Die ouderdom van die aarde

Die ouderdom van die aarde – Coen Slabber

Anton vra:

Hoe oud is die aarde? Hoe waar is die “gap-teorie”? Is daar ‘n lang tydperk wat afgespeel het tussen Genesis 1:1 en Genesis 1:2?

Antwoord:

Geskryf deur Coen Slabber na ʼn onderhoud met Dr Louw Alberts

Hoe oud is die aarde?

Daar is mense wat glo dat die aarde tussen 6 000 en 10 000 jaar oud is. Hulle aanvaar die ses dae vermeld in Genesis 1 is ses gewone dae elk 24 uur lank. Daarna is die geslagsregisters in die Ou Testament gebruik om die datum van die skepping te bereken. Hulle glo dat Genesis 1 geskiedkundige inligting aan ons oordra. Maar daar was geen mens teenwoordig wat die gebeure kon neerskryf nie. God was die enigste getuie  wat teenwoordig was en Hy het dit in ‘n openbaring aan Adam of Moses of iemand anders bekend gemaak.

Wetenskaplikes het egter bevind dat daar bewyse is dat die aarde heelwat ouer is – tussen 4,5 en 4,6 biljoen jare oud. Omdat God Hom ook in die natuur openbaar, kan hierdie bevindings nie sommer geïgnoreer word nie. Hierdie siening van ‘n “ou aarde” berus veral op geologiese (insluitend fossiele) en radiometriese data (die gebruik van radio-isotope).

 

Hoe waar is die gapingsteorie?

Baie wetenskaplikes aanvaar die wetenskaplike bevindings sonder om die verband met die Genesis 1 verhaal te probeer verduidelik. Ander wil nie Genesis 1 sommer van die tafel af vee nie. Hulle gee die volgende verduidelikings om die twee sienings (ou en nuwe aarde) te probeer versoen:

(a)    Die dae was nie gewone dae soos ons dit ken nie – hulle was baie langer as 24 uur. Ons dae is slegs beelde van God se skeppingsdae.

(b)   Die raamwerk-interpretasie.  Hiervolgens is die gebruik van die sewe dae ‘n raamwerk om die voltooide skeppingswerk voor te stel. Die dae is dus simbolies. Voorstanders wys op die parallellisme tussen dag 1 tot 3 en dag 4 tot 6: Dag 1 praat van lig en dag vier van ligdraers; dag 2 praat van waters en die hemelkoepel en dag 5 van inwoners van die see en voëls wat vlieg in die hemelruim; dag 3 praat van land en dag ses van landbewoners.

(c)    Die gapingsteorie. Daar is wetenskaplikes wat beweer dat Genesis 1:1 – 2 verwys na ‘n tydperk voor die skeppingsdae. Hierdie lang tydperke waarvan die geoloë praat, kan in die periode tussen verse 1 en 2 ingepas word – dit wil sê voor die ses skeppingsdae. Die ses skeppingsdae  verwys dus nie na die oorspronklike skepping nie, maar na die herstel of herskepping van die aarde.

Hierdie is nie ‘n nuwe twispunt nie. Augustinus het reeds gesê dat dit baie moeilik vir die menslike verstand is om die doel van die skrywer met hierdie ses dae te verstaan. Hy wys daarop dat die eerste drie dae nie gewone dae was nie, want daar was geen son nie. Hy het geglo dat die skepping onmiddellik plaasgevind het, maar oor ses dae geopenbaar is, waarskynlik aan die skrywer van Genesis 1.

Vir my is die primêre boodskap van Genesis 1 dat daar net een Skeppergod is.

 

Outeur: Dr Coen Slabber

 




Het God die wêreld gemaak?

Het God die wêreld gemaak? – Coen Slabber

Stephen Hawking, bekende fisikus, het onlangs verklaar: “the universe can and will create itself from nothing.” Een van die redes vir hierdie stelling is dat daar ʼn wet op swaartekrag is. In die proses kom hy in stryd met Sir Isaac Newton, een van die invloedrykste fisici in die geskiedenis van die mensdom. Newton het natuurlik die wet op swaartekrag geformuleer. Hy het daarteen gewaarsku dat ons nie die heelal as ʼn groot masjien, soos ʼn groot horlosie, mag sien nie.

Sir Isaac Newton het gesê: “Gravity explains the motions of the planets, but it cannot explain who set the planets in motion. God governs all things and knows all that is or can be done … This most beautiful system of the sun, planets, and comets, could only proceed from the counsel and dominion of an intelligent Being.”

Hawking sê egter dat spontane skepping die rede is dat daar iets en nie niks is nie – hoekom die heelal daar is. [Hy maak die stellings in ʼn nuwe boek: The Grand Design, wat binnekort gaan verskyn.] “It is not necessary to invoke God to light the blue touch paper (fuse) and set the universe going.”

Hawking is ʼn deïs; hy glo aan die bestaan van ʼn onpersoonlike god slegs op grond van die rede en die natuur. Hy glo glad nie aan ʼn persoonlike God nie.

Soos te verwagte het Hawking se stellings kommentaar van heelwat Christelike apologete en teoloë ontlok. Ek haal ʼn paar van hierdie sienings aan:

  • “Science provides us with a wonderful narrative as to how [existence] may happen, but theology addresses the meaning of the narrative.” Denis Alexander van die Faraday Institute for Science and Religion op CNN.
  • “Science is about explanation. Religion is about interpretation … Science takes things apart to see how they work. Religion puts things together to see what they mean. They are different intellectual enterprises,”” Hoofrabbi Jonathan Sacks in die Times.
  • “A fundamental flaw in this Hawking idea is that God is no longer personal, and yet we human beings are personal. We have a mind, we have a spirit, and you’re attributing the development of the human mind, the human spirit, the minds for that matter we see in the higher animals, the personalities that we see in all of us from completely impersonal soul-less and spirit-less laws of physics. How can the lesser produce the greater?” Hugh Ross , President en stigter van Reasons to Believe in sy bediening se podcast.

 

Die fisikawette in die natuur is ʼn weerspieëling van God, nie alleen as Skepper van die heelal nie, maar ook as Onderhouer van alles. Omdat slegs uittreksels uit die boek tans beskikbaar is, is dit onmoontlik om op hierdie stadium volledig kommentaar te lewer op Hawking se stellings.

NT Wright het op die BioLogos blog ʼn kort video geplaas oor Genesis  – die impak wat hierdie tekste gehad het op die vroeë Christene. Daarin sê hy onder andere: … the big story which is there is that humans are given their identity as wonderful creatures within a wonderful God-given world.

Die punt wat Genesis wil maak, is nie die ouderdom van die wêreld of die slang wat praat nie. Die punt wat Genesis  wil maak, is dat God die aarde gemaak het en onderhou.

Outeur: Dr Coen Slabber

 




Het jy geweet? Dokters en medisyne

 

Het jy geweet? Dokters en medisyne – Jan van der Watt

 

Wat het die mense destyds gedoen as hulle siek geword het? Om die vraag te beantwoord, moet ons eers uitvind hoe hulle destyds oor siekte gedink het.

 

Daar was gewone siektes

 

Woestynmense het tipiese siektes. Hulle het dikwels dieetsiektes gekry soos ontwatering, maagkwale en beri-beri. Dit is egter baie moeilik om altyd uit die Bybel af te lei wat se tipe siektes daar ter sprake is. Daarmee saam was blindheid algemeen, vanweë die sand wat so kwaai gewaai het. Dit is ook te wagte dat baie ma’s en kinders met geboorte gesterf het. Vroedvroue was egter van die vroegste tye af algemeen. Minder as die helfte van die kinders het volwasse ouderdom bereik.

 

Hoe het hulle oor siekte gedink?

 

Die mense van destyds het anders oor siekte gedink as ons. Hulle het siekte met sonde verbind. Die siekte het dus nie noodwendig ʼn biomediese rede gehad nie, maar ook ʼn godsdienstige rede. Daarom vra Jesus se dissipels in Johannes 9 vir Hom wie gesondig het dat die blinde man inderdaad blind was. Hulle het so geargumenteer: God is ʼn God van lewe. As jy siek word, verloor jy ʼn stukke van jou ‘lewe’, met ander woorde, iets wat God vir jou gegee het. Dit kan nie God wees wat dit weggeneem het nie – dit moet sonde of die bose wees. Daarom is siekte met die betrokkenheid van die bose verbind wat stukkies lewe van jou wegneem. Die rede waarom die bose so aktief in jou lewe kan wees, is jou sonde.

 

Daar kom egter ʼn tweede belangrike dimensie by. Siekte was ook gesien in terme van jou verhouding met jou gemeenskap. As jy deur jou gemeenskap uitgeskuif word (en hulle is natuurlik bang vir die bose wat die siekte in jou werk), is dit ook as ʼn vorm van siekte gesien. Daarom stuur Jesus dikwels die mense wat Hy gesond maak terug na die priester (Matteus 8:4) of na sy huis (Markus 5:19), want dit was ʼn besliste teken van genesing as jy weer deur jou groep opgeneem word.

 

As ons na die beskrywings in die Bybel kyk, lyk dit of daar verskillende ‘dokters’ was: dit lyk of daar gewone dokters was (ons lees onder andere van dokters in Jeremia 8:21-22 en Kolossense 4:14), nie-professionele genesers en wonderwerkers (1 Korintiërs 12:28). Uit die Joodse geskrifte lyk dit of hierdie ‘dokters’ deur die gemeenskap hoog aangeslaan is. Rituele gekombineer met speserye en ander tipes medisyne was standaard praktyk in die behandeling van ʼn persoon. As Jesus dus spoeg en grond meng en op iemand se oë sit of Jesus raak hom aan (Markus 8:23), is dit ʼn rituele aksie waarin daar van die krag van Jesus op die ander persoon oorgaan. Dit is dus merkwaardig dat Jesus soveel mense gesond maak deur doodgewoon te praat. In Israel het hierdie persone as ‘dokters’ opgetree, maar God is as die werklike Geneser gesien (Eksodus 15:26). As Jesus dus genees, is dit ʼn illustrasie van sy nabyheid aan God. Dit lyk ook of doktersfooie nog altyd ʼn probleem was – die koning van Babilonië, Hammurabi, moes al in 1750 vC doktersfooie vasstel!

 

In die Griekse wêreld is siektes ook aan die bonatuurlike verbind en die god Asklepios, die beskermgod van die ‘dokters’, was veral daarmee gemoeid om mense gesond te maak. ʼn Mens kon selfs ʼn aand in sy tempel gaan slaap met die hoop dat jou siekte genees sal word.

 

Die Griek Hippokrates (middel 5e tot middel 4e eeu vC) het egter op goeie waarneming staatgemaak. Hy het gesê dat ʼn mens goed moet kyk wat gebeur en volgens die ondervinding behandeling moet toepas. Hy het dus mediese behandeling van godsdienstige praktyke probeer skei, maar vir die gewone mense was die priesters en gode nog die belangrikste ‘genesers’.

 

Ons sien egter met die verhaal van die Barmhartige Samaritaan dat hy die man wat deur die rowers verwond is, met wyn en olie behandel (Lukas 10:34). Dit is goeie mediese praktyk om die wond te ontsmet en te behandel. Hulle het ook pynstillers geken, want Jesus word so ’n pynstiller (wyn met kruie gemeng) aan die kruis aangebied. Die Egiptenare kon al tande stop (daar is mummies met goue stopsels) en Herodotus vertel dat daar al 500 vC valstande deur die Fenisiërs gemaak is. Brille is deur Nero (middel eerste eeu nC) ‘ontdek’. Hy het waarskynlik met sy oë gesukkel, wat vir hom waarskynlik ʼn ramp was, want hy was ʼn skrywer (onder andere van gedigte). Hy het eendag deur die bodem van ʼn Egiptiese glas gekyk en daar kon hy sien wat hy lees! Natuurlik is die ‘ontdekking’ opgevolg sodat ʼn groot deel van die mense vandag twee glase voor hulle oë dra.

 

As n mens verder na die Joodse wette kyk, is baie van die wette gemik op persoonlike higiëne. Dit het siektes voorkom. ʼn Mens moet dus aanvaar dat behandeling goeie algemene kennis en nugterheid met godsdienste fasette gekombineer het. Daar is egter geen teken dat daar in die Ou-Testamentiese tyd operasies gedoen is nie. Daar is wel krukke gebruik as jy jou been gebreek het.

 

Jesus word nie as ‘dokter’ geskets nie, hoewel Hy mense gesondmaak. Sy genesings is egter eerder tekens van God se direkte krag wat deur Jesus werk. Op die manier kan mense ook sien dat Hy van God af kom en dus inderdaad die Messias en Seun van God is.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Het jy geweet? Gedigte is nie altyd gedigte nie

Het jy geweet? Gedigte is nie altyd gedigte nie – Jan van der Watt

Op skool het ons klomp “rugbyspelers” nooit gedigte ernstig opgeneem nie. Met sarkastiese knipoog onder mekaar en gesnork het ons na gedigte geluister soos “My meisie is ’n nartjie, haar mond soos die van ’n varkie”. Dit staan ver van die harde werklikheid op die rugbyveld. Jy kon eenvoudig nie ernstig wees oor iets soos ’n gedig nie.

In die Nuwe Testament werk dit heeltemal anders. As ’n Griek destyds ’n stuk teks goed gestruktureer het (soos ’n gedig), het dit beteken dat hy iets belangriks wou sê en tyd spandeer het om dit mooi en behoorlik te sê. Dan moes jy mooi kyk en luister.

Lees maar Filippense 2:6-11 of Kolossense 1:15-20 of die liedere in Openbaring byvoorbeeld 4:9-11. In al daardie gevalle kry ons swaar leerstellige dele wat baie kompak en diepsinnig praat. Gedigte in die Nuwe Testament kan en moet ’n mens dus ernstig neem.

Die destydse Grieke was ook daarop ingestel. In hulle teaters is daar dikwels dramas aangebied en die mense het daarheen gestroom. Langs die verhoog was daar altyd ’n plek waar ’n sogenaamde “koor” gestaan het. Elke nou en dan het die koor die toneelstuk onderbreek en ’n soort van ’n gedig (goed gestruktureerde teks) gesing of voorgedra. So het hulle vir die mense vertel waaroor die toneelstuk “eintlik” gaan. Hulle verduidelik dus so aan die gehoor wat die betekenis presies is van alles wat op die verhoog plaasvind.

So werk die gedigte (ook genoem “himnes”) in die Nuwe Testament ook. Dit wil vir ons vertel waaroor alles gaan – lees gerus weer Filippense 2:5-11 of Kolossense 1:15-20.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt