Die einde of dalk nie? (die dood)

Die einde of dalk nie? (die dood)

Die dood ken ons almal. Dit is omtrent al waarvan jy heeltemal seker kan wees… dat die dood iewers in die toekoms vir jou wag.

In die Ou Testament is die dood as ʼn soort eindpunt gesien. As jy dood is, is alles eintlik verby. God is ʼn God van lewe en as jy dus eers in die doderyk is, is jy weg van God af. Party het selfs gesê dat dit die duiwel se geheime wapen is, juis omdat hulle gedink het dat mense wat dood is van God afgesny is.

Maar Jesus het dinge kom omkeer. Hy het die dood oorwin, wat beteken dat die dood nie meer mense vir altyd van God af kan weghou nie. Die dood is soos ʼn tronk. Mense word daarin toegesluit. Maar Jesus het die sleutels en kan daarom die deure van die tronk (dood) oopsluit soos Hy wil en sy mense uit die tronk (dood) laat uitstap (Openbaring 1:18). Nou het die duiwel nie meer ʼn manier om mense van God af weg te hou nie. Daarom sê die Bybel dat Jesus die dood oorwin het en die ewige lewe vir mense gee (Johannes 3:16).

Ja-nee, Jesus het gewys dat Hy nie net praat nie. Toe Hy self uit die dood opgestaan het – met ander woorde die deure van die tronk oopgebreek het – het Hy gewys dat Hy sterker as die dood is. Die dood hou vir gelowiges geen gevaar meer in nie, juis omdat die krag wat Jesus het, groter as die krag van die “tronkdeure” is.

Daar word ook in Openbaring van die eerste en tweede dood gepraat. Die eerste dood is as ʼn mens fisies doodgaan – dit kan met ons almal gebeur. Die tweede dood is as jy met die finale oordeel voor God dit nie maak nie, ja, as jy nie die ewige lewe by God kry nie (Openbaring 20:14). Dan is jy vir ewig van God geskei, en dit is nie iets wat enigeen seker graag sal wil ervaar nie. Dit is die tweede dood.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Om in die spore van Jesus te loop (Dissipelskap)

Om in die spore van Jesus te loop (Dissipelskap)

Dissipelskap beteken om in die spore van Jesus te loop, ja, om Hom te volg. Jy is sy volgeling, die een wat wil wees waar Hy is en wil doen wat Hy doen.

Jesus het aanvanklik twaalf dissipels gekies wat Hom moes volg terwyl Hy hier op aarde was. Hy het hulle alles gewys en geleer wat nodig was. Hulle het die kern van die latere kerk geword. Net soos hulle dissipels (navolgelinge van Jesus) was, net so moet elkeen wat vandag nog aan Jesus behoort sy navolgeling wees. Jesus het vir ons mooi voorbeelde gegee van wat dit beteken om Hom te volg. Toe Hy oppad was na sy kruisiging het Hy vir sy dissipels gesê hulle moet ook hulle kruise opneem (Matteus 16:24-26). Dit beteken dat hulle nie moet terugdeins as hulle gevra word om hulle lewens vir God se saak te gee nie. Jesus het die pad van lyding en opoffering gestap; hulle moet ook. Dit is eintlik logies, sê Jesus. Wat help dit jy palm die hele wêreld tydens jou aardse lewe in, maar jy verloor die ewige lewe? Dan het jy ʼn ewigheid vir ʼn “paar jaar” geruil.

Om Jesus se dissipel te wees, ja, om Hom te volg, vra opoffering. Dit mag wees dat jy soms nie eers ʼn plek gaan hê om te slaap nie (Matteus 8:18-20). Dan moet jy die Here bly volg. Jy kan ook nie draaie hardloop (nou volg jy die Here vir ʼn rukkie en dan weer nie) as jy sy dissipel wil wees nie (Matteus 8:21-22). Jy moet jou fokus heeltemal op Jesus plaas. Hom moet jy volg!

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Moenie dankie praat nie, doen dit (Dankbaarheid)

Moenie dankie praat nie, doen dit (Dankbaarheid)

Ons sê vandag baie maklik dankie, dikwels sonder dat ons dit bedoel. In die Bybelse tyd was dit die teenoorgestelde.

Mense het nie vir mekaar dankie gesê nie. Hulle het “dankie” geleef. Jy moes jou dankbaarheid met dade bewys en nie net praat nie. Gewoonlik het jy dit gewys deur vir die persoon iets soortgelyks terug te doen of terug te gee as wat hy vir jou gegee het. Mense was dus gedurig in “dankbaarheidskuld” teenoor mekaar. As iemand vir jou geld gee, was jy dus onder die verpligting om dit vir hom op ʼn manier terug te gee, anders was jy nie regtig dankbaar nie. Daarom sê Paulus byvoorbeeld dat ons aan niemand iets moet skuld nie, behalwe om mekaar lief te hê. As jy aan iemand iets anders skuld het daardie persoon ʼn houvas op jou, want jy moet hom terugbetaal.

Met God is dit anders. Omdat God so wonderlik en groot is, kan ons nooit alles aan Hom “terugbetaal” nie. Daarom moet ons vir Hom dankie sê. Ons dankie neem die vorm van lof en eer aan wat ons vir Hom gee. Dankie sê is om die grootheid en almag van God te erken en nie daaroor stil te bly nie.

Maar dan moet ons ook nie vergeet om vir Hom met ons dade ook dankie te sê nie. Die predikante sê baie dat “ons ons lewens” vir die Here moet gee. Wel, wie het vir jou jou lewe gegee? Natuurlik God. As jy dan regtig dankbaar is teenoor Hom, sal jy jou lewe vir Hom “teruggee” deur vir Hom te leef. Of waar kom ons geld vandaan? Natuurlik het ons daarvoor gewerk, maar op die ou einde is die krag, energie, geleenthede, talente en wat nog alles dinge wat God vir ons gegee het. Daarsonder sou ons niks kon uitrig nie. Daarom moet ons ook ons geld tot eer van die Here gebruik… as ons regtig dankbaar is.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die gesalfde van die Here (Christus of Messias)

Die gesalfde van die Here (Christus of Messias)

Ons almal weet van wie ons praat as ons sê: Jesus Christus. Christus is vir ons deel van Jesus se naam, maar eintlik is dit meer as dit.

Christus is die Griekse woord vir Messias, wat weer die Hebreeuse woord is vir “Gesalfde”. In die Bybelse tyd is mense wat belangrike take moes uitvoer met olie “gesalf”. Dit was dan die teken dat God hulle aangewys het om die belangrike ding te doen. So is profete en konings gesalf. Dit was byna soos as jy jou matrieksertifikaat kry. Jy is nou reg om die werkmark aan te pak. So was salwing die teken dat die persoon nou moes begin met sy spesiale taak. Om dus te sê: Jesus Christus, is dieselfde as om te sê: Jesus die Gesalfde.

Maar wat was sy spesiale taak? Hy moet as Koning die heerskappy van God in die wêreld kom aankondig en vestig. Messias beteken dus God se goddelike gesant wat sy mense moet kom red.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy