Siel, gees en liggaam

Siel, gees en liggaam

Hoewel nie al die Bybelskrywers dit doen nie, praat Paulus plek-plek van die mens as “siel, gees en liggaam” (1 Tessalonisense 5:23).

As Paulus so praat bedoel hy nie dat dit die enigste manier is waarop daar oor ʼn mens gepraat word nie. Hy probeer eerder name gee vir drie dinge wat eie is aan die mens:

  • Die liggaam ken ons almal – dit is die deel van jou waaraan jy kan vat.
  • Maar ʼn mens kan ook dink en voel en daaraan kan jy nie vat nie. Jy weet dit is daar, maar dit is onsigbaar. Hierdie vermoë om te “lewe”, te dink, te ervaar, te voel, noem Paulus jou siel en partymaal, as hy nie die Griekse woord vir siel gebruik nie, gebruik hy sommer die woord vir gees. Dit is jou onsigbare deel.
  • Maar ʼn mens is nie ʼn dier nie. Die mens het ook die vermoë om met God te kan praat, om Hom te leer ken en op die geestelike dinge te fokus. Dit is miskien hoekom siel en gees soms langs mekaar genoem word. Om “geestelik” te wees mag meer op jou verhouding met God dui, terwyl siel wil sê dat jy kan dink, redeneer, of voel. In alle geval, woorde is nie so belangrik nie; net solank ons weet waaroor dit gaan.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Ons saak met die Here is weer reg (Regverdigmaking)

Ons saak met die Here is weer reg (Regverdigmaking)

Regverdigmaking, ʼn woord waarvoor Paulus nogal lief is, klink na ʼn moeilike woord, maar dit is eintlik nie so erg nie. Dit is ʼn woord wat destyds in die hof gebruik is. As jy iets verkeerd gedoen het, moes alles is in die hof uitgesorteer word. As jy vrygespreek word en jy stap uit sonder verdere skuld, dan word daar gesê jy is “regverdig”. Met ander woorde, alles is nou weer reg. Die verkeerde dinge is vergete.

Paulus sê ons verskyn voor God, as Regter, met al ons sonde. Jesus tree soos ʼn uitstekende advokaat vir ons in en reël dat ons skulde betaal en ons sondes vergewe word. God verklaar dan dat Hy nie meer ontevrede is nie. Alles is nou weer reg. So “regverdig” Hy ons. Ons is dan regverdiges (mense wat vrygespreek is en vir wie alles nou weer reg is).

As ons dus van “regverdigmaking” in die Bybel lees, lees ons van hierdie proses: God wat ons regverdig verklaar op grond van wat Jesus vir ons gedoen het, sodat ons weer “reg” is voor Hom.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Jesus is aan die regterhand van God

Jesus is aan die regterhand van God

Ons lees in die Bybel dat Jesus aan die “regterhand van God” sit. Party “slimmes onder ons” vra dan soms spottenderwyse waar Jesus dan sit, want die aarde is rond en die ruimte is groot.

Wel, die slimmes is nie slim genoeg nie. Hierdie is ʼn beeld wat gebruik word om vir ons te vertel hoe belangrik Jesus regtig is. In die ou tyd was dit as ʼn tipe gestremdheid gesien om links te wees. Jy moes regs wees, want jy moes regs kon veg. Daarom was die regterkant altyd as die kant van krag gesien. As ʼn koning dus op sy troon sit, het die sterkste en invloedrykste man altyd aan sy regterkant gesit. Dit was die ereplek.

As die Bybel dus sê Jesus sit aan die regterhand van God, beteken dit dat Jesus die invloedrykste, beste posisie het as dit by God kom. Hy is die een wat dinge kan laat gebeur en oor die bose heers. In Openbaring, die laaste boek in die Bybel, deel die Vader en die Seun feitlik dieselfde troon, om so vir ons te sê dat Jesus goddelik is. Daarom kan ons bely dat Jesus God en mens is.

Jy hoef dus nie iewers in die heelal na Jesus te gaan soek nie. Jy kan sommer hier by jou kyk waar die Satan jou probeer aanval. As jou hand stewig in die hand van Jesus is, sal jy Hom sommer hier en nou as oorwinnaar oor Satan ervaar…

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Toordery en towenaars?

Toordery en towenaars?

Towery en geeste opsoek en sulke goed is nie dinge waarmee Christene hulleself moet ophou nie.
Die Here hou nie daarvan nie. Die hart van die probleem is dat God nie verdra as ons magte en kragte buite Hom om eer of erkenning gee nie. Die gebooie sê dat ons God en Hom alleen moet eer en liefhê. Daar is nie plek vir ander nie. Om nou ander magte te eer (hulle sal nie reageer as jy hulle nie eer nie), doen afbreuk aan jou diens aan God. Dit mag nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy