Bio-etiek (1): ʼn Moderne Dilemma – Coen Slabber
[Di = twee; lemma = veronderstelling – ʼn situasie waarin ʼn moeilike keuse tussen twee of meer alternatiewe gemaak moet word.]
Ek gaan ʼn reeks artikels oor verskillende aspekte van bio-etiek skryf.
1. Hoekom praat ek van ʼn dilemma?
Miskien sal dit makliker wees om te verduidelik as ek iets sê oor aborsies. Veertig jaar gelede was aborsies wettig in sekere state in die VSA. Duisende aborsies is sedertdien deur geneeshere gedoen – maklik, vinnig en veilig. Maar ons lees ʼn paar maande gelede van ʼn man wat in die kerk doodgeskiet is terwyl hy besig was om die kollekte op te neem! Hoekom? Hy was ʼn geneesheer wat aborsies gedoen het. ʼn Paar weke gelede lees ons van ʼn man 63 jaar oud wat voor ʼn skool doodgeskiet is. Hoekom? Hy het teen aborsies betoog! Wat hieruit duidelik is, is dat hier ʼn situasie is waar die Christen – en die kerk – tussen twee alternatiewe moet kies.
2. Hoekom praat ek van ʼn moderne dilemma?
Natuurlik is van hierdie probleme nie nuut nie. Aborsie was immers reeds in die Romeinse Ryk ʼn probleem. Die slegte nuus: Met die geweldige vooruitgang op mediese gebied, veral op die gebied van genetika, gaan meer en meer soortgelyke probleme na vore kom. Party van hulle is reeds met ons (voorbeeld: genadedood); ander gaan ons iewers in die toekoms tref (voorbeeld: kloning).
Wat is bio-etiek?
Ons moet bio-etiek onderskei van mediese etiek. Mediese etiek is dit wat ʼn geneesheer mag doen en nie mag doen nie – dit is professionele etiek. Bio-etiek is ʼn wyer begrip en kan soos volg gedefinieer word:
Bio-etiek is die filosofiese studie van die etiese strydvrae wat ontstaan as gevolg van die vooruitgang in biologie en geneeskunde.
[Grieks – bios = lewe; ethos = karakter; natuur]
Etiese vraagstukke ontstaan as gevolg van die raakvlakke tussen die lewenswetenskappe, biotegnologie, geneeskunde, die reg, filosofie en teologie. Ons het hier met ʼn interdissiplinêre veld te doen. Sodra die morele waardes van die verskillende dissiplines bots, het ons ʼn etiese dilemma.
Wat hieruit baie duidelik is, is dat ons hier te doen het met ʼn probleem wat ver buite die grense van geneeskunde strek. Dit kan nie van geneeshere verwag word om die probleem op te los nie.
Die kerk het ʼn duidelike rol om te speel. Die verband tussen etiek en godsdiens kry ons reeds by Hippokrates. Luister net hoe begin hy sy bekende eed: Ek sweer by Apollo die geneesheer en Aesculapius … en al die gode en godinne dat, volgens my vermoë en oordeel, ek hierdie Eed sal onderhou.
Die studie van etiek het sterk op die voorgrond getree na die Tweede Wêreldoorlog toe dit bekend geword het dat daar allerhande eksperimente op Jode en mense met gestremdhede gedoen is.
Die basis vir etiese gedrag: Die morele wet
Op watter fondament berus ons oordeel van etiese gedrag? Dit is belangrik, want mense kom uit verskillende kulturele en godsdienstige agtergronde. Mense het egter ʼn ingeboude kennis van reg en verkeerd. Daarom is daar sekere waardes wat universeel aanvaar word. Wat is hulle?
1. ʼn Geneesheer moet altyd optree in die beste belang van die pasiënt. Die Latynse woord beneficent – om goed te doen – word algemeen gebruik.
2. Outonomie – die pasiënt het die reg om sy behandeling te kies of te weier. Die geneesheer moet respek hê vir die individu se vermoë om ingeligte besluite oor persoonlike sake te neem. Dit kan bots met ons eerste waarde as die pasiënt besluit om behandeling te weier. Dink maar net aan geneeshere se probleme met Jehova-getuies wat bloedoortapping weier.
3. Primum non nocere: Moenie skade aandoen nie. Die geneesheer moenie medisyne voorskryf wat skadelik is of waarvan hy nie seker is watter uitwerking dit gaan hê nie. Die voordele moet meer as die nadele wees.
4. Geregtigheid – verspreiding van skaars hulpbronne moet billik en regverdig geskied. Ek weet van geen land wat hieraan voldoen nie.
5. Menswaardigheid – die pasiënt het die reg om menswaardig behandel te word. Die probleem van mense kunsmatig aan die lewe hou, is, onder andere, hier ter sprake.
6. Die waarheid – die pasiënt moet weet wat hom makeer en wat die genesings- en behandelingsmoontlikhede is. Die geneesheer moet die pasiënt in staat stel om ingeligte besluite oor sy behandeling te neem.
7. Vertroulikheid. Gesprekke tussen geneesheer en pasiënt is vertroulik en mag nie openbaar gemaak word nie – selfs nie in ʼn hof nie. Met verloop van tyd is sekere uitsonderings gemaak. Geneeshere sal onder protes op versoek van die voorsittende beampte (regter of landdros) inligting in ʼn hof bekend maak. Geneeshere moet ook inligting bekend maak in gevalle van aansteeklike siektes, waar kindermishandeling vermoed word en in geval van skietwonde.
8. Die heiligheid van die lewe.
Hierdie waardes dien as raamwerk waarbinne ons alle etiese strydvrae moet hanteer. Die probleem kom as:
- Al die beginsels nie tegelykertyd bevredig kan word nie.
- Verskillende mense verskillende gewigte aan verskillende beginsels heg.
Met hierdie as agtergrond kan ons nou kyk na sekere etiese dilemmas waarvoor ons vandag staan of binnekort gaan staan. Die sake wat ons gaan bespreek sluit in aborsie, genadedood, die menslike genoom, stamselle, kloning en verpligte toetsing van babas. Voordat ons hierdie sake hanteer, is daar ʼn basiese vraag wat ons moet hanteer: Wanneer begin lewe? Dit is van belang in baie van hierdie sake wat ons gaan hanteer.
Outeur: Dr Coen Slabber