Synopsis

Synopsis – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

Ek is op soek na ‘n boek/webwerf wat die 4 evangelies langs mekaar (byvoorbeeld in kolomme) plaas. As Matteus byvoorbeeld praat van Johannes die Doper, kry jy langs dit wat Markus, Lukas en die res oor daardie gedeelte skryf. Weet jul miskien van so iets?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die tipe boek wat jy soek noem ons ʼn synopsis (Grieks: sun = saam; opseo = sien). Dit is meer gespesialiseerde boeke. Daar is heelwat in Engels beskikbaar en selfs op die web kry ʼn mens daarvan. (Dit maak nie eintlik saak dat dit Engels is nie, want die verse in die Bybel is mos dieselfde). Ek het dit al dikwels raakgeloop. Ek stel  voor dat jy by NTGATEWAY (google dit) begin en van daar die links volg. Jy sal sommer vinnig by so webblad uitkom.

As jy meer gespesialiseerde Bybelstudie wil doen, is daar baie goeie programme wat jy kan koop (dit het Griekse en Hebreeuse tekste ook op). Twee van die bestes is Libronix en Bible Works. Kyk gerus op hulle webwerwe. Ek hoop jy doen lekker Bybelstudie.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Harry Potter

Harry Potter – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

Ek het ʼn Christen vriendin wat absoluut teen die kinderboeke Harry Potter is. Het u n’ mening daaroor of die lees van die boeke en die besit daarvan verkeerd is?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Lees die opmerkings oor ‘Liewe Heksie’ (op ons webblad) in hierdie verband. Hier volg nog ʼn paar opmerkings. Ons word met verskillende soorte literatuur (genres) groot, naamlik koerante, grappies, gedigte, fiksie (wat op die verbeelding staatmaak), ens. Ons leer ook om tussen die verskillende wêrelde wat in die literatuur geskep word te onderskei. As wolf in Rooikappie praat, sê ons nie daar is ʼn toordery aan die gang nie. Ons luister na Rooikappie vir wat dit werd is en binne sy eie konteks.

Harry Potter is duidelik fiksie soos Rooikappie en dit moet so gelees word. Daar is egter een komplikasie, naamlik dat kinders nie so maklik die wêreld van fiksie en die werklikheid uitmekaar kan hou nie. Daarvoor moet ons simpatie hê. Dus plaas dit ʼn groter verantwoordelikheid op jou as ouer om te sorg dat die manier waarop jy jou kind begelei en help om Harry Potter as fiksie te lees die regte beeld by jou kind sal vorm. Dit kan selfs vir jou die geleentheid gee om met jou kind oor die ware God te praat in kontras met die dinge waarvan Harry Potter vol is.

Oor die besit van die boeke kan jy elders op die webblad lees oor tekens en simbole. Die boek self is nie boos nie, dit is die manier waarop jy dit gebruik. Jy kan die beste ding sleg gebruik en omgekeerd. Dit maak nie die ding self sleg nie, maar die manier waarop jy dit gebruik.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Herdoop; die doop as verbondsteken

Herdoop; die doop as verbondsteken – Jan van der Watt

ʼn Leser vra:

(1)    Waarom kan n’ mens nie herdoop nie? Met ander woorde: waarom as ek as kind gedoop is, kan ek my nie laat grootdoop nie?

(2)    Waarom word daar gesê dat die klein-doop ʼn verbondsteken is soos die besnydenis in die Ou Testament was? Ek lees dit nie so in die Bybel nie?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ons het reeds baie inligting oor die doop op die webblad. Lees dit eers. Hoe beter ʼn mens die sisteem waarbinne die doop in die Christendom inpas verstaan, hoe makliker is dit om die probleme te verstaan en op te los.

a) Waarom nie herdoop nie? Hierdie vraag is reeds elders op die webblad beantwoord, maar tog net weer ʼn paar opmerkings. Doop is die teken dat ʼn mens ʼn plek het binne die familie van God. Byna 1,5 biljoen Christene (die Rooms Katolieke Kerk en die Ortodokse Kerk) glo daarom dat redding deur die doop bemiddel word, met ander woorde, dat as ʼn mens gedoop word, jy ook gered is. Die Protestantse deel sê egter dat die doop net ʼn teken is van die redding en nie self redding bewerk nie (lees 1 Korintiërs 10). Met die kinderdoop word daar gesê dat die kind van gelowige ouers nie uit die familie uitgegooi word om buitekant groot te word nie, maar binne die geestelike familie van God grootword. Daarom lê ouers (en die gemeente) beloftes af dat hulle die kind so sal grootmaak dat hy of sy niks en niemand anders sal wil dien as vir God as hulle grootword nie. Deur hulle lewe sal hulle hulle plek binne die geestelike familie van God later bevestig. Nou: God is nie onbetrokke of afsydig hiervan nie. Met die doop maak Hy sy arms oop en dui hy aan dat die kind welkom is in sy familie. Soos kinders in Israel wat as Israeliete gebore was, welkom was in die volk Israel, is die kinders van gelowiges welkom in die geestelike volk van God. Dit verklaar God en die doop is die teken daarvan. As ons nou ons weer en weer laat doop, beteken dit dat ons God oor en oor vra of Hy seker is van wat Hy die eerste maal gesê het. Dit kan nie. Juis daarom doop ons nie weer en weer nie. Wat God verklaar het, het Hy verklaar. Die beste voorbeeld van hoe dit werk kan gesien word met die verlore seun in Lukas 15. Die seun loop weg en toe hy terugkeer het die vader nie weer gevra dat hy van voor af kind word nie. Nee, sy kindskap is gewoon bevestig deur die oop arms van sy pa. Selfs as ons afdwaal en van God wegloop, bly God se genade daar.

b) Wat die besnydenis betref: daar is inderdaad nie veel in die Nuwe Testament oor die verband tussen die doop en die besnydenis nie. Die naaste wat die Nuwe Testament daaraan kom is in Kolossense 2:11vv. Bybeluitleggers is egter nie eens dat die doop en die besnydenis hier verbind word nie. Dit maak deel uit van twee afsonderlike voorbeelde wat Paulus hier gee. Die verband tussen die twee is meer ʼn dogmatiese (leerstellige) saak van die kerk, met ander woorde, dit is die kerk se manier om te verklaar hoe dit werk. Die twee sake loop parallel: dit gaan om kinders wat deel word van die familie, die teken dat hulle wel deel is; die verantwoordelikheid van die ouers en die gemeente om hulle godvresend op te voed, ens. Ons het nie meer die besnydenis nodig nie (lees Galasiërs), want ons is nie meer Jode nie. Tog is die teken vir ons kinders dat hulle binne die volk van God gaan grootword die doop (soos dit die besnydenis vir die Israeliete was). Dit gaan dus meer om die vergelykingswaarde as die vervangingswaarde.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt




Aborsie: Aborsie in Antieke Tye

Aborsie: Aborsie in Antieke Tye – Coen Slabber

[Aborsie = uit Latyn – ab­ – weg; oriri – gebore word.]

In die vorige artikel het ek ʼn algemene inleiding oor die onderwerp gegee. Nou kyk ons na aborsie in antieke tye. In ons volgende artikel gaan ons kyk na wat die Bybel oor aborsie sê. In hierdie artikel is daar dus nie verwysings na Bybelverse nie. Dit kom volgende.

Ons glo dikwels dat aborsie ʼn moderne probleem is wat veroorsaak word deur die vooruitgang in die mediese wetenskap. Dit is nie waar nie. Aborsie was welbekend in antieke Rome; reeds toe het Christene en Jode beswaar gemaak teen die doen van aborsies.

Buite-Bybelse literatuur

Hippokrates, in sy beroemde eed, sê: Ek sal nie aan ʼn vrou ʼn pessarium gee om ʼn aborsie te veroorsaak nie. [Pessarium = ‘n klein medisinale soliede blok wat in die vagina geplaas word. Word afgelei van die Grieks pessos = ovaal steen. (Oxford English Dictionary)] Die Sibillynse Orakels sê dat vrouens wat dit wat hulle in hulle maag het, aborteer in die kategorie val van diegene wat die bose doen. [Sibillyns = boeke met voorspellings van die sibille (= profeet, waarsêer) Cumae wat in krisistye deur die ou Romeine geraadpleeg is – HAT]

In antieke (heidense) Griekeland en Rome was Aristoteles (284 – 322 vC) se siening algemeen aanvaar. Hy het geglo dat die embrio (van bevrugting tot agt weke na bevrugting) ʼn “vegetable” siel het. Dit ontwikkel later in die swangerskap in ʼn diere siel en nog later in die siel van ʼn mens. Die ontwikkeling van ʼn mense siel gebeur 40 dae na bevrugting in die geval van ʼn manlike fetus en 90 dae na bevrugting indien dit ʼn vroulike fetus is. [Dit is van min betekenis, want destyds was dit onmoontlik om op so ʼn vroeë stadium die geslag van ʼn fetus te bepaal.] ʼn Aborsie is slegs veroordeel as die siel vernietig word. Vroeë aborsie was dus heeltemal aanvaarbaar.

Keiser Augustinus het geglo dat vroeë aborsies nie moord was nie, want daar was nie ʼn siel nie.  Elders erken hy egter dat hierdie siening verkeerd is.  Cicero (106 – 43 vC) sê dat volgens die twaalf tafels van die Romeinse wet moet misvormde pasgeborenes doodgemaak word. Plutarch praat van diegene wat hulle eie kinders geoffer het. Hy verwys ook na diegene wat geen kinders gehad het om te offer nie en kinders van arm mense gekoop het en dan hulle keel afgesny het … terwyl die moeder sonder trane toekyk (Moralia 1.171D). Aborsie was baie algemeen by die Romeine.

 

Vroeë Christelike literatuur

Die vroeë Christendom was omring deur verskillende godsdienste. Met die uitsondering van die Christendom en die Judaïsme het al die ander godsdienste aborsie toegelaat. Ouers is selfs toegelaat om hulle pasgebore babas te vermoor.

1 Henog (eerste of twee eeu vC) sê dat ʼn bose engel mense geleer het om die embrio in die baarmoeder te vernietig. Josefus, die Joodse geskiedskrywer, sê die wet beveel dat al die nakomelinge grootgemaak moet word, en verbied vrouens om of ʼn aborsie te veroorsaak of om ontslae te raak van die fetus.

Die vroeë Christen filosowe en die kerkvaders het hulle uitgespreek teen aborsie. Hulle het aborsie en kindermoord as moord beskou. Kom ons kyk na enkele verwysings:

  • Tertullianus (155 – 225 nC): … ons mag nie, want ons is verbied om moord te pleeg, die fetus in die baarmoeder vernietig nie. Dit maak geen verskil of ons ʼn lewe vernietig van iemand wat reeds gebore is of een wat in die proses van geboorte is nie.
  • Ambrosius (339 – 397 nC): die armes stel hulle kinders bloot, die rykes maak die vrug van hulle eie liggame in die baarmoeder dood.
  • Hieronimus (342 – 420 nC): Sommiges, as hulle hoor dat hulle verwag as gevolg van sonde, doen ʼn aborsie deur die gebruik van middels. Dikwels sterf hulle self en kom hulle voor die heersers van die onderwêreld en is hulle skuldig aan drie misdade: selfmoord, owerspel en moord van ʼn ongebore kind.

Augustinus  (354 – 430 nC) keer egter terug na die siening van Aristoteles. Hy glo dat die menslike siel nie in ʼn ongevormde liggaam kan woon nie. Vroeg in swangerskap is aborsie nie moord nie, want geen menslike siel word vernietig nie.

Die vroeë Christene het nie net aborsie en kindermoord verdoem nie, maar alternatiewe aangebied. Callistus (derde eeu nC) het ʼn skuiling gehad vir kinders wat weggegooi is en hulle dan in Christelike huise geplaas. Benignus (derde eeu nC) het hierdie kinders gevoed en beskerm. Party van hierdie kinders het selfs abnormaliteite gehad as gevolg van mislukte aborsies.

U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder … U het my op ʼn wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering (Psalm 139:13 – 14)

Hier is ʼn baba wat aanmekaargeweef is in die moeder se baarmoeder. Wie is die wewer? Dit is nie die mens nie, maar God. Wat dus hier gebeur, is God se werk. Geen wonder die vroeë kerk het hom so sterk teen aborsie uitgespreek nie. Vandag is dit anders. Aborsie is iets alledaags. In sommige lande is die aborsies selfs meer as die bevallings. Ons praat nie meer daaroor nie.

Maar wat sê die Bybel oor aborsies. Volgende keer kyk ons daarna.

 

Outeur: Dr Coen Slabber