Postmodernisme se kind “postfoundationalism” keer terug na grondwaardes

Postmodernisme se kind “postfoundationalism” keer terug na grondwaardes – Kobus Kok

Karen vra:

My vriendin sê dat haar geloof Christelik Postmodern is.  Wat verstaan ek onder hierdie beskrywing?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Om die woord postmodern te verstaan moet mens dalk iets verstaan van wat modernisme is en ook in ag neem dat baie mense van mening is dat mens nie eens van post-modernisme kan praat nie, maar eerder van laat modernisme moet praat. Daar is dus nie ‘n definitiewe definisie vir wat postmodernisme is  nie. Ons kan net die breë trekke daarvan beskryf.

Die maklikste om dit mee te verduidelik is om aan die modernisme te dink as ʼn tydsgees waarin daar baie sekerheid, voorspelbaarheid en duidelike reëls was in terme van wat reg en verkeerd was. In ʼn sekere sin was die wêreld swart of wit en min grys gebiede het tussen in bestaan. In die modernisme het mense vasgehou aan sekerhede en geglo dat daar iets soos absolute, onveranderde waarhede bestaan wat vir altyd en in alle kontekste altyd so sal wees. Dink maar net aan Suid-Afrika in die vroeë 19de eeu.

Daar was ‘n geweldige vertroue in die mens en sy rasionele vermoë en dit wat die mens met sy briljantheid kan weet en bereik.

Maar toe breek die Tweede Wêreldoorlog uit en die wêreld vernietig mekaar met ongekende geweld. Met dieselfde briljante selfversekerheid wat ons die atoombom vervaardig het, het ons mense, diere en histories kosbare plekke klakkeloos in die niet laat verdwyn, vir wat? Na die wêreldoorlog was mense erg ontnugter en het daar ʼn sekere pessimisme ontwikkel. Sommige mense het hulself verset teen die absolute aard van kennis en die vermoë van die mens wat nie so optimisties is soos wat voorheen geglo is nie.

Verder het mense (veral Westerlinge) altyd vanuit hulle kulturele bril op ʼn meerderwaardige wyse na ander volke gekyk en vinnig agtergekom dat elke kultuur sy eie manier van kyk na die werklikheid het. Dit was ʼn direkte gevolg van die kontak tussen kulture en volkere na die Tweede Wêreldoorlog. Met die hernude ontdekking van andersoortigheid en respek vir ander kulture of perspektiewe en selfs gelowe het die gedagte van relatiwiteit ontstaan. Dit beteken dat mens besef dat dit wat ek glo dalk nie absoluut waar is nie, maar relatief tot my verstaanshorisonne is, met ander woorde dit is dalk hoe ek dinge sien, maar dit is dalk nie eers reg nie. Daarom sal daar in die gees van die sg. Postmodernisme geglo word aan relativisme teenoor die absolutisme van die modernisme. ʼn Postmoderne geloof sal dus ook glo aan sekere waarhede, maar nie noodwendig voel dit is absoluut waar nie, maar slegs relatief.

Jy sal vind dat mense baie maklik verwys na iets wat volgens hulle postmodern is, maar dikwels juis modernistiese maniere van dink verteenwoordig. Die slotsom is dat mense dikwels nie eens mooi verstaan wat postmodernisme behels nie.

Verder het geleerdes soos Wentzel van Huyssteen gesê dat binne die postmodernisme mens ook kan onderskei tussen “foundationalism”, “postfoundationalism” en “nonfoundationalism”. Volgens die “foundationalism” is daar bepaalde absolute, ononderhandelbare, universele waarhede; volgens die “nonfoundationalism” is alles relatief en bestaan daar geen absolute waarhede nie. Maar dan kry mens binne die postmodernisme ook iets soos “postfoundationalism” wat sê dat daar wel iets is soos waarheid, maar dat waarheid in ʼn bepaalde konteks realiseer. Dit is soos ʼn vorentoe aangee in rugby wat gewoon ʼn feit is, naamlik as die ontvanger van die bal voor die ou is wat dit gooi en dit dan vang, is die ontvanger van die bal onkant. Maar dan kan mens die volgende naweek op presies dieselfde veld kyk hoe ander ouens met ʼn sokkerbal speel, en skielik gee hulle die heeltyd vir mekaar die bal aan op ʼn wyse wat in rugby ʼn vorentoe aangee sou wees. Dus, waarheid is wel daar, maar dit verskil van konteks tot konteks.

Ons kan dus argumenteer dat postmodernisme se kind “postfoundationalism” weer terugkeer na grondwaardes wat binne bepaalde sosiale kontekste belangrik is.

Juis om hierdie rede kan ʼn postmoderne Christen ook glo dat alle waarheid nie altyd totaal relatief is nie, maar dat bepaalde waarhede vir hulle baie belangrik is. In postmoderne geloof kan mens dus nog steeds glo in sekere waarhede wat essensieel is vir jou geloof. As postmoderne, “postfoundational” gelowige kan jy dus met oortuiging en sekerheid vashou aan dit wat vir jou sin maak en wat vir jou belangrik is in jou geloof.

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Mag van die Satan(2)

Mag van die Satan(2) – Henk Geyer

Daar was ‘n vraag en antwoord oor die mag van die Satan. Na aanleiding daarvan skryf Henk Geyer:

Ek het die volgende verklaring van die mag wat aan Satan gegee is, gehoor.  Ek sal u kommentaar waardeer:

Na aanleiding van Genesis 1:26 en 28 en Psalm 8:6-9 het hy die heerskappy en mag oor die wêreld vir die mens gegee (Dit sluit in ons eie wil).  Ons weet dat God nie iets sal gee of belowe en dit dan later sal terugneem nie, alhoewel Hy almagtig is en alles kan doen wat HY WIL. Die mens wat hierdie Mag ontvang het,  kon kies wie se WIL op Aarde moet geskied.  God het gesê Ek is jou Skepper en Jou GOD as jy my gehoorsaam sal jy vir ewig Lewe. Hy het ons vrye toegang gegee tot alle vrugte in die Tuin en vrye toegang tot die boom van die LEWE maar een Boom het HY ons verbied.  Satan het gesê GOD praat nie die waarheid nie. Die Mens het die mag gehad om te besluit en het toe die Satan eintlik mag gegee om op aarde te bly en soort van te regeer, daar is die MAG aan Satan gegee.  Sedertdien hou die Mens satan in beheer.  (behalwe een MENS natuurlik)

Dit maak sin vir  my as jy die vogende in ag neem:

1.    Oor die mag van die mens: leer Jesus ons bid dat die “Vader se Wil op aarde moet geskied soos dit reeds in die Hemel Geskied” dws die mens se wil (wat baie keer die satan se wil is, as ons so kies) geskied en dit is eintlik ons wat GOD se wil moet laat geskied.

2.    Oor die mag van die Satan: Die enigste mag en bestaansreg op aarde wat hy het is die wat die mens wil.

3.    Oor die MAG van GOD:  God het die Satan uit die Hemel geban, gegooi, gejaag wat verhoed hom om, dood eenvoudig, die Satan van die aarde te verjaag.  Hy sal nie, want  Hy het die MAG vir die mens gegee en die mens moet die Satan oorwin – wegjaag noem dit wat jy wil. EN DIT is waarom GOD “MENS” moes word om namens die hele mensdom die satan te verwerp en GOD as HEERSER, SKEPPER en ENIGSTE GOD te kom erken en dien.

Ek hoop ek het die redenasie sinvol neergeskryf. Ek is nie ‘n grammatikus nie.

 

Kommentaar:

Dr Marius Nel se kommentaar is:

Henk,

Ek sien nie ‘n probleem met jou verklaring nie en meen dit is korrek.

 




Die duiwel as aanklaer

Die duiwel as aanklaer – Jan van der Watt

Erica Coetzee vra:

Die duiwel was die aanklaer van mense by God, maar het sy posisie verloor as aanklaer deur Jesus se kruisdood en opstanding. Jesus het die duiwel se plek ingeneem as advokaat. Verstaan ek dit reg? Wat is die duiwel se posisie dan nou? Hy is nie meer in die hemel om die aanklaer te wees nie, so hy versoek, verlei en mislei ons op aarde?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die duiwel word inderdaad in die Bybel geteken as die aanklaer. Kyk maar na Job. Die volgende het toe met die duiwel gebeur volgens die Nuwe Testament. (Lees asseblief ook die ander artikels oor die duiwel op die webblad – dit vorm die agtergrond vir die vraag).

a) Met die koms van Jesus is die mag van die duiwel gebreek. Lees byvoorbeeld net die volgende dele:

1 Johannes 3:8 – 8wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.

Hebreërs 2:14-15 – 14Aangesien hierdie kinders mense van vlees en bloed is, het Hy ook net soos hulle mens geword. Dit het Hy gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig 15en om hulle wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank in slawerny was, te bevry.’

b) Om die radikaliteit van wat gebeur het te onderstreep, sê die Bybel op verskillende plekke dat die duiwel uit die hemel uitgegooi is – byna soos ʼn aanklaer wat uit ʼn hof uitgegooi is. Lees die volgende:

  • Lukas 10:18 – 18Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val.
  • Johannes 12:31 – 31Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe.
  • Openbaring 12:7-9 – 7Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. Die draak en sy engele het oorlog gevoer, 8maar hulle is verslaan. In die hemel was daar geen spoor meer van hulle te vind nie, 9want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom.

c) Wat beteken dit?

Dit beteken dat as die finale hofsaak gaan plaasvind die duiwel nie daar sal wees om ons aan te kla nie. Hy is uit die hofsaak geban. Jesus, ons verdedigende advokaat, sal wel daar wees. Hy sal ons dus verdedig. Die kanse dat ons dus skuldig bevind sal word as ons aan Jesus behoort is nul. Lees Romeine 8:33-34 – 33Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.’ As dit dus by die aankla kom, is net Jesus in die ‘hof’.

As jy egter nie aan Jesus behoort nie, verdedig Jesus jou nie, maar dan word jy jou aanklaer. Lees Johannes 12:47-48 – 47En as iemand na my woorde luister en hom nie daaraan steur nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te red. 48Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel.

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Ter helle neergedaal

Ter helle neergedaal – Jan van der Watt

Isabell vra:

Sedert my Sondagskooldae hoor ek dat Jesus, nadat Hy dood is, “ter helle neergedaal” het, met ander woorde, as ek dit reg verstaan, 3 dae in die hel deurgebring het sodat ek dit nie hoef deur te maak nie. Maar, Sy laaste woorde aan die kruis was: Vader in U hande gee Ek My Gees oor”. Wat ek nou verstaan is dat Satan nooit beheer oor Sy Gees gehad het nie. Wat moet ek van alles verstaan?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die uitdrukking ‘ter helle neergedaal’ kom natuurlik nie in die Bybel voor nie. Dit is woorde wat eers in die middeleeue in die Apostoliese geloofsbelydenis ingevoeg is. Sedertdien het dit woorde baie probleme veroorsaak, want dit lyk of Jesus in die hel was. Die hel word natuurlik geassosieer met die sonde en in die algemene spreektaal sê ons dat ons hel toe gaan as ons sondig is. Nou maar wat het Jesus daar gaan doen, as ons natuurlik reg is oor die ‘hel’.

Verskillende kerke het al probeer om die saak anders te stel, bv. die NG kerk het al die woorde op ʼn stadium verander na ‘neergedaal na die hel’ terwyl die Gereformeerde kerk nou sê dat Jesus die helse pyn gely het. Dit wys dat die kerke ook ongemaklik voel oor die woorde, aangesien dit iets kommunikeer wat nie regtig so is nie.

ʼn Paar dinge is hier op die spel:

  • Die gedeelte in die Nuwe Testament waarop die uitspraak dat Jesus ter helle neergedaal het, teruggaan, is 1 Petrus 3:18-19 – 18Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. 19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig.Die gedeelte sê dat Jesus as mens (liggaamlik) wel dood was, maar dat Hy wel geestelik lewend was en na die geeste in die gevangenis (ʼn tipiese beeld vir die doderyk waarheen mense gaan as hulle dood is) is. (Johannes 10:16-17 en indirek Johannes 11:25-26 sê ook dat Jesus wel liggaamlik dood was, maar dat Hy tog nog lewend was in die tyd tussen die kruis en die opstanding). Dit blyk dus hier dat Jesus tussen sy kruis en opstanding na die doderyk is om sy oorwinning aan te kondig. Die idee dat Hy in daardie tyd in die mag van die Satan sou wees, is dus nie reg nie. Hy was nooit in die mag van die Satan nie. Hy het juis sy oorwinning oor die Satan gaan aankondig.
  • Uit hierdie gedeelte is dit dus duidelik dat Jesus nie tussen sy dood en opstanding geteken word as gepynigde, lydende nie, maar reeds as oorwinnaar. Dit is juis die ongemaklikheid met die ‘ter helle neergedaal’ as ʼn mens dit sien as plek waar Hy lydend in die mag van die Satan sou wees. Dit staan nêrens in die Bybel nie.
  • Ons kan dus hieruit aflei dat die meeste wat ʼn mens in die ‘ter helle’ vanuit ʼn Bybelse hoek moet inlees, is dat Jesus ook na die doderyk gegaan het toe sy liggaam aan die kruis gesterf het. Daar was Hy tot Hy weer opgestaan het. God is natuurlik alomteenwoordig en dus selfs in die doderyk was God by Jesus.
  • Hel’ in die Nuwe Testament beteken meestal doodgewoon ‘doderyk’ (daar waar die dooies na hulle dood is) en nie die plek van straf nie (dit ook in sommige kontekste). Die Bybel gebruik ook verskillende woorde vir die doderyk, soos gehenna, sheo’l, hades, ens. wat elkeen sy eie betekenis het. ‘Hel’ in die Nuwe Testament beteken dus nie outomaties die plek waar jy braai vir jou sonde nie, om dit so uit te druk. Dit beteken in baie gevalle bloot die plek waar die dooies is.
  • Nou kom ons weer na die belydenis terug. Die term ‘ter helle neergedaal’ is, soos ons gesien het, baie dubbelsinnig en die kerke worstel maar oor die presiese betekenis. Aangesien dit ʼn belydenis van die kerk is (waarmee hulle iets wil sê oor wat hulle glo) moet die kerk dus self inhoud gee aan wat hulle bedoel. Ons het gesien dat die NG Kerk die woorde verander het om klem te lê op die feit dat Jesus in die drie dae ‘hel’ toe is. ‘Die Gereformeerde Kerk interpreteer dit as die lyding van Jesus. Dit gaan dus nie daaroor dat Jesus in die hel was nie, maar dat hy pyn gely het wat ʼn mens aan helse pyn laat dink. So word die woorde maar deur verskillende kerke (en verskillende mense) anders ingevul. Persoonlik verkies ek om ‘ter helle neergedaal’ vanuit ʼn Bybelse hoek te lees as ‘in die doderyk neergedaal’ te lees. Dit mag ook baie dinge beteken, maar ten minste skep dit nie die indruk asof Jesus in die hel geland het waar Hy in die mag van die duiwel as sondaar hanteer is nie.

Outeur: Prof Jan van der Watt