Geld by die tempel

Geld by die tempel – Jan van der Watt

Ons hoor van “geldskieters” by die tempel. Jesus het hulle tafels op ‘n keer omgegooi en dit was uiteindelik ‘n belangrike rede waarom Jesus gekruisig is. Wat het hierdie “geldskieters” by die tempel gemaak?

Daar was destyds nie “standaardgeld” wat oral gebruik is nie. Regerings of selfs dorpe het hulle eie “munte” gemaak en gebruik. Die waarde van die munte het in die waarde van die metaal self (silwer, koper of goud) gelê. Die suiwerheid van die metaal van die munte uit die verskillende gebiede was natuurlik nie dieselfde nie. In party gevalle het ‘n munt byvoorbeeld net 50% silwer of goud bevat en die res was onsuiwer metale. Dan was die munt swakker kwaliteit en minder werd, hoewel dit dieselfde geweeg het as suiwerder munte.

Die munte van die stad Tirus was die suiwerste. Hulle silwermunte (silwerstukke) het ‘n hoë persentasie silwer gehad. Daarom is daar verwag dat daardie (hoë kwaliteit) munte vir die Here in die tempel gegee moes word. As jy dus ander munte (van laer kwaliteit) het, moes jy dit eers omruil vir hoër kwaliteit munte (bv. dié van Tirus) – vandaar die “geldskieters” by die tempel.

Onnodig om te sê: munte met beelde op – bv. van keisers of gode – was ook nie vir die Jode aanvaarbaar nie. Dit moes ook geruil word.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Goeie wyn met ’n goeie skop

Goeie wyn met ‘n goeie skop – Jan van der Watt

Uit Noag se verhaal weet ons dat wyn byna so oud is as die mens self. Geen wonder nie dat dit dus ‘n algemene item by etes was.

Wyn is baie dieselfde gemaak as vandag (uitgesluit al die moderne tegnologie). Die druiwe is eers gepars deur dit te trap (dikwels is ‘n ronde bak uit ‘n rots gekap, sommer net daar iewers in die wingerd). Daarna is die skille van die sap geskei en gesuiwer (moontlik deur dit deur lappe te druk). Die sap is dan in leersakke of potte gegooi om te gis. Hoe ouer die wyn word en hoe lekkerder dit gis, hoe beter is die wyn.

Juis omdat die wyn so gis (en dus gasse vorm) blaas die leersakke op tydens die gisproses. As jy dus sakke gebruik waarvan die leer al sag en gerek is, mag die gisproses die leer so rek dat dit heeltemal skeur. Daarvan lees ons in die Bybel: Jy gooi nie nuwe wyn in ou sakke nie.

As dit bekostig kon word, is daar gewoonlik wyn by etes gebruik. Die wyn is gewoonlik nie skoon gedrink nie. Dit is met 2 tot 3 dele water verdun. As Jesus dus brood en WYN as tekens vir die nagmaal kies, is dit twee items wat eintlik altyd by etes aanwesig was. ‘n Mens hoef dit nie spesiaal te reël nie. Jy kon dit eintlik ook nie vergeet nie, want dit was buitendien op die etenstafel.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Hoe leef ’n mens in die woestyn “sonder water”?

Hoe leef ‘n mens in die woestyn “sonder water”? – Jan van der Watt

Sonder water kan ‘n mens nie leef nie. Kom ‘n mens egter in Israel by plekke soos Kumraan of Masada wonder jy hoe die mense aan die lewe gebly het, want dit is in die middel van ‘n woestyn. Waar het hulle water vandaan gekry? Ons weet dat in die woestyn “oases” ‘n mens aan die lewe gehou het (Jerigo is byvoorbeeld so ‘n oase). By Masada of Kumraan is daar nie oases nie. Die Dooie See is wel naby, maar daardie sout water kan ‘n mens nie drink nie. Tog het groepe mense in dié stede aan die lewe gebly. By Masada het Herodes selfs ‘n pragtige paleis met tuin en al gebou. Dit lyk dus of daar selfs genoeg water was vir ‘n tuin.

Alles het gegaan oor waterbeheer. In die woestyn het daar net een of twee maal per jaar reën geval. Dit was gewoonlik donderstorms wat nie lank geduur het nie. In die kort tydjie wat die storm geduur het, het die hemel oopgeskeur en duisende liter water het neergestort.

As ‘n mens mooi na die plekke kyk, sien jy interessante dinge: Oral is vlakkerige vore (wat ‘n mens soms nie eers opmerk nie). Die vore loop na sekere punte in die nedersettings toe en daar kry jy massiewe opgaartenke wat in die rots uitgekap is. Die vore is so georganiseer dat feitlik al die water wat in die area geval het, in die opgaartenke beland het. Die water wat die een of twee keer geval het, was so baie dat dit die nedersettings die hele jaar kon hou. Die water was so baie dat die mense van Kumraan selfs elke dag rituele baddens kon vat.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Wat is ’n hoeksteen?

Wat is ‘n hoeksteen? – Jan van der Watt

Ons hoor in die Bybel van ‘n huis wat op rots of op sand gebou kan word (Matteus 7), of Jesus wat die hoeksteen van ‘n huis is (1 Petrus 2). Hierdie verse verwys na die manier waarop daar destyds gebou is.

Sement is ‘n moderne uitvindsel. Destyds kon mense nie fondasies met sement gooi nie. Hulle kon ook nie bakstene of klippe aan mekaar “sement” nie. Hulle het inteendeel baksteentjies of klippe mooi op mekaar gepak. Natuurlik is dit op so manier gedoen dat die klippe by mekaar “inhaak” sodat alles nie sommer omval as iemand daarteen stamp nie. Jy moes dus jou pak ken.

Natuurlik was die manier waarop jy weggespring het, belangrik. As jy jou klippe op sand begin pak, kan daardie sand maklik skuif of wegspoel en dan val jou huis inmekaar. Jy het dus altyd ‘n vaste en soliede punt gesoek vanwaar jy jou klippe kon begin pak. Jy het ‘n rots gesoek of indien jy nie ‘n rots gekry het nie, het jy ‘n groot klip of rots solied in die grond ingebed. Jy moes seker maak dat die rots of klip – wat ook ‘n hoeksteen genoem is – so sterk en goed geplant is dat dit nie sal skuif nie. Die res van jou gepakte klippe rus en steun dan op die rots of klip. Die klip of rots (die hoeksteen) moes onder geen omstandighede kon skuif nie.

Jesus is ons hoeksteen en ons is op Hom gebou. Een ding weet ons… Hy sal nie skuif nie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt