Die merk van die dier – Hermie van Zyl

Vraag: Michele vra:

Ek het vandag ‘n video ontvang waarin Walter Veith vertel van die merk van die dier. Dit is glad nie soos ek dit voorheen verstaan het nie. Die video sê die merk is iets wat nog kom: daar gaan ‘n merk op die hand/arm of voorkop kom wanneer daar net een geldstelsel gaan wees oor die hele aarde en ‘n chip ingeplant gaan word. En vandag hoor ek van Walter dat dit blykbaar ‘n koninkryk is wat die Katolieke Kerk is. Verduidelik asseblief?

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord

Die merk van die dier waaroor dit hier gaan, kry ons in Openbaring 13:16-18 (kyk ook Op 19:20; 20:4), wat soos volg lui (1983-Afrikaanse Vertaling):

16Hy (die dier uit die aarde = die vals profeet, HvZ) verplig al die mense, klein en groot, ryk en arm, vryes en slawe, om ‘n merk op hulle regterhand of op hulle voorkop te dra 17en laat niemand toe om te koop of te verkoop nie, behalwe die mense wat die merk het. Die merk is die naam van die dier (uit die see, HvZ) of die getal van sy naam. 18Hier is wysheid nodig. Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer, want dit is ‘n mens se getal. Sy getal is ses honderd ses en sestig.”

Die eerste taak van ‘n Bybeluitlegger is om te probeer vasstel wat die skrywer aan sy lesers van destyds probeer sê het. Want ons moet onthou dat Openbaring in die eerste plek geskryf is aan die Christelike gemeentes wat in Openbaring 2-3 vermeld word, gemeentes wat in die suidwestelike deel van die destydse Klein-Asië – vandag Turkye – geplaas kan word. Verder, geleerdes verskil oor die presiese ontstaanstyd van Openbaring, maar die standpunt wat vandag deur die meeste geleerdes gehuldig word, is dat dit in die regeertyd van keiser Domitianus was. Hy was van 81-96 nC keiser van die Romeinse Ryk, en ons weet dat hy van tyd tot tyd besonder wreed teenoor Christene opgetree het. Die Openbaringboek moet dus teen die agtergrond van die vervolging van Christene deur die destydse Romeinse Ryk verstaan word. Baie van die verskuilde verwysings in Openbaring (meesal in simbooltaal) is dus na die Romeinse Ryk se optredes en ondergang wat in die vooruitsig gestel word. En eers as ons ‘n goeie begrip het van wat die skrywer van Openbaring aan die destydse Christene wou kommunikeer, kan ons begin om hierdie boodskap vir vandag vrugbaar te maak. Maar ons moet oppas vir al te veel “kreatiewe” toepassings op vandag se omstandighede, want – weer eens – ons moet heeltyd in gedagte hou dat Openbaring nie primêr vir ons situasie vandag geskryf is nie. Ons moet eerder probeer om die kernboodskap van (‘n gedeelte in) Openbaring vas te stel en dan ons eie situasie in die lig daarvan beoordeel, sonder om in allerlei spekulatiewe randpaaie vas te val.

Met hierdie algemene opmerkings as agtergrond kan ons nou na die spesifieke vraag omtrent die merk van die dier in Op 13:16-18 beweeg. Eers net ‘n opmerking oor die “onheilige drie-heid”, teenpool van die heilige Drie-eenheid, wat in Openbaring werksaam is. Daar is die draak (simbool van Satan, 12:9), die dier uit die see (13:1; simbool van die anti-Christelike Romeinse Ryk), en die dier uit die aarde (13:11; simbool van die vals profeet, 19:20; 20:10). Soos wat die dier uit die see in diens staan van die draak (13:2), so staan die dier uit die aarde weer in diens van die dier uit die see (13:12). Hy (die dier uit die aarde) verlei en dwing mense om die dier uit die see, d w s die Romeinse regering wat homself in die plek van die ware God gestel en die onderdane van God geterroriseer het, te aanbid. En saam stel hierdie onheilige drie-heid hulle op teen die ware God en sy onderdane. In hierdie bedeling lyk dit of die onheilige drie-heid die oorhand het, want hulle vermoor die ware God se onderdane. Maar Openbaring open juis vir ons die hemelse toneel waar God uiteindelik die onheilige drie-heid vernietig en in die poel van vuur gooi, simbool van die ewige verderf (19:20; 20:10).

Met hierdie beeldspraak van die draak (Satan) en sy twee trawante (die dier uit die see en die dier uit die aarde) is die skrywer dus besig om aan sy lesers die boodskap oor te dra dat die Romeinse owerheid as die antichris van sy dag eintlik in diens staan van die Satan. En die Romeinse Ryk het weer baie bondgenote in die vorm van die priesters in die heidense tempels en ander vals stemme in die samelewing wat die Christene wil verlei om deel te neem aan die keiserverering en -aanbidding (vgl 13:12-15). Maar soos wat die drama in Openbaring ontvou, onthul die skrywer ook aan sy lesers dat hierdie oënskynlike mag van die Satan en sy twee trawante net tydelik is. Uiteindelik delf hulle die onderspit wanneer God die Satan en sy helpers vernietig.

Wat verder belangrik is, is dat die onderdane van Satan en die lojale ondersteuners van die Romeinse keiser uitgeken kan word aan ‘n merk wat hulle op die regterhand of voorkop dra (13:16). (“Regterhand” en “voorkop” wil sê dat hulle in hulle aksies en denke volledig in diens staan van die dier uit die see.) Hierdie merk is niks anders nie as ‘n uiterlike kenteken dat hulle ondersteuners is van die dier uit die see (13:17). Hierdie uitkenningsteken vorm ‘n parodie (spotlied) op God wat as die ware Alleenheerser ook sy onderdane verseël. In Openbaring 7:3 lees ons dat God sy seël op sy dienaars se voorkoppe plaas om hulle so as sy eiendom te merk en te beskerm teen die aanslae van die bose. So beskerm die Romeinse owerheid ook sy onderdane deur aan hulle sy merk te gee sodat hulle in die daaglikse handel en wandel bevoordeel kan word. Die Romeinse owerheid probeer dus die alleenheerskappy van God na die kroon steek deur as totalitêre heerser absolute gesag oor almal en alles uit te oefen. Teen dié wat nie sy merkteken dra nie, word daar dan gediskrimineer sodat hulle dit baie moeilik vind om ‘n normale lewe te lei.

Dis moeilik om te sê of hierdie merk destyds fisies sigbaar was. Kenners wys op die gebruik van sommige religieuse ordes en aanbidders van sekere gode in daardie tyd om tatoeëermerke te dra wat hulle kenbaar gemaak het. Of die amptelike dokumente van die Romeinse distrikte met die keiser se seël daarop wat aan onderdane dan die reg gegee het om handel te dryf. Maar wat duidelik is, is dat hierdie merk veral simbolies verstaan moet word. Want Op 13:17-18 sê dat die merk ‘n getal is wat die naam van die dier uit die see, dit wil sê die Romeinse owerheid, uitbeeld. Hoe moet ons hierdie getal verstaan?

Die letters van die Griekse, Latynse en Hebreeuse alfabet het destyds elkeen ‘n unieke getalswaarde gehad, byvoorbeeld a = 1, b = 2, c = 3, ensovoorts. Op dié manier was dit teoreties moontlik om van ‘n getal na die letters te beweeg en so by ‘n persoon se naam uit te kom. Maar in die praktyk was dit nie so maklik nie, want ‘n mens het nie altyd geweet hoe die getal saamgestel was nie – gewoon uit die letters van ‘n enkele naam, of dalk meer as een woord, of net die beginletters van woorde in ‘n sin wat saam na iemand verwys (akroniem)? En so kan mens die moontlikhede vermenigvuldig. Punt is, reeds in die middel van die tweede eeu na Christus (d w s ongeveer 50-60 jaar na die ontstaan van Openbaring) het die kerkvader Ireneüs nie meer geweet na wie 666 verwys het nie. Wat ons wel kan sê, is dat volgens die Hebreeuse alfabet die letters van die woorde “keiser Nero” wel optel na 666. Maar Openbaring is in Grieks geskryf, ‘n mens sou dus verwag dat dit eerder Griekse letters moes wees wat ons by die getal 666 uitbring. En verder het ons reeds genoem dat Openbaring om ander redes eerder in die tyd van keiser Domitianus geplaas moet word. Ander verklaarders wys weer daarop dat die getal 666 die getal van die mens is, die mens synde op die sesde dag geskape, terwyl God se getal weer die volmaakte 7 is. Dus, hoewel magtig (3 keer 6), is die beste wat die antichris kan doen om by 666 uit te kom; hy kan nooit by God wat volmaak is (3 keer 7) uitkom nie. Ons is gevolglik steeds in die duister wie presies die getal 666 destyds op die oog gehad het. Maar dat dit na ‘n persoon verwys het, moontlik een van die Romeinse keisers, is redelik seker. In elk geval sou die eerste lesers van Openbaring die kode kon ontsyfer, en hulle sou die simboliek daarvan begryp het.

As ons nou moet vra wat dit alles vir vandag beteken, behoort dit uit bostaande uiteensetting duidelik te wees dat mens uiters versigtig met die eietydse toepassing van hierdie merkteken te werk moet gaan. Te maklik sit ons op loop met een of ander vermeende bose verskynsel in die samelewing wat ons dan met die merk van die dier wil demoniseer en as die antichris wil uitwys. ‘n Mens moet eerder sê dat enigiets – mens of instansie – wat totalitêre beheer wil toepas in die samelewing en mense se absolute lojaliteit opeis in die plek van die lewende God, antichristelike trekke begin aanneem en dat mens daarvoor in jou pasoppens moet wees. Maar om allerlei moderne verskynsels (soos ‘n “chip” wat moontlik êrens ingeplant kan word) summier as uit die bose aan te merk, is onverantwoordelik en saai onnodig paniek. Blote tegnologiese ontwikkeling is nie boos nie; dis die mens wat tegnologie misbruik om ander te beheer en van God te vervreem, wat boos is. En dít was nog altyd met ons gewees, in allerlei vorme. Net omdat daar boeke met bose of vals leringe is, beteken nie dat alle boeke boos is en vermy moet word nie. Net omdat daar pornografiese webwerwe is, beteken nie dat die internet as sodanig uit die bose is nie. Net omdat daar priesters in die Rooms-Katolieke Kerk is wat seuns misbruik het, beteken nie dat die ganse Roomse Kerk ‘n instrument van Satan is nie. Ons moet die Here dus eerder voortdurend vra om ons ‘n gees van onderskeiding te gee sodat ons in elke tydsgewrig kan onderskei tussen goed en kwaad, en sodat ons die antichris, of antichristelike tendense, kan herken, in watter vorm of gedaante dit ook al voorkom – soms as ‘n persoon, soms as ‘n ideologiese stelsel, soms as strukture of instellings van die samelewing. Want dat die bose alles in sy vermoë doen om God na die kroon te steek en mense te verkneg en van God te vervreem, is duidelik. En dit kom in elke tyd voor, soms subtiel, ander kere brutaal. Christene moet dus altyd wakker wees om die bose te herken en hom te weerstaan en te beveg (Ef 6:10-20).

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus word uit die dood opgewek (Luk 24:1-12) – Francois Malan

24:1 Die vers sluit direk by die vorige aan. Die vroue wat vir die Sondagmôre se salwing voorberei het, is baie vroeg skemer op die eerste dag van die week na die graf met (hulle) geurige speserye. Daarmee wou hulle die begrafnis van Jesus gaan voltooi.

 24:2-3 Die vroue kry ’n groot verrassing. Hulle vind dat die steen voor die graf weggerol is, gaan in en vind die graf leeg sonder die liggaam van die Here Jesus. Jesus se aankondigings dat Hy na sy dood op die derde dag sal opstaan (Luk 9:22; 18:33) het duidelik nie tot hulle deurgedring nie. Lukas is die enigste Evangelie wat uitdruklik sê dat hulle die liggaam van die Here Jesus nie gekry het nie. Dit word by die ander geïmpliseer (vgl. bv. Joh 20:3-13). So bly die geheim van hoe Jesus uit die dood opgestaan het, gewaarborg. Paulus verduidelik die geheimenis van die opstanding van die dooies met Jesus se wederkoms as: ‘ons sal almal verander word’ (1 Kor 15:51 allassō ons aard of natuur sal verander word: ‘hierdie verganklike liggaam moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike liggaam met onsterflikheid’ (15:53).

 24:4 In hulle verwarring oor die dinge (aporeisthai verward, onseker, bekommerd, ontsteld) staan daar skielik twee manne in glinsterende klere by hulle, wat kom verduidelik wat hier gebeur het. Die glinsterende klere is tipies van Lukas wat daarmee ’n hemelse verskynsel aandui (vgl. Luk 2:9  die engele en die hemelse glans om die skaapwagters; 9:29 Jesus se klere wat skitterend wit geword het; Hand 1:10 twee mans in wit klere by die apostels; Hand 9:3 en 22:6 die lig uit die hemel wat Paulus omstraal het.  

 24:5 Die vroue was verskrik (emfobōn baie bevrees) en buig hulle gesigte na die grond toe voor die hemelse boodskappers. Die boodskap begin met ’n vermaning wat slegs in Lukas voorkom: ‘Waarom soek julle die Lewende by die dooies?’ Anders as die Joodse gebruik om ‘grafmonumente vir profete te bou’ (Luk 11:47) moet daar nie vir Jesus, die grootste profeet van alle tye, ’n monument gebou word waarheen telkens teruggekom word om daar aan Hom hulde te betoon nie. In Lukas 20:8 het Jesus in verband met Abraham, Isak en Jakob gesê: ‘Die Here is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes. Wat Hom betref is hulle almal lewendes.’ Dat Jesus die Lewende is, is ’n betekenisvolle woord. Hier dui dit ook op sy Godheid waarvan Johannes 1:4 sê: ‘In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.’  Daarby het Hy twee maal vir hulle gesê dat Hy gaan opstaan (Luk 9:22; 18:33).

 24:6-7 Die twee engele antwoord self op hulle vraag: ‘Hy is nie hier nie, Hy is opgewek’ (êgerthê passiewe vorm, verwys na God wat Hom opgewek het). Hulle herinner die dissipels aan Jesus se woorde in Galilea (Luk 9:22) dat Hy ‘op die derde dag sal opstaan’ (anastênai aktiewe vorm, self opstaan). So werk God ook vandag in en deur ons deur sy inwoning in ons en ons gebed tot Hom;  Hy wek ons sodat ons kan opstaan om sy werk en sy wil aktief deur te voer.  

 24:8 Hulle het toe sy woorde onthou. Die pad wat Jesus geloop het van sy gevangeneming tot sy opstanding begin hulle in ’n nuwe lig sien. Hulle begin ook hulle ongeloof in Jesus se woorde raaksien. Maar hulle verwagting van die Messias/Christus, ’n Gesalfde Koning was so anders, dat hulle nie kon dink aan ’n Verlosser wat vir hulle aan die kruis en met sy dood en opstanding uit hulle sondige self en die dood kom verlos nie.

 24:9En toe hulle teruggekeer het van die graf af…’ – die woord epistrefō kan aandui dat hulle terug is na die stad toe, maar het ook die betekenis van terugkeer na geloof in Jesus en na sy woord dat Hy na drie dae sal opstaan. Die vroue word die eerste getuies van Jesus se opstanding uit die dood. Hulle gaan vertel alles wat hulle by die graf gesien het (die leë graf en die engele) en gehoor het (dat Jesus opgestaan het). Hulle vertel dit aan die elf apostels en die ander vriende van Jesus wat saam met hulle byeen was, en nog verslae is oor wat Vrydag gebeur het (vgl. Luk 24:33).

 24:10 Onder die groepie vroue by die graf was daar Maria Magdalena van die dorpie Magdala aan die wes-oewer van die see van Galilea, uit wie Jesus 7 duiwels uitgedryf het (Luk 8:2); Johanna, die vrou van Gusa, ’n bestuurder van Herodes Antipas (Luk 8:3); hulle twee is van die vroue wat uit hulle eie bronne vir Jesus en die twaalf gesorg het (Luk 8:3); saam met hulle was Maria die moeder van Jakobus, wat in Luk 6:15 genoem word die seun van Alfeus – almal lojale volgelinge van Jesus uit Galilea (vgl. Luk 23:55).

 [Mark 16:1 noem ook Maria Magdalena, en Maria die moeder van Jakobus (die seun van Alfeus, Mark 3:18); en voeg Salome, die suster van Jesus se ma Maria, by. Mattheus 27:56 noem Salome die moeder van die seuns van Sebedeus, m.a.w. Johannes en Jakobus was Jesus se neefs. Volgens Matt 20:20 het Salome vir Jesus kom vra dat haar seuns weerskante van Jesus sal sit in sy komende koninkryk. Salome is die vroulike vorm van Salomo (‘ryk aan vrede’)]. 

  24:11 Maar vir hulle, vir die apostels en ander vriende van Jesus, het die woorde van die vroue se getuienis gelyk soos pure nonsens (lêros) en hulle het die vroue nie geglo nie. Terwyl die vroue die woorde van die engele aanvaar het en onthou het dat Jesus vir hulle gesê het van sy opstanding, aanvaar die apostels nie stories van die vroue nie. In hulle oë is die vroue liggelowig. Tog het dit die apostels ontstel (Luk 24:22). Hulle, die apostels, onthou egter nog nie Jesus se woorde oor sy opstanding nie. Hulle hoë politieke verwagting van Jesus as die Messias, as die koning in God se komende koninkryk is deur die kruisiging heeltemal verduister.

 24:12 Die impulsiewe Petrus hardloop egter graf toe en sien deur die opening in die rotsgraf slegs die grafdoeke wat op hulle eie lê. Hy gaan terug terwyl hy wonder oor wat gebeur het. Dit is vir hom duidelik dat hier ’n onverklaarbare ding gebeur het. Die doeke is nog daar maar die lyk nie. Die raaisel verdiep. Die vroue sien ’n leë graf sonder die liggaam van Jesus en hulle is verward, maar die engele klaar die verwarring vir hulle op. Petrus sien die doeke eenkant lê en begin wonder oor die storie van die vroue.

 Johannes 20:3-10 vertel dat Petrus en ‘die ander dissipel’ daarheen gehardloop het en die doeke gesien het, apart van mekaar opgerol en die ander dissipel het geglo, maar nog nie die Skrif oor Jesus se opstanding verstaan nie (vgl. Luk 24:24). Johannes 20:1-18 vertel dat Maria Magdalena eerste by die graf was, en toe sy sien die klip voor die graf is weggerol, hardloop sy en vertel dit vir Petrus en die dissipel vir wie Jesus liefgehad het. Hulle hardloop toe daarheen en vind die doeke apart opgerol. Daarna het Maria buite die graf staan en huil tot Jesus aan haar verskyn het.

 Markus 16:1-8 vertel van Maria Magdalena en die ander vroue wat by die graf ingegaan het en die jongman in wit klere wat vir hulle sê dat Jesus opgestaan het.

 Mattheus 28:1-10 vertel, soos Markus, dat Maria Magdalena en ’n ander Maria graf toe is, ’n engel die steen weggerol het, dat hulle vir die vroue sê dat Jesus opgestaan het, en dat Jesus met hulle terugtog aan hulle verskyn het.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus word begrawe (Luk 23:50-56) – Francois Malan

23:50-51 ‘En kyk…’ Lukas vra die leser se aandag vir hierdie volgeling van Jesus, wat tot dusver in die geheim, in sy hart, ’n Jesusvolgeling was, maar wat nou openlik daarmee uitkom. Lukas noem sy naam Josef. Ragel het haar eerste kind Josef genoem, want, sê sy: die Here/Jahweh sal vir my nog ’n seun byvoeg (Gen 30:24; Hebreeus: josēf ‘byvoeg’). Dit was Jakob se lieflingseun wat die onderkoning van Egipte geword het en sy familie uit die hongersnood gered het (Gen 50:20) soos Jesus God se geliefde Seun is wat ons kom red het.  

 Hierdie Josef was lid van die Raad, waarskynlik een van die familiehoofde met sitting op die Joodse Raad, die Sanhedrin. Lukas beskryf hom as ’n goeie en regverdige man, wat nie met hulle besluit en optrede saamgestem het nie. Hy het waarskynlik nie saam met hulle na Pilatus toe gegaan en nie geskreeu ‘Weg met Hom’ nie (Luk 23:18).

 Josef was afkomstig van die Joodse dorp Arimatea. Dit is waarskynlik in Jesus se tyd die naam van die stadjie Rama waar Samuel 1100 jaar v.C. gebore is en gewoon het (1 Sam 1:19-20;  7:17), dieselfde as Ramataim van 1 Sam 1:1, die huidige Rentis, noordoos van Lod. Daar is mosaïeke van ’n middeleeuse kerk wat aan Josef van Arimatea gewy is. Vir sy Griekse lesers voeg Lukas by dat dit ’n stad van die Jode is. Josef het egter nou in Jerusalem gewoon as lid van die Sanhedrin en het sy graf daar in ’n rots uitgekap (Matt 27:60). Mattheus 27:57 sê hy was ’n ryk man.

 Josef het uitgesien na die koninkryk van God, soos Simeon en Hanna aan die begin van die Evangelie uitgesien het na die herstel van Israel (Luk 2:25,38). Die term ‘koninkryk van God’ kom 32 maal in Lukas voor en verwys nie na ’n gebied nie, maar na God se heerskappy, sy absolute seggenskap oor die ganse lewe van mense en gemeenskappe, en oor sy ganse skepping.

 23:52-53 Met waagmoed gaan vra Josef die liggaaam van Jesus by Pilatus. Daarmee vereenselwig hy Hom met Jesus as iemand wat aan Jesus verbind is, en stel hy hom bloot aan die kritiek en verwerping deur die Sanhedrin. Familielede kon gewoonlik die lyk van hulle mense vra. Pilatus kon dink hierdie Raadslid verteenwoordig die Sanhedrin. Volgens Deutr. 21:22 moet ’n lyk aan ’n paal dieselfde dag begrawe word om nie die land te verontreinig nie, want wie opgehang is, is deur God vervloek. So het Jesus die vloek van God oor die sonde van die wêreld namens ons gedra om ons te reinig. 

 Josef haal die lyk van Jesus van die kruis af (volgens Johannes 19:39-40 het Nikodemus hom daarmee gehelp), draai sy naakte lyk in doeke toe en lê hom in ‘n graf wat in ’n rots uitgekap is – nie in ’n gewone graf in die grond nie, maar in ’n rykmansgraf. Jes 53:9 sê: ‘sy graf was by die misdadigers en by ’n ryke in sy dood, al het hy geen misdaad gepleeg nie en al was hy nooit vals nie.’  Jesus was aan die kruis tussen misdadigers en in sy graf by die rykes. In dié graf het nog niemand gelê nie (soos die donkievul waarop niemand nog ooit gesit het nie; Luk 19:30) – geskik vir die heilige Here.

 23:54  Dit was die Voorbereidingsdag (Goeie Vrydag), en die Sabbat het al begin aanbreek (met sononder van die Vrydag). Daarom moes daar haastig gewerk word en kon hulle Jesus nie klaar begrawe voor die eerste ster verskyn nie. Josef se goedheid en regverdigheid blyk uit sy eie graf wat hy beskikbaar stel, en dat hy bereid was om onrein te word deur aan ’n lyk te raak voor die Sabbat en die Pasga (Joh 18:28; Num 5:2; 9:7,10; 19:11,13,18; 31:19; Hag 2:13).

 23:55-56 Die Galilese vroue wat by die kruis was (23:49) het Hom gevolg, die graf gesien, en hoe sy liggaam neergelê is, en toe teruggegaan (stad toe), geurige speserye en salf voorberei (om die liggaam Sondag te gaan balsem). Op die Sabbat, wat die Vrydagaand aangebreek het, het hulle gerus, volgens die voorskrif van die wet (Eks 20:8-11). Met hulle voorbereiding wys die vroue dat hulle nie Jesus se opstanding uit die dood op Sondagmôre verwag het nie. Lukas sluit sy berig oor Jesus se begrafnis af met die vroue se voorbereiding vir hulle liefdesdiens aan Jesus.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus sterf (Luk 23:44-49) – Francois Malan

23:44 Lukas plaas drie wondertekens bymekaar. Die drie tekens wys na die betekenis van Jesus se sterwe: die duisternis wys na God se oordeel oor die sonde. Die skeur van die voorhangsel verwys na God se sluiting van die tempel met hande gemaak en staking van die offers by die tempel, as die plek om God te ontmoet vir aanbidding en vergifnis van sonde. Jesus se derde kruiswoord en uitblaas van sy asem is sy oorgawe van Homself as die offer aan sy Vader vir die sonde van die mensdom (Hebr 9:23-10:18).

 Die Pasga word elke jaar met volmaan gehou en dan is daar geen sonsverduistering tydens die fees moontlik nie. Sonsverduisterings vind slegs met nuwemaan plaas. Maar op die dag van Jesus se sterwe het dit in die hele land (gê land of aarde) donker geword om twaalfuur die middag (die Joodse sesde uur van die dag) tot drie-uur die middag (die Joodse negende uur). Die negende plaag met Israel se verlossing uit Egipte was drie dae duisternis (Eks 10:22). Vir die Jode was duisternis die teken van die oordeel en straf van die Here (vgl. Amos 5:8 oor die Dag van die Here, wanneer die Here God die son helder oordag sal laat ondergaan en dit op die aarde donker maak terwyl dit nog ligdag is; vgl ook Joēl 2:10,31; 3:15). So word dit die eerste teken van die oordeel van God oor die sonde van die mensdom wat deur Jesus gedra is (Mark 15:34 en Matt 27:46 het teen die negende uur Jesus se uitroep: ‘my God, my God, waarom het U My verlaat’ as die onbegryplike offer van God vir die vergifnis van die sonde van die wêreld, vgl. Joh 1:29).

 23:45 Die inleiding tot hierdie vers kom slegs in Lukas voor en bind die drie tekens saam. ‘Terwyl die son opgehou het’ – om te skyn  (eklipontos ophou) gebeur die volgende twee tekens terselfdertyd. Al drie die tekens gebeur gelyktydig. Die laaste twee kom aan die einde van die wonderbare drie uur duisternis, wat die teken is van God se straf op die sonde van die mensheid. In die duisternis skeur die voorhangsel in die tempel middeldeur.

 Die tempel het drie afdelings gehad: die Voorportaal, die Heilige, en die Allerheiligste (vgl. 1 Kon 6). Ná die Babiloniese ballingskap was die Allerheiligste sonder die ark wat die twee kliptafels met die wet in gehad het, en sonder die gerubs van 1 Konings 8. Die drie afdelings is met twee voorhangsels van mekaar afgeskei. Die voorhangsel wat geskeur het is waarskynlik die een tussen die Heilige en die Allerheiligste waar die hoëpriester eenmaal per jaar op die Versoendag ingaan met bloed om te offer vir homself en die sondes wat die volk onwetend gedoen het (Hebr 9:7; vgl. Eks 30:10; Lev 16:2,11-15).

 Die tweede teken van die geskeurde voorhangsel wys vooruit na die vernietiging van die tempel in 70 n.C. deur die Romeine, maar ook dat die Here die tempel verlaat. Deur die Jode se verwerping van Jesus, het die tempel sy betekenis verloor. Daarom het God die tempel verlaat en het die bedekking van die Allerheiligste oopgeskeur. Jesus se offer gee nou buite die tempel vrye toegang tot God vir elkeen wat glo. Hebreērs 10:19-20 sê, Jesus het vir ons die nuwe lewende weg geopen deur die tempelgordyn heen, dit is deur sy liggaam. Jesus se liggaam aan die kruis vervang die tempelgordyn waaragter versoening gedoen is vir die sonde van die volk. Jesus vervang die tempel

(vgl. Joh 2:19-21; 4:21-24). In geloofsgemeenskap met Jesus en in sy Naam, dit is sy Persoon en werk, het ons vrye toegang tot God (Hebr 10:19-20), gemeenskap met God en aanbid ons God in gees en waarheid (Joh 4:21-24).

 23:46 Met die derde teken wat die betekenis van Jesus se sterwe aandui, beskryf Lukas Jesus se laaste woorde voor Hy sy laaste asem uitgeblaas het: Met ’n harde stem, sodat al die omstanders dit duidelik kon hoor, het Jesus uitgeroep:’Vader, in u hande gee Ek my gees oor!’ (paratithemai vertrou Ek my gees toe / Ek gee Myself aan U sorg oor). Volgens Markus 15:33 was dit om 3nm., die tyd van die aankondiging van die aandoffer (vgl. 1 Kon 18:36) in die tempel waar die voorhangsel pas geskeur het en die toegang tot God oopgegaan het vir alle mense. Die woorde van Jesus  se gebed uit Ps 31:6 was ook die gewone aandgebed van ‘n Joodse kindjie. In Luk 18:17 het Jesus gesê: ‘Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kind ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.’ Met dié kindergebed gaan die nederige Jesus ook die koninkryk van God in. In Ps 31:6 word die Here God nie as ‘Vader’ aangespreek soos hier nie. Die Ou Testament ken God nie as Vader nie, maar Jesus het ons kom leer om God ‘Vader’ te noem. Hier dui dit op Jesus se ewige Seunskap van God, aan wie Hy sy menslike lewensasem teruggee (die lewensasem wat van Adam ’n lewende wese gemaak het, Gen 2:7).  ‘Vader’ is die aanspreekvorm van sy gebed vir Homself in Getsemane (Luk 22:42), ook met sy eerste kruiswoord in Lukas, sy gebed vir die mense wat Hom kruisig (Luk 23:34), en van die gebed wat Jesus sy dissipels geleer het (Luk 11:2), ook in sy eie gebede (Luk 10:21). Dit is ’n aanduiding van die innige verhouding van liefde tussen Jesus en sy Vader, en van die verhouding wat daar tussen gelowiges en die Vader behoort te bestaan, deur ons lewe aan Hom oor te gee. 

 Nie een van die Evangelies sê letterlik dat Jesus gesterf het nie. Markus en Lukas gebruik ekpeneusen Hy het die laaste asem uitgeblaas. Dit is figuurlike taal vir sterf. Mattheus sê afêken to pneuma Hy het die gees weggestuur; ’n idioom vir sterf. Johannes sê paredōken to pneuma Hy het die gees oorgegee; ook ’n idioom vir sterf. Daarmee dui hulle aan dat Jesus se dood iets besonders is, sy selfoorgawe in die dood. Hy, die Woord van God, het vir Adam, die mens, gesê: ‘die dag as jy van die boom van kennis eet, sterf jy.’ Die dood is die straf van God op die sonde van die mens. Hier gee God Homself oor in die doodstraf wat Hy op die sonde van die mens gelê het. Markus en Mattheus beskryf dit met sy woorde aan die kruis ‘My God, my God, waarom het U My verlaat?’ Paulus skryf dat Hy wat in die gestalte van God was, Homself prysgegee het en Hom verneder het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis (Filip 1:6-8). Dit is die toppunt van sy liefde vir die mens. God dra self sy straf op ons sonde. Dit is die evangelie, die blye boodskap van God se genade. Jesaja 25: sê: die Here God sal die dood vir ewig vernietig. Romeine 15:54 verwys na Jesaja se voorspelling: ‘die dood is verslind in die oorwinning.’ Dit is die oorwinning van God se liefde oor die dood van die mens: God bewys sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was (Rom 5:8).  

 23:47 Die eerste van die drie reaksies op Jesus se dood wat Lukas aanteken, is dié van die Romeinse bevelvoerder oor 100 soldate, wat ’n groep van sy soldate gelei het om die drie persone te kruisig. Markus 15:39 sê: toe die bevelvoerder Hom sy asem so sien uitblaas, het hy gesê: ‘Waarlik hierdie man was die Seun van God.’ Mattheus 27:54 sê: toe die bevelvoerder en dié wat met hom Jesus bewaak het die skudding en die dinge wat gebeur het sien, was hulle vreesbevange en het gesê: ‘Waarlik, Hy was God se Seun’ – waarskynlik oor sy gebed tot sy Vader. 

 Lukas sê slegs: Toe die owerste oor honderd sien wat gebeur, het hy God geloof en gesê: ‘Waarlik, hierdie man was regverdig (dikaios regverdig, in die regte verhouding tot God, wat Hom ‘Vader’ kan noem).’ Hy bevestig wat Pilatus drie maal bevind het, dat Jesus as die Regverdige gely en gesterf het. Lukas sê, met hierdie woorde het die owerste God geloof. Die Joodse leiers dryf die spot met Jesus en beskou hulleself as regverdig (Luk 23:35). Hierdie heidense soldaat prys God oor die Regverdige Man wat gesterf het. Met sulke voorbeelde wil Lukas sy lesers lei om God te loof oor Jesus se lewe en sterwe (vgl. ook die lof aan God in Luk 5:8 deur Petrus by die groot visvangs; 7:16 deur die mense van Nain by die opwekking van die jongman; 9:43 deur die skare by die genesing van die seun met die stuiptrekkings; 13:13 deur die kromgetrekte vroutjie; 17:15 deur die Samaritaanse melaatse; 18:43 deur die blinde by Jerigo; 19:37 deur die skare op Palmsondag; Hand 3:8 deur die verlamde by die tempel). Die Romein is die eerste getuie van Jesus se dood en Lukas sluit hom in onder die mense wat God geloof het oor Jesus. 

 23:48 Die tweede reaksie in Lukas op Jesus se dood, kom van die hele skare wat vir hierdie skouspel (theōria skouspel, ongewone gesig)  bymekaar gekom het (vgl 23:27). Toe hulle sien wat gebeur, het hulle teruggegaan terwyl hulle op hulle borste slaan, as uitdrukking van hulle rou (vgl. Luk 18:13, die tollenaar se berou oor sy sonde). In Handelinge 2:41 word ongeveer 3000 mense op die Pinksterdag gedoop. Moontlik was daar van die mense uit die skare wat uit nuuskierigheid Jesus se kruisiging kom aanskou het, wat Jesus se woorde aan die weeklaende vroue gehoor het (23:28-31), ook sy gebed vir die mense wat vir sy kruisiging verantwoordelik was (23:34) en sy belofte aan die misdadiger (23:43), die duisternis beleef het (23:44), Jesus se kinderlike vertroue op sy Vader gehoor het (23:46) en met seer harte die Kopbeenplek verlaat het. Dit is die tweede groep getuies van Jesus se dood. 

 23:49 Lukas se derde reaksie op Jesus se dood beskryf al Jesus se vriende wat veraf bly staan het, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het om die dinge te aanskou/te beleef. Die woord gnōstoi kan kennisse of vriende aandui en is die manlike vorm daarvan. Die woord word ook in Luk 2:44 gebruik.  makrothen ‘ver, veraf, op ’n afstand’ verwys ook na die vervulling van Ps 38:12 ‘My teistering veroorsaak dat my geliefdes en vriende op ’n afstand bly staan, wie na aan my is, staan ver van my af.’ (Ps 88:9,19 verwys ook na bekendes en vriende). Waarskynlik is dit uit vrees vir die Romeine en die Joodse leiers dat hulle veraf staan. Met ‘almal’ sal die dissipels wat gevlug het ook ingesluit wees. Na dié vroue word ook in Luk 8:2-3 verwys. Tipies van Lukas se verwysing na vroue het hy hier ook die teenwoordigheid van die vroue saam met die mans wat by die kruis was. Soos die kruisiging begin het met die vroue van Jerusalem wat langs Jesus se lydensweg Hom beween het, sluit vroue uit Galilea sy kruisiging af met hulle simpatieke aanskouing van sy sterwe. Die werkwoord se voltooide verlede tyd eistêkeisan beteken dat hulle daar bly staan het, waarskynlik tot na die skare van vers 48 reeds terug is stad toe. Die werkwoord horaō ‘sien/aanskou’ het ook die betekenis om iets te beleef. Die groep het die kruisiging van Jesus van ’n afstand af beleef. Hulle is Lukas se derde groep getuies van Jesus se dood. (Joh 18:25 sê dat Jesus se moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en ook Maria Magdalena by die kruis gestaan het).