Die Groot Geloofswoordeboek: Godsdiensvryheid

Die Groot Geloofswoordeboek: Godsdiensvryheid

Godsdiensvryheid lê na aan die hart van Protestantse gelowiges. Dink maar net aan die dae van die Kerkhervorming toe die Pro­testantse geloof deur die Katolieke Kerk en sommige regerings in Europa verbied is. Dink net hoe ons voorouers in Frankryk vervolg en gemartel is en veral na Holland gevlug het van waar hulle na die destydse Kaap van Goeie Hoop geëmigreer het. Dit is waar baie van die Franse name, soos De Villiers, Du Toit en Le Roux, vandaan kom. Daarom is die vryheid van geloof en die vryheid van ons gewete baie kosbaar vir Protestante.

Verder is die evangelie meer werd as om op mense afgedwing te word. God wil hê dat ons Hom in vryheid sal liefhê en dien. Trouens, gedwonge liefde is nie die naam liefde werd nie.

En tog is daar ook weer ‘n ander kant van waar ons moet kyk. Terwyl mense die vryheid behoort te hê om die geloof van hul oortuiging te beoefen, gaan dit ons as Christene ten diepste aan watter God hulle dien. As daar net een ware God is, en as die mensdom se heil in sy hande lê, is ons dit om menslikheidsredes aan hulle verskuldig om dit vir hulle te sê.

Trouens, daar is ‘n sin waarin God self juis nie mense vrylaat om ander gode te dien nie, maar hulle dringend oproep om Hom te dien. En ons is sy gesante. Ons glo dat hierdie mense alles mis solank hulle nie vir Jesus ken nie. En ons glo verder ook nog dat hulle Hom nie kies nie juis omdat hulle in ‘n sekere sin nie vry is nie, maar gebonde in hulle eie godsdiens of ongeloof. Eers as die Seun ‘n mens vry gemaak het, is jy werklik vry (Joh 8:36). Ons moet dus alle “ordentlike”, beskaafde druk op mense uitoefen om die regte keuse te maak (*Sending) terwyl ons staatkundige godsdiensvryheid ten volle eerbiedig en onderskryf.

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Goeie werke

Die Groot Geloofswoordeboek: Goeie werke

Die groot vraag is wat die waarde van goeie werke is. Tydens die Kerkhervorming (*Hervorming) was dit ‘n belangrike verskil. Volgens die Kerkhervormers het die Katolieke Kerk geleer dat ‘n mens deur jou goeie werke ‘n bydrae lewer om gered te word. Dit sou dan beteken dat Christus nie regtig aan die kruis ge­noeg gedoen het nie. By ons geloof in Hom moet ons goeie wer­ke ook bykom. Daarteenoor het die Hervormers geleer dat Christus se kruis­dood genoeg was om die *sonde van die hele wêreld te versoen (*Ver­soening) sodat ons net uit genade gered word as ons glo, dit beteken as ons ons vertroue op Christus stel. (*Gere­for­meerd)

Onder die bespreking van Gereformeerd is die vraag gevra of dit ‘n korrekte interpretasie van die Katolieke Kerk se standpunt is. Maar hier gaan dit nou oor ‘n ander vraag: Wat is regtig die belang en die waarde van goeie werke?

Daar is mense wat beweer dat daar ‘n groot verskil is tussen die Ou Testament en die Nuwe, en ander meen weer dat daar eintlik twee verskillende standpunte in die Nuwe Testament is.

 

Ou Testament: Gered deur werke?

Wat die eerste verskil betref, meen hulle dat mense in die Ou Tes­tament gered is deur die wet te hou, dus deur hulle goeie werke, terwyl ons volgens die Nuwe Testament uit genade gered word en nie deur ons goeie werke nie. Dit is egter nie ‘n goeie interpretasie van die Ou Testament nie. Die Here het nie die wet by Sinai vir heidene gegee en hulle beveel dat hulle dit moet hou en só sy volk word nie. Hy het die wet vir sy volk gegee en hulle beveel om daarvolgens te leef. Hulle was dus klaar in ‘n verhouding met Hom, en moes as sy volk sy wet hou. Hulle moes nie deur die wet te hou sy volk word nie.

Natuurlik was daar die waarskuwing dat hulle verplig is om die wet te hou, anders sou sy strawwe hulle tref (Deut 28:15 ev). Maar dit is nie soveel anders as die Nuwe Testament nie waar die gemeente ook verplig is om die wet van die Here te hou. Dink maar net aan die waarskuwings van Paulus in sy briewe waar hy telkens bepaalde gebooie aanhaal om hulle te vermaan oor hoe hulle moet leef (bv Ef 4:25 ev; Kol 3:5 ev). Maar nêrens kry ‘n mens die indruk dat mense die wet moet hou om gered te word nie. Gereddes, die volk van God, moet in gehoorsaamheid aan die Here en uit dankbaarheid die wet hou. Goeie werke was dus in geeneen van die Testamente die manier om die saligheid te verdien nie.

 

Twee standpunte in die Nuwe Testament?

En nou die gedagte dat daar eintlik twee standpunte in die Nuwe Testament is. Jakobus word teenoor Paulus gestel. Paulus het geleer dat ons nie deur ons goeie werke gered word nie, maar net deur in Jesus te glo, terwyl ons by Jakobus lees dat die werke by die geloof moet bykom. Paulus skryf duidelik: “Ons weet dat ‘n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Mo­ses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie” (Gal 2:16).

Maar Jakobus skryf: “dat ‘n mens vrygespreek word op grond van sy dade en nie net op grond van sy geloof nie” (Jak 2:24). Net ‘n paar verse vroeër lees ons oor Abraham: “Jy sien dus dat sy geloof met dade gepaardgegaan het en dat dit eers deur dade volkome geword het.”

Het ons hier twee teenoormekaarstaande standpunte: (1) “Net deur geloof,” (2) “Nie net deur geloof nie, maar deur geloof én werke”?

As ‘n mens noukeurig lees, lyk dit nie regtig so nie. Paulus en Jakobus skryf in twee verskillende situasies waar verskillende pro­bleme aangespreek moes word.

Paulus skryf teen die Judaïste wat wou hê dat die heidene nie net in Jesus moes glo nie, maar ook die wet moes hou deur byvoor­beeld besny te word. Hulle het dus gemeen die geloof in Jesus is nie genoeg nie, die onderhouding van die wet moes bykom.

Jakobus skryf in heeltemal ‘n ander situasie. Daar is mense wat sê hulle glo, maar hulle lewe wys niks daarvan nie. Jakobus sê dat so ‘n geloof dood is en ‘n mens nie kan red nie. Die geloof moet goeie werke voortbring om te wys die geloof is lewendig en eg.

Paulus skryf teen mense wat meen die geloof is nie genoeg nie, maar Jakobus teen mense wat meen die geloof hoef nie iets te verander in ons lewe nie. As Paulus van “geloof” praat, bedoel hy die soort geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan (Gal 5:6), maar Ja­kobus veroordeel dié soort geloof wat niks doen nie, wat glad nie ‘n mens se lewe verander nie. Daarom verwys hy ook na die duiwels: hulle “glo” ook, maar dit het geen invloed op hul lewe nie. Dit is dus onnodig om ‘n spanning tussen Jakobus en Paulus te probeer skep. Goeie werke dra nie by tot ons redding nie, maar dit wys dat ons geloof eg is.

‘n Mens kan in dié verband onthou dat dieselfde *Calvyn wat gesê het dat ons nie deur goeie werke gered word nie, ook gesê het dat ons ook nie sonder goeie werke gered word nie.

 

Wetswerke en geloofswerke

‘n Mens kan hierdie saak nog beter verstaan as jy ‘n ander on­derskeid in ag neem. Daar is ‘n verskil tussen wetswerke en ge­loofswerke. As mense die wet hou om daardeur gered te word, noem ons dit wetswerke. Maar as ons uit dankbaarheid vir ons verlossing goeie werke doen, is dit werke wat ons in die geloof doen, en dus geloofswerke. Dit kan oor presies dieselfde dade gaan, maar die motief is totaal verskillend. En dit beteken dat die waarde van die werke ook heeltemal verskil.

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Godsdiensgelykheid

Die Groot Geloofswoordeboek: Godsdiensgelykheid

Godsdiensgelykheid

Godsdiensgelykheid is nie so ‘n maklike saak nie. Dit lê heelte­mal op ‘n ander vlak as *godsdiensvryheid. Om te verstaan wat godsdiensgelykheid beteken, is dit goed om te onderskei tussen die rol van die staat en dié van die godsdiens self.

Die staat en godsdiensgelykheid

Die staat moet alle godsdienste gelyk behandel. Die staat werk met belastingbetalers se geld en mag nie uit sy bronne se­kere gods­dienste bevoordeel nie. Verder is dit onwaardig vir die Chris­telike godsdiens, en trouens vir enige godsdiens, om op staatshulp te steun. Dit het die Christelike godsdiens in die verlede duur gekos om van owerhede afhanklik te wees om sy waardes te beskerm. Dink maar aan die negatiewe invloed wat wette soos die Sabbatswette op ons sendingwerk gehad het. Watter gevoel van veronregting en antagonisme het dit gewek by mense van ander godsdienste dat net die besondere dae en gebruike van die Christelike godsdiens beskerm is. En die Chris­telike godsdiens het nie hierdie “hulp” nodig nie, want ons ver­trou op die krag van die Heilige Gees om mense te oortuig van die waarheid van die evangelie. Om op enige ander steun te reken maak Christene lam.

Die staat behoort dus alle godsdienste gelyk te behandel ter wille van die feit dat hulle met mense van alle godsdienste se geld werk en uit eerbied vir die godsdienste self.

‘n Christelike kyk op godsdiensgelykheid

Van die kant van die godsdienste bekyk, lyk die prentjie baie anders. Die Christelike godsdiens kan nooit aanvaar dat alle gods­dienste gelyke waarde het nie. Christene glo dat Jesus Chris­tus uniek is en dat hulle alle mense moet uitnooi om Hom as *Verlosser te aanvaar. Die Christelike godsdiens staan nie hier­in alleen nie. Die Judaïsme en die Islam is ook oortuig dat hulle godsdiens uniek is. Die lande waar die Mos­lems in die meer­derheid is, is selfs militant en beveg ander godsdienste met staats­gesag. Daar is wel godsdienste wat meer akkommoderend is. Hindoes sal maklik nog ‘n god aanvaar saam met al die ander wat hulle aanbid. Maar dit is veral die godsdienste wat net een God aanbid wat nie ruimte het vir goddelike mededingers nie.

Sending en hoogmoed

Daar is soms die beskuldiging dat hierdie godsdienste on­ver­draagsaam en hooghartig is asof hulle beter is as ander en al die waarheid in pag het. En daar is min twyfel dat sommige Christene in elk geval so ‘n houding het, en dat ons veral in die ver­lede soms sendingwerk gedoen het vanuit ‘n posisie van meer­derwaardig­heid. Die feit dat talle sendelinge nooit eers die taal aangeleer het van die mense onder wie hulle gewerk het nie, om niks te sê van hulle geskiedenis en die sosiale gebruike nie, spreek boekdele. Verder ook nog die feit dat daar in die byeenkomste van baie sen­dingkerke omtrent geen elemente van die Afrikakultuur, soos trom­me en danse, opgeneem is nie.

Maar intussen moet ons ‘n misverstand uit die weg ruim. Die blote feit dat ons alle mense uitnooi om Jesus as Verlosser te kies (*Sending) hoef nie ‘n teken van meerderwaardigheid te wees nie. Dit kan trouens juis ‘n teken van nederigheid wees. Dat Jesus die Verlosser van die wêreld is, het ons nie uitgedink nie. Dit is ‘n boodskap wat ons ontvang het. Dit kom van die mense wat na aan Hom gestaan het; trouens, van Homself af. As ons Hom erken as ons Heer, as ons regmatige eienaar, is dit volkome gepas om wat ons van Hom ontvang het, so duidelik, onveranderd en dringend moontlik deur te gee. In beginsel is sendingwerk die werk van gehoorsame diensknegte, nie van mense wat oor ander wil heers nie.

Christene kan dus nooit aanvaar dat alle godsdienste gelyk is in die sin dat hulle ewe veel waarde het nie. Dat daar waardevolle elemente en perspektiewe in ander godsdienste is, staan buite diskussie. Maar die waarheid as sodanig is volgens ons oortuiging beliggaam in die Waarheid, Jesus van Nasaret.

Dit beteken ook dat ons nie aan openbare godsdiensoefe­ninge behoort deel te neem waar meer as een godsdiens betrokke is nie. As Jesus die Verlosser van die wêreld is, kan ek nie saam met ‘n Moslem sy God aanbid nie. Dit is uit respek vir hom of haar, én vir Jesus, dat ek dan liewer tuis bid of in ‘n Christelike byeenkoms. En om dieselfde rede behoort openbare byeenkomste waar mense van verskillende godsdienste betrokke is, nie met Skriflesing en gebed geopen of afgesluit te word nie. Dit is ‘n verleentheid vir die nie-Christene wat nie vir die godsdiensoefening gekom het nie, maar vir die openbare geleentheid, soos die opening van die parlement of ‘n gradeplegtigheid.

Maar natuurlik moet ons hierdie mense dringend uitnooi na ons godsdienstige byeenkomste. As hulle kom, weet hulle hulle is daar vir ‘n Christelike godsdienstige byeenkoms. Dit was dan hulle keuse.

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Ewige lewe

Ewige lewe – Adrio König

(*Onsterflikheid)

Die begrip “die ewige lewe” kom net ’n paar keer in die *Sinop­tiese Evangelies voor (net vier keer in Matteus) maar 28 keer in die Evangelie en die Briewe van Johannes. Verder kom dit in die Sinoptiese Evangelies voor as ’n toekomstige erfenis, terwyl dit by Johannes ’n teenwoordige werklikheid is: “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe” (Joh 3:36). Dit beteken dat ’n mens deur jou vertroue op Jesus hier en nou alreeds regtig in die verlossing kan deel. Jesus kan aan sy kinders die ewige lewe beloof omdat Hy deur sy *opstanding die *dood oorwin het, die groot bedreiging vir die gelowiges van die Ou Testament.

Die ewige lewe is dus ons aandeel in die lewe van die ver­heerlik­te Jesus. Ons word deur die *geloof en die *doop in Hom ingelyf en deel daarom in sy lewe by die Vader. Paulus kan dit ook anders uit­druk as hy skryf dat ons alreeds saam met Chris­tus ’n plek in die hemel het (Ef 2:6) en saam met Hom sal kom by sy wederkoms (Kol 3:4). Dit is ’n baie realistiese siening van ons huidige vereniging met Hom waaroor Paulus ook elders wonderlike dinge geskryf het: “Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat le­we nie, maar Christus wat in my lewe” (Gal 2:19-20).

Oor die betekenis van “ewige” in “ewige lewe” kan *ewigheid ge­raadpleeg word.

Oor die toekomstige ewige lewe in die hemelse heerlikheid by die Vader op die *nuwe aarde kry ons nie veel besonderhede in die Bybel nie, en die meeste wat ons wel kry, is in apokaliptiese (bonatuurlike) taal (*Apokaliptiek) wat ons ons moeilik konkreet kan voorstel. Maar ons kry tog ’n paar pragtige beelde hieroor. Ons lees van ’n stad (’n beeld van luuksheid en veiligheid) met poor­te wat nooit gesluit sal word nie (die toppunt van veiligheid), van die nasies wat hul skatte en rykdom daar sal inbring, van ’n rivier en ’n vrugteboom wat elke maand vrugte dra, en dan die merkwaardige woorde: “en sy diensknegte sal Hom dien” (Op 22:3, 1953-vertaling).

Met die eerste oogopslag lyk dit na ’n toutologie. Immers, dis seker waarvoor diensknegte daar is: om te dien. Maar as ons na ons eie lewe as gelowiges kyk, weet ons die ironie is dat sy dienskneg­-
te – ons – Hom maar baie oppervlakkig dien, as ons ooit reg­tig so ver kom om Hom te dien in ons baie godsdienstige bedry­wighede en nie na alles maar eintlik onsself nie! Dan word dit ’n heerlike voor­uitsig: daar gaan tog ’n tyd kom wanneer Hy in ons lewe tot sy reg sal kom deurdat ons lewe volkome op Hom gerig sal wees. Dan sal die mees basiese waarheid regtig waar wees: “Sy diensknegte sal Hom dien!”

Woorde gemerk met ʼn * word elders ook bespreek

 

Skrywer: Prof Adrio König