Die Here stuur jou om sy boodskap te bring (sending)

Die Here stuur jou om sy boodskap te bring (sending)

Die Here wil nie hê ons moet sy boodskap wegsteek of net vir onsself hou nie. Nee, die boodskap moet uit! Ja, dit moet uit na ander mense wat die Here nie ken nie.

Dat dit vir die Here baie belangrik was, sien ons in die Evangelies. As Jesus sy dissipels in Matteus 28:19-20 vir die laaste maal groet, vra Hy hulle om vir ander mense die goeie nuus te gaan vertel. Dit is sy laaste woorde aan hulle. In Johannes is dit ook die hoofopdrag wat Jesus vir sy dissipels gee (Johannes 20:21). Hy stuur hulle na ander mense toe. Dit is juis wat Paulus doen. Hy stap 14,000 km met die voet om vir ander mense van Jesus te gaan vertel. Na hom het baie ander Christene die boodskap oor die hele aarde gaan versprei. Partymaal het hulle met hulle lewens daarvoor geboet, maar dit het die boodskap nie gekeer nie.

Die Here verwag van elke gelowige om ʼn draer van die goeie nuus oor Jesus te wees.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Seks om te geniet

Seks om te geniet

Ons hoef nie bang of skaam te wees vir ons eie seksualiteit nie.

God het ons so gemaak. Dit is ʼn gawe van Hom af. Maar soos alle dinge wil Hy ook hê dat ons dit verantwoordelik moet gebruik. Hoewel daar in die Bybel ʼn sterk lyn deurloop dat seks se einddoel voortplanting is, kan ʼn mens ook jou seksualiteit bloot net geniet. Kyk maar hoe mooi skryf Hooglied oor die liefde.

Daar is tog ook grense aan die uitleef van ons seksualiteit. Ons kan dit goed gebruik of verkeerd gebruik. Dit hang van ons eie selfbeheersing af, want die drang vir seks voel ons almal maar. Die Bybel voel egter baie sterk oor die huwelik en sien dit as die regte en eintlik die enigste plek vir seks in sy mees intiemste vorm.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Goeie dinge gebeur met jou (seën)

Goeie dinge gebeur met jou (seën)

As jy iemand goeie dinge toewens, seën jy hom of haar. As goeie dinge dan met jou gebeur, ontvang jy seën. Al die goeie dinge wat dus met ʼn mens gebeur, word deur Christene as seën uit die hand van die Here gesien.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel

Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith

Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy

 




Leef vir die Here (Sabbat)

Leef vir die Here (Sabbat)

Die vierde gebod sê dat ʼn mens op die sewende dag, die sabbat, nie mag werk nie, maar moet rus.

Vir die Jode het die hou van die Sabbat – wat Vrydagaand as die son sak begin en duur tot die Saterdagaand as die son sak – die groot bewys geword dat iemand ʼn goeie Jood is wat die Wet gehoorsaam. In Jesus se tyd was die Jode dus baie ernstig oor die hou van die sabbat en as Jesus iets op die sabbat gedoen het, was hulle gewoonlik dadelik omgekrap en moeilik met Hom. Hulle wou selfs so ver gaan om Hom dood te maak daaroor (Johannes 5:18).

Jesus het egter die sabbat anders gesien. Hy het nie gehuiwer om mense op die sabbat gesond te maak nie en het selfs sy dissipels toegelaat om kos op die sabbat voor te brei, iets wat heeltemal verbied was (Matteus 12:1 en verder). As die Jode hom daaroor aanvat, het Hy op verskillende maniere geantwoord. In Johannes 7:21-24 argumenteer Hy dat die sabbat juis daar is sodat mense gesond kan word. Al moet Hy dan werk om iemand gesond te maak, beteken dit juis mos dat Hy doen wat reg is. By ʼn ander geleentheid het Hy gesê dat die mens nie daar is vir die sabbat nie, maar die sabbat vir die mens (Markus 2:27). Die sabbat is nie die groot reël wat die mens domineer nie, maar die sabbat moet vir die mens die geleentheid gee om regtig menswees saam met God te geniet. Hy het verder gegaan en gesê dat Hy die Here van die sabbat is (Matteus 12:8) waarmee Hy geïmpliseer het dat Hy kan sê wat op die sabbat moet gebeur. Die hou van die sabbat mag nooit ʼn reël word wat almal soos slawe dryf nie. Eintlik moet ons elke dag van die week sabbat vier deur vir Jesus te leef.

Christene het later ook Sondag soos ʼn sabbat begin vier omdat Jesus op ʼn Sondag uit die dood opgestaan het.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel

Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith

Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy