Gaan die Jode hemel toe?

Gaan die Jode hemel toe? – Kobus Kok

Benita vra:

Wat bedoel Paulus in Romeine 11:25-26?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Wanneer ons ʼn bepaalde teksgedeelte wil verklaar, moet ons in die heel eerste plek die groter konteks waarbinne dit geskryf is in ag neem. Om verse sommer net so uit konteks te haal, kan maak dat mens allerlei betekenisse inlees. Romeine 11:25-26 lê binne die groter struktuur van Romeine waar Paulus in Romeine 11:25-32 praat oor die groot geheim van God se geweldige groot genade. Die hele hoofstuk 11 handel oor die hoop wat daar nog vir die Jode bestaan, die volk wat niks minder was nie as die geliefde volk van God. Ongelukkig het hulle die Een wat God gestuur het, sy Seun, nie aanvaar nie. God se liefdevolle vader hart klop agter nog steeds vir sy kinders, veral vir sy geliefde volk met wie Hy vir duisende jare ʼn liefdespad gestap het. Daarom skryf Paulus vir die Jode dat daar nog hoop is as hulle nie aanhou om hulle harte teen God te verhard nie. In Romeine 11:25-32 lees ons in die Afrikaanse vertaling die volgende:

25Ons staan hier voor ‘n geheimenis, broers, en ek wil hê julle moet weet wat dit is, sodat julle nie te selfversekerd sal wees nie. Die verharding het oor ‘n deel van Israel gekom en duur totdat die volle getal uit die heidennasies in die koninkryk ingegaan het; 26en op hierdie manier sal die hele Israel gered word. So staan daar (in Jesaja 59:20-21) geskrywe:

“Uit Sion sal die Redder kom, en Hy sal die goddeloosheid van sy volk Jakob verwyder. 27En hierdie verbond sal Ek met hulle sluit wanneer Ek hulle sondes wegneem.”

28Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande van God, en dit kom julle ten goede, maar kragtens die uitverkiesing is hulle geliefdes om die aartsvaders se ontwil. 29As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie. 30Vroeër was julle heidene, ongehoorsaam aan God, maar noudat die Jode ongehoorsaam geword het, het God Hom oor julle ontferm. 31Net so gaan dit ook met die Jode: omdat God Hom oor julle ontferm het, het hulle nou ongehoorsaam geword. Maar dit gebeur sodat hulle self ook nou ontferming kan vind. 32God het almal aan die ongehoorsaamheid oorgegee, sodat Hy Hom oor almal kan ontferm.

 

Kyk gerus na die kommentaar van Prof Wim Vergeer in die Bybellennium eenvolume kommentaar waar hy oor hierdie gedeelte in Romeine skryf. Hy wys daarop dat die Here aan Paulus bekend gemaak het die verharding van die Jode nie vir altyd sal aanhou nie en dat daar ‘n grootskaalse redding van Jode gaan plaasvind net voor Jesus se terugkeer. Die Jode gaan dus kort voor Jesus se tweede koms radikaal tot bekering kom en besef dat Jesus God se Seun en die Messias is. Paulus haal dan ook in hierdie gedeelte Jesaja 59:20-21 aan waar God deur die profeet spreek en sê dat die beloofde Messias oppad is. Prof Vergeer is reg as hy opmerk dat die begrip die hele Israel (11:26), net soos in die geval van die uitdrukking die volle getal uit die heidennasies (11:25), nie verwys na álle heidene en álle Jode nie, maar slegs die wat tot bekering gekom het en Jesus as Messias aanvaar. In Johannes is dit ook duidelik dat net die wat glo dat Jesus die Seun van God is en leef soos dit God behaag die sal wees wat die ewige lewe sal ontvang (Johannes 1:12; 14:6; 20:30-31). Paulus wys egter daarop dat die Messias en redder uit Israel voortgekom het, maar dat die Jode op ʼn stadium na die heidene gaan kyk en gaan sien hoe God se genade teenwoordig is by die heidene en dan sal hulle sommer baie skaam kry. Sommiges sal dan tot bekering kom – hulle sal deel vorm van die wat uitverkies is. God se hart van ontferming klop immers nog sterk vir Jode en vir nie-Jode. Soos ʼn pa wat baie lief is vir sy kinders, net so is God oneindig lief vir ons en staan hy met ope arms om die wat na Hom toe terugkeer te ontvang.

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Het jy geweet? Wat word van “beendere”?

Het jy geweet? Wat word van “beendere”? – Jan van der Watt

Daar was destyds eerbare en oneerbare begrafnisse. ’n Eerbare begrafnis het beteken dat mense rou oor die gestorwene (vir sewe dae intensief en vir die direkte nabye familie tot ’n jaar lank) en dat die gestorwene in ’n familiegraf begrawe moes word.

Grafte was gewoonlik in Jesus se tyd uit rots uitgekap en het soos ’n tipe “grotjie” gelyk. Van die “grafte” is opgegrawe en in van hulle is daar “hope” mensbene iewers in die “grotjie” gekry. Waar kom die bene vandaan?

Die gebruik was dat die lyk in die graf gelê is en na ’n jaar of so, as net die bene oorgebly het, is die bene bymekaar gemaak en op die hoop bene, wat reeds in die graf gelê het, gegooi. So is die persoon se beendere by die beendere van sy “vaders” versamel (dit was mos ’n familiegraf).

In ander gevalle is die beendere deur die familie saamgeneem en in die huis gebêre. Veral toe gedagtes oor God wat in die toekoms weer sal kom, lewendig begin word het, is daar geglo dat hierdie bene weer in die opstandingsliggaam opgeneem gaan word. Daarom moes dit naby die familie bly. Dit was egter nie sonder probleme nie. Ons weet van gevalle waar die vyande van die Jode na ’n oorlogsoorwinning of aanval die beendere sou gevat en weggegooi het (dikwels in ’n rivier of in die see, wat beteken dat die beendere na die “onderwêreld” sou “afsak”). Die implikasie was dan dat die “beendere” nie sou kon “opstaan” as God weer kom nie, want dit is weg, die onderwêreld in. So is die familielid van die res “geskei”. Gelukkig weet ons as Christene beter – ons God is ook in beheer van wat in die onderwêreld gebeur. Hoe anders sou Jesus immers uit die mag van die dood (graf) kon uitstap as God se  mag nie ook daar die botoon gevoer het nie?

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Het jy geweet? Begrafnisse

Het jy geweet? Begrafnisse – Jan van der Watt

Lyke moes in die Joodse tradisie so gou moontlik begrawe word (Deuteronomium 21:23; Handelinge 5:5-6, 10), waarskynlik omdat die klimaat so warm is in Palestina, maar ook omdat lyke as ritueel onrein gesien is.

Om iemand nie te begrawe nie, was om aan daardie persoon geweldige oneer te bewys (1 Konings 14:10-14; 2 Konings 9:34-37; Openbaring 11:9). Hoewel die Jode se bure, naamlik die Grieke en Romeine, lyke veras het, was dit nie ʼn gebruik onder die Jode nie. Alleen in uiterste gevalle is dit toegelaat, byvoorbeeld as die liggaam vreeslik geskend was (1 Samuel 31:12) of as daar ʼn plaag gedreig het (Amos 6:10).

Nadat die persoon sy laaste asem uitgeblaas het, het die oudste seun of ʼn ander nabye familielid die gestorwene se oë toegemaak sodat dit lyk of hy/sy slaap (Genesis 46:4). Daarna is die liggaam gewas (Handelinge 9:37) en met lekkerruik parfuum en olie gesalf (Johannes 12:7). Die liggaam is dan in materiaal (vir gewone mense gewoonlik linne) toegedraai (Matteus 27:59; Johannes 11:44). Daarna is die persoon in ʼn voorbereide graf gaan neerlê (Johannes 19:39-42). Die liggaam is gewoonlik op ʼn houtdraagbaar geplaas en deur lede van die huishouding na die graf gedra (2 Samuel 3:31). Die familie is deur professionele roubeklaers begelei, wat gewoonlik vroeër al na die huis toe gekom het. Dit was belangrik om hardop te huil en so jou rou en smart bekend te maak (2 Samuel 3:31; Jeremia 9:17; Amos 5:16; Matteus 9:23). Dit was ook belangrik dat die persoon in die ‘familiegraf’ begrawe moes word. As iemand nie in die familiegraf begrawe word nie en die familie ook nie vir ʼn aantal dae intensief rou nie (die hele rouproses vir die vrou moes tot ʼn jaar duur), is dit as oneer vir die gestorwene gesien. Nie een van die vereistes was in die geval van Jesus se begrafnis teenwoordig nie. Daaruit lei teoloë af dat Jesus se lyding na sy dood aangegaan het – ook sy begrafnis was vernederend. Met sy opstanding sou alles egter verander.

Grafte is dikwels uit rotse gekap sodat dit soos ʼn kamer met beddens lyk. Die lyke is dan op die ‘beddens’ neergelê. Nadat die lyk ontbind het, is die bene bymekaar gemaak en in ʼn kissie deur die familie bewaar. As daar dus van ʼn nuwe graf met Jesus se begrafnis gepraat word (Johannes 19:41), beteken dit dat daar nog nie iemand voor Hom in die graf begrawe is nie.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

 




Het jy geweet? Belastinggaarders en tollenaars

Het jy geweet? Belastinggaarders en tollenaars – Jan van der Watt

Belasting betaal is amper so oud soos die mens self! In Israel was belasting betaal ook iets algemeen. Nog erger – elke keer as ʼn vreemde nasie Israel oorwin het, moes die Israeliete aan daardie oorwinnaar belasting betaal. Geen wonder dat ʼn mens ʼn paar keer van belasting in die Bybel lees nie

Afgesien van tempelbelasting was daar ook ander belasting waarvan die Bybel vertel. Mense moes hulle dienste aanbied (2 Samuel 20:24; 1 Konings 5:13; 2 Kronieke 2:2, 17-18), kos gratis gee (1 Konings 4:7) en dan is daar ook tol van handelaars gevra (1 Konings 10:14-29; 2 Kronieke 9:13-28). Soos reeds gesê, kon vreemde oorheersers ook belasting op volke lê waaroor hulle geheers het. Dit was vir die Jode ’n baie sensitiewe saak dat hulle vir die Romeine belasting moes betaal. Daarom probeer hulle Jesus oor die belasting vasvra (Markus 12:13-17). As Hy sou sê dat ʼn mens nie belasting moes betaal nie, sou die Romeine vir Hom vies gewees het en as Hy gesê het dat ʼn mens wel belasting moes betaal, sou die patriotiese Jode nie tevrede gewees het nie.

ʼn Metode wat die Perse ingevoer het en wat goed gevestig geraak het, was dat die koning van ʼn land aan die onderdrukker ʼn som betaal het. Hy het dan die reg gehad om die geld van elke individuele lid van sy koninkryk te verhaal. So ʼn koning was dan die belastingagent. Dit is ook die sisteem waarop die tollenaars later sou werk, maar met een belangrike verskil. Die reg om belasting in te vorder is aan die hoogste tenderaar gegee. Hy het die geld dan vooruit betaal en moes dan deur die loop van die jaar die geld van die gewone mense terugvorder. Dit het natuurlik tot allerhande misbruike aanleiding gegee. Skelm tollenaars en slegte administrateurs van die konings het dikwels meer ingevorder as wat hulle moes. Immers, alles wat hulle ekstra kon kry, was vir hulle wins. Die gevolg was dat hulle die mense uitgebuit het en daarom was die tollenaars ook so ongewild. Uitbuiting het selfs so ver gegaan dat van die konings belastingbetalers gedwing het om hulle grond vir hom te gee of hulle kinders as slawe te verkoop. Nehemia, byvoorbeeld, het hierdie tipe korrupsie teengestaan tot groot vreugde van die volk (Nehemia 5).

Ons kla dikwels oor belasting, maar luister hierna. Die Romeine het baie verskillende soorte belasting gehad, wat dit vir die gewone mense baie moeilik gemaak het. Hulle het verkoopsbelasting gehad op goedere wat verkoop is, hulle het boedelbelasting gehef, asook vervoerbelasting van goedere wat vervoer moes word. In Jerusalem is daar selfs ‘erfbelasting’ (op elke huis) gehef om die muur van die stad te bou.

Kyk wat moes ʼn gewone inwoner van Palestina aan belasting betaal: Die Romeine het ongeveer 19% van die oes gevat as oesbelasting, 1% van die inkoste van ʼn gesin as gesinsbelasting, 5% verkoopsbelasting, 7% geskenke vir die amptenare en ander vorms van belasting wat op 32% uitwerk. Die Jode 8% op oeste, 1% op die families en 3% offer en ander belasting gehef wat op 12% uitwerk. Dan is daar deur wat ons korrupsie sou noem nog 5% deur die belastinggaarders uit die mense gewurg. Dit beteken dat ʼn gewone Jood 49% van sy inkomste aan die belastinggaarder moes afstaan

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt