Grafte en begrafnisgebruike (1) – Daan Pienaar
Die grafte en begrafnisgebruike soos ons dit in die Ou Testament kry, word bespreek. Ons let veral op die grafte wat gebruik is, die wette wat alles gereël het en rougebruike.
Die Ou Testament
Die Aartsvaders
Dit was gebruiklik dat opvolgende geslagte in die familiegraf begrawe is. Die graf was gewoonlik uit rots gekap of was in ʼn grot. ʼn Voorbeeld hiervan is die graf van die Aartsvaders waarin Sara (Genesis 23:19), Abraham (Genesis 25:9), Isak, Rebekka en Lea (Genesis 49:31) begrawe is. Indien iemand ver van die familiegraf af sterf, word die persoon dan in ʼn ander graf begrawe, soos Ragel (Genesis 35:8).
Afgesien van die gebruiklike ween en rou word die klere geskeur en ʼn kleed van sak aangetrek (Genesis 37:34-35) en dit het so lank as sewe dae geduur (Genesis 50:10). Die balseming van die lyk (Jakob en Josef) en die gebruik van ʼn hout kis volgens Egiptiese gebruik, was uitsonderlik (Genesis 50:2-3, 26).
Mummifisering is gedoen deur die verwydering van die ingewande om apart bewaar te word. Volgens die Egiptiese gebruik is dit in ʼn sogenaamde “kanope” bewaar. Die liggaam is dan verpak in sout en daarna toegedraai in linne. Balseming en rou is gewoonlik dan oor ʼn tydperk van 70 dae gedoen.
Pentateugwette
Afgestorwenes moes so gou as moontlik begrawe word. Dit sluit die lyke van tereggesteldes in (Deuteronomium 21:22-23). Aanraking van die afgestorwene het meegebring dat die persoon seremonieel onrein was.
Om iemand te beween, die skeur van die klere en die losmaak van die hare was toegelaat vir die Aäronitiese priesters (Levitikus 21:1-4), maar nie vir die hoëpriester nie (Levitikus 21:10-11) of die Nasireërs nie (Numeri 6:7).
Dit was verbode om die liggaam te skend deur insnydings ens. as teken van rou (Levitikus 19: 27-28; Deuteronomium 14:1, gewone mense en Levitikus 21:5 die priesters). Selfs verwante gebruike soos uiteengesit in die aangehaalde gedeeltes was verbode aangesien dit gesien is as heidens.
Israel in Palestina
Begrafnis: Indien moontlik is mense in familiegrafte begrawe (vergelyk Rigters 8:32 en 16:31). Die liggaam was op ʼn baar geplaas (2 Samuel 3:31). Indien daar geen behoorlike begrafnis was nie, is dit as baie negatief ervaar (1 Konings 13:22; Jeremia 16:6).
Grafte was gewoonlik buite die stad. Daar is getuienis dat grafte soms uit rots gekap is en dat dit uit verkillende vertrekke bestaan het met banke wat met ʼn dalende skag bereik is en afgesluit is met ʼn rots wat so gesny is dat dit oor die ingang geplaas kon word. Die rotsgrafte kon soms baie weelderig wees (Jesaja 22:15-16). Pottebakkersware en ander voorwerpe is soms in die grafte geplaas. By die Israeliete was dit bloot ʼn soort formaliteit, maar by die Kananiete het dit ʼn ander rol gespeel omdat dit soms groot afmetinge aangeneem het. By die Egiptenare was dit ook so, vergelyk die graf van Tutankamen.
Herdenkingsgrafte is soms opgerig (2 Samuel 18:18) en buite Jerusalem was daar ʼn stuk grond vir die grafte vir die “gewone mense” (2 Konings 23:6; Jeremia 26:23). Ongetwyfeld was dit bedoel vir die eenvoudiges wat nie duur grafte kon bekostig nie. ‘n Tereggestelde misdadiger of vyand se graf is soms aangedui met ʼn hoop klippe (Vergelyk Akan Josua 18:27).
Lykverbranding was nie gangbare praktyk is Israel nie, maar onder moeilike omstandighede is dit wel toegepas. Byvoorbeeld as iemand nie in die familiegraf begrawe kon word nie (2 Samuel 31:12-13 Saul en sy seuns).
2. Rougebruike
In Palestina is die volgende toegepas:
1. Die hoof is kaal geskeer en die baard is geknip.
2. Die liggaam is gekerf.
3. Die klere is geskeur en ‘n sakkleed is aangetrek.
4. Stof of as is op die hoof gestrooi.
5. Ween en weeklaag.
Hoe die Israeliete rou bedryf het kan gesien word in die verhale van Dawid (2 Samuel 1-11-12; 13:31) en die vrou van Tekoa (2 Samuel 14:2).
Die dood van prominente persone het soms gepaard gegaan met ʼn poëtiese weeklag. So het Dawid geweeklaag oor Saul en Jonatan (2 Samuel 1:17-27) en Jeremia en andere oor Josia (2 Kronieke 35:25).
Soms is professionele klaers gehuur (Jeremia 9:17-18; Amos 5:16).
Outeur: Prof Daan Pienaar