Die Groot Geloofswoordeboek: Gnostiek

Gnostiek – Adrio König

[Hierdie gedeelte moet saam met die Evangelie van Tomas geskryf word.]

Dit beteken die Evangelie is so geskryf dat ’n mens dit nie moet verstaan nie. Die veronderstelling is dat ’n mens van elders insig of inligting moet kry om dit te begryp. Dit beteken moontlik dat die skrywer ’n groep ingewydes om hom versamel het en dat ’n buitestander deel van die groep moes word om hierdie verborge kennis te kry. Dit is bekend dat daar in hierdie vroeë eeue ’n beweging was wat as die Gnostiek bekend gestaan het en wat beweer het dat net hulle oor die geheime kennis beskik wat mense weer met die Godheid in aanraking kon bring. Hulle het onder andere op die Christelike godsdiens geteer. Sommige navorsers meen dat ons hier met so ’n Gnostiese geskrif te doen het. Die inhoud is dus doelbewus onverstaanbaar omdat die lesers oorreed moet word om deel van die groep te word om die verborge kennis te kry.

Samevatting

As ’n mens die geheelprentjie wat uit die Evangelie van Tomas oor Jesus na vore kom, vergelyk met die ryk verskeidenheid per­spek­tiewe wat ons oor Jesus in die Bybel kry, is die kontras op­val­lend. Geen dade, geen geskiedenis, geen verduidelikings, geen ti­tels, geen geboorte, dood of opstanding van Jesus nie. Net 114 uit­sprake wat nie in konteks geplaas word nie. ’n Arm, kaal prentjie. Dit is dus duidelik ’n geskrif wat sterk selektief te werk gegaan het. Die skrywer wou ’n bepaalde faset van die optrede van Jesus uitlig, waarskynlik sy wysheidspreuke. Dit beteken egter ’n eensydige, lewelose prentjie, iemand wat dinge sê wat gewone mense moeilik kon verstaan.

Dit is dus nie vreemd dat die vroeë Christene nooit oorweeg het om hierdie “Evangelie” in die Bybel op te neem nie.

Woorde gemerk met ʼn * word elders ook bespreek.

 

Skrywer: Prof Adrio König




Geld in die Bybel

Geld in die Bybel – Kobus Kok

Hester Oosthuizen vra:

Hoeveel keer word daar in die Bybel verwys na geld? 2. Is geld die konsep waarna daar die tweede meeste in die Bybel verwys word? 3. Indien wel, na watter konsep word daar die meeste verwys?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Die woord “geld” kom ongeveer 140 maal in die Bybel voor:

Gen_17:12; Gen_17:13; Gen_17:23; Gen_17:27; Gen_23:9; Gen_23:13; Gen_23:16; Gen_31:15; Gen_33:19; Gen_42:25; Gen_42:27; Gen_42:28; Gen_42:35; Gen_43:12; Gen_43:15; Gen_43:18; Gen_43:21; Gen_43:22; Gen_43:23; Gen_44:1; Gen_44:2; Gen_44:8; Gen_47:14; Gen_47:15; Gen_47:16; Gen_47:18; Exo_12:44; Exo_21:11; Exo_21:21; Exo_21:30; Exo_21:34; Exo_21:35; Exo_22:7; Exo_22:17; Exo_22:25; Exo_30:16; Lev_22:11; Lev_25:37; Lev_25:51; Lev_27:15; Lev_27:18; Lev_27:19; Num_3:48; Num_3:49; Num_3:50; Num_3:51; Num_18:16; Deu_2:6; Deu_2:28; Deu_14:25; Deu_14:26; Deu_21:14; Deu_23:19; Jdg_5:19; Jdg_16:18; Jdg_17:4; 1Ki_21:2; 1Ki_21:6; 1Ki_21:15; 2Ki_5:26; 2Ki_12:4; 2Ki_12:7; 2Ki_12:8; 2Ki_12:9; 2Ki_12:10; 2Ki_12:11; 2Ki_12:13; 2Ki_12:15; 2Ki_12:16; 2Ki_15:20; 2Ki_22:7; 2Ki_22:9; 2Ki_23:35; 2Ch_24:5; 2Ch_24:11; 2Ch_24:14; 2Ch_34:9; 2Ch_34:14; 2Ch_34:17; Ezr_3:7; Ezr_7:17; Neh_5:4; Neh_5:10; Neh_5:11; Est_4:7; Job_31:39; Job_42:11; Psa_15:5; Pro_7:20; Ecc_7:12; Ecc_10:19; Isa_43:24; Isa_52:3; Isa_55:1; Isa_55:2; Jer_32:9; Jer_32:10; Jer_32:25; Jer_32:44; Lam_5:4; Mic_3:11; Mat_17:24; Mat_17:27; Mat_22:19; Mat_25:18; Mat_25:27; Mat_28:12; Mat_28:15; Mar_6:8; Mar_12:41; Mar_14:11; Luk_9:3; Luk_19:15; Luk_19:23; Luk_22:5; Joh_2:14; Joh_2:15; Act_4:37; Act_7:16; Act_8:18; Act_8:20; Act_24:26; 1Ti_6:10;

Lees gerus die kontekste waarin die tekste voorkom. U moet ook in gedagte hou dat geld soos ons dit vandag ken nie dieselfde in die verskillende fases in die antieke tyd was nie. In die vroeë geskiedenis van die Ou Testament was ruilhandel die toepaslike wyse waarop ekonomiese transaksies in daardie historiese konteks plaasgevind het. Wanneer ons derhalwe verwysings na die woord “geld” op sommige plekke vind, mag dit bloot verwys na items wat geruil word vir mekaar, soos byvoorbeeld wanneer ʼn slaaf verruil word vir ʼn paar kamele. So vroeg as Genesis 42, sien ons dat daar wel van geld sprake is, wat in sakke geplaas kon word. Die verhaal verwys na die geld wat Josef in sy broers se reissakke laat plaas het. In die NT lees ons in Markus 12:41 die verhaal van Jesus wat reg voor die offergawekis in die tempel gaan sit en gekyk het hoe die skare geld in die tempel se skatkis gooi. So gebeur dit die dag dat baie rykes verby gekom het en baie geldstukke in die skatkis gegooi het. Die Griekse woordjie wat vir die geldstukke gebruik word is die woord galkos , wat ‘n koper muntstuk was. Daar kom toe  ʼn arm weduwee en gooi twee geldstukkies in. In die Grieks lees ons dat sy twee leptons ingegooi het. ʼn Lepton was ʼn klein, dun ligte koper muntjie wat ongeveer 1/128ste van ʼn gewone dagloon van ʼn arbeider was. Toe roep Jesus sy dissipels na Hom toe en sê vir hulle: Voorwaar, Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis geld gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud. Weduwees was die armste van die armstes in die antieke tyd. In kort, hierdie vrou se hart was op die regte plek. Hierdie arm, ou weduwee voldoen aan die eise vir ware dissipelskap.

Teenoor die ongeveer 140 keer wat die woord “geld” in die Bybel voorkom, kom die woord “God”, indien ʼn gewone konkordansie soektog gedoen word, nie minder nie as 4080 maal in die Afrikaanse Ou Vertaling voor in 3549 verse! Dan wonder ons soms waaroor alles gaan – geld wat vergaan, of God wat vir ewig sal bestaan!

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Evangelie van Tomas

Die Evangelie van Tomas – Adrio König

Die Evangelie van Tomas is ‘n apokriewe Evangelie (*Apokriewe Boeke), een van ‘n hele aantal vroeë geskrifte wat nie in die Bybel opgeneem is nie. Hierdie Evangelie is in 1945 in Egipte ontdek in die beroem­de Nag Hammadi-fonds toe ‘n hele aantal baie ou geskrifte in ‘n kleipot gekry is.

Die Evangelie van Tomas bestaan uit 114 uitsprake van Jesus. Dit is nie in verhaalvorm soos die Evangelies in die Bybel nie. Daar is dus geen geskiedenis of dade van Jesus nie, en omtrent geen besonderhede oor waar wat gebeur of gesê word nie. Die meeste van die uitsprake word ingelui met die eenvoudige woorde: “Jesus het gesê.” Daar word ook omtrent geen titels vir Jesus gebruik soos “Here” of “Seun van die mens” nie.

Die meeste van die uitsprake is in die vorm van wysheidspreu­ke. Die indruk word dus gewek dat Jesus ‘n wysheidsleraar was wat rondgeloop het en dinge gesê het om die omstanders te laat dink. So iets was in die tyd van Jesus nie onbekend nie.

Die 114 uitsprake van Jesus word deurmekaar weergegee. Daar is nie struktuur in die geskrif, byvoorbeeld versame­lings van uitsprake rondom ‘n tema soos die Bergrede (Matt 5-8) of die pro­fetiese rede van Jesus (Matt 24, 25) nie. Daarom is dit baie moei­lik om enige verband tussen opeenvolgende uitsprake te kry. Daar ontwikkel ook omtrent nooit ‘n gesprek tussen Jesus en sy vol­ge­linge nie, sodat ‘n mens nie gedagte-ontwikkeling kry nie. Dit alles is natuurlik heeltemal anders as in die Evangelies in die Bybel waar die optrede en die uitsprake van Jesus in bepaal­de situasies aan­gebied word sodat ‘n mens uit die konteks sekere insigte kan kry. Die Tomas-evangelie het geen “lewe” nie. Dis ‘n dooie, starre do­kument.

Dit is goed moontlik dat dit ‘n doelbewuste versameling van uit­sprake van Jesus was waaraan nog later byvoegings gemaak moes word. Daar is ander sulke versamelings bekend.

Die Evangelie van Tomas is moeilik verstaanbaar. Daar is baie uitsprake waaruit ‘n mens nie maklik sin maak nie. Op sigself hoef dit nie vreemd te wees nie. Dit is ‘n eeue oue geskrif uit ‘n vreem­de kultuur. Maar hierdie onverstaanbaarheid kan doel­bewus wees. Die Evangelie begin en eindig met opvallende uitsprake. Aan die begin lees ons dat dit “verborge” uitsprake van Jesus is, en dadelik word vervolg: “Wie die betekenis van hierdie uitsprake ontdek, sal nie die dood smaak nie.” En aan die einde (108) sê Jesus self: “Die verborge dinge sal geopenbaar word aan die persoon wat uit my mond drink.”

Woorde gemerk met ʼn * word elders ook bespreek

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Evangelie

Evangelie – Adrio König

Die woord “evangelie” word gewoonlik in twee verskillende be­tekenisse gebruik. Ons gebruik dit om die hart van die boodskap van die Bybel aan te dui, maar ook vir die vier Evangelies in die Nuwe Testament. Kom ons kyk eers na die evangelie as die hart van die Bybelse boodskap.

“Evangelie” is afgelei van ‘n Griekse woord wat iets soos “goeie nuus” be­teken. Wanneer ons die *boodskap van die Bybel “die evan­gelie” noem, bedoel ons dat dit goeie nuus is omdat dit die ver­haal vertel van God se reddende geskiedenis met mense. Ons praat ook van die heilsgeskiedenis. God maak ‘n geskiedenis van heil wat oor eeue strek, eers direk met die mensdom (Gen 1-11), dan deur Israel met die mensdom (Gen 12-Mal), en dan deur Jesus met die mensdom, Israel ingesluit (die Nuwe Testament). Dit is ‘n geskiedenis waarin God voortdurend die inisiatief neem, voort­durend teleurstellings kry, maar nogtans telkens weer met nuwe inisiatiewe na vore kom. (*Verbond) Uit sy eeue lange geskiedenis met Israel straal sy geduld en sy trou.

Die klimaks is die koms van Jesus Christus. Hy verteenwoor­dig God op ‘n unieke manier. Hy kom herstel God se heerskappy (*koninkryk) nadat die *bose magte die wêreld oorgeneem het. Hy dryf die bose geeste uit die mense en die natuur uit, en gee Homself uiteindelik as die *offer wat die mensdom met God ver­soen. (*Versoening) Dan staan Hy op uit die dood en oorwin só die mensdom se aartsvyand, die *dood, sodat ons deur Hom die *ewi­ge lewe beërf.

Hy roep ons op om in Hom te glo en ons lewe aan Hom toe te wy. Hy versamel sy kinders as ‘n groot familie om Hom wat on­der sy genadige hand leef en Hom verheerlik. Hulle dra sy gena­deboodskap deur die krag van die Gees met woord en daad die wêreld in (*Sending) om in sy Naam die nood van mense te verlig en alle mense uit te nooi om Jesus as *Verlosser te kies, en hulle wag gespanne op sy koms om die stukkende wêreld heel te maak.

Dit is een van baie maniere waarop ‘n mens die *boodskap van die Bybel kortliks kan opsom.

 

Die vier Evangelies

Die tweede betekenis van “evangelie” verwys na die vier Evan­gelies in die Nuwe Testament. Dit is nie vreemd dat hulle “Evangelies” genoem word nie, want hulle het alles te doen met die hart van die boodskap van die Bybel. Hulle verkondig die boodskap van die aardse optrede van Jesus, wat uitloop op sy kruis en opstanding. Hierdie vier boeke vorm ‘n unieke literatuur­soort. Daar is geen ander literatuur wat dieselfde karakter het nie. Hulle is nie bio­gra­fieë nie. Hulle gee byvoorbeeld geen aandag aan die kleiner besonderhede oor die lewe van Jesus wat eie is aan biografieë nie, soos Jesus se voorkoms, sy geaardheid, sy voor- en afkeure, sy eetgewoontes. Hulle is deur en deur gefokus op die verkondiging van die heilsbetekenis van Jesus en word daarom tereg “Evangelies” genoem: goeie nuus.

Ons onderskei tussen die eerste drie Evangelies, wat ons die *Sinoptiese Evangelies noem, en die Evangelie van Johannes, wat die verhaal oor Jesus anders as die eerste drie vertel en waarskynlik ook lank na hulle geskryf is. Terwyl die Sinoptiese Evangelies ongeveer in die middel van die sestigerjare van die eerste eeu ge­skryf is, kan Johannes so laat as die einde van die eerste eeu wees. Johannes word onder andere gekenmerk deur die lang gesprek­ke tussen Jesus en die godsdienstige leiers, en dit is moontlik dat dit juis in ‘n tyd geskryf is toe daar al groot verwydering tussen die kerk en die sinagoge gekom het.

Woorde gemerk met ʼn * word elders ook bespreek

 

Outeur: Prof Adrio König