Die Wegraping – Waar het dit begin? – Vraag

Die Wegraping – Waar het dit begin? – Dirk Venter

Theo Visser vra:

Ek lees die artikels oor die Wegraping met groot belangstelling . Dit bevestig wat ek ook glo . Wat ek graag sal wil weet, is waar het die leerstelling van die Wegraping begin het ? Dit was sover ek kan agterkom nie ‘n leerstelling in die vroeë kerk nie, maar het nie baie jare gelede posgevat nie . Is dit korrek om hierdie afleiding te maak.

Antwoord:

Dirk Venter antwoord:

Daar word soms wel gesê (deur voorstanders van die wegrapingsidee) dat die vroeë kerk geglo het in ʼn wegraping van gelowiges voor die aanbreek van die groot verdrukking (bedelings-premillenium interpretasie).  Gevolglik, sê Hal Lindsey byvoorbeeld, was dit eers vanaf die kerkvaders Klemens en Origenes, en veral na Augustinus, nie meer die algemene verwagting in die kerk nie.  Die probleem hiermee is egter dat betroubare getuienis van so ʼn verwagting in die vroeë kerk eenvoudig ontbreek.  (Selfs Dr John F. Walvoord, een van die belangrikste twintigste eeuse voorstanders van die “voor-verdrukking” wegraping, gee in sy boek “The Rapture question” toe dat die kerkvaders geglo het in die wederkoms na die groot verdrukking; p.137 e.a.).  Daar is wel een aanhaling uit ʼn preek (wat waarskynlik verkeerdelik aan die vierde eeuse kerkvader, Efraim van Sirië, toegeskryf word), wat deur sommiges beskou word as ʼn verwysing na die wegraping.  Baie ander interpreteer hierdie aanhaling egter anders, onder meer omdat daarin geen verwysing is na ʼn ontmoeting met Christus tussen hemel en aarde nie (hoewel die skrywer wel van mening was dat Christus die kerk van die toneel af gaan verwyder voor die groot verdrukking).  Buiten die dubbelsinnigheid van die aanhaling self, is daar nog die probleme van die ware outeur en datering daarvan.  Gevolglik kan hierdie enkele omstrede aanhaling nie as betroubare getuienis van so ʼn verwagting in die vroeë kerk beskou word nie.  By die gebrek aan betroubare getuienis om dit te bevestig, is dit spekulatief en onverantwoordelik om so ʼn leerstelling terug te lees in die vroeë kerk se geloof (teologie) in, en baie meer logies om af te lei dat die wegraping nie ʼn leerstelling van die vroeë kerk (of kerkvaders) was nie.

 

Wanneer het die idee van die wegraping dan wel te voorskyn gekom?  Dit wil voorkom asof die eerste gedokumenteerde verwysing na die wegraping (“rapture“) as konsep, in 1738 was, in ʼn kommentaar op die Nuwe Testament deur Philip Dodridge.  Daarna was daar van tyd tot tyd publikasies wat die idee gehuldig het, soos byvoorbeeld die visioen van Margaret MacDonald (ʼn 15 jarige Skotse meisie), in 1840 (eerste uitgawe).  Die idee het egter eers sedert 1878 noemenswaardig begin veld wen, ondermeer vanweë die Bible Conference Movement (onder leiding van die Brethren Movement / Plymouth Brethren, wat voorstanders van die bedelings-premillenium interpretasie van die wederkoms was, ʼn arm van die sg. “dispensationalism“).  Konferensies is gereeld aangebied, en die idee van die wegraping (binne die groter skema van die verskillende “dispensations” / bedelings) het sodoende al meer populêr begin word in ʼn aantal belangrike denominasies in die VSA.  Die baie gewilde Scofield Reference Bible (CI Scofield; 1909, 1919, 1967) het ook hiertoe bygedra.

 

In die tweede helfte van die twintigste eeu het publikasies van ondermeer Dr John F. Walvoord (Dallas Theological Seminary) en J. Dwight Pentecost in die vyftigerjare, Hal Lindsey in die sewentigerjare, en (sedert die middel negentigs) die Left Behind-reeks van Tim La Haye en Jerry B. Jenkins, waarvan almal honderde duisende (tot selfs miljoene) kopieë verkoop het, die idee toenemend populêr gemaak.  Terwyl dit vantevore ʼn eienskap van hoofsaaklik die Amerikaanse teologiese landskap was, het hierdie baie suksesvolle publikasies meegebring dat die idee van die wegraping vandag ʼn internasionale verskynsel is. 

 

Outeur: Ds Dirk Venter

 




Jesus en gebed

Jesus en gebed – Fanie Rudolph

Inleiding:

Wat het Jesus te sê gehad oor gebed?  Watter praktiese riglyne kan ons vanuit die lewe van Jesus uit die Bybel kry oor gebed?  Hoe kan ons gebed sinvol, en Bybels, inrig?

Jesus oor gebed:

Jesus het vir sy dissipels ‘n modelgebed gegee (Matteus. 6:9-13).  Volgens Lukas het sy dissipels hiervoor gevra nadat hulle Jesus self gesien bid het (Lukas 11:1).  In hierdie pragtige gebed kry ons die geleentheid om God aan te roep en te loof (Matteus 6:9), onsself onder sy beheer te stel terwyl ons erken dat Hy oor alles gesag het (Matteus 6:10), ons kan ons daaglikse behoeftes voor sy voete kom neerlê (Matteus 6:11), ons kan ons berou en belydenis oor sonde aan Hom doen (Matteus 6:12) en bid dat Hy ons bewaar daarteen om weer terug te val, dit is, sy beskerming oor ons lewe (Matteus 6:13).  Verder het Jesus sy dissipels daarop gewys dat gebed nie ‘n spogsessie is nie (Matteus 6:5-8).  God word nie beïndruk deur ons taalgebruik nie, maar deur ons opregtheid.  Hy word ook nie beïndruk deur ons goeie gebedstaal of -houding of ons vrymoedigheid om voor ander mense te bid nie (Lukas 18:9-13).  Gebed is binnekamertyd (Matteus 6:6).  Dit is tyd tussen my en God, die detail waarvan niemand hoef te weet nie.  God weet, en Hy ken my gesindheid (Matteus 6:6b).  Dit is wat die verskil maak. 

Jesus het ook by ‘n hele paar geleenthede dit duidelik gemaak dat ons mag (en moet) bid sonder ophou (Matteus 7:7-12; Lukas 11:5-13; 18:8).  Ander gebedsriglyne wat Jesus gee, is:

  •          Ons moet bid vir ons vyande, in plaas van om hulle dood te wens (Matteus 5:44; Markus 11:25).  Soos Jesus vir sy vyande aan die kruis gebid het, moet ons bid vir ons vyande (Lukas 23:34).  So vertoon ons onsself anders as die wêreld. 
  •          Wanneer ons gelowig bid, sal die Vader ook ons gebed verhoor (Matteus 21:22; Markus 11:22-24).  Dit lyk dalk of minder gelowige (ongelowige) gebede nie verhoor sal word nie.  Tog weet ons die man aan die kruis se (twyfelende) gebed is met groot sekerheid deur Jesus beantwoord (Lukas 23:42-43).
  •          Ons gebede moet nie selfsugtig wees nie, maar gerig wees op die verheerliking van die Naam van God (Johannes 14:13-14).  Ons kan nie net ons gerief-lysie voor die voete van God lê en dan antwoorde verwag nie.  Gelowig bid gaan oor sake van die geloof en verlossing. 
  •          Dit is ook belangrik dat gelowiges die eindtyd biddend ingaan.  Dit is slegs deur die krag van God (waarvoor gebid moet word) dat gelowiges die swaar tye sal kan hanteer (Lukas 21:36).

Jesus en gebed:

Die evangelies beskryf talle geleenthede waar Jesus self besig is om te bid.  Ons lees meestal dat Jesus Homself afgesonder het in gebed (Matteus 14:23; Markus 1:35; 6:46; Lukas 5:16).  Hierdie geleenthede bevestig dat stil tye in die binnekamer vir Jesus baie belangrik was.  Dit is ook insiggewend dat hierdie stil tye telkens kom na ‘n baie besige dag, asof Jesus weet sy energie is getap en Hy het die Vader se krag nodig.  Jesus bevestig ook hiermee hoe belangrik dit vir Hom is om sy taak op aarde in noue kontak met sy Vader aan te pak.  Met die verheerliking op die berg het Jesus vir Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem die berg op om alleen te gaan bid (Lukas 9:28vv). 

Jesus het egter ook in die openbaar gebid.  Trouens, in Matteus 11:25-26 praat Hy in gebed met sy Vader terwyl Hy eintlik besig is om sy dissipels te leer.  Hierdie openbare gebede van Jesus was vol lof vir God, vir Wie Hy is en vir wat Hy gedoen het.  Die bekendste “openbare gebed” van Jesus is wanneer Hy hardop vir sy dissipels bid in Johannes 17.  Met hierdie pragtige gebed (bekend as die hoëpriesterlike gebed) dra Jesus sy dissipels en hulle toekoms in die Hand van God oor.  Hy bid vir hulle werk, hulle behoeftes, die bekeerlinge wat sou volg, en dat elkeen in sy heerlikheid mag deel.  Hierdie gebed begin ook met ‘n lofprysing wat God se grootheid en almagtige beskikking besing (Johannes 17:1-5).

Aangrypend is Jesus se gebede aan die kruis.  Hy het self die voorbeeld gestel deur self sy vyande te vergeef (Lukas 23:34).  En dan was daar die pynlike gebed van Godverlatenheid wat Hy uitgeroep het (Matteus 27:46).  Daarmee het Hy die Godverlatenheid van menige gelowige deur die eeue verwoord.

Samevatting:

Ons sien dat gebed ‘n integrale deel van Jesus se lewe was.  Hy het hierdie kontak met sy Vader gekoester en gereeld opgesoek.  Hy het ook moeite gedoen om sy dissipels te leer waaroor gebed gaan.  Deur sy voorbeeld moet hulle (en ons) dieselfde passie vir gebed ontwikkel 

 

Outeur: Dr Fanie Rudolph

 




God regeer en God red – die sentrale boodskap van Openbaring 4 en 5

God regeer en God red – die sentrale boodskap van Openbaring 4 en 5 – Fanie Rudolph

Inleiding:

Openbaring 4 en 5 is ‘n sentrale gedeelte in die Boek Openbaring.  Die boodskap van hierdie kernhoofstukke bepaal die oorkoepelende boodskap na vorentoe en agtertoe in Openbaring.  Die kern van hierdie hoofstukke is: die God wat skep, is die God wat regeer, is die God wat red, is die God wat die geskiedenis beheer.

Die God wat skep, is die God wat regeer (Openb. 4):

Die beeld van God wat Johannes in Openbaring 4 sien, is dié van God se almag en heerskappy.  God word gereeld in Openbaring beskryf as Iemand wat sit (vgl. vers 3).  Dié benaming wil God se totale beheer beklemtoon.  Hy is só in beheer dat Hy nie nodig het om ‘n vinger te verroer om te regeer nie.  Alles gebeur rondom Hom terwyl Hy net kan sit.  Sy grootheid word verder beklemtoon deurdat almal rondom Hom voortdurend voor Hom neerval in aanbidding (vgl. vers 8-11).  Die ganse skepping besing sy heiligheid, sy skeppingsmag, en sy ewige heerskappy.  Alles en almal in die troonsaal oorweldig die leser met die grootheid en heiligheid van God.  Elke ding wat Johannes sien, elke aksie wat plaasvind, roep God se heerskappy en skeppingsmag uit.  Sy grootheid skitter so geweldig dat ‘n mens dit amper nie kan beskryf nie (vers 3).  Meer nog: die reënboog rondom sy kop herinner aan Noag en beklemtoon sy getrouheid aan sy verbond.  Hierdie onmeetbare groot God is getrou aan dit wat Hy in die verlede belowe het. 

God is in beheer.  Ongeag wat gelowiges in Klein-Asië beleef in hulle moeilike omstandighede, Johannes kry die bevestiging, en gee dit deur, dat God steeds die Koning is.  Nie een oomblik word sy heilige, almagtige regeerskap geraak deur die wêreld se swak regeerskap nie.  Sy Koningskap wankel nie vanweë die storms wat in die wêreld woed nie.  God bly altyd in beheer, want God is (vgl. Eks. 3:14).

God red en beheer die geskiedenis (Openb. 5):

Openbaring 5 bou voort op die boodskap van Openbaring 4.  Johannes sien steeds vir God wat op die troon sit, met ‘n boekrol in die hand.  Hierdie boekrol bevat die geskiedenis van die wêreld tot met die wederkoms.  Dat die boekrol in God se Hand is, bevestig dat Hy die geskiedenis beheer.  Let wel: dit is nie ‘n deterministiese beheer wat menslike besluite uitsluit nie.  In Openbaring 6:1-8 lees ons van talle geskiedenis-gebeure wat beslis nie in lyn met God se wil is nie.  Tog bly God in beheer ten spyte van hierdie gebeure. 

Die krisis vir die mense in Openbaring 5 is die soeke na ‘n Verlosser wat in staat is om in die geskiedenis in te gryp, ten spyte van wat gebeur.  Die een wat na vore kan tree, moet waardig genoeg wees in die oë van God om die boekrol te kan neem, i.e. hy moet volmaak wees.  Net wanneer Johannes van moedeloosheid wil huil omdat niemand gevind is nie, word sy aandag gevestig op die Lam van God (vers 5-6).  Hy kan wel red.  Hy het oorwin en Hy is waardig om die boekrol oor te neem by God.  Sy redding kom nie deur oorlog en vernietiging nie, maar deur geslag te word, i.e. deur te sterf aan die kruis van Golgota (vgl. Openb. 12:11).  Hy word waardig deur Homself prys te gee. 

Daarom kan Hy die boekrol neem.  Sy oorwinning bevestig uiteindelik dat God steeds die geskiedenis beheer, ook tot in die ewige toekoms in.  God se beheer oor die geskiedenis word herbevestig in die oorwinnende sterwe van die Lam van God. 

Uiteindelik word die plot voltooi wanneer die hele skepping ook in aanbidding voor die Lam buig.  Hulle besing die Lam se grootheid met dieselfde woorde waarmee hulle die grootheid van God in Openbaring 4 besing het (vgl. vers 9-14).  Die Lam van God is uiteindelik niemand anders nie as God self wat deur die persoon van Jesus Christus in die geskiedenis van die wêreld ingegryp het nie.  Daar is uiteindelik net een God om te aanbid (vgl. Openb. 3:21 en 22:3).  Die enigste, ware, lewende God beheer voorwaar die geskiedenis in ewigheid. 

 

Outeur: Dr Fanie Rudolph

 




Die kern van die evangelie in Openbaring 12:7-12

Die kern van die evangelie in Openbaring 12:7-12 – Fanie Rudolph

Inleiding:

Openbaring 12:7-12 skets ‘n mitologiese oorlog in die hemel.  Die uitslag van hierdie oorlog bevestig dat God steeds Alleenheerser in die hemel is.  Satan is uit die hemel uitgegooi.  Alhoewel Migael die oorlog veg en die Satan verslaan, word hy nie as oorwinnaar erken nie.  Die oorwinning word toegeken aan die Lam van God, i.e. Jesus Christus.

Oorlog in die hemel (Openb. 12:7-9):

In hierdie paar verse sien ons die mitologiese oorlog in die hemel.  In die Judaïsme was daar mitologiese verhale in omloop oor die val van die Satan.  Johannes sluit waarskynlik by van hierdie verhale aan met sy mitologiese vertelling alhier.  In hierdie oorlog lees ons dat die Satan in ‘n oorlog gewikkel is met Migael in die hemel.  Migael en sy engele het egter die Satan verslaan, en hy is uit die hemel gegooi.  Hy kon God nie onttroon nie.  Trouens, in hierdie verhaal kom Satan nie eers naby God nie.  God tree op die oog af ook nie eers self met Satan in stryd nie.  Hy is so magtig dat Hy net sy aartsengel Migael stuur om die taak te verrig.  Die resultaat is dat die Satan geen toegang meer tot die hemel het nie.  Hy word finaal uitgesluit van God se ryk.  God bly regeer in ewigheid.

Dan lees ons dat die Satan op die aarde beweeg.  Hy probeer die vrou vervolg wat ‘n kind in die wêreld gebring het (verwysend na Jesus).  Hiermee wil Johannes bevestig dat die kerk se stryd teen die magte van Satan voortgaan hier op aarde.  Dit is Satan se nuwe (“sagte”) teiken.

Die oorwinning klink so evangelies (Openb. 12:10-12):

In hierdie verse kry ons ‘n oorwinningslied wat in die hemel opklink.  Dit besing die oorwinning van God in die oorlog (Openb. 12:10), asook wie die Oorwinnaar is (Openb. 12:11-12).  In vers 10 kom duidelik na vore dat God die oorwinning moontlik maak.  Hy is die Een wat verlossing meebring deur die Satan te verslaan.  Die loflied bevestig ook opnuut God se heerskappy en Koningskap, en dat hierdie heerskappy ewig is.  God sal nooit van die troon verwyder word nie.  Hy is en bly die enigste, ware, lewende God.

Maar dan gaan die gedeelte voort om te vertel van die eintlike Oorwinnaar.  Alhoewel Migael en sy engele die oorlog geveg het, is hulle nie die oorwinnaars nie.  Die oorwinnaars vanweë hierdie stryd is die gelowiges, want hulle word bevry van die Satan se mag.  Maar die eer vir die oorwinning self word aan die Lam van God toegeken (vgl. Openb. 12:11).  Hy is die Oorwinnaar in die oorlog teen Satan (vgl. ook Openb. 19:11vv).  En spesifiek word vermeld dat die oorwinning deur die bloed van die Lam behaal word.  Dit verwys na Jesus se verlossende sterwe aan die kruis.  Die bloed van Jesus waarna verwys word, is ‘n algemene verlossingsmetafoor in die Nuwe Testament (vgl. Matt. 26:26-28; Mark. 14:22-26; Luk. 22:15-20; 1 Kor. 11:23-25; Heb. 13:12; 1 Pet. 1:19; 3:18; Openb. 5:6).  Deur die bloed van Jesus word ons van ons sonde bevry, ooreenstemmend met die bloed van die offerlam in die Ou Testament.  Dit is net dat Jesus se Offer die finale en volmaakte offer is wat geen herhaling nodig het nie (vgl. Heb. 9:14-15; 10:12, 19). 

Dit is dan deur die bloed van die Lam (Jesus) dat die Satan verslaan word.  Alhoewel ‘n ironiese oorwinning (i.e. deur self te sterf), is dit die deursalggewende oorwinning wat die Satan se lot verseël.  Gelowiges se oorwinning oor die Satan is afhanklik van hierdie oorwinning van Christus.  Gelowiges kry slegs deel aan hierdie oorwinning deur die bloed van die Lam.  Verder word die verlossende sterwe van Christus die sleutel vir gelowiges om hulle eie lyding vanweë hulle geloof te verstaan. 

Voeg hierby die vinnige verwysings na Jesus se geboorte en hemelvaart (as ‘n breukdeel in tyd) in Openbaring 12:5, en Openbaring 12 word die evangelie in ‘n enkele hoofstuk opgesom (vir Johannes gaan dit nie oor Jesus se aardse lewe nie, maar oor sy verlossende sterwe en die gevolge daarvan).  Openbaring 12 wil bevestig dat die Messias wat in die Ou Testament voorspel is, wel die finale Oorwinnaar is.  En omdat Hy oorwin het, kan gelowiges hoop hê, ongeag die stryd wat hulle nog op aarde moet stry.

 

Outeur: Dr Fanie Rudolph