Ontvangs van die Heilige Gees (2)

Ontvangs van die Heilige Gees (2) – Jan van der Watt

Naomi vra;

Hoe werk die ontvangs van die Heilige Gees volgens sekere gedeeltes in Handelinge?

* Handelinge 2: Die apostels was almal gelowig, maar het met Pinkster eers die Heilige Gees ontvang.

* Handelinge 8:12-14 – die apostels kom eers later en gee die Heilige Gees.

* In Handelinge 9 kom Paulus tot bekering oppad na Damaskus en eers nadat Ananias hom die hande opgelê het (vers 17) het hy die Gees ontvang.

* Handelinge 19 – daar kry mense eers die Gees later.

[Vraag verkort.]

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vrae sny aan by verskillende fasette van die werk van die Heilige Gees en wanneer die Gees ontvang word. In een van ons ander artikels is daar geskryf dat as mens ʼn kind van die Here word, dit deur die werk van die Gees is (1 Korintiërs 2:1-5, of Johannes 3:1-8). Paulus sê ook dat as mens ʼn Christen is, is jy die tempel van die Heilige Gees (1 Korintiërs 3:16). Die Gees is in jou. In Handelinge, wat deur Lukas geskryf is, word daar van die koms van die Gees gepraat en dan lyk dit of die bekering en die verkryging van die Gees twee verskillende sake is, hoewel daar ook dikwels gesê word dat met die doop mense die Gees ontvang (sien die ander artikels op www.bybelkennis.co.za).

ʼn Basiese beginsel vir die verstaan van die teks van die Bybel (en enige ander teks) is om tekste binne konteks te lees en te probeer vasstel wat die skrywer met wat hy sê probeer kommunikeer. Handelinge is die boek wat vertel hoe die kerk in die era van die Heilige Gees inbeweeg (Handelinge 1:8) en daarom word daar baie oor die Gees geskryf. Die vraer verwys na van die gedeeltes.

a) Waarom het die dissipels eers die Gees gekry nadat hulle reeds in Jesus geglo het. Ons moet onthou dat Pinksterdag die nuwe era van die Gees ingelei het. Voor die tyd (in die Ou Testament) was die Gees nie op ʼn spesiale manier op alle mense nie. Die Gees was net spesiaal op die mense wat vir God spesiale opdragte moes uitvoer, soos die koning of profeet. Die Gees het dan om die persoon gekom, die persoon krag gegee om die taak te verrig. Dit was nie vir almal beskore nie, maar  net vir party. So kom die Heilige Gees ook op Jesus by sy doop (sien al die doopverhale) om aan te dui dat sy tyd vir sy spesiale opdrag in die wêreld aangebreek het. Met Pinksterdag verander alles – nou kom die Heilige Gees nie net na seker mense nie, maar na almal. Elkeen wat gelowig is gaan van nou af die Heilige Gees hê, nie net die mense met spesiale opdragte nie. Eintlik werk dit selfs anders om: omdat elke gelowige die Heilige Gees van nou af op ʼn spesiale manier gaan kry, is almal nou spesiaal. Almal kan nou die Woord van die Here verkondig, vir ander bid, ens. Van die kerke vandag sê alle gelowiges is nou priesters, profete en konings – juis die mense wat in die ou bedeling voor Pinkster die Gees op ʼn spesiale manier gekry het. Hierdie was ʼn spesiale unieke geleentheid wat ʼn nuwe era ingelei het en kan dus nie gebruik word om te sê dat die Gees kom eers later na die bekering in mense nie. Die gedeelte wil juis sê dat die Gees nou vir almal daar is.

b) Handelinge 8:4-25 moet baie mooi gelees word. Die Evangelie brei nou uit na Samaria toe. Die uitbreiding is suksesvol en mense begin in die Evangelie belang te stel. Die Gees werk dus onder hulle. Dit verhaal gaan egter nie primêr daarom nie, maar om iets anders: ons kry Simon die towenaar daar wat die ‘Groot krag van God’ (Handelinge  8:10) genoem word. Die hele verhaal gaan dus oor die vraag: wie het werklik die krag van God? Kom die krag deur die apostels of deur Simon? Onthou, hierdie was die eerste uitbreidings na Samaria en daar was Simon die GROOT man met krag. Kan die Evangelie in so situasie iets beters of sterkers bring? Die verhaal van Simon antwoord die vraag. Die apostels is dus soontoe om aan ‘die stryd van die Kragte’ te gaan meedoen. Die ‘bekeringsproses’ is dus eers heeltemal voltooi toe hulle die Gees aan die mense gee. Dit beteken nie dat die Gees nie voorheen in hulle gewerk het nie. Dat dit so is, blyk uit Simon se situasie – hy het ook gelowige geword (Handelinge 8:13) maar uit die res van die verhaal blyk dit dat dit nog nie eg was nie. Hy wil die Gees koop waarmee die skrywer wil sê dat Simon nog nie werklik gelowig was nie. Om weereens uit die verhaal te wil aflei dat die Gees eers later kom is om die verhaal en wat Lukas met die verhaal wil sê verkeerd te lees. Hy gebruik die verhaal om te wys dat die Heilige Gees sterker is as ander magte – dit wil die verhaal sê en nie dat mens sonder die Gees tot bekering kan kom nie. Inteendeel, die besit van die Gees maak deel van jou Chistenwees uit. Dit het Simon gou agtergekom.

c) Die verhaal van Paulus in Handelinge 9 bevestig wat in die ander artikels en hierbo genoem word. Die Here was met Paulus besig en die oomblik toe hy die ‘familie van God’ binnekom (Ananias doop hom) en hy die grens na die Christendom oorsteek, het hy alles ontvang wat die Christendom bied, ook die Heilige Gees. So het die krag van God ook sy krag geword.

d) Die verhaal in Handelinge 19 van die mense wat met Johannes se doop gedoop is en nie eers van die Gees geweet het nie, is ook ʼn spesiale verhaal wat wil illustreer dat daar in die vroeë sendingtyd (waaroor Handelinge gaan) groepe was wat gehoor het die klok lui, maar nie seker was waar die bel hang nie. Hulle het soort van ʼn idee gehad, maar nie die hele idee nie. Paulus kom dus en voltooi die proses deur hulle in die hoofstroom van die Christendom te verwelkom. Dit is die plek waar die Gees werk. Nou, nadat hulle die Gees gekry het, het hulle ook deel aan die familie van God. Hulle oorgang na die Christendom is dus voltooi. Die verhale, soos hierdie een en die hierbo, gee dus vir ons kykies in hoe die Christendom in ʼn onbekende en heidense wêreld inbeweeg het. Daar was mense wat net stukkies van die Evangelie gehoor het, ander wat meegegaan het, maar nie heeltemal Christene was nie en gehoop het om krag te kry wat hulle kon misbruik, ens. Dat die Gees vooraf in hulle gewerk het om hulle gereed te maak vir hulle ontvangs in die familie van God hoef nie betwyfel te word nie. Dat elkeen van hierdie voorbeelde hierbo wys dat gelowiges wat aan God behoort die Gees het, is ook nie te betwyfel nie. Die vraag is wel of die spesiale ervaring iets ekstra is wat nog moet gebeur nadat jy gelowig geword het – is dit fase 2?

As ons Bybel lees, moet ons onthou ons werk nie net met party verse nie – ons werk met die hele Nuwe Testament. In die res van die boeke, Johannes (kyk Johannes 14-16 en 1 Johannes 2), 1 Korintiërs, Romeine (veral hoofstuk 8) sien ons duidelik dat gelowiges die Gees het. Daar het duisende mense tot bekering gekom en ons het in Handelinge maar ʼn paar gevalle waar die Gees so spesiaal op mense gekom het. En in feitlik al die gevalle was dit uitsonderings of spesiale situasies. Ons moet dit nou nie as norm teen al die ander getuienis in die Bybel vir die feit dat gelowiges die Gees het, gebruik nie. Dat daar wel spesiale ervaring is, hoef niemand te betwyfel nie. Maar om af te lei dat as daar nie spesiale ervarings is nie die persoon nie ʼn gelowige is nie of nie die Gees het nie, sou eenvoudig beteken om die kat aan die stert beet te hê.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Buitebybelse getuienis oor Jesus Christus (2)

Buitebybelse getuienis oor Jesus Christus (2) – Jan van der Watt

Nie-Christelike Jode wat van Jesus praat

Josefus in Antiquities of the Jews – sy boek oor die geskiedenis van die Jode van die skepping af tot 66nC – noem Jesus twee maal en Johannes die Doper een maal. Hy noem dat Johannes ʼn gewilde figuur was wat genoeg invloed gehad het om ʼn opstand te kon reël wat  hom uiteindelik ook sy lewe gekos het.

Josefus se eerste verwysing noem dat Ananus, die nuwe hoëpriester in 62nC, ‘die Raad van die Sanhedrin saamgeroep en die broer van Jesus, die sogenaamde Messias, (Christos) wat Jakobus genoem is, saam met ʼn paar ander mans, oorgelewer en gestenig het. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle die wet gebreek het’.

Hierdie verwysing onderstreep natuurlik ook die aktiewe teenwoordigheid van die Christene in Jerusalem, asook die posisie van Jakobus as leier van die kerk in Jerusalem.

Josefus se tweede verwysing lui so: Omtrent hierdie tyd het Jesus geleef, ʼn wyse man, as ʼn mens Hom inderdaad ʼn man kan noem. Hy het verbasende dinge gedoen en was ʼn leraar vir mense wat opgewonde was om die waarheid te aanvaar. Hy het baie Jode oortuig en ook baie Grieke: Hy was die Messias. In reaksie op die aanklag wat deur leidende mense onder ons  gebring is, het Pilatus Hom tot ʼn kruisdood veroordeel: maar diegene wat Hom aanvanklik liefgehad het, het nie opgegee nie. Hy het op die derde dag lewendig aan hulle verskyn, soos die profete van God oor Hom gepraat het asook oor duisende ander wonders oor Hom. Tot op hierdie dag bestaan die stam van die Christene, wat na Hom vernoem is, nog. (Ant. XVIII.3.3).

Hoewel dit lyk of Christene die weergawe ‘geredigeer’ het (as ʼn mens na frases kyk soos ‘as ʼn mens Hom inderdaad ʼn man kan noem‘; ‘die derde dag‘), is daar min twyfel dat die essensie van wat hier staan, werklik op Josefus teruggaan. Selfs die taal wat gebruik word, is nie tipies Christelik nie. Onthou, Josefus was ʼn Jood (nie ʼn Christen nie) en hy het vir die keiser ʼn geskiedenis geskryf oor alles wat in Palestina gebeur het. Hy het die grootste deel van sy lewe in Palestina gebly en het geweet wat daar aangegaan het en of iets wel gebeur het of nie. Hy het dus min belang by Jesus gehad, behalwe dat die dinge wat destyds in Palestina gebeur het in sy geskiedenisboek moes kom. Josefus het dus geen rede gehad om na Jesus te verwys as hy dit nie as werklike gebeurtenis gesien het nie.

Lees volgende keer verder oor getuienis van nie-Christene oor Jesus uit die ou tyd… dit bewys natuurlik dat die verhale oor Jesus deur die mense van destyds as waar aanvaar is en nie net as Christelike propaganda nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Drie Wyse Manne

Drie Wyse Manne – Jan van der Watt

Una vra:

Ek wil baie graag weet: was daar spesifiek met Jesus se geboorte 3 wysemanne en wat was hulle elkeen se naam?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Matteus 2 vertel vir ons van ‘magiërs’ (magoi  is die Griekse woord wat van hulle gebruik word en ons woord magiërs is daarvan afgelei) wat uit die Ooste gekom het. (Daar word nie drie mans in die Bybel genoem nie. Ons dink gewoonlik dat daar drie was omdat daar drie geskenke was – Matteus 2:11) Ons ou vertaling vertaal dit met ‘wyse manne’ en die nuwe vertaling met ‘sterrekykers’. Die rede waarom die vertalings verskil, is omdat daar nie vandag sulke mense is nie. Die woord ‘magiërs’ verwys na die ‘wetenskaplikes’ van daardie tyd. Hulle het natuurlik op ander maniere as ons kennis bymekaar gemaak, byvoorbeeld, deur  na die sterre te kyk en belangrike dinge daaruit af te lei, deur allerhande natuurlike middels te ondersoek vir genesing, sekere natuurkragte te manipuleer, ens. Die gewone mense kon dit nie verstaan nie en het daarom soms gedink dat hulle ‘ toor’. Die woord ‘toor’ moet egter nie so negatief verstaan word as wat ons dit vandag verstaan nie. Dit was nie negatiewe toorderye nie (hoewel daar wel sulkes was) maar net onverstaanbaar. Ons weet nie waar die manne spesifiek vandaan gekom het nie, behalwe dat dit uit die Ooste was. In die Ooste het die groot bekende ryke van Babel gelê (hoewel hulle al vir 300 jaar onder Griekse en later Romeinse oorheersing was) en hulle was bekend vir die vlak van ontwikkeling. Nog verder Oos was wat ons vandag as Irak en Indië ken wat ook hulle eie unieke ontwikkelinge op kennisvlak gehad het.

Die name van die wyses word nie in die Bybel genoem nie, maar deur die latere tradisie is die volgende name aan die manne gegee: Belthasar, Melgior, Kaspe(a)r.  Die drie name is gekoppel aan Afrika, Europa en die mense van die Ooste. Jy kan kyk – op baie van die prentjies van die drie manne verteenwoordig hulle die drie belangrike kontinente.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Nagmaal aan kinders

Nagmaal aan kinders – Jan van der Watt

Pierre vra:

Ek bly in Australië en ons is dank die Hemelse Vader geseënd om in n Afrikaanse Kerk te wees. Ek het laas Sondag dat my twee kinders van 9 en 10 jaar oud Nagmaal gebruik. Dit was nie in my kerk toegelaat in Suid Afrika voor hulle voorgestel is nie, en wat my omgekrap het aangesien Jesus ook vir hulle gesterf het en nie net vir volwassenes nie. Vind ook nêrens in die Bybel dat kinders verbied om Nagmaal te gebruik nie. Volgens my is dit net reëls wat deur die kerk gemaak is.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Jy is reg – die nagmaal word nie vir kinders verbied nie. Die argument teen kinders berus gewoonlik op 1 Korintiërs 11 28 ‘ Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink.29Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie’. Voor jy eet moet jy jouself eers beproef. Van die kerke het geredeneer (en redeneer nog) dat ‘n kind nie so ʼn oordeel kan maak nie. Daar moet eers gewag word tot jy ouer is. Ander het geargumenteer dat jy eers katkisasie moet deurloop sodat jy goeie kennis kan opdoen – dan kan jy die oordeel maak. Dit is egter kunsmatig en ʼn mens kan nie in die algemeen sê wanneer iemand reg is om die keuse te maak nie. Die belangrike dus: die kind moet weet waarom dit gaan en moet verstaan wat hy of sy doen.

Outeur: Prof Jan van der Watt