Die Apokriewe Boeke (2)

Die Apokriewe Boeke (2) – Jan van der Watt

Hoe het dit gebeur dat iets soos apokriewe boeke ontstaan het? Die Ou-Testamentiese apokriewe en die Nuwe-Testamentiese apokriewe het op verskillende maniere tot stand gekom. Laat ons nou kyk wat in elke geval gebeur het.

A. Die Ou-Testamentiese apokriewe

1. Die Hebreeuse Ou Testament

In die Hebreeuse Ou Testament is daar 39 boeke wat gewoonlik in drie groepe verdeel word: die wet, die profete en die geskrifte.

  • Die wet bestaan uit 5 boeke: Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium. Die vyf boeke van die wet is eerste geskryf en is ook die boeke wat eerste as gesaghebbende boeke aanvaar is. Geleerdes dink dat hierdie boeke alreeds in die tyd toe die Jode teruggekom het uit die ballingskap erken is as gesaghebbende boeke wat van God af kom; dus ongeveer in die vyfde eeu voor Christus.
  • Die profete sluit boeke soos Josua, Rigters, Jesaja, Jeremia, Hosea, Joël en Amos in. Dit lyk of hierdie boeke reeds teen ongeveer 200 voor Christus as gesaghebbende boeke aanvaar is.
  • Die derde groep, die geskrifte, bestaan uit boeke soos Psalms, Spreuke, Job, Prediker, Daniël en Ester. Teen die tyd dat Jesus op aarde was, is die meeste van hierdie boeke alreeds deur baie Jode as gesaghebbend aanvaar. Dit was eers teen ongeveer 90 – 100 na Christus dat min of meer duidelikheid verkry is dat al die boeke wat deel uitmaak van hierdie groep, gesaghebbend is. Selfs daarna was daar nog hier en daar ‘n Joodse geleerde wat gewonder het of boeke soos Esegiël, Spreuke, Hooglied, Prediker en Ester deel van die Hebreeuse Bybel moet wees of nie.

 

HEBREEUSE OU TESTAMENT

Wet

As gesaghebbend aanvaar teen ongeveer 450 voor Christus

Profete

As gesaghebbend aanvaar teen ongeveer 200 voor Christus

Geskrifte

Die laaste boeke van die geskrifte as gesaghebbend aanvaar teen ongeveer 100 na Christus

 

2. Die Hebreeuse Ou Testament word in Grieks vertaal

Tot sover het ons gepraat van die Hebreeuse Ou Testament. Op ‘n stadium is dele van die Hebreeuse Ou Testament ook in Grieks vertaal omdat daar na die ballingskap baie Jode buite Palestina gebly het wat nie meer Hebreeus of Aramees kon verstaan nie. In die loop van die derde eeu is begin om die Hebreeuse Bybel in Grieks te vertaal. Dié vertaalproses het tot in die eerste helfte van die eerste eeu voor Christus aangehou. Hierdie Griekse vertaling van die Ou Testament is die Septuagint (afgekort LXX) genoem.

 

Met die vertaling het dit egter gebeur dat daar heelwat verskille tussen die Hebreeuse Ou Testament en die Septuagint gekom het. Die belangrikste verskil is dat daar ‘n hele klomp byvoegings en selfs ‘n hele klomp ekstra boeke in die Septuagint is wat nie in die Hebreeuse Bybel is nie! Die boeke wat bygevoeg is noem ons deesdae die “Ou-Testamentiese apokriewe”. Van hulle is glad nie eers in Hebreeus geskryf nie, maar in Grieks.

 

Die volgende illustrasie gee vir jou ‘n idee van die boeke wat in die Septuagint was en wat nie in die Hebreeuse Bybel was nie.

 

SEPTUAGINT

(Griekse weergawe van die Ou Testament met die apokriewe)

Ontstaan vanaf die derde eeu voor Christus tot die eerste helfte van die eerste eeu voor Christus

 

 

 

 

 

Griekse vertaling van die 39 boeke wat in die Hebreeuse Ou Testament (en in die Ou Testament in ons Bybel) is

 

PLUS

 

Griekse weergawes van die volgende boeke (oftewel die apokriewe boeke):

1 Esra

Byvoegings tot Ester

Judit

Tobit,

1, 2, 3 en 4 Makkabeërs

Odes van Salomo

Die Wysheid van Salomo

Die Wysheid van Ben Sirag

Die Psalms van Salomo

Barug

Die Brief van Jeremia

Byvoegings tot Daniël:

Gebed van Asarja en Die lied van die drie jong manne

Susanna

Bel en die Draak

Volgende keer kyk ons na die Nuwe Testamentiese apokriewe.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Die Apokriewe Boeke (1)

Die Apokriewe Boeke (1) – Jan van der Watt

Die apokriewe boeke bly interessant. Dit is boeke wat amper in die Bybel was en oor “Bybelse sake” handel, maar nie in die kanon ingesluit is nie.

‘n Mens moet egter nie die Ou-Testamentiese apokriewe met die Nuwe-Testamentiese apokriewe verwar nie. Die Ou-Testamentiese apokriewe, wat hoofsaaklik oor die geskiedenis van Israel gaan, is in die Griekse vertaling van die Joodse Bybel (die Septuagint of LXX) opgeneem. So het dit deel van die Rooms-Katolieke Bybel (kanon) geword. Die Protestante het egter die Hebreeuse Bybel gebruik waarin die apokriewe nie opgeneem is nie. Wat dus vir die Protestante Ou-Testamenties apokrief is, is vir die Rooms-Katolieke deel van hulle Bybel. Selfs in Protestantse belydenisskrifte staan daar dat ‘n mens hierdie boeke kan lees vir ‘n mens se verryking.

Met die Nuwe-Testamentiese apokriewe is dit anders. Dit is boeke wat tot 900 jaar na die Bybel geskryf is. Dit dra nie dieselfde gesag as die Ou-Testamentiese apokriewe nie en word ook nie deur enige Christelike groepering as gesagvol of harmonies gesien nie.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Bybelvertaling (6)

Bybelgenootskappe- Jan van der Watt

Bybelvertaling word bevorder en gekoördineer deur Bybelgenootskappe. Die rede daarvoor is dat dit so duur is om die vertalings te doen en dan te publiseer. Kragte en finansies moet dus saamgespan word. Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika dien as oorkoepelende liggaam om die kerke saam te bring wat Bybelvertalings gebruik. Tog het hulle nie alleenreg op die vertaling van die Bybel nie. Christelike Uitgewersmaatskappy het byvoorbeeld die inisiatief geneem om Die Boodskap die lig te laat sien.

Die Bybelgenootskappe in die verskillende lande werk weer saam in die United Bible Society met hulle hoofkantoor in Amerika. Dit is nie die enigste genootskap nie, maar die belangrikste.

ʼn Ander prominente Bybelgenootskap is die Wycliffe Bybelvertalers. Die genootskappe het vertalers en konsultante oor die hele wêreld wat kennis oor vertaling deel en help versprei. Sowat 95% van die wêreld se bevolking het een of ander deel van die Bybel in hulle eie taal beskikbaar om te lees. Tog is daar nog maar net vyf persent van die  wêreld se tale wat ʼn volle Bybel in hulle eie taal het. Daar lê dus nog ʼn lang pad voor.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Sewendedagse Adventistekerk

Sewendedagse Adventistekerk – Pieter Verster

‘n Leser vra:

Is die Sewendedagse Adventistekerk ‘n sekte? Indien wel, hoekom? Dit wil voorkom asof seminare van die kerk (wêreldwyd) oor Openbaring en Evangelisasie ‘n metode is om tradisionele kerke (soos die susterskerke) te infiltreer en so dopelinge (lidmate) te werf. Hulle bied in werklikheid “afrokkelingseminare” aan met skokkende interpretasies van Bybelse gedeeltes. Baie dankie!

Antwoord:

Prof Pieter Verster antwoord:

Volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis word die ware kerk gekenmerk  deur die suiwer verkondiging van die Woord, die suiwer bediening van die sakramente en die toepassing van die tug. Ons moet dus altyd bepaal of  enige kerk of groep wel die Woord suiwer verkondig en die sakramente suiwer bedien, ook met die toepassing van die tug.

Die adventiste se herkoms word teruggevoer  van William Miller wat  die wederkoms van Christus in 1843 verwag het. Toe dit nie plaasvind nie stel hy weer ʼn datum naamlik 22 Oktober 1844. Toe dit nie plaasvind nie, is die gebeure  as die reiniging van die hemelse heiligdom geïnterpreteer.  Ellen G  White wat sy gedagtes bevestig het, het  die tien gebooie in ʼn goue kis met ʼn besondere  kring oor die vierde  gebod in ʼn visioen gesien. Sy word ʼn sleutelfiguur vir die adventiste.  Die Sabbat verkry besondere betekenis. Die nakom van verskeie wette en veral die hou van Sabbatswette speel dus ʼn belangrike rol.

Daar is getuienis in die Ou Testament van die betekenis van die Sabbat.  In die Nuwe Testament verkry dit egter nuwe betekenis. Jesus is Here, ook van die Sabbat. Geen plus mag by die genadige werk van Christus bygevoeg word nie. Sy genade is oorvloedig en genoegsaam. Die wet moet  uit vreugde en dankbaarheid sonder ʼn wettiese  benadering onderhou word.

Vir die kerk is dit belangrik dat die wet ons dankbaarheid rig en nie ons saligheid nie. Jesus is die enigste grond van ons verlossing.

Die kerk wil dus wel die wet eerbiedig, maar altyd in diens van Christus. Dit is belangrik dat geen plus vir die saligheid by Christus  gevoeg mag word nie.

Daar is wonderlike  gelowige adventiste wat  hulle hoop op Christus alleen vestig.  Daar is egter die groot gevaar dat die hou van die Sabbat op ʼn bepaalde manier die  maatstaf van geloof gemaak word. Die hou van seminare om dit te bevestig, sou verkeerd wees. Die kerk se enigste antwoord is: Jesus is die Here.

Outeur: Prof Pieter Verster