Word Christene dan geoordeel? Hoe verstaan ons Hebreërs 10:26-31 en 32-39?

Word Christene dan geoordeel? Hoe verstaan ons Hebreërs 10:26-31 en 32-39? – Kobus Kok

Christo Fourie vra:

Hebreërs: Ek het n paar vrae: 2) Verstaan glad nie Hebreërs 10: 26 tot 38, WANT AS ONS GERED IS HOEKOM DIE VEROORDELING ? 

Dr. Kobus Kok antwoord:

Word Christene dan geoordeel? Hoe verstaan ons Hebreërs 10:26-31 en 32-39?

Die woorde van Hebreërs 10:26-31 maak sekere gelowiges bekommerd:

26Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. 27Daar bly alleen ‘n verskriklike verwagting oor van oordeel en ‘n gloeiende vuur wat die teenstanders van God sal verteer. 28As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak. 29Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het? 30Ons weet tog wie Hy is wat gesê het: “Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld;” b

en verder: Die Here sal oor sy volk oordeel.” c 31Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.

Die sterk uitsprake in Hebreërs 10:26-31 moet verstaan word teen die agtergrond van die situasie waarin die gemeenskap verkeer het, waar sommiges in ‘n sekere sin hulle eerste liefde verlaat het en weer terug geval het in hulle ou gewoontes en met hulle ganse lewe doelbewus opsetlik teen God gekies het. Dit sien ons onder andere duidelik in Hebreërs 6:4-8:

4Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, 5die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het 6en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot ‘n bespotting. 7Dit is soos met grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val. As dit bruikbare gewasse voortbring vir dié wat dit bewerk, word dit deur God geseën. 8Maar as dit doringstruike en dissels oplewer, is dit waardeloos en is die tyd naby dat God dit vervloek. Die uiteinde daarvan is die vuur.

Die belangrike om hier raak te sien, is dat daar met ander woorde in die gemeenskap van Hebreërs diegene was wat afvallig van die geloof geword het. In hulle lewe het hulle dorings en dissels opgelewer al het God met al sy waters van seën oor hulle lewe gespoel. Dit herinner aan dit wat ons in 1 Johannes lees as sonde teen die Heilige Gees, naamlik wanneer ek en jy opsetlik met ons ganse lewenshouding wys dat ons eintlik teen God gekies het. Sulke mense, sê die Hebreër skrywer, is so bietjie in die moeilikheid.

Maar dan sien ons sommer in die volgende vers (Hebreërs 6:9) die troostende woorde aan die wat in hulle harte regtig lief is vir die Here:

9Maar, geliefdes, al praat ons in hierdie trant, is ons oor julle oortuig van beter: dat julle gered sal word. 10God is nie onregverdig nie: Hy sal julle werk nie vergeet nie en ook nie die liefde wat julle vir sy Naam betoon het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en nog dien nie. 11Dit is ons vurige wens dat elkeen van julle end-uit dieselfde ywer as vroeër aan die dag sal lê totdat die dinge waarop julle hoop, vervul is. 12Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.

Daarom Christo, kan jy maar weet dat net soos jou naam van die Griekse woord Chrisma kom wat “gesalfde” beteken, dat God aan jou kant is omdat jy aan hom behoort. Eintlik kan ons maar vir mekaar sê dat indien ons aan Hom behoort, en met ons hele wese Hom dien, ons nooit, ooit veroordeel sal word nie. Inteendeel, deur geloof, geduld en volharding sal ons deel kry aan al die dinge wat God beloof het. Weet daarom dat daar in Christus geen veroordeling meer is nie, want mense wat aan God behoort het immers die reg ontvang om kinders van God genoem te word (Johannes 1:12). 

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Wie het Hebreërs geskryf? Inderdaad ‘n Komplekse saak!

Wie het Hebreërs geskryf? Inderdaad ‘n Komplekse saak! – Kobus Kok

Christo Fourie vra:

Hebreërs: Ek het n paar vrae: 1) Is deur wie geskryf ? (die boek Hebreërs)

Outeurskapsvraag

Van die vroegste tye in die kerk se geskiedenis was mense onseker oor wie die skrywer van Hebreërs was, aangesien die teks self nie ‘n eksplisiete aanduiding gee nie. Eusebius van Sesarea (263-339 n.C.), die groot kerkvader wat oor die geskiedenis van die kerk geskryf het, het byvoorbeeld in sy geskrif Historia Ecclesiastica. VI 25:11 opgemerk: “Wie hierdie brief geskryf het, weet God alleen.” Tog is daar deur die geskiedenis heen in die navorsing daarvan vele moontlike outeurs  voorgestel.

Om die outeurskapsvraag te beantwoord kyk ons allereers na die teks self, wat soos ons reeds gesê het, geen eksplisiete aanduiding gee van wie die skrywer is nie. Indien mens wel inhoudelik soos ‘n speurder gaan kyk na “clues”, sien mens sommer vinnig in Hebreërs 13:23 die naam van Timoteus. Ons weet vandag dat Timoteus die jongman was wat saam met Paulus gereis het. Dit het sommiges daartoe gelei om tot die gevolgtrekking te kom dat Hebreërs uit die kring van Paulus kon ontstaan en selfs deur Paulus geskryf kon gewees het. Ander geleerdes het selfs so ver gegaan om te argumenteer dat Apollos, Barnabas, Lukas, Stephanus, Timoteus en selfs Clemens van Aleksandrië (150-215 n.C.) die skrywers van die teks kon wees.

In die tweede plek sal die navorsers kyk hoe die vroeë kerk oor die outeurskap gedink het, omdat hulle uit die aard van die saak nader aan die historiese gebeure was. Volgens ‘n baie ou tradisie wat uit ongeveer 200 nC. dateer, was Paulus as die skrywer van Hebreërs geïdentifiseer en is die brief in die Corpus Paulinum (P46) en by Clement van Aleksandrië ingesluit. Clement het gedink dat die brief oorspronklik deur Paulus in Hebreeus vir die Jode geskryf was, en dat Lukas dit later in Grieks vir die Grieke gepubliseer het. Teen die derde eeu het die Griekse en Siriese kerke Hebreërs as ‘n Pauliniese geskrif beskou, maar in die Weste het dit nie gebeur tot goed in die vierde eeu nie.

In die tyd van die Reformasie het Luther (asook Calvyn, Melanchthon en Beza) sy bedenkinge gehad rondom Paulus as die outeur, maar uiteindelik het die Protestantse kerk teen die einde van die sestiende eeu Pauliniese outeurskap aanvaar. Tot so onlangs as 1914 was daar nog steeds gesprekke daaroor, soos gesien kan word uit die “Pouslike Bybelse Kommissie” se voorstel dat Hebreërs as ‘n egte Pauliniese brief beskou kan word, en vandag aanvaar die meeste Katolieke kringe dat dit minstens deur ‘n dissipel van Paulus geskryf moes gewees het. Hierdie idee is egter niks nuuts nie, aangesien Origenes (185-254 n.C.) alreeds dit so gesien het (vgl. Eusebius in op.cit. VI 25:11ff).

Indien mens na die taal en styl van Hebreërs kyk, sal sommiges vir en ander teen Pauliniese outeurskap argumenteer. Argumente teen Pauliniese outeurskap is dat Hebreërs in ‘n baie goeie literêre Grieks geskryf is wat nie tipies van Paulus se geskrifte is nie. Verder is dit baie ongewoon dat ‘n brief van Paulus anoniem geskryf word. In die derde plek wil dit vir ons lyk of Hebreërs 2:2 dit duidelik stel dat die skrywer minstens uit die tweede geslag Christene kom, wat nie vir Paulus sou geld nie. Inteendeel, Paulus maak baie daarvan dat hy persoonlik met die verrese Jesus in kontak gekom het. Die laaste argument wat teen Pauliniese outeurskap gemaak word is dat Paulus se teologie anders lyk as die van Hebreërs. Paulus beklemtoon die opstanding van Jesus, Hebreërs aan die ander kant maak weer baie van die verheerliking en verhoging van Jesus. Meer belangrik is die feit dat Hebreërs se siening van Jesus as Hoëpriester totaal vreemd is aan Paulus se ander geskrifte.

Die gevolg hiervan is dat die meeste geleerdes vandag nie seker is wie presies Hebreërs geskryf het nie, maar dat hulle redelik oortuig is van die feit dat dit nie Paulus was nie. Steeds bly Hebreërs ‘n besondere boek en is dit ‘n geliefde boek, en ‘n belangrike boek wat ons geloof nie net van die begin af nie, maar tot op die laaste dag van ons lewe sal bly vorm.

Lees dalk self Hebreërs van die begin tot die einde deur en lees dan ‘n brief of twee van Paulus en kyk of jy die teologiese verskille kan raaksien. Indien ek Hebreërs saam met Paulus lees, is die prentjie wat ek kry dat dit raakpunte en verskilpunte het, maar sodoende kry Hebreërs ook sy/haar eie stem en waardeer ons die boek soveel te meer. 

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 




Duiweluitdrywing en – bevryding – Vraag

Duiweluitdrywing en – bevryding – Jan van der Watt

Vraag:

Erika het aan ons heelparty dokumente gestuur oor duiweluitdrywing en bevryding. Haar spesifieke vraag gaan oor ‘bevryding’ van bose geeste en verder die maniere waarop dit gedoen word en hoe daar gereageer word (mense val neer, of krul op die grond, ens.). 

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Erika noem dat sy die artikel oor ‘duiwelbesetenheid’ op www.bybelkennis.co.za gelees het. Wat daar gesê is, gaan nie weer hier herhaal word nie. Ons moet tog die volgende in gedagte hou:

a)    Christene kan nie deur bose geeste in besit geneem word nie – hulle kan nie in Christene woon nie, want dit is die Heilige Gees se plek. Die Gees deel nie sy ‘huis’ met ʼn bose gees nie. Dit beteken dat die gedagte dat bose geeste uit GELOWIGES uitgedryf kan word, nie Bybels of teologies reg is nie.

b)    Gelowiges kan wel in die strikke van die duiwel land. Die duiwel is listig en soos ʼn wolf in skaapsklere verlei hy mense en laat hulle in sy strikke val. Dit beteken nie hulle is van binne deur die duiwel besete nie, maar dat die duiwel hulle van buite in ʼn strik lok. Sonde raak hulle baas, sou ʼn mens kon sê. In sulke gevalle kan gebed en handoplegging as teken dien dat die gemeenskap van gelowiges die persoon wat in sonde vasgevang is, wil help. Dit mag ʼn positiewe ervaring vir die persoon wees, om te besef dat daar ʼn pad van oorwinning oor die sonde is.

c)    Ons moet oppas vir suggestie, met ander woorde, dat iemand vir my sê dat ek ʼn demoon het, en later glo ek die persoon en dink ek ook dat wat ek voel of ervaar van ʼn demoon af kom. Dan sal ek ook maklik dat iemand die ‘demoon’ uit my uitdryf.  Intussen mag daar heeltemal ʼn ander rede wees waarom ek voel soos ek voel. Waar die moderne wetenskap ons vandag help, is om dinge wat party mense sommer aan demone toeskryf, in die regte perspektief te plaas en te wys dat daar mediese redes voor is. Ons moet dus versigtig wees voordat ons mense glo wat sommer sê dat hulle ʼn klomp demone uit ons wil jaag, veral as ons gelowig is. ʼn Goue les hier is, wees liewer te swaargelowig as te liggelowig in hierdie geval. 

d)    Bose geeste kan egter wel in mense wat nie glo nie, inkom en hulle in besit neem. Die Bybel vertel vir ons van die duiwel wat rondswerf en dan in ʼn leë huis (waar God en sy Gees nie is nie) gaan bly.

Dit bring ons by die tweede faset van Erika se vraag. Hoe word dit gedoen? Nie alle kerke dryf demone uit nie. Daar is wel sekere Christelike groepe wat baie maak van demoonuitdrywing. Soos bo gesê, kan daar demone uit ongelowiges uitgedryf word, maar as dit by gelowiges kom, is dit anders. ʼn Mens moet egter versigtig wees vir een ding wat maklik kan gebeur: dat die duiweluitdrywings ʼn vertoning word waarop geloof dan gebou word, met ander woorde, kyk ons dryf duiwels uit en daarom kan julle ons maar glo, want God se krag is by ons (en daarmee implisiet nie by ander nie). Die Bybel is baie teen ander rotse, behalwe die Rots van Jesus, waarop ons ons geloof wil bou. Duiweluitdrywings word soms deur groepe gebruik om te wys dat hulle krag het en dat die Here deur hulle werk. Sodra dit die onderliggende dryfveer van die proses word, moet die rooi ligte aangaan. Hoewel ʼn mens ook nie mag veralgemeen nie, is dit tog belangrik om net te noem dat groepsdruk, suggestie en selfs hipnose mense soms snaakse dinge kan laat doen.

Outeur: Prof Jan van der Watt




Die Verhouding Geloof en Verstand(2) – Bybelse Basis Van Ons “Redelike Geloof”

Die Verhouding Geloof en Verstand(2) – Bybelse Basis Van Ons “Redelike Geloof” – Hermie van Zyl

Die uitgangspunt waarmee ek werk, is dié van die eerste en groot gebod: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand, en al jou krag.” Nie net die hart nie, maar ook die verstand behoort aan God. Wanneer ons dus met geloofsoë na die wêreld kyk, is jou verstand/rede deel daarvan. 

Hierdie uitgangspunt van redelikheid en geloof wat hand en hand loop, is ingebed in Bybelse insigte, en soos volg te beredeneer:

Die Wysheidsliteratuur in die Ou Testament (Psalms, Spreuke, Prediker) is versamelde oud-Oosterse wysheid. Dit handel oor die praktiese lewenskuns, oor alledaagse getoetsde ervaring. En die merkwaardige is dat dit in dieselfde Bybel voorkom as sogenaamde bo-natuurlike kennis, soos die 10 gebooie (deur God gegee by Sinai), en die reddings- of wonderdade van God. Dit dui die redelikheid van Bybelse geloof aan. Daar is geen teenstrydigheid tussen algemene kennis en Godskennis nie.

Paulus (Nuwe Testament) maak ook gebruik van die algemene wysheid van sy tyd. Die sogenaamde deugde- en ondeuglyste wat by die moraalfilosowe van die Griekse wêreld voorgekom het, word in Galasiërs 5:19-21,22-23 deur Paulus aangewend as Godskennis: die praktyke van die sondige natuur (onsedelikheid, onreinheid, eens) teenoor die vrug van die Gees (liefde, vreugde, geduld, eens). Wat Paulus hier aanmerk as slegte praktyke en vrug van die Gees, het reeds wye erkenning geniet by die destydse nie-Christelike denkers. Hierdie opvattings het dus ‘n redelike basis. Dit is meer as slegs esoteriese openbaringskennis net vir gelowiges bedoel.

Die Hebreërboek giet die Ou-Testamentiese offerkultus, wat besig was om van die toneel te verdwyn, in nuwe denkkategorieë wat vir denkende Griekse gelowiges verstaanbaar sou wees. Byvoorbeeld, dit stel Jesus voor as ‘n hemelse hoëpriester wat die allerheiligste van die hemelse tempel ingegaan het.

Bostaande belig die organiese karakter van hoe God sy spesiale kennis geopenbaar en in Bybel laat opteken het. Die insigte kom van God, maar is deur gewone menslike denkprosesse oorgelewer. Dit het soms lank gevat vir Goddelike insigte om deur te breek. Neem byvoorbeeld die geloof aan die opstanding van die dooies. Mens vind omtrent niks hiervan in die Ou Testament nie. Deur Israel se ervaring van die lewende God ontstaan egter die gedagte dat mens nie verdwyn na jou dood nie, maar in ewige gemeenskap met God lewe. Binne Israel heers daar egter nog lank ‘n stryd hieroor. In Nuwe-Testamentiese tye was die Sadduseërs en die Fariseërs nog haaks hieroor. Dis eers met Jesus se opstanding dat die volle werklikheid hieroor vir gelowiges deurbreek. Daarna word dit deur betroubare getuies oorgelewer (1 Korintiërs 15:3-8) en word dit deel van ons Christelike geloof. Dus, ‘n kernwaarheid van die Christendom dra die karakter van betroubaarheid (verifikasie deur ooggetuies), toetsing en langdurige bespreking.

Daar is ook kontrole in geloofswaarhede deurdat dit altyd deur die geloofsgemeenskap getoets word. Geloofsinhoud is dus nie maar bloot insidentele en persoonlike opinies nie. Byvoorbeeld, volgens 1 Korintiërs 14:29 moes profete mekaar se uitsprake oor en weer beoordeel of dit werklik van God kom. En in Lukas 1:1-4 lees ons van uitgebreide navorsing wat gedoen is.

Inderdaad die Bybel is Gods woord in mensetaal. Oor tyd heen is hierdie kennis oorgelewer, deur die geloofsgemeenskap getoets, en het dit deel van die Bybelse tradisie geword. Geloof en redelikheid gaan hand aan hand. En dit maak van die Christendom ‘n redelike godsdiens. Dit is nie onlogies en onredelik om in God te glo nie.

Samevatting: Daar is ‘n merkwaardige ooreenkoms tussen Bybelse getuienis en wetenskap. Dit is nie so dat net die wetenskap met getoetsde gegewens werk en die Bybel met ‘n ander soort kennis – kennis wat net van God kom en dus nie getoets kan word nie. Dis ‘n halwe waarheid. In die Bybel kry ons weliswaar openbaringskennis . Maar die wyse waarop hierdie kennis opgeteken is, is ook die neerslag van eeue se getoetsde tradisies. Dis nie bloot insidentele, persoonlike opinies nie. Oor geslagte heen het dit deel geword van mense se werklikheidsbelewing. Daarom daag dit ons uit om dit ook op redelike gronde te aanvaar as ‘n getroue weergawe van wat ons van God kan ken. Net soos wat daar algemene erkenning is vir wetenskaplike insigte wat oor tyd heen deel geword het van ons algemene kennis, behoort daar ook groter erkenning te wees vir die tyd-getoetste Bybelse insigte.

Natuurlik, as ons sê Bybelse geloofswaarhede is redelik, is dit nie die soort logika wat ons in ‘n wiskundesom aantref nie. Mens moet dit nog steeds glo, daardeur oortuig word, dit jou eie maak. Maar as jy dit glo, begin jy verstaan dat dit redelik is om so te glo en te leef. 

 

Outeur: Prof Hermie van Zyl