1 Samuel – Vraag

1 Samuel – Vraag

Vraag:

Frik Lombard vra:

1 Samuel is vir my so bietjie deurmekaar. In 1 Samuel 16 word vertel hoe daar ‘n man gesoek word om vir Saul lier te speel. Die eer kom toe Dawid toe. Hy word ook Saul se wapendraer. In hoofstuk 17 word vertel hoe Dawid Goliat verslaan het en nou kom die onverstaanbare vers 55: Saul vra vir Abner wie het Goliat verslaan en in vers 58 vra Saul vir Dawid wie se kind is hy. Duidelik het Saul nie geweet wie Dawid is nie. Hoe kon Saul nie Dawid op daardie stadium geken het nie, as hy dan sy wapendraer was?

In hoofstuk 24 en 25 word vertel hoe Dawid Saul se lewe spaar in die grot en hoe Samuel dood is. In hoofstuk 26 sluip Dawid in Saul se kamp in en maak hom weer nie dood nie. In hoofstuk 28 vers 3 word weer vertel dat Samuel dood is. Hoe hou die twee gebeure met mekaar verband? Dit wil vir my voorkom dat dit die een en selfde gebeure is. Hoe kan die een in die grot afspeel en die ander een in die veld?

 Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Jy het iets raakgesien wat Bybelwetenskaplikes al lankal besig hou, dat daar sogenaamde some in die teks voorkom wat oënskynlik op weersprekende inligting wys. Normaalweg word dit verklaar deur te sê dat dit te doen het met hoe die spesifieke geskrif saamgestel is. Onthou dat niemand weet presies hoe dit gebeur het nie en dat ons slegs in die donker kan tas. Dit lyk egter of daar verskillende mondelinge of selfs skriftelike oorleweringe bestaan het wat op ʼn stadium byeengebring is. Die persoon wat dit gedoen het, het nie alle data met mekaar versoen nie wat dan tot some tussen die verhale lei.

Dit stel onmiddellik die vraag: hoe beïnvloed dit die gesag van die Skrif? Beteken die feit dat ons van die Bybel as Woord van God praat nie dat die Bybel foutloos is nie? Ek dink nie so nie. Ek meen die gesag van die Skrif lê in die openbaring van God daarin, soos deur mense beskryf. En mense is nie foutloos nie. Daarom kan daar skynbare weersprekings voorkom (jy kry dit ook duidelik in die onderskeie evangelies se weergawes) sonder dat dit die gesag van die Skrif aantas, omdat die Gees deur die Woord werk om God aan jou te openbaar.

Hoop dit beantwoord jou navraag! 

 

Skrywer: Dr Marius Nel

 




Die Wegraping?

Die Wegraping?

Dit is interessant dat die woord “wegraping” nêrens in die Nuwe Testament voorkom nie, en die tekste wat dikwels aangehaal word eerder oor die realiteit en verwagting rondom die wederkoms handel.

 

Matteus 24 is die groot hoofstuk wat handel oor die profetiese rede van Jesus oor die val van die tempel (24:1-2); komende rampe en vervolgings (24:3-14); die groot verdrukking (24:15-28); die koms van die Seun van die mens (24:29-31); die voorbeeld van die vyeboom oor die tekens van die tyd (24:32-35); gevolg deur die profetiese rede oor die dag en uur van die wederkoms in Matteus 24:36-44, waar ons die volgende lees:

36“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. 37Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. 38In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. 39Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens. 40Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 41Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 42Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.43“Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. 44Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.”

In 24:37-39 word die wederkoms (paroesia in Grieks) van die Seun van die Mens vergelyk met die skielike koms van die groot vloed waarvan ons in Genesis 6:5-24 lees waarin Noag en sy gesin ontsnap het en almal anders vergaan het. Net so (vergelyk v 27, 37, 39) sal die wederkoms van die Seun van die Mens skielik en onverwags wees. Mense sal soos enige ander dag besig wees met allerlei dagtakies – etende, drinkende, spelende… (vgl. 24:38 en die reeks partisipiums in Grieks). Net soos die mense in Noag se tyd totaal onvoorbereid was vir die vloed, net so sal die wederkoms van die Seun van die mens onvoorbereid en onverwags wees. Met die wederkoms sal daar ‘n duidelike skeiding plaasvind (vgl. 24:40-41), sommige sal saamgeneem word, terwyl ander agtergelaat sal word. Twee mense sal byvoorbeeld op dieselfde plek so langs mekaar staan en werk waarna een skielik weggeneem sal word en die ander een sal agterbly en uiteindelik geoordeel sal word. Na alle waarskynlikheid verteenwoordig diegene wat saamgeneem word die uitverkore mense wat die engele van die Seun van die Mens moet versamel met die wederkoms (24:30-31): 

30Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit. 31Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.

Die punt wat Matteus wil maak, is dat niemand die uur van die wederkoms ken nie. Dit kan enige oomblik gebeur. Die vraag is dus of jy op enige gegewe oomblik reg is, of jy die een op die land gaan wees wat agterbly vir die groot oordeel, of die een wat saamgeneem gaan word? Juis om hierdie rede is Matteus van mening dat gelowiges voorbereid, waaksaam (gregorein in Grieks – Kyk ook 1 Korintiërs 16:13; 1 Tessalonisense 5:1-11; 1 Petrus 5:8; Openbaring 3:2-3; 16:15) en nugter moet wees – reg om enige tyd die tydelike vir die ewige te verwissel. Hiervolgens is dit verder duidelik dat Matteus se eskatologie (toekomsverwagting) ‘n sterk etiese dimensie impliseer.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok 

 

 




Die nag in Getsemane – Vraag

Die nag in Getsemane

Tersia du Plessis vra:

Ons lees in die Evangelies dat Jesus die nag van sy kruisiging in die tuin van Getsemane gaan bid het. Hy het die drie geliefde dissipels ‘n ent van die ander af saam met hom laat stap en gevra om te bid en waak saam met hom. Die dissipels raak telkemale aan die slaap – tot Jesus se teleurstelling. As die dissipels dan aan die slaap was, hoe is dit moontlik dat daar so deeglik inligting gegee word oor wat Jesus gebid het?  

Antwoord:

Om die vraag te beantwoord, moet ons eers kyk hoe die Evangelies geskryf is. Markus of Matteus het nie notaboekies gehad en alles neergeskryf en dit dan in hulle evangelies gaan oorskryf nie. (Markus was nie eers ʼn dissipel van Jesus nie en het dus alles wat hy geskryf het by die dissipels en miskien veral by Petrus gehoor). As die Evangelies so ʼn “notaboek verslag” was, sou ʼn mens kon wonder hoe die dissipels geweet het wat Jesus gebid het. Maar die Evangelies het op ʼn ander manier tot stand gekom. Die eerste Evangelie (Markus) is eers ongeveer 30 jaar na Jesus se hemelvaart op papier neergeskryf. Dit beteken nie dat die verhaal van Jesus toe skielik eers ontstaan het nie. Nee, die stories en verhale van Jesus het van die begin af in die harte en gesprekke van die eerste Christene geleef – hulle het dit elke dag met mekaar bespreek en het daaruit geleef. Dit het Markus (en later Matteus, Lukas en Johannes) later op papier neergeskryf – ja, hulle was geïnteresseerd in wat in Jesus se lewe gebeur het en wat Hy alles gesê het. Hulle was Jesus se volgelinge en wou dus weet wat Hy alles gepreek en gedoen het – dit het hulle in hulle lewe probeer navolg. Daaroor het hulle gepraat.

Dit bring ons by ons vraag. Die dissipels het met mekaar gepraat oor alles wat gebeur het. Ons weet ook dat hulle met Jesus gesels het na sy opstanding. Ons lees natuurlik nêrens dat hulle met Jesus oor sy gebed gesels het nie, maar die feit dat hulle geweet het wat Hy gebid het, kan eintlik nie op ʼn ander manier by hulle uitgekom het as dat Jesus dit vir hulle vertel het nie.     

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Die Bybel en die Wetenskap.

Die Bybel en die Wetenskap.

Ons lees so dikwels van die konflik tussen die Bybel en die wetenskap. Die probleem is dat hierdie konflik meestal beperk is tot mense wat op die pole van die debat staan – en baie lawaai maak. Richard Dawkins, ateïs en evolusionêre bioloog, sê dat as jy die wetenskap glo, jy ‘n ateïs moet wees:

Faith is the great cop-out, the great excuse to evade the need to think and evaluate evidence. Faith is belief in spite of, even perhaps because of, the lack of evidence.

Aan die ander kant is daar sekere godsdienstige fundamentaliste wat die wetenskap as gevaarlik en onbetroubaar beskryf. Hulle glo dat die letterlike interpretasie van die Skrif die enigste betroubare manier is om wetenskaplike waarhede vas te stel.

Kan die nougesette wetenskaplike in ‘n transendente (= wat die grense van die ervaring oorskry) God glo? Staan die wetenskap en die geloof teenoor mekaar of vul hulle mekaar aan? Moet ons tussen twee uiterstes kies – nie een juis baie verteerbaar nie? Daarom is daar by sommige die siening dat die wetenskap en die godsdiens twee verskillende leergesagte is wat nie oorvleuel nie – wat los staan van mekaar. Maar dit stel ons nie juis tevrede nie.

Die wetenskap en die godsdiens kan langs mekaar staan en mekaar verryk en verlig. Deur die natuurwetenskap kan ek die natuurlike wêreld beter verstaan, maar die wetenskap kan sekere vrae nie beantwoord nie: Hoekom bestaan die heelal? Wat is die sin van die mens se bestaan? Wat gebeur met my as ek doodgaan? Die wetenskap kan baie van die geheime van die natuurlike wêreld ontrafel, maar kan my nie help aangaande God nie.

Kom ons doen ‘n gevallestudie: Galileo. Hy was ‘n briljante wetenskaplike. Hy kom tot die gevolgtrekking dat die aarde om die son roteer. Dit bring hom onmiddellik in konflik met die Rooms-Katolieke Kerk. Hoekom? Omdat die kerk sekere teksverse letterlik geïnterpreteer het: U wat die aarde stewig gevestig het, sodat dit nooit sal wankel nie (Psalm 104:5); Die wêreld staan vas, dit wankel nie (Psalm 93:1); Die son kom op, die son gaan onder, en dan haas hy hom weer na waar hy opkom (Prediker 1:5). Daar is geglo dat enige stelsel waarvan die aarde nie die middelpunt is nie, die Christelike geloof sou ondermyn. Galileo sê self:

I do not feel obliged to believe that the same God who has endowed us with sense, reason, and intellect has intended us to forgo their use.

[In retrospek is die kerk se reaksie op Galileo se bevindings nie so eenvoudig nie.  Ander sake het ook ‘n rol gespeel – pouslike politiek,  magstryde in die kerk, persoonlikhede, ens.]

Francis Collins glo dat daar veral vier vrae is wat wetenskaplikes moeilik vind om te antwoord:

(1)  Verteenwoordig die idee van God nie net die universele verlange van die mens na iets buite homself om betekenis aan die lewe te gee nie? Maar hoekom sou daar so ‘n universele verlange bestaan as die nie vervul kan word nie? Creatures are not born with desires unless satisfaction for these desires exist (CS Lewis).

(2)  Wat van al die seerkry gedoen in die naam van godsdiens?  Wat van die kruistogte en inkwisisie?

(3)  Hoe kan ‘n liefdevolle, almagtige God soveel lyding toelaat?

(4)  Hoe kan ‘n rasionele mens glo aan wonderwerke? ‘n Wonderwerk is ‘n gebeurtenis wat nie deur die natuurwette verklaar kan word nie – van bonatuurlike oorsprong. As ek glo dat bonatuurlike gebeure onmoontlik is, dan glo ek nie in wonderwerke nie.

Daar moet ‘n kritiese dialoog tussen teoloë en wetenskaplikes plaasvind. Die feit dat die heelal begin het, dat die heelal ordelike reëls wat wetenskaplik uitgewerk kan word, nakom, maak nie van geloof in God ‘n uitgediende bygeloof nie. Wetenskap is nie die enigste manier waarop ons kan ken en weet nie – is nie ons enigste bron van kennis nie. Deur die Bybel en my geloof kan ek ook waarheid ontdek.

Daar is harmonie tussen die Bybel en die natuurwetenskappe moontlik. Luister na Einstein, waarskynlik een van die grootste natuurwetenskaplikes ooit:

Science without religion is lame, religion without science is blind.

 

Skrywer:  Dr Coen Slabber


Bibliografie:

Francis S Collins (2006): The Language of God, Free Press.

Alister E McGrath (2004): The Science of God, T&T Clark International

Alister E McGrath (2005): Dawkins’ God, Blackwell Publishing