Sabbat en Sondag (3)

Sabbat en Sondag (3) – Kobus Kok

Gerhard vra:

Na aanleiding van Dr Kobus Kok se antwoord op my vraag. Hy skryf onder andere: “Van die heel begin van die skepping af, volgens die Hebreeuse, of OT tradisie is die Sabbat op die sewende dag en dit gaan terug na die skeppingsverhaal.” Ek het gedink dit was ‘volgens die skeppingsverhaal’ in die Ou-Testament, met ander woorde, ín, en ‘vólgens’, God se Woord, God se Woord vir die HELE Israel; van God soos byvoorbeeld die Christene. Nou moet ek verneem ek het myself al die tyd verlaat op “die Hebreeuse tradisie”. Kan ek nou God of sy Woord, vertrou? Kan ek my nog op my Christelike Geloof verlaat? Want reg hier van “die OT tradisie” waar “dit na die skeppingsverhaal terug gaan” af al, moes ek my met die heel basiese beginsels van my Christen-wees vergis het? Ja…. ek verstaan nie hoe my eie kop nog altyd gewerk het nie….

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord

Kan ek die Bybel dan nog glo?

Kan ek die Bybel dan nog enigsins glo as die Bybel hier so en daar sus sê? Dit is die implisiete dimensie van Gerhard se belangrike vraag oor die Sabbat. Gerhard wonder ook of dit reg is om van die Ou Testamentiese “tradisie” te praat in plaas van die “Woord van God” wat altyd dieselfde behoort te wees.

In die eerste plek hoef daar nie ʼn spanning tussen die begrip “tradisie” en “Woord van God” te wees nie. Die H.A.T. verstaan tradisie as: “Die oordra van geslag aan (op) geslag, mondelings of in geskrif, van geestelike besittings, kultuurgoedere; ook, wat so oorgedra is; oorlewering: 2 Die navolging van vaste, oorgelewerde gebruike, menings, gevoelens, beginsels, ens., 3 Gebruik wat binne ‘n groep oorgelewer is.” Dit wat ons in die Woord van God het, is tog oorgedra van geslag tot geslag en word nagevolg.

Tog is die Bybelse gebruike en sommige oorleweringe nie bloot staties nie. Die Bybel het oor duisende jare ontwikkel en verteenwoordig die groei van die volk Israel oor duisende jare. In die akademiese navorsing het die geleerdes bevind dat daar duidelike verskille ten opsigte van sekere sieninge is wat duidelik te bespeur is indien mens die tradisie van byvoorbeeld voor die ballingskap en na die ballingskap bestudeer (bv. die dualistiese wêreldbeeld wat veral onder die Persiese invloed meer prominent geword het en later weer deur die Hellenistiese en Platonistiese invloede ontwikkeling vertoon).

Tradisies verander en word in nuwe kontekste geherinterpreteer. Tradisie bly nie staties nie, dit ontwikkel. Neem bv. net die wette in Levitikus en Deuteronomium rondom die spesifieke kos wat geëet moet word en watter tipe kledingmateriaal jy mag dra:

Levitikus 7:22 sê byvoorbeeld: 22Die Here het vir Moses gesê: 23“Sê vir die Israeliete: Julle mag geen vet van beeste, skape en bokke eet nie.” Shoe! Biltong is vir alle Suid Afrikaners uit – veral droëwors! Een van die mooiste voorbeelde van die diskontinuiteit met die sogenaamde Joodse tradisie word aangetoon indien mens Deuteronomium 22 lees wat spesifiek gerig is op rëelings vir ʼn ordelike gemeenskap. In Deuteronomium 22:11-12 lees ons twee dinge – een wat elke ware Israeliet nie mag doen nie en een wat elke ware Israeliet moet doen: 11“Jy mag nie ‘n kledingstuk dra wat van twee soorte materiaal, wol en linne, gemaak is nie.12“Jy moet klossies vaswerk aan al die some van jou klere.” Wel, hiervolgens is almal van ons in die moeilikheid, want ek het nog niemand gesien wat klossies aan hulle klere vaswerk nie, en deesdae koop mens klere en kouse wat van verskillende materiaal aanmekaar gesit is (byvoorbeeld nylon en wol/katoen).

Ons kan dus sien dat daar in terme van die Ou Testamentiese tradisie diskontinuiteit en kontinuiteit is. Met diskontinuiteit bedoel ons dat sommige dinge nie meer gedoen word nie en met kontinuiteit bedoel ons dat sommige dinge nog steeds gedoen/geglo word.

Wat het dan tussen die kontinuiteit en diskontinuiteit gebeur? Hoekom doen ons sommige dinge wat in die “Woord van God” beveel word en “vir elke ware Israeliet” sou geld nie meer nie? Die antwoord is eenvoudig en kompleks. Eenvoudig kan ons sê Jesus het gebeur. Met die koms van God se Seun het hy wel nie gekom om die wet en die profete ongeldig te maak nie (Matteus 5:17), maar juis sodat dit sy volle betekenis kan kry. Die klem lê op die betekenis-dimensie. In die wette van Deuteronomium is daar sommige kulturele gebruike wat ons nie meer doen nie (diskontinuiteit), maar ons glo nog steeds in die basiese waardes daarvan. Neem as voorbeeld die konsep van heiligheid en om afgesonder te wees vir God, of dat God ʼn God van orde is en dat sy mense ook op ʼn ordelike wyse moet leef. Die saak of betekenis is nog steeds belangrik (kontinuiteit), die kulturele wyse waarop ons daaraan uitdrukking gee (deur kleredrag of eetgewoontes) het wel verander (diskontinuiteit).

Jesus het die waardes van God, die hart van God op ʼn nuwe manier vir die mensdom kom wys en bekend maak (Johannes 1:18). Markus 2 gee vir ons een so ʼn venster op Jesus en hoe hy die Sabbat en sy betekenis nuut geïnterpreteer het en dit sy ware betekenis te laat kry het: 23Eenkeer toe Jesus op ‘n sabbatdag tussen gesaaides deur loop, het sy dissipels so in die loop are begin afpluk. 24Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Kyk daar! Waarom doen hulle iets wat nie op die Sabbatdag gedoen mag word nie?”25Hy sê vir hulle: “Het julle nog nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne nie kos gehad het nie en honger gekry het? 26Hy het in die tyd van die hoëpriester Abjatar in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat niemand anders as die priesters mag geëet het nie, en ook vir sy manne daarvan gegee.” 7Jesus het verder vir hulle gesê: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie. 28Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die sabbat.”

In jou vraag het jy daarop gesinspeel dat dit nie vir jou sin maak nie en dalk verwarrend kan wees indien geleerdes nou meen dat die Bybel so en dan sus sê. Eintlik is dit niks om oor verward te wees nie. Miskien kan die volgende verhaal jou help. Toe ek ʼn seuntjie was het ek op ʼn plaas groot geword en mag ek en my boetie die hele plaas platgery het met ons fietse en ure in die koppies rondgeloop het. Op sewejarige ouderdom het ons stad toe getrek toe my pa teologie gaan studeer het. Skielik het ʼn nuwe stel reëls gegeld. Ek en my boetie mag skielik nie meer vrylik met ons fietse rondgery het nie en ook nie vrylik buite in die strate rondgeloop het nie. Dit was vir ons baie moeilik, maar vandag verstaan ons dat nuwe reëls vir ʼn nuwe situasie geld. Binne ʼn paar jaar was ek in die hoërskool en skielik mag ek toe met my nuwe fiets die ganse Johannesburg verken. Weer het nuwe reëls gegeld. My ouers was nie onkonsekwent en swak leiers wat dan so en dan sus sê nie. Die onderliggende waardes van veiligheid, selfstandigheid, bemagtiging en balans was nog heeltyd teenwoordig. Al wat verander het was die konteks en my eie lewenssituasie en groeiproses. Net so vertel die Bybel die verhaal van God se volk in verskillende kontekste, wat op sy beurt weer verskillende reëls gehad het, maar meer as dikwels steeds dieselde onderliggende waardes weerspieël het.

In Galasiërs (kyk 3:23; 4:1) verduidelik Paulus dat die wet in die verlede soos ʼn bewaker was totdat die geloof sou kom. Die woord wat Paulus in die Grieks gebruik is “epitropos” wat met “‘n voog” vertaal kan word. Die geloofsdimensie wat met die Jesus-gebeure (inkarnasie, dood, opstanding, uitstorting van die Gees) sou aanbreek, sou die wet sy volle betekenis laat kry.  Deur die bril van die Nuwe Testament kyk mens dan na die Ou Testament en sien hoe God stadig maar seker met sy volk die pad geloop het wat uiteindelik sou kulmineer in die koms van Jesus as Messias en Seun van God. Indien mens die groter prentjie en die geheel in ag neem raak dinge eintlik meer duidelik en minder verwarrend omdat mens dit in perspektief kan sien.

As Bybelstudent is dit my en jou plig om moeite te doen en die hele Bybel en die ontwikkelingsgeskiedenis daarvan te bestudeer en die betrokke historiese en literêre kontekste in ag te neem. Dit verg ʼn leeftyd se diepte-navorsing en liefde vir die Woord.

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Die Beeld van God

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Beeld van God

Beeld van God

‘n Mens kan twee betekenisse gee aan die term “beeld van God”. Dit kan ‘n beeld wees wat gemaak is om God voor te stel, of vir Christene kan dit verwys na die mens wat as die beeld van God geskep is.

Wat beelde van God betref, is daar in die Bybel sterk uitspra­ke daarteen om ‘n beeld van God te maak. Die tweede gebod lui selfs uitdruklik dat ons geen beelde hoegenaamd mag maak nie. Almal stem saam dat dit beteken dat ons nie van God ‘n beeld mag maak nie. Christene verskil egter oor die verdere reikwydte van hierdie gebod. Daar is groepe wat selfs meen dit beteken dat ons nie foto’s van mense of enigiets anders mag neem nie. Ander is oortuig dit verbied iets soos ‘n kruis in ‘n kerkgebou. Nog ander wys daarop dat die gebod uitdruklik lui dat ons nie hierdie beelde mag vereer of dien nie. Dit sou dan impliseer dat ons wel beelde of foto’s van mense of dinge mag hê, maar dit nie mag aanbid nie.

Wat die mens as die beeld van God betref, is daar ‘n ryk ge­skiedenis van interpretasie en besondere geestelike dimensies agter hierdie begrip.

Beeld en gelykenis

Die begrip kom uit die eerste skep­pings­verhaal in Genesis waar ons lees dat God die mens maak as sy verteenwoordiger, as sy beeld (Gen 1:26-27). Die 1983-vertaling is nie so geslaagd nie, en daarom sal ons die begrippe van die 1953-vertaling gebruik: beeld en gelykenis. In die geskiedenis van die uitleg van hierdie uit­­spraak, is daar verklarings wat nie steekhou nie. Die een is dat “beeld” en “gelykenis” eintlik twee verskillende sake is. Irenaeus, ‘n kerk­vader van die tweede eeu, was oortuig dat “beeld” verwys na die mens as ‘n rasionele en vry we­se, en dat “ge­ly­kenis” verwys na die heiligheid (die etiese kant) van die mens. Deur die sonde het die mens dan wel die ge­lykenis verloor (die mens het sonde gedoen), maar nie die beeld nie: die mens het ‘n vrye, rasionele wese gebly.

Hierdie onderskeiding kan nie regtig aanvaar word nie om­­dat die twee begrippe oor en weer gebruik word. Hulle is ‘n tipiese voorbeeld van wat die Hebreeuse parallelismus membrorum genoem word: die verskynsel in Hebreeus om ‘n ding twee keer (parallel) te sê met woorde wat eintlik dieselfde of byna dieselfde beteken. Maar Irenaeus se motief agter hierdie onderskeiding is tot vandag nog belangrik. Die vraag is: Wat het as gevolg van die sonde, van die mens se vermoë geword om die beeld te wees? Irenaeus se ant­woord was: die mens se heiligheid of son­deloosheid het verlore gegaan, maar nie ons denke en vryheid nie. Maar dit stel ‘n mens dadelik voor die vraag: Wat is nou regtig die beeld?

Twee verskillende sienings oor die beeld

Hierdie vraag kan op twee maniere verstaan word, en dit bete­ken dat daar twee verskillende sienings is van wat die beeld is. Volgens die een is daar iets in die mens wat die beeld is, en die vraag is dan: Wát in die mens, watter “deel” van die mens? Die ander beskouing is dat die mens self die beeld is.

Sommige kies die eerste moontlikheid en identifiseer dan iets in die mens, ‘n deel van die mens, as die beeld: die siel, die gees, die wil, die verstand. Telkens is die vraag dan: Wat beteken dit as die mens die beeld verloor het? Die mens het tog nie sy of haar siel of verstand verloor nie. Daarom is dan gekies vir die sag­ter siening, dat die mens nie die beeld verloor het nie, dis net ver­swak of verduister. As ‘n mens aanvaar die beeld is die wil, kan jy wel sê dat die mens die wilsvryheid verloor het en ‘n slaaf van die sonde geword het. Dit sluit nogal aan by die Nuwe Testament waar ons lees dat die Seun ons vry maak van die sonde (Joh 8:34-38).

Een van die probleme met hierdie siening dat ‘n deel van die mens die beeld is, is dat die mens dan maklik ingedeel word in twee dele, ‘n belangrike deel (die beeld), en ‘n onbelangrike deel (die res). Onder die behandeling van die *mens sal op die pro­bleme gewys word wat hierdeur veroorsaak word.

Die ander beskouing is dat die hele mens die beeld is. Die ar­gument is dat daar nêrens in die Bybel die indruk geskep word dat iets in die mens, dit wil sê net ‘n deel van die mens, die beeld is nie. Die vraag is dan: In watter sin is die mens God se beeld?

  • Die beeld in die Ou Testament

Ook op hierdie vraag is ver­skillende antwoorde gegee. Gewoon­lik word die beeld dan be­perk tot ‘n bepaalde faset van die mens se lewe: die mens se heer­skappy oor die natuur (Gen 1:26, 28, waar elke keer direk ná die verwysing na die beeld ook verwys word na die mens se heerskappy oor die natuur), of die mens as ‘n ver­houdingswese (Gen 1:27, waar direk ná die beeld, na die mens as man en vrou verwys word).

Die probleem hiermee is dat ‘n mens nie die indruk kry dat Ge­nesis 1 regtig met hierdie kort verwysings probeer verdui­de­lik wat die beeld is nie. Die verwysings is te toevallig. Daar is wel een verwysing wat ‘n mens nogal laat dink. In Genesis 5 is daar di­rek na mekaar twee verwysings na “beeld”. Die eerste is ‘n herha­ling van Genesis 1: God het die mens geskep as beeld van Hom­self (v 1), en direk daarna ‘n verwysing na die geboorte van Adam se seun Set van wie dan gesê word: “sy beeld, een soos hyself” (v 3). As dit gesê word van ‘n pa en sy seun, kan ‘n mens vermoed dit be­te­ken: daar is besondere ooreenkoms. En dit lê natuurlik van die begin af opgesluit in die woorde “beeld” en “gelykenis”. Dit sou dan beteken dat daar ‘n besondere ooreenkoms is tussen God en mens.

Verder is daar egter nêrens in die Ou Testament besondere aandag aan die beeld of wat die inhoud van die beeld is nie. Daar is maar net enkele verwysings wat geen besonderhede bevat nie (Gen 5:1; 9:6).

 

  • Die beeld in die Nuwe Testament

Maar in die Nuwe Tes­tament is daar ‘n verskeidenheid ver­wysings met heelwat inhoud. Die beeld word veral in twee verbande gebruik: Christus word twee keer die beeld van God genoem (2 Kor 4:4; Kol 1:15; vergelyk ook Heb 1:3), en die mens se nuwe lewe word met die begrip “beeld” omskryf (Ef 4:24; Kol 3:10). En ten slotte word die gelowiges ook twee keer die beeld van Christus genoem (Rom 8:29; 2 Kor 3:18).

Eerstens word Christus die beeld van God genoem in verban­de waarin ons lees dat God met sy volle wese in Hom woon (Kol 1:19; 2:9), en dat ons in die volheid van God deel omdat ons aan Christus verbonde is (Kol 2:10), dat die heerlikheid van God uit Hom uitstraal (2 Kor 4:4-6), en dat Hy die openbaring van God is. Hy is immers die beeld van die God wat nie gesien kan word nie (Kol 1:15).

Tweedens word ons nuwe lewe die beeld van God genoem. Ons word vermaan om anders as ongelowiges te leef, om vol­kome heilig en volgens God se wil te leef omdat ons “as die beeld van God geskep is” (Ef 4:24). Ons het hier duidelik ‘n verwysing na Genesis 1, maar met ‘n verskil. In Genesis is dit eenvoudig ‘n stelling dat die mens as die beeld van God geskep is. In Efesiërs 4 word dit deel van ‘n opdrag. Ons moet dus word wat ons bedoel is om te wees. In Kolossense 3 kry ons dieselfde gedagte. Die gemeente word opgeroep om op te hou met die sonde waarin hulle vroeër ge­leef het. Hulle nuwe lewe word beskryf as “die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper” (Kol 3:10). En dit word gevolg deur ‘n aantal kon­krete vermanings oor hoe ons lewe as gelowiges moet lyk. Die voortgang in die *heiligmaking word hier nog duideliker beskryf as in Efesiërs 4.

Derdens is daar die twee verwysings na die beeld van Chris­tus (Rom 8:29; 2 Kor 3:18). Ook hieruit is dit duidelik dat ons moet verander om by Hom te pas (Rom 8:29) en dat gelowiges in die proses van verandering is om soos Hy te word (2 Kor 3:18).

Hierdie verwysings na die beeld van God in die Nuwe Tes­tament help ons om te verstaan wat bedoel word met die mens as beeld van God. Ons moet verander om te word wat ons bedoel is om te wees: beeld van God. Om dit te bereik moet ons met die sonde ophou en anders as die ongelowiges leef. Ons moet gelyk word aan die beeld van Christus. Só word ons as die beeld van God herstel.

Dit beteken dat die mens as beeld van God bedoel is om God se waardes en lewenswyse na te volg en te vertoon.

Soos God, soos Christus

‘n Mens kom tot dieselfde gevolgtrekking as jy na ‘n ander saak in die Nuwe Testament kyk. Gelowiges word oor en oor vermaan om soos God en soos Christus te leef. Ons moet soos God vergeef, soos Hy heilig wees, soos Hy in die lig leef, soos Hy barmhartig wees, ja, soos Hy volmaak wees (Kol 3:13; Ef 4:32; 1 Pet 1:15-16; 1 Joh 1:5-7; Luk 6:36; Matt 5:48). En ons moet mekaar soos Christus liefhê, mans moet hul vrouens soos Christus liefhê, ons moet soos Christus in liefde lewe, ons moet onsself rein hou soos Christus rein is, ons moet so regver­dig wees soos Hy, ons is soos Hy gestuur (Joh 13:34; Ef 5:2, 25; 1 Joh 3:3, 7; Joh 20:21). Daarnaas is daar ander uitsprake wat op dieself­de neerkom. Galasiërs 4:19 beteken dat ander mense in ons lewe moet kan sien hoe Christus lyk. Iemand het gesê ek moet vir my naaste ‘n Christus word. As ‘n mens na hierdie opdragte kyk, is dit duidelik dat dit in beginsel ons hele lewe dek.

In watter sin is ons dan die beeld van God?

Die beeld van God is nie iets in ons of ‘n deel van ons of net een of ander aspek van ons lewe nie. Ons is die beeld van God as ons in ons hele lewe soos Hy leef, as ons lewe aan Hom herinner, as ons waardesisteem Syne verteenwoordig. Daar moet ooreenkoms wees tussen Hom en ons (wat ons terugbring by Gen 5:1-3).

As ‘n mens goed daaroor nadink, kan dit jou keel laat toetrek. Wie kan dit regkry om soos God te vergeef, soos God volmaak te wees?

Enersyds sal dit natuurlik net ‘n beperkte ooreenkoms wees. Ons praat van ‘n analogie. Ons sal op sy beste maar net ander aan Hom kan herinner. Maar is dit nie al klaar te veel nie? Ja, dit is. Dis om van moedeloos te word. Daarom word van ‘n ander kant af hierna gekyk waar *heiligmaking behandel word.

Woorde gemerk met ʼn * word elders hanteer

 

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Barmhartigheid/BCE.CE

Die Groot Geloofswoordeboek: Barmhartigheid/BCE.CE

Barmhartigheid

Daar is nie veel verskil tussen barmhartigheid en *genade nie. As ons oor God dink, lê woorde soos “genade”, “barmhartigheid”, “ont­ferming”, “troue liefde” (die ou woord “goedertierenheid”) en “guns” almal naby mekaar. Omdat woorde nie inherent ‘n be­paal­de betekenis het nie, maar mense woorde in bepaalde be­te­ke­nis­se gebruik, sal sommige onder “barmhartigheid” dalk iets meer as genade verstaan. As ‘n mens met “goedheid” begin, kan jy sê “goedheid” is God se welwillendheid teenoor ons, gena­de is sy on­ver­diende welwillendheid, en barmhartigheid is sy onver­diende wel­wil­lend­heid aan mense in nood.

 

BCE CE

Vir baie lank was die letters vC en nC algemeen in gebruik om die tydperk voor Christus of na Christus aan te dui. Omdat dit egter so duidelik ‘n Christelike agtergrond het, gebruik baie mense nou liewer BCE en CE. Dit beteken Before the Common Era, en The Common Era. Dit dui nog op dieselfde tydperke. In hierdie boek word die ou afkortings gebruik: vC en nC.

Woorde gemerk met ʼn * word elders ook bespreek.

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Baptiste

Die Groot Geloofswoordeboek: Baptiste

In Suid-Afrika is daar verskillende Baptistekerke, maar dit is almal klein groepies. Dit geld ook van die res van Afrika.

In Engeland en veral in Noord-Amerika is daar egter baie groot Baptistekerke. Die grootste een is die Southern Baptist Convention (SBC) in die VSA wat ongeveer veertien miljoen lid­mate het en naas die *Katolieke Kerk (wat wêreldwyd ‘n eenheid is) waarskynlik die grootste denominasie in die wêreld is en ook die grootste sen­ding­uitreik het.

Die Baptiste kom uit die Gereformeerde wêreld van die Engel­se Presbiteriane. Hulle bekendste belydenis is The Baptist Confession van 1688. Hulle is dié voorbeeld van *Evangelicalism (die *Evan­ge­­liese tradisie), maar daar is sterk Calvinistiese groepe onder hul­le. Hulle verskil wel van die gangbare Calvinisme in minstens twee opsigte: wat die stelsel van kerkregering betref en die doop. Wat kerk­regering betref, is hulle gemeentes baie on­af­hankliker as in die *Ge­re­formeerde tradisie. Hulle ken nie ‘n *sinode wat bin­den­de be­sluite vir alle gemeentes kan neem nie. Hulle het wel kerkvergaderings waar algemene sake bespreek word en aan­be­velings vir gemeentes gemaak kan word. Die meeste Baptistede­no­­minasies het selfs nie eens ‘n geskrewe belydenis waaraan al die gemeentes gebonde is nie. Wat die doop betref, verwerp hulle die *kinderdoop.

Woorde gemerk met ʼn * word elders ook bespreek.

Outeur: Prof Adrio König