Die Apokriewe Boeke (14)

Die Apokriewe Boeke (14) – Jan van der Watt

Die eerste brief van Klemens is nie ʼn apokriewe boek nie, maar ʼn vroeg-Christelike geskrif. Hy was die biskop van Rome (die pous soos ons hom vandag ken). Hierdie brief is aan die gemeente in Korinte gerig.

Ons wonder dikwels of die boeke wat ons in die Nuwe Testament kry van die vroegste tye af deur die Christene as gesagvol gesien is. Hier is ʼn uittreksel uit 1 Klemens 36 (ongeveer in die jaar 95 nC geskryf) wat wys hoe die boeke wat ons as die Nuwe Testament ken reeds deur die Christene gesagvol aangehaal is, selfs saam met die Ou Testament.

1) Geliefdes, hierdie is die pad waarop ons ons heil gevind het: Jesus Christus die Hoëpriester, bied ons gawes aan. Hy is die Een wat ons ondersteun en help met ons swakhede. 2) Deur Hom kyk ons op na die hoë hemele. Deur Hom sien ons soos in ʼn spieël sy aangesig wat perfek en verhewe is. Deur Hom word die oë van ons harte  oopgemaak. Deur Hom straal die lig ons gees binne wat in donkerheid vasgevang is en niks weet nie. Deur Hom wil die Here ons graag laat proe aan die kennis wat nooit vergaan nie: ‘die glansvolle grootheid van sy majesteit troon sover bo die engele uit, as wat sy Naam bo hulle name uittroon.’ (Hebreërs 1:3-4). 3) Want die Skrif sê: ‘Hy maak sy engele tot winde en sy dienaars tot vuurvlamme.’ (Hebreërs 1:7). 4) Maar van sy Seun het die Here dit gesê: ‘Jy is my Seun. Op hierdie dag het Ek jou gegenereer. Vra van My en Ek sal vir jou die nasies as jou erfdeel gee en die wye wêreld as jou besitting.’ (Psalm 3:7-8). 5) En weer het Hy vir Hom gesê: ‘Sit hier aan My regterhand tot Ek vir jou ʼn voetstoel van jou vyande gemaak het.’ (Psalm 110:1; Hebreërs 1:13). 6) Wie is nou die vyande? Die slegte mense wat teen God se wil optree.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Selfbeheersing

Selfbeheersing – Kobus Kok

Between stimulus and response there is a space…

In that space lies our ability to choose our response. Therefore, we are nothing less than responsible beings, able to respond appropriately.

Onbekende Outeur

Selfbeheersing is niks minder nie as die vermoë om verantwoordelike en redelike keuses te maak. Reeds van die antieke tyd af was selfbeheersing ‘n belangrike morele waarde wat nagestreef is deur dié wat wysheid soek. In die antieke Griekse wysheidsdenke word die woord enkrateia vir selfbeheersing gebruik. Hierdie woord is onder meer saamgestel uit die woord kratos wat met krag of heerskappy vertaal kan word. Hiervolgens is dit duidelik dat selfbeheersing die krag/vermoë behels om heerskappy/beheer oor iets te kan uitoefen. Iemand wat innerlike krag besit het dus die vermoë om standvastig te staan wanneer ‘n ongesonde krag sy/haar vermoë oor jou wil uitoefen.

Indien mens terugdink aan jou lewe, aan tye waar jy selfbeheersing verloor het, is mens die meeste van die kere spyt daaroor. Die vrug van min selfbeheersing lewer meer as dikwels suur vrugte op, terwyl selfbeheersing se vrug wysheid en heelheid is. By die werk en by die huis kan ons dus kies hoe ons gaan reageer wanneer ons kwaad word, wil skinder of op een of ander wyse negatief verlei word. Selfbeheersing as innerlike krag en kompaswyser van wysheidsoekers gaan jou help om die regte respons te gee. Die gevolg daarvan is dat jou kollegas, personeel of meerderes met tyd respek, vertroue en omgee vir jou sal ontwikkel omdat jy in verskillende kontekste gewys het dat selfbeheersing en wysheid deel van jou mondering is. Die innerlike krag van selfbeheersing bemagtig nie net jouself nie, maar bemagtig ook ander. Negatiewe energie smeer maklik af aan ander, maar so ook positiewe energie. Ons ken almal mense by wie ons ware wysheid en selfbeheersing aanskou het, en dit het ons geïnspireer. Net so kan jy iemand wees wat ander inspireer.

 

In 2 Petrus 1:3-11 lees ons ‘n kosbare wysheidsteks uit die Nuwe Testament (Nuwe Vertaling): “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. 4Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. 5En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, 6die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, 7die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense. 8As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken. 9Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is. 10Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. 11En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

 

Mag ons nuwe harte kry wat klop met die energie en krag van wysheid, godsvrug en selfbeheersing.

 

Outeur: Dr. Kobus Kok




Die Apokriewe Boeke (13)

Die Apokriewe Boeke (13) – Jan van der Watt

2 Makkabeërs 2:4-8.

Wat het van die ark van God geword?

4) In dieselfde verslae lees ons van die profeet wat ʼn openbaring van God af gekry het. Op grond daarvan het hy gevra dat die tabernakeltent en die ark agter hom aangedra moes word toe hy na die berg toe is waarteen Moses uitgeklim het om die land te sien wat God vir sy mense wou gee. 5) Daar gekom kry hy ʼn grot. Hy steek toe die tabernakeltent, die ark, asook die altaar waarop die wierook gebrand is, daar weg. Hy het die ingang toegemaak en versteek. 6) Van dié wat saam was het probeer om die pad te onthou, maar hulle kon dit nie weer kry nie. 7) Toe Jeremia hoor wat hulle wou doen, het hy hulle erg kwalik geneem: hierdie plek moet onbekend bly tot God sy volk weer bymekaar bring en vir hulle goed is bo wat hulle verdien. 8) Dan sal die Here vir hulle wys waar dit weggesteek is. Die glorie van die Here, selfs die wolk, sal dan verskyn net soos dit in die tyd van Moses verskyn het; of toe Salomo gebid het dat die Plek op ʼn buitengewone manier vir God afgesonder moes word.

 

2 Makkabeërs 1:18 – 35

Toe die tempel in Jerusalem vernietig is, het die ballinge die vuur waarmee hulle die offeraltaar aan die brand gehou het, saamgeneem. Lees hier wat gebeur het.

18 Ons sal op 25 Kuslew (November tot Desember) die reiniging van die tempel herdenk. Ons het gedink dit is reg om julle daarvan te sê sodat julle ook die Huttefees vier, asook die Fees van die Vuur wat ons laat terugdink aan die vuur van die offers van Nehemia, wat die tempel en die altaar herbou het.

19) Dit is die agtergrond: Toe ons voorvaders as gevangenis Persië toe gevat is, het toegewyde priesters van die vuur van die altaar saamgevat. Daar gekom het hulle dit stilletjies in ʼn holte in ʼn droë put weggesteek. Hulle het doodseker gemaak dat niemand anders van die plek weet nie. 20) Baie jare het verbygegaan. Toe die tyd volgens God ryp was, het die koning van Persië Nehemia na Israel toe teruggestuur. Nehemia het toe die nakomelinge van die priesters wat die vuur weggesteek het, gevra om daarvoor te gaan soek. Hulle het kom rapporteer dat hulle dit nie kon kry nie. Al wat daar was, was dik modderige water. Nehemia sê toe vir hulle om van daardie water te gaan haal. 21) Hulle het die offers reggemaak. Toe sê Nehemia vir die priesters om van die modderige water op die hout en offer wat op die altaar gelê het, te gooi. 22) Skaars het hulle dit gedoen of die son het tussen die wolke deurgebreek. Toe dit gebeur het die hout en offer aan die brand geslaan. Almal was stom van verbasing. 23) Terwyl die offer gebrand het, het die priesters begin bid; almal het sommer saam gebid. Jonatan het die gebed gelei en die res van die mense het saam met Nehemia hardop saam gebid waar hulle moes.

30) Die priesters het toe liedere begin sing om die Here groot te maak.

31) Toe die offer heeltemal verbrand was, het Nehemia gesê dat die res van die modderige water op groot klippe uitgegooi moes word. 32) Hulle het dit gedoen en dadelik het ʼn vuur daar aan die brand geslaan. In die helder glans van die altaar het dit na niks gelyk nie. 33) Die nuus het gou versprei. Die mense het selfs vir Persiese koning alles gaan vertel: dat presies op die plek waar die priesters (wat gevang was) die vuur weggesteek het daar ʼn soort vloeistof verskyn het; en dat Nehemia en sy mense dit gebruik het om die offers mee aan die brand te steek. 34) Die koning het dit laat ondersoek en agtergekom dat alles waar is. Hy het ʼn muur om die plek laat bou en dit heilig verklaar. 35) Die koning het van die mense gehou. Daarom het hy vir hulle die pragtigste geskenke gegee.  Nehemia en sy mense het hierdie modderige water Neftar genoem (dit beteken om rein te maak). Die gewone mense het sommer Neftai gepraat.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Die Apokriewe Boeke (12)

Die Apokriewe Boeke (12) – Jan van der Watt

Makkabeërs 6:24 – 30

In die Bybel (byvoorbeeld Johannes 10:11vv of 15:12-14) hoor ons dat dit goed kan wees as iemand vir iemand anders sterf, doodgewoon omdat hulle vriende is of aan mekaar behoort. Hy hoef nie eers noodwendig die ander persoon se lewe te red nie. Hy doen dit net vir hom of haar… Hier is een van die eerste verhale in die Jodedom wat die gedagte dat iemand vir ander sterf, beklemtoon. Jesus het so vir ons gesterf. Die vroeë Christene het ook baie van Jesaja 53 gemaak. Die mense wou Eleasar dwing om onrein vleis te eet. Hy wou nie en omdat hulle so baie van hom gehou het, het hulle gesê hy moet net maak asof hy die vleis eet. Dit wou hy ook nie doen nie. Kyk net wat hy sê:

 

2 Makkabeërs 6:24 – 30:

Hy het dit so verduidelik. “Dit sou nie by my ouderdom pas om toneel te speel nie. As ek dit doen sal baie jongmans dink dat Eleasar op sy negentigste jaar na ʼn vreemde godsdiens toe oorgestap het. 25) Ek sou met die toneelspelery hierdie jongmans op die verkeerde spoor lei en dit net om ʼn oomblikkie langer te leef. Watter skande en oneer sou dit net nie vir iemand van my ouderdom beteken nie? 26) Ek sou nou miskien die straf van mense kon vryspring, maar of ek nou lewe of dood is, ek sal nooit uit die hande van die Almagtige kan ontsnap nie. 27) Dus, die waardige ding vir ʼn persoon op my ouderdom om te doen sou wees om nou dapper te sterf. 28) So sal ek vir die jongmans ʼn edel voorbeeld nalaat, naamlik hoe om uit vrye wil en op ʼn edel manier vir die gerespekteerde en heilige wette te sterf.”

Nadat hy dit gesê het, het hy na die stellasie toe gestap waar hulle hom sou martel. 29) Die mense wat voorheen so vriendelik met hom gepraat het, het nou teen hom gedraai. Vir hulle het dit wat hy gesê het na malligheid geklink. 30) Net voor hy van al die slae dood is, het hy kreunend gesê: “Die Here, met sy besondere wysheid, weet dat ek hierdie dood kon vryspring. Tog byt ek vas onder die geweldige pyn van die houe waarmee hulle my slaan. Maar diep binne-in my is ek baie bly, omdat ek die Here eer en dien.”

 

2 Makkabeërs 7:35 – 38

Het jy al ooit daaroor nagedink dat ʼn mens net diereoffers in die Ou Testament kry en mense-offers verbied word, terwyl die Nuwe Testament net van mense-offers praat en sê ons hoef nie meer diere-offers te bring nie. Lees maar Romeine 12:1-2 waar ons ons lewens as offers moet gee of Hebreërs waar Jesus as die offer vir God beskryf word. Die gedagte dat mense hulle lewens vir God kan opoffer het juis met die martelare begin. Hulle het vir God gesterf en hulle dood was nie tevergeefs nie – dit was as offer vir die Here verstaan. Hier praat ʼn Joodse martelaar met die koning wat hom martel en praat van sy lewe as offer gee…

 

2 Makkabeërs 6:35 – 38

‘Jy het nog nie aan die oordeel ontsnap van die almagtige God wat alle dinge sien nie. 36) My broers het vir ʼn rukkie baie pyn deurgemaak, maar hulle smaak nou die ewige lewe, soos God in sy verbond ooreengekom het. Maar wat jou betref: God self sal jou oordeel. Jy sal gestraf word vir al jou arrogansie. 37) Soos my broers offer ek my liggaam en lewe op vir die wette van my voorvaders. Ek smeek God om gou weer vir ons volk goed te wees bo wat ons verdien. Net so smeek ek hom om jou met allerhande pyn en swaarkry te tref sodat jy sal bely dat Hy die enigste God is. 38) Ek vra die Almagtige ook dat na dit wat met my en my broers gebeur het Hy nie meer tereg kwaad wees vir ons hele volk nie.’

 

Outeur: Prof Jan van der Watt