Die Nuwe-Testamentiese Apokriewe

Die Nuwe-Testamentiese apokriewe

Die Ou-Testamentiese apokriewe moet nie met die Nuwe-Testamentiese apokriewe verwar word nie. Dit is twee totaal verskillende groepe boeke met verskillende geskiedenisse. Hulle waarde vir die kerk verskil ook.

Die boeke van die Nuwe Testament is almal voor die einde van die eerste eeu na Christus geskryf. Net soos wat met die boeke van die Ou Testament gebeur het, was dit nie so dat die Christene sommer dadelik geweet het dat net die 27 boeke wat nou in ons Nuwe Testament is, die Bybel sou word nie. Die meeste van die boeke is egter op ʼn natuurlike manier deur die Christene van vroeg af as gesaghebbend gebruik.

 

Daar het egter ook ander boeke in omloop gekom wat soortgelyke name as die boeke van die Nuwe Testament gehad het, maar wat tog nie in die Bybel opgeneem is nie. Hulle het van die volgende eienskappe vertoon:

  • Die dokumente het die name gebruik van die literatuur wat ons uit die Nuwe Testament ken, soos “Evangelie van…” , of “Handelinge van…” of “Brief van…” of “Openbaring van…”. (hulle wil dus net soos die boeke van die Bybel lyk).
  • Die dokumente is ook onder die naam van een of ander belangrike apostel of persoon uit Jesus se tyd geskryf (ons noem sulke boeke “pseudoniem”), met die hoop dat dit die gesag en aansien van die boek sou verhoog.
  • Die meeste van die dokumente is baie later as die tyd van Jesus geskryf – van die tweede tot die negende eeu.
  • Daar word op sake ingegaan wat nie in die Nuwe-Testamentiese boeke staan nie, soos byvoorbeeld, wat Jesus as kind gedoen het, hoe dit gelyk het toe Jesus uit die graf uitgekom het, wat alles met apostels soos Johannes of Petrus op hulle sendingreise gebeur het, en so voorts.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die Hebreeuse Ou Testament word in Grieks vertaal

Die Hebreeuse Ou Testament word in Grieks vertaal

Tot sover het ons gepraat van die Hebreeuse Ou Testament. Op ‘n stadium is dele van die Hebreeuse Ou Testament ook in Grieks vertaal omdat daar na die ballingskap baie Jode buite Palestina gebly het wat nie meer Hebreeus of Aramees kon verstaan nie. In die loop van die derde eeu is begin om die Hebreeuse Bybel in Grieks te vertaal. Dié vertaalproses het tot in die eerste helfte van die eerste eeu voor Christus aangehou. Hierdie Griekse vertaling van die Ou Testament is die Septuagint (afgekort LXX) genoem.

Met die vertaling het dit egter gebeur dat daar heelwat verskille tussen die Hebreeuse Ou Testament en die Septuagint gekom het. Die belangrikste verskil is dat daar ‘n hele klomp byvoegings en selfs ‘n hele klomp ekstra boeke in die Septuagint is wat nie in die Hebreeuse Bybel is nie! Die boeke wat bygevoeg is noem ons deesdae die “Ou-Testamentiese apokriewe”. Van hulle is glad nie eers in Hebreeus geskryf nie, maar in Grieks.

 

Die volgende illustrasie gee vir jou ‘n idee van die boeke wat in die Septuagint was en wat nie in die Hebreeuse Bybel was nie.

SEPTUAGINT

(Griekse weergawe van die Ou Testament met die apokriewe)

Ontstaan vanaf die derde eeu voor Christus tot die eerste helfte van die eerste eeu voor Christus

 

 

 

 

 

Griekse vertaling van die 39 boeke wat in die Hebreeuse Ou Testament (en in die Ou Testament in ons Bybel) is

 

PLUS

 

Griekse weergawes van die volgende boeke (oftewel die apokriewe boeke):

1 Esra

Byvoegings tot Ester

Judit

Tobit,

1, 2, 3 en 4 Makkabeërs

Odes van Salomo

Die Wysheid van Salomo

Die Wysheid van Ben Sirag

Die Psalms van Salomo

Barug

Die Brief van Jeremia

Byvoegings tot Daniël:

Gebed van Asarja en Die lied van die drie jong manne

Susanna

Bel en die Draak

 

 

Skrwyer: Prof Jan van der Watt

 

 

 




Die Ou-Testamentiese Apokriewe

Die Hebreeuse Ou Testament

In die Hebreeuse Ou Testament is daar 39 boeke wat gewoonlik in drie groepe verdeel word: die wet, die profete en die geskrifte.

 

  • Die wet bestaan uit 5 boeke: Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium. Die vyf boeke van die wet is eerste geskryf en is ook die boeke wat eerste as gesaghebbende boeke aanvaar is. Geleerdes dink dat hierdie boeke alreeds in die tyd toe die Jode teruggekom het uit die ballingskap erken is as gesaghebbende boeke wat van God af kom; dus ongeveer in die vyfde eeu voor Christus.
  • Die profete sluit boeke soos Josua, Rigters, Jesaja, Jeremia, Hosea, Joël en Amos in. Dit lyk of hierdie boeke reeds teen ongeveer 200 voor Christus as gesaghebbende boeke aanvaar is.
  • Die derde groep, die geskrifte, bestaan uit boeke soos Psalms, Spreuke, Job, Prediker, Daniël en Ester. Teen die tyd dat Jesus op aarde was, is die meeste van hierdie boeke alreeds deur baie Jode as gesaghebbend aanvaar, maar dit was eers teen ongeveer 90 – 100 na Christus dat min of meer duidelikheid verkry is dat al die boeke wat deel uitmaak van hierdie groep, gesaghebbend is. Selfs daarna was daar nog hier en daar ’n Joodse geleerde wat gewonder het of boeke soos Esegiël, Spreuke, Hooglied, Prediker en Ester deel van die Hebreeuse Bybel moet wees of nie.

HEBREEUSE OU TESTAMENT

Wet

As gesaghebbend aanvaar teen ongeveer 450 voor Christus

Profete

As gesaghebbend aanvaar teen ongeveer 200 voor Christus

Geskrifte

Die laaste boeke van die geskrifte as gesaghebbend aanvaar teen ongeveer 100 na Christus

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Jakobus 2:1–4: Wat is die implikasies

Jakobus 2:1–4: Wat is die implikasies

Uit Jakobus 2:6 is dit duidelik dat hierdie onderskeid wat gemaak word, die arm man oneer aandoen.

Die arm man se moontlikhede word in beide gevalle met die ryk man gekontrasteer: “hier” staan teenoor “daar” en “gerieflik” staan teenoor “die sit op die grond”. Sosiaal word daar dus gekommunikeer dat die arm man minderwaardig is.  Normaalweg kan daarvan uitgegaan word dat die meer eervolle plek die plek nader aan die huisheer of die leier van die gemeente is.  Die arm man wat buite in die binneplein moet gaan staan, word so afstandsgewyse van die eervolle plek af wegbeweeg.  Dat dit sosiale onderskeid beteken is duidelik.  As die man ’n plek in die kamer aangebied word, is dit op die grond – degradering van die arm man is duidelik.  Dit word wel nie in die teks gesê nie, maar word tog gesuggereer deur die feit dat die ryk man so ’n lekker sitplek gekry het. Die probleem hier is dus die sosiale aantasting van die arme bloot op grond van sy kleredrag en dit in ’n openbare plek soos die byeenkoms van die gemeente. Die plekke wat toegeken is, het die sosiale waarde van die persoon aangedui en op die wyse is die arme oneer aangedoen.  Dit kom neer op die perspektief waarmee daar na die gebeure in hierdie wêreld gekyk word. ’n Mens kan deur die oë en met die wysheid van ’n mens kyk – dan sien jy aardse rykdom en status raak; maar ’n mens kan ook deur die oë en met die wysheid van God kyk – dan lyk mense en wat hulle doen vir jou anders (sien Jakobus 3:13-18).  Dit is wat daar na alle waarskynlikheid bedoel word met die woorde: “Het julle nie dan mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?” (Jakobus 2:4).
Skrywer: Prof Jan van der Watt