Het die mens lewe geskep?

Het die mens lewe geskep? – Coen Slabber

Dr Craig Venter en sy medewerkers het aangekondig dat hulle die eerste sintetiese vorm van lewe geskep het. Dit was ʼn bakterium met DNA waarvan die volgorde deur ʼn rekenaar bepaal is. [Dit behoort eintlik DNS in Afrikaans te wees, maar DNA word so algemeen gebruik dat ek dit behou het. DNS = desoksiribonukleïnesuur. Dit is ʼn suur in chromosome wat die spesifieke struktuur en funksie van elke sel bepaal (HAT).]

Hierdie bevinding is in Science gepubliseer. Daarin word die stapsgewyse skepping van die bakteriële chromosoom en die suksesvolle oorplasing daarvan in die bakterium beskryf. In die sel het hierdie sintetiese DNA die natuurlike DNA verplaas. Hierdie sel het begin verdeel en ʼn nuwe stel proteïene gemaak. Venter en sy medewerkers werk al jare lank aan ʼn projek met die spesifieke doel om sintetiese lewe te skep.

The Economist (Londen) se opskrif by sy artikel oor hierdie deurbraak was: And Man Made Life: The First Artificial Organism and its Consequences.” Wat presies het Venter hulle gedoen? Hulle het die grootste stuk DNA ooit gesintetiseer. Hulle het nie ʼn organisme van niks af geskep nie, maar het die sel van ʼn ander bakterium gebruik. Die sintetiese DNA het die sel oorgeneem en homself vermeerder/voortgeplant. Dit is tegnologies ʼn merkwaardige prestasie, maar dit is nie die skepping van ʼn heel nuwe sintetiese organisme nie.

Venter, nou nie juis bekend vir sy nederigheid nie, se kommentaar was dat hierdie veranderde sel “the first self-replicating species we’ve had on the planet whose parent is a computer” is. Die reaksie van die koerante was interessant:

  • Ateïste sal na hierdie  aankondiging verwys as bewys dat daar geen nodigheid vir God as Skepper is nie (Andrew Brown in The Guardian).
  • Venter het nie lewe geskep nie – hy het dit net nageboots (David Baltimore, ʼn invloedryke wetenskaplike, in die New York Times).
  • Wat Venter bereik het, beteken dat die lewe ʼn spesiale krag of mag nodig het om te bestaan, nie meer geldig is nie.

Ons moet perspektief kry op hierdie ontwikkeling. Hierdie was nie die skepping van lewe ex nihilo (uit niks uit) nie. Die navorsers het ʼn bestaande sel gebruik. Hierdie is nie die skepping van ʼn nuwe lewe uit nie-organiese materiaal nie. Die brein van organiese mensewesens was immer nodig om dit te doen. Dit is iets totaal anders as die skeppingsmoment.

Hierdie ontdekking kan natuurlik ernstige nadelige gevolge vir die mensdom inhou. Terroriste kan ʼn sintetiese bakterie ontwikkel en gebruik as ʼn wapen van massa vernietiging. Geen wonder dat Pres. Obama, nadat hy die nuus gehoor het, ʼn taakspan op die been gebring het om binne ses maande aan hom terug te rapporteer oor die moontlike risiko’s.

Navorsers soek reeds lank na maniere om lewe te manipuleer en te sintetiseer. In sy outobiografie, A Life Decoded: My Genome, My Life, beskryf Venter sy ambisie: to take us far from shore into unknown waters, to a new phase of evolution, to the day when one DNA-based species can sit down at a computer to design another. I plan to show that we understand the software of life by creating true artificial life.” Hierdie is voorwaar “onbekende waters.” David King van die Human Genetics Alert se kommentaar moet ons laat stil staan en diep nadink: “What is really dangerous is these scientists’ ambitions for total and unrestrained control over nature, which many people describe as ‘playing God.” Ons moet besluit of hierdie ʼn reis is wat ons net aan wetenskaplikes kan oorlaat. Die dringendste vraag wat volg op hierdie aankondiging is nie so seer wat die beteken nie, maar waarheen dit die mensdom lei.

 

Verwysings:

Die blog van Albert Mohler

And Man Made Life: Artificial Life, the Stuff of Dreams and Nightmares, Has Arrived,” The Economist, 22 Mei 2010.

Genesis Redux,” The Economist, 22 Mei, 2010.

Andrew Brown, “Has Craig Venter Made Us Gods?,” The Guardian [Londen], 20 Mei 2010.

Nicholas Wade, “Synthetic Bacterial Genome Takes Over a Cell, Researchers Report,” The New York Times, 21 Mei 2010.

Clive Cookson, “Let There Be Life,” The Financial Times, 22/23 Mei 22/23, 2010

 

Outeur: Dr. Coen Slabber

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Berusting

Die Groot Geloofswoordeboek: Berusting

Berusting

Berusting is nie ‘n woord wat in die Bybel voorkom nie, en die in­houd wat meestal daaraan gegee word, is ook nie spesifiek Christelik nie. Mense gebruik dit gewoonlik onder moeilike omstandighede, veral as hulle niks aan die omstandighede kan verander nie. Dit lui dan ook gewoonlik iets soos: “Ons moet maar berus,” of: “Ons moet dit maar aanvaar. Ons kan tog niks daar­aan verander nie.” Dit is ‘n passiewe gelatenheid wat nie meer verandering verwag nie. Dit word dikwels in verband ge­bring met die wil van God. Mense glo die slegte dinge wat oor hulle gekom het, is deur God beskik (*Voorsienigheid), en daarom moet hulle “maar tevrede wees”. Dis ‘n passiewe tevredenheid wat geen verbeelding het nie.

Daar is ook die ander moontlikheid, dié van aktiewe aan­vaar­ding van die situasie. Dan is daar nog verbeelding, en inisiatief is nog moontlik. Dan probeer mense nog iets goeds uit die moeilike situasie maak. So ‘n houding kan geïnspireer word deur tekste soos Romeine 8:28: “dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” Dit help as ‘n mens onthou dat hier nie staan dat God alles veroorsaak wat met ‘n mens gebeur nie, maar dat Hy alles wat alreeds gebeur, ten goede laat meewerk. Dit kan iets beteken soos dat God mense wat Hom liefhet, help om iets goeds uit ‘n slegte situasie te kry.

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Belydenisskrifte

Die Groot Geloofswoordeboek: Belydenisskrifte

 

  • Belydenis van Belhar Heidelbergse Kategismus
  • Nederlandse Geloofsbelydenis Dordtse Leerreëls en ander belydenisskrifte

Belydenisskrifte is bladsye lange formulerings van die Christeli­ke geloof. Dit kom uit die tyd van die Kerkhervorming toe die Protestantse kerke teenoor die Katolieke Kerk hulle geloof in meer besonderhede wou uitdruk as die korter ekumeniese belydenis­se. (*Apostoliese Geloofsbelydenis) Die kerke wat tydens die Kerk­her­vorming ge­vorm is, het ook teenoor mekaar te staan gekom, sodat daar gou groepe kerke ontstaan het wat ook kerklike tradisies ge­noem word. Hulle het elkeen hul eie belydenisskrifte opgestel. Daar is ‘n hele aantal in elke tradisie, maar hier word net ‘n paar van die belangrikste genoem.

Die Lutherse Kerke het veral die Augsburgse Belydenis en die Kategismus van Luther. Die Gereformeerde Kerke (waaronder ook die NG Kerk, die NH Kerk en die Gereformeerde Kerke tel – *Afri­kaanse kerke) het drie belydenisskrifte wat die Drie Formuliere van Eenheid genoem word: die Heidelbergse Kate­gismus, die Ne­derlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls. Die An­glikaanse Kerk het die Thirty-Nine Articles of the Church of England en The Book of Common Prayer, die Presbiteriaanse Kerk die Westminster Confession, die Metodistekerk die Twenty-Five Articles of Religion wat John Wesley se verwerking van die Anglikaanse Thirty-Nine Articles is.

In Suid-Afrika het die NG Sendingkerk in 1982 die Belydenis van Belhar opgestel. Belhar was ‘n “Kleurling”-woongebied na­by Kaapstad, en die NG Sendingkerk was die kerk wat in 1881 deur die NG Kerk gevorm is vir die “Kleurlinge”. Later het die NG Kerk in Afrika (die kerk wat vir die swart mense gevorm is) en die NG Sendingkerk verenig in die VGK (die Verenigende Ge­­reformeerde Kerk) en die Belydenis van Belhar aanvaar. Tans is daar nog steeds samesprekings aan die gang met die oog op kerkhereniging tus­sen die lede van die NG Kerkfamilie (die NGK, die VGK, die oor­blywende deel van die NG Kerk in Afri­ka, en die Christian Re­formed Church wat die NG Kerk vir die Indiërs gevorm het). Die Belydenis van Belhar is een van die groot struikelblokke in die pad van hereniging. Die VGK eis dat dit ‘n belydenis word saam met die Drie Formuliere van Eenheid, terwyl die ander kerke elk hul eie siening oor die saak het.

Die Belydenis van Belhar is opgestel in die hoogbloei van apart­heid en getuig van die pyn en lyding wat apartheid gebring het in die lewe van “nie-blankes”, soos mense van kleur destyds genoem is. Dit handel hoofsaaklik oor versoening, die eenheid van die kerk, geregtigheid en vrede.

In die konkrete lewe van die meeste van hierdie kerke speel hier­die belydenisse nie ‘n belangrike rol nie. Die meeste lidmate sal nie eens goed van hulle bewus wees nie. Maar daar is wel bepaalde groot lyne wat in hierdie belydenisse geformuleer is en wat bydra tot die beklemtonings in elk van die verskillende kerk­like groeperings. So is daar in die Drie Formuliere van Eenheid die sterk oortuiging dat Christus ons enigste Verlosser is, en dat ons net uit genade en nie deur ons goeie lewe nie deur Hom ge­red word as ons in Hom glo. Daar word selfs ‘n ly­sie hiervan ge­maak: net Christus, net genade, net geloof. Maar as hierdie ba­siese oortuigings vergelyk word met dié in die be­lydenisse van die ander historiese kerke is ‘n mens verbaas oor die groot mate van ooreenstemming, en is dit ‘n geldige vraag of die verdeling tussen kerke regtig nodig is.

Geskrewe belydenisse of belydenisskrifte het nooit in die *Bap­tiste- en die *Pinkster- en *Charismatiese kerke ‘n groot rol gespeel nie. Hulle is eerder aan mekaar verbind deur ‘n ge­meen­skaplike *spiritualiteit en ongeskrewe geloofs­oortui­gings.

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Belydenis

Die Groot Geloofswoordeboek: Belydenis

Die woord “belydenis” word in minstens twee betekenisse ge­­bruik: as sondebelydenis en as geloofsbelydenis.

  • Sondebelydenis

As sondebelydenis word die woord “belydenis” gebruik wan­neer ‘n individu sy of haar skuld voor die Here of voor iemand anders bely, maar ook wanneer ‘n gemeente saam hulle skuld voor die Here bely. In sommige kerke is dit ‘n vaste element in die erediens.

 

  • Geloofsbelydenis

As geloofsbelydenis word dit gebruik om die inhoud aan te dui van Christene se geloof. Dit kan in die vorm wees van kort, individuele uitsprake waarin ‘n persoon sy of haar eie ver­bin­­­te­nis met die Here uitspreek. Dit kan ook by die doop ge­beur of wanneer ‘n persoon belydenis van geloof aflê. Maar dit word ook gebruik vir langer geformuleerde belydenisse wat die kern­waarhede van die geloof opsom. Daar is byvoorbeeld die *Apo­stoliese Geloofsbelydenis, ook die Twaalf Artikels ge­noem, wat ‘n kort samevatting is van die Christelike geloof. In som­­­mi­­ge kerke word dit reëlmatig deur die hele gemeente be­ly. Saam met die Apostoliese Geloofsbelydenis (die Twaalf Ar­ti­kels) is daar ook twee ander belydenisse: die *Belydenis van Nicea en die *Belydenis van Atanasius. Hierdie drie word eku­me­­niese of algemene belydenisse genoem omdat omtrent alle Chris­te­like kerke hulle aanvaar. Dit is belydenisse wat vroeg in die ge­skie­denis van die kerk ontstaan het.

Belydenisse as kort formulerings van ons geloof kom alreeds in die Bybel self voor. Daar is selfs die teorie dat die Apostoliese Geloofsbelydenis die uitbouing is van Petrus se beroemde be­lydenis: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt 16:16). Daar is ook ander kort formulerings van die geloof, soos 1 Korintiërs 15:3-8; Filippense 2:6-11 en Kolossense 1:15-20 wat ook almal op Christus konsentreer. Dit is nie vreemd dat al hier­die kort belydenisse se fokus Christus is nie. Hy was die wese van die vroeë Christene se geloof. En dit is opvallend dat ook nog in die Apostoliese Geloofsbelydenis verreweg die grootste deel oor Hom handel.

Onder *belydenisskrifte word die breedvoeriger belydenisse van sekere kerkgroepe bespreek.

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek

Outeur: Prof Adrio König