Apokriewe Boeke

Apokriewe Boeke – Francois Tolmie

Sanet Cloete vra:

Ek is op soek na die apokriewe boeke van Henog en Jasher in Afrikaans. Kan julle my dalk help?. Is daar miskien ‘n webblad  waar ek dit kan aflaai of die boeke bestel?

Antwoord:

Prof. Francois Tolmie antwoord:

Ek het nog net van die apokriewe boek van Henog gehoor; nie van een met die naam Jasher nie. Ek het al vertalings van Henog in Afrikaans in boekwinkels gesien , maar het ongelukkig nie gegewens daaroor nie. Ek  betwyfel egter of die Afrikaanse vertaling uit die oorspronklike tale gedoen is. As ‘n mens ‘n akkurate vertaling wil hê, is dit dus ongelukkig net in Engels beskikbaar. Die vertaling van Charles is beskikbaar by http://wesley.nnu.edu/biblical_studies/noncanon/ot/pseudo/enoch.htm

Daar is ook ‘n nuwe Engelse vertaling beskikbaar, maar dit is waarskynlik baie duur: 1 Enoch : a new translation, based on the  Hermeneia commentary / George W. E. Nickelsburg

 

Outeur: Prof Francois Tolmie

 




Die armes in die Bybel

Die armes in die Bybel – Jan van der Watt

Ons het die volgende vraag ontvang:

Wie was die armes in die Bybelse tyd? Was die armes in die OT en NT, dieselfde mense wat vandag as arm beskou word? Tel boemelaars ook onder dié wat as arm beskou word?

Antwoord:

Prof. Jan van der Watt antwoord:

As ʼn mens oor armes in die Bybel praat, moet ʼn mens altyd na die konteks kyk waarin die verwysing na die armes voorkom. Die rede is omdat daar dikwels na letterlik arm mense verwys word, met ander woorde, mense wat nie geld het nie. Aan die ander kant word die woord ‘arm’ ook op ʼn figuurlike manier gebruik, byvoorbeeld ‘armes van gees’.

Die Bybel sê op baie plekke dat gelowiges vir armes moet sorg. Lees maar net die volgende gedeeltes: Jakobus 2:15-17: Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.’ of 1 Johannes 3:16-17: 16Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. 17Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie-hoe kan die liefde van God in hom wees?’ Die Bybel sê ook dat gelowiges sommer alle mense wat hulp nodig het, of die “underdogs” van die samelewing, moet help:  Jakobus 1:27: ‘Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.’

Daar is dus min twyfel dat gelowiges die plig het om vir armes te sorg, ook vir boemelaars. Daarvoor het die kerk verskillende meganismes op die been gebring, byvoorbeeld komitees soos die Diens van Barmhartigheid, of MES-aksies (middestadaksies), ens. Daar word dus op georganiseerde manier aan die probleem aandag gegee. So word seker gemaak dat die geld goed spandeer word.

Daar moet egter nog een opmerking gemaak word: is die armes dieselfde as vandag? In die antieke tyd was armoede baie verspreid. Daar word bereken dat 8 uit elke 10 mense nie genoeg geld verdien het om aan die lewe te bly nie. 90% van die rykdom het aan 2% van die bevolking behoort. Tog het die mense oorleef – hulle het families en groepe gevorm wat hulle geld saam gesit het en so vir mekaar gesorg het. Hierdie “families” het dus soos ons versekeringsmaatskappye gewerk.

Daar is tog verskille met vandag. Vandag is die situasie in baie samelewings anders – die regerings neem verantwoordelikheid om werk te verskaf en daar is versekeringsmaatskappye of pensioenmaatskappye wat help as iemand skielik sterf en sy familie nie geld het nie. Ons is ook vandag baie meer individueel, met ander woorde, elkeen vir homself. Dit laat ons besef dat as ons nie werk nie, gaan niemand vir ons sorg nie. Die verantwoordelikheidsgevoel om te werk is dus ook hoër as in die ou tyd. Daar word dikwels gevoel dat mense wat nie kos het nie of bedel – ten regte of ten onregte – wel die geleentheid het om te werk.

Omdat die situasies op verskillende plekke verskil, beteken dit nie dat die Christen nie meer die verantwoordelikheid het om vir die arme te sorg nie. Die vraag is egter hoe? Omdat daar so baie misbruik van goedheid is, bly dit maar altyd die beter uitweg om op georganiseerde manier (deur die kerk of ander organisasie) te probeer help of jou geld te kanaliseer. ʼn Ander goeie beginsel is om tuis te begin – as jy werkers het wat sukkel, help hulle, want daar kan jy ʼn verskil maak en kan jou getuienis tel.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Die Heilige Gees

Die Heilige Gees – Francois Malan

Chris vra:

Hoe werk die Heilige Gees en wat is die funksie van die Heilige Gees?

Antwoord:

Dr Francois Malan antwoord:

Die Heilige Gees is God, die Gees van God wat vir Christus en die verlossingswerk van Christus aan die kruis in ons harte bring en ons in gemeenskap met Christus laat lewe. Lees wat Johannes 16:5-11 sê van die werk van die Heilige Gees: Hy oortuig ons van sonde, geregtigheid en oordeel:

1.    Die Heilige Gees oortuig ons van ons sonde en roep ons tot berou daaroor – die vernaamste sonde is ongeloof in God se openbaring deur Christus, die verwerping van die evangelie, die goeie tyding oor Christus se verlossing vir ons. Die verwerping van God se liefdesdaad  (vergelyk  Johannes 3:16) beteken dat ek nie uit sy liefde wil lewe nie.

2.    Hy wys vir ons hoe om van ons sonde verlos te word deur te glo in Christus wat vir ons sonde gesterf het en deur God opgewek is uit die dood. Daarmee het God Christus se offer vir ons aanvaar. Die Heilige Gees lei ons om te glo dat my sonde vergewe is voor God en dat Hy my aangeneem het as sy kind (vergelyk Romeine 8:16).

3.    Die Heilige Gees oortuig ons van die oordeel van God wat aan die kruis voltrek is, dat die Satan daar oorwin is (vergelyk Johannes 12:31). Die Heilige Gees is die krag van God wat vir my die krag gee om nee te sê vir die versoekings van die Satan en van my eie hart.

Dit doen die Heilige Gees deur ons te bereik met die prediking van die Woord (in die kerk, deur die Bybel, deur die getuienis van mense, deur ons kennis van die Woord van God), beslag te lê op ons en ons in te lyf in die liggaam van Christus, sy kerk. As die Heilige Gees Christus aan ons preek, bring Hy Christus in ons harte en laat ons in Christus wees. Hy bewerk in ons die geloof in Christus (vergelyk Romeine 8:9-11). Maar in ons bly Hy God, die grote God voor wie ons slegs in dankbaarheid kan buig, die Here wat ons in alle waarheid lei (Johannes 16:13), ook in wat ons dink en beplan.

Hy lei ons om God lief te hê, en mekaar lief te hê. Deur Hom bly ons in God se liefde en God se liefde in ons (1 Johannes 4:11-16).

 

Outeur: Dr Francois Malan

 

 

 

 




Argeologie – Aspekte van die ekonomiese lewe (2)

Argeologie – Aspekte van die ekonomiese lewe (2) – Daan Pienaar

In hierdie gedeelte word na aspekte van handel gekyk. Daar word gelet op die verskillende metodes van betaal en die algemene produkte wat verhandel is.

1. Handel

Van vroeg af is daar tussen mense en volkere handel gedryf.  Die handel was gebaseer op ruilhandel sonder dat daar ʼn monetêre stelsel bestaan het.  Indien ʼn mens ʼn studie sou maak van die mate en gewigte, word dit duidelik dat mense gou hul toevlug tot verskillende metale geneem het om as ruilmiddel te dien.

Hierdie ruilmetale was koper, goud en veral silwer.  Die woord vir silwer, kesef, het gou ʼn dubbele betekenis gekry naamlik geld sowel as silwer.  Verskillende produkte is verhandel.  Naby die Middellanse Seekus van Turkye is ʼn paar jaar gelede ʼn skip uit die Bronstyd ontdek wat gelaai was met koper

 

e08

ʼn Koper gietsel uit Ulu Burun naby die Turkse kus

e09

ʼn Duiker met die koper in sy hande

 

Salomo het byvoorbeeld handel gedryf met allerlei produkte (1 Konings 5-7).  Salomo het selfs ook probeer handel dryf met Afrika (1 Konings 9:26-28).  Sy uitgebreide handelsbetrekkinge word duidelik beskryf (vergelyk ook 1 Konings 10).  Van sy interessante invoerprodukte word ook vermeld, soos goud, silwer, ivoor, ape en poue (1 Konings 10:22).  Die skepe is na Tarsis gestuur daarvoor (moontlik Tarsisskepe wat bedoel is vir ʼn bepaalde soort vrag?).

 

e10

ʼn Kaart van die handelsroetes waarlangs karavane gereis het.

Uit die Ou en Nuwe Testament kan ons aflei waarin daar handel gedryf is.  Paulus is byvoorbeeld met ʼn vragskip na Rome vertrek (Handelinge 27).  In die hawe van Sesarea is daar onder andere vragskepe gevind wat byvoorbeeld wyn vervoer het.  In Jerusalem is daar verskeie wynkruik handvatsels gevind wat aandui dat wyn uit Rhodos in Griekeland ingevoer is.

 

 

e11

 

Afbeelding van ʼn antieke skip.

 

Outeur: Prof Daan Pienaar