Die Groot Geloofswoordeboek: Die Ampte

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Ampte

Amp • Predikant (leraar) • Pastoor • Priester

• Ouderling • Diaken • Amp van die gelowige

Amp

Die woord “amp” kom nie in die Bybel voor nie. Dit word in die meeste historiese kerke gebruik om bepaalde leiersposisies in die gemeente aan te dui. In die *Gereformeerde tradisie word onderskei tussen twee soorte ampte: besondere ampte en die amp van die gelowige.

Besondere ampte

Onder die besondere ampte tel predikant, ouderling en diaken. In die Gereformeerde Kerke vorm hulle saam die *kerkraad, wat die regsliggaam van die gemeente is. Tradisioneel word die pre­dikant met die profeet vergelyk wat die woord van die Here aan die volk verkondig het, die ouderling met die koning wat na­mens die Here oor die volk regeer het, en die diaken met die priester wat die diens in die tempel verrig het.

 

Predikant (leraar)

Die werk van die predikant (leraar – wat nie ‘n goeie be­skry­wende woord vir hierdie amp is nie) het dan hoofsaaklik te doen met die verkondiging van die Woord, wat die bediening van die sakramente (doop en nagmaal) insluit.

 

Ouderling

Die werk van die ouderling is om toesig oor die gemeente te hou, wat toesig oor die predikante insluit, en veral toesig oor die suiwer­heid van hul leer en lewe.

 

Diaken

Die werk van die diaken is om na die nood van lidmate om te sien.

In die tradisionele vorm van die Gereformeerde Kerke het hier­die ampte die hele bedieningstruktuur uitgemaak. Die ge­meen­te is net bedien, hulle het nie self ‘n bediening gehad nie.

In teorie is hierdie ampte almal gelyk sodat die een nie meer ge­sag as die ander het nie. In die praktyk het die predikant ge­woon­lik meer gesag. Die teoretiese gelykheid van die beson­dere ampte staan teenoor die hiërargiese ampstruktuur van die sogenaamde Hoog­kerklike denominasies, soos die *Katolieke Kerk en die *An­glikaanse Kerk, waar die biskop hoër gesag as die priester het. In die onafhanklike Charismatiese kerke is daar ook ‘n hiërar­gie om­dat daar ‘n enkele leiersfiguur is.

In sekere kerke is die neiging deesdae eerder in die teen­oor­gestelde rigting: om liewer van “dienste” of “bedienings” as van “ampte” te praat sodat almal dan gelyke gesag en verant­woor­de­likheid het.

 

Amp van die gelowige

Die amp van die gelowige beteken dat elke gelowige direk kontak met God het en nie afhanklik is van tussengangers soos die besonde­re ampte (predikant of pastoor of priester) nie. Dit dui ook op die verantwoordelikheid van elke lidmaat om in die gemeente diens te lewer en na buite ‘n getuie van Jesus te wees.

Die historiese kerke wat uit die *Kerkhervorming voortgekom het, probeer die gewone gelowiges (die amp van die gelowige) ster­ker na vore bring nadat daar tradisioneel in die *Katolie­ke Kerk ‘n duidelike onderskeid gemaak is tussen die geestelike vol­wassen­heid van die besondere ampte (biskop, priester) en die sogenaamde “geestelikes” (the religious) aan die een kant, en die lid­­mate (die leke, laity) aan die ander kant. Hulle is as geestelik on­volwasse beskou.

Die leer van die amp van elke gelowige is ‘n pragtige Bybelse leer. Dit hou verband met die *Liggaamsmodel (1 Kor 12) van ge­meen­tewees, die gedagte dat elke gelowige ‘n soldaat vir Christus is (2 Tim 2), of ‘n steen in die tempelmuur (1 Pet 2:5). Die probleem is dat dit nie in die kerke van die Hervorming tot sy reg gekom het nie. Die verwringing van die *Herder-kudde-model het van die lidmate toeskouers gemaak wat bedien moet word, en nie mense wat ander met hulle gawes bedien nie.

 

Woorde gemerk met ʼn * sal later meer volledig bespreek word.

 

Outeur: Prof. Adrio König

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Amen

Die Groot Geloofswoordeboek: Amen

“Amen” is, net soos “halleluja”, ‘n Hebreeuse woord wat nooit vertaal is nie. Selfs in die Nuwe Testament, wat in Grieks geskryf is, is die woord onvertaald behou en net in Griekse letters geskryf, net soos dit in ons Bybelvertaling in ons (Arabiese) letters geskryf is.

Amen het die betekenis van iets wat vasstaan en geldig is. Wan­neer Jesus sy woorde met “amen” inlui (vertaling: “dit ver­seker Ek julle”), het dit die betekenis van vastheid, waarheid en gel­digheid. Dit word duidelik uit die feit dat Lukas die Griekse woord vir “waarheid” gebruik waar Matteus “amen” het (Matt 16:28; Luk 9:27). Jesus benadruk dus die sekerheid van sy woorde en gee daar­aan gro­ter gesag.

Soms is amen gebruik om instemming te betuig (1 Kor 14:16). Ons heg eintlik nie meer dié betekenis daaraan as ons ná ons gebede “amen” sê nie. Vir ons is dit nie veel meer as: “Ek is klaar” nie. Maar oorspronklik het dit beteken dat die een wat gebid het, veronderstel dat die gemeente die gebed sal bevestig en dat hy of sy dit dus namens hulle uitspreek. Oor die algemeen het amen nog hierdie betekenis van instemming in sekere denominasies se eredienste waar mense selfs wanneer die persoon nog bid, die gebed hardop met amen bevestig.

Outeur: Prof Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: God se almag, alomteenwoordigheid en alwetendheid

Die Groot Geloofswoordeboek: God se almag, alomteenwoordigheid en alwetendheid

Die algemene betekenis wat mense aan hierdie begrippe heg, word kortliks hier bespreek. Maar die probleme en die betekenis wat ons in die Bybel kry, word bespreek onder *God.

Die “al” vooraan elke woord is opvallend. Dit is ‘n intensief, ‘n alles­oortreffende trap van vergelyking. Dit beteken dat God se mag, sy teenwoordigheid en sy kennis onoortreflik is, die hoogs moont­like vorme van mag, kennis, teenwoordigheid.

Dit is ‘n bekende manier om iets oor God te probeer sê. As mense aan God dink, dink hulle groot, hoog, heerlik. Anselmus het God selfs beskryf as: Een, groter as wie ons niks kan dink nie. Dit beteken ons kan nie eens dink aan iemand wat groter as Hy is nie, wat meer mag of kennis het nie.

In ‘n reeks ander woorde oor God kry ons weer die “on-” voor­setsel. God is ondenkbaar, onmeetlik, oneindig, on­ver­an­derlik. Dit is net so tipies om só oor Hom te praat. Dit is die manier om te sê dat Hy nie net groter nie, maar heeltemal anders is as ons. Hy is groter as wat ons kan dink of meet (on­denkbaar, onmeetlik); ons het ‘n einde, Hy nie (oneindig); ons verander, Hy nie (onveranderlik).

Op hierdie manier dink mense oor God en kom tot insigte wat vir sommige baie beteken. Mense is oortuig dat dit by God pas dat sy mag almag is. Hy moet enigiets kan doen, en ook presies wanneer Hy wil. En Hy moet oral wees, en selfs gelyktydig oral. En Hy moet alles weet, selfs alles wat ooit in die toekoms gaan gebeur.

Dit is die manier waarop daar dikwels in die verlede oor God gedink is. Dit is hoe die beginsel van Anselmus werk: God is gro­ter as enigiemand of enigiets waaraan ons kan dink.

 

Almag

Die gangbare siening is dat God almagtig is, en dat dit beteken Hy kan enige oomblik enigiets doen wat Hy wil. Vir baie mense is dit dan ook inderdaad dié eienskap van God.

Daar is in die verlede interessante vrae oor hierdie siening van sy almag gevra. Kan God regtig enigiets doen wat Hy wil? Kan Hy byvoorbeeld ‘n klip maak wat so groot is dat Hy dit nie kan optel nie? As jy sê omdat Hy almagtig is, kan Hy so ‘n klip maak, is Hy natuurlik nie almagtig nie, want Hy kan nie die klip optel nie. En as Hy nie so ‘n klip kan maak nie, is Hy ook nie almagtig nie. Dieselfde geld vir die vraag of Hy ‘n vierkantige sirkel kan maak.

Maar daar is ook ander vrae. Kan God die verlede verander? Kan Hy byvoorbeeld die feit verander dat Hy Israel se God is wat Hom aan Abraham, Isak en Jakob verbind het?

Terwyl ‘n mens oor hierdie vrae dink, begin jy besef dat dit nie die soort vrae is wat in die Bybel na vore kom nie. Dis eerder die manier waarop sekere Griekse filosowe oor God gedink het. In die bespreking oor *God sal ons sien dat die Bybel heeltemal ‘n ander benadering het tot die vraag wie God is en watter soort mag Hy het.

 

Alomteenwoordigheid

Oor God se alomteenwoordigheid kan ons ook maklik dink. Hy moet altyd oral wees, glad nie aan plek gebonde nie. Trouens, Hy moet ook altyd in alle tye teenwoordig wees, ook nie aan tyd ge­bonde nie. Hy is nou saam met Adam in die tuin van Eden, saam met Abraham by die groot bome van Mamre, saam met Jesus aan die kruis, saam met ons by die huis, én saam met ons op die nuwe aarde. Hy is mos nie aan plek of tyd gebonde nie. Maar ons is. Is Hy saam met my dáár terwyl ek nog hier is en nie daar nie? Is Hy nou saam met Abraham by die bome van Mamre terwyl Abraham nie meer daar is nie?

Of kry jy die gevoel dat ons al weer met ander vrae besig is as wat ons in die Bybel kry? Sou die Bybel dalk anders dink oor sy teenwoordigheid as wat ons nou doen? In die bespreking oor *God sal ons sien.

 

Alwetendheid

As ons voortgaan op hierdie dink-pad sal ons natuurlik dink God moet alles weet. Hy is dan God. Hy moet alles weet wat ooit gebeur het. Maar Hy moet ook alles weet wat nog gaan gebeur. Omdat ons meen Hy is nie aan tyd gebonde nie, is Hy nou reeds dáár waar ons in die toekoms iets gaan doen. Hy weet dus nou al wat ons gaan doen. Of ons kan selfs dink dat Hy vooruit bepaal wat ons gaan doen, en dat dit eintlik dáárom is dat Hy vooraf alles weet wat gaan gebeur. Maar kom ons regtig op sulke gedagtes in die Bybel af? Ons sal sien in die bespreking oor *God.

 

Woorde gemerk met ʼn * sal later bespreek word

 

Outeur: Prof. Adrio König




Die Groot Geloofswoordeboek: Allegorie

Die Groot Geloofswoordeboek: Allegorie

Allegorie

Allegorie is iets anders as *tipologie. Daar is mense wat glo dat uitsprake in die Bybel naas die letterlike betekenis ook ‘n “dieper” betekenis het. Ons noem dit ‘n allegoriese betekenis. En daar is talle en talle sulke allegorieë wat mense uitdink. Die boek Hooglied handel oor die liefdesverhouding tussen ‘n man en ‘n meisie. Maar sommige voel dis nie geestelik genoeg vir die Bybel nie, en dan neem hulle aan daar is ‘n dieper betekenis in hierdie liedere: dit sou dan die liefdesverhouding tussen Christus en sy bruid, die gelowiges, uitbeeld. Behalwe dat daar nêrens in die Bybel so ‘n suggestie is nie, word dit later ook baie ongemaklik om alles wat dié twee in hulle intieme liefdesuitings vir mekaar sê, op Christus en die gelowiges toe te pas, tensy elkeen van hierdie taamlik intieme uitsprake ook weer ‘n allegoriese betekenis kry.

Die beste is om ons in hierdie opsig aan die Bybel self te hou. Die Bybel is geestelik genoeg, ons hoef dit nie nog geesteliker te probeer maak nie. Dis later ‘n bietjie aangedik.

Woorde gemerk met ʼn * sal later verder bespreek word.

Outeur: Prof. Adrio König