DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU (1)- Dionne Craffort

Hier volg ‘n reeks artikels wat geskryf is deur Prof Dionne Craffort Emeritus professor in Teologie Universiteit van Pretoria.

  1. God se wil geopenbaar.
  2. God se wil in die skepping en met die wêreld
  3. God se wil vir elke mens en vir jou.
  4. God se wil vir die nasies
  5. God se wil vir sy kerk
  6. God se wil voleindig.

                                                        INLEIDING

Die wil van God vir die wêreld en vir jou! Hierdie titel gaan uit van die standpunt dat God bestaan as ‘n realiteit, dat Hy ‘n wil het en dat sy wil kenbaar is. Maar is hierdie standpunte verantwoordbaar? Wat van humanistiese, materialistiese en monistiese  denkstrome wat  mag aanvaar dat daar ‘n absolute Realiteit is maar dat dit in sigself onkenbaar en onbeskryfbaar is omdat sy blote bestaan alle menslike bevatlikheid transendeer? In die geval is die wil van die Absolute in sigself onkenbaar.Ons kan dit alleen ken in ‘n  afgeleide en subjektiewe sin deur te let op die somtotaal van die beste beskrywings van die Absolute in die verskillende wereldreligieë.  Daar is , volgens hierdie siening, geen objektiewe kennis van die absolute  Realiteit moontlik nie. Hy kan slegs beskryf word in terme van menslike ervaringe  van Sy bestaan en in terme van algemeen menslike moraliteit wat op een of ander wyse gegrond is in Sy bestaan.Volgens hierdie denkwyse is alle kennis van God  gegrond in ervaring eerder as in openbaring. Hierdie weg lei tot subjektiwiteit en eindelose spekulasie oor wie die Absolute eintlik is en wat sy wil vir die mensdom kan wees. Dit maak van die mens ‘n eindelose soeker wat nooit vind nie. Al die filosofieë en al die religieë van die wereld worstel met die probleem en spekuleer oor die wese en die wil van die Absolute Realiteit. Almal wil graag die hart van God ken want dan sal hulle ook die sin van die eie bestaan beter begryp.

Daar is egter ook ‘n ander weg as die weg van spekulasie en dit is die weg van geloof

 wat kennis van God grond op openbaring  en nie op ervaring nie. Hierdie geloofstandpunt aanvaar dat die Onkenbare homself tog, aan die mens wat aan Hom verbonde moet lewe, genoegsaam geopenbaar het om sy wil te ken .

Die begrip “God”  kan slegs een van twee dinge wees. Of hy is ‘n projeksie van die menslike verbeelding en dus ‘n skimbeeld wat die mens vir homself geskep het as ‘n anker om aan vas te hou,of Hy is die absolute Realiteit wat die grond is van alle bestaande dinge.Die ervaringe van die wereldreligieë, die oorwig van filosofiese denke en die nuutste bevindinge van  natuurwetenskappe loop  uit op ‘n konsensus dat daar iewers ‘n diepste grond moet wees vir die bestaan van alle dinge. Die woorde van die Psalmdigter bly waar:” Net ‘n dwaas sê in sy hart daar is geen God nie!”

    As God dan bestaan en Hy ‘n wese tot stand laat kom het wat instaat is om van Sy bestaan bewus te wees en wat Sy wil behoort te ken, dan is dit tog vanselfsprekend  dat Hy homself kenbaar sou maak aan die mens. Dit is tog ondenkbaar dat God ‘n wese sou skep wat in ooreenstemming met Sy wil behoort te lewe sonder om Sy wil aan die mens  bekend te maak. Die bestaan van ‘n totaal onkenbare God en van ‘n ewig soekende  en spekulerende mens is albei begrippe wat nie sin maak nie.  Die Bybel gaan egter uit van die geloof in die Skeppergod wat alles gemaak het, sy wil bekend gemaak het en van die mens verwag om daarvolgens te lewe. Die Bybel begin bloot met die woorde: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape”. Die verdere verhaal van Genesis maak dit duidelik dat God die mens geskep het as man en vrou en dat hulle saam God se verteenwoordigers moet wees op aarde. Dit beteken dat hulle hoogste roeping is om toe te sien dat God se wil geskied op aarde. Op ‘n misterieuse wyse het God sy wil nie afgedwing op die mensheid nie, maar die uitvoering daarvan laat geskied deur die mens wat die vryheid en die verantwoordelikheid ontvang het om self beslissings te kan neem. Hieraan was daar natuurlik ‘n risiko verbonde. Die mens was so vry dat hy selfs teen die wil van God kon kies. Dit het inderdaad ook gebeur en dit is wat die Bybel die sondeval noem. Dit is die mens wat aan sy roeping ontrou geword het en teen die wil van God in begin leef het.

    Het God nou hiermee toegelaat dat die uitvoering van sy wil op aarde totaal verdwyn? Gelukkig nie! God het besluit om ‘n lang herstelproses in werking te stel.  Die vermoë van die mens om God se wil te doen is deur die sonde vernietig, maar die soeke daarna het nie totaal verdwyn nie.Die mens se gewete het hom bly aanspreek, hoewel die stem van die gewete maklik onderdruk kan word.  Die kennis van wat goed en wat kwaad is het nie totaal verlore gegaan nie. In sy diepste wese het die stryd tussen goed en kwaad voortgeduur, maar die kwaad het oorheers vanweë sy sondige natuur. Die mens het bly soek na die sin van sy bestaan en het soekende gebly na die wil van God. Menslike filosofieë en religieë was almal pogings  om die sin van die mens se bestaan te ontdek en om die wil van God vir die mens te probeer ken.Die sondige mens het bly tas na God se wil en het soms baie naby daaraan gekom in die vorm van die beste filosofiese denke en religieuse strukture wat tot stand gekom het. En tog kon die gevalle mens die wil van God  nie meer regtig ken nie. Daarvoor was sy verstand te veel verduister deur die sonde. Die gevalle mens sou soekende bly na die wil van God sonder om dit te vind en hy sou bly wonder wat aangaan in die hart van God sonder om dit te wete te kom..Die soekende  mens het in ‘n moeras van spekulasie vasgeval en die ware wese en wil van God het hom bly ontwyk.

     Gelukkig het God nie die mensdom in die moeras van sonde en in die doolhof van

onsekerheid laat bly nie. Hy het ook ‘n tweede weg in werking gestel. Dit is die weg van selfopenbaring. Dit is ‘n weg wat verband hou met die besondere werking van God se Gees in die lewe van mense. Deur sy handelinge met mense en later in die besonder met Israel as volk en deur die getuienis van profete wat die stem van God op ‘n besondere manier verneem het, het God sy wil vir ‘n gevalle wereld en vir sondige mense geleidelik laat ontvou. Dit is die verhaal wat in die Bybel vir ons opgeteken is. Dit is die verhaal wat uitloop op die vleeswording van Jesus Christus, die een persoon in wie die wil en wese van God  vir ons op die duidelikste wyse geopenbaar is. In Hom het die heilswil van God vir die wereld volkome duidelik geword en daarna moes dit aan al die nasies van die wereld bekendgemaak word. God het inderdaad aan die mens bekendgemaak wat goed is. Al wat sin maak  in die warboel van die menslike bestaan en wat vreugde bring in die tranedal van ‘n gebroke wêreld is om die wil van God te ontdek en dan daarvolgens te lewe. Dit bly nog steeds die hoogste roeping van die mens as beelddraer van God. Dit kan egter slegs geskied as die beeld herstel word, as die gevalle mens wedergebore word en die Gees van God die halsstarrige wil van die mens in besit neem en rig op die wil van God. Daarom het Jesus sy dissipels leer bid : “Laat u wil geskied.”

     In die volgende hoofstukke wil ons rigtingwysers in die Skrif gaan soek wat ons kan help om die hart van God te verstaan en om beter insig te kry.

Skrywer: Prof Dionne Craffort




Toetsing van Verhoudings – Hermie van Zyl

Peter vra:

Vraag: God het die liefdesverhouding tussen ’n mens se meisie / verloofde / vrou bewerk, maar daar sal toetse wees om hierdie verhouding sterker te maak. Ek het dit verlede week êrens gelees in die 1933/1953-Afrikaanse Bybel, maar kan dit nie weer opspoor nie. Help asseblief.

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

As dit gaan oor die toetsing van ons geloof in die algemeen is daar baie Bybelgedeeltes wat hieroor handel, waarvan ek net die volgende noem: 1 Korintiërs 10:13; Hebreërs 12:4-12 (haal Spreuke 3:11-12 aan); Jakobus 1:2-4,12; 1 Petrus 4:12-19.

As dit egter gaan oor paartjies – hetsy verloofdes of getroudes – is daar na my beste wete nie tekste wat eksplisiet sê dat egpare getoets word om hulle verhouding sterker te maak nie. Uiteraard is dit natuurlik waar dat daar baie toetse vir getrouheid op egpare se pad kom, wat die verhouding óf kan kelder óf kan versterk, afhangende van hoe die egliede op die versoekings reageer. ’n Mens kan sê dat die liefdesverhouding tussen man en vrou eintlik net ’n onderdeel vorm van ons algemene geloofslewe – soos laasgenoemde getoets word, so ook ons liefdesverhoudings. En oor die verhouding tussen man en vrou, en dat hulle aan mekaar getrou moet bly en die huwelik moet bewaar, is daar wel baie Bybeltekste. Ek noem net die volgende: Spreuke 5:3-20; Maleagi 2:13-16; Matteus 5:27-32; 19:3-9; 1 Korintiërs 6:12-20; 1 Korintiërs 7:1-7,10-11; Efesiërs 5:21-33; Hebreërs 13:4.

So, hoewel dit nie eksplisiet gestel word nie, veronderstel al hierdie tekste dat liefdesverhoudings ook getoets word deur versoekings en dat laasgenoemde weerstaan moet word sodat die verhouding kan groei en sterker word. Maar ons moet hierdie toetse reg verstaan: Dis nie asof God doelbewus versoekings op egpare se pad stuur om te toets of hulle staande sal bly nie. Jakobus 1:12-15 sê baie duidelik dat God niemand versoek nie; dis nie wie Hy is nie. Versoekings is eenvoudig deel van die aardse bestel, mede as gevolg van die werk van die Bose en die aard van ons korrupte menslike natuur wat ’n “ingebore” geneigdheid tot sonde het. Dus, as ’n mens swig voor versoekings is dit jou eie sonde, jy het self toegelaat dat jy deur begeerte verlei word, jy kan nie God die skuld gee daarvoor nie. Maar nou is die wonderlike genade van God se bewaring ook daarin te sien dat Hy nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie. Hy gee saam met die versoeking ook die uitkoms sodat ons dit kan weerstaan (1 Korintiërs 10:13).

Ek vertrou dat bogenoemde die vraag van die vraagsteller beantwoord.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Bediening – Jan van der Watt

Irma vra:

Ek bid dat ek woord kan kry oor my bediening. Hoe weet ek dat op papier is wat Vader van my verwag. Hoe begin jy sonder finansies om jou as persoon op te skerp om die Bybel beter te verstaan.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Baie dankie vir jou vraag. Dit is moeilike vrae vir iemand anders om te beantwoord. 

Eerstens, Hoe weet mens wat die Here wil. Natuurlik wil mens ‘n konkrete (verkieslik ‘n buitengewone) teken of aanduiding he dat die Here wil he mens moet iets doen of in ‘n bediening ingaan. Die Here werk soms met sulke tekens, (hulle is maar min in die Bybel, soos die velletjie van Gideon, die son wat stilgestaan het, die olie in die kruik van die weduwee wat nie minder geword het nie, ens.). As ons die Bybel ernstig neem dan lei die Here mens op verskeie maniere, veral deur jou verstand (jy kyk na al die moontlikhede en weeg dit teen mekaar op in gebed), jou situatsie (wat gebeur en hoekom, wat laat my situasie my toe, ens.) jou medemense (wat dink hulle en hoe gee hulle raad) en veral deur op die Heilige Gees te vertrou. Die Here stap ‘n pad met ‘n mens en hy speel nie raai, raai nie. Hy wys vir mens die pad op verskillende maniere as jy sensitief bly vir sy wil deur gebed en die Gees. SOms mag Hy nee se, en dan moet ons dit as gehoorsame kinders aanvaar. Net so mag hy ‘n ander pad vir ons kies. As ons egter bly vertrou dat Hy vir ons deure sal oopmaak en ons stap deur SY oop deure en nie waar ons altyd wil loop nie, dan werk ons lewe reg uit. Ons moet nie altyd dink dat wat ons wil iets anders is as wat God wil nie – meer dikwels is ons wil in ooreenstemming met syne en dan moet ons met vertroue voortgaan. Maar soms mag ons probeer om ons wil op die Here af te dwing asof dit sy wil is en Hy so moet maak. Daarteen moet ons waak. 

Tweedens, hoe begin jy jouself in die Bybel op te skerp. Die eerste stap is om die Bybel te lees, veral die Nuwe Testament eerste. Daarby is dit goed om een goeie boek te koop, soos die Bybel met verklarende aantekeninge, of die Eenvolume kommentaar. So ‘n boek dek die hele Bybel en help mens om dit te verstaan. Dan is daar webblaaie soos Bybelkennis.co.za waarvan die doel is om aan mense inligting te gee waaroor hulle kan dink en hulle so met hulle Bybelvrae te help. Dit is gratis. Pas egter op vir webblaaie wat baie geld vra of wat jou probeer oortuig van een of ander standpunt wat vir jou ongemaklik laat voel. Daar is baie groepe op die web wat hulleself of eie standpunt wil bevorder. As daar allerhande vreemde dinge op die webblad is, toets dit eers, want baie keer is die inligting nie akkuraat nie. Dit geld van alle webblaaie. 

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Loon in die Hemel – Jan van der Watt

Chris vra:

Na aanleiding van Luk 19:17 i) is daar vlakke van beloning in die hemel of pyninging in die hel op grond van ’n mens se gedrag hier op aarde. ii) Is daar groot en klein sondes wat beteken dat mens op ’n slegter vlak in die hemel gaan land as jy groot sondes doen, terwyl ’n klein sondetjie jou ’n beter plek gaan besorg?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

a) Wat die groot en klein sondes betref. Die lewens van die mense van die Ou Testament is vanwee die verbond grootliks bepaal deur wat hulle gedoen het, naamlik, of hulle die Wet nagekom het. Dit was soos ’n ooreenkoms dat hulle bepaalde dinge wat in die Wet voorgeskryf is moes doen en dan sou God tevrede wees. Die Profete waarsku die Jode egter aanhoudend dat hulle gedrag en offerhandes nie genoeg is nie, maar dat God hulle harte soek – Hy wil in ’n verhouding met hulle staan.

Iets belangriks gebeur in die Nuwe Testament – die fokus skuif na geloof toe. Die belangrikste daad wat mens nou kan doen is om in Jesus te glo (bv. Joh 6:23-24). Geloof gaan oor ’n verhouding, soos ’n kind met sy pa of ma. Dit gaan dus nie soseer oor wat die kind gedoen het as hy of sy stout was nie, maar oor die verhouding wat versteur is. Die belangrike is dus dat die kind die verhouding herstel deur om verskoning te vra en te besef dat hy dit nie weer moet doen nie. Dit is wat die Bybel sondebelydenis noem – lees maar 1 Johannes 1:7-10. Daar word nie gepraat van hoe groot of klein die sonde is nie, maar van hoe die gelowige sy verhouding met God hetstel. God help die gelowige in die proses deur die bloed van Jesus (1 Johannes 1:7-8). Vir die bloed van Jesus maak dit nie saak hoe groot of klein die sonde is nie – dit word gereinig. Paulus beskryf homself as die geringste van die apostels wat Jesus se kerk vervolg het (hy het selfs mense laat doodmaak), maar die genade van God het hom ’n kind en apostel van God gemaak. God se genade en vergifnis is onkeerbaar.

In Jakobus 2:10-13 word daar gese dat dit maak nie saak watter sonde ’n mens doen nie, as jy wet oortree het, het jy almal oortree. Die rede is juis omdat ‘stout wees’ (sonde doen) die geloofsverhouding met God skaad (kyk maar wat in Jakobus 2:14 en verder bespreek word).

Die Nuwe Testament dink dus nie in terme van groot en klein sondes (dade) nie, maar in terme van jou verhouding met die Here en hoe jy daardie verhouding koester. Daar word nie onderskeid gemaak tussen klein en groot sondes nie.

b) Is daar vlakke van beloning in die hemel? Lukas 19:11-27 is ’n moeilike gedeelte wat inpas in Jesus se lering oor die belang van mense se gedrag en wat mense moet doen in die tyd tussen sy hemelvaart en wederkoms (ons noem dit ook die tussentyd). Daar is twee groepe. i) Die een groep wat niks van Hom gehou het nie (’n simboliese verwysing na die mense wat Hom totaal verwerp het en Hom nie as Messias wou of wil erken nie) se lot is duidelik as Hy weer kom. Hulle sal nie die ewige lewe kry nie, maar die ewige dood. ii) Die tweede groep is Jesus se mense wat vir sy terugkeer wag – hoe moet hulle in die tyd leef? Dan kom die moeilike segging dat almal een geldstuk kry en hoe meer ‘wins’ jy gemaak het, hoe groter is jou beloning, en as jy geen ‘wins’ gemaak het nie, verloor jy ook wat jy gehad het. Beteken dit dat party meer in die hemel kry as ander? ’n Gedeelte wat gewoonlik ook hier genoem word kom uit 1 Korintiers 3:9-15 waar daar gese word dat gelowiges die gebou van God is en dat elkeen op Jesus as fondament bou, maar nie met dieselfde materiaal nie – party bou met goud en silwer, terwyl ander met gars of strooi bou. ’n Vuur van oordeel sal dan die kwaliteit toets. As jou bouwerk bly staan sal jy beloon word, maar as dit nie bly staan nie, sal jy nie beloon word nie, al sal jy gered word.

            Hoe moet die verwysings na die loon in die gelykenis in Lukas 19 verstaan word? Dit lyk of die gedeelte praat van ’n groter beloning vir die een as vir die ander. Dit gaan egter nie om ’n beloning nie, maar om die gee van groter verantwoordelikheid en aanmoediging om die heer (Here) nog beter te dien. Daarom staan daar dat die persoon oor ’n klein bietjie aangestel is, maar hom of haarself as so betroubaar bewys het dat nog groter verantwoordelikhede en take op sy of haar skouers gelaai word. Die persoon wat gewys het dat hy nie verantwoordelikheid wou aanvaar nie, het gewys dat hy nie in die diens van die heer (Here) doen wat van hom verwag word nie – hy het nie eers sy basiese verantwoordelikheid nagekom om bank toe te gaan en rente te probeer verdien nie, wat eintlik baie min van hom sou vra. 

Skrywer: Prof Jan van der Watt