Kruisiging – die oorsaak van dood (3)

Kruisiging – die oorsaak van dood (3)

Die belangrikste patofisiologiese gevolg van kruisiging was ʼn belemmering van normale asemhaling – veral uitaseming. Die gewig van die liggaam wat trek aan die uitgestrekte arms en skouers, neig om die spiere tussen die ribbes te fikseer. Uitaseming, wat gewoonlik ʼn passiewe proses is, word veral beïnvloed. Die asemhaling word vlak en koolsuurgas hoop op. Dit lei tot krampe en selfs sametrekkings wat asemhaling nog verder belemmer.

Om uit te asem, moet die liggaam opgelig word deur op te druk op die voete. Hierdeur word die hele liggaamsgewig op die voete geplaas – wat erge pyn sou veroorsaak. Dit veroorsaak verdere pyn as die rou rug teen die paal geskuur word. Elke asemhalingspoging is pynlik en put die slagoffer verder uit. Mettertyd lei dit tot versaking van die asemhalingsisteem.

Die werklike oorsaak van Jesus se dood kan nie aan ʼn enkele faktor toegeskryf word nie. Dit was ʼn kombinasie van bloedverlies (as gevolg van die geseling), uitputting, asemhalingsversaking en hartversaking. Moontlik was ʼn ritmestoornis van die hart verantwoordelik vir die finale katastrofiese gebeurtenis.

 

Hoekom het Jesus so vinnig gesterf?

Volgens Markus was Jesus slegs 6 uur aan die kruis. Gewoonlik het dit 24 tot 36 uur geduur voordat die persoon gesterf het. Origenes beskryf ʼn egpaar wat in 286 nC gekruisig is en nege dae en nege nagte aan die kruis gehang het.

Daar is baie faktore wat ʼn invloed kan hê op die tyd voordat ʼn persoon sterf aan ʼn kruis: sy algemene gesondheidstoestand, die presiese metode wat gebruik is, ens. Ons moet onthou dat Jesus nie net aan die kruis gely het nie, maar ook vooraf. Sy lyding het reeds in Getsemane begin. Daar is baie teorieë om Jesus se vroeë dood te probeer verduidelik. Hierdie vroeë dood van Jesus het selfs vir Pontius Pilatus verbaas. Toe Josef van Arimatea na Pilatus toe gaan om te vra vir die liggaam van Jesus lees ons dat Pilatus verbaas was om te hoor dat Jesus al dood was (Markus 15:44). Hy laat selfs sy offisier roep om te kom bevestig dat Jesus reeds dood was.

Ons lees dat Jesus gesê het: Dit is volbring! Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas (Johannes 19:30). Dit dui op ʼn katastrofiese terminale gebeurtenis. Wat was dit? Ons is onseker. Moontlikhede is:

(a)        ʼn Skeur van die hart. Dit was ʼn baie vroeë teorie. Hartskeur (ruptuur van die hart) is ʼn baie ongewone gebeurtenis in iemand met ʼn normale hart. Ons kry dit gewoonlik in mense met een of ander patologie van die hart. Dit kom ook meestal in ouer mense voor – ouer as 60 jaar.

(b)        As gevolg van Jesus se geseling en kruisiging wat gepaard gegaan het met ontwatering, en ʼn lae suurstofinhoud in die bloed, kan die bloed meer stolbaar word. Brose groeiseltjies kan dan op die hartkleppe ontwikkel. Hierdie groeiseltjies kan loskom en die bloedvate na die hartwand blokkeer. Jesus kon dus gesterf het as gevolg van ʼn massiewe hartaanval (miokardiale infarksie).

(c)        Traumatiese skok as gevolg van uitputting, pyn, dehidrasie en bloedverlies. Dit is onwaarskynlik, want mense met traumatiese skok is gewoonlik verward. Jesus was duidelik nie verward toe Hy sy laaste wens aan sy moeder en aan Johannes oorgedra het nie. Jesus was tot aan die einde helder.

(d)       Ritmestoornis van die hart. Weens asemnood en die dehidrasie verander die chemiese samestelling van die bloed. Dit kan die hartritme affekteer.

(e)        Asemnood. Dit was waarskynlik die primêre oorsaak van dood, maar ons moet aanvaar dat uitputting, pyn, hartversaking (as gevolg van vog in die hartsak) en bloedverlies die proses verhaas het. Die feit dat Jesus nie die dwarshout van die kruis kon dra nie, ondersteun hierdie teorie.

Waarskynlik was dit ʼn kombinasie van faktore wat Jesus se vroeë dood veroorsaak het.

Skrywer: Dr Coen Slabber

 




Kruisiging – die oorsaak van dood (2)

Kruisiging – die oorsaak van dood (2)

 

Jesus se kruisiging

Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig het (Markus 15:25). Jesus het daardie selfde dag – ongeveer drie-uur – gesterf. Johannes vertel vir ons dat die twee misdadigers wat saam met Jesus gekruisig is toe nog gelewe het. Die soldate het hulle bene gebreek.  Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie (Johannes 19:33).

Ons moet aanvaar dat Jesus se fisiese toestand voor sy gevangeneming goed was – Hy het immers groot afstande te voet afgelê. Tussen sy aankoms by Getsemane en die aanvang van die kruisiging het Jesus egter erge emosionele spanning ondervind. Ons lees van Jesus se stryd in Getsemane, die herhaalde verhore, sy vriende (die dissipels) wat Hom in die steek gelaat het, die geseling deur die Jode, ens. Waarskynlik het Hy nie daardie Donderdagnag geslaap nie. Hy moes tussen 2,5 en 3 km geloop het van die een verhoor na die ander. Dit het Hom baie kwesbaar gemaak vir die geseling van die Romeinse soldate.

Daar is drie aspekte van Jesus se dood wat vir medici kontroversieel is:

(1)        Wat was die oorsaak van Jesus se dood?

(2)        Hoekom is Jesus so gou dood? Volgens Markus was die totale duur van Jesus aan die kruis ses uur. Dit is baie kort vir ʼn jong man. Hoekom?

(3)        Wat was die aard van die wond in Jesus se sy?

Ons begin met ʼn oorsig van Jesus se kruisiging.

 

Wat weet ons van Jesus se kruisiging?

Daar is min besonderhede van Jesus se kruisiging in die evangelies. Waarskynlik was dit omdat geseling en kruisiging so algemeen was dat die evangeliste dit as onnodig beskou het om meer hieroor te sê. Ek gaan niks sê oor die psigiese en geestelike lyding wat Jesus as gevolg van die losprys wat Hy vir ons sondes betaal het, ondervind het nie. Ek gaan slegs die fisiologiese en anatomiese aspekte van sy lyding en dood hanteer.

Vir ons doeleindes wil ek sekere aspekte beklemtoon.

1.         Die Middeleeuse en Renaissance skilders het altyd vir Jesus geskilder waar hy die hele kruis gedra het. Die vertikale paal van die kruis was meestal permanent in die grond ingeplant. Die veroordeelde moes net die dwarshout (= patibulum) gedra het – van die tronk tot by die plek van teregstelling. Dit word bereken dat hierdie dwarshout tussen 35 en 50 kg geweeg het.

2.         Meeste skilderye toon dat die spykers in Jesus se hande ingeslaan is. Spykers in die handpalms sou egter uitgeskeur het as die volle liggaamsgewig aan hulle gehang het. Die spykers is gewoonlik tussen die beentjies van die polsgewrig of net bokant die polsgewrig ingeslaan. Waar kom hierdie misverstand vandaan?

  •            Waarskynlik van Jesus se woorde aan Tomas: Bring jou vinger hier en kyk na my hande (Johannes 20:27).
  •            Anatome – veral in die antieke tyd – het die polsgewrig as deel van die hand beskou.

Kom ons probeer nou chronologies vasstel wat met Jesus gebeur het gedurende sy laaste 24 uur.

(a)        Die fisiese lyding van Jesus het nie by Golgota begin nie, maar reeds in Getsemane. Dit is interessant dat Lukas, die geneesheer, die enigste een is wat Jesus se sweet beskryf: Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val (Lukas 22:44). Vooraf lees ons dat Jesus in doodsangs geraak het en dat Hy nog ernstiger gebid het. Kan ʼn mens bloed sweet? Hematidrose (bloed sweet) is ʼn baie seldsame verskynsel en is gewoonlik die gevolg van erge emosionele spanning. Klein bloedvaatjies in die sweetkliere bars. So word bloed en sweet gemeng.

(b)        Daardie aand verskyn Jesus voor Annas, Kajafas en die Joodse Raad. Reeds hier begin sy fisiese trauma: Een van die wagte klap Hom, want hy het nie gehou van Jesus se antwoord op die hoëpriester se vraag nie. Die manne wat Jesus bewaak het, het met Hom die spot gedryf en Hom geslaan. Hulle het Hom geblinddoek en gesê dat Hy as profeet moet sê wie dit is wat Hom slaan.

(c)        Die oggend vroeg verskyn Jesus voor die Joodse Raad. Teen hierdie tyd was Hy al gekneus en waarskynlik gedehidreer. Hy het nie baie geslaap nie. Hy word vroeg die oggend van die Praetorium na Burg Antonia, Pontius Pilatus se setel, geneem. As gevolg van die oproepe van die skare het Pilatus vir Jesus oorgegee om gegesel en gekruisig te word.

(d)        Tydens geseling is al Jesus se klere uitgetrek, sy hande is aan ʼn paal bokant sy kop vasgemaak en Hy is geslaan. Die Joodse wet het ʼn beperking op die aantal houe geplaas – veertig. Dit is twyfelagtig of die Romeinse soldate hulle aan hierdie beperking gesteur het. Jesus is met die sogenaamde flagrum geslaan. Dit was ʼn kort sweep met verskeie swaar leerrieme. Naby die punte van hierdie rieme is of klein loodballetjies of stukkies been ingevleg. Die loodballetjies in die sweep veroorsaak erge kneusings. Die rieme en beentjies skeur die vel. Later sou selfs die onderliggende spiere beseer en geskeur word. Die vel op die rug hang in lang repe. Pyn en bloedverlies was erg. Die hoeveelheid pyn en bloedverlies het bepaal hoe lank so ʼn slagoffer aan die kruis sou oorleef. As die soldaat dink dat die slagoffer naby aan dood is, word die slanery gestaak.

(e)        Daarna is Jesus losgemaak. Die soldate trek vir Hom ʼn pers mantel aan, sit ʼn doringkroon op sy kop en gee vir Hom ʼn stok in sy regterhand. Die soldate spoeg op Jesus en slaan Hom met die stok oor sy kop. Hierdie mag die dorings dieper in sy kopvel ingedryf het. Almal van ons weet dat die kopvel baie bloedryk is en erg kan bloei.

(f)        Nadat die soldate Jesus klaar gespot het, het hulle die pers mantel uitgetrek en weer Jesus se eie klere vir Hom aangetrek. Op hierdie stadium het die mantel reeds aan Jesus se rug vasgesit as gevolg van die gestolde bloed. Om dit uit te trek, moes baie seer gewees het. Dit het ook die bloeding weer laat begin.

(g)        Daarna kry Jesus sy kruis om na Golgota te dra. Die kruis is gewoonlik op die slagoffer se skouers met toue vasgebind. Nou begin die optog langs die Via Dolorosa. Jesus kon egter nie die kruis dra nie, en Simon van Sirene word opgekommandeer om te help dra. Ons moet aanvaar dat die dra van die kruis Jesus se wonde weer oopgemaak het en verdere bloeding veroorsaak het.

(h)        By Golgota bied die soldate vir Jesus ʼn mengsel van wyn en mirre (gal) aan. Hierdie mengsel het ʼn matige pynstillende effek. Jesus weier egter om dit te drink. Hierna word Jesus gekruisig. Die normale prosedure is dat die twee hande/polsgewrigte eers vasgespyker word. Daarna word die dwarshout opgelig en aan die vertikale paal vasgemaak. Daarna word die voete aan die vertikale paal vasgespyker.

(i)         Geleidelik sak die slagoffer laer. Meer gewig word op die spykers in die polsgewrig geplaas. Verskriklike pyne skiet af in die hand en op in die arm, want daar word drukking geplaas op die groot senuwees wat deur die polsgewrig loop. Om dit te verhoed, lig die slagoffer hom op, maar nou plaas hy sy volle gewig op die spykers in sy voete.

(j)         Soos die arms moeg word, ontwikkel erge krampe in die spiere. Op hierdie stadium kon Jesus Hom nie meer opdruk nie. Die spiere tussen die ribbes kan nie meer funksioneer nie. Lug kan ingeasem, maar nie uitgeasem word nie. Jesus moet Hom oplig om uit te asem. Elke keer as Hy dit doen skaaf sy rou rug teen die paal van die kruis. Dit veroorsaak erge pyn en bloeding. Dit is gedurende hierdie tyd wat Hy die sewe kort kruiswoorde uiter.

(k)        Nou kom daar ʼn verdere pyn – ʼn drukkende pyn soos die hartsak stadig gevul word met vloeistof en geleidelik drukking op die hart plaas. Dit laat ʼn mens dink aan Psalm 22:15: Ek is soos uitgestorte water, al my bene het uitmekaar geval, my hart het soos was geword, dit smelt weg in my.

(l)         Ons nader nou die einde. Die verlies aan bloed en vog bereik nou kritieke vlakke; die hart sukkel om te pomp; die longe kan skaars meer lug inasem. Weereens herinner dit ons aan Psalm 22:  Ek is so min werd soos ʼn potskerf, my tong kleef aan my verhemelte, U laat lê my asof ek dood is (Psalm 22:16). Dit is toe dat Jesus sê: Ek is dors. Die soldate maak ʼn spons vol suurwyn, sit dit op ʼn hisoptakkie en gee dit vir Jesus.

(m)      Jesus besef dat die dood naby is: Dit is volbring. Met ʼn groot inspanning kry Jesus se laaste woorde uit: Vader, in u hande gee Ek my gees oor. Sy sending is afgehandel. Hy sterf.

(n)        Om seker te maak dat Jesus wel dood is, het een van die soldate ʼn spies in sy sy gesteek –  en daar het dadelik bloed en water uitgekom. 

 

Skrywer: Dr Coen Slabber

 




Kruisiging – die oorsaak van dood (1)

Kruisiging – die oorsaak van dood (1)

Daar is heelwat artikels op hierdie webblad wat verskillende aspekte van die kruis en kruisiging hanteer. In hierdie reeks artikels gaan ons spesifiek na die mediese aspekte van kruisiging kyk. Waar dit van belang is, sal ons sekere punte wat reeds elders hanteer is, weer bespreek. Reeds in 1847 het Stroud ʼn boek oor die oorsaak van dood in gevalle van kruisiging geskryf. Sy gevolgtrekking was dat Jesus se hart geskeur het. Daarna is meer as 40 boeke oor hierdie onderwerp geskryf. Daarin word verskeie teorieë voorgestel. Die baie teorieë is gewoonlik ʼn aanduiding dat die oorsaak onduidelik is.

Geskiedenis

Lucius Anneus Seneca (4 vC – 65 nC) skryf:

I see crosses there, not just of one kind but made in many different ways: some have their victims with their head down to the ground, some impale their private parts, others stretch out their arms’.

Kruisiging was ʼn algemene vorm van straf in die Romeinse Ryk. Dit is veral gebruik vir verraaiers, slawe en rebelle. Geseling was die algemene beginpunt vir so ʼn Romeinse kruisiging. Gewoonlik is die slagoffer oor die rug, boude en bene geslaan met ʼn flagrum – ʼn kort sweep met loodballetjies en skerp voorwerpe (soos stukkies been) in die rieme ingeweef. Daarna moes die slagoffer sy kruis (of deel daarvan) self dra na die plek van teregstelling. By die plek van teregstelling is die hande en voete van die slagoffer of met spykers of toue/rieme vasgemaak. [As die slagoffer net die dwarspaal gedra het, is sy hande eers vasgemaak. Daarna is die kruis regop geplaas en die voete vasgespyker.] Soms was daar ʼn klein sitplekkie om die slagoffer se gewig te help dra. Dit het die sterwensproses verder uitgerek.

Dit is bekend dat mense etlike dae kon oorleef. Daarom het die Romeine dikwels die slagoffer se bene net onder die knie met ʼn stomp voorwerp gebreek. Die breek van die bene kon die dood op drie moontlike maniere verhaas het:

1.         Bloedverlies vanaf die plek waar die been gebreek is.

2.         Vetembolisme – daar in heelwat vet in die beenmurg. As die been gebreek word, kan van hierdie vet in die bloedstroom en uiteindelik in die bloedvate van die longe kom.

3.         Respiratoriese versaking – die longe kan nie meer voldoende funksioneer nie, want die bene kon nie meer die gewig van die liggaam ondersteun nie.

Watter van hierdie teorieë korrek is, weet ons nie.

Ons weet egter dat Jesus geslaan is, maar dat sy bene nie gebreek is nie.

 

Argeologie

Daar is waarskynlik net een geval van kruisiging wat argeologies ontdek en beskryf is. Hierdie gevalle is skaars, want hier praat ons meestal van misdadigers. Hulle liggame is sommer op die vullishoop gelos waar die honde dit geëet het. Daar is egter ʼn graf van ʼn jong Joodse man opgegrawe. In die Israelse Museum in Jerusalem is daar ʼn model van sy hakskeenbeen en ʼn spyker. Die ysterspyker was 11,5 cm lank. Hierdie spyker is deur die liggaam van die hakskeenbeen geslaan. Die punt van die spyker was gebuig – moontlik omdat dit ʼn harde kwas in die hout of ʼn spyker van ʼn vorige kruisiging getref het. Dit lyk asof in hierdie geval die hakke teen die kant van die kruis ingeslaan is. 

 

Skrywer: Dr Coen Slabber

 




Gal en Mirre in die Bybel

Gal en Mirre in die Bybel

Daar het hulle Hom ʼn mengsel van wyn (kan ook asyn wees) en gal gegee om te drink, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie (Matteus 27:34).

Een van hulle hardloop toe gou, vat ʼn spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op ʼn stok vir Hom om te drink (Matteus 27:48).

Hulle wou vir Hom wyn gee met mirre daarin, maar Hy wou dit nie hê nie (Markus 15:23).

Moontlik het Jesus wel die wyn gedrink (ons weet nie), maar Hy het beslis nie die wyn gemeng met gal/mirre gedrink nie. Die wyn wat hulle vir Jesus wou gee, was ʼn ligte wyn wat aangesuur  is. Dit was die algemene drankie van die Romeinse soldate.

Die byvoeging van gal of mirre is basies dieselfde ding: die wyn is bitter gemaak deur die byvoeging van die ekstrak van ʼn struik met ʼn bitter smaak. Dit is gebruik as ʼn pynstillende middel.

Gal: Die Griekse woord vir gal is chole of kholé. [Ons kry die woord steeds in geneeskunde: ʼn cholesistektomie is die verwydering van die galblaas.] Dit is iets wat baie bitter is.

Mirre: In die Semitiese tale beteken mör of mur (waarvan mirre afgelei is) iets wat bitter is. Dit is ʼn harpuis wat verkry is uit ʼn verskeidenheid bome met ʼn grys bas. [Van die genus Commiphora.] Hulle groei onder andere langs die Rooi See. As ʼn insnyding in die boom gemaak word, vloei ʼn melkerige, geel-wit vloeistof uit die sny. As dit droog word, verander die kleur na rooi-bruin en die druppels word hard. Dit is algemeen gebruik in die voorbereiding van wierook, parfuum en salwe. Simbolies het dit dikwels vroulikheid voorgestel. Mirre was een van die geskenke wat die sterrekykers uit die Ooste vir Jesus gebring het. Mirre het uit ʼn mediese oogpunt, antiseptiese en pynstillende eienskappe gehad. Dit is ook vir slapeloosheid gebruik.

Jesus weier om dit te drink. Hoekom? Hy wou niks inneem wat Hom sou benewel of die pyn wegvat nie. Hy sê vir Petrus: Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie? (Johannes 18:11). Jesus het geweet dat sy bloed vergiet moes word as Hy die uiteindelike offer vir my sondes moes bring. Hy vermy daarom die maklike uitweg.

Skrywer: Dr. Coen Slabber