Die oorspronklike (eerste) lesers van 1 Petrus – Waar het hulle gewoon?

Die oorspronklike (eerste) lesers van 1 Petrus – Waar het hulle gewoon?

Die oorspronklike (eerste) lesers van die brief 1 Petrus, het in Klein-Asië gewoon, verspreid “in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië” (1 Pet. 1:1), wat in hierdie volgorde genoem word omdat dit die roete is wat die draer van die omsendbrief sou volg.

In die briefaanhef word dit uiteengesit dat die eerste lesers, vir wie hierdie omsendbrief oorspronklik geskryf is, “verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië” (1:1).  Hierdie vyf name verteenwoordig, in die tyd wat die brief geskryf is, in werklikheid net vier amptelike Romeinse provinsies aangesien “Bitinië-en-Pontus” toe deur ‘n enkele provinsiale administrasie hanteer is.  Die twee was egter vantevore onderskeie streke en daar is nog dikwels, soos hier, afsonderlik na hulle verwys.  Gevolglik kan daar veralgemeen word deur te sê dat die geadresseerdes in Klein-Asië gewoon het (min of meer die moderne Turkye), en wel noord en wes van die Taurus-bergreeks wat deur die Suide van Klein-Asië loop.  Klein-Asië het voorheen uit ‘n aantal onafhanklike koninkryke (van Anatolië) bestaan, maar het tussen 133 v.C. en 17 n.C. stelselmatig onder Romeinse beheer gekom.  Die vier bogenoemde provinsies was reeds teen 17 n.C. gekonstitueerd en het ongeveer 8,500,000 inwoners van uiteenlopende kulture gehad.  Die area hier tersprake beslaan ongeveer 330 000 vierkante kilometer.

Paulus het baie tyd in hierdie selfde streke gespandeer en die evangelie hier verkondig.  Gevolglik is daar oorvleueling tussen die geadresseerdes van 1 Petrus en sommige van die briewe van Paulus, byvoorbeeld aan die Galasiërs, Efesiërs en Kolossense (lg. twee beide in die provinsie “Asië”).  Die sewe gemeentes aan wie die boodskappe in Openbaring 2 en 3 gerig is, is ook almal in die provinsie Asië.

Daar blyk ‘n goeie rede te wees waarom die provinsies in hierdie betrokke volgorde genoem word en waarom Pontus en Bitinië afsonderlik en skynbaar agterstevoor genoem word.  (Die Romeinse provinsie wat as “Bitinië-en-Pontus” bekend gestaan het, is opgemaak deur Bitinië meer oos, nader aan Rome, en Pontus meer wes).  Die volgorde waarin die name voorkom, blyk die roete te verteenwoordig wat die omsendbrief deur Klein-Asie sou volg.  Die draer van die brief sou dus per boot vanaf Rome arriveer in ‘n stad in die Pontus-distrik, vandaar suidelik beweeg deur Galasië na Kapadosië, vandaar weswaarts na die provinsie Asië en laastens weer noordwaarts na Bitinië, vanwaar hy per boot kon terugreis na Rome.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Die oorspronklike (eerste) lesers van 1 Petrus – Wie hulle was en in watter omstandighede hulle hulself bevind het

Die oorspronklike (eerste) lesers van 1 Petrus – Wie hulle was en in watter omstandighede hulle hulself bevind het

Die eerste lesers van 1 Petrus was gelowiges van sowel Joodse as heidense afkoms. Waarskynlik was die meerderheid van hulle van die laer sosiale status- groepe, armes, slawe, vrouens. Daar is op verskillende maniere teen hulle gediskrimineer in hulle plaaslike gemeenskappe, veral deur dit wat vir hulle en oor hulle gesê is. Gevolglik was hulle soos “vreemdelinge en bywoners” in die wêreld (2:11) waar hulle tydelik moes swaarkry, terwyl hulle hoop gerig was op ‘n ewige woning by God (1:4-6)

Die omsendbrief 1 Petrus word gerig (1:1) aan die “uitverkorenes”, “vreemdelinge van die diaspora”.  Hoewel die woord “diaspora” letterlik verwys na die verspreiding van die Jode oor die Antieke wêreld, beteken dit nie dat die brief primêr of uitsluitlik aan gelowiges uit ‘n Joodse agtergrond gerig is nie.  Ooreenstemmend met wat ons weet van die vroegste christelike gemeentes in die algemeen, is dit die beste om te aanvaar dat daar persone van sowel Joodse as heidense agtergronde in die gemeentes was.  Die verwysing na “vreemdelinge van die diaspora” is dus metafories van toepassing op die gelowiges as die nuwe Israel – die nuwe uitverkore eiendomsvolk van God wat verspreid deur die Antieke wêreld gewoon het.

Hierdie gelowiges was nie self ooggetuies van die lewe van Jesus nie (1:9), en het waarskynlik nié deur die evangelisasie-werk van Petrus gelowig geword nie, maar onder ander persone (1:12, 25).  Dit is moontlik dat die eerste “evangeliste” wat in hierdie streke gewerk het, gelowiges was wat op Pinksterdag in Jerusalem teenwoordig was (Hand. 2).  Dit is ook moontlik dat sommige van die eerste lesers deur Paulus se bediening in hierdie streke gelowig geword het.

Op grond van die meer omvattende opdragte aan vroue as aan mans (3:1-7), is dit moontlik dat daar meer vroue as mans in die gemeentes was.  So vind ons ook opdragte aan slawe (2:18-20), maar nie aan meesters of slawe-eienaars nie, wat daarop kan dui dat daar nie baie van hulle in die gemeentes was nie.  Netso ontbreek opdragte aan die rykes, wat weereens daarop kan dui dat daar nie baie van húlle in die gemeentes was nie.  Hierdie afleidings bly egter baie onseker.  Uit Paulus se briewe weet ons dat daar wel ook mans, slawe-eienaars, rykes en vooraanstaande burgers in die vroeë gemeentes was.  Die geadresseerde gemeentes sou dus waarskynlik van gemengde sosiale stand wees, maar met ‘n meerderheid persone uit laer sosiale status-groepe.

Die lesers van 1 Petrus word beskryf as vreemdelinge (1:1, 17, 2:11) en bywoners (2:11).  Hulle is mense op wie die ewige heerlikheid, die onverganklike hemelse erfenis wag (bv. 1:4), maar wat intussen moet ly (bv. 1:6).  Gevolglik is hulle tydelik in hierdie wêreld – hulle eintlike woning is by God Self, en dus is hulle “vreemdelinge en bywoners” tot op die dag van Goddelike regspraak (1:17, 2:12).  Hierdie metafoor is bedoel om hulle te bemoedig en te motiveer tot volharding in nie-ideale omstandighede, aangesien hulle die hoop het op ‘n beter toekoms.  Dit is ook baie insiggewend ten opsigte van die optrede van die plaaslike bevolking jeens hulle.  Daar is op verskeie wyses teen “vreemdelinge” (nie-plaaslike inwoners en nie-burgers) gediskrimineer.  Hoewel hulle dieselfde verantwoordelikhede as burgers gehad het, byvoorbeeld ten opsigte van belasting, het hulle beslis nie dieselfde voorregte geniet nie.  Hierbenewens is hulle met agterdog en vyandigheid bejeen, dikwels onregverdig beskuldig en selfs daarvan aangekla dat hulle die oorsaak was van die gode se woede vir plaaslike gemeenskappe.

Watter soort lyding het hulle verduur?  Die meeste navorsers is dit eens dat die gelowiges se swaarkry in 1 Petrus verwys na die plaaslike (meestal nie-amptelike en nie-georganiseerde) diskriminasie wat Christene moes verduur.  Hierdie diskriminasie sou veral voortspruit uit Christene se onwilligheid om aan die stedelike sosiale lewe deel te neem, aangesien dit tot ‘n groot mate deurlopend met afgodsdiens, en die meelopende losbandigheid (4:3), gepaard gegaan het. Die plaaslike Joodse bevolking het hulle netso van die stedelike lewe onttrek, en daarom is beide groepe mettertyd beskuldig van “haat teen die mensdom”.  Daar was groot onkunde onder mense ten opsigte van die christene se gebruike in die erediens, en dit het tot agterdog en selfs die allerverskriklikste beskuldigings gelei, soos bv. kanibalisme (verwysings na bv. die “eet van die liggaam van Christus” met die nagmaal, is verkeerd verstaan!).  Teen 64 n.C., die jaar waarin Nero die Christene in Rome vervolg het vir die groot brand, was die Christene al reeds genoegsaam geïdentifiseer as voorwerp van agterdog dat hulle gerieflik byderhand was vir Nero om die skuld vir die brand op hulle te laai.

Hoewel daar ten tye van die sirkulasie van die brief per geleentheid wel fisiese vervolging van die Christene plaasgevind het, was die aard van die optrede teen hulle meestal verbaal.  Interne getuienis in 1 Petrus ondersteun hierdie afleiding.  Daar is nooit sprake van fisieke aanrandings, amptelike verhore, tronkstraf, teregstellings ensovoorts in die brief nie, maar wel van kwaadpratery (2:12, 3:16), laster (3:16), beswaddering (4:4), belediging (4:14), ens.

Hierdie lyding / diskriminasie is deur die eerste lesers verduur ten spyte van hul onskuld en hul korrekte gedrag (3:13-14, 16), en is dus as ongeregverdig beleef.  Dit was egter iets wat in daardie tyd deur al die gemeentes “dwarsdeur die wêreld” (5:9) beleef is.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 

 




Was 1 Petrus ‘n brief of ‘n preek, en wat was die outeur se doel daarmee?

Was 1 Petrus ‘n brief of ‘n preek, en wat was die outeur se doel daarmee?

Sommige navorsers meen dat 1 Petrus miskien eers as ‘n preek geskryf is en later in ‘n briefvorm gegiet is. Daar word veral voorgestel dat dit miskien ‘n soort dooppreek kon wees. Dit is egter heel onwaarskynlik. Dit word algemeen aanvaar dat 1 Petrus ‘n oorspronklike brief is. Die hoofdoel daarvan was om gelowiges in Klein-Asië te bemoedig terwyl hulle deur die ongelowiges vervolg is, en om hulle op te roep tot onberispelike gedrag ten midde van hul omstandighede

Genre / vorm

Die doel van 1 Petrus hang in baie opsigte af van die slotsom waartoe ‘n mens kom ten opsigte van die genre / vorm van die geskrif.  So beskou sommige navorsers die geskrif as oorspronklik ‘n dooppreek, ‘n preek vir onlangs gedooptes of ‘n uitgewerkte doopliturgie (erediens).  Hoewel die tema van die doop wel in die geskrif voorkom (3:21), en daar tydens die skryf daarvan moontlik gebruik gemaak is van Christelike onderrig- (didaktiese) en liturgiese materiaal, is dit telkens aangewend om die groter doel van die geskrif te dien, soos wat hieronder beskryf word.

Die voorstelle dat 1 Petrus enige iets anders as ‘n ware brief is, is op baie min getuienis binne die teks self gebasseer, en bly gevolglik onoortuigend.  Daarteenoor is daar regdeur die geskrif elemente van ‘n ware brief teenwoordig, en is dit gevolglik die meeste navorsers se oortuiging dat 1 Petrus inderdaad ‘n oorspronklike brief is.

Hierby kan ook genoem word dat dit geskryf is as ‘n omsendbrief.  Die draer van die brief sou waarskynlik per boot arriveer vanaf Rome (waarvandaan die brief gestuur is) in ‘n stad in die Pontus-distrik, vandaar suidelik beweeg deur Galasië na Kapadosië, vandaar weswaarts na die provinsie Asië en laastens weer noordwaarts na Bitinië, vanwaar hy per boot kon terugreis na Rome (vgl. 1 Pet. 1:1).

Doel

Die outeur verwoord self sy doel met die brief soos volg: “Ek het geskrywe om julle te bemoedig en julle te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is.  Staan hierin vas!”  (1 Pet. 5:12b).  Dit is dan ook presies wat hy doen regdeur die brief.  Hy bemoedig die geadresseerdes op grond van die sekerhede van hulle geloof en hul nuwe identiteit in Christus.  Verder moedig hy hulle ook aan om (op grond van hul identiteit as bevoorregtes van God) standvastig te bly en onberispelik op te tree, ten midde van die diskriminasie en vervolging wat hulle beleef het, komende van die ongelowiges in hul gemeenskappe en selfs in hul eie huisgesinne (vgl. 1 Pet. 3:1-2).

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Wie het 1 Petrus geskryf?(2)

Wie het 1 Petrus geskryf?

Daar is genoegsame interne- en eksterne getuienis om daarop te dui dat, na aanleiding van die tradisionele beskouing, Petrus die apostel wel die outeur van 1 Petrus was.

In my ander artikel oor hierdie vraag, beskryf ek die vernaamste eienskappe van 1 Petrus wat baie navorsers laat aflei dat Petrus dit nie self kon geskryf het nie, en noem ek sommige teen-redenasies.

Daar is ook belangrike interne- en eksterne getuienis wat dui op die geloofwaardigheid van die tradisionele beskouing dat Petrus die apostel wel die outeur was.

  • Van die belangrikste interne getuienis sluit in: (a) die outeur word in die brief geïdentifiseer as “Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus” (1:1); (b) die outeur voer aan dat hy “getuie van die lyding van Christus” is (5:1), wat voorkom asof dit ‘n aanspraak is op ooggetuieskap; (c) daar is heelwat ooreenkomste tussen frases wat in hierdie brief gebruik word en dié in die toesprake van Petrus in Handelinge. Hoewel dit alles maniere kon wees waarop ‘n pseudonieme outeur die brief aan Petrus se nalatenskap wou verbind, meen sommige navorsers dat die brief nie die tipiese eienskappe en merkers van ‘n pseudonieme geskrif vertoon nie. [Lees meer oor “pseudonimiteit” in my ander artikel oor 1 Petrus se outeurskap].
  • Die belangrikste eksterne getuienis behels dat daar duidelike verwysings na die brief gemaak word in onder meer geskrifte van Polikarpus, Eusebius, Irenaeus, Tertullianus, Clemens van Aleksandrië en Origenes. Hierdie verwysings deur die kerkvaders toon aan dat die brief van baie vroeg af reeds as gesagdraend en as deel van die Bybelkanon beskou is. Daar is in hierdie verwysings geen aanduiding van enige twyfel ten opsigte van die apostoliese outeurskap van die brief nie.

In die lig daarvan dat die besware teen die outeurskap van Petrus tot dusver telkens met legitieme teen-redenasies weerlê kan word, blyk daar geen goeie rede te wees om die vroegste algemeen aanvaarde kerklike tradisie, naamlik dat Petrus die apostel wel die outeur van hierdie brief is, te verwerp nie.  Trouens, die onomstrede aanvaarding van die brief se legitimiteit  deur die kerkvaders en die vroegste gemeentes (met die veronderstelling van apostoliese outeurskap daarby inbegrepe), blyk veel gewigtiger te wees as redenasies (al is daar ook hoe baie van hulle) wat telkens weerlê kan word.

Ons kan dus met goeie rede aanvaar dat Petrus die apostel wel die outeur van 1 Petrus is, en dat hy gebruik gemaak het van ‘n sekretaris (Silvanus, 1 Pet. 5:12) met ‘n mate van vryheid-van-komposisie

 

Skrywer: Ds Dirk Venter