1 Korintiers (3)

1 Korintiërs (3)

 

Aanleiding tot die brief

Op sy tweede sendingreis, tydens ʼn verblyf van 18 maande, stig Paulus die gemeente in Korinte, die groot handelstad in Agaje, (Julie 50 – Maart 52; vergelyk Handelinge 18:11).

Op sy derde sendingreis werk Paulus vir drie jaar in Efese (somer 52 – Pinkster 55; vergelyk Handelinge 19:1-20; 20:31). Die verhouding tussen hom en die gemeente in Korinte raak gespanne oor ʼn aantal sake wat hy met drie briewe en ʼn blitsbesoek vanuit Efese probeer aanspreek (1 Korintiërs 15:32). In die eerste, ‘vorige’ brief skryf hy dat die gemeente nie met sogenaamde gelowiges moet omgaan wat onsedelik, geldgierig, of afgodedienaars, kwaadpraters, dronkaards of bedrieërs is nie (1 Korintiërs 5:9-11). In sy tweede brief, naamlik 1 Korintiërs, word al dié sake weer aangesny. Toe die verhouding nog verder versleg, besoek hy Korinte, maar dit loop uit op droefheid (2 Korintiërs 2:1) en hy stuur sy derde, ‘die trane’ brief saam met Titus (2 Korintiërs 2:9; 7:8,12), wat die verhouding herstel (2 Korintiërs 7:6,7,13-16).

In Efese ontvang Paulus nuus van Chloë se handelsreisigers oor die verdeeldheid in die gemeente in Korinte (1:11), kry ʼn skriftelike antwoord op sy eerste brief (7:1) en ontvang besoek van gemeentelede (16:17). Sostenes skryf neer wat Paulus vir hom voorsê, en Paulus sluit 1 Korintiërs af in sy eie handskrif (1:1; 16:21).

Verdeeldheid in die gemeente deur hulle roem op eie wysheid en geestelikheid (1-4)

Na die seëngroet en dank aan God vir die rykdom van sy gawes aan die gemeente, veral die gawes van woord en kennis (1:4-7), is Paulus teleurgesteld dat hulle trots misbruik daarvan maak, asof hulle dit nie ontvang het nie (4:7).

Omdat hulle hooghartig is oor hulle eie wysheid en geestelikheid, twis hulle onder mekaar, die gemeente is verdeeld oor leiers, en hulle sien neer op Paulus se evangelie-verkondiging. Christus is tog nie in stukke geskeur nie! Sy kinders behoort daarom tot ʼn eenheid aanmekaar geweef te wees (1:10-17).

God se liefdeskrag word geopenbaar deur Jesus wat aan die kruis vir ons sterf. Vir die Jode wat wonders vra om te kan glo, is dit swakheid. God se wyse verlossing deur sy offer van Homself aan ʼn kruis, is weer ʼn dwaasheid vir die Grieke, wat die sin van die lewe in menslike wysheid soek. In sy wysheid het God juis die veragte, swak dwase in Korinte geroep sodat Hy hulle verhouding tot Hom regstel deur hulle verbondenheid aan die gekruisigde Christus, hulle vir Hom heilig, en van hulle sonde verlos (1:18-31). Die kern van Paulus se boodskap is Christus wat vir ons gekruisig is, wat Paulus in swakheid vir hulle gebring het, sodat hulle sou glo nie omdat Paulus se welsprekendheid hulle oortuig het nie, maar omdat die krag van God se Gees hulle tot geloof in Christus gebring het en steeds in Hom laat glo (2:1-5).

God het sy Gees aan die gelowiges gegee om hulle oë te open vir die diepe wysheid van God se verlossing deur Christus se kruisdood. Daarom lewe hulle, en beoordeel hulle alles vanuit Christus se liefde, wat met selfverloëning ander dien (2:6-16).

Die verdeeldheid in die gemeente bewys egter dat hulle nog klein kindertjies in die geloof is, wat met melk gevoer moet word, omdat hulle nog nie die Gees se leiding volg nie, maar dink dat hulle ‘geestelik’ is (3:1-4). Die apostels is bloot dienaars aan wie God spesifieke take gee. Om oor húlle te spog, is dwaas. Die gemeente is God se saailand, en God laat die saad groei. Paulus het die gekruisigde Christus as die enigste fondament van God se gebou gelê, en elke bouer se werk moet daarby pas. Elkeen se werk sal met vuur getoets word, want die gemeente is God se tempel waarin sy Gees woon om hulle aan Christus alleen te verbind, nie aan sy werkers nie. Bouwerk wat nie by die gekruisigde Christus pas nie, gaan tot niet, hoewel die bouer uit genade gered sal word. Hy is die Regter wat alles deursien. Alles wat ons het, kom steeds van God. Moenie daaroor roem asof dit uit jou self kom nie. Ons kan slegs dankbaar lewe teenoor die Gewer en sy Gawe (3:5-4:7).

Die Korintiërs roem dat hulle reeds in hierdie bedeling wys, sterk en geëerd is. Dit is ʼn valse geestelikheid. Die apostels se nederige lewe wys dat die Gees ons tot nou toe aan die kruis van Christus se lyding, dwaasheid, swakheid en skande verbind. As hulle geestelike vader doen Paulus ʼn dringende beroep op hulle om sy lewenswyse in gemeenskap met die gekruisigde Christus, na te volg (4:8-21).

Skrywer: Dr Francois Malan

 




Sleutels wat die antieke wêreld oopsluit (2)

Sleutels wat die antieke wêreld oopsluit (2) – Kobus Kok

 

My groep gee my identiteit

Vandag is individualisme die in-ding. Hoe meer uniek ek kan wees en kan uitstaan bo die groep, hoe beter. Die oordrewe kontemporêre fokus op die waarde van die unieke individu het egter heel onlangs eers belangrik geword. In die tyd net na die Middeleeue en die Renaissance (1400 en daarna) en die Reformasie (1500) het die sogenaamde Verligting (1700 en daarna) of Aufklärung soos ʼn tsunami die wêreld getref.

Een van die groot filosowe van die tyd, Immanuel Kant (22 April 1724 – 12 Februarie 1804) het byvoorbeeld die slagspreuk gevestig dat “Jy kan ontwaak uit jou onkunde, en dat jy waagmoedig moet wees en moet dink vir jouself.” Die Aufklärung het mense bevry van onkunde en van die mag wat groepe soos die kerk, die staat en die aristokrasie oor mense gehad het. Stelselmatig het die individualisme ontwikkel wat tans hoogty fier.  In die tyd voor die Aufklärung kon mense nie self besluit watter beroep hulle wou beoefen of met watter huweliksmaat hulle wou trou nie. Kinders was nie as individue beskou nie, maar as deel van ʼn groter groep/familie en die pa as die hoof se opinie het die rigting van die groep bepaal. Ons sien dit dikwels vandag nog steeds in tradisionele Afrika kulture.

In die wêreld van die eerste eeu (Jesus se tyd) het mense in die eerste plek hulle identiteit ontvang en gebou in die konteks van die groep waaraan hulle behoort het. In die tyd van die Nuwe Testament is mense dus nie as losstaande individue beskou nie, maar altyd as deel van ʼn bepaalde groep. Indien jy wou weet hoe belangrik iemand was, het jy nie in die eerste plek na die individu se prestasies gekyk nie, maar eerder gekyk uit watter groep die persoon kom. Daarom sien ons dikwels in die Nuwe Testament hoe iemand beskryf word in terme van die groep waaraan hulle behoort het, soos byvoorbeeld as daar na Jesus verwys word as Jesus van Nasaret, Seun van Josef (vgl. Johannes 1:45). Hier word Jesus beskryf in terme van sy pa en sy groep asook sy plek van herkoms wat in daardie tyd bepaal het wie jy is en hoe mense jou waarde, eer of status bepaal het.

Die beste voorbeeld hiervan vind ons by Paulus as hy vir die Jode wat hom aanvat, verduidelik wie hy is. Die interessante is dat Paulus nie in die eerste plek verduidelik wat sy individuele prestasies is nie, maar sy waarde beskryf aan die hand van die groep waaraan hy behoort het en in watter mate hy die reëls van die groep uitgeleef het. In Filippense 3:5-6 lees ons byvoorbeeld die volgende:

Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ʼn ras egte Hebreër; wat die wet betref, ʼn Fariseër;

wat ywer betref, ʼn vervolger van die kerk; wat die geregtigheid in die wet betref, absoluut onberispelik.

 

Hier sien ons dat Paulus sy eie waarde en eervolle herkoms verduidelik aan die hand van die feit dat hy op die agste dag besny is, wat die vereiste was vir getroue Israeliete wat binne die konteks van die verbond staan. Hy gaan egter verder en trek die sirkel kleiner en sê dat hy uit die stam Benjamin kom. Dan gaan hy nog verder en trek die sirkel nog kleiner deur homself as deel van die groep wat as die Fariseërs bekend staan, te beskryf. Hierdie groep was die strengste van die strengste gewees, sedert die tyd van die Makkabese opstand in die eeue net voor Christus. Indien mens fyn let op die wyse waarop Paulus sy identiteit beskryf, sien mens dat die sake waarna hy verwys 90% van die kere verwys na dinge wat mét hom gebeur het – Hy is deur die groep op die agste dag besny, hy is gebore in die stam Benjamin, iets waaroor hy nie beheer gehad het nie, maar die resultaat is van die groep wat lankal voor hom al bestaan het. Dit is dus duidelik dat die groep die belangrikste bepaler was van die waarde en status van die antieke persoon. Die individu se eer en waarde is dus net so belangrik as wat hy of sy dit reg gekry het om die groep se waardes en reëls te beliggaam. ‘n Eervolle groepslid het dus die groep se belange in alles eerste gestel en daarmee absolute lojaliteit aan die groep gewys. Ons kan dus sê dat die mense van die eerste eeu groepsmense was, en nogmaals groepsmense.

Juis om hierdie rede verstaan ons dan hoekom Jesus se geslagsregister vir hulle so belangrik was. Indien mens dit bestudeer val dit dadelik op dat Matteus byvoorbeeld aandui dat Jesus ʼn nasaat is van die groot Koning van Israel, Dawid. Daarmee word Jesus vierkantig in die konteks van Israel se leiers geplaas, en kwalifiseer hy dus volgens die Jode om die beloofde Messias uit die huis van Dawid te wees. Lees gerus deur ander oë die geslagsregister van Jesus volgens Matteus 1:1vv:

Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham…

Interessant genoeg gee Johannes ons weer ʼn heel ander prentjie van wie Jesus is en hoe sy identiteit verstaan kan word. Volgens Johannes 1:1 word Jesus sommer van die begin af beskryf as die Seun van God, die een wat in die beste moontlike posisie is om die Vader aan mense bekend te maak omdat Hy en die Vader in ʼn intieme verhouding met mekaar staan van die heel begin af (vgl. Johannes 1:1-18, veral 1:18; 5:17-20vv). Daarom kyk die Seun graag wat die Vader doen en doen dit net so, of hoor wat die Vader sê en breek die hemelse nuus vir mense oop. Volgens Johannes is Jesus se waarde en eer juis afkomstig van die feit dat Jesus die Seun van die groot Koning van die heelal is, Seun van die Skepper-God. Volgens Johannes ontvang die wat glo nie net die ewige lewe nie (Johannes 3:16 en 20:30-31), maar ook die reg om kinders van God te word. Daarmee word hulle opgeneem binne die kragveld van die nuwe familie of groep van Jesus. As deel van hierdie nuwe bestaanswyse leef mens dan sommer gans anders omdat mens deel is van ‘n nuwe groep en omdat die groep se waardes vir mens die belangrikste rigtinggewende kompas word.

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Geneeskunde in die Bybel (5)

Geneeskunde in die Bybel (5) – Coen Slabber

 

Geneeshere

In die Bybel word dit baie duidelik gemaak dat God die groot Geneser is. Ons lees van dokters in die Ou Testament. Die eerste verwysing na dokters is Josef wat die Egiptiese dokters inroep om Jakob se lyk te balsem (Genesis 50:2).  Of hierdie werklik dokters was en of hulle net balsemkundiges was, is onseker.  Koning Asa het dokters se hulp gesoek vir sy voete (2 Kronieke 16:12).  Job beskryf sy vriende as kwaksalwers (13:3).  Jeremia vra: Is daar nie ʼn dokter nie? (8:22).  Jeremia sê sarkasties vir die Egiptenare: Jou baie medisynes help nie, jy word nie gesond nie (46:11).

Geneeshere as agente van God

In Die Wysheid van Ben Sirag lees ons: Vir dokters moet jy respek hê, want hulle het hulle talent by die Here gekry (38:1).  Ons kan dit amper as ʼn “modernisering” van die gewone Joodse siening van destyds beskou.  Hy sê ook: Dit is die Here wat medisyne uit die aarde gee; mense met insig sal nie op sulke medisyne neersien nie (vers 4).  Die gewone raad – bid en offers – bly egter steeds vir Ben Sirag belangrik (vers 9 – 11).  Aan die einde van hierdie gedeelte sê hy: Soms is ʼn mens se herstel in die hande van die dokters.  Hulle sal ook tot die Here bid en vra dat Hy hulle help om hulle pasiënte se pyn te verlig en hulle gesond te maak sodat hulle kan lewe. (vers 13 – 14). Mense wat sonde doen en nie gehoorsaam is aan die Een wat hulle gemaak het nie, behoort siek te word! (vers 15)  Hierdie boek is in die vroeë tweede eeu vC geskryf.  Hierdie gedeelte is waarskynlik aanduidend van die invloed wat die Griekse geneeskunde gehad het. (Die bekende Griekse geneesheer Hippocrates het in die vyfde eeu vC geleef.)  Beide Ben Sirag en later Josefus het geglo dat natuurlike substanse belangrik is vir die genesing van siekes.

Was Lukas ʼn geneesheer? Waarskynlik. Hy gebruik mediese terme wat Hippocrates en ander gebruik het, wat nie elders in die Bybel voorkom nie.  Hy gee ook aandag aan mediese besonderhede: die koors was hewig (4:38), die regterhand was gebreklik (6:6) en die sieke was reeds van geboorte af verlam (Handelinge 3:2).

 

Die NT houding teenoor geneeshere

In die tydperk van die NT het die Grieke reeds mediese skole in baie dele van die Grieks-Romeinse wêreld gevestig.  Die bekendstes was dié by Pergamos en Aleksandrië.  Hierdie mediese skole was meestal gekoppel aan heidense tempels. Uit opgrawings is ons bewus van verskeie chirurgiese instrumente wat destyds gebruik is.  Die woord geneesheer/dokter kom op verskeie plekke in die NT voor.  Lukas word spesifiek vermeld.  Paulus beskryf hom as: die dokter wat ek baie lief het (Kolossense 4:14).  Jesus sê: Dié wat gesond is, het nie ʼn dokter nodig nie, maar dié wat siek is (Matteus 9:12). Lukas haal nog ʼn spreekwoord wat Jesus gebruik het, aan: Geneesheer, genees jouself (Lukas 4:23).  Dokters kon nie alle siektes genees nie.  Vir die vrou met bloedvloeiing kon hulle maar min doen (Markus 5:26).  Jesus die Groot Geneesheer kon natuurlik genees waar dokters dit nie kon regkry nie.  Geneeshere was van hulp, maar die Bybel beklemtoon die belang van die geloofsgemeenskap en die ouderlinge in siekebediening.  Die ouderlinge moes vir die sieke bid en hom met olie salf.

 

Opsomming

In die Bybel kry ons hoofsaaklik ʼn negatiewe houding teenoor geneeshere en die geneeskunde.  Dit staan in teenstelling met die oortuiging dat dit God se bedoeling is dat mense gesond moet wees.  God genees of direk of deur gebruik te maak van agente – profete, Jesus, apostels en in enkele gevalle deur geneeshere.

Outeur: Dr Coen Slabber

 




Israel

Israel – Jan van der Watt

Jan Smith vra:

In Matteus 15: 24 sê Jesus: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel. Hierna kom die Kanaänitiese vrou en vra dat Hy die duiwel uit haar dogter verdryf. Dan sê Hy: dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie. Sê sy: Die hondjies eet reeds die krummels wat gemors word. In Matteus 10 stuur Jesus sy dissipels op ‘n sending, vers 5: Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in ‘n stad van die Samaritane nie; vers 6 maar gaan liewer na die verlore skape van Israel. Johannes 10: 16: Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na My stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder. VRAAG: Hoekom sê Jesus vir die vrou so, wie is die heidene hier en wie is die ander skape wat vermeld word, asb? Was dit net die stamme van Juda en Benjamin wat op daardie tydstip as die huis van Israel betrokke was? Baie dankie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Ons vergeet dikwels dat Jesus en sy dissipels Jode was. Hulle het tussen ander Jode gewoon en die profesieë van die Ou Testament saam met die ander Jode saam met die Hebreeuse Bybel ingekry. Daarvolgens sou God sy volk, die Jode, uit hulle onderdrukking red deur ʼn Messias (gesalfde koning) te stuur. (Daar was ook ander verwagtings van hoe God dit sou doen). Sy volk, die Jode, sou dan bevry wees en as volk in die beloofde land leef. Die beloftes is dus verstaan as spesifiek vir die Jode bedoel. Hierdie Jode is die volk van God wat teruggekom het uit ballingskap en weer die tempel en Jerusalem kom opbou het. (Dit was hoofsaaklik die stamme van Juda en Benjamin, maar nie eksklusief nie. Na die ballingskap het die stamme nie meer so prominente rol gespeel as voor die tyd nie.).

As Jesus dus kom, kom Hy in die eerste plek vir die Jode. Onder die Jode begin Hy sy boodskap van verlossing – vir hulle is dit in die eerste plek bedoel. Maar daar stop dit nie. Dit is wat die verhaal in Matteus 15 wil sê. Die heidene (= nie-Jode van geboorte) gaan ook deel kry daaraan. In die Evangelies sien ons dat Jesus se verlossing wyer gaan – van Jerusalem na Samaria tot aan die eindes van die aarde. Dit is ook die implikasie van die woorde in Johannes 10:16 – dit verwys na die Grieke (wat in hoofstuk 12 in die Evangelie by kom). Die Grieke is egter hier die simbool vir almal wat nie-Jode is nie. Ten spyte daarvan was dit in die eerste plek vir die Jode bedoel.

Tydens die ballingskap het daar ingrypende veranderinge in die volk Israel se struktuur gekom. Die Noordryk (10 stamme) is eerste deur die Assiriërs weggevoer. Die twee suidelike stamme (Benjamin en Juda), met Jerusalem as hulle setel, kon toe ooreenkomste met die Assiriërs maak sodat dieselfde lot hulle nie ook tref nie. Byna twee eeue later het die Babiloniërs toe die twee stamme van die suidelike ryk in ballingskap kom wegvoer en in Babel was die stamme van Israel dus vermeng. Die koning van die Perse (wat die Babiloniërs intussen verslaan het) het die mense van Israel toe toegelaat om hulle tempel en Jerusalem weer te gaan opbou (sien Esra en Nehemia). Hulle is nie as stamme terug nie, maar as ‘n eenheid en van toe af word hulle JODE genoem. (In ‘n sekere sin is dit die begin van die JOODSE volk). In Palestina tref hulle toe mense soos die Samaritane aan (dit is die mense wat met die ballingskap nie goed genoeg was vir die Babiloniërs om saam te neem nie. Hulle is agter gelaat en het ondertrou, sodat hulle dus ook nie meer suiwer stamme was nie). Van toe af is die land nie meer in stamme verdeel nie, maar Jerusalem was die hoofstad van die Joodse volk wat uit die ballingskap teruggekeer het. Die ‘Joodse volk’ sluit al 12 stamme in – Jesus is in Jerusalem, die sentrum van die Joodse volk – gekruisig deur die Joodse volk.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt