Die Groot Geloofswoordeboek: Bybeluitleg

Die Groot Geloofswoordeboek: Bybeluitleg

Bybeluitleg (Hermeneutiek, Eksegese)

Ons moet onderskei tussen die teorieë oor Bybeluitleg en die ma­niere waarop ons in die praktyk die Bybel uitlê. Die teorieë noem ons hermeneutiek en die praktiese uitleg eksegese.

Hermeneutiek (Uitlegteorie)

Die hermeneutiek (uitlegteorie) vra vrae oor hoe woorde en taal werk, oor woorde en betekenis, oor verskillende taalteorieë. Ons moet byvoorbeeld onthou dat woorde of taal baie armer is as ervaring. Ons ken dit almal. Iemand sal sê: “Ons was daar en daar. Dis ‘n wonderlike plek. Woorde kan dit eenvoudig nie be­skryf nie.” Veral ervarings en gevoelens is baie meer as wat woor­de kan sê. Ons kan nooit uit die beskrywing van Jesus se lyding en kruisdood in die Evangelies of uit ‘n preek regtig ten volle aflei wat daar gebeur het en hoe erg sy lyding was nie. Dis eintlik opvallend hoe saaklik en sober die evangeliste sy lyding beskryf, sonder baie voegwoorde of omskrywings, so asof hulle goed besef het dit is onmoontlik om regtig die diepte van sy lyding te beskryf.

Ná Auschwitz het Elie Wiesel, wat self daar was, tien jaar lank geswyg. Sy standpunt was dat dit verraad aan die slagoffers sal wees om daaroor te praat, want woorde sou nie eens naastenby iets van hulle werklike ontreddering kom weergee nie.

Dit beteken dat ons uit die woorde van die Bybel altyd minder kan aflei as wat werklik gebeur het.

Verder is dit belangrik om te onthou dat woorde nie vaste be­tekenisse het nie. Ons gee aan woorde betekenis. Daarom is dit ge­vaarlik om te veel te maak van die sogenaamde “oorspronklike betekenis” van ‘n woord. Ons kan nie uit die “oorspronklike bete­kenis” van “skoenlapper” aflei dit is iemand wat skoene lap of reg­maak nie, of uit “butterfly” dat dit ‘n vlieg van botter is nie. Mense gee aan woorde betekenis wanneer hulle dit gebruik. Die woord “lig” kry betekenis uit die verband. “Die kar is lig” be­te­ken iets an­ders as “Gee die lig aan”. In die Bybel moet ons uit die verband probeer aflei watter betekenis die skrywer aan ‘n be­paalde woord gegee het.

Johannes gee aan die woord “vlees” ‘n ander betekenis as Pau­lus (Joh 1:14; 1 Kor 15:50). In beide gevalle word dieselfde Griekse woord sarx gebruik. Tereg het die 1983-vertaling sarx in Johannes an­ders vertaal as in Korintiërs. Die twee skrywers het ander betekenisse aan dieselfde Griekse woord gegee. As dit nie so was nie, sou Jesus nie die koninkryk kon beërf nie, want Pau­lus skryf dat “vlees” (sarx) en bloed nie die koninkryk kan beërf nie, maar Johannes skryf dat die Woord “vlees” (sarx) geword het. (*Opstanding van die vlees)

Dit bring ons by die interessante probleem dat daar aan elke woord in die Bybel twee of selfs drie keer betekenisse gegee word. Die skrywer het ‘n woord gekies om iets te sê, die vertaler be­sluit watter betekenis hy dink die korrekte is, en die leser gee ook weer ‘n betekenis aan die woord as hy of sy dit lees.

Die saak word selfs nog ingewikkelder as ons onthou dat Jesus nie Grieks gepraat het nie, maar Aramees (die “Hebreeus” van daar­die dae). In die Nuwe Testament het ons nou sy woorde in Grieks. Die skrywer in die Nuwe Testament moes dus self eers besluit wat Jesus bedoel het en ‘n Griekse woord daarvoor gekies het. Tussen Hom en ons word daar dus eintlik vier keer beteke­nis aan ‘n woord gegee.

Dit alles word hier geskryf, nie om ons onseker te maak oor wat ons regtig in die Bybel kry nie, maar net ‘n bietjie nederiger. Daar is mense wat met soveel fanfare kan uitwei oor die “oor­spronklike” betekenis van ‘n woord, en nooit hierdie fyner nuan­ses in ag neem nie. Maar onseker hoef ons nie te wees nie. Ont­hou nog ‘n keer die groot saak: die boodskap van die Bybel is dui­delik, die groot lyne kom oor en oor voor, en daarom kan ons ons interpretasie kontroleer.

‘n Laaste opmerking voor ons by die praktiese uitleg kom. Ons het tot dusver oor woorde gepraat, maar eintlik lê betekenis nie in enkel woorde nie, maar in frases. Romeine 1:17 is ‘n goeie voor­beeld. Die 1953-vertaling lui: “Want die geregtigheid van God word daar­in (dis in die evangelie) geopenbaar uit geloof tot geloof.” Die vertalers het elke woord letterlik vertaal, maar dit maak nie regtig sin nie. In die 1983-vertaling lees ons: “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo.” ‘n Mens sou kon argumenteer dat hulle verkeerd vertaal het omdat hulle vertaling omtrent nie meer een woord het wat letterlik in die Grieks staan nie. Maar die geheel het ‘n bepaalde betekenis, dis ‘n uitdrukking, ‘n idioom, en deur ander woorde te gebruik kon die vertalers die regte betekenis beter weergee. Jy kan nie reg vertaal as jy woord vir woord vertaal nie. “Jannie het gister stokkiesgedraai” is nie reg vertaal met “Yesterday Jannie turned sticks” nie. Die frase dra die betekenis, nie die enkel woorde nie.

 

Eksegese (Uitlegmetodes)

  • Heilshistoriese uitleg Historiese uitleg Pastorale uitleg
  • Struktuur-analise Histories-kritiese uitleg

Nou kom ons by die praktyk. Ons lees nou die Bybel. Hoe moet ons dit nou verstaan?

Daar is baie verskillende maniere om die Bybel te probeer ver­­­staan. ‘n Volledige verduideliking is nie hier nodig nie. Ná die vorige bespreking is ‘n paar opmerkings genoeg om ‘n mens rigting te gee.

Kyk waar in die Bybel ‘n uitspraak staan. Die Here het amper vir Moses doodgemaak omdat hy nie sy seun besny het nie. Moet ek dan dadelik myne besny? Nee, kyk waar staan dit (Eks 4:24). Kyk of daar nie later ander perspektiewe hieroor gekom het nie, byvoorbeeld dat Paulus later die besnydenis vir Christene uit die heidendom verbied (Gal 5:3). Jesus sê uitdruklik wat ons moet doen as ons ons gawe na die altaar bring (Matt 5:23-24). Moet ons dit dan nie doen nie? Ons gaan offer nie meer by die altaar nie. Later het dinge verander. In Hebreërs lees ons dat Christus die tempel en die offers vervang het met sy eie groot offer. Maar het Jesus se woorde dan geen betekenis meer vir ons nie? En God se dreigement aan Moses?

Nee, dit het, baie! Uit Eksodus 4 kan ons leer dat ons God ern­stig moet neem, dat ons aan Hom gehoorsaam moet wees, dat Hy bedoel wat Hy sê. En uit Matteus 5 kan ons aflei dat ons ‘n verantwoordelikheid het om spanning tussen ons en ander op te los, al is dit hulle wat iets teen ons het, en nie ons teen hulle nie.

Jesus beveel sy dissipels uitdruklik om mekaar se voete te was (Joh 13). Moet ons dit nog doen? Sommige sê ja, ander sê nee. Ek dink nee, eenvoudig omdat voetewas vandag nie naastenby die betekenis het wat dit toe gehad het nie. Ons het nie meer slawe wat mense se voete was as hulle by ons kom eet nie, en ons loop nie meer met oop skoene of sandale in stofstrate sodat ons met vuil voete by vriende aankom nie. In daardie tyd was dit ‘n besondere teken van nederigheid as die huiseienaar bereid was om hierdie slawewerk te doen. Vandag is dit ‘n vreemde ding. Maar ons kan wel iets leer: om mekaar in nederigheid te dien.

 

• Heilshistoriese uitleg, Historiese uitleg en Pastorale uitleg

Wat het ons tot dusver gedoen? Wat Eksodus 4 en Matteus 5 be­tref, het ons die Bybel heilshistories uitgelê. Ons het gekyk na die ontwikkelings wat in die loop van die heilsgeskiedenis voorgekom het. Wat Johannes 12 betref, het ons die Bybel hi­stories uitgelê. Ons het die betekenis van voetewas toe en nou met mekaar vergelyk. Maar ons het in elke geval die Bybel ook pastoraal uitgelê. Ons het gevra wat dié uitspraak tog nog vir ons sê.

  • Struktuur-analise

Daar is baie ander metodes om die Bybel uit te lê. Elke meto­de het sy eie waarde, en elke metode kan ook verkeerd gebruik word. Die struktuur-analise kyk na die struktuur van ‘n gedeelte. Matteus 7:6 lyk snaaks in die 1953-vertaling, want varke sal mos nie ‘n mens verskeur nie. Die 1983-vertaling het raakgesien dat die vers ‘n snaakse struktuur het. In die Grieks is daar vier frases in die volgende volgorde. Maar in watter volgorde moet hulle gelees word? Kom ons ontleed hulle.

1.            Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie

2.            en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie

3.            hulle sal dit met hulle pote vertrap

4.            hulle sal omspring en julle verskeur.

Die vier frases is egter nie bedoel om in hierdie volgorde gelees te word nie. ‘n Mens moet 1 en 4 saamlees, en dan 2 en 3. Dan is dit die honde wat jou dalk kan verskeur.

 

• Histories-kritiese uitleg

Die histories-kritiese metode kyk krities na ‘n gedeelte. Ter­wyl ons die boek Jesaja as ‘n eenheid ken, vra hulle of dit nie oor­spronklik meer as een boek was wat later aanmekaargevoeg is nie. Die geaardheid van hoofstuk 1-39 verskil heeltemal van 40-54, en dan weer van 55-66. Dit lyk of 1-39 voor die ballingskap geskryf is, 40-54 tydens die ballingskap, en 55-66 dalk ná die ballingskap. Daarom praat hulle van Jesaja, Deutero-Jesaja en Trito-Jesaja. Maar daar is ook geleerdes wat dit nie aanvaar nie omdat Jesus na dele uit 40-54 (Deutero-Jesaja) as woorde van Jesaja verwys (oa Matt 3:3; 8:17; 12:17). Volgens hierdie geleerdes het Jesus dus aanvaar dat die hele boek deur dieselfde persoon, Jesaja, geskryf is.

Die historiese kritiek aanvaar ook nie dat Moses die eerste vyf boeke geskryf het nie, ten minste wat sy eie begrafnis betref (Deut 34). Daar word ook deurgaans in die derde persoon na Moses ver­wys. Dit lyk dus of iemand anders dit geskryf het.

Dit lyk verder of al die boeke nie deur een persoon geskryf is nie, maar eerder of verskillende dokumente later aanmekaargesit is. So lyk dit of Genesis 1:1-2:4a in 5:1 voortgesit word, terwyl 2:4b-4:26 ‘n ander dokument was. Die gedagte word versterk deur die groot verskille tussen die eerste skeppingsverhaal en die tweede. Dit lyk onwaarskynlik dat een persoon al twee geskryf het.

Wat die sondvloedverhaal betref, lyk dit ook of daar dalk twee verhale was wat later aanmekaargesit is. In een geval lyk dit of die vloed 54 dae geduur het (Gen 7:12, 17; 8:6, 10, 12), maar elders lees ons van 150 dae (7:24; 8:3). Was daar twee verskillende do­kumente met verskillende gegewens? Daar is talle sulke verskille wat skynbaar beteken dat die eerste vyf boeke later deur iemand saamgevoeg is uit ‘n aantal ouer dokumente. Daar word selfs gepraat van drie hoofdokumente: die Jahwis, die Elohis en die Priesterkodeks.

Daar is egter ook sterk teenkanting teen wat genoem word hierdie “versplintering” van die eerste vyf boeke, veral met die ar­gument wat ons al vroeër teengekom het: dat Jesus Moses as die outeur van die eerste vyf boeke aanvaar het (Matt 19:7, 8; Mark 12:26; Luk 16:29).

Dis nie nodig om nou al die ander uitlegmetodes in be­son­derhede uiteen te sit nie. In Ek glo die Bybel (Lux Verbi, 2002) is dit breedvoerig gedoen. Maar die punt wat nou hier gemaak is, is dat ‘n mens net oopkop, denkend, maar nederig moet lees. En daar is baie boeke op die mark wat goeie insigte bied.

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König




God en Allah

God en Allah – Jan van der Watt

Francois Brummer vra:

Ek wil graag in kort vasstel of die Christen God en Allah voor die koms van Jesus dieselfde God is.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die antwoord is eenvoudig – nee. Allah was aanvanklik die naam van ʼn lokale god by Mekka. Nadat nie die Jode of die Christene Mohammed se boodskap wou aanvaar nie, het hy die naam van die plaaslike god wat in Mekka aanbid het as die naam aanvaar. Hy het egter aanvanklik gedink dat dit die God van Israel (en die Christene) was wat aan hom verskyn het.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Bybel

Die Groot Geloofswoordeboek: Bybel

  • Samestelling,  Ontstaan,  Boodskap,  Duidelikheid,  Gesag,  Betroubaarheid (onfeilbaarheid),  Die Septuagint,  Kanon,  Inspirasie,  Woord van God

  • Samestelling

Die samestelling van die Bybel is interessant. Die Bybel is nie ‘n enkele boek nie, maar eerder ‘n klein bibliotekie. As die 66 boeke nog apart bestaan het en in ‘n moderne biblioteek op­ge­neem moes word, sou hulle op heel verskillende plekke ge­staan het. Onder die geskiedenisafdeling sou ‘n hele aantal ge­staan het, by die digbundels ‘n paar, Daniël en Openbaring sou dalk by Wetenskapsfiksie ge­staan het (waar anders?), in die Regs­afdeling sou minstens Leviti­kus ingedeel wees, en by die Musiekafdeling minstens die Psalms en Hooglied. En dan sou daar spesiale afdelings geskep moes word vir die Evangelies en die Briewe, want daar is nie sulke afdelings in ‘n biblioteek nie. Wat ‘n verskeidenheid boeke in een omslag!

Verder bestaan die Christene se Bybel uit die Ou Testament en die Nuwe Testament. Maar die Jode se Bybel bestaan net uit wat ons die Ou Testament noem, maar natuurlik noem hulle dit nie so nie. Dis hulle “Heilige Skrif”. Hulle het ook ‘n baie interessan­te indeling van wat ons die Ou Testament noem. Ons het self nie ‘n vas­te indeling nie, maar gewoonlik noem ons die eerste vyf boeke die vyf boeke van Moses, dan die geskiedenisboeke tot by Esra, dan die wysheidsboeke tot by Hooglied, en dan die profete. Maar die Jo­de het ‘n duidelike driedeling: Wet (die eerste vyf boeke), Profete, Ge­skrifte. Onder die Profete deel hulle baie meer as ons in, ook ons so­ge­naamde geskiedenisboeke. En onder die Geskrifte alles wat nie onder die eerste twee ingedeel is nie. Die feit dat Jesus self nog ons Ou Testament opsom as “die wet en die profete” (Matt 22:40) bete­ken dat die Geskrifte nog nie in daardie tyd deur almal op dieselfde vlak as die Wet en die Profete gereken is nie. Die *Sadduseërs het nooit eers die Profete op dieselfde vlak as die Wet beskou nie. Daar­om het hulle nie aanvaar dat daar ‘n *opstanding sal wees nie. In die *Wet staan niks daarvan nie.

 

  • Ontstaan

Die ontstaan van die Bybel is nog interessanter. As ‘n eenheid kon die Bybel in elk geval nie voor die vierde eeu bestaan het nie, want die volle lys boeke van die Nuwe Testament soos ons dit vandag ken, kom vir die eerste keer eers in 367 nC voor in Atanasius se Paasbrief aan sy gemeente. En eers teen die einde van die vierde eeu (397) word daar by die derde Konsilie van Kar­tago vir die eerste keer ‘n kerklike beslissing geneem dat presies hierdie 27 boeke vir die kerk gesag het.

Die Ou Testament het toe al eeue lank bestaan, maar in ver­skillende vorme. Later meer daaroor. Maar teen die einde van die eerste eeu, ongeveer 90 nC, het die Jode finaal by Jamnia besluit oor die 39 boeke van die Ou Testament soos ons dit vandag in die Bybels van die Protestante het.

Die Bybel is nie vooraf beplan en sistematies saamgestel sodat ‘n mens maklik ‘n geheelindruk van die inhoud kan kry nie. Die afsonderlike boeke is geskryf sonder dat die een skrywer van die ander een geweet het. Wat in ‘n bepaalde boek geskryf is, is bepaal deur die omstandighede en behoeftes van die mense vir wie dit geskryf is. Paulus skryf aan ‘n gemeente oor die probleme en vrae wat hulle het (1 Kor 7:1). Hy gee nie ‘n algemene en omvattende behandeling van die geloof nie. Matteus vertel die verhaal oor Jesus só dat dit Jode kan oortuig dat Jesus hulle Messias is. Maar Lukas vertel dit vir ‘n heiden. Daarom gebruik Matteus die Ou Testament twee keer soveel as Lukas. Nie een van die skrywers van die Bybel het ooit die gedagte gehad dat sy bydrae in ‘n groter eenheid op­geneem sou word en vir eeue der eeue gelees en in besonderhede bestudeer sou word nie.

Wat die algemene inhoud van die Bybel betref, kan ‘n mens dit in drie dele indeel:

•             God en die mensdom (Gen 1-11)

•             God en Israel (Gen 12-Mal 4)

•             Jesus en die vroeë Christene (die Nuwe Testament)

 

• Boodskap (*Evangelie)

As dit waar is dat die Bybel nie regtig vooraf netjies beplan is nie en dat die skrywers eintlik reageer op die besondere behoeftes van hul lesers, is dit dan nie baie moeilik om agter te kom waaroor dit eintlik in die Bybel gaan nie? Daar is inderdaad baie verskille hieroor.

Luther het gesê dit gaan in die Bybel oor Jesus (Was Christum treibet). Die meeste mense sal nie daarmee saamstem nie. Na alles het Jesus net aan die kruis vir ons sonde gesterf. Gaan dit nie darem om baie meer as net dit in die Bybel nie?

Nee! As ons regtig verstaan wie Jesus is en hoe ryk sy betekenis is, sal ons maklik met Luther saamstem.

As ons sê Jesus is die boodskap van die Bybel, bedoel ons nie dat die Vader en die Gees nie deel van die boodskap is nie. Die Vader is Jesus se Vader, die Gees Jesus se Gees. Jesus is die open­baring van God. Alles oor die Vader en die Gees het dus direk met Jesus verband. Verder word die hele boodskap van die koninkryk van God in Jesus saamgevat: Hy bring die koninkryk deur sy eksorsisme (duiweluitdrywing – Luk 17:21; Matt 12:28). Verder is Jesus nie net by ons verlossing betrokke sodat die Bybel dan eintlik geen boodskap het vir die breë samelewing nie. Jesus was ook as die ewige Seun van God by die skepping betrokke (Joh 1:1-3), en ons lees selfs dat Hy die doel van alle dinge is en dat alle dinge onder sy hoofskap verenig sal word (Ef 1:10; Kol 1:17: alles is vir Hom geskep). Hy is dus van die uiterste belang vir ons hele lewe, samelewing en toekoms.

Daar is selfs nog meer. Dit is merkwaardig hoe al die groot lyne van die Bybel op Jesus uitloop. Die enkele saak waarna die meeste in die Ou Testament verwys word, is die uittog uit Egip­te. Dit is die geboorte van die volk wat God uitgekies het om sy heerlikheid na die nasies uit te straal. ‘n Mens kan dus verwag dat dit beklemtoon sal word. Profeet na profeet, psalm na psalm verwys na die uittog. Sommige interpreteer dit baie positief: die tyd toe Israel die Here so liefgehad het, die bruidstyd (oa Jer 2:1-3). Maar in die meerderheid gevalle word die uittog negatief geïnterpreteer as ‘n tyd van Israel se ontrou. Deurgaans is God egter hulle God wat hulle uit Egipte bevry het. Hierdie bevryding is die fondament van hul verhouding met Hom en van hul hele volksbestaan.

Terloops, Israel was nie ‘n volk wat buiten ‘n klomp ander dinge ook nog ‘n verhouding met die Here gehad het nie. Israel was die volk van die Here. Hulle hele bestaan as volk was afhanklik van die Here se verhouding (verbond) met hulle.

En in die Nuwe Testament word hierdie uittog dan op Chris­tus toegepas. Hy het sy eie uittog, Hy is die Paaslam wat geslag is, Hy is die rots waaruit die water gevloei het; trouens, Hy word eintlik die enigste nasaat van Abraham en neem dus heeltemal Israel se rol oor (Matt 2:13-15; 1 Kor 5:7; 10:4; Gal 3:16). Daar is dus baie meer in die Bybel wat met Jesus te doen het as net ons verlossing.

En selfs nog meer. Daar is drie ampte wat die hele Ou Testament oorheers: die profete, die priesters en die konings. As ‘n mens die dele wat met hulle te doen het uit die Ou Testament wegneem, bly daar weinig oor. Maar in die Nuwe Testament lees ons dat Jesus al drie hierdie ampte vervul. Hy is dié Messias-koning (Matt 16:16; Joh 1:49), Hy is dié Hoëpriester (die Brief aan die Hebreërs), Hy is dié Profeet (Matt 11:9; 14:5; 21:11, 46). Hy vervul dus eintlik alles wat regtig in die Ou Testament betekenis gehad het.

En intussen stem omtrent alle Christene saam dat Hy ook die hart van die Nuwe Testament is. As ons dus sê die boodskap van die Bybel is die boodskap oor Jesus, beteken dit nie dat ons net ‘n klein deeltjie uit die Bybel kies nie. Eintlik raak dit die hele Bybel. Maar dit beteken wel dat dit nie in die Bybel oor klein, minder belangrike besonderhede gaan nie, maar oor die groot lyne wat almal op Jesus uitloop.

Wanneer ons dan nou gaan nadink oor die duidelikheid, in­spi­ra­sie, gesag en betroubaarheid van die Bybel, moet ons altyd die boodskap van die Bybel in gedagte hou. Dit gaan nie sonder meer oor alles in die Bybel nie. Dit is die boodskap wat duidelik is, geïnspireerd is, gesag het en betroubaar is. Die duidelikheid, in­spi­rasie en gesag van die Bybel lê in dit wat die Bybel wil sê, en nie in onbenullige kleinighede nie.

• Duidelikheid

Die duidelikheid van die Bybel beteken nie dat alles in die Bybel sonder meer duidelik is nie. Eintlik is die Bybel ‘n taamlike deur­mekaar boek. As ‘n mens vir die eerste keer ‘n Bybel in die han­de kry en dit begin lees, sal jy groot probleme optel as jy alles glo en doen wat jy lees. Jy sal vroeg in Genesis jou seuntjies besny. Vroeg in Eksodus sal jy begin weier om Saterdae te werk. Later in Eksodus sal jy na die tabernakel begin soek en na priesters om jou offers te bring. As jy Levitikus lees en glo en doen, sal jy da­delik ernstig met die gereg bots omdat jy jou buurman se seun, wat sy ma gevloek het, met klippe wou doodgooi. En so kan ‘n mens aangaan. Teen die tyd dat jy by die Nuwe Testament kom en ontdek dat hierdie wette en gebruike nie meer vir Christene geld nie, sal jy voel dat die Chris­tengemeenskap jou in die steek gelaat het deur jou nie vooraf te vertel dat ‘n mens eintlik die Bybel van agter af moet verstaan nie.

Ons kan dankbaar wees dat ons deel is van ‘n geloofsgemeen­skap (medegelowiges, ouers, onderwysers, vriende) wat ons van kleins af help om iets van die Bybel te verstaan nog voor ons dit regtig ernstig begin lees. Daarom weet ons dat Christus die opset van die Ou Testament op ‘n omvattende manier verander het sodat ons as Christene die Ou Testament nooit net op sy eie kan lees en toepas in ons lewe nie, maar altyd in die lig van die Nuwe, wat eintlik beteken in die lig van Jesus. Daar is nie ‘n geruislose oorgang van die Ou Testament na die Nuwe nie. ‘n Mens sit jou motor in ‘n totaal ander rat as jy in die Nuwe inry, al is dit nog altyd dieselfde motor waarmee jy ry.

Maar wat dan van die duidelikheid van die Bybel? Is die ou gedagte dan reg dat ‘n mens nie te diep op die Bybel moet ingaan nie omdat jy maklik jou kop kan verloor? Of dat ‘n mens nie self te veel Bybel moet lees nie, maar liewer vir die predikant moet vra om alles te verduidelik? In die tyd van die *Kerkhervorming wou die *Katolieke Kerk nie die Bybel vertaal nie omdat dit gevaarlik sou wees vir die gewone mense om dit te lees. Daar het te veel dwalings daardeur ontstaan omdat dit moeilik is om te verstaan.

Daarteenoor het Protestante altyd groot prys daarop gestel dat gewone lidmate die Bybel lees. Die Protestante het ook dadelik be­gin om die Bybel te vertaal omdat dit omtrent net in Latyn beskik­baar was. Maar hulle het altyd geweet dat ‘n mens die Bybel lees terwyl jy deel van ‘n geloofsgemeenskap is. Jy kry van kleins af ‘n aantal basiese insigte wat jou dinge van die begin af in perspektief laat sien.

Jy leer vroeg al dat dit eintlik in die Bybel oor Jesus gaan, en daar­om sien jy van die begin af juis die dele in die Bybel raak wat oor Hom handel, en baie daarvan is ook maklik genoeg om te verstaan. Oor en oor lees ons in die Nuwe Testament dat Hy deur wonderwerke die koninkryk van God laat kom het, dat Hy aan die kruis vir ons sonde gesterf het, en dat Hy uit die dood opgestaan het om ons deel te gee aan sy nuwe lewe. Verder dat ons gered word van die oordeel van God as ons in Jesus as ons Verlosser glo, en so kan ons aangaan. Uiteindelik gaan dit om die boodskap van die Bybel, die ryk boodskap oor Jesus. In hierdie opsig is die Bybel duidelik vir enigeen wat deel is van ‘n groter geloofsgemeenskap. Maar dit verander nie die feit dat daar baie ingewikkelde dinge in die Bybel is wat ons nie sonder baie bykomende kennis kan verstaan nie.

 

• Gesag

Net soos die duidelikheid van die Bybel hou sy gesag (én sy in­spirasie) ook direk verband met sy boodskap. As dit in die By­bel om Jesus gaan, is dit die boodskap oor Jesus wat vir ons ge­sag het. Omdat dit oor Jesus gaan, is die Bybel nie ‘n wetenskaplike hand­boek of ‘n handboek oor die aardrykskunde van Palestina nie. Dan het die Bybel nie gesag oor die natuurwetenskappe of oor aardrykskunde nie.

Dit beteken dat die *wêreldbeeld van die Bybel nie gesagvol is nie. Ons het vandag ‘n ander beeld van die heelal, baie anders, baie groter en baie ouer as wat die Bybelskrywers gedink het.

Natuurlik is dit dus elke keer weer ‘n vraag: Wat het dan vir ons vandag gesag in die Bybel? Natuurlik die boodskap van die Bybel, die boodskap oor Jesus. Maar presies wat in die Ou Tes­tament is nou deel van hierdie boodskap?

Toe ons die boodskap van die Bybel bespreek het, het ons op­gemerk dat omtrent alles in die Bybel op Jesus uitloop, in elk geval alles wat in die Ou Testament belangrik is: die skepping, Abraham, die uittog, die konings, die profete, die priesters. In Hom is vervul die beloftes oor die Messias, die profeet, die hoëpriester, die Seun van die mens, die dienaar, die Woord, en noem maar op. Dit is die dinge wat regtig ‘n rol speel in die Ou Testament, en al hierdie dinge trek in Jesus saam.

Dit beteken ons kan die gesag aanvaar van die dinge/sake/ampte wat:

1.            oor en oor in die Bybel voorkom

2.            in verskillende verbande voorkom

3.            op een of ander manier met Jesus in verband staan

4.            teologiese betekenis het

 

Dink maar net aan die verskil tussen die uittog en die bevel om ‘n kind wat sy of haar ouers vloek, met klippe dood te gooi. Dink aan die verskil tussen die vensters in die hemel waardeur die reën val, en die beloofde Messias. Dink enersyds aan die seën­spreuk oor die een wat Babel se babatjies teen klippe ver­brysel, en andersyds aan die Naam van God as die God van die weduwees, weeskinders en vreemdelinge, die regteloses. Die eerste een bly gelukkig in die Psalms agter, die tweede een kry heerlik in Jesus gestalte.

‘n Onfeilbare maatstaf is dit bepaald nie, maar wel ‘n hulp om ons aandag op die wesenlike te bepaal.

• Betroubaarheid (onfeilbaarheid)

Dit is in hierdie lig wat ons ook na die betroubaarheid van die Bybel moet kyk. Daar is mense wat verkies om van die onfeilbaar­heid en selfs van die foutloosheid van die Bybel te praat. Hierdie rigting staan bekend as die *Fundamentalisme wat graag sê: Elke boek, elke hoofstuk, elke sin, elke woord, elke letter in die Bybel kom direk van God af. En omdat God onfeilbaar is en nooit ‘n fout maak nie, kan daar geen enkele fout in die Bybel wees nie. Dit is immers God se Woord.

‘n Mens kan maar net respek hê vir die wonderlike vroomheid en vir die eerbied vir God en die Bybel wat hieruit straal. Ons mag nooit minder respek en bewondering vir Hom en sy Woord hê as wat hier na vore kom nie. Maar as ons oopkop na die Bybel kyk, kry ons baie probleme wat nie so maklik onder die tafel ingevee kan word ter wille van wonderlike eerbied nie. Elders blyk dit dan ook dat die Fundamentalisme nie gehandhaaf kan word in die lig van die probleme wat ons in die Bybel kry nie.

Maar daar is ‘n dieper verskil, ‘n verskil in uitgangspunt. Die Fun­damentalisme begin met ‘n dogmatiese uitgangspunt oor die Bybel (dit is deur God ingegee en daarom kan daar geen verskille of teensprake van enige aard in wees nie), en dan is hulle verplig om al wat na teensprake of verskille lyk, weg te verklaar. Dit maak dit uiters moeilik om eerlik na probleme te kyk. Jy weet al vooraf jou gevolgtrekking moet wees dat dit nie regtig bestaan nie. Hoe jy die probleme gaan verklaar, weet jy nie vooraf nie, maar wel dat jy gaan bevind dat dit nie regtig bestaan nie.

Daarteenoor gaan ons eerlik na die Bybel kyk en vra of daar verskille of probleme is, en hoe ons dit kan hanteer. As daar botsen­de standpunte of verhale is, erken ons dit. As daar verklarings van dinge is wat nie werk nie (hoe reën gevorm word), erken ons dit ook. En daarna vra ons dan of die Bybel betroubaar is en wat ons daarmee bedoel.

 

Probleme in die Bybel

Daar is twee groot groepe probleme wat ons moet bekyk en dan vra hoe ons die betroubaarheid van die Bybel in die lig daar­van moet verstaan. Die een is die ver­skille wat daar in die Bybel is, veral tussen die Evangelies. En die ander is die verskille tussen die presiese woorde wat in die Ou Testament staan, en die woorde wat die skrywers van die Nuwe Testament gebruik as hulle dit aanhaal.

Die verskille tussen die Evangelies word onder die *Sinoptie­se pro­bleem behandel, en die bevinding is dat daar inderdaad pro­­bleme deur die verskille geskep word, dat sommige van die verskille taamlik ingrypend is en skynbaar nie opgeklaar kan word nie, maar dat hierdie verskille nie ons geloof aantas nie omdat dit nie die hart van die geloof raak nie, maar net kleiner besonderhede.

Die verskille tussen die Ou Testament en die Nuwe. Die twee­de saak is die vreemde manier waarop die skrywers van die Nuwe Tes­tament die Ou Testament aanhaal. Daar is interessante ver­skille tussen die spesifieke woorde in die Ou Testament en die woorde wat die skrywers van die Nuwe Testament gebruik as hulle dit aanhaal. Hierdie saak is uiters belangrik, maar dit is nie so maklik nie, en dit het ‘n baie interessante geskiedenis. Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde.

Jakobus haal Amos 9:11-12 in Handelinge 15:16-17 aan.

Daardie dag bou Ek die vervalle hut van Dawid weer op; Ek stop sy barste toe en bou sy murasies op, Ek herbou hom soos hy in die ou tyd was, sodat my volk die oorwinnaar sal wees oor wat van Edom oor is, oor al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, sê die Here.

Amos 9:11-12

Daarna sal Ek terugkom, en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou, en Ek sal sy bouvalle herstel en dit weer regmaak, sodat al die ander mense die Here kan soek, ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees, sê die Here wat hierdie dinge doen.

Handelinge 15:16-17

Die dele wat nie gekursiveer is nie, het ook verskille, maar dit is nie so opvallend of belangrik nie. Die twee gekursiveerde dele verskil egter radikaal. Die deel in Amos beloof ‘n militêre oor­winning vir Israel oor een van sy ou vyande, Edom, en sommer oor ‘n klomp ander volke ook. Maar die aanhaling in Handelinge is ‘n sendingteks! Die naaste wat ‘n mens die twee aan mekaar kan bring, is om die tweede ‘n geestelike oorwinning te noem. Maar wie “oorwin” word, verskil heeltemal. Edom word al die an­der mense, en die nasies oor wie die Here se Naam uitgeroep is (dit beteken wat onder sy gesag kom), word die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees.

Daar is talle sulke voorbeelde. Die opmerksame By­bel­leser sou al gesien het dat daar onderaan die bladsy by Han­delinge 15 staan: “Vgl. Amos 9:11-12.” Die “Vgl” is “verge­lyk”. Die vertalers wil hier (en op baie ander plekke waar aan­halings gemaak is) nie die leser verwar deur eenvoudig te skryf: Amos 9:11-12 nie, want die verskil is te groot. Maar Jakobus sê uitdruk­lik dit is wat die profeet gesê het.

Waar kry Jakobus hierdie vreemde woorde? En dan nogal woorde wat die punt wat hy wil maak, ten volle ondersteun. Hy is met ‘n sendingtoespraak besig, en hy gebruik ‘n uitspraak oor ‘n militêre oorwinning. Maak hy met die Ou Testament wat hy wil?

Kom ons kyk eers gou na nog ‘n voorbeeld.

‘n Jong vrou sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.

Jesaja 7:14

Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.

Matteus 1:23

Ook hier is kleiner verskille wat nie so belangrik is nie. Maar die verskil tussen jong vrou en maagd is uiters belangrik. ‘n Jong vrou is nie noodwendig ‘n maagd nie.

Hoe werk dit dat die skrywers van die Nuwe Testament so snaaks aanhaal uit die Ou Testament? Trouens, so op die oog af lyk dit of hulle sommer na willekeur die teks verander om hulle behoefte te pas. Jakobus wil in sy toespraak die punt van die sending onder die heidene maak. Maar Amos se teks sê heeltemal iets anders. Verander Jakobus dit sommer soos hy dit nodig het? En Jesaja profeteer van ‘n jong vrou wat ‘n seun sal hê. Verander Matteus dit sommer in “maagd” omdat dit die situasie pas? Immers, hy wil sê dat Jesus uit die maagd Maria gebore gaan word.

Op hierdie vrae moet ons nee antwoord. Daar is inderdaad goeie verklarings vir hierdie vreemde toedrag van sake.

 

• Die Septuagint

Die vroeë Christene het die Ou Testament in twee verskillende vor­me gehad. Hulle het die Hebreeuse Ou Testament gehad (die Maso­re­tiese teks), en hulle het ‘n Griek­se vertaling gehad, die Septua­gint of LXX. Die Jode het die Septuagint gemaak omdat daar baie Jode om die Middellandse See versprei het en hul kinders nie meer Hebreeus of Aramees geken het nie. Grieks was die “wêreldtaal”. Selfs in Aleksandrië in Egipte was Grieks die algemene taal. Daar­om het die Joodse godsdienstige leiers ‘n Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament laat maak, waarskynlik ongeveer 200 vC. Daar is baie kleiner in­te­ressanthede oor hierdie vertaling wat nie regtig belangrik is nie. So is daar die verhaal dat dit deur 72 Jode gedoen is, ses uit elk van die twaalf stamme. Daarom word daar van die LXX gepraat, wat 70 in Latynse syfers is. Die verhaal lui verder dat die 72 geleerdes elk in ‘n afgeslote kamer gaan werk het en die hele Ou Testament vertaal het. En toe hulle dit agterna vergelyk, was almal se vertalings woordeliks dieselfde. Augustinus het dan ook geglo dat die Septuagint net so geïnspireerd was soos die Hebreeuse teks.

Die vroeë Christene het hierdie vertaling bo die Hebreeus ver­kies. Die eerste rede is dat dit in Grieks was en dat die evan­gelie vinnig in die Griekssprekende wêreld versprei het. Al Pau­lus se sendingwerk is deur middel van Grieks gedoen. Maar daar was ‘n ander en belangriker rede. Die Septuagint het hulle boodskap oor Jesus goed gepas.

Die Septuagint was nie ‘n gewone vertaling soos ons dit van­dag verstaan nie. Die vertalers het sekere oogmerke met die ver­taling gehad, en dit duidelik deur allerlei veranderings en toevoegings probeer bereik. Hulle het die vertaling gedoen in ‘n tyd waarin dit sleg gegaan het met die Jode en hulle al baie rondom die Middellandse See versprei het. Die vertalers het dus onder andere twee dinge probeer bereik: om die Jode weer moed te gee en om hulle te motiveer om hul geloof met heidene te deel. Om hulle moed in te praat wou hulle klem lê op die beloofde koms van die Messias wat Israel van sy vyande sou bevry. Dit beteken dat hulle heelwat tekste in die Ou Testament wat nie regtig na die Messias verwys het nie, só vertaal het dat dit wel op die Messias toegepas kon word. Ons praat van die Messianisering van die Ou Testament in die Septuagint. Om hulle te motiveer om hulle geloof met die heidene te deel, is tekste wat niks met sen­ding te doen gehad het nie in sendingtekste verander. In hierdie geval praat ons van Missionisering. Kom ons kyk net na ‘n paar voorbeelde, eers van Messianisering.

Messianisering en Missionisering

Numeri 24:7 lui in die Hebreeus: “Israel se waterkruike loop oor, hy saai waar oorvloed water is.” Dis ‘n pragtige profesie vir Israel wat in ‘n droë land woon. Maar in die Septuagint lui dit: “Iemand sal uit sy nageslag kom en hy sal heers oor baie volke.” Dit is duidelik dat dit verander is sodat dit op die Messias toegepas kan word. In Genesis 47:31 word “bed” vertaal met “septer” wat maklik met die komende Messias verbind kan word omdat ‘n koning ‘n sep­ter gedra het. Die Messias gaan tog kom heers. Net so Jesaja 11:1 waar die Hebreeus vir “takkie” vertaal word met “heerserstaf”. In Jeremia 3:19 word die Hebreeus: “Hy sal ‘n besitting kry wat lief­li­ker is as enigiets wat enige nasie het,” verander na: “die Here, die mag­tige heerser oor die nasies.” Nogeens die Messias wat Israel van sy vyande kom bevry.

Al hierdie tekste kon die Christene nou as Messiaanse tek­ste gebruik en op Jesus toepas, baie meer as wat ooit in die He­breeu­se Ou Testament voorgekom het. Die een teks wat hulle dank­baar­der as enige ander een aangegryp het, is Jesaja 7:14 waar die Hebreeuse “jong vrou” verander is na “maagd”. Dis dan ook hoe dit in Matteus 1:21 gebruik word. En dis presies wat hulle oor Jesus geglo het. Hulle kon dus uit die Ou Testament “bewys” dat Jesus die beloofde Messias is, want Hy is uit ‘n maagd gebore. Dink nou net aan Handelinge 18:5, 28, voorbeelde van hoe die apostels deurgaans probeer het om die Jode te oortuig dat Jesus van Nasaret hierdie beloofde Messias (Christus) is.

Naas hierdie Messianisering was daar ook die Missionisering van sekere tekste in die Ou Testament. Na een van die opvallend­ste het ons alreeds gekyk. Amos 9:12 lui in die Hebreeus: “Sodat my volk die oorwinnaar kan wees oor wat van Edom oor is, oor al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, sê die Here.” In die Septuagint lui dit: “Sodat al die ander mense (die Here) kan soek, ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees, sê die Here (God) wat hierdie dinge doen.” Die woorde tussen hakies kom nie in die Septuagint voor nie, maar word deur Jakobus ingevoeg (Hand 15:16-17).

Wat beteken dit? Eerstens dat ons nou besef waar die vreemde aanhalings van Ou-Testamentiese tekste in die Nuwe Testament vandaan kom. Die apostels het die Septuagint bo die Hebreeu­se Ou Testament verkies en hulle aanhalings daaruit gedoen – ge­woonlik uit die kop, en daarom soms met kleiner veranderings. Die vreemde aanhalings kom dus uit die Jode se eie vertaling van die Ou Testament, en nie van die Christene af nie.

Wanneer ons by die inspirasie van die Bybel kom, sal ons ver­der na hierdie interessante verskynsel kyk. Maar wat die be­trou­baarheid van die Bybel betref, is dit nogeens duidelik dat hierdie veranderings van die Ou Testament wat via die Septua­gint in die Nuwe Testament ingekom het, op geen manier ons geloof kan bedreig nie. Die dinge wat die Septuagint verander het, druis nie in teen ons geloof nie, dit versterk dit net. Daar het in elk geval genoeg profesieë oor die komende Messias in die Ou Testament gestaan. Die Septuagint het dit net vermeerder. En wat die sendingtendens betref, was die motief vir die sending in elk geval van die begin af in die Ou Testament teenwoordig, want God is van Genesis 1 af die God van die hele wêreld en van alle volke, en Hy het juis vir Abraham uitgekies om deur hom al die volke te seën (Gen 12:3). Dus het net die metode hoe Hy uitreik na die ander volke in die Nuwe Testament verander. Van toe af moes die Christene uitgaan na die heidene, iets wat in die Ou Testament nog nie bekend was nie, al het daar al in Jona iets daarvan deurgeskemer. (*Sending)

Dit beteken dat die verskille tussen die Evangelies en die vreem­de aanhalings van die Ou Testament in die Nuwe nie die be­trou­baarheid van die Bybel in gedrang bring nie. Dit waaroor dit in die Bybel gaan, die boodskap van die Bybel, word nie daardeur onseker gestel nie.

Nogtans wys hierdie vreemde aanhalings en ook die werk­li­ke verskille tussen die Sinoptiese Evangelies (*Sinoptiese probleem) dat dit moeilik is om die *Fundamentalisme te aanvaar, hoe vroom die motiewe van hierdie siening ook al is.

Tot dusver het ons net negatief gekyk na die betroubaarheid van die Bybel: daar is niks wat daarteen spreek nie. Maar is daar ook dinge in die Bybel wat ons geloof dat die Bybel betroubaar is, steun en versterk?

Positiewe getuienis vir die betroubaarheid

Daar is belangrike tendense in die Bybel wat ons vertroue ver­sterk. Daarvoor kan ons weer na die Evangelies kyk en later na die uittogverhale. Die beeld wat die Evangelies van die dissipels teken, is een van die sterkste voorbeelde. Om dit te verstaan moet ons onthou dat die dissipels die kerkleiers was in die tyd toe die Evangelies geskryf is, so omtrent teen die jare 65/66 nC.

Die negatiewe prentjie van die dissipels

Die dissipels word uiters negatief weergegee in die Evangelies. Dink maar net aan die prentjie wat ons kry van die drie lydens­aankondigings van Jesus. Trouens, net voor die eerste een is Jesus alreeds moedeloos oor hulle. Lees gerus sy uiters negatiewe woorde aan hulle (Mark 8:16-21). Daarna kom die eerste lydens­aankondi­ging (Mark 8:31-33). Net na die hoogtepunt van Petrus se belydenis dat Jesus die verwagte Messias is, kom die totale misverstand oor Jesus se Messiasskap aan die lig, en word Petrus diep verneder oor sy onbegrip. Hy word Satan genoem! Van een ding kan ons seker wees: dit moes werklik gebeur het. Drie van die Evangelies dra dieselfde boodskap. Waarom sal al drie Evangelies in die sestigerjare van die eerste eeu Petrus onnodig negatief wil voorstel terwyl hy ‘n sentrale rol in die kerk speel? Die teendeel is eerder waar. Dit het moed gekos om die waarheid ronduit te vertel, want dit is onge­looflik negatief. Dié kerkleier is deur Jesus self Satan genoem.

En hier hou dit nie op nie. Net daarna kom die tweede ly­dens­aankondiging (Mark 9:30 ev). Hierdie keer is dit nie net Petrus nie, maar sommer ‘n algemene stelling: “Hulle het dit nie verstaan nie.” En dan die verdere vernedering: hulle het met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is. En dit terwyl Jesus oor sy komende lyding praat omdat Hy ondersteuning by hulle vra. Hy gaan verwerp word en ly, maar hulle stry oor wie die belangrikste is. Dit skryf jy net oor kerkleiers as dit regtig gebeur het. Die Evangelies is betroubaar.

Die dissipels se reaksie op die derde aankondiging span die kroon (Mark 10:32 ev). Weer geen ondersteuning vir Jesus nie. Weer geen begrip nie. Hulle kan hulle eenvoudig nie ‘n Messias voorstel wat gaan ly en verwerp word nie. Die Messias moet hulle dan van die Romeine kom bevry. Daarom Jakobus en Johannes se versoek om die belangrikste posisies in die nuwe regering te kry. Maar onthou, hulle was saam met Petrus die driemanskap wat die naaste aan Jesus gestaan het. Dit beteken Jesus se naaste ondersteuners het geen begrip of meelewing nie. Geen evangelis sou dit vertel het as dit nie regtig gebeur het nie.

Die verhaal hoef nie verder gevolg te word nie. Die verraad deur Judas, die verloëning deur Petrus, die vlug van al die dis­sipels toe Jesus gevang word, hulle afwesigheid by die kruis en die begrafnis, die afwesigheid by die leë graf Sondagmôre, dit word al erger.

Maar die punt is gemaak. Ons kan die evangeliste vertrou. Hulle het, selfs as dit ongetwyfeld moeilik was, selfs as die versoe­king sterk moes gewees het om die vernedering vir die kerkleiers te versag deur alles bietjie af te water, die verhaal vertel soos hulle dit beleef of nagevors het (Lukas).

Die uittog

Presies dieselfde geld van die uittogverhaal. Dis een groot ver­nedering vir Israel om so ‘n begin te hê. Daar is op die ou end nie ‘n enkele rolmodel in hulle ontstaansgeskiedenis nie. Selfs Moses moes buite die beloofde land sterf. Geen volk dink so ‘n ont­-s­taansgeskiedenis uit nie. Dis vernederend. Dit beteken nog ‘n keer dat ons die Bybelskrywers kan vertrou. Die uittogverhale moet in groot lyne die ware toedrag van sake weergee.

 

• Kanon

Dit is ‘n vraag of die boeke wat ons in die Bybel het, presies die regte boeke is. Is daar nie dalk van hierdie boeke wat nooit in die Bybel ingesluit moes gewees het nie? En is daar nie boeke wat nooit ingesluit is nie, maar wat tog eintlik in die Bybel hoort nie?

Daar is ‘n antwoord wat baie populêr is, maar nie regtig aan­vaarbaar is nie. Dit is dat die Heilige Gees die kerk onfeilbaar gelei het om juis hierdie boeke en ook nét hierdie te erken en in die Bybel in te sluit.

Die probleem met hierdie antwoord is dat daar inderdaad vir baie eeue lank meer boeke in die Bybel ingesluit was as wat ons vandag het. Oor die Nuwe Testament is daar min verskil, maar die *Katolieke Kerk erken meer boeke as deel van die Ou Testament. Hulle volg die apostels en die vroeë Christene wat die Septuagint gebruik het. In hierdie Griekse vertaling van die Ou Testament was omtrent twaalf ekstra boeke en byvoegings by boeke ingesluit. Dink maar aan die Makkabeërboeke, die Wysheid van Salomo, Tobit en Judit. Vir 1 500 jaar was dit die Ou Testament van die kerk, totdat die Hervormers besluit het dat hulle nie hierdie ekstra boeke erken nie. Van toe af het die Protestante ‘n dunner Bybel as die Katolieke.

Hoe nou? Dit help baie as ‘n mens aanvaar dit gaan nie om die presiese getal boeke nie, maar om die boodskap van die By­bel. Onder die betroubaarheid en die gesag van die Bybel het ons hierna gekyk. Dit maak nie soveel saak of daar ‘n paar boe­ke bykom of weggelaat word nie. Die ekstra boeke wat in die apostels se “Bybel” (die Septuagint) was, het hulle nie by ‘n ander boodskap uitgebring as dit wat ons vandag uit die dunner Ou Testament kry nie. Die groot lyne van die boodskap is duidelik en staan vas. Die sake waaroor dit werklik gaan, kom oor en oor voor, en is nie tot een boek beperk nie.

 

• Inspirasie

Ons kry presies dieselfde standpunt as ons vra na die inspirasie van die Bybel. Ook in hierdie verband is daar die pragtige oortuiging van die *Fundamentalisme dat elke woord in die Bybel direk van God af kom omdat dit deur die Gees geïnspireer of ingegee is. Maar ons het gesien dit is nie heeltemal so eenvoudig nie. Dink maar aan Amos 9:11-12. Ons het gesien daar is drie verskillende stelle woorde vir hierdie twee verse in die Bybel: die Hebreeuse Ou Testament, die Septuagint, en die Nuwe Testament (Hand 15:16-17). As elke woord in die Bybel nou letterlik net so deur die Gees ingegee is, watter woorde het Hy gegee? Is die Ou Testament, die Septuagint, of die Nuwe Testament geïnspireer? En wat van al die kleiner verskille tussen die Evangelies?

As ons aanvaar dat die boodskap van die Bybel geïnspi­reer is, val hierdie vrae weg. Wat in die verhaal van die blindes deur die Gees ingegee is, is nie hoeveel blindes dit was nie, maar dat Jesus sy of hulle gesig herstel het (Matt 20:30; Mark 10:46).

Ons kan gerus ook ‘n oomblik kyk na die twee tekste wat ge­bruik word vir die inspirasie van die Bybel. Ons lees uitdruklik: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer” (2 Tim 3:16). Drie dinge is in hierdie verband belangrik. Eerstens het ons hier ‘n baie “hoë” Skrifbeskouing. Die 1953-vertaling het gelui: “Die hele Skrif is deur God ingegee.” Dit moet tenminste beteken dat God agter die Skrif sit, dat Hy baie direk betrokke was by die ontstaan van die Skrif. ‘n Mens kry dieselfde indruk uit die ander teks: “Deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig” (2 Pet 1:21). Hier is eintlik van ‘n dubbele aktiwiteit van God sprake. Die profete se woorde kom van God af en die Gees het hulle meegevoer of aangedryf om dit te spreek. ‘n Mens kan nie anders as om met ‘n “hoë” Skrifbeskouing te eindig nie: die Skrif dra die gesag van God.

Tweedens word hier egter nie verduidelik presies hoe God se betrokkenheid by die ontstaan van die  Skrif gewerk het nie. Dit is nie sonder meer duidelik wat onder inspirasie bedoel word nie. Sommige verstaan dit so dat elke woord direk deur God inge­gee is. Maar hier staan nie regtig so iets nie.

En derdens is dit ‘n vraag wat onder “die Skrif” verstaan word. Ons weet dat Paulus en die ander skrywers van die Nuwe Tes­ta­ment by voorkeur die Septuagint gebruik het. Ons het gesien dat dit allermins ‘n woordelikse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament was. Inteendeel, daar is heelwat vertalings wat vreemd is en ander wat duidelik bepaalde oogmerke wou bereik wat nie in die Hebreeus aanwesig was nie. Maar dit beteken dat ‘n onnoukeurige vertaling van die Ou Testament volgens hier­die tekste deur God ingegee, van God afkomstig, deur die Gees ge­drewe is. Immers, die apostels het hierdie vertaling in die Nuwe Testament aangehaal as die Woord van God. Dit kan dus lankal nie meer beteken dat God elke woord aan die skrywer ge­gee het nie. Dit kan op sy beste beteken dat God (deur die Gees) die skry­wers gelei het om die groot lyne (boodskap) in die Bybel te ver­staan en elkeen op hul eie unieke manier weer te gee.

Net soos by die gesag en betroubaarheid van die Bybel, is dit nogeens duidelik dat dit om die boodskap van die Bybel gaan en nie om allerlei kleiner besonderhede nie.

• Woord van God

Christene bely dat die Bybel die Woord van God is. Daar word verskillende inhoude daaraan gegee. Die een uiterste is dat elke woord in die Bybel direk van God af kom. (*Fundamentalisme) Die ander uiterste is dat ons in die Bybel eintlik net woorde oor God het, mense se ervarings wat hulle aan God toeskryf. Tussenin lê baie skakerings.

Natuurlik is dit mense wat die Bybel geskryf het, nie God nie. En natuurlik het mense geskryf wat hulle van God beleef het. Maar daar is meer as net dit. Dink maar net aan Jesus. Hy het God tog op ‘n unieke manier verteenwoordig. Sy woorde is tog meer as ‘n mens se woorde oor God. Daar is ‘n sin waarin Hy self God was (*Goddelikheid van Christus), sodat sy woorde God se woorde is. As ons nou onthou met watter eerbied Hy oor die Ou Testament gepraat het, kan ons nie anders as om ook aan die Ou Testament meer gesag toe te ken as net mense se woorde oor God nie. Daar is ‘n sin waarin God deur hierdie mense gepraat het. Die skrywers van die Ou Testament het hulle beroep op ‘n direkt­heid in God se omgang met hulle wat ons nie so maklik in twy­fel kan trek nie. En selfs vandag nog is daar groepe Christene wat glo dat hulle direkte woorde van God kry. Hulle ontvang profe­sieë oor die wil van God. Dit hang saam met ‘n bepaalde spiritualiteit waaraan nie alle Christene deel het nie.

En tog moet ons versigtig wees om dit wat ons uit die Bybel af­lei (dit beteken die interpretasie wat ons aan die Bybel gee), te maklik die woorde van God te noem. Na alles moet ons dit lees en interpre­teer. En ons weet goed genoeg hoe verskillend men­se se interpreta­sies is. Die beste wat ons dus ooit kan hê, is ons interpretasie van God se Woord.

Juis daarom is dit so belangrik om in gemeenskap met Chris­tene uit ander tradisies te leef. Dit is altyd ‘n korrektief op ons eie interpretasie wat baie sterk deur ons situasie en ons groep se oor­tuigings beïnvloed word.

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Biskop

Die Groot Geloofswoordeboek: Biskop

‘n Biskop is deel van ‘n hiërargiese sisteem van kerkregering (*Amp), dit wil sê ‘n sisteem waarin sommige ampsdraers gro­ter ge­sag het as ander. Dit staan teenoor die sogenaamde presbi­teriale sisteem waarin alle ampte in die kerk gelyk is. Daar is ‘n hiërargiese sisteem in hoogkerklike denominasies, soos die *Katolieke Kerk, die *Anglikaanse Kerk, en die *Ortodokse Ker­ke van Oos-Europa. In die Katolieke Kerk is daar van onder af: pries­ters, biskoppe, aartsbiskoppe, kardinale en die pous heel bo. Elke amp is belangri­ker en dra meer gesag as die vorige een. Die biskop is die hoof van ‘n diosees, wat uit ‘n aantal kerke/ge­meentes in ‘n bepaalde gebied bestaan.

 

Hierdie sisteem staan teenoor die presbiteriale sisteem in die Gereformeerde wêreld waar alle ampte (predikant, ouderling, dia­ken) gelyk is (of ten minste behoort te wees) sodat die een nie ge­sag oor die ander het nie.

 

In die Bybel kom die woord “biskop” nie in Afrikaanse ver­talings voor nie. Daar is ‘n Griekse woord episkopos/episkope (Hand 20:28; Fil 1:1; 1 Tim 3:2; Tit 1:7; 1 Pet 2:25) wat in Katolieke vertalings met biskop vertaal word. Protestantse vertalings wis­sel tussen opsie­ner/overseer, gemeenteleier en ouderling/elder, met die probleem dat daar alreeds ‘n ander woord is wat redelik konsekwent met ouder­ling of oudste vertaal word (presbuteros, Engels: presbyter). Die verskil tussen Katolieke en Protestante oor die vertaling van epi­skopos is interessant. Die Katolieke gebruik graag “biskop” omdat dit hulle pas om dié woord in die Bybel te hê. Hulle het immers die amp van biskop in die kerk. Maar dit pas nou weer die Protestan­te om nie hierdie woord in die Bybel te hê nie omdat hulle nie so ‘n amp het nie. Dis ‘n interessante voorbeeld van hoe ‘n vertaler se eie situasie die vertaling (soms onbewus) beïnvloed. (*Bybelverta­ling)

Alle woorde gemerk met  ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König