Die Groot Geloofswoordeboek: Die Heilige Gees

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Heilige Gees

Heilige Gees

(*Goddelikheid van die Heilige Gees)

  • Ou Testament Nuwe Testament
  • Ou Testament

Ons kry eintlik twee beskouings oor die verhouding tussen die Gees van God en God in die Ou Testament. Die een is dat die Gees eintlik net die krag van God of God-in-aksie is. Die ander is dat die Gees alreeds ‘n Goddelike Persoon naas God die Vader is.

Die Gees as ‘n Persoon

Kom ons kyk eers na die laaste een: die Gees as ‘n aparte Per­soon naas God. Daar is selfs die gedagte dat ons alreeds die volle Drie-eenheid in Genesis 1 kry. Dink maar aan die “Ons” (1:26), die Gees (1:2), en die woorde (die Woord) wat God spreek as Hy lig maak (1:3). Johannes skryf self ook, met ‘n verwysing na die ewige Seun van God, dat alles deur die Woord geskep is (1:1-3). Daar is in­der­daad uitsprake wat ons kan interpreteer as sou die Gees as ‘n self­standige Persoon naas God optree. Die Gees lei vir Simson (Rig 13:25) en die Gees sal op die *Messias rus en aan Hom wysheid en insig gee, raad en krag, kennis en eerbied vir die Here (Jes 11:2). ‘n Mens kan jou moeilik voorstel dat die Gees net die krag van God is, maar dan wysheid en raad en eerbied aan die Messias gee. Dit is dinge wat ‘n persoon doen. Trouens, hier en daar lyk dit byna of die Gees net ‘n ander benaming vir God is (Ps 139:7 ev; Jes 40:13 ev).

Die Gees as God se krag

Teen hierdie gedagte dat die Gees reeds ‘n aparte Persoon is, is daar twee argumente, en hulle ondersteun die siening dat die Gees van God die krag van God of God-in-aksie is. Die eerste is ‘n aantal uitsprake, en daar is heelwat, wat makliker verstaan kan word as die Gees net die krag van God is. Die Here laat kom ‘n deel van die Gees wat op Moses was, op die 70 wat hom bygestaan het (Num 11:25). Dit kan beswaarlik van ‘n aparte Persoon gesê word dat ‘n deel van Hom op mense kom. Maar dit kan ‘n deel van die krag van God wees. Dit is ‘n tema in Simson se lewe dat die Gees hom sterk maak (Rig 14:6, 19; 15:14). Die Here sal sy Gees in die Israeliete laat ingaan en hulle daardeur in staat stel om sy wet te onderhou (Eseg 36:27). Dink ook aan die Gees wat op of oor die Messias sal kom (Jes 42:1; 61:1). Al hierdie uitsprake pas goed by die gedagte van die Gees as die krag van God.

Die Gees as die krag van God pas ook beter by die feit dat die Jode tot vandag toe nie enigiets oor die Drie-eenheid in die Ou Testament kry nie. Die volle nadruk van die Ou Testament is op die eenheid van God. Dit is juis deel van die boodskap van die Ou Testament teenoor die baie gode van die omringende volke: Net die Here is waarlik God. Waar die *Engel van die Here bespreek word, word ook daarop gewys dat dit nie ‘n voorvorm of voorloper van Jesus is nie. Ons moenie die Nuwe Testament teruglees in die Oue nie. Ons moet die Ou Testament in sy eie reg erken.

Natuurlik kan ons agterna beskou, sê dis nie vreemd nie dat daar hier en daar in die Ou Testament ‘n uitspraak oor die Gees is wat beter verstaan word as die Gees ‘n aparte Goddelike Persoon naas God (die Vader) is. Maar sonder die Nuwe Testament sou niemand op die gedagte van drie Goddelike Persone in een God­delike Wese gekom het nie. (*Drie-eenheid)

Terloops, die meervoud (Ons) van Genesis 1:26 is ‘n pluralis ma­jestatis, ‘n hoogheidsmeervoud. Predikante het in die ou tyd ook so gepraat: “Ons het ‘n beroep gekry.” Die predikantsvrou is nie ook beroep nie. Die predikant was eenvoudig so belang­rik dat hy oor homself in die meervoud gepraat het.

  • Nuwe Testament

Wanneer ons by die Nuwe Testament kom, is daar egter nie meer onsekerheid oor die Persoon van die Gees nie. (*Drie-eenheid) Veral in die Evan­gelie van Johannes doen Hy dinge wat net aan ‘n persoon toegeskryf kan word: Hy word ons “voorspraak” of “advokaat” genoem. Hy sal die dissipels leer en herinner aan alles wat Je­sus gesê het. Hy sal bewys dat die wêreld skuldig is. Hy sal die dissipels in die hele waarheid lei en Christus verheerlik (Joh 14:26; 16:7-15). Al hierdie, en nog baie ander dinge, herinner ons aan ‘n persoon, en nie net aan ‘n krag nie.

Die Gees in die lewe van Jesus

Wat die werk van die Gees betref, moet die Nuwe Testament in twee dele verdeel word: voor Pinkster en na Pinkster. Voor Pinkster gaan dit eintlik om die bediening van Jesus, maar die Gees speel ‘n belangrike rol daarin. Veral Lukas wys op die ini­siatief wat die Gees in die lewe van Jesus geneem het. Die Heilige Gees is by die geboorte van Jesus betrokke, Elisabet is met die Gees vervul, Sagaria is met die Gees vervul, Johannes die Doper word sterk deur die Gees, Simeon word deur die Gees na die tempel gelei, Johan­nes kondig aan dat Jesus met die Gees sal doop, die Gees daal by die doop op Jesus neer, Jesus kom vol van die Gees van die Jordaan af terug en word deur die Gees na die woestyn gelei om deur die duiwel versoek te word, Hy kom vol van die krag van die Gees terug van die woestyn af en gaan na Galilea toe (Luk 1:35, 41, 67, 80; 2:27; 3:16, 22; 4:1, 14). Dis merkwaardig dat Lukas hierna in die res van sy Evangelie net twee keer na die Heilige Gees verwys. Dis of hy in die eerste vier hoofstukke, waar alles begin het, hard wou uitroep: “Die Gees is in sy volheid in die bediening van Jesus betrokke. Alles wat verder volg, staan onder sy leiding.”

Jesus in die werk van die Gees

‘n Mens sou van Jesus se aardse bediening kon sê: “Die Gees het deur Jesus gewerk.” En dan na Pinkster: “Jesus werk deur die Gees.” Want soos die Gees absoluut teenwoordig was en ini­siatief ge­neem het tydens Jesus se aardse bediening, neem Jesus inisia­tief in die werk van die Gees. Dit is Jesus wat die Gees stuur, Jesus voeg daagliks dié wat gered is by die gemeente (Joh 16:7; Hand 2:47); trouens, die prediking van die apostels is son­der meer: Jesus. Ontleed elke preek van Petrus en Paulus (Hand 2; 3; 4; 5; 10; 13; 17). Die tema is Jesus wat opgestaan het.

Dit is dus heeltemal verkeerd om ‘n soort spanning tussen Je­sus en die Gees te skep. Dis nie so dat Jesus as’t ware die inleiding was, maar dat ons nou by die eintlike saak kom as ons die Gees ont­vang nie. Die Gees kom Christus verheerlik (Joh 16:14).

Andersyds sê sommige te maklik dat die *Pinksterkerke en die *Charismatiese kerke eensydig die Gees beklemtoon. (*Four Square Gospel)

Die groot werk van die Gees lê in die toepassing van die werk van Christus. Christus het vir ons die heil verdien, en die Gees kom dra dit in ons lewe in. Hy kom vorm die liggaam van Christus en kom sy bruid voorberei. Die *gawes van die Gees, die *vrug van die Gees, en die *heilsweg is alles die werk van die Gees.

Daar word soms gesê dat ons in die belydenis van die kerk die Gees verwaarloos. Ons bely in die *Apostoliese Geloofsbelydenis ‘n hele aantal dinge van Jesus, maar niks van die Gees nie, net die woorde: “Ek glo in die Heilige Gees.” Maar dis ‘n misverstand. Alles wat daarna kom, is sy werk: die kerk, die gemeenskap van die heiliges, die vergifnis van sonde, die opstanding, die ewige lewe.

Die een groot verskil tussen die Gees in die Ou Testament en in die Nuwe is dat die Gees terloops in die Oue optree, maar in die Nuwe in die gemeente woon. Dis iets van ‘n vooruitgryping na God wat op die nuwe aarde by sy kinders kom woon. (*Doop met die Heilige Gees)

 

Skuldig: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Genade en Genadetyd

Die Groot Geloofswoordeboek: Genade en Genadetyd

 

Genade

Algemene genade • Besondere genade

“Genade” is een van die kernwoorde van die *evangelie. Daar is men­se wat meen dit gaan eintlik in die Bybel oor wat die Here nie wil hê ons moet doen nie. En daar is natuurlik ’n tikkie waar­heid daarin. Maar die moeilikheid is dat ons dit toe wel gedoen het. Wat nou?

Gelukkig staan daar ook in die Bybel – en dis die eintlike bood­skap – wat God toe gedoen het om ons te behou. En dis genade.

Ons moet net onthou: “niks vir niks.” As jy iewers iets verniet kry, moet jy weet dit het iemand anders iets gekos. As dit baie is wat jy verniet kry, het dit die ander persoon baie gekos. En as jy die ewige lewe verniet kry, het dit God sy Seun gekos. (*Versoening)

Maar nou is genade verniet. Nou kan ons net vra … en kry.

Algemene genade

Daar is mense wat ’n onderskeid maak tussen algemene genade en besondere genade. Algemene genade is die gewone dinge wat alle mense van die Here kry: reën, kos, gesondheid. Paulus praat van sulke dinge in sy preek in Listra: “Hy wat vir julle reën gee en gereelde oeste … ” (Hand 14:17). Elders lees ons spesifiek dat die Here dit vir goeies en slegtes gee (Matt 5:45).

• Besondere genade

Dit is die genade waardeur ons son­de vergewe word en ons kinders van God word. Dit is die ge­nade waarvoor Christus aan die kruis voorsiening gemaak het. (*Versoening)

Genadetyd

“Genadetyd” is ’n woord wat nie baie algemeen onder Christene voorkom nie, maar daar is Evangeliese Christene wat dit graag ge­bruik. (*Evangelicals) Die uitdrukking is gewoonlik dat “die genadetyd kan verbygaan”. Daarmee bedoel hulle dat daar ’n tyd in ’n ongeredde mens se lewe kan kom wanneer “die stem van die Heilige Gees stil raak”. Hulle verbind dit direk met die *sonde teen die Heili­ge Gees. Die sondaar moet nie aanhou om “die roepstem van die Gees” stil te maak nie. Daar kan ’n dag kom wanneer die Gees Hom aan jou onttrek, en dan kan jy nie meer gered word nie. ’n Mens kan ook deur ’n bepaalde sonde, die sonde teen die Heilige Gees, die stem van die Gees stilmaak. In hul prediking word hierdie saak gewoonlik as ’n ernstige waarskuwing gebruik om mense te beweeg om hulle te bekeer.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Gereformeerd en Hervormd

Die Groot Geloofswoordeboek: Gereformeerd en Hervormd

 

 

Gereformeerd • Hervormd

Die woorde “gereformeerd” en “hervormd” kom voor in die name van kerke, soos die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Ge­re­formeerde Kerk, en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. (*Afrikaanse kerke)

Hierdie woorde kom egter ook in ’n algemene betekenis voor, en dan word veral die woord “gereformeerd” gebruik.

“Gereformeerd” word gebruik as ’n versamelnaam vir die nasate van Calvyn sodat daar oor die wêreld heen baie Gere­formeerde Kerke is, soos daar ook Lutherse Kerke is in navolging van Luther se teologie. Daar is ook ’n Wêreldbond van Gere­formeerde Kerke. Ver­der word daar in die algemeen van Gerefor­meerde teologie en Gereformeerde *spiritualiteit gepraat.

Gereformeerde teologie beklemtoon ’n paar sentrale dinge, soos net die Woord (sola scriptura), net Christus (solus Christus), net uit genade (sola gratia), net deur geloof (sola fide). Hierdie beklemtonings het veral in die konfrontasie met die Katolieke teologie van die Middeleeue ontstaan. Terwyl die Katolieke van Skrif én tradisie gepraat het, het die Gereformeerdes gesê: Net die Woord (Skrif, Bybel). Terwyl die Katolieke teologie meer klem gelê het op goeie werke om gered te word, het die Gereformeerdes gesê: Net deur Christus, net uit genade, net deur geloof.

Onder “tradisie” is in hierdie tyd veral verstaan die amptelike leer van die kerk en die oorlewerings van die kerkvaders. Die Ka­tolieke het besondere waarde aan hierdie oorlewerings geheg selfs al was daar nie steun in die Bybel daarvoor nie. Hulle aanvaar by­voorbeeld vandag nog dat Maria sonder sonde gebore is (haar onbevlekte ontvangenis) en dat sy lewendig hemel toe opgevaar het. Hierteenoor het die Protestante in die algemeen en die Gere­formeerdes in besonder “net die Woord” gestel. Dit beteken as hier­die dinge nie in die Bybel geleer word nie, aanvaar ons dit nie as bindend vir ons geloof nie.

Met “net die Woord” het hulle nie bedoel dat net die Bybel vir Christene belangrik is en glad nie die tradisie nie. Hulle het altyd die groot waarde erken van die besluite wat die kerk in die verlede geneem het. Dit is deel van die tradisie. Dink maar aan die Konsilie (sinode) van Nicea (325 nC) waar die kerk besluit het dat Jesus self ook God is net soos die Vader. Dit is vandag deel van ons tradisie, van die oorlewering wat ons van die vroegste eeue kry. Maar ons glo dit word gesteun deur sterk getuienis in die Bybel terwyl daar nêrens in die Bybel sprake is van Maria se onbevlekte ontvangenis en hemelvaart nie. Die Gereformeerdes het met “net die Bybel” dus bedoel dat die kerk niks mag glo en leer wat nie deur die Skrif gesteun word nie.

Net Christus, net uit genade, net deur geloof was die Kerk­hervorming en dus ook die Gereformeerdes se reaksie op die nadruk wat die Katolieke gelê het op die noodsaaklikheid van goeie werke om gered te word. Vandag is daar teoloë wat sê dat dit ’n misverstand was. Maar die Gereformeerdes het gemeen die Katolieke Kerk leer amptelik dat Christus se kruisoffer nie voldoende was om ons te red nie, maar dat ons deur goeie werke ons eie bydrae moet maak. Daarteenoor het die Gereformeerdes gestel dat die kruisoffer van Christus genoeg was vir die sonde van die hele wêreld, dat ons dus net uit genade gered word en net as ons glo (deur geloof).

Hulle het wel ook die noodsaaklikheid van goeie werke be­klemtoon. Calvyn het uitdruklik geleer dat ons nie deur ons goeie werke gered word nie, maar hy het ook geleer dat ons nie sonder goeie werke gered word nie. Daarmee het hy bedoel dat ons goeie werke sal doen as ons gered is. As ons lewe nooit wys dat ons nuwe mense is nie, moet ons twyfel of ons ooit gered is.

Vandag is daar Katolieke teoloë wat meen dat die Katolieke Kerk niks anders as dit bedoel het nie en dat die geskil ’n groot misverstand was.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Geregtigheid

Die Groot Geloofswoordeboek: Geregtigheid

Geregtigheid

Die begrip “geregtigheid” word meestal in verband met God ge­bruik, maar geld ook in menslike verhoudings. Dit is verwant aan reg-verdigheid. Ge-reg-tigheid is ’n begrip wat dikwels misverstand wek. Dit is ’n regsterm wat met reg te doen het, dit wil sê met dit wat reg is in ’n bepaalde verhouding.

Dit beteken dat daar nie een vaste betekenis is vir geregtigheid nie. Wat reg is, word bepaal deur die aard van die verhouding. Dit is reg dat ’n ouer sy of haar kind tug om­dat ouers gesag oor kinders het en vir hul opvoeding verantwoorde­lik is, maar dit is nie reg dat ’n man sy vrou tug, of ’n vrou haar man nie. Dit is reg dat ’n getroude man en vrou gemeenskap het, maar nie ’n ongetroude man en vrou, of ’n getroude persoon met iemand anders nie. Dit is reg dat ’n mens onvoorwaardelik gehoorsaam is aan God, maar nie aan ’n ander mens of menslike instansie nie om­dat net God ab­solute gesag oor ons het. Geregtigheid, dit wat reg is, wissel dus van verhouding tot verhouding.

Dit is ’n bekende uitdrukking dat God geregtigheid eis; dit be­teken Hy eis dat die verhouding tussen Hom en ons reg sal wees. Dit is ’n ernstige saak. Ons moenie dink God is ’n goedige oupatjie wat maar alles deur die vingers sien nie. God het sy wet aan ons gegee, en Hy verwag dat ons daarvolgens sal lewe. Dit het ook te doen met die heiligheid van God. God verdra nie onreg nie, Hy haat *sonde (Ps 5:5-7). Geregtigheid geskied (dit beteken alles is reg) tussen Hom en ons as ons Hom liefhet en dankbaar en gehoorsaam dien.

Die probleem is egter dat ons dit nie doen soos Hy dit van ons verwag nie. En daarom staan ons onder die oordeel van God – ook ’n regsterm. Daarom is God se geregtigheid ’n bedreiging vir ons.

Hiervoor het Luther in die sestiende eeu gevrees. As hy aan die geregtigheid van God gedink het, het hy in vertwyfeling uit­geroep: Waar kry ek ’n genadige God? Hy kon nie verstaan dat die gelowiges in die Psalms juig oor God se geregtigheid nie. Tel­kens word God se geregtigheid in dieselfde asem gebruik as sy liefde en sy trou (Ps 36:7; 85:11-12). In die vertaling van 1953 lees Psalm 31:2: “Bevry my deur u geregtigheid,” wat in 1983 vertaal is: “Bevry my, want U is getrou.” God se geregtigheid bedreig ’n mens dus nie net nie. Gelowiges juig ook oor sy geregtigheid, en wel om twee redes. In die eerste plek laat Hy reg geskied, wat beteken dat Hy mense help wat veronreg word. Hy word veral die God van die weduwees en weeskinders genoem omdat daar groot onreg aan hulle gepleeg is in die Ou Testament. Hy laat reg aan hulle geskied deur vir hulle om te gee en hulle te versorg.

Maar tweedens skenk Hy ook geregtigheid. Dit het Luther ver­al in Romeine 1:17 gekry. In die 1953-vertaling sê Romeine 1:17 oor die evange­lie: “Want die geregtigheid van God word daarin geopen­baar.” In 1983 lui dit tereg: “In die evangelie kom juis tot open­ba­ring dat God mense van hulle sonde vryspreek.” God gee hulle dus die ge­regtigheid wat hulle voor Hom nodig het. Daar­om lees ons ook van God “wat die goddelose vryspreek” (Rom 4:5). (*Regverdiging)

Sy geregtigheid beteken dus nie net dat Hy geregtigheid (dit wat reg is) eis nie, maar ook dat Hy reg laat geskied aan dié wat veronreg word, en dat Hy geregtigheid skenk aan dié wat dit nie het nie, maar op Jesus Christus vertrou wat vir ons geregtigheid voor God verwerf het. God regverdig ons; dit beteken Hy bring ons in die regte verhouding met Hom as ons op Jesus vertrou.

 

Skrywer: Prof Adrio König