Kersfees – Brief Navraag

Kersfees – Brief Navraag – Jan van der Watt

ʼn Leser skryf dat sy die volgende e-pos van ʼn goeie vriendin ontvang het. Sy skryf: “Wil jy dit nie asb deurlees, en vir my kommentaar daarop lewer nie.  Ek is verward, maar wil regtig die HERE dien, ek kan nie regtig fout vind met ons gebruik van Kersfees nie. HELP.!!!! Ek wil weet asb.

Hier volg die e-pos wat sy ontvang het:

Liewe familie en vriende,

Lees asb die 2 aanhangsels met aandag deur, dis belangrik en as jy werklik die WAARHEID wil ken en God wil behaag sal jy tog wil seker maak dat jy die regte goed doen.  Die skokkendste is die besef dat ons Bybel kennis nie naastenby kan opweeg teen ons sport, skinder en “celebrity” kennis nie.

Daar is ʼn paar tradisies wat ons volg wat ons nie lekker weet hoekom ons dit doen nie.  Ons doen dit uit gewoonte sonder om die oorsprong of agtergrond daarvan te ken. In ons geval het ons net die stroom gevolg bloot omdat dit minder moeite was en dis tog wat “almal” doen!

As ons mooi die verhaal gaan lees van die goue kalf sal ons sien dat die volk dit as ʼn feesdag vir die Vader uitgeroep het, maar die Vader het nooit vir hulle gesê om dit te doen nie.  Dis wat nog steeds gedoen word vandag, ons glo dis wat ons moet doen, want dit klink goed, voel goed. Die vraag is, is dit wat ons gevra is om te doen??  Met al die navorsing wat al gedoen  is  oor die onderwerp, is daar NIKS wat in die Skrif sê, dis hoe ons dit moet doen nie!  In teendeel kry jy die teenoorgestelde!

“Ek weet dat dit ʼn krieweling in jou veroorsaak en jou ongemaklik kan laat voel, maar asseblief gaan ondersoek dit en gaan vind self uit wat die waarheid is. Onthou ʼn tradisie is een van die moeilikste goed om as verkeerd te aanvaar en hoe ouer ʼn mens is hoe moeiliker raak dit, want die tradisie is in jou wese vasgelê. “

Elke daad moet tog gaan oor ons Vader en Sy Seun wat alle EER en LOF toe kom!  Daarom het ons elke aspek van Kersfees gaan meet teen God se Woord en het skaam gekry oor ons onkunde.

Vir ons was dit verskriklik moeilik om die besluit te neem om nie hierdie fees te vier wat nie deur die Woord van God beveel word nie.  Dit kan dalk konflik veroorsaak, maar ons voel tog dat die tyd verby is om kompromieë aan te gaan.  ‘n Mens hou nooit op groei in sy verhouding met God nie, daarom voel ons ook sterk daaroor om al die praktyke, feeste ens in diepte te ondersoek na aanleiding van die Skrif, sodat ons met sekerheid kan weet dat ons nie bloot tradisies navolg nie, maar wel ons Een en Enigste se voorskrifte.

 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ons het ʼn vraag gekry oor Kersfees: die vraag raak drie sake aan wat kortliks hier opgesom gaan word:

a)            dat Kersfees nie ‘n Bybelse fees is nie, maar so 300 jaar later deur Christene begin vier is as fees waartydens die geboorte van Jesus gevier word. Voor dit was dit ‘n heidense fees vir die songod.

b)            dat op grond van die Griekse woord in Johannes 1:14: ‘Jesus het onder ons kom woon’ (tent opgeslaan – of soos die vraag sê ‘tabernacled’) word daar gesuggereer dat ons op die huttefees die geboorte van Jesus moet vier.

c)            Dat om Kersfees te vier beteken om afgode te dien wat sal beteken dat God jou sal straf (en daar word ‘n reeks verse gegee).

 

Eerstens: lees die gedeelte oor die geboortedag van Jesus op www.bybelkennis.co.za. Daar word akkurate gegewens oor Jesus se geboortedag gegee. Daaroor gaan niks meer gesê word nie. Dit is algemeen bekend dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie.

 

Tweedens: die hart van die saak is of Christene Kersfees mag vier, veral omdat dit 1700 jaar gelede die fees van die songod of die lig vervang het. ‘n Paar sake speel hier ‘n rol.

  • Kom ons kyk na die volgende voorbeeld: sê ons as gelowiges loop ‘n groep heidene op ‘n eiland raak wat op Maandae fees hou om een of ander god te dien wat lewe gee en onderhou. Ons vertel hulle van die lewende en ware God wat lewe gee en onderhou en hulle kom tot bekering. Ons kom dan ooreen om op Maandag fees te hou om die ware God te aanbid en ons doen dit juis omdat dit so duidelik sal wys dat die ou gode nie meer ‘n plek het nie. Maandae behoort nou aan die ware, lewende God. Doen ons dan sonde om op Maandae die lewend God te aanbid? Glad nie. Net so is dit met Kersfees. Toe die heidene, wat die son met sy lig (wat omtrent op daardie tyd weer elke dag langer en langer begin skyn het na die donker winter) aanbid het, die ware Lig ontmoet het, het hulle besluit dat hulle graag op daardie dag die ware God wil aanbid om so te wys dat hulle die ware God ken. Die dag was dus nie belangrik nie, maar wie jy op daardie dag aanbid het. Simbolies het dit dus vir die nuwe gelowiges baie beteken om juis op daardie dag te wys dat hulle nie meer afgode nie, maar die ware God, Jesus, aanbid. Dit is dus baie jammer dat party mense die afgode nou weer op ‘n manier op die dag wil insleep.
  • Ons moet ook die rede onthou waarom die Christendom so iets van die heidendom kan ‘terugvat’. Die Christendom is ‘n oorwinnende godsdiens, omdat ons die ware God aanbid. As heidene nou stukke van God se skepping kom vat en dit kamma vir ander gode toesê, moet die Christene dan terugdeins en sê ons gebruik dit nie meer nie, want die heidene doen dit? Byvoorbeeld, moet ons nie lig (kerse) gebruik nie omdat heidene dit gebruik? Mag ons nie ‘n boom gebruik om God se lewe en versorging te illustreer nie omdat heidene dit ook doen? NEE, Christene moet ‘versoening’ in die wêreld bring (Kolossense 1:20) deur alles weer ‘in balans’ te bring, met ander woorde, om weer dit wat die heidene ‘gesteel’ het van God terug te vat en goeie betekenis daaraan te gee. As die heidene dan 25 Desember (wat die draai van die seisoene en lig vier) en dit vir ‘n god wat nie bestaan nie gee, waarom kan die Christene nie die dag terugvat en sê dat die werklike lig juis Jesus is nie. So sou en het die werklike boodskap baie duidelik by die heidene ook uitgekom. Die mentaliteit om vir alles weg te hardloop maak die Christendom wat dit nie is nie – ‘n swak godsdiens wat nie teenoor die afgode kan opstaan en terug kan vat wat aan dit behoort nie. Dit geld ook vir dinge soos die kersboom. Die ou Europeërs het die bome gesien as tekens van lewe en het sekere bome ook aanbid. Toe die sendelinge daardie heidendom ingetrek het, het hulle juis die bome afgekap om te wys dat die heidense gode magteloos is. In een geval het daar ‘n jong immergroen boom naby die afgekapte boom gestaan en die vroeë sendeling het toe gesê dat Jesus die een is wat immergroen is en ewig leef. Van toe af is die boom deur daardie mense as simbool van Jesus se ewige lewe en versorging gesien. Dit het vir hulle ‘n nuwe simbool geword met nuwe betekenis. Weer gaan dit nie om die simbool (die boom) nie, maar wat die simbool beteken. Daardie simbool lei hulle nou na aanbidding van Jesus toe en dit kan tog nie verkeerd wees nie. Waarom nou die ou gode bysleep?
  • Die verwysings in die Ou Testament dat God almal wat afgode dien, sal straf, geld nie vir Kersfees of vir iets soos die kersboom nie, NIE as dit ons help om Jesus as die ewige lig, die ewige lewegewer wat ook ons vir altyd in ons geloof immergroen sal hou beter te eer nie. Ons dien dan mos nie valse gode nie. Waarom sal God ons dan wil straf? Dit is net as ons die boom of 25 Desember gebruik om valse gode (die son of die ou god Thor) te aanbid dat God ons sal straf. Om dit eenvoudig te stel: die hangertjie met die kruisie om my nek maak my nie ‘n Christen nie. Dit is wat die simbool vir my beteken – WIE ek aanbid. Dus nie die simbool (kruisie) is so belangrik nie, maar wat agter die kruisie staan. Nie die simbool (25 Desember of die kersboom) is so belangrik nie, maar WIE vir my daaragter staan. As dit die lewende God is, waarom sal God met ons ongelukkig wees? Die 25 Desember behoort in alle geval aan hom soos al die ander dae en die bome soos al die ander bome.
  • Ons moet dus seker maak dat wat ons op Kersfees doen en die simbole wat ons gebruik, ons die lewende God helderder moet laat sien. Dan maak Kersfees en alles wat daarmee saamgaan regtig sin.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Die teleologiese argument vir die bestaan van God (7)

Die teleologiese argument vir die bestaan van God (7) – Gerhard van Rooyen

 

Gevolgtrekking:

Die teleologiese argument vir die bestaan van God is beperk in die doeltreffendheid daarvan. Dit kan op die meeste ‘n aanduiding gee dat daar moontlik ‘n God bestaan, maar dit kan nie ‘n oortuigende bewys daarstel vir God se bestaan nie.

Dit hang uiteraard ook af of ‘n mens orde of ontwerp in die skepping sien al dan nie. Vir die gelowige blyk die getuienis van ontwerp in die wêreld bevestiging te wees dat geloof in God redelik is en dat dit nie onredelik is om te glo nie. Of ‘n mens egter die geloofsprong wil maak na ‘n Intelligente Ontwerper (en God ) is steeds ‘n geloofstap wat nie alle onpartydige waarnemers sal maak nie (Case-Winters 2003:214). In die verband het Anton van Niekerk die volgende gesê :”Die geloof in die God van die Bybel is egter geen wetenskaplike teorie nie en die belydenis dat God die skepper van hemel en aarde is, is geen wetenskaplike hipotese nie. Dit is eerder ‘n verwoording van ‘n geloofsinsig in die misterie wat die grondslag lê van ons werklikheid – ‘n geloofsinsig wat nie volledig uitpluisbaar is in ‘n sluitendende wetenskaplike sisteem nie” (Van Niekerk 2005: 192 ). McGrath is dus korrek in sy kritiek op Dawkins dat ‘n mens nie deur middel van die wetenskap (insluitende die teleologiese argument vir God se bestaan) die bestaan al dan nie, van God kan bewys nie .

 

BIBLIOGRAFIE

1. BROWN ,C. 1990 Christianity & Western thought Volume 1 Downers Grove Intervarsity Press

2. CASE-WINTERS, A. 2003 “Design” in VAN HUYSSTEEN, J.W.V. (Editor – in Cluef): Encyclopedia of Science and Religion: New York. MacMillan Reference

3. DARWIN, C.R. 1958 The autobiography of Charles Darwin 1809-1882 with the original omissions restored:Edited and with an appendix and notes by his grand-Daughter Nora Barlow London: Collins

4. DARWIN, F and SEWARD , A .C.(ed) 1903 More letters of Charles Darwin-A Record of his work in a series of hitherto unplubished letters.Vol 1. London : John Murray

5. DAWKINS, R. 1988 The Blind Watchmaker. London: Penguin Books.

6. DAWKINS, R. 2006 The God Delusion. London: Bantam press.

7. Du Toit, C.W. 2003 ” Interpreting nature naturalistically without dismissing God: critical look at alternative models” in Du Toit,C W (Editor): Design,information and complexity in creation .Pretoria: Unisa

8. GEISLER, N.L. 1974 Philosophy of Religion. Grand Rapids: Zondervan

9. GOULD, S.J. 1992 Impeaching a Self-Appointed Judge. Scientific American Vol 267 92-94

10. HIMMA, K.E. 2006 Design Arguments for the Existence of God: The internet encyclopaedia of Philosophy. www.iep.utm.edu/d/design/htm 09.06.2007

11. HUME,D 1947 Dialoges concerning natural religion,edited with an introduction by N K Smith ( 2nd ed). London : Thomas Nelson

12 KANT, I. 1929 Critique of pure reason (Translated by N.K.Smith.) London:Macmillan and Co.

13. MCGRATH, A 2005 Dawkins” God: Genes, Memes and the Meaning of Life. Oxford: Blackwell

14 MCGRATH, A. 2006 The order of things: Explorations in scientific theology. Oxford: Blackwell

15. MCGRATH, A with MCGRATH, J.C. 2007 The Dawkins Delusion? Atheist Fundamentalism and the denial of the divine. London: SPCK

16. PALEY,W 1805 Natural theology:Evidences of the existences and attributes of The Deity (9th ed) London : R.Faulder

17. PALMER, M. 2001 The Question of God – An introduction and sourcebook.  London and New York: Routledge

18. PLANTINGA, A. 2007 The Dawkins Confusion: Naturalism ad Absurdum. Books and Culture Vol 13 No 2 21-29 . www.christianitytoday.com/bc/2007/002/1.21html 17.10.2007)

19. POOLE, M . 2007 Users guide to science and belief. Oxford : Lion Hudson

20. VAN NIEKERK, A 2005 Geloof sonder sekerhede Wellington : Lux Verbi.BM

 




Darwinisme en Sosiale Darwinisme

Darwinisme en Sosiale Darwinisme – Coen Slabber

[Hierdie is beslis nie ʼn poging om evolusie te verdedig nie. As wetenskaplike glo ek egter dat ons noukeurig in ons woordgebruik moet wees. Hierdie is ʼn poging om twee begrippe wat dikwels (verkeerdelik) bymekaar gegooi word, te onderskei. Hoekom juis nou? Richard Dawkins se nuwe boek The Greatest Show on Earth – The Evidence for Evolution het pas verskyn en is vinnig besig om op die topverkoperlyste te klim.]

In 1859 – 150 jaar gelede – publiseer Charles Darwin sy bekende boek The Origen of Species. In hierdie 150-jarige herdenking word daar baie oor evolusie geskryf. Die probleem is dat mense nie altyd seker is waaroor hulle skryf nie. Die vraag wat ek op die tafel sit, is: Is Darwinisme en sosiale Darwinisme dieselfde ding?

Darwinisme

Met sy boek het Darwin wetenskaplikes se verstaan van biologie radikaal verander. Wat hy gedoen het, is om ʼn voorstel te maak waarin hy ʼn meganisme beskryf vir die geleidelike verandering van spesies – natuurlike seleksie. Hierdie teorie van natuurlike seleksie staan as Darwinisme bekend. Deur hierdie teorie so sterk aan die naam van ʼn enkele wetenskaplike te koppel, mag mense laat glo dat ons  hier te doen het met ʼn kultus van ʼn enkele wetenskaplike wat slaafs deur ander nagevolg word. Dit is nie waar nie, want honderde wetenskaplikes het onafhanklik bydraes gemaak tot die moderne teorie van evolusie.

Toe Darwin die meganisme van natuurlike seleksie daargestel het, het hy nie die besonderhede van oorerwing verstaan nie. Gregor Mendel, ʼn priester, se eksperimente met ertjies was reeds aan die gang. Hy ontrafel die presiese manier waarop eienskappe oorgeërf word. Die sintese van hierdie twee teorieë – Mendel se genetika en Darwin se natuurlike seleksie – staan as Neo-Darwinisme bekend.

Darwinisme is ʼn wetenskaplike teorie wat geen melding van godsdiens maak nie. Dit mag egter onverenigbaar met sekere godsdienstige sienings wees. Darwinisme is onverenigbaar met enige godsdiens wat sê dat die wêreld 10 000 jaar oud is. Darwinisme mag godsdienstige implikasie hê alhoewel dit nie melding maak van geloof in God nie.

Voorstanders van Kreasionisme, Intelligente Ontwerp en die nuwe ateïste sê dat die aanvaarding van Darwinisme sinoniem met ateïsme is. Hulle glo dat Darwinisme onverenigbaar met enige godsdienstige wêreldsiening is.

Daar is egter baie wetenskaplikes wat glo dat Darwinisme ʼn korrekte wetenskap is – dit beskryf die metode wat God gekies het om die wêreld te skep. Volgens hulle is Darwinisme nie onverenigbaar met geloof in God nie.

Die einde van hierdie debat is lank nog nie in sig nie.

Sosiale Darwinisme

Hierdie is ʼn totaal ander konsep. Sosiale Darwinisme is die siening wat ontstaan as sekere evolusionêre konsepte op groepe in ʼn sosiale konteks toegepas word. Dit is die idee dat Darwin se teorie uitgebrei en op sosiale gebied toegepas kan word. In uiterste gevalle beteken dit diskriminasie teen mense wat nie in ʼn magsposisie is nie.

Een voorbeeld van sosiale Darwinisme is eugenetika (rasverbetering). Daar is ook beheerde voortplanting met die doel om die menseras te verander volgens een of ander visie. Die hele doel is om die menseras te verbeter. So word verpligte sterilisasie van mense wat as “onbevoeg” vir die samelewing beskou word, aanbeveel.

Regter Oliver Wendell Holmes, Jr, stel dit soos volg:

“It is better for all the world, if instead of waiting to execute degenerate offspring for crime, or to let them starve for their imbecility, society can prevent those who are manifestly unfit from continuing their kind.”

Die beredenering is: As mense deur natuurlike seleksie ontstaan het, is dit reg om teen mense wat “minder fiks” is, te diskrimineer.

Mense redeneer dat aanvaarding van Darwin se wetenskap ook aanvaarding van sosiale Darwinisme beteken. Hulle glo dan ook dat Darwin se idees  Adolf Hitler beïnvloed het. Daarmee ignoreer hulle dat die geskiedenis van die mens dikwels praat van uitwissing van rasse – reeds  lank voor Darwin.

Gevolgtrekking

Daar is ʼn duidelike verskil tussen Darwinisme en sosiale Darwinisme. Darwinisme is die wetenskaplike teorie van evolusie deur natuurlike seleksie wat later gekombineer is met Mendel se insette oor genetika. Wetenskaplikes wat evolusie ondersteun, sê dat evolusie die antwoord is op die vraag “Hoe”? God bly die antwoord op die vraag “Waarom”? Hulle glo dat God steeds die outeur van die proses is. Sosiale Darwinisme, daarenteen, is ʼn misleiding wat ontstaan het deur evolusionêre beginsels op die sosiale gebied toe te pas. Dit word deur geen Christen-wetenskaplike aanvaar nie.

 

Outeur: Dr coen Slabber




Die teleologiese argument vir die bestaan van God (6)

Die teleologiese argument vir die bestaan van God (6) – Gerhard van Rooyen

 

Kan die wetenskap god se bestaan bewys?

Dawkins (2006: 31) definieer God (die God hipotese soos hy dit noem) soos volg: “there exists a super-human, supernatural intelligence who deliberately designed and created the universe and everything in it, including us. ” Hy sê dan dat sy boek (The God Delusion) die volgende alternatiewe standpunt stel:

This book will advocate an alternative view: ‘any creative intelligence, of sufficient complexity to design anything, comes into existence only as the end product of an extended process of gradual evolution.’ Creative intelligences, being evolved, necessarily arrive late in the universe, and therefore cannot be responsible for designing it. God, in the sense defined, is a delusion; and, as later chapters will show, a pernicious delusion.”

 

Onderliggend aan die agenda van sy boek is die omvattende geloof dat die wetenskap die bestaan van God weerlê het (McGrath 2007: 13). Die evolusionêre proses, volgens Dawkins, laat geen moontlikheid vir God se bestaan nie. Alles wat ‘n vroeëre geslag verduidelik het deur ‘n appèl op ‘n Goddellike skepper kan geakkommodeer word binne ‘n Darwinistiese raamwerk. Daar is geen rede om in God te glo na Darwin nie (McGrath 2006: 26). Dawkins stel Darwinisme voor as die intellektuele superhoofweg wat noodwendig lei tot ateïsme (McGrath 2006: 30). Die vraag wat ‘n mens noodwendig moet vra na aanleiding van bogenoemde is of dit inderdaad so is dat die wetenskap noodwendig tot ateïsme lei? Kan die wetenskap hoegenaamd die bestaan al dan nie van God bewys? Michael Poole het die volgende oor die aspek te sê: “Some people have demanded ‘scientific proof that God exists’ ; an odd request since science only deals with the natural world and God is not a material being. Religion however, includes questions as to whether there is anything other than the natural world (i.e. God), to which the natural world owes its existence; and it is no

use going to science, the study of the natural world, to find out if there is anything other than the natural world. So Richard Dawkins’ reassertion in The God Delusion , that God is ‘a scientific hypothesis’ , has a strange ring to it, as did his earlier claim …….that he pays ‘religions the compliment of regarding them as scientific theories’. It might be asked what professional philosopher would support such a claim?” (Poole 2007:90-91).

 

Die fundamentele vraagstuk waarmee die wetenskap gekonfronteer word is hoe om sin te maak van ‘n hoogs komplekse veelkantige en multigelaagde werklikheid (McGrath 2007: 14).  Wetenskapsfilosowe het hieroor al baie besprekings gehad. Die natuurlike wetenskap is afhanklik van induktiewe argumente wat beteken dat getuienis opgeweeg moet word en waarskynlikhede in ag geneem moet word. Dit kan nie bewyse daarstel nie. Kompeterende verduidelikings kom op elke vlak van menslike pogings voor om die wêreld te verduidelik – van die detail van kwantum meganika tot die uiteindelike vrae van betekenis soos Karl Popper dit gestel het (McGrath 2007: 14). Dit beteken dat die groot vrae van die lewe (wat ook sommige wetenskaplike vrae insluit) nie met enige graad van sekerheid beantwoord kan word nie. Enige gegewe stel waarnemings kan verduidelik word deur ‘n aantal teorieë. Die vraag wat dan ontstaan is die volgende: Watter kriteria kan gebruik word om te besluit tussen die verskillende teorieë – veral as hulle empiries ekwivalent is? Die gevolgtrekking is dat die groot vrae onbeantwoord bly. Daar kan geen wetenskaplike bewyse wees vir die uiteindelike vrae nie. Of ons kan hulle nie beantwoord nie of dit moet op ander gronde as die

wetenskap beantwoord word (McGrath 2007: 14).

 

Die wetenskaplike metodes is nie in staat om ‘n beslissende oordeel te vel oor die vraag of God bestaan al dan nie (McGrath 2005:53). Volgens McGrath neem die wat glo dat dit wel die bestaan van God kan bewys of nie, die wetenskaplike metode buite sy wettige grense en loop hulle die risiko om die metode te diskrediteer. Sommige bioloë (soos Francis S. Collins, die direkteur van die Menslike Genoom Projek) argumenteer dat die natuurlike wetenskappe ‘n positiewe vermoede skep van geloof terwyl ander (soos die evolusionêre bioloog, Stephen Jay Gould) aandui dat dit negatiewe inplikasies vir teïstiese geloof het. Niks word egter na enige kant toe bewys nie (McGrath 2005: 53).

 

In 1880 het T.H. Huxley (wat in dieselfde tyd as Charles Darwin geleef het) reeds gesê dat die vraag na God se bestaan nie op grond van die wetenskaplike metode bevestig kan word nie. Hy sê die volgende in die verband:

Agnosticism is of the essence of science, whether ancient or modern. It simply means that a man shall not say he knows or believes that which he has no scientific grounds for professing to know or believe … Consequently Agnosticism puts aside not only the greater part of popular theology, but also the greater part of anti-theology.” (Mcgrath 2005:53-54).

 

In ‘n resensie van die boek Darwin on Trial deur Phillip E. Johnson, skryf die resensent, Stephen Jay Gould, die volgende na aanleiding van Johnson se bewering dat Darwinisme ‘n naturalistiese filosofie is wat inherent gekant is teen godsdiens:

But this is the oldest canard and non sequitur in the debater’s book. To say it for all my colleagues and for the umpteenth millionth time (from college bull sessions to learned treatises): science simply cannot (by its legitimate methods) adjudicate the issue of God’s possible superintendence of nature. We neither affirm nor deny it; we simply can’t comment on it as scientists. If some of our crowd have made untoward statements claiming that Darwinism disproves God, then I will find Mrs. McInerney and have their knuckles rapped for it (as long as she can equally treat those members of our crowd who have argued that Darwinism must be God’s method of action). Science can work only with naturalistic explanations; it can neither affirm nor deny other types of actors (like God) in other spheres (the moral realm, for example).” (Gould 1992: 93).

 

Gould gaan voort in die volgende paragraaf van sy resensie as hy sê:

Either half my colleagues are enormously stupid, or else the science of Darwinism is fully compatible with conventional religious beliefs – and equally compatible with atheism, thus proving that the two great realms of nature’s factuality and the source of human morality do not strongly overlap.” (Gould 1992: 93).

 

Gould maak dit hier baie duidelik dat Darwinisme nie die bestaan van God kan bewys of ontken nie. Die wetenskap kan dus nie alles verduidelik nie, soos wat Dawkins wil hê ons moet glo nie. Wetenskaplike teorieë kan nie “die wêreld verduidelik” nie – dit kan slegs die natuurverskynsels in die wêreld verduidelik (McGrath 2007: 16). Vrae wat buite die normale trefwydte van die wetenskaplike metode lê, is byvoorbeeld die vraag of daar ‘n doel in die natuur is. Dawkins beskou dit as ‘n non-vraag, al is dit ‘n heeltemal legitieme vraag vir enige mens om te vra (McGrath 2007: 17). McGrath (2007: 17) verwys na twee wetenskaplikes, Max Bennett en Peter Hacker, wat aandui

dat die natuurlike wetenskappe nie in ‘n posisie is om kommentaar te lewer op die vraag nie – as hulle metodes reg toegepas word. Die vraag lê volgens hulle buite die trefwydte van die wetenskaplike metode. McGrath verwys ook na Sir Peter Medawar, ‘n Oxfordse immunoloog wat die Nobelprys vir medisyne verower het, en wat ‘n selferkende rasionalis is wat die volgende te sê het:

That there is indeed a limit upon science is made very likely by the existence of questions that science cannot answer, and that no conceivable advance of science would empower it to answer … I have in mind such questions as:

• How did everything begin?

• What are we all here for?

• What is the point of living?

Doctrinaire positivism – now something of a period piece – dismissed all such questions as nonquestions or pseudoquestions such as only simpletons ask and only charlatans profess to be able to answer” (Soos aangehaal in McGrath 2007: 18).

 

Die feit dat die wetenskaplike metode nie die vraag na God se bestaan kan beantwoord nie, beteken egter nie dat ‘n mens nou irrasioneel moet optree om daarmee te handel nie. Dit beteken eenvoudig dat die bespreking na ‘n ander vlak moet verskuif waar ander kriteria of getuienis en argumente gebruik moet word. Dit is ongelukkig presies wat Dawkins doen deur sy nie-wetenskaplike argumente waardeur hy ateïsme probeer propageer (McGrath 2005: 56) . Die wetenskaplike metode alleen kan nie die vraag na God se bestaan uiteindelik beantwoord nie, selfs al sou dit belangrike bydraes tot die debat kon lewer. (McGrath 2005: 56-57)

 

Outeur: Gerhard van Rooyen