Spreek in Tale

Spreek in Tale – Jan van der Watt

Zelda vra:

Ek het al verskeie kerke besoek en wat gebeur is ‘n lidmaat  van die kerk sal kliphard begin bid en dan kan ek  nie die “taal” verstaan en dan sal ‘n ander persoon daarna ook praat, en dit is blykbaar ‘n uitlegging van die vorige?  My dogter en haar vriend besoek nou dikwels die kerk.  Dit pla my en ek weet ons gaan altyd in iets probeer fout vind, maar hoe ek verstaan is dat daar wel tale is maar wat verskillende nasies praat en verstaan bv. Engels.  Ek sê nie dit is verkeerd nie ek bevraagteken dit omdat ek nie verstaan nie.

Ek hoop jy kan my gemoedsrus gee.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Zelda vra wat die spreek in tale is. Twee belangrike dele in die Bybel moet na gekyk word:

a) Baie mense  verwys na Handelinge 2:7-8 waar die mense uit verskillende dele van die wêreld die dissipels hoor praat in hulle eie taal. Dit is egter nie spreek in tale nie, maar eerder ʼn hoorwonder. Die dissipels praat nie in die verskillende tale nie, maar wat die mense hoor, verstaan hulle (hulle eie taal verse 7-8: ‘Die mense wat daar praat, is tog almal Galileërs. 8Hoe hoor elkeen van ons dan sy eie moedertaal?’).

b) 1 Korintiërs 12 en 14 is die hoofgedeelte in die Bybel wat oor die spreek in tale gaan. Dit lyk of spreek in tale volgens die beskrywings wat ons daar kry:

( i) besondere kommunikasie met God is;

(ii) dat dit ekstatiese (byna as opwelling uit ʼn mens se hart) uitdrukking van gedagtes is wat in geluide na vore kom wat nie met ʼn gewone bekende taal verband hou nie;

(iii) dat die kommunikasie eintlik persoonlike kommunikasie is tussen die spreker en God. Dit moet dus nie met profesie verwar word nie. Dit gaan oor aanbiddingsuitdrukkings tussen die spreker en God;

(iv) dat die woorde wel deur die Gees uitgelê kan word;

(v) die Heilige Gees besluit vir wie Hy die gawes gee en vir wie nie. Ons kan dit nie op ons eie kry nie. Die Heilige Gees besluit wie het dit nodig en wie nie (1 Korintiërs 12:11).

 

Lees bv. die volgende dele:

  • 1 Korintiërs 14:4-5 ‘4Die een wat ongewone tale of klanke gebruik, bou net homself op, maar die een wat profeteer, bou die gemeente op. 5Ek sou graag wil hê dat julle almal ongewone tale of klanke gebruik, maar nog liewer dat julle profeteer. Die een wat profeteer, is van groter betekenis as die een wat ongewone tale of klanke gebruik, tensy hy dit ook uitlê, sodat die gemeente daardeur opgebou kan word.’
  • 1 Korintiërs 14:8-9 8En as die beuel ‘n onduidelike sein gee, wie sal vir die geveg gereed maak? 9So is dit ook met julle. As julle ongewone tale of klanke gebruik en nie ‘n verstaanbare woord praat nie, hoe sal ‘n mens weet wat daar gesê word? Dan praat julle mos in die wind!’

 

Wat belangrik is met die tale is dat dit die gemeente moet opbou, anders bevoordeel dit net een persoon. As dit nie vir almal toeganklik is om te hoor wat gesê is nie (= die uitleg) dan help dit nie om dit in die gemeente te doen nie. Dit is dus ʼn redelike negatiewe oordeel deur Paulus oor die tale. Dit het ʼn plek en dit is gewoonlik privaat. As dit in die openbaar gebeur, moet dit uitgelê word sodat almal kan baat en die gemeente opgebou kan word.

Daar is egter nog ʼn belangrike opmerking wat gemaak kan word. 1 Korintiërs 12-14 is nie die enigste plek waar daar die gawes van die Gees gepraat word nie. (Vir interessantheid: in 1 Korintiërs 13:1 praat Paulus ook van engeletale wat nie met die spreek in tale verwar moet word nie). Daar word ook soortgelyke lyste van die gawes van die Gees in bv. Romeine 12:4 en verder of Efesiërs 4:7 en verder; 1 Petrus 4:7-11. In nie een van die lyste word daar van spreek in tale gepraat nie. Dit beteken dat nie in die gemeente in Rome, Efese, of in groot dele van die hedendaagse Turkye word daar eers oor die spreek in tale gepraat of daarna verwys nie – net in Korinte. Wat sê dit vir ons? Dat die spreek in tale nie ʼn algemene gawe is wat almal moet hê nie. Die meeste van die gemeentes het volgens die Nuwe Testament nie daaraan deel gehad nie, of ten minste, as lyste van gawes opgestel is, is dit nie by hulle genoem nie. ʼn Mens moet dus nie te veel van die gawes maak nie. Paulus self is self in 1 Korintiërs 12-14 so bietjie afwysend daaroor as mens mooi lees. Dit moet op die regte plek en manier gebruik word en dus nie oorbeklemtoon word nie.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Die ster van Betlehem

Die ster van Betlehem – Jan van der Watt

Louis Nel skryf die volgende:

Baie sterrekundiges (en ander gelowiges) het al baie gewonder oor die wonderwerk van die ster van Betlehem. Nuwe navorsing het nou vorendag gekom met die wonderlikste ontdekkings wat die gedrag van die wyse manne uit die Ooste verklaar.

Alles het begin in die jaar 8 v.C. toe Caesar Augustus ʼn sensus uitroep om belasting invorderings te bereken. Hierdie sensus sou sowat twee jaar duur om te voltooi. Dit kon moontlik gedurende hierdie tyd wees dat Josef en Maria na Betlehem reis sodat hulle getel kon word. In daardie tyd gebeur die eerste van ʼn reeks wonderwerke – wat eintlik normale natuurverskynsels was. Maar dit is die tydsberekening van hierdie natuurverskynsels wat alles so deur God bepaal is, wat dit so verstommend wonderlik maak. Die eerste gebeurtenis was ʼn driedubbele oplyning van die planete, soortgelyk aan wat ons in 2003 gehad het, iets wat elke paar duisend jaar gebeur. Op hierdie geleentheid het Jupiter, die Son, die Aarde en Saturnus in die jaar 7 v.C. drie keer in ʼn reguit lyn verskyn in die sterrebeeld Pisces. Volgens die mitologie sou Jupiter die koning van die gode wees, Saturnus sou staan vir geregtigheid en Palestina, en die sterrebeeld Pisces was met die Jode geassosieer. Die wyse manne (of sterrekykers) het hierdie eenmalige gebeurtenis van die belyning van planete dus geïnterpreteer as die geboorte van ʼn Messiaanse Koning in Juda. Soos reeds gesê, het hierdie belyning drie maal gebeur, in Mei, September en Desember in die jaar 7 v.C. In Februarie die volgende jaar verskyn die planeet Mars in dieselfde lyn. Die betekenis wat hulle daaraan heg is dat daardie Koning baie magtig sou wees. In April van dieselfde jaar gebeur nog ʼn wonderwerk. Oor Jerusalem word die planeet Jupiter verduister deur ʼn sekelmaan. ʼn Rukkie later verskyn die planeet weer aan die ander kant van die maan, wat die betekenis van ʼn koninklike geboorte dra. Maar dit was nie al nie: In die jaar 5 v.C. verskyn daar ʼn komeet in die Ooste (volgens antieke Chinese rekords). Dit was die teken waarop die wyse manne gewag het, want dit het beteken dat daar binnekort iets wonderlik sou plaasvind. Dit sou omtrent 70 dae neem vir hierdie komeet om van Oos na Suid in die hemelruim te beweeg. As ons sou aanneem dat die wyse manne uit Babilon gekom het – hulle was immers die wêreldleiers op die gebied van sterrekunde – dan sou dit hulle ook omtrent 70 dae geneem het om tot in Jerusalem te reis. Die Babiloniërs was ook die voorste wiskundiges en astroloë, en hulle het geweet van die Joodse geloof, dat ʼn ster die koms van die Messias sou aankondig. Die baan wat die komeet gevolg het sou hierdie manne reguit na Betlehem gelei het waar die ster vroegoggend in die Suide sigbaar sou wees.

 

Reaksie:

Reaksie van Prof Jan van der Watt:

Dankie Louis. Daar word heelwat geskryf en die National Geographic kanaal op TV saai heelwat programme uit wat probeer om natuurlike verskynsels met die gebeure in die Bybel te sinkroniseer. Dit is natuurlik baie interessant en ook moontlik. Die probleem is net dat die nie 100% bewys kan word nie, m.a.w. dit kon so gewees het, maar wie weet of dit so was. Ons moet ons geloof dus nie op hierdie dinge bou nie, maar kan tog daarvan kennis neem

 

Outeur: Prof Jan van der Watt




Uitverkiesing en genade: ’n onverklaarbare hoop

Uitverkiesing en genade: ‘n onverklaarbare hoop – Fanie Rudolph

1. Inleiding:

Die uitverkiesing kan problematies wees vir party mense.  Dit neem skynbaar verlossing uit ons hande.  Die wonderlike van uitverkiesing is dat dit verlossing in die Hande van God plaas.  Uitverkiesing maak dat verlossing genade is, want ons is afhanklik van God daarvoor.  Waar kan ons ‘n veiliger plek kry om te wees as die Hand van God?

2. God kies:

Die Bybel is eintlik van voor tot agter vol van God se uitverkiesing.  God het gekies om ‘n mens te maak om in ‘n verhouding mee te staan (Genesis 1:26-27).  God kies Noag om ‘n nuwe begin mee te maak (Genesis 6-8).  God kies Abraham as vader vir ‘n nuwe verbondsvolk (Genesis 12).  God kies Dawid as “ewige koning” oor sy volk (1 Samuel 16).  Die een eienskap van elkeen van hierdie persone was: God het besluit en uitgekies; dit het nie afgehang van wat hierdie mense doen nie (Romeine 8:13).

God se uitverkiesing word ook nie neergesit of teruggetrek soos speelkaarte nie.  As God kies, trek Hy nooit sy uitverkiesing terug nie (Romeine 11:29).  Sy uitverkiesing is dus betroubaar en standvastig.  Paulus waarsku wel dat takke (gelowiges) wat genadiglik ingeënt is op die stam, weer uitgekap kan word (Romeine 11:17-21).  Daarmee verwys hy egter na hulle wat nie in geloof hulle uitverkiesing wil aanvaar nie.  Daarom moet ons bly “let op die goedheid en strengheid van God” (Romeine 11:22).  Ons kan nie met God se verlossing mors net omdat ons uitverkorenes van God is nie.  Ons moet leef as mense wat deur God uitverkies is.  Ons moet weet dat Christus die krag is wat uitverkorenes aan God vashou (1. Korintiërs 1:24).

Die gronde van die uitverkiesing bly egter ‘n raaisel.  Selfs Paulus sukkel in Romeine 9-11 om ‘n klinkklare antwoord op hierdie Goddelike misterie te gee.  Een ding is egter seker: die uitverkiesing is nie bedoel om ons bang te maak nie.  Ons moet eerder bly wees dat ons wel deur God uitgekies is.

3. God kies en red in genade:

Dat ons uitgekies word deur God, is net ‘n genade (Romeine 11:5).  God kies ons nie vir wie ons is nie.  Hy wag ook nie dat ons eers iets of iemand spesiaal word voordat Hy ons kies nie.  Hy kies ons soos ons is, sonder dat ons iets daarby hoef te doen (Romeine 11:6).  God doen dit omdat Hy ons baie liefhet.  In liefde kies en roep Hy mense.  Hierdie uitverkiesing strek verder terug as ons skepping (Efesiërs 1:4-5).

God se genade is so groot dat Hy ons ook kies vir wie ons gaan wees.  God het ‘n plan vir ons (vgl. Genesis 1:26-27; Romeine 8:28-29).  Hy het ons uitgekies om daardie plan te vervul.  Nou roep Hy ons om deel te word van sy plan.  Hy trek ons in God se plan in deur die verlossing van Jesus Christus aan die kruis.  Hierdie verlossingsplan is ook lankal vooruit bestem deur God (Efesiërs 1:5-8).

Steeds is daar niks wat ons doen vir hierdie verlossing nie.  Dit is alles die werk van God (Efesiërs 2:8-10).  Dit is sy wil alleen.  Deur Hom word ons deel van God se uitverkore volk (Efesiërs 1:13).  Sy genade is so oneindig groot, veral as ons eers besef dat God sy genade nie terugtrek as Hy eenmaal uitgekies het nie (Romeine 11:29).

Gevolgtrekking:

Uitverkiesing en genade gaan saam.  Ons kan net met dankbaarheid God se genade en uitverkiesing aanhoor en aanneem.  Ons kan, en hoef, niks by te voeg nie.  Ons kan verseker wees van ons eie ewige uitverkiesing uit genade alleen.

Ons moenie verwaand wees oor ons uitverkiesing nie.  Ons moet deurentyd onthou dat ons niks daartoe bygedra het nie.  God se genade alleen het ons gemaak wie ons nou is.

 

Outeur: Dr Fanie Rudolph

 




Is God ’n oneerlike bestuurder? (Lukas 16:1-13)

Is God ‘n oneerlike bestuurder? (Lukas 16:1-13) – Fanie Rudolph

1. Inleiding:

Met die eerste lees van hierdie gelykenis lyk dit asof Jesus ten gunste is van die oneerlike optrede van hierdie bestuurder.  As ‘n mens vinnig deurlees, wil dit selfs voorkom asof Jesus mense aanmoedig om so met geld om te gaan.  Kan dit regtig die geval wees, veral in ‘n boek waar rykdom en uitbuitery sterk veroordeel word?

2. Jesus se gebruik van gelykenisse:

Jesus het baie in gelykenisse gepraat.  So het Hy die mense belangrike lesse oor die lewe, en veral oor die koninkryk van God (vgl. Matteus 13), vertel.  Deur hierdie lesse aan die alledaagse lewe te koppel, wys Hy sy dissipels dat hierdie lesse in die lewe sin maak.

3. ‘n Oneerlike bestuurder:

Waar meeste van die gelykenisse reguit is (met óf ‘n sterk “nee”, óf ‘n sterk “ja” as antwoord), kom Jesus hier met ‘n “ja” na vore wat eintlik ‘n “nee” moet wees.  Die oneerlike bestuurder sorg vir homself deur ander mense om te koop (met sy baas se geld), sodat hulle vir hom kan sorg as hy dalk afgedank word (Lukas 16:4).  Die skandes in die gelykenis kring verder uit wanneer die baas dit agterkom en uiteindelik die oneerlike bestuurder prys vir sy oneerlikheid (Lukas 16:8).  Die toneel klink amper heel hedendaags.  Ons hoor en sien dit daagliks in die lewe.  Dit is hierdie gebeure wat amper die idee skep dat Jesus die oneerlikhede goedkeur.

Jesus se verklaring in vers 9 bring die gelykenis in ‘n heel ander lig.  Dit is amper asof Jesus met sarkasme reageer op die optrede van die bestuurder en sy baas.  En Hy trek hierdie sarkasme deur na die alledaagse lewe.  As jy net daarop ingestel is om na jouself te kyk, sê Jesus by implikasie, dan is hierdie die manier waarop jy mag optree.  Dan maak etiek en God se wil mos nie vir jou saak nie.  En ja, die mense van hierdie wêreld wat dieselfde dinge doen, gaan waarskynlik vir jou sorg as jy in die moeilikheid land.  Jy het immers vir hulle gesorg om jou eie bas te red.  Hulle sal jou wel in hulle “ewige wonings” ontvang.  Hulle ewige wonings verskil egter sterk van God se ewige woning.  Dit is ‘n ewige woning van verderf, nie van God se heerlikheid en lewe nie.  Lukas se sterk ingesteldheid teen die rykes kom ook hier na vore in die sin dat Jesus die “oneerlike mammon” (geld) as die wortel van die kwaad alhier uitlig.  Tog moet ons erken dat Jesus (en Lukas) ‘n punt beet het.  Geld word al te maklik misbruik om mense om te koop of te beïnvloed.  Mense se gierigheid en selfgerigtheid kom duidelik na vore in die wyse waarop hulle met geld omgaan.

4. ‘n Betroubare God:

In vers 10-12 stel Jesus die gelykenis in die regte perspektief.  Dit gaan oor betroubaarheid.  God (en ander mense) vertrou ons met sekere dinge.  As ons nie eers betroubaar kan wees in die klein dingetjies wat nie ewigheidswaarde het nie (lees geld), hoe kan ons vertrou word met die groot dinge, die geestelike en ewige dinge?  Hoe kan ons as God se bestuurders optree (vgl. Genesis 1:26-27), as ons nie eers ons eie self betroubaar en eerlik kan bestuur nie?  As ons onsself, geld en ons besittings aanbid, kan ons nie genoeg aandag gee aan God, wie ons eintlik moet aanbid, nie.

In ‘n samelewing waar korrupsie en bedrog en omkopery hoogty vier, is hierdie uiteindelik ‘n belangrike gelykenis om in die oog te hou.  As gelowiges kan ons nie onsself uitverkoop aan die gierigheid en verkeerde praktyke van hierdie wêreld nie.  Ons het ‘n taak en roeping om deurentyd te soek na God se wil vir ons lewens.  En die etiese waardes van sy koninkryk gaan nie oor my belange en begeertes nie, maar oor God se etiek en wil.

Outeur: Dr Fanie Rudolph