DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (1)

DIE BRIEF AAN DIE GALASIËRS (1)

Die Brief aan die Galasiërs is deur Paulus geskryf aan Christelike gemeentes in Galasië wat deur sy eie sendingwerk tot stand gekom het. Die rede vir die skryf van die brief is die feit dat hy die ontstellende nuus verneem het dat dwaalleraars besig was om ‘n valse leer in daardie gemeente te verkondig.

Die dwaalleraars was waarskynlik Joodse Christene wat sterk bande met die kerk in Jerusalem gehad het. Hulle het hulleself as Christene beskou en het ook in Christus geglo, maar het geredeneer dat blote geloof in Hom nie genoeg was om deel van God se volk te word nie. Daarom het hulle aan die Christene in Galasië verkondig dat daar nog bykomende vereistes was waaraan hulle moes voldoen voordat hulle deel van God se volk kon word. So byvoorbeeld het hulle van die gelowiges in Galasië verwag om hulle te laat besny (5:2-3) en om die Joodse feeskalender stiptelik na te kom (4:10).

Vir Paulus was die slegte nuus dat baie van die gelowiges blykbaar besig was om hierdie verdraaide leer te aanvaar (vgl. 1:6). Om hierdie rede skryf hy ‘n brief aan die gelowiges in Galasië waarin hy sy absolute bes doen om hulle te probeer oortuig om nie te swig voor die valse leer wat daar verkondig word nie. In sy brief probeer hy die hele tyd om die valse leer te ontmasker en verduidelik hy aan hulle dat dit wat hy aan hulle verkondig het, die ware evangelie is omdat dit van God af kom.

Die eerste lesers van Galasiërs

Kenners is ongelukkig nie vandag meer presies seker na watter gebied Paulus verwys as hy in 1:2 van Galasië praat nie. Dit kan na een van twee gebiede verwys. Dit kon verwys na die landstreek in die hart van Klein-Asië of te wel dan die meer noordelike dele van Klein-Asië. Andersins kan dit verwys na die Romeinse provinsie met die naam “Galasië” wat in 25 nC tot stand gekom het en nie net bestaan het uit bogenoemde gedeelte nie, maar ook meer suidelike gebiede soos Frigië, Likaonië en Pisidië ingesluit het. Galasiërkenners kan ongelukkig nie met absolute sekerheid bepaal na watter een van hierdie twee gebiede Paulus verwys as hy van Galasië praat nie.

As Paulus na die Romeinse provinsie verwys (die mees waarskynlike keuse), beteken dit dat hy die gemeentes tydens sy eerste sendingreis (ongeveer 46-48 nC) gestig het en dat hy dan hierdie brief vanuit Korinte (tussen 50-52 nC) geskryf het. As hy egter na die landstreek verwys, beteken dit dat die brief in Efese geskryf is (tussen 52 en 55 nC).

Die eerste lesers van Galasiërs was nie Jode gewees nie – heel waarskynlik Kelte. Voor hulle Christene geword het, was hulle heidene. Paulus verwys na daardie tyd in hulle lewe as die tyd toe hulle nog geestelik onmondig was (4:3), slawe van wettiese godsdienstige reëls was (4:3) en nikswerd afgode gedien het (4:8). Om tot die Christendom bekeer te word, was vir hulle ‘n wonderlike ervaring (vgl. 4:13-4:15). Juis daarom was Paulus so bekommerd oor die feit dat hulle nou besig was om alles in gevaar te stel.

Die hoofdele van die brief

Galasiërs bestaan uit drie groot dele, met nog ‘n kort inleiding voor- en ‘n slot agteraan. In die inleiding (1:1-10) begin Paulus sy brief op die tradisionele manier. Hy sê van wie af die brief kom, aan wie hy skrywe en groet hulle met ‘n seëngroet. Daarna sê hy hoekom hy die brief aan die gelowiges in Galasië skrywe: Hy wil hulle oortuig dat hulle besig is om ‘n valse evangelie te aanvaar en hulle terugbring na die ware evangelie.

In die eerste groot deel (1:11-2:21) gee hy ‘n oorsig van gebeure uit sy lewe. Hy vertel dit egter beslis nie bloot vir die interessantheid nie. Hy wil op hierdie manier bewys dat die evangelie soos wat hy dit verkondig, reg is en God se goedkeuring dra. (Kenners van Galasiërs praat dikwels hiervan as Paulus se “biografiese argument”.) Daarom mag die Galasiërs nie swig voor die valse leer wat in Galasië verkondig word nie. In die tweede groot gedeelte (3:1-5:12) praat hy eintlik oor presies dieselfde saak. Nou gebruik hy egter ‘n ander benadering. Hy vertel nie meer sy eie lewensgeskiedenis nie, maar gebruik ‘n aantal teologiese argumente om te bewys dat ‘n mens nie jou verlossing kan verdien nie, maar dat God dit genadiglik skenk aan dié wat in Jesus glo. (Kenners van Galasiërs praat hiervan as Paulus se “teologiese argument”.) In die derde groot gedeelte (5:13-6:10) kom Paulus by ‘n volgende saak uit, naamlik hoe behoort iemand wat in Jesus glo se lewe in die praktyk te lyk? (Kenners praat hiervan as die “parakletiese/vermanende gedeelte” in Galasiërs.

In 6:11-18 volg die slot van Galasiërs: Paulus skryf ‘n paar laaste gedagtes neer en sluit dan af met ‘n seëngroet.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie




God se wil vir ons lewe (Wet van God)

God se wil vir ons lewe (Wet van God)

By die Berg Sinaï het God met die Israeliete ʼn ooreenkoms (verbond) gemaak.

Hy het vir hulle gesê Hy sal vir hulle ʼn God wees maar dan moet hulle vir Hom ʼn volk wees. Soos met elke ooreenkoms is daar bepalings wat nagekom moet word. Daarom het God vir die Israeliete Tien Opdragte (Gebooie) gegee wat hulle getrou moes nakom (Eksodus 20). Wat in die Tien Gebooie (ook bekend as die Wet) gestaan het, was God se wil vir sy volk. Die gebooie is algemeen, soos eer jou vader en moeder, wat eintlik respek vir alle mense ouer as jy insluit, of dat jy net een God mag dien.

Toe Jesus die Tien Gebooie moes saamvat het Hy dit in terme van liefde gedoen. Jy moet die Here jou God liefhê met alles wat jy is en het en jy moet jou naaste net so liefhê soos jouself (Matteus 22:37-40). Dit gaan dus nie oor die reëls nie, maar oor die gesindheid. Jy wil die dinge doen wat die Here gelukkig maak, omdat jy Hom liefhet.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Ons gaan weer opstaan, al gaan ons dood (wederopstanding uit die dood)

Ons gaan weer opstaan, al gaan ons dood (wederopstanding uit die dood)

Wat gebeur as ʼn mens doodgaan? Is alles dan verby?

Wel, Paulus het verwag om in die hande van die Here te wees as Hy doodgaan (Filippense 1:23). Daar is dus lewe na die dood. Iewers in die toekoms gaan Jesus weer kom en dan gaan almal wat gesterf het, uit die dood opstaan (1 Tessalonisense 4:16; Johannes 11:23-25). Dit beteken hulle gaan hulle liggame weer terugkry en as volle mense (ʼn mens is altyd ʼn liggaam en ʼn gees) voor die regterstoel van God verskyn. Hierdie liggame van elkeen wat in Jesus geglo het, gaan verander word in verheerlikte liggame om dan vir ewig saam met God te wees.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Jesus kom weer (wederkoms)

Jesus kom weer (wederkoms)

Jesus is gekruisig, maar het uit die dood opgestaan. Hy is terug na sy Vader in die hemel toe. Maar die Bybel sê dat Hy weer terugkom om ons te kom haal (1 Tessalonisense 4:16-17; Johannes 14:1-3). Dan sal Hy ons na die huis van sy Vader in die hemel toe vat om vir ewig daar saam met God te leef. Dit noem ons sy wederkoms.

Daar is al van die vroegste tye af bespiegel wanneer die wederkoms van die Here gaan plaasvind. In 2 Petrus 3:8-9 word ons gewaarsku om nie te veel somme te maak nie. Die Here se tyd werk nie soos ons tyd nie. Vir Hom is ʼn duisend jaar soos een dag en omgekeerd. Jesus sal wel as die tyd ryp is weer kom. Dat die wederkoms gaan plaasvind, is seker. Ons weet net nie wanneer nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy