Christelike Gradering

Christelike Gradering – Jan van der Watt

Johan Lotter vra:

Jesus groete uit die weskus uit. Ek is besig om n studie te doen of te skryf-Christen Rating. Dit klink snaaks maar ek vind dit interessant – ons by die werk word elke 6 maande gerate (Performance Contract). Hier is ons metode: exelent performer, high performer, good perfomer, acceptable performer en trier. Ek sê net Engele is exelent performers; High perfomers – soos Noag, Moses ens. Nou moet ek nog by die laaste 3 uitkom ,ek sal dit baie waardeer as ek hulp kan kry om die laaste 3 in die Bybel of verse te kan identifiseer Ek wil vasstel waar is ek en selfs ook ander mense in die rating Agape groete uit die Weskus-Vredenburg

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Dit is bewonderenswaardig dat daar nog besighede is wat graag hulle mense wil rate volgens die standaarde van die Bybel. Ek twyfel egter of dit regtig moontlik is om ons graderingsisteme om daardie basis op te stel, nie omdat die Bybel nie ook praat van uitnemende of minder uitnemende mense nie. Die redes lê elders. Ek noem net ʼn paar.

 

a)      In die Bybelse tyd het besighede en die samelewing heeltemal anders gewerk as vandag. Dit was meestal klein familiebedrywe (soos Simon Petrus se familie het vis gevang, Jesus se familie was skrynwerkers of bouers, Paulus se familie materiaal- of leerwerkers). Die verwagtings in die bedrywe was heeltemal anders as wat dit vandag is. Ons kan dus nie die maatstawwe van die situasie van 2000 jaar gelde net so op vandag toepas nie, want ons werk nie meer so nie en die eise van ʼn kapitalistiese sisteem (wat hulle nie geken het nie) is anders.  Byvoorbeeld, in daardie tyd was daar nie versekeringsmaatskappye, pensioen of sulke dinge nie. Die mense (veral families) het maar na mekaar omgesien. Daarom was die opdrag om van jou goed weg te gee as byvoorbeeld weduwees of wese behoeftes het. Hulle het geen ander manier gehad om te oorleef nie. Vandag registreer ons ons werkers by pensioenprogramme ens. om die probleem op te los.

Tog is daar waardes wat ons uit die Bybel kan gebruik om ons te help. Byvoorbeeld, om pligsgetrou te werk, om betroubaar en eerlik te wees, ens. is beginsels wat sekerlik gebruik kan word. Let egter daarop dat ek hier van beginsels praat en nie van mense wat goed of sleg presteer het nie. Prestasie word altyd in terme van iets gemeet. Jy stel aan die begin van die jaar kriteria op waarvolgens die persone dan moet optree en daarna word die optrede aan die hand van die kriteria gemeet. Soos die kriteria verskil sal die aksies wat verwag word ook verskil. Noag was in sekere opsigte goed (hy was gehoorsaam om die ark te bou en was seker ʼn goeie presteerder, maar toe hy uit die ark klim het hy so droog gemaak dat hy waarskynlik nie vir promosie of ʼn verhoging sou kwalifiseer nie). Wat egter vir alle graderings wat opgestel word geld, is dat daar bv. eerlik, opreg, hardwerkend en doelgerig opgetree moet word, om maar ʼn paar van die beginsels te noem. Dit sou miskien beter wees om liewer op daardie Bybelse riglyne te konsentreer in die opstel van die graderingsdokumente as op sekere figure.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Bevrydingsteologie

Die Groot Geloofswoordeboek: Bevrydingsteologie

Die Bevrydingsteologie het sedert die 1970’s die sogenaamde Teo­logie van die Revolusie vervang en vinnig gegroei. Dit het onder onderdrukte en miskende Christene ontstaan wat nie langer geglo het dat alles deur God beskik word sodat elkeen tevrede moet wees in die situasie waarin God hom of haar geplaas het nie. (*Calvyn, *Arminius, *Voorsienigheid) Hulle het in opstand gekom teen hul­le vernedering en hulle daarvoor op die Woord van God beroep. Hulle het veral daarop gewys dat God in die Ou Testament die God van die minderbevoorregtes is, die God van die weduwees, weeskinders en vreemdelinge. Hulle het daarvan begin praat dat God vír die armes en téén die rykes kies.

‘n Hele paar vorme van Bevrydingsteologie het intussen ont­wik­kel, soos Latyns-Amerikaanse Bevrydingsteologie, Swart Be­vrydingsteologie, Feministiese Teologie, Ekologiese Teologie.

In Suid-Afrika het veral die laaste drie vorme belangrik ge­word. Die *Feminisme is elders behandel.

  • Swart Bevrydingsteologie

Swart Bevrydingsteologie was die godsdienstige inspirasie ag­ter die bevrydingstryd voor 1994. Dit het radikaal teenoor die apart­­heidsteologie en die apartheidsisteem gestaan. Die *Belydenis van Bel­har is deels hierdeur geïnspireer, al is dit eweneens ‘n oor­ver­een­vou­diging om Belhar geheel en al op hierdie teologie se reke­ning te skryf. Soliede Gereformeerde Teologie wat nie aan die apart­heid­s­-ideologie uitverkoop was nie, was genoeg om Belhar te skryf en apartheid te veroordeel. Baie van die teo­loë wat apartheid ver­oor­deel het, het geen bande met die Be­vry­dingsteologie gehad nie.

 

  • Ekologiese Teologie (*Heil)

Ekologiese Teologie is vandag wêreldwyd belangrik as ‘n stem teen die uitputting van ons hulpbronne en die besoedeling van ons lug en water. Kerke behoort dit te aanvaar as deel van hulle taak in die verkondiging van die evangelie. Een van die grootste probleme van ‘n demokratiese regering is die feit dat hy net regeer om weer aan bewind te kom, en dus sowel die hulpbronne kan uitput as die omgewing besoedel om stemme te werf of te behou. Daar is dus ander stemme nodig om die gemeenskap daarvan bewus te maak dat ons ‘n verantwoordelikheid teenoor ons kinders en kleinkinders het om aan hulle ‘n leefbare aarde na te laat.

Soms word juis die Christendom daarvan beskuldig dat ons die aarde besoedel en uitput en al warmer laat word. Dit is inderdaad waar dat dit juis die tradisioneel “Christelike” lande is wat die hoogste lewenstandaard het (Noord-Amerika, Europa), en hierdie lewenstandaard kos hulpbronne en veroorsaak be­soe­deling en aardverwarming. Terwyl oorbevolking (Asië, Afrika) inderdaad ook ‘n probleem is, moet ‘n mens onthou dat dit net ‘n bakkie rys kos om nog ‘n kind in Indië groot te maak, terwyl dit ‘n motor, ‘n rekenaar, ‘n massa boeke en ont­span­nings­geriewe en baie ander dinge kos om ‘n kind in die Weste groot te maak.

Christene word spesifiek van hierdie vernietiging van die natuur beskuldig omdat hulle ‘n baie aggressiewe aanslag op die natuur sou hê. Versteurende ingrypings in die natuur is nodig om produksie te verhoog, soos allerlei gifstowwe om plantsiektes en plae teen te werk. Dit is eenvoudig waar dat Westerlinge baie sterker ingryp in die natuurprosesse as Oosterlinge wat baie meer in harmonie met die natuur leef en skynbaar intuïtief be­wus daarvan is dat hulle nie bo die natuur staan en die natuur in hul diens het nie, maar dat hulle deel van die natuur is en van die gesonde funksionering van die natuur afhanklik is en saam met die natuur sal ondergaan as dit vernietig word.

Daar word verder beweer dat Christene hierdie aggressie op die natuur regverdig met ‘n beroep op die sogenaamde kul­tuur­opdrag: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor … ” (Gen 1:28). Alhoewel baie van die be­skuldigings teen die “Christendom” waar kan wees, is dit nie waar dat hierdie opdrag ‘n aggressiewe aanslag op die natuur regverdig nie. Selfs die uit­drukking “heers oor” veronderstel niks meer nie as om beheer uit te oefen oor diere, byvoorbeeld om diere soos beeste en perde mak te maak en te gebruik.

Een van die allergrootste probleme in hierdie verband is hoe om ekonomiese groei te handhaaf en selfs te verhoog sonder om die natuur verder te vernietig. Christenwetenskaplikes behoort dit as ‘n roeping te aanvaar om hierin ‘n bydrae te lewer.

Vir Suid-Afrika wag daar net om die draai ‘n probleem wat selfs die aaklige apartheid in die skadu gaan stel: ‘n watertekort.

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek

 

Outeur: Prof Adrio König

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Besnydenis

Die Groot Geloofswoordeboek: Besnydenis

Besnydenis

Die besnydenis is nie beperk tot Israel nie. Daar is meer volke wat die voorvel van die manlike geslagsdeel afsny, gewoonlik as die baba nog baie klein is. Tydens die inisiasieskole van tra­disionele groepe in ons land en in die res van Afrika word dit in die puberteitsjare gedoen, dikwels onder onhigiëniese om­stan­dighede en met baie slegte gevolge vir mense se ge­sondheid.

Daar is gevalle waar vrouens of dogtertjies ook besny word deur die klitoris af te sny.

Die Ou Testament

In die Ou Testament was die besnydenis die teken van die ver­bond. Babaseuntjies is op ag dae besny. Mense van ander gods­dienste wat die geloof van Israel aanvaar het, is ook besny.

Veral die profete het die geestelike betekenis van die besnyde­nis na vore gebring met die eis dat Israeliete se harte, lippe en ore besny moet wees (lees die 1953-vertaling van Eks 6:11, 29; Lev 26:41; Deut 10:16; 30:6; Jer 4:4; 6:10; 9:25-26; Eseg 44:7, 9), wat be­teken het dat hulle gehoorsaam aan God moes lewe. Dit ska­kel die moontlikheid uit dat die besnydenis bloot ‘n nasionale teken was, ‘n teken dat iemand ‘n Israeliet of Jood was.

 

Die Nuwe Testament

In die Nuwe Testament bevestig Paulus die geestelike betekenis van die besnydenis. Die besnydenis het net waarde as jy die wet onderhou (Rom 2:25). Dit skakel die gedagte uit dat dit bloot ‘n volks- en nasionale teken was.

Besnydenis en *doop

Hierdie geestelike betekenis van die be­snydenis baan ook die weg vir ‘n bepaalde verband tussen be­snydenis en doop. Dit is baie onnoukeurig en oorvereenvoudig om sonder meer te sê die doop het in die plek van die besnydenis gekom. Die betekenis van die *doop is baie ryker as dié van die besnydenis. Die doop gaan terug op minstens twee belangrike gebruike in die Ou Testament: die reiniging en die besnydenis. Wat die reiniging betref, kan ‘n mens maar net dink aan twee van die bekende betekenisse van die doop: vergifnis en reiniging van sonde. En wat die besnydenis betref, aan die verskillende inlywende betekenisse van die doop: die inlywing in Christus, in die gemeente en in die verbond.

Maar al kan ‘n mens nie eenvoudig sê die doop het in die plek van die besnydenis gekom nie, ly dit nogtans min twyfel dat daar inderdaad ‘n verband is tussen die doop en die besnydenis. Paulus skryf vir die Kolossense, wat uit die heidendom tot bekering gekom het en dus nie gedoop was nie, dat hulle die geestelike betekenis van die besnydenis deur die doop ontvang het (2:11-12). Dit is nie oortuigend om te dink dat hierdie gees­telike besnydenis iets anders is as die betekenis van die be­snydenis nie. Indien dit so was, het Paulus geen rede gehad om dit ‘n “besnydenis” te noem nie.

Een van die betekenisse van die doop is duidelik ook dieselfde as dié van die besnydenis: om mense in die Abrahamver­bond in te lyf (Gal 3:26-29). Ook uit die ver­wysing na die betekenis van die besnydenis van Abraham (Rom 4:11) blyk die geestelike be­te­ke­nis daarvan. Daar is wel ‘n poging bekend om te ontken dat die besnydenis ook vir ander mense dieselfde geestelike betekenis ge­had het as vir Abraham. Geen ander persoon se besnydenis sou dieself­de hoë, geestelike betekenis gehad het nie. Dis egter ‘n vreem­de argument. Waarom sou die besnydenis van ‘n ander Ara­meër as Abraham nie dieselfde betekenis gehad het nie? Nes Abraham sou hy in die Here moes glo, en die Here sou hom aangeneem het omdat hy geglo het. Waarom sou sy besnydenis dan nie ook ‘n waarborg kon wees dat God hom aangeneem het omdat hy geglo het nie?

Deel van Paulus se argument is dat Abraham op dié manier die va­der geword het van almal wat ook eers moes glo en daarna besny is (Rom 4:11). Hoe kon hulle besnydenis ‘n ander betekenis as syne gehad het? Wat beteken dit dat hy hulle vader is?

Hierdie vreemde argument is ‘n poging om te probeer wegkom van die betekenis wat hierdie feit vir die *kinderdoop het. Want dit is merkwaardig dat die besnydenis, wat ‘n waarborg was dat iemand wat glo, gered is, ook aan babas bedien is. Ook die doop is so ‘n geloofsakrament. Waarom kan dit dan nie ook bedien word aan babas wat deel van die geloofsgemeenskap is nie?

Daar word soms gewys op die feit dat die besnydenis net aan mans en seuntjies bedien is, maar die doop aan alle mense. Maar dis net nog ‘n aanduiding van die feit dat vrouens in die Ou Testa­ment baie min getel het, terwyl hulle in die Nuwe Testament meer in eie reg na vore gekom het. (Gal 3:28 – *Onderdanigheid van die vrou)

Verskillende waarderings van die besnydenis

Die besnydenis word nie oral op dieselfde hoë vlak gestel as in Romeine nie. Veral in Galasiërs is Paulus baie negatief oor die besnydenis. Hy waarsku selfs dat Christus geen betekenis meer het vir heiden-Christene wat hulle laat besny nie (5:2).

‘n Mens moet onthou dat die verband in Galasiërs heeltemal van Romeine verskil. Paulus werk met ‘n situasie waarin die besnydenis losgemaak is van sy geloofsbetekenis en aan die wet-as-heilsweg gekoppel is. Dit was die Judaïste se argument: ‘n heiden moet die wet hou en besny word om gered te kan word. Dan is Paulus fel téén die besnydenis omdat dit Christus oorbodig maak.

Maar in ander situasies kon hy baie positief wees, soos toe hy Timoteus laat besny het (Hand 16:3). Dit be­klemtoon nogeens hoe belangrik verband is. In die een verband word aan die besnydenis heeltemal ‘n ander betekenis toegeken as in die ander verband. Dit sou byvoorbeeld vandag nog met die doop en die nagmaal kon gebeur. In ‘n situasie waarin mense glo dat jy outomaties gered is as jy net gedoop is, sou die kerk kon besluit om nie langer mense te doop nie totdat die misverstand uit die weg geruim is.

Aanvanklik het Joodse gelowiges hulle kinders besny (Hand 21:20 ev), waarskynlik omdat die doop aan die begin veral met son­devergifnis en reiniging verband gehou het (Hand 2:38; 22:16), en nog nie die betekenis van inlywing in die verbond gehad het nie, wat die primêre betekenis van die besnydenis was. Hierdie bete­kenis van die doop het eers later in Paulus se briewe na vore gekom.

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König




Tref God onderskeid?

Tref God onderskeid? – Marius Nel

Rita Strauss vra:

Wanneer God in Eksodus 11:7 sê dat hy onderskeid tref tussen Egiptenaar en Israeliet, moet ons dit ook verstaan dat HY onderskeid tref tussen gelowig en ongelowig? Ek meen kan ek die afleiding maak dat ons as gelowiges ook in die alledaagse anders deur God behandel word as die ongelowiges? God het tog die Israeliete die rampe gespaar, kan ek daarom ook myself God se beskerming toeëien op grond van my kindskap? Ek weet tog ook dat ons nie lyding sal vryspring nie, dit maak Jesus tog ook duidelik in Sy gesprekke met die dissipels. Hoe moet mens hierdie woorde wat as God se eie woorde weergegee word, verstaan??

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Jy het ‘n geldige vraag. Ek meen die onderskeid tussen Israeliet en Egiptenaar het in die eerste plek te make met die onderskeid tussen God se volk en die volk wat God se volk onderdruk. En daarom kan die belofte nie net so van toepassing gemaak word op moderne gelowiges se situasie nie. Feit is: nie almal in Israel was getrou aan die Here nie, soos die woestynverhale duidelik demonstreer.

Die nuwe Israel het ook beloftes ontvang, maar dit is op ‘n ander lees geskoei, op grond van ons geloof in Jesus Christus.

Dankie vir die vraag.

 

Outeur: Dr Marius Nel