Afrokkeling van Paulus se gemeentelede

Afrokkeling van Paulus se gemeentelede – Jan van der Watt

Erika vra:

Volgens Filippense was daar mense wat Paulus se gemeentelede afgerokkel het terwyl hy in die tronk was. Wie was die mense en van watter geloof was hulle dan nou? Was dit dalk soos in vandag se tyd wat daar so baie kerke is wat claim dat almal in Jesus glo, maar ons is net nie een kerk nie of was dit mense wat nie in Jesus geglo het nie?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die moeilikheid om die opponente van Paulus in Filippense en ook in die ander briewe te identifiseer, is dat hulle nie by die naam genoem word nie. In daardie tyd het jy nie jou opponente by die naam genoem nie, want dit sou hulle eer gee. Jy het sydelings na hulle verwys om te wys hoe min jy van hulle dink. Ons het dus nie veel direkte inligting oor wie die opponente was nie, wat beteken dat ons maar intelligent moet raai met die inligting wat ons wel uit die briewe kry.

Wat duidelik is, is dat die opponente Jode was wat Christene geword het. Hulle het egter nie heeltemal met Paulus saamgestem oor die redding nie. Hulle wou gehad het dat Christene nog so halfpad Joods moet bly, hulle nog moet besny, nog van die eetreëls moet hou, en so voorts. Paulus het natuurlik geargumenteer dat Jesus deur sy Gees ons vrygemaak het en dat ons dus nie meer die soort van dinge hoef te doen nie. Dit het die twee groepe in konflik gebring.  Nou lyk dit of Paulus se opponente sy doen en late goed geken het en ook geweet het waar hy heen reis, want net as hy by ʼn plek was, daag hulle daar op. Dit was nie sommer net vir doen nie, want daar was geen posdiens, telefoon ens. waardeur daar vinnig nuus oor waar Paulus was, deurgegee kon word nie. Dit lyk of dit mense was wat hom moes ken en wat dieselfde kennisse as hy gehad het. Omdat hulle ook die opponente geken het, het die nuus waar Paulus was vinnig versprei. Nou wie sou hierdie mense wees wat Paulus geken het, maar tog teen hom was. Die geleerdes kyk na die gemeente in Antiogië waar Barnabas was en wat Paulus aanvanklik as sendeling gestuur het. Ons lees dat Paulus en Barnabas (wat hoog aangeskrewe was in die gemeente) ernstig van mekaar  verskil het en in Galasiërs 1-2 lees ons dat daar ook verskille was oor wat Christene mag doen en wat nie. Daar was ʼn groep wat alles nog Joods wou hou. Nou sê die geleerdes dat dit Joodse-Christene uit die gebied van Antiogië was wat meer Joods as Paulus wou wees en wat hom agtervolg het en sy boodskap van die vryheid van Christus oral beveg het. Daarom is hulle ook so maklik in die gemeentes opgeneem wat Paulus gestig het. Hulle het hulleself as die Christene uit die belangrike stad van Antiogië voorgestel, waar Paulus ook oorspronklik vandaan gekom het. Die gemeentes van Paulus was dus oop om hulle te ontvang. Nadat hulle eers daar aanvaar is, kon hulle teen Paulus, wat toe nie meer daar was nie, argumenteer en het skynbaar baie sukses gehad. Onthou, die gemeentes wat Paulus gestig het, het nie dominees of pastore wat opgelei is gehad nie. Hulle moes self sien en kom klaar – daarom was hulle nogal oop vir allerhande idees. Vandag nog kry ons ʼn groep wat hulleself Christene noem in daar die gebied naby Antiogië, naamlik die Ebioniete wat baie lyk op die opponente waarvan Paulus in sy briewe praat.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Aan die ander kant – vraag

Aan die ander kant – Jan van der Watt

ʼn Leser vra;

Ek het na die program op tv gekyk “Aan die ander kant.” Ek kan sien dat daar groot belangstelling is, veral as mense iemand na aan hulle verloor het. Die aanbiedster het ook gepraat oor ʼn persoon aan die anderkant was wat blykbaar terwyl hy hier op die aarde was net baie gewerk het en nie tyd gebruik vir n geestelike lewe nie, en het gevra dat sy gesin vir hom moet intree en bid soos daar in die Woord staan “waar 2 of meer saamstem”. Dit maak nie vir my sin nie As mens nie ʼn verhouding met God hier op aarde gehad het nie hoe kan daar iets vir jou gedoen word as jy klaar dood is.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ek dink ons moet mekaar respekteer en as gelowiges vir mekaar ruimte laat, ook as jy nie saamstem met ander nie. Tog het ek self, en mense kan verskil, heelwat probleme met mense wat beweer dat hulle boodskappe van dooies kan kry. Ek wil nie veralgemeen nie, maar daar is dikwels ʼn element van bedrog aan verbonde wat liggelowige mense dinge laat glo wat nie waar is nie en deur die ander persoon uitgedink word. Dit maak dan dat ons slawe van so persoon word. Die tegnieke van suggestie, goeie waarneming, veralgemening ens. wat gebruik word, skep valse indrukke asof die inligting van elders kom. Afgesien daarvan, is die Bybel ook nie positief daaroor nie. Ons ken die verhaal van Saul en die heks van Endor (1 Samuel 28:7 en verder) – hy wou so met die geestelike wêreld kontak maak en ons weet dat God baie ontevrede daaroor was, om die minste te sê. Daar is in die Nuwe Testament ook geen teken daarvan dat sulke kontakte met die geestelike wêreld gesoek moet word nie. Christene het God se Gees self in hulle en moet dus nie soek na ander geeste nie. God sien dit as ongelowige kompetisie, asof Hy nie genoegsaam daar is vir sy mense nie.

 

Nou moet ek darem een ding noem. Daar is ʼn boek in die Rooms-Katolieke Bybel (hulle het ʼn paar boeke in hulle Bybel wat nie in die Protestantse Bybel is nie – die Ou-Testamentiese apokriewe) naamlik 2 Makkabeërs waar die volgende verhaal voorkom: die Jode het teen die vyande geveg en besonder baie van hulle mans is die dag dood. Toe hulle gaan ondersoek instel kom hulle agter dat die mans ʼn gelukbringer van ʼn plaaslike god onder hulle klere gedra het, ingeval God nie sterk genoeg is om hulle te help nie – ʼn soort tweede assuransie. Omdat hulle goeie en getroue Jode was wat vir hulle land gesterf het, het die Joodse leiers gevoel hulle moet gehelp word. Hulle het toe geld ingesamel, na Jerusalem gegaan en vir die dooie mense ʼn offer gebring met die versoek dat God hulle sal vergewe. Op die basis van hierdie verhaal in hulle Bybel is die Roomse kerk dus positief oor die gedagte dat jy vir mense wat reeds dood is nog kan bid.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Buitebybelse getuienis oor Jesus (3)

Buitebybelse getuienis oor Jesus (3) – Jan van der Watt

Joodse verwysings uit die tyd kort na Jesus se opstanding.

Natuurlik was die Jode nie baie tevrede met die nuwe beweging wat beweer dat die (Joodse) messias vir almal gekom het nie. Hulle was eintlik baie vyandig gesind teenoor die Christene en Jesus, veral toe die Christelike geloof so vinnig begin groei het. In die verhale in Handelinge en uit Paulus se briewe, asook die Johannese geskrifte kom ons agter dat daar baie spanning tussen die Jode en die Christene was. Maar dit is nie net die Christene wat daarvan skryf nie. Die Jode het ook baie negatiewe verwysings na Jesus en die Christene gemaak. Hulle beskryf Jesus veral as valse leraar (sy leerstellings) en towenaar (sy wonders). Kom ons kyk na ʼn paar van hierdie verwysings na Jesus uit Joodse geskrifte. (Die verwysings is uit boeke wat heelwat later as Jesus se tyd geskryf is).

Dit word geleer: Op die aand van die Paasfees is Yeshu gehang. Vir veertig dae vooraf het ‘n proklameerder geskreeu: ‘Hy gaan uit om gestenig te word omdat hy toordery in Israel beoefen het en Israel mislei het. As iemand iets in sy verdediging wil sê, laat hom uitkom en dit sê’. Maar hulle het niks in sy guns gevind nie, met die gevolg dat hulle hom op die aand van die Paasfees gehang het. (Babiloniese Talmud, Sanhedrin 43a).

Hierdie verhaal onderstreep dat die Jode probleme gehad het met Jesus se leer en sy wonders. Die Jode het toe bogenoemde storie opgemaak om te probeer voorgee dat hulle ʼn regverdige verhoor gehou het – iets wat die Christene ontken het.

ʼn Ander verhaal probeer Jesus teken as ʼn slegte persoon wat sy bes probeer het om ʼn Jood te bly, maar nie goed genoeg daarvoor was nie. Hy het daarom maar afgode aanbid en sy eie domheid het gemaak dat daar stories ontstaan het dat Hy ʼn leraar was wat wonders gedoen het, so beweer die Joodse opponente van die kerk. Die kwaadwilligheid van hierdie verhale is duidelik. As die Christene nie ʼn werklike probleem vir die Jode was nie, sou die opmaak van sulke stories onnodig gewees het.

Rabbi Joshua ben Perahiah het Jesus met beide hande weggestoot…. Rabbi Joshua het gesê: Hoe lieflik is hierdie ‘askania’ (Dit kan na ʼn herberg verwys of na ʼn vroulike herbergier). Jesus antwoord: ‘Rabbi, sy het skrefie ogies’. ‘Jou slegte persoon’, antwoord die Rabbi, ‘Is dit  waaraan jy dink?’ (Die Rabbi het die eerste een bedoel en Jesus die tweede een). Die Rabbi het toe 400 trompette laat blaas en Jesus geëkskommunikeer. Jesus het baie keer teruggekom en gepleit om weer terug te kom, maar die Rabbi  wou niks weet nie. Een dag was die Rabbi besig om te bid toe Jesus weer daar aankom. Die Rabbi besluit toe om hom weer toe te laat en wink vir hom. Jesus dog toe die Rabbi stuur hom weg. Hy vat toe ʼn baksteen en aanbid dit. Die Rabbi vra hom toe om hom te bekeer, maar sy antwoord was: ‘Ek het van jou geleer dat daar geen kans vir bekering is vir iemand wat sondig en ander leer om ook te sondig nie’. ʼn Leraar het daarom gesê: ‘Jesus die Nasarener beoefen toorkunsies en mislei Israel’ (Sanhedrin 107b).

Nog ʼn interessante verhaal is die verhaal wat Jesus as die buite-egtelike kind van ʼn Romeinse soldaat (Pantera) teken. Hy word as ʼn waarsêer beskryf en die feit dat sy ondersteuner sommer gou sterf is ʼn duidelike teken dat God nie aan sy kant kan wees nie.

Rabbi Eleazar ben Dama is deur ʼn slang gebyt. Jakob van Kefar Sama kom toe om hom in die naam van Jesus ben Pantera gesond te maak. Rabbi Ismael wou dit nie toelaat nie. Eleazar het die besluit betwis, maar is dood voor hy nog kon sê hoekom. Ismael het hom gelukgewens omdat hy dood is sonder om ‘die heining af te breek wat waarsêers opgerig het’ (Tosefta Hullin 2:22-24).

Hoewel hierdie verhale vyandige propaganda was, beklemtoon dit hoe belangrike rol Jesus en die kerk gespeel het. Een ding wat die Jode nie kon doen nie, is om dit te probeer wegredeneer dat Jesus daar was nie. Hulle kon ook nie ontken het dat Hy wonders gedoen het nie. Hulle sê toe maar dat Hy  ʼn towenaar was – wat anders kon hulle sê? Hulle het mos besef dat Jesus dit gedoen het.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Hoekom laat God swaarkry toe?

Hoekom laat God swaarkry toe? – Jan van der Watt

Pieter vra:

Hoekom laat God swaarkry, siekte, armoede, ens toe? Waar kom dit vandaan? Ek bid vir genesing, maar dit vind nie plaas nie, hoekom nie, is my geloof te klein?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hier is heelwat vrae in hierdie twee lyne. Dit gaan oor ʼn vraag wat gelowiges oor al die eeue al besig hou. Dit is asof ons in die studeerkamer van God wil inkyk en sy planne probeer verstaan.

Dit kan nie. Daarom is daar in die Bybel die gedeeltes wat vra: Kan ons God se planne ken? (Romeine 11:33-36).

Nou word daar ʼn paar antwoorde in die Bybel gegee waarom daar lyding is, waarvan ek so paar hier gaan noem.

a) Die boek Job gaan oor die vraag van lyding. Ly ʼn mens omdat jy iets verkeerd gedoen het? Gaan alles regkom as jy weer goed doen? Met ander woorde, kan jy deur self goed of sleg te wees jou eie lot beheer? Job sê nee! Job het baie gehad en toe alles verloor. Sy vriende het vir hom kom sê dat die rede is omdat hy sonde gedoen het, maar hy wou dit nie glo nie. Hy het volgehou dat hy vir God lief is en dat dit nie die rede kan wees nie. Daar moet ʼn ander rede wees. En hy was reg. Wat hy nie geweet het nie, is dat die duiwel God uitgedaag het – hy het gesê dat Job net doen wat die Here wil hê omdat hy dan goeie dinge uit God kan kry (so ʼn soort ruiltransaksie). God het gesê dat Job Hom regtig liefhet. Toe word daar ʼn toets gemaak: wie is reg? God of die duiwel? (As God natuurlik verkeerd was, was sy eer daarmee heen, want dan was Hy nie alwetend nie en het gejok ook). Sonder dat Job dit dus besef het, het God al sy eer op die skouers van Job geplaas. Sy lyding was om God se eer en opregtheid te bevestig. In ʼn sekere sin was God se lot op die skouers van Job. Sy lyding was dus nie omdat hy iets verkeerd gedoen het nie, maar omdat Hy God se eer moes verdedig, sonder dat hy dit mooi besef het. In Johannes 9 se eerste verse vra die dissipels wie gesondig het, die blinde man of sy ouers (weer met die meganiese idee van wat jy insit kry jy terug). Jesus se antwoord was dat dit tot eer van God is. Uit hierdie verhale is dit dus duidelik dat ons nie kan insien in die planne van God en ook nie alles mooi kan verklaar nie. God weet waarom Hy dinge doen. Soos Prediker (8:17) sê: die beste en slimste ding wat ons kan doen is om te besef dat ons nie alles weet nie en daarom maar net op God te vertrou. Hy weet die beste.

b) ʼn Tweede verklaring kry ons in Openbaring. Daar ly die Christene ook baie, maar die rede is omdat alles nog nie volmaak is nie. Die duiwel (Openbaring 12-13) is hard besig om mense seer te maak en te vernietig. Daar is nog sonde en bose in die wêreld en daarom is die wêreld nog gebroke en vol pyn – ons moet egter op die eindtyd bly hoop as Jesus weer kom. Openbaring sê vir ons dat Christene in ʼn groter stryd gewikkel is teen die bose en dat dit dus nie noodwendig vanweë ons sonde is dat ons swaarkry nie. Dit is omdat die duiwel in die algemeen nog so aktief is. Solank die sonde, gebrokenheid en die duiwel nog by ons is, gaan ons nog swaarkry. Ons kan egter die swaarkry oorkom deur ons oog op Jesus gevestig te hou wat ons weer gaan kom haal en vir ewig by Hom gaan hou. Daar sal nie pyn en swaarkry wees nie.

Ons kan dus nie onsself gesond bid, of altyd verstaan waarom ons nie gesond word nadat ons gebid het nie. Deur daaroor bekommerd te wees, veroorsaak net spanning by ons en val ons geloof aan. Ons moet liewer na God bly kyk en weet dat wat ons uit sy hand kry vir ons bestem is en ons moet dit met geloof dra, al is dit vir ons baie sleg. Deur Hom is ons tot alles in staat (Filippense 4:13).

Outeur: Prof Jan van der Watt