Die Groot Geloofswoordeboek: Pinkster- en Charismatiese Kerke

Die Groot Geloofswoordeboek: Pinkster- en Charismatiese Kerke

Four Square Gospel • Apostoliese Geloofsending Kerk • Volle Evangelie Kerk (*Pinkster- en Charismatiese kerke)

Die Four Square Gospel word ook die Vierkant-evangelie ge­noem. Dit is die siening van die viervoudige amp van Jesus as die Ver­losser, die Geneser, die Doper met die Gees en die komende Koning. Alhoewel daar dikwels gesê word dat dit in “Pinkster”, dus die Pinksterkerke (waarvan die grootste in Suid-Afrika die Apostoliese Geloofsending, die Volle Evangelie Kerk van God, en die Assemblies of God is) hoofsaaklik en selfs eensydig om die Heilige Gees gaan, het navorsing aangetoon dat hulle boodskap in werklikheid op Jesus konsentreer, en dan juis op die vier aspekte van sy bediening wat in die Four Square Gospel saamgevat word.

Jesus as Verlosser is ‘n belydenis wat “Pinkster” deel met die hele Christelike kerk. Dit is miskien selfs die algemeenste be­ly­denis van Christene. Dit gaan gewoonlik oor die verlossing van sonde, maar dit word soms beperk tot die vergifnis van sonde; sonder om die verlossing van die mag van die sonde in te sluit. By Paulus en Johannes is verlossing van die mag van sonde minstens net so belangrik as vergifnis van sonde. Dink maar aan Johannes 8:34-36 en Romeine 6.

Jesus as Geneser is nie so ‘n algemene belydenis nie. Die *won­­derwerke van Jesus word in die meeste kerklike tradisies óf ver­waarloos, óf vergeestelik. Selfs in kerke waar dit wel aandag kry as egte fisieke wonderwerke is dit opvallend dat daar min opsien­barende wonderwerke gebeur. Egte wonderwerke soos dié van Jesus is dun gesaai. Dit is ontstellend omdat Je­sus se wonderwerke direk verband gehou het met die hart van sy boodskap: die koms van die koninkryk. As Hy die soveelste maal ‘n bose gees uit ‘n man uitdryf, verklaar Hy: “Die koninkryk van God het inderdaad tot by julle gekom” (Matt 12:28). (*Duiwel)

Die Pinkster- en Charismatiese tradisies maak baie van won­dergenesing (*Goddelike genesing), maar dit is nie seker dat daar altyd regtig soveel daarvan in die praktyk tot sy reg kom nie.

Jesus as Doper met die Heilige Gees is tipies Pinkster en Cha­ris­ma­ties. Die doop met die Gees is saam met die beklemtoning van die gawes van die Gees, en spesifiek die spreek in tale, ‘n paar van die mees kenmerkende beklemtonings in hierdie tradisies van die Christendom. Hulle maak aanspraak op ‘n besondere ervaring wat elke gelowige met die Gees moet hê. Dit word die doop met die Gees genoem. In die Heiligheidsbeweging word van “die *vervulling met die Gees” gepraat en dit lei tot oorwin­ning oor sonde. In die Pinkstertradisie word van “die *doop met die Gees” gepraat en dit lei tot krag vir getuienis. Daar is mense wat oortuig is dat dit twee verskillende ervarings is.

Jesus as komende Koning is weer een van die algemene be­­ly­­de­nisse van Christene. Dit verwys na die wederkoms van Christus. Die feit dat Hy in hierdie verband Koning genoem word, het besondere betekenis. Tydens sy aardse optrede was Jesus die ver­nederde *Dienaar. Sy Messiaanse heerlikheid is heelte­mal bedek deur sy vernedering en sy selflose diens om te soek en te red wat verlore is. Eers by sy wederkoms sal die profesieë in die Ou Testament vervul word oor die *Messias wat die konink­like heerlikheid van Dawid kom herstel. (*Wederkoms)

In die Pinkster- en Charismatiese tradisies skuil daar egter meer agter die begrip “Koning”. Baie van hierdie Christene is sterk oor­tuig dat daar ‘n *Duisendjarige Vrederyk moet kom wanneer Chris­tus letterlik op die troon van Dawid in Jerusalem sal sit en as Koning oor die hele wêreld regeer.

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Gelykenis

Die Groot Geloofswoordeboek: Gelykenis

‘n Gelykenis is ‘n verhaal uit die gewone lewe om ‘n geestelike of morele waarheid oor te dra. Jesus het baie gelykenisse vertel, maar daar is ook gelykenisse in die Ou Testament (Rig 9:8 ev; Jes 5:1-2). Dit is nie aanvaarbaar om aan elke klein besonderheid in ‘n gelykenis ‘n spesifieke betekenis te gee nie, al is dit ‘n baie ou gebruik. In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan lees ons dat hy vir die herberg-eienaar twee geldstukke gee om die geslaande Jood nog verder op te pas. Een ou kerkvader het gesê die twee geldstukke verwys na die doop en die nagmaal wat ons nodig het om van ons geestelike siekte te herstel. Dit klink dikwels baie vroom, maar dit is nie wat Jesus oorspronklik bedoel het nie. Hy het eintlik niks be­sonders met die twee geldstukke bedoel nie.

‘n Gelykenis het gewoonlik net een sentrale betekenis. Die ge­lykenis van die tien jong meisies (Matt 25:1-13) beteken dat ons al­tyd gereed moet wees omdat die Here onverwags weer sal kom. Die gelykenis van die bruilof (Matt 22:1-14) is ‘n waarskuwing aan die Joodse leiers om Jesus aan te neem of toe te kyk hoe hulle uit die koninkryk uitgesluit word terwyl die evangelie na die heidene gaan. Lukas se weergawe (14:15-24) beklemtoon dat hulle redes om Je­sus nie aan te neem nie, nie aanvaarbaar is nie. ‘n Ou Bybelvertaling het Lukas se weergawe “die gelykenis van die verskonings” genoem.

‘n Mens kry dikwels die sleutel tot die betekenis van ‘n ge­ly­ke­nis in die sinnetjie direk voor en/of na die gelykenis. Kyk na die in­leidende sinne tot die drie gelykenisse oor die verlore dinge (Luk 15:1-2). Die gelykenisse handel oor die blydskap as iets of iemand wat verlore was, weer gekry word. En dit eindig dan met die oudste seun wat nie bly is nie. Maar die betekenis kom duidelik uit in die inleidende sinne waar ons lees dat die tollenaars en sondaars (die verlorenes) na Jesus kom luister het, maar die Fariseërs (die oudste seun wat nooit weggeloop het nie) aanstoot geneem het. Daarom word daar ook aan die einde niks gesê oor die vraag of die oudste seun toe na sy pa geluister het nie. Dis juis die appèl aan die Fariseërs wat nog nie gereageer het en Jesus aanvaar het nie.

Die betekenis van die gelykenis van die boere en die wingerd kom duidelik uit in Jesus se waarskuwing direk aan die ein­de (Matt 21:43): die wingerd wat aan ander boere verhuur sal word, is die koninkryk wat na die heidene gaan, en die mense wat doodgemaak word, is die leiers van Israel wat deur die Here gestraf gaan word (Matt 21:41 ev).

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Gebed

Die Groot Geloofswoordeboek: Gebed

Gebed is deel van ons antwoord aan God. Gebed kan baie vor­me aanneem. ‘n Mens kan hardop of sag bid, lank bid of ‘n “skiet­gebed opstuur”. Daar is meer formele gebede in eredien­s­te, en persoonlike gebede. Soms hoor ‘n mens van gebedsreise. Ge­meen­tes organiseer ook geleenthede van “deurnaggebed” in buiten­gewone omstandighede.

Dit is goed om spesifieke gebedstye te hê, maar ook ingestel te wees op geleenthede om spontaan na die Here te gaan met lof, dank of nood.

Tafelgebede is ‘n besondere geleentheid om ons lewe deur die dag weer ‘n oomblik voor God oop te maak. Dit is sleg om altyd dieselfde “rympiegebed” te bid waaruit daar min persoonlike oor­gawe en betrokkenheid spreek, of om altyd net saaklik vir die kos dankie te sê. Ons lewe bestaan uit baie meer as eet. Dit is ook goed om die verskillende gesinslede die kans te gee om die tafelgebed te doen.

Gebed kan ook uit verskillende elemente bestaan: lofprysing, aan­bidding, danksegging, voorbidding. In vernuwingsgemeen­tes is dikwels ‘n gebedsbediening wat aan die gemeente leiding gee oor wat om te bid.

Sang is ‘n besondere vorm van gebed waarin die gemeente saam kan bid. Die sang word soms in vernuwingsgemeentes aan­ge­bied in die vorm van lofprysing, aanbidding, verootmoediging en ook ander elemente.

Gebed is nie bedoel om die Here in te lig oor sekere dinge wat ons na aan die hart lê nie. Iets van die ouer-kind-verhouding moet eerder in ons gebede deurskemer, van die grootheid van God en ons afhanklikheid van Hom.

In verskillende kerklike tradisies word ook verskillend ge­bid. Die hoogkerklike tradisie ken voorgeskrewe gebede wat afgelees word. Die historiese kerke bid taamlik formeel in lang, goed ge­formuleerde sinne en met min stembuiging. In die *Evangeliese tradisie word meestal met baie meer emosie gebid, in korter sin­ne, soms selfs onvoltooide sinne soos smekende uitroepe. In die *Pinkster- en Charismatiese kerke is daar dikwels baie instemming van die kant van die gemeente. Woorde soos “*amen” en “*halleluja” kan reëlmatig gehoor word.

Jesus het nie lang gebede aangemoedig nie. Hy was nogal kri­ties daaroor. Die gebed wat Hy aan sy dissipels gee, is kort en saak­lik, maar dit het ‘n baie ryk inhoud (Matt 6:5-15). Die struktuur van hierdie gebed is belangrik. Dit begin by die eer van God, en eers dan is dit ons behoeftes.

 

Die Onse Vadergebed

Ons Vader” herinner ons daaraan dat ons ‘n groot familie is en nooit mag maak asof net onsself of ons klein groepie vir Hom be­langrik is nie. Ons kan so maklik selfsugtig in ons gebede word, en ons ís dit as die groot Christelike familie nie in ons gebede ter sprake kom nie.

“Laat u Naam geheilig word” het te doen met die eer van God en die heiligheid van ons lewe. Sy Naam moet deur sy kinders se woorde en dade geëer word. Ons lewe moet Hom aan die ongelowiges “verkoop”.

“Laat u koninkryk kom” is die gebed dat die kerk moet groei deur die ongelowiges wat tot geloof kom, en dat ons lewe en samelewing al meer volgens sy wil ingerig moet word.

“Laat u wil ook op die aarde geskied net soos in die hemel” is die gebed dat God se wil voorrang moet hê bo ons wil. Die klassie­ke voor­beeld daarvan is Jesus se gebed in Getsemane: “Nie my wil nie, maar u wil.” Daar is mense wat dit bid wanneer hulle in nood tot die Here roep, byvoorbeeld vir genesing. Daar is ander wat meen dit is ‘n agterdeur wat ons in ongeloof ooplaat as die sieke nie gesond word nie. Die voorbeeld van die hemel is aangrypend omdat dit vir ons die simbool is van volkome gehoorsaamheid aan God. Daar is ouers wat die opvoedingsbeleid het van “Eerste keer gehoorsaam”. Kinders moet op die ouers se eerste bevel reageer. Dit is ‘n goeie beginsel in ons verhouding met die Here.

“Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Hier kom ons behoeftes aan die beurt, en dit begin met baie konkrete fisieke behoeftes. Die Here het ons as liggaamlike wesens geskape; daarom aan­vaar Hy ook vir ons liggaamlike lewe verantwoordelikheid.

“Brood” is ‘n simbool van eenvoudige kos, dit wat ‘n mens regtig nodig het om goed te lewe. Nie ‘n luukse Duitse motor en dan nog die regte kleur ook daarby nie. (*Voorspoedsevangelie) Nie ‘n huis van miljoene en dan nog ‘n vliegtuig vir die lekker ook nie. Ons leef in ‘n land van arm mense, en ons het ‘n verantwoordelikheid om die Here se instrumente te wees om vir ‘n paar van hulle hulle daag­likse brood te voorsien. Die “daaglikse” kan die betekenis hê van vandag net vandag s’n, soos die Here in die woestyn net dié dag se manna gegee het. Dan kom daar iets van ons daaglikse, voort­durende afhanklikheid van Hom na vore.

“En vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.” Daaglikse vergifnis skep die indruk van daaglikse behoef­te aan vergifnis. Dit beteken dat ons waarskynlik nie volmaak, son­deloos hier op die ou aarde gaan word nie. Dit is goed om ons daaraan te herinner as ons té oormoedig raak met ons oorwinning oor die sonde. Maar daar is ook ‘n ander kant van dié saak. Kyk by *kinders van God.

Hierdie gebed het ‘n stertjie by: “soos ons ook … ” Dit maak dit ‘n bietjie ongemaklik. En Jesus het dit baie ernstig bedoel. Dis opvallend dat Hy net op hierdie stertjie terugkom in sy gesprek ná die gebed: “As julle ander mense … vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie … vergewe nie!” Dit maak vergifnis noodsaaklik om vergewe te word. Met ‘n wrok in jou hart help dit nie eens om te bid nie. Of ja, dalk help dit tog. Dalk sal jy vashaak as jy by hierdie gebed met sy stertjie kom en onthou dat jy eers moet vergewe voor jy vergewe gaan word.

Die Here is nogal ernstig hieroor. Iewers sê Hy ons moet ons offer (aan Hom) by die altaar laat en ons eers gaan versoen met ons broer (of suster). Eers ons menseverhoudings in orde kry voor ons verhouding met Hom weer regkom. En verderaan in Matteus ver­tel Hy van ‘n man wat ‘n ongehoorde skuld by die koning vry kry, maar dan sy vriend wat hom ‘n onbenullige bedraggie skuld, aan die keel beetkry … en uiteindelik sy skuld terugkry (Matt 5:23-24; 18:21-35). Het jy nie dalk al intussen jou skuld teruggekry nie?

“En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose.” Die duiwel en die bose magte het ‘n besondere rol in Jesus se bediening gespeel. Hy het die *koninkryk/heerskappy van God op aarde kom herstel. Hy het dit gedoen deur die duiwel uit mense se lewens te dryf. Hy het die Bose oorwin, maar nog nie vernietig nie. Die duiwel kan nog die kinders van God baie seermaak. Daarom ons gebed om nie deur die duiwel versoek te word nie, maar van hom verlos te word. Hy kom in baie verskillende vorme na ons toe, soms baie onskuldig, selfs soos ‘n engel van die lig (2 Kor 11:14).

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Gawes en vrug van die Gees

Die Groot Geloofswoordeboek: Gawes en vrug van die Gees

Verbygaande gawes?

Dit gaan hier oor die gawes waarvan ons veral in 1 Korintiërs 12 lees, en die vrug van die Gees (Gal 5:22-23). Daar was vir baie lank in die historiese kerke groot teologiese ver­skille of die Gees­tesga­wes in die geheel nog voorkom. Veral onder sommige Gereformeerdes was daar ‘n sterk saak uitge­maak vir die sogenaamde “Streepteolo­gie”, die oortuiging dat die gawes net vir ‘n tyd lank bedoel was en daarna verdwyn het. Daar is veral na 1 Korintiërs 13:10 verwys: “Maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees.”

In die voorafgaande vers stel Paulus die gawes as tydelik teenoor die liefde wat ewig is. Profesie en kennis het net beperkte waarde. Dit sal vergaan “wanneer die volledige kom”. Hierdie uitspraak bied natuurlik ‘n ideale geleentheid om die gawes as verbygaande en minderwaardig teenoor die vrug (liefde) te stel. Die vraag wanneer die gawes dan sou ophou, wanneer “die volledige” kom, is verskillend beantwoord, maar die bekendste is seker dat die “volledige” die volledige Bybel is, dus die tyd toe die kanon vasgestel is, wat so ongeveer in die vierde eeu was. (*Kanon) Daar is dan ook allerlei getuienisse aangebied wat sou bevestig dat die gawes juis in daardie tyd opgehou het, en daarom het sekere denominasies die gawes waarop veral die *Pinkster- en Charismatiese Kerke hulle beroep, sterk onder ver­denking gestel.

Dit is egter een groot misverstand. “Die volledige” wat kom, is die nuwe tydperk wat met die wederkoms van Jesus aanbreek. Dit sal die tyd van die volmaaktheid wees. Dan sal ons nie meer in ‘n dowwe spieël kyk nie, “maar alles sien soos dit werklik is”, dan sal ons nie meer net gedeeltelik ken nie, maar “ten volle”, soos God ons ten volle ken. Daar is nêrens enige sprake daarvan dat hierdie ga­wes sou ophou wanneer die kanon vasgestel is nie. En daar is nêrens in die Bybel enige aanduiding dat ons nie tot by die wederkoms die gawes sal nodig hê nie. Die waarde wat die gawes het, om die ge­meente op te bou, bly nodig solank die gemeente opgebou moet word. En dit is tot by Christus se koms.

 

Vrug én gawes

Daar was egter ook ‘n ander misverstand, naamlik dat ons ‘n keuse het: óf die gawes, óf die vrug. En juis omdat dit duidelik die ga­wes is, veral die tale, wat die spanning in die gemeente van Ko­rinte veroorsaak het, kies denominasies dan liewer die vrug: die liefde, vriendelikheid, getrouheid, ensovoorts. Maar ook dit is ‘n misverstand. Die gawes en die vrug vorm saam die wyse waarop die gemeente moet funksioneer.

Die gawes van die Gees is die gawes wat die Gees aan lidmate gee om mekaar te bedien. Die vrug van die Gees is die atmosfeer wat die Gees in die gemeente skep sodat die gawes goed en reg sal werk. As lidmate mekaar sal liefhê en nederig teenoor mekaar sal wees (die vrug), sal een se gawe hom of haar nie hoogmoedig maak of die ander jaloers nie.

 

Verskille tussen gawes en vrug

Daar is interessante verskille tussen die gawes en die vrug. Elke lidmaat kry een gawe om al die ander daarmee te bedien, maar elke lidmaat kry al die “dele” van die vrug, dus die volle vrug of lewensingesteldheid wat hom of haar in staat stel om die ander met sy of haar gawe te bedien. ‘n Mens kan nie die vrug in klein deeltjies opdeel (die een kry liefde, die ander vriendelikheid, die ander geduld) nie. Daarom is daar ook nie sprake van vrugte nie, maar vrug (enkelvoud). Dis ‘n pakket, miskien soos ‘n tros druiwe wat baie korrels het, maar een tros is. Die vrug van die Gees het ook nie ‘n direkte verband met ‘n mens se natuurlike aanleg nie, want almal kry dieselfde pakket. Elke gelowige kry dieselfde vrug in sy totaliteit: “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goed­-hartig­heid, getrouheid, nederigheid, self­beheersing” (Gal 5:22-23; 1 Kor 13). Die vrug is die manier waarop, of die infrastruktuur waar­mee, gelowiges in staat is om mekaar te bedien met die gawe wat die Gees hulle gee. Daarteenoor kry elke lidmaat een gawe waarmee hy of sy dan die res van die gemeente moet bedien (1 Kor 12; Rom 12; Ef 4; 1 Pet 4).

 

Die interafhanklikheid van gawes en vrug

‘n Paar sake word hierdeur duidelik. Allereers kan ons nie kies tussen die vrug of die gawes nie. Beide is noodsaaklik om­dat die een van die ander afhanklik is. Jy kan nie ander met jou gawe bedien as jy nie vol liefde, vriendelik, geduldig, ne­de­rig, ensovoorts is nie. Dis mos presies die probleem wat daar in Ko­rin­te was. Hulle het wonderlike gawes gehad, maar hulle was jaloers op mekaar en die een het gedink hy of sy is be­lang­riker as die ander. Liefdeloosheid, hoogmoed en selfsug was hulle lewens­ingesteldheid, in plaas van liefde, nederigheid en goed­har­tigheid.

Aan die ander kant kan die vrug ook nie sy werk doen sonder die gawes nie. ‘n Gemeente kan nie goed werk sonder die gawes nie. Om vriendelik en vol liefde en nederig teenoor mekaar te wees skep ‘n wonderlike atmosfeer en beteken baie vir elke lid, maar dit vervul nie al die behoeftes van die lidmate en die ge­meente as geheel nie. Ons het wysheid nodig om moeilike besluite te kan neem; liefde help nie baie daarvoor nie. Ons het genesing nodig as ons siek is; vriendelikheid help nie. Ons het die onderskeiding van geeste nodig as ons moet besluit of mense eg is of nie, en profesie as ons wil weet in watter rigting die gemeente moet ontwikkel, en leiding om dan in daardie rigting te gaan.

Net soos in die geval van die vrug hou natuurlike aanleg nie altyd verband met die gawes nie. Die Gees gee die gawes soos Hy wil, Hy versterk nie net my natuurlike aanleg nie.  ‘n Ander verskil is dat die vrug meer permanent is terwyl die gawes meer gebonde is aan die situasie. Dis alreeds opvallend dat die gawes baie verskil in die paar lyste in die Nuwe Testa­ment. Daar is maar min ooreenkoms tussen die lang lyste van Ro­mei­­ne 12 en 1 Korintiërs 12. Waarom? Paulus skryf in 1 Korintiërs dat die Gees die gawes uitdeel soos Hy wil sodat dit vir almal tot voordeel kan wees (1 Kor 12:7, 11). Dit gaan dus afhang van die bepaalde gemeente en die lidmate se behoeftes watter gawes die Gees sal gee.

Daar is dus nie ‘n geslote lys gawes soos daar presies tien gebooie is nie. Die Gees deel uit soos Hy weet die behoeftes in ‘n bepaalde gemeente is. Dit beteken verder dat daar in nuwe situasies nuwe gawes nodig kan wees en dat sekere gawes in ‘n bepaalde situasie nie nodig is nie.

 

Is sekere gawes belangriker as ander?

Dit bring ons ook voor die vraag of sekere gawes belangri­ker is as ander. Die probleem in Korinte was juis dat sekere gemeentelede wat tale as gawe ontvang het, gedink het hulle gawe is belangriker as die ander s’n. Dit spreek teen die gedagte dat sekere gawes belangri­ker is as ander. Trouens, Paulus be­klemtoon juis dat dié ledemate van die liggaam wat die swakste lyk, juis noodsaaklik is (12:22). Dit lyk wel of hy later profesie belangriker ag as tale, maar dit is ‘n misverstand. Dis juis tale wat in Korinte die probleme veroorsaak het. En nou skryf Paulus dat in daardie situasie profesie belangriker is as tale. Dit is nie ‘n beginsel nie. Daarom kan hy ook skryf dat as die tale uitgelê word, dit net so belangrik soos profesie is (14:5), en kan hy net daarná profesie, openbaring, kennis en lering almal op dieselfde vlak plaas (14:6).

Maar as die gawes dan gelyke waarde het, en dit slegs die be­hoefte in die gemeente is wat sommige soms nodiger maak as ander, waarom dan die opdrag in 12:31: “Lê julle toe op die beste genadegawes”? Dit impliseer tog duidelik dat sommige be­langriker is as ander. Dit is ‘n vraag of dit ‘n goeie vertaling is van hierdie teks. Die Griekse werkwoord kan óf ‘n bevel óf ‘n stelling wees. Dus óf: “Lê julle toe op die beste genadegawes” (‘n bevel), óf: “Julle lê julle toe op die beste genadegawes” (‘n stelling). Pas die tweede vertaling nie die verband beter nie? Waarom?

Allereers omdat Paulus nie sommige gawes bo ander stel nie, maar juis almal gelyk stel. Waarom sal hy juis aan die einde van die hoofstuk waarin hy daartéén skryf dat sommige die gawe van tale belangriker ag as ander, eindig met die opdrag om die beste gawes te soek?

Maar verder omdat dit beter aansluit by die volgende verse. Na die hoofstuk waarin hy geskryf het teen die hoogmoed oor tale, wys hy die beste weg aan om die gawes te hanteer (13:1 ev): met die gesindheid van die vrug van die Gees: liefde, vriendelik­heid, nederigheid, ensovoorts.  Hierdie vertaling sou dan beteken dat Paulus verklaar dat die Korintiërs die “beste gawes” najaag, maar daarteenoor dan stel dat daar ‘n beter manier is: om die vrug van die Gees te soek (liefde) sodat die gawes op die regte manier in die gemeente kan funksioneer.

 

Gawes én vrug kom van die Gees

Die heel belangrikste saak in verband met die vrug én die gawes is die feit dat dit die vrug van die Gees en die gawes van die Gees is. Dit is nie ek wat al vriendeliker en al geduldiger moet probeer word nie. Dis nie my vrug, die vrug van my inspanning nie, dis die Gees se vrug in my lewe. Ek vra dit in die geloof, Hy gee dit, en ek doen dit dan deur sy krag. Net so die gawes. Dis sy gawes wat Hy gee aan wie Hy wil. Daarom soek en vra ek ook nie ‘n spesifieke gawe nie. Ek soek die Gees in sy volheid, en Hy bepaal watter rol ek in die gemeente moet speel. (*In Christus)

Die gawes werk op sy beste in ‘n kleiner groep: die huiskerk of kleingroep of selgemeente. Dáár kan elke gelowige al die ander bedien met sy of haar gawe. In ‘n byeenkoms van honderde men­­se werk gawes natuurlik ook, maar in ‘n baie beperkte sin. Net ‘n paar mense kan optree in ‘n byeenkoms van honderde mense.

‘n Mens moet onthou dat die “gemeentes” aan wie Paulus skryf, uit een of meer huisgemeentes (*Selgemeente) bestaan het. ‘n Huis­gemeente was so om en by vyftien mense. Wanneer so ‘n ge­meen­­te meer as twintig geword het, moes die eerste “afstigting” plaas­vind. Daar was nie vertrekke in hul huise waarin meer as so twin­tig mense kon vergader nie. Dit verklaar dadelik die feit dat daar omtrent vyftien gawes genoem word. Elke lid kry ‘n gawe om al die ander mee te bedien. Die klein getal help ‘n mens ook om te ver­staan hoe dit gewerk het. Ons weet ‘n paar honderd mense kan me­kaar nie individueel met hul gawes bedien nie. Dit sal óf in chaos ver­ander, óf ure lank duur. En daar is nie soveel verskillende gawes nie. Maar om­trent vyftien mense kan me­kaar wonderlik bedien. Dit is ook eint­lik hoe gemeenskap op ‘n persoonlike vlak beoefen kan word. Hon­derde mense kan nie persoonlike gemeenskap met me­kaar beoefen nie. Maar vyftien mense kan regtig hul lewens met me­kaar deel. (*Kleingroepnagmaal)

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König