Geloof en Werke – Francois Malan
Jan Breet vra:
Wat is die verband tussen geloof en werke?
Antwoord:
1 Wat dit nie is nie.
1.1 Gered deur te glo, nie deur jou werke nie
Galasiërs is moontlik die eerste brief wat Paulus geskryf het. Hy is ontsteld oor Joodse dwaalleraars wat die gemeentes in die provinsie Galasië se verstand benewel (3:1 letterlik ‘getoor’, ‘mislei’, ‘verlei’, ‘bekoor het’). Hy is verbaas dat hulle so gou van God, wat hulle deur die genade van Christus geroep het, afvallig geword het en ‘n ander evangelie aangeneem het (1:6). Die Joodse dwaalleraars het blykbaar vir die Galasiërs vertel dat ‘n mens nie gered word deur slegs in Christus te glo nie, maar dat jy ook die Joodse gebruike en wette moet volbring en besny word om jou verhouding met God reg te maak.
In hoofstukke 1-2 verwys Paulus na sy eie lewe as ‘n toegewyde Jood (1:13-14; vgl. Filipense 3:2-6). Maar toe God in sy goedheid besluit het om sy Seun aan hom te openbaar (Galasiërs 1:16, vgl. Handelinge 9:3-6), het hy alles wat eers vir hom ‘n bate was, prysgegee en beskou dit as verwerplik, sodat Hy Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom te wees, vrygespreek (letterlik ‘geregverdig’ voor God), nie omdat hy die wet onderhou nie, maar omdat hy in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo (letterlik: die geregtigheid van God deur geloof; Filippense 3:7-9).
Al is hy ‘n Jood weet hy dat ‘n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo…want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie (Galasiërs 2:15-16).
1.2 Geen mens kan die wet ten volle onderhou nie
In Romeine 1-3 wys hy dat geen mens die wet ten volle kan onderhou nie. Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie, inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is (Romeine 3:20; vgl. Galasiërs 3:21-22). By die wet gaan dit nie om die geloof nie, maar om die daad (Galasiërs 3:12).
1.3 Vertroue op werke is vertroue op jouself voor God, nie op Christus nie
Die probleem met die mense wat God probeer behaag met hulle goeie werke is dat hulle dan op hulle self en hulle eie perstasie vertrou vir hulle verlossing, en nie op God se vrye geskenk wat Hy vir ons uit sy genade gee nie. Daarom sê Galasiërs 2:21: as ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat jy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het. Galasiërs 5:4: julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur.
2 Hoe geloof werk om ons te red
2.1 Geloof is om God te vertrou dat Hy my verlos
Galasiërs 3:3: omdat Abraham in God geglo het, het God hom vrygespreek – letterlik: regverdig verklaar;
Hebreërs 11:1 – om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
2.2 Geloof is om in Christus Jesus te glo, deur wie God my verlos
Galasiërs 3: 13: Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek aan die kruis ‘n vervloekte te word;
Galasiërs 3:26: deur die geloof in Christus Jesus is ons kinders van God.
2.3 Ons ontvang die Heilige Gees, God self wat in ons kom woon, deur die evangelie te glo
Die evangelie beteken ‘goeie nuus’ nl. dat God my deur Christus se offer verlos van my sonde en self by my kom woon, en dit net deur ten volle op God se genade te vertrou vir my lewe. Vergelyk Galasiërs 3:2,6 se retoriese vraag dat ons die Heilige Gees ontvang, nie deur die wet van Moses te onderhou nie, maar deur die evangelie te glo.
Galasiërs 3:14: deur die geloof ontvang ons die Gees wat God beloof het.
Johannes 14:16-17: Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid…julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.
Galasiërs 3:22: die belofte van God word vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Christus Jesus.
2.4 God red ons uit sy vrye genade deur Christus wat ons verlossing bewerk het.
Dit is nie deur ons eie verdienste met goeie werke nie, maar deurdat ons God glo en op Hom vertrou vir ons verlossing. Ons geloof en ons redding is ‘n gawe van God
Efesiërs 2:4-9; vers 8 sê letterlik: deur genade is julle gered deur geloof, en dit – nl. die redding en die geloof – nie uit julleself nie, is die gawe van God;
Filippense 1:29 sê letterlik: wat Christus betref het God aan julle die genade gegee om nie alleen in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly.
3 Die verband tussen geloof en werke
3.1 Omdat God die Heilige Gees in ons woon Romeine 8:9 (8:10 sê daarom: Christus is in ons), kan ons nou aan die eise van die wet voldoen (Romeine 8:4).
Die Gees oortuig ons wat sonde is (Johannes 16:8) en lei ons in die hele waarheid (Johannes 16:13).
In Efesiërs 3:16-19 bid Paulus dat die Vader deur sy Gees, uit die rykdom van sy heerlikheid, aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word (dit is die krag van die liefde), dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon, en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om…te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God (die God van liefde).
Hy werk in ons sodat ons al meer gelykvormig sal wees aan die beeld van Christus (Romeine 8:29).
Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is (2 Korintiërs 3:18)
Galasiërs 5:22-23 sê: die vrug van die Gees in ons lewe is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
3.2 Ons opdrag
3.2.1 Aflê van die sonde
Romeine 8:12-12: Ons staan onder ‘n verpligting om nie volgens ons sondige natuur te lewe nie, maar om deur die Gees ‘n einde te maak aan ons sondige praktyke.
Romeine 6:12: Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie.
3.2.2 Doen wat God wil
Romeine 12:2 sê: laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
Romeine 6:13: Nee stel julle in diens van God…en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.
Galasiërs 5:24-25: Die wat aan Christus Jesus behoort , het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.
Wat die wet nie kon doen nie, omdat ons sondige natuur nie die wet kon volbring nie, dit het God uit genade deur Christus vir ons gedoen, en doen Hy deur sy Gees in ons, dat ons volgens die wil van God begin lewe, soos dit in sy woord vir ons geopenbaar is. Nou is dit nie ‘n wet wat van buite af eise aan ons stel wat ons nie kan bykom nie. Nou het God self in ons kom woon, om ons wil te omskep, sodat ons sy wil en wet wil doen. En Hy gee ook aan ons die krag om sy wil te doen en om die sonde af te lê.
3.2.3 Goeie werke uit dankbaarheid sonder enige roem
Voor Hom het geen mens iets om op te roem nie. Aan God is dit te danke dat ons met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: nl. die vryspraak, die heiliging en die verlossing. Daarom ‘Die wat wil roem, moet in die Here roem (1 Korintiërs 1:29-31).
Ons lewe is nou een van dankbaarheid teenoor God, en ons doen sy wil uit blye dankbaarheid. Dit is ook vir ons die allerbeste soort lewe (vgl. Romeine 12:1) .
3.3 Geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan
Vir Paulus is die nuwe bedeling met Christus se koms, waaraan die Heilige Gees ons deur geloof verbind (Galasiërs 3:3-5), die bedeling van vryheid (Galasiërs 5:1,13; vgl. 2 Korintiërs 3:17). Christus het ons nie vrygemaak vir slawerny aan wetsonderhouding nie, maar maak van ons vrye kinders van God (Galasiërs 4:5; Romeine 8:15-17) Vryheid is kosbaar en moet met sorg in stand gehou word deur dit te beoefen: staan dan vas in hierdie vryheid.
Van twee kante word die vryheid bedreig: deur die versoeking om terug te deins van die verantwoordelikheid wat die vryheid meebring en liewer sekuriteit in ‘n vaste stel reëls te soek. Dan voer jy net vaste voorskrifte uit en hoef nie rekenskap te gee van jou verantwoordelikheid nie. Aan die anderkant is daar die gevaar om die verantwoordelikheid van die vryheid te ontduik deur alle bindinge oorboord te gooi, en vryheid as ‘n verskoning vir losbandigheid te gebruik. In die ou wêreld van slawerny lei die wet die mens tot eie-wetlikheid en sonde. In die nuwe wêreld van vryheid lei die Gees ons tot liefde vir God en vir mense (Galasiërs 5:6). Die keuse is tussen slawerny met vrees vir straf, of vryheid in liefde.
Galasiërs 5:6 beskryf ons nuwe verhouding as ‘in Christus’. Dit beteken dat ons in gemeenskap met Christus lewe, en deel het aan alles wat Hy vir ons en ons bewerk. ‘In Christus’ is ‘n kernagtige beskrywing van die nuwe bestaanswyse van die gelowige, saam met die Seun van God is die gelowiges ook kinders van God. Dit bring ook ‘n nuwe lewensoriëntering, wat op Christus fokus, en ‘n nuwe waardestelsel. Gelowiges is één in Christus as sondaars, wat uit genade verlos is, om saam kinders van God te wees. Maar hulle het ook ‘n nuwe gedragskode as God se kinders, en ‘n nuwe motivering in die lewe, nl. geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.
In plaas van geregtigheid voor God te probeer kry op grond van menslike prestasies, ontvang hulle geregtigheid alleen deur in Christus te glo. Maar die genadegawe van God bring ook ‘n nuwe dryfkrag in die gelowige se lewe, nl. die liefde van God wat die vrug is van die Gees se werk in die gelowige (5:22). Soos wat ons deur die geloof deel word van alles wat Christus vir ons aan die kruis volbring het, so word Christus deel van ons lewe deur in ons te kom woon met sy krag, nl. sy liefdeskrag. Hy maak van ons kinders wat hulle Vader liefhet en mekaar liefhet.
Die liefde is die maatstaf vir die Christen se lewe, en word in dade uitgedruk, soos Christus wat sy lewe vir ons gegee het (2:20). Christus is nie alleen die inhoud van ons geloof nie, maar Hy wys ook die weg aan waardeur die liefde tot dade moet oorgaan. Geloof beteken dat jy alles van God ontvang, maar God se gawe weer uitdeel. Dit loop uit op ‘n selfverloënende lewe wat deur die liefde gedra word, sonder om enige loon buiten en naas God self te verwag. Die lewe volgens Christus se wet van die liefde gee steeds meer vryheid, omdat ons in ons vryheid nie alleen is nie, maar in gemeenskap met die drie-enige God lewe, en met alle skepsels in sy Ryk.
Vryheid van die sonde en die wet beteken terselfdertyd ‘n lewe van liefde, volgens die voorbeeld en voorleef van ons Verlosser, Christus, deur die krag van die Gees van God wat in ons woon.
Galasiërs 5:13: Die doel van die verlossing van die gelowige, van sy roeping, is vryheid. Daarvoor het God ons geroep. Maar die vryheid wat Christus vir ons verwerf het, word baie misverstaan en misbruik, óf vir selfregverdiging, óf vir selfsug. Vryheid bring die verantwoordelikheid van keuses mee, van ‘n doelbewuste besluit om ‘n bepaalde gedragslyn te volg. Die vryheid kan misbruik word om te doen wat ek wil, naamlik om my self te dien met my neiging tot die sonde – Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie (letterlik: as ‘n geleentheid vir die sondige begeerte nie; vgl. 1 Petrus 2:16). Die sondige begeerte beteken krasse selfsug. Die inwoning van die Gees maak dit egter moontlik dat die gelowige uit vrye wil kan kies wat God wil, naamlik om ander te dien met die krag van die Gees. Dit vra ‘n doelbewuste onderneming voordat geloof deur die liefde tot dade oorgaan (Gal. 5:6).
Die Christelike vryheid is nie inhoudloos nie, maar vergesél van duidelike riglyne. Christus het vir ons kom wys wat liefde is. Met selfverloëning het Hy vír ons en vír baie gelewe en gesterf (Galasiërs 2:20). Christus is ons rigsnoer vir die lewe. Daarom is die vrywillige ‘verpligting’ wat die gelowiges op hulleself neem om mekaar in liefde te dien (letterlik: uit liefde slawediens aan mekaar lewer), teenoor die slawejuk van wetsonderhouding, word ons ‘slawe’ wat mekaar dien onder die vrywillig-gekose verpligting van die liefde, in plaas van slawe wat hulle self dien onder die van-buite-opgelegde verpligting van die wet. Die vryheid word bewaar deur liefde te beoefen. Die nuwe verantwoordelikheid van die Christelike vryheid kan oorweldigend en onhanteerbaar word. Dan word óf alle grense en beperkings ontken, óf teruggekrabbel na vaste reëls en regulasies. Nee, die vryheid is gegrond op die liefde van Christus, van sy offer vir ons. Daarom is die sin van die lewe in vryheid, om God te dien in gemeenskap met ander, waar ons met Christus se liefde aan mekaar verbind is, en vir mekaar lewe, omdat God ons daartoe roep. So word ons van ons self verlos.
In Galasiërs 5:14 haal Paulus Levitikus 19:18 aan om te wys die Skrif ondersteun sy standpunt. Vir Paulus is die wet, sonder die menigte stipulasies, die uitdrukking van God se wil. Jesus het ook Levitikus 19:18 saam met Deuteronomium 6:5 aangehaal (Matteus 22:34-40). Hiermee word Galasiërs 5:6 bevestig: geloof is wat in liefde tot dade oorgaan. Paulus sê die hele wet is in hierdie gebod vervul (NAV saamgevat). Met ‘vervul’ word die bedoeling van die wet beklemtoon, dat dit tot spontane dade van liefde teenoor die naaste sal lei (vgl. Romeine 8:4; 13:8; Matteus 5:17). ‘Soos jouself’ netsoos iemand instinktief sy eie belange op die hart dra, netso vanselfsprekend moet hy sy naaste se belange op die hart dra. Die naaste in Levitikus verwys na mede-Israeliete. Paulus pas dit toe op alle mense, veral aan medegelowiges (vgl. 6:10; 1 Tessa,onisense 3:12; 2 Petrus 1:7) Jesus sê dit sluit ook jou vyande in (Matteus 5:43-48), en bid vir sy moordenaars aan die kruis (Lukas 23:34).
So lyk die verhouding tussen geloof en werke. Geloof is om van harte te vertrou op Christus en sy bevryding van sonde, op God wat ons as sy kinders aangeneem het en versorg, op die Heilige Gees om ons te lei en te versterk. Geloofswerke is om God my Vader lief te hê met my hele hart en my hele siel en my hele verstand, uit dankbaarheid vir sy liefde, wat Hy deur Jesus vir my gee, en deur sy Gees in my werk, en Hom te dien deur my medemens met dade lief te hê soos myself (Matteus 22:37-39).
Outeur: Dr Francois Malan