Daar is baie gode (Politeïsme)

Daar is baie gode (Politeïsme)

Politeïsme is ʼn woord wat van Grieks afgelei is (poli = baie en teïsme = god).

Dit beteken die geloof in baie verskillende gode. Daar is van die wêreldgodsdienste (bv. die Hindoe geloof) wat politeïsties is. In Jesus se tyd het die Grieke en Romeine ook aan so baie gode geglo. Daar was ʼn god vir omtrent elke ding wat gebeur en bestaan het, bv. vir oorlog, liefde, haat, reën, riviere, die see, en so kan ons aangaan. Jy hoef dus nie al die gode te aanbid of te vereer nie, maar alleen die wat direk te doen het met die dinge wat in jou lewe ʼn rol speel. As jy oorlog toe gegaan het, het jy die god van oorlog vereer; of as jy verlief was, was jy aan die voete van die god van liefde. Die gode was baie soos mense en het hulle soms baie slegter as mense gedra.

Daarteenoor het die monoteïsme (mono = een) van die Jode en die Christene gestaan. Hulle het net aan een God geglo wat alles gemaak het. Die tien gebooie sê dan ook baie duidelik dat jy geen ander gode behalwe hierdie God mag aanbid nie. God laat geen afgode toe waar Hy aanbid word nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel

Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith

Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




ʼn Plan van God vir jou lewe?

ʼn Plan van God vir jou lewe?

God is in beheer van ons lewens, dit glo en bely Christene. Hy het ʼn groter plan met jou lewe.

Maar nie op so manier dat jy self nie ʼn rol in jou besluite speel nie. God het jou ʼn vrye wil gegee.  God het byvoorbeeld ʼn plan dat alle mense gered kan word… maar nie almal word gered nie. God het genoeg genade en liefde vir alle mense op aarde, maar party wil daardie liefde nie hê nie. Dan forseer God hulle nie. Hy nooi maar net weer uit. God het ook beplan dat ons sal leef soos Hy wil hê. Maar nie almal van ons leef so nie.

God stap ook saam met jou deur jou lewe en maak vir jou deure oop en toe. Tog is dit jy wat deur daardie deure moet stap of dalk nie. Dit klink soms onmoontlik, maar met verkeerde besluite wat jy neem kan jy soms God se plan in jou lewe verongeluk. Dit werk amper soos jou pa se plan dat jy universiteit toe gaan en ʼn prokureur word, maar jy verongeluk alles deur nie te studeer nie.

Dit is en bly die moeite werd om God se wil en plan vir jou lewe in gebed op te soek. God gaan jou nie forseer nie; Hy gaan ook nie jou besluite namens jou neem nie. Nee, Hy gaan saam met jou stap en as jy geestelik sensitief is, sal jy sy stem hoor en sy plan in jou lewe sien ontvou. En nog ʼn ding, as jy bereid is om so saam met God deur die lewe te stap, moenie dan te ongeduldig raak nie. Gee God ʼn kans. Vertrou Hom!

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel

Skrywers: Proj Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith

Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Iemand anders in jou plek?! (plaasvervanging)

Iemand anders in jou plek?! (plaasvervanging)

Sjoe, as God ons darem moet straf vir alles wat ons verkeerd doen, gaan ons sleg daarvan afkom.

Verskonings gaan dan ook nie help nie. Om alles nog te vererger, is God nie oneerlik nie, maar regverdig. Daarom kan en sal Hy nie sommer ons sondes oorsien nie. Wat nou gemaak?

Ons hoef nie te skrik nie, want God het ʼn plan gemaak. As jy byvoorbeeld siek word en nie in die netbalspan of rugbyspan kan speel nie, sit hulle iemand in jou plek. God weet ons kan nie regmaak wat ons verkeerd gedoen het nie. MAAR Hy weet van iemand wat dit kan regmaak: Jesus. Wat ons nie kan doen nie, kan Jesus doen. Hy kan in ons plek regmaak wat ons verkeerd gedoen het. Daarom is die gedagte van “plaasvervanging” so belangrik – daarsonder sou ons almal lelik in die moeilikheid gewees het. Maar dankie tog, nou is Jesus daar… en Hy is groot en sterk genoeg om ons te kan help waar ons self nie kan nie.

Moenie dink jy kan sommer self die hemel instap nie. Gee Jesus ʼn kans om jou te help. Vertrou op Hom, want Hy kan waar jy nie kan nie. Waar jou krag ophou, het sy krag eintlik nog nie eers begin nie. Laat Hy in jou plek die dinge doen wat jy nie kan nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel

Skrywers: Proj Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith

UItgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy

 




Is alles God?(Panteïsme)

Is alles God? (Panteïsme)

Daar is mense wat glo dat god alles is en dat alles god is.

Die hele skepping, plante, bome, diere, ja, alles is god. Amper soos ink water heeltemal kleur, is god alles. Sulke mense glo dan gewoonlik nie aan ʼn persoonlike god of ʼn god wat dinge geskep of gemaak het nie. As god alles is, kan hy tog nie alles gemaak het nie – hy kon homself tog nie gemaak het nie. Boonop kan jy hom nie van die aarde en aardse dinge losmaak nie. Hy is die aardse dinge. Daarom is elke mens ook ʼn stukkie god. As jy dan alles bymekaar gaan sit, kry jy god.

Die soort geloof trek ʼn streep deur feitlik alles wat die Bybel ons van God vertel. Hy is ʼn persoonlike God wat alles gemaak het. Hy is nie deel van die skepping nie (net soos klei nie deel van die pottebakker is nie), maar sorg en onderhou die skepping. Hy is nie deel van die skepping nie, maar hou dit in sy hand. En wat mense betref, staan Hy in ʼn besondere verhouding met hulle, sonder om die mense te “word”, soos die panteïste  sê.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel

Skrywers: Proj Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith

Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy