Waarom kan ons die Bybel glo?

Waarom kan ons die Bybel glo?

Ons kan die Bybel glo omdat dit soos ʼn “antieke TV-program” oor God is. As ons daarna “kyk,” sien ons hoe God is. Die hoofakteur is natuurlik Jesus.

Daar word sommer ʼn klomp ongelooflike dinge oor Jesus gesê: Hy is die Seun van God, nee, God self. Hy is die beeld van God en sulke dinge. As Hy dit is… is dit beslis waar ons God gaan kry. As Hy dit nie is nie… is al die Christene oor die eeue vir groot gekke gehou. Dis of die een of die ander.

Wat maak Jesus so spesiaal dat ons in Hom moet glo? Daar word woeste bewerings oor Hom gemaak… byvoorbeeld, dat Hy God is! Hoe op aarde kan jy dit bewys? Wel, as jy sê jy’s ʼn miljoenêr moet jy kan uithaal en wys; of as jy sê jy is ʼn TV ster moet jou gesig darem gereeld op die kassie verskyn, anders is jy ʼn namaaksel, dis verseker. As Jesus sê Hy is God, moet Hy darem seker kan doen wat God doen. En wat kan net God doen? Net Hy kan lewe gee. Dit kan mense nie doen nie. As Jesus dan ook lewe kan gee, moet ons dus aflei dat Hy God is. Hoe anders? En Hy het dit gedoen… met Lasarus (Johannes 11) en nog meer: Hy het self uit die dood opgestaan (Johannes 11:17-18; Johannes 20; 1 Korintiërs 15). Ja-nee, Hy het dood aan ʼn kruis gehang en drie dae later springlewendig met sy volgelinge gepraat. Net God kon van ʼn dooie Jesus ʼn lewendige Jesus maak. Daarom weet ons Jesus staan aan die kant van God. En onthou, God lieg nie en Hy verdra nie ʼn gejokkery nie. Jesus sou ook nie vir ons gejok het nie, juis omdat Hy aan die kant van God staan. Hy kan tog nie aan die eenkant vir God wees en aan die ander kant nie. Ons kan maar glo wat Hy sê. Sy boodskap is die waarheid. Daarom kan ons die Bybel maar glo.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Waarom moet ons die Bybel glo?

Waarom moet ons die Bybel glo?

Waar leer jy God regtig ken?

Party mense sal jou probeer vertel dat jy net moet mediteer – jy ontdek dan sommer god hier binne in jou. Nou wie dink mense gaan jy kry as jy in jouself “ronddelf”. Natuurlik net jouself. Ander stel weer ʼn soektog in die natuur voor. As jy hard genoeg in die bome en blomme soek, gaan jy… bome en blomme kry. Dis verseker. Jy gaan miskien bewus word van die wonder en grootheid van die natuur. Maar die natuur is nie God nie, maar is net die “padteken” na God toe. Jy sal moet verder stap.

Die soektog hou by ʼn Persoon op. Sy naam is Jesus. Hy het vir ons kom wys hoe God lyk en wat God van ons wil hê (Johannes 1:1,18; Kolossense 1:15). Ons hoef God nie uit te dink nie. Hy het deur Jesus vir ons kom wys hoe Hy lyk… ja, ons kon sy liefde en genade sien wat vir ons hoop in die wêreld gee. God het Hom dus aan ons kom openbaar. Hiervan lees ons in die Bybel en daarom noem ons ook die Bybel die Woord van God. God praat daar met ons deur die inspirasie van die Heilige Gees.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Jesus as die Seun van die mens

Jesus as die Seun van die mens

Jesus praat dikwels van homself as die “Seun van die mens”.

Dit is ʼn titel wat uit die Ou Testament kom. Dit is op twee maniere gebruik. Dit kon sommer net beteken dat jy ʼn mens is; jy is die seun van ʼn mens. Maar dit kon ook iets baie groters beteken. In Daniël 7:11-14 word daar ook van iemand soos ʼn menslike wese (seun van die mens) gepraat wat uit die hemel kom. Dit is dus ʼn hemelse of goddelike wese. Die Iemand soos ʼn menslike wese kom om die bose te oordeel (Daniël 7:22). As Jesus van Homself as die Seun van die mens praat, bedoel Hy waarskynlik dat Hy die Een is wat namens God mense kom oordeel.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Jesus se spesiale verhouding met God (Seun van God)

Jesus se spesiale verhouding met God (Seun van God)

Ons lees baie van Jesus as die Seun van God. Die titel wil sy spesiale verhouding met God aandui. In die Ou Testament lees ons dat God sy mense (die Israeliete) as sy kinders gesien het. Die koning van Israel was die seun van God genoem om te sê hoe naby hy aan God is (Psalm 2:7). Hy  moes die volk immers by God verteenwoordig en omgekeerd.

As Jesus as God se gesalfde koning (Messias) kom, dan word Hy ook Seun van God genoem om te wys dat Hy in ʼn besondere verhouding met God staan.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy