike grond vir ’n klag of straf vind om die apostels te kan straf nie. Hulle moes eintlik erken dat die volk en die apostels reg is om die genesing as God se werk te sien, maar hulle wou niks weet van Jesus nie. Al wat hulle kon doen was om die apostels net meer te dreig en toe los te laat. Dit wys nóg meer hoe swak die Raad se saak was.        4:22 Vir meer as 40 jaar was dit bekend dat die man lam gebore is en vir sy volwasse jare as bedelaar by die tempel gesit het (Hand 3:2,10). Hy was deur almal as ongeneeslik beskou. Sy ouderdom verhoog die wonder van sy genesing. Dat hier ’n wonderteken van God plaasgevind het, was vir almal duidelik. Selfs die Raad noem dit ’n onmiskenbare teken (4:16). ’n Teken (sêmeion) is ’n wonder met groot betekenis. Elke onbevooroordeelde mens sou erken dat die genesing ’n teken is dat God hierdie genesing bewerk het. Ná Jesus se opwekking van Lasarus uit die dood het die Raad ook bymekaargekom en radeloos gevra: ‘Wat gaan ons maak? Want hierdie man doen baie tekens. As ons hom so laat aangaan sal almal in hom glo…’ (Joh 11:47-48). En nou, nadat hulle Hom laat doodmaak het, is hulle weer radeloos oor een van Jesus se tekens wat bewys dat Hy opgestaan het en lewe, om met sy werk voort te gaan deur sy dissipels.

Skrywer: Prof Francois Malan




Die Handelinge van die Apostels: Petrus en Johannes se eerste verskyning voor die Joodse Raad (deel 1; Hand 4:1-12) – Francois Malan

4:1 Die verhaal het begin met Petrus
en Johannes
wat 3nm, die uur van gebed, by die tempel ingegaan het (3:1).
Hulle arrestasie was teen ongeveer 6nm toe die aandwag al aangebreek het (4:3).
Lukas gee ’n kort weergawe van Petrus se preek wat moontlik veel langer geduur
het. Vers 1 verwys na ‘hulle’ wat met die mense praat (laleō praat of
toespreek). Waarskynlik was Petrus en Johannes ná Petrus se preek nog besig om
met die mense te praat.

Die Sadduseërs was die
priester-aristokrasie, met die hoëpriester as leier. Die bevelvoerder van die
tempelwag was tweede in bevel van die Sanhedrin en hoof van die tempelwag wat
van die Romeinse owerheid die reg tot arrestasie ontvang het. Baie priesters
was Sadduseërs, maar nie almal nie. Die Sadduseërs het slegs die eerste vyf
boeke van die Bybel as die woord van God aanvaar en daarin nie van die
opstanding van die dooies gelees nie (vgl. Hand 23:8), hoewel Jesus hulle
uitleg van die eerste vyf boeke van die Bybel verkeerd bewys het (Luk
20:27-40). Die groep het die twee apostels met geweld aangeval (efistêmi).
  

4:2 Die groep Sadduseërs was
hewig ontsteld deur die apostels se onderrig van die volk en openlike
verkondiging van Jesus se opstanding uit die dood. ‘In Jesus’ staan voorop in
die Griekse sinsnede om te beklemtoon dat ’n mens se opstanding uit die dood
geskied deur Jesus
, in geloofsverbondenheid aan Hom. Dit terwyl die
Sadduseërs juis nie glo in die opstanding van die dooies nie (Hand 23:8; Luk
20:27) en ook nie in Jesus nie. En as Jesus uit die dood opgestaan het, beteken
dit dat die opstanding uit die dood moontlik is, en dat ’n hele nuwe visie oor
die huidige lewe en die lewe ná die dood geopen is deur sy opstanding, wat so
ver verskil van die Sadduseërs se leer en lewe.   

4:3 Hulle het toe die twee
apostels gearresteer (letterlik: hulle hande aan hulle geslaan, ’n idioom vir
arresteer) en hulle in gevangenis gesit tot die môre, omdat dit reeds
vroegaand was (espera vroeg-aand, teenoor opsia laat-aand ná
sononder). So is Jesus se voorspelling in Luk 21:12-13 vervul, dat hulle aan
die sinagoges oorgelewer sal word, in gevangenis gesit sal word en voor konings
gesleep sal word ter wille van sy Naam, en dat dit vir hulle ’n geleentheid sal
wees om te getuig. Die Sanhedrin kon nie bymekaar gemaak word voordat die deure
van die tempelkompleks teen sononder sluit nie.

4:4 Teenoor die negatiewe
optrede van die Sadduseërs staan die reaksie van die skare. Baie van dié
wat die boodskap gehoor het, het die goeie nuus oor Jesus Christus geglo en
volgelinge van Jesus geword. Die getal manne het aangegroei tot ongeveer
vyfduisend. Dit verwys na mans en vroue gelowiges soos in 2:41 waar na
drieduisend ‘siele’ verwys is (en nie soos Matt 14:21 se vyfduisend mans,
afgesien van die vroue en kinders, wat gevoed is nie). Hierdie tweede preek van
Petrus het die Here ook gebruik om ’n ryke oes van gelowiges te lewer; vgl.
Jesus se woord met die roeping van Petrus in Luk 5:10 ‘Van nou af sal jy mense
vang.’

4:5 Die volgende dag het hulle
leiers (archontes) en ouderlinge (presbuteroi familiehoofde) en
Skrifkenners in Jerusalem bymekaargekom. Die Sanhedrin (die Hebreeuse
vorm van die Griekse sunedrion ’raad’), 71 in getal, was  die hoogste raad van die Joodse gemeenskap.
Dorpe het kleiner Sanhedrins gehad vir die bestuur van die dorp (Mark 13:9).
Die hoogste raad het bestaan uit die leierpriesters (die hoëpriester en sy
helpers, wat die dagbestuur van die Sanhedrin was, almal priesters en Sadduseërs),
stamhoofde (die hoëpriester se adviseurs uit die 12 stamme van Israel) en die
onderwysers van die wet van die Here, wat veral Fariseërs was. Moses het op
bevel van die Here 70 leiers uit die twaalf stamme gekies om saam met hom die
verantwoordelikheid vir die volk te aanvaar 
(Num 11:11-17). Na aanleiding daarvan het die Jode ná die Babiloniese
ballingskap weer ’n raad saamgestel (Esra 10:16; Neh 2:16; 3:1). Die Romeine
het aan die Sanhedrin gedeeltelike jurisdiksie oor die Joodse volkslewe gegee.
Dit is waarskynlik dieselfde lede van die Raad wat vir Jesus veroordeel het,
wat weer hier bymekaar gekom het. Dat Lukas dit noem dat hulle in Jerusalem
bymekaargekom het, wys op die vervulling van Jesus se opdrag in Hand 1:8 dat
hulle in Jerusalem moet begin as sy getuies. Hier getuig hulle oor Jesus voor
die hoogste raad van die Jode (vgl. Jesus se woord oor Jerusalem waar die
profete doodgemaak word, in Luk 13:33-34).

4:6 Die leierpriesters word
aangewys: Annas (Hebreeus: Chanas) word die hoëpriester genoem, hoewel
hy in 15 n.C. reeds deur goewerneur Pilatus se voorganger as hoëpriester
afgesit is, maar die titel onder die Jode behou het en nog groot seggenskap
gehad het (vgl. Jesus se verhoor voor Annas in Joh 18:12-14). Annas se
skoonseun Kajafas was die hoëpriester (18-36 n.C.; vgl. Joh 18:13) met Jesus se
verhoor en nou nog met die verhoor van sy apostels Petrus en Johannes. Die
leierpriester Johannes is moontlik Annas se seun Jonatan wat later hoëpriester
geword het (36-37 n.C.); verder was daar ook Alexander en almal van die
hoëpriesterlike geslag. Dit wys hoe sterk Annas se invloed in die Sanhedrin
was. Die Joodse Talmud sê dat die byeenkomste van die Sanhedrin 40 jaar voordat
Jerusalem in 70 n.C.  verwoes is, verskuif
het uit die groot saal na die winkelsaal, genoem na Annas. Hier het Jesus die
verkopers uitgejaag, Luk 19:45-48. Dit kan een van die redes wees vir Annas se
haat teen Jesus en sy volgelinge.

4:7 Nadat hulle die twee
apostels en die geneesde man (v14) in die middel voor die halwe sirkel van die
raadslede laat staan het (soos die Misjna die sittings verduidelik) vra hulle
(waarskynlik die hoëpriester namens die vergadering):‘Met watter soort
krag en in watter naam het julle die ding (die genesing van die lam man)
gedoen?’ Dit gaan oor die herkoms van hulle krag en met wie se volmag hulle
die verlamde genees het.
Dit kon ’n demoniese mag wees. Dieselfde vraag is
aan Jesus gestel (Luk 20:2; Joh 2:18). In Luk 11:15 is Jesus selfs beskuldig
dat Hy demone uitdryf deur Beëlsebul, die aanvoerder van die demone. Vir Lukas
was dit twee ideale vrae aan die apostels om met volmag oor die Naam van Jesus
te getuig.

4:8 Toe het Petrus, vervul met
die Heilige Gees, die Sanhedrin met respek toegespreek as ‘Leiers van die volk
en ouderlinge (familiehoofde).’ Die passiewe deelwoord ‘vervul’ (plêstheis)
beteken dat God die Heilige Gees beheer oor Petrus se antwoord oorgeneem
het,
soos Jesus beloof het in Lukas 12:12 ’…die Heilige Gees sal julle op
daardie oomblik leer wat julle moet sê;’ Luk 21:14-15 ‘Neem julle dan voor om
nie vooraf na te dink oor julle verdediging nie, want Ek sal julle die woorde
en wysheid gee wat nie een van julle teenstanders sal kan weerstaan nie;’
vgl  Markus 13:12 ‘…maar wat ook al op
daardie oomblik aan julle gegee word, dit moet julle sê; want dit is nie julle
wat praat nie, maar die Heilige Gees.’

4:9-10  Petrus bevraagteken die Raad se motiewe:
‘As ons vandag verhoor word oor ’n goeie daad aan ’n gebreklike man waardeur hy
genees en gesond is (sesōtai perfektum passief wat die voortduur van die
genesing wat hy ontvang het aandui)…’ Dit is tog verbasend dat hulle
gearresteer is, in die tronk aangehou is en nou verhoor word, en dit omdat ’n
lam man genees is. Terwyl ’n mens bly sou wees oor so ’n genesing, is die Raad
kwaad daaroor! So het Jesus ook gevra: ‘Baie goeie dade van die Vader het Ek
aan julle gewys. Oor watter een van daardie dade wil julle my stenig’ (Joh
10:32).

Petrus antwoord hulle vraag
oor die mag en Naam waardeur die man genees is: ’…moet julle almal en die hele
volk Israel weet dat dit in die Naam van Jesus Christus van Nasaret is
(deur Jesus self), wat julle gekruisig het, wat God uit die dood opgewek het,
dat dit deur Hom is wat hierdie man genees en gesond voor julle staan.’

In die statige en blye
vrymoedige wyse waarop Petrus die Naam Jesus Christus van Nasaret voor die Raad
en die hele volk bekend maak, skyn die krag van die Naam van Jesus reeds deur.
Dit is onomstootlik bewys deur die lamme wat almal gereeld gesien bedel het, en
nou gesond voor hulle staan.Met Jesus se verlossing van die lamme voor
hulle oë, staan die aanklaers van die apostels as aangeklaagdes voor die
einste Jesus vir wie hulle verwerp het
. Met ’n skreiende teenstelling stel
Petrus God se optrede met Jesus teenoor die optrede van Israel teen Jesus, om
hulle vyandskap teen God self duidelik te skilder. As klinkklare bewys van sy
skerp teenstelling wys Petrus na die gesonde man, wat hulle voor hulle laat
staan het vir ondervraging. Die geneesde man is die beliggaming van God se ‘Ja’
oor Jesus, en God se ‘Ja’ aan die apostels se boodskap oor die Man van Nasaret.
Die woord sōzō verwys na genees van siekte, maar ook na gered uit die
sonde.

4:11 Petrus haal aan uit Ps
118, wat by al die Jode goed bekend was en altyd aan die einde van die Paasmaaltyd
as die laaste Hallel/lofprysing gesing is. Ps 118:22 lui: ‘Die klip wat die
bouers afgekeur het, het geword die kop van die hoek’ – dit kan verwys na die
hoeksteen of na die sluitsteen. Die krom steen wat die bouers as hoeksteen
verwerp het, het die sluitsteen van die boog oor die ingangspoort geword.
In
verse 19-20 is sprake van die poort na geregtigheid, en die poort na die HERE –
regverdiges mag daardeur ingaan. Vers 21 loof die Here wat tot sy redding gekom
het. Vers 23 sê van die besondere klip -Van die Here het dit gekom; dit is ’n
wonder in ons oë. Vers 24: Dit is die dag wat die HERE tot stand gebring het;
laat ons juig en ons in Hom verheug. So verduidelik Petrus met ’n beeld in die
Skrif wat die betekenis is van Israel se verwerping van Jesus, en van God se
aanvaarding van Jesus se offer vir die sonde van die wêreld.

Petrus voeg twee sinsnedes tot
die Skrifwoord by om die toepassing te maak: ‘Hierdie een is’ die klip wat deur
‘julle’ die bouers verwerp is, wat die kop van die hoek geword het: ‘Hierdie
man’ (houtos manlike vorm van ‘hierdie een’) verwys na Jesus in Hand
4:10, en ‘julle’ na die Jode wat Jesus verwerp het. Die ongeletterde (4:13)
onderrig die Skrifkenners (4:5) met hulle verklaring van die Skrif (vgl. Luk
10:21). Jesus het reeds hierdie Psalm aangehaal (Luk 20:17) met die byvoeging
in Lukas 20:18 ‘Elkeen wat op daardie klip val, sal verpletter word, en as
dit op iemand val, sal dit hom vergruis
,’ uit Jes 8:14-15. Jesus as die
hoeksteen waarop sy kerk gebou word, word verder in die Nuwe Testament gebruik
in 1 Kor 3:11; Ef 2:20; 1 Petr 2:6-7; Matt 21:42; Mark 12:10.

4:12‘Daar is ook deur niemand anders verlossing nie…’ In Grieks is dit ’n sterk ontkenning met ’n dubbele negatief: ‘En daar is nie in niemand anders verlossing nie. Die tweede deel van vers 12 brei slegs uit op die eerste deel: ‘…want daar is geen ander Naam (as die persoon Jesus Christus) onder die hemel (in die hele wêreld) aan mense gegee waardeur ons verlos kan word nie.’ Jesus alleen is die rots van heil waarvan die Ou Testament gepraat het (in Jakob se seën Gen 49:24; in Moses se lied Deutr 32:15,18,30,31; in Dawid se lofliedere: 2 Sam 23:3; Ps 18:3,32,47; Ps 31:3-4; in Jesaja 17:10; ens.). Verlossing (sōteria) en verlos word (sōthenai) verwys beide na genesing van die ligaam en gees, en na verlossing van sonde. Soos die genesing van die lam man net deur Jesus geskied het, so is verlossing uit sonde deur niemand anders as deur Jesus nie. Daarmee brei Petrus se boodskap uit tot die verlossing van sonde. Die genesing van die lam man is ’n roepstem tot Israel om hulle verlossing van sonde by Jesus te vind. Paulus het die bevryding deur geloof in Christus Jesus alleen in Rom 3:21-31verder uitgewerk teenoor die Jode en almal wat nog deur onderhouding van die wet gered wil word

Skrywer: Prof Francois Malan