‘n Tipiese outydse ‘inkopiesentrum’

‘n Tipiese outydse ‘inkopiesentrum’ – Jan van der Watt

Destydse dorpe en stede het ook sentrale besigheidsdistrikte gehad – dit was bekend as die markplein of agora. Opgrawings van stede soos Ostea, Efese, Filippi, Korinte het gewys hoe die markpleine die kern van die stede uitgemaak het. Die markpleine was gewoonlik mooigemaak met tempels, fonteine, standbeelde en sulke dinge. Deel van die markplein was gewoonlik rye winkeltjies – klein kamertjies wat op stoepe oopgemaak het. Die mense het dan in die kamertjies gewerk en hulle ware op die stoepe aan die buitekant van die winkeltjies uitgestal. Die stoepe het gewoonlik mooi pilare gehad wat in rye al langs die stoep af gestaan het. Daar kom die naam ‘pilaargang’ vandaan. Die markplein was ook die plek waar die mense van die dorp saamgekom het en die kinders gespeel het. Die ‘hof’ van die dorp het ook dikwels aan die markplein gegrens (soos die opgrawings in Filippi wys – dit is waar Paulus verhoor is). Soms is persone ook sommer op die markplein verhoor. In Jerusalem het die plein rondom die tempel die ruimte vir hierdie soort bedrywighede gebied.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Krone op horings

Krone op horings – Jan van der Watt

In Openbaring13:1-2 lees ons dat die dier uit die see sewe koppe met tien horings het. Dan lees ons dat op die horings daar krone was. Die vraag is natuurlik hoe jy jou dit moet voorstel – ‘n horing is tog skerp en hoe sit ‘n mens ‘n kroon daarop?

Die antwoord sien ons uit beelde wat in Persië gekry is van diere met horings. Die horings het egter nie regop gestaan nie, maar het plat teen die kop gelê, amper soos iets wat teenaan die kop om “rank”. Daarom is dit maklik om ‘n kroon op die horing (wat teenaan die kop lê) te sit.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Goddeloos, God-loos, God-los, God-verlate, God-vervuld

Goddeloos, God-loos, God-los, God-verlate, God-vervuld – Dirk Venter

Rudolph vra:

Help met ‘n paar definisies asb: Goddeloos God-loos God-los God-verlate God-vervul(d) Groete

Antwoord:

Dr. Dirk Venter antwoord:

Voordat ek definisies voorstel vir die bogenoemde terme, net eers iets oor die aard van die betekenis van woorde. Hoewel ‘n mens dikwels geneig is om te dink dat woorde vaste betekenisse het, is dit nie eintlik die geval nie. Die betekenis van ‘n woord is nie staties nie, maar hang af van die konteks waarbinne dit gebruik word. Hierdie konteks kan byvoorbeeld die gesprek of teks wees waarin die woord gebruik word. Wyer nog sluit konteks selfs ook in: die tyd (era) en omgewing waarin iets gesê word, en die kultuur van die spreker en hoorders, ens.

Neem nou byvoorbeeld die sinnetjie: “Hou my dop”. Wat is die betekenis van dop?  Ons kan dink aan ten minste drie moontlikhede, en die konteks bepaal telkens die betekenis.

Konteks 1: jou vriend wil die vleis omdraai op die braaier, en gee vir jou sy drankie om te hou sodat sy hande vry kan wees… “Hou my dop”.

Konteks 2: ‘n klein seuntjie wil vir sy ma wys hoe hoog hy kan swaai op die swaaie in die speelparkie… “Hou my dop!”

Konteks 3: ‘n klein skilpadjie wil gaan swem, trek sy dop uit en hou dit na sy ma toe uit… “Hou my dop!”

Laasgenoemde “konteks” (3) is duidelik fiktief. Dit kom eintlik uit ‘n bekende grappie wat net in Afrikaans werk. Dit onderstreep dan juis hoe belangrik dit is om die groter konteks waarbinne iets gesê word, in ag te neem, ten einde seker te maak dat jy ‘n woord reg verstaan, soos bedoel deur die gebruiker daarvan in die konteks waarin hy hom bevind het toe hy dit gebruik het. As ‘n mens dus ten opsigte van die laaste voorbeeld nie in gedagte hou dat dit deel is van ‘n grappie nie, kan jy dalk net tevergeefs baie tyd en energie mors op soek na daardie klein, pratende skilpadjie wat sonder sy dop kan swem, (of jou dalk onnodig vererg vir die verteller van die staaltjie wat sulke onwetenskaplike onsin kan kwytraak)…

Hier is dus my poging om algemene definisies van die woorde te probeer gee. Hou asb. in gedagte dat dit kontekslose definisies is en dus nie in alle kontekste geldig sal / kan wees nie:

Goddeloos – hierdie is ‘n erkende Afrikaanse woord en word deur die HAT gedefiniëer as “1. sonder [geloof in] God, sonder godsdiens; 2. sedelik sleg en verdorwe, sondig; 3. erg sleg, vreeslik, verskriklik; 4. erg ondeund, vol kattekwaad.”

Godloos – word deur die HAT gelys as ‘n sinoniem van die eerste moontlike betekenis van “goddeloos”: met ander woorde “sonder [geloof in] God of ‘n god, sonder godsdiens”.  Sou mens die woord sonder ‘n kleinletter skryf, “godloos”, sou dit daarna kon verwys dat iemand geen god erken en/of gehoorsaam nie, hetsy dit die ware God of ‘n afgod sou wees.

God-los – hierdie is sover ek kon vasstel (nog) nie ‘n erkende Afrikaanse woord nie. Ek veronderstel dat dit gebruik kan word om te verwys na ‘n situasie waar iemand “los” van God (begin) lewe, ongeveer sinoniem aan “afvallig”.

God-verlate – ‘n erkende Afrikaanse woord. Die HAT gee die volgende betekenismoontlikhede: “1. deur God verlate, ellendig; 2. uiters verlate, eensaam, afgeleë”. Onwillekeurig dink ‘n mens aan die woorde van Jesus aan die kruis: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Matt 27:46), toe Hy vanweë ons sonde die straf van Godverlatenheid plaasvervangend op Hom geneem het.

God-vervul(d) – weereens, sovêr ek kon vasstel, (nog) nie ‘n erkende Afrikaanse woord nie, wat die betekenismoontlikhede daarvan soveel minder seker maak. In die konteks van die Nuwe Testament kry ons egter die konsep dat God se kinders vervul is met die Heilige Gees. Dit sou beter wees om, soos die Nuwe Testament (bv. Efesiërs 5:18), van vervulling met die Gees te praat, eerder as van God-vervuldheid aangesien dit tegnies gesproke (soos gebruik deur die skrywers van die Nuwe Testamentiese boeke) nie God die Vader (of Jesus Christus) is wat ‘n gelowige vervul nie, maar wel die Heilige Gees. In verband met die vervulling deur die Heilige Gees kan die volgende ander artikel op bybelkennis.co.za gerus nageslaan word:

Die Heilige Gees neem beheer van jou lewe (Vervul met die Gees)

uit Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy.

 

Skrywer: Dr Dirk Venter

 




Respek vir ander Godsdienste? Plig, voorreg of probleem?

Respek vir ander Godsdienste? Plig, voorreg of probleem? – Kobus Kok

Louraine vra:

Ek het geen respek vir valse godsdienste nie,wel vir die mens wat daarin vasgevang is. Elia en die Baäl profete(1Kon.18) is vir my die uitstaande voorbeeld van die “respek” wat Elia vir hulle godsdiens betoon het.

Presies wat leer die Bybel in die verband aangesien daar diegene is wat die “New Age” idee bevorder dat alle godsdienste  gelyk is , dat almal maar dieselfde God aanbid ,en dat Christene respek vir ander godsdienste moet hê?

Ek sien  Christenskap ook nie as ‘n godsdiens nie, maar as ‘n persoonlike verhouding met die Here Jesus Christus.

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Respek vir ander Godsdienste? Plig, voorreg of probleem?

Die woordjie “respek” verdien aandag en ‘n definisie daarvan moet ons eers duidelik omskryf. Respek het volgens die H.A.T. te doen met die bewys van eerbied, ontsag en agting aan iemand anders.

Ek onthou hoe my pa vir my eendag, toe ek twaalf jaar oud was  die volgende  gesê het: “Behandel jou meerderes met respek omdat dit jou plig is, jou gelykes omdat dit jou plesier is en jou ondergeskiktes omdat dit jou voorreg is”. Dit het by my ‘n blywende indruk gelaat. Die gevolg van my ouers se opvoeding en my blootstelling aan Universiteit as teologiese student en dosent was dat ek as Christen in die eerste plek die beeld van God in mense wil raaksien. Daarom hanteer ek mense, ongeag van hulle herkoms of geloof, as mense waarin iets van God se beeld ook sigbaar is – mense in wie God iets radikaal tot stand kan (en wil) bring. Net soos wat ek nie mense wat sondig afskryf nie, maar liefhet, net so kan mens ook lief wees vir mense van ander geloofsoortuigings sonder om eerbied of ontsag en agting vir hulle geloof te hê. Mens kan egter vir hulle as mens en as mede beeld draers van God respek hê. Mense is immers meer as hulle geloofsoortuigings. God wil dalk in en deur jou vir hulle wys hoe diep die liefde van Christus is. Deur mense met geen eerbied en geen ontsag en menswaardigheid te hanteer omdat mens gewoon “geen respek” vir hulle as mense in die beeld van God het nie, is nie die Christelike weg nie. Ons sien dit veral by Jesus. In Lukas 15:1vv lees ons hoe die verkeerde mense –  die sondaars – gereeld  by Jesus was en hoe hy sy tyd met hulle aan tafel deurgebring het. In Johannes 4 lees ons hoe Jesus moeite maak met ‘n Samaritaanse vrou en haar die lewe skenk. Ons lees in Handelinge hoe Paulus op ‘n dag in ‘n gesprek gaan met die heidense filosowe en vir hulle vertel hoe die God wat hy ken die onbekende God is wat hulle nog nie ken nie. Deur liefdeloos te leef doen ons eintlik reuse afbreek aan ons getuienis as mense van die Lig.

Alle Godsdienste is nie gelyk nie. Ons glo dat iets uniek in Christus plaasgevind het. Dit maak ons egter nie beter as ander nie. Ons is eintlik net begenadigde mense, mense wat self verlos is van ‘n doodsbestaan en wat eintlik ook op ‘n stadium vyande van God was. Ons eerste opdrag is om die goeie te doen aan almal. Dit lees ons duidelik in Galasiërs 6:10 as Paulus die opdrag duidelik gee. In Johannes 17 en 20 stuur Jesus sy dissipels uit na die wêreld – die wêreld waarin hulle beweeg soos skape tussen wolwe om een ding te doen en dit is om God se liefde uit te leef. Om die goeie te doen aan almal beteken egter nie om die heidense gelowe te bevorder nie! Dit beteken gewoon om vanuit jou verhouding met Christus vir hulle lief te wees.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok