Die was van voete

Die was van voete – Jan van der Watt

Dit was destyds die gewoonte om gaste se voete te was as hulle by jou kom eet. Daar was praktiese en sosiale redes voor.

1)   Mense het destyds “plakkies” gedra (m.a.w. ‘n velsool met riempies om die sool aan jou voet vas te maak). Jou voete was dus gewoonlik stowwerig as jy van buite af kom. Aangesien hulle destyds op banke rondom ‘n tafel gelê en eet het, was dit onafwendbaar dat jou voete naby die gesig gelê het van die persoon wat langs jou gelê het… en wie wou nou met vuil voete langs iemand anders lê en eet? Was dit dan maar liewer!

Aangesien dit nie jou eie huis was nie, moes die gasheer die gewassery gewoonlik reël. Die “onbelangrikste” persoon in die huis (soos ‘n slaaf) moes gewoonlik hierdie werkie doen. As deel van die voetewas is daar dikwels ook parfuum oor die voete gegooi, sodat die voete nie alleen skoon was nie, maar ook lekker geruik het. Dan was die ete sommer ook baie aangenamer. So het die praktiese reëlings gelyk. Daarom was dit so “dramaties” dat Jesus sy dissipels se voete was (Johannes 13) – Hy was immers die belangrike een. Sy dissipels moes dus eerder sy voete gewas het. Daarom weier Petrus dat Jesus sy voete was.

2)   Voetewas het ook sosiale betekenis gehad, veral as dit by eerbewyse kom. As jy besondere eer aan iemand wou betoon, het jy baie aandag aan die was van sy voete gegee en duur parfuum gebruik. As die vrou Jesus se voete was en dan duur nardussalf daaroor uitgooi, betoon sy besondere eer aan Jesus.

Dink weer aan Jesus wat in Johannes 13 sy dissipels se voete was. Hy vra ons om mekaar se voete volgens sy voorbeeld ook te was. Dit beteken dat ons mekaar in eerbetoon moet voorgaan. Inderdaad, wie die minste in sy of haar optrede is, sal die meeste wees. Dit leer ons aan die hand van Jesus wat voete was.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Vat vyf!

Vat vyf! – Jan van der Watt

Ons het die gewoonte om mekaar se regterhand te skud. Dit doen ons as ons mekaar groet, maar ook as ons kontrakte beklink. Selfs as twee persone trou, moet hulle mekaar die regterhand gee, as teken van die ooreenkoms wat hulle met mekaar maak. Waarom doen ons dit?

In die antieke tyd, selfs lank voor Jesus, was die regterhand as die “veghand” beskou. Linkshandigheid was negatief gesien en alle persone is geleer om regshandig te werk en te veg. So het die gewoonte in die Ooste ontstaan dat as daar ‘n ooreenkoms of vriendskap gesluit word, die twee persone mekaar se regterhande vasvat. Dit beteken dat hulle nie hulle “vegshande” teen mekaar sal (of kan) gebruik nie. Die persoon plaas liewer sy “veghand” in die hand van die persoon met wie hy ‘n ooreenkoms maak.

Uit die afbeeldings uit die ou tyd het die persone mekaar se regterhande vasgevat. Maar wat van die linkerhande? In al die afbeeldings wat ek kon opspoor, het die betrokkenes iets (bv. ‘n knapsak of so iets) in hulle linkerhande gehou. Hulle hande was dus altwee vol.

Handsluit was dus ‘n baie simboliese aksie – dit het vriendskap en verbondenheid uitgedruk; ‘n ware “nie-aanvalsverdrag”.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Is Jesus se hande en voete vasgespyker aan die kruis?

Is Jesus se hande en voete vasgespyker aan die kruis? – Jan van der Watt

As jy enigiemand sou vra of Jesus se hande en voete aan die kruis vasgespyker is, sal jy amper ‘n 100% “ja” antwoord kry. Het jy geweet dat ons dit nêrens presies so in die Bybel lees nie?

In Matteus en Markus lees ons glad nie van spykers of merke in die hande en voete van Jesus nie. In Lukas lees ons ook nie van spykers en spykermerke in Jesus se hande en voete nie. Ons lees wel dat Jesus vir sy dissipels sy hande en voete “wys”. Wat Hy presies “wys” word nie gesê nie. Kom ons by die Johannesevangelie lees ons wel dat Jesus na die merke in sy hande en sy sy verwys. Hieruit sien ons dat spykers gebruik is. Tog noem Johannes weer glad nie die voete van Jesus nie.

Ons ideë van Jesus se hande en voete wat aan die kruis vasgeslaan is, kom dus van ‘n kombinasie van die feite uit Lukas (Jesus wys sy hande en voete) met die verwysing in Johannes na die spykermerke in die hande van Jesus (sonder verwysing na die voete).

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Die Jehovagetuies

Die Jehovagetuies – Pieter Verster

Zanne vra:

Ek wil graag weet wat glo die Jehovagetuies; wat is die verskil tussen hulle en die Christelike geloof?

Antwoord:

Prof Pieter Verster antwoord:

Die Jehovagetuies

Wie het nie al die klop aan die deur gehoor en die twee of drie persone  binnegenooi  wat dan die  traktaatjie oorhandig en  met jou in gesprek tree oor wie hulle noem “Jehova” nie? “Jehova” is die naam wat volgens hulle in die Ou Testament  vir God gegee word. Hulle besoek mense om hulle te oortuig dat “Jehova” die ware God is en aanbid moet word. Kenners van die Ou Testament  wys egter daarop dat die uitspraak eerder “Jahweh” moet wees.

Die belangrikste saak wat aan die orde kom wanneer oor die Jehova-getuies gepraat word, is die belydenis aangaande  die Drie-eenheid van God. Die belydenis dat God Drie-enig, Een ware God, naamlik  Vader, Seun  en Heilige Gees is, word ontken. Jesus is volgens hulle nie die Ewige  Seun van God, wat self ook God is nie. Hy is ‘n god. Hy is die eerste en belangrikste skepsel maar nie Een ware God met die Vader nie. Hulle sou dus ook nie die  geloofsbelydenis van Nicea kan erken nie. Daarin word bely dat Jesus “God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit  waaragtige God, verwek en nie gemaak nie” is. Hierdie belydenis leef in verskeie kerke se lidmate se harte. Jesus Christus is  waarlik God wat volkome mens geword het.

Kan hierdie belydenis egter nog steeds volgehou word.  In die boek: “Die Jehova-getuies en die Bybel” skryf  Prof Dr  JP Louw baie helder dat die belydenis dat Jesus  volkome God  wat ware  mens geword het duidelik in die Bybel voorkom en dat die oorspronklike Grieks dit bevestig. Jesus is Eersgeborene  wat sy status aantoon en nie die tyd van ontstaan nie. Hy is self ook Skepper en nie die eerste skepsel nie (Vergelyk Kolossense 1:15.) Johannes 1:1 bevestig in geen onduidelike taal  dat Jesus  God is nie en nie maar ʼn god nie. Talle ander gedeeltes in Johannes bevestig dit veral Johannes 20:28. Maar ook Paulus bevestig dit  in Filippense 2: 6-7.

Hierteenoor beweer die Jehova getuies dat daar volgens Deuteronomium 6:4 slegs een God is, naamlik Jehova. Dit neem egter nie weg dat ons in die lig van die Nuwe Testament verstaan dat die een God die Drie-enige  God is nie.

Die Heilige Gees word  beskou as ʼn onpersoonlike straling van God. Handelinge 5:3-4 maak dit egter baie  duidelik dat die Heilige Gees God is. Ook Matteus 28:19 stel die Seun, die Vader en die Gees gelyk.

Christus se versoeningswerk word ook totaal anders verstaan. Daarom lê hulle nie klem op die verlossing nie, maar dat Christus moes kom om God se eer te red. Die wederkoms van Christus sou ook in 1914 plaasgevind het. Die uitbreek van die eerste wêreldoorlog word as bewys aangevoer, maar Openbaring 1;7 sê duidelik dat elke oog Hom sal sien en dat die wederkoms  nie geheim sal wees nie.

Hulle meen ook die tien gebooie het verval, bloedoortapping is sonde omdat jou gees in die bloed is, politiek en militêre diens is verkeerd en  kerke wat nie soos hulle glo nie is van die duiwel. Daar is volgens  hulle nie ‘n hel en ʼn laaste oordeel nie, maar sondaars sal weer ‘n kans kry en net 144000 gaan hemel toe, die ander sal op aarde leef.

Hulle vertoon groot ywer. Min  mense sal soveel vir hulle geloof opoffer. Dit is egter duidelik dat die wesenlike van die Christelike  evangelie misken word. Jesus is die Here!-soos Jahweh!  Dit was en is  die belydenis van die  kerk. Daaraan mag geen afbreuk gedoen word nie.

 

Skrywer: Prof Pieter Verster