Vergifnis – “En vergeef ons ons skulde…”

“En vergeef ons ons skulde…” (OAV)

Die vyfde bede van die Ons Vader verwys na die geestelike worsteling van gelowige kinders van die Here.

Martin Luther skrywe: “Al ken ons God se Woord en glo en doen God se wil en onderwerp ons daaraan, en al word ons daagliks deur God se seëninge gevoed, is ons lewens nie vry van sonde nie. Ons struikel en oortree daagliks” (ML LC 116). Die rede wat hy aangee, is tipies van Luther se humor: “omdat ons lewe tussen mense wat ons baie irriteer en aanleiding gee tot ongeduld, woede, wraak en allerlei sulke emosies” (Ibid).

Boonop val die duiwel ons sonder ophou aan. Dit is nie moontlik om altyd staande te bly in so ʼn voortdurende geveg nie.

Dit alles maak duidelik hoe ʼn groot behoefte ons het om gereeld uit te roep; “Liewe Vader, vergewe ons ons skulde”.

Nog voor ons vra, vergewe Hy al. Hy het immers vir ons die Goeie Nuus, die evangelie, gegee waarin daar niks behalwe vergifnis is nie – nog voor ons daarom kon vra. Die belangrike punt is: die erkenning en aanvaarding van hierdie vergifnis.

Hy skrywe: “Laat niemand hom verbeel dat hy ooit in hierdie lewe kan uitstyg bo die behoefte aan vergifnis nie. In kort: tensy God sonder ophou vergewe, is ons verlore” (ML LC 117).

Hierdie bede verstaan Luther dan as ʼn versoek tot God om nie met ons te handel volgens ons sondes en ons te straf volgens ons ongeregtighede nie, maar om met genade ons sondes weg te was en ons vrye gewetens te gee om voor Hom te staan. Vergewe God ons, verkry ons daarop vaste vertroue en ʼn blye hart (ML LC 117).

Luther se uitspraak: die gelowige is gelyk sondaar en heilige, is hierby baie belangrik. As Christene dra ons die beeld van Christus. Hy skrywe: “By die kruis word elke gelowige ʼn dubbele persoon- dom in die vlees, wys in die Gees, uiterlik verwerplik, innerlik verheerlik, soos elkeen in Christus deel het aan sy menslike swakheid wat ons swak, angstig, gevangenes en slawe maak, maar deur sy Godheid ons kragtige kinders van God maak,  soos gode, vrye edelmanne” (in Lienhart 123)

Die innerlike teenstrydigheid hiervan moet ons vashou. Hoe anders kan ons die Ons Vader gebed dan verstaan? Jesus leer immers sy kinders, sy volgelinge, hoe om daagliks te bid – vir vergifnis van sonde en bevryding van die mag van sonde.

Sou ons deur geloof of doop heeltemal vry wees van alle sonde, of volkome vry van die sondige natuur, sou ons tog eerder elke dag God moes dank vir ons voortdurende oorwinning oor die sonde. En dan begin ons gebed gevaarlik naby klink aan die dankgebed van die Fariseër voor in die tempel … “Ek dank U dat ek nie so sondig soos daardie tollenaar is nie…ek dank U dat my lewe so voortreflik (sondeloos?) is …” (vgl. Lukas 18)

As Paulus in Kolossense 2 vertel hoe ons sondige natuur weggeneem word deur die doop en dat ons so die besnydenis deur Christus ontvang het, sien hy dit ook, myns insiens, as so ʼn innerlike teenstrydigheid: die sonde is oorwin, ons sondige natuur saam met Christus gekruisig, en tog moet ons elke dag die sonde in ons doodmaak, die sondige begeertes wat in ons opwel, beheer en ons gedagtes voortdurend rig op Christus wat in die hemel is (Kolossense 3).

Skrywer: Dr D J Malan – VDM Kempton-Kruin NG Kerk

 


Bibliografie:

 

Leeswerk oor Luther:

Afkortings aan einde van elke werk

Martin Luther:

Luther Deutsch Die Werke Martin Luthers, Hg K Aland, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen, 1983(2 Auflage), Band 1-10. [LD]

Band 1: Die  Anfänge

Band 2: Der Reformator

Band 3: Der neue Glaube. Insluitend Der Grosse Katechismus 1529 wat ook Das Vaterunser bevat p. 96 -116.

Band 4: Der Kampf um die reine Lehre

Band 5: Die Schriftauslegung

Band 6: Kirche und Gemeinde

Band 7: Der Christ in der Welt

Band 8: Die Predigten

Band 9: Tischreden

Band 10: Die Briefe

 

Martin Luther’s Works, 21, The Sermon on the Mount, ed. J Pelikan.Concordia, Saint Louis, Missouri, s.a. (LW)

Luther’s large cathecism, tr J N Lenker, Augsburg, Minnesota, 1967. (ML LC). Vertaling van dele van Band drie van Luther se versamelde werke.

Martin Luther Spiritual Classics (ML SC), Red Robert van de Weyer, Fleming Revell, New York, 1991.

Martin Luther’s basic theological writings,ed Lull T F, Fortress Press, Minneapolis, 1989 (BTW).

 

Ander outeurs:

Cunningham, W, The Reformers and the Theology of the Reformation, Banner of Truth, Edinburgh, 1862 (eerste uitgawe) – derde uitgawe 1979.

Gritsch, EMartin – God’s Court Jester. Luther in Retospect, Fortress, Philadelphia, 1983.

Hanegraaf, H The prayer of Jesus, W Publishing Group, Nashville, 2001.

Jonker, WD Bevrydende Waarheid, Hugenote Uitgewers, Wellington, 1994.

Köstlin, J Martin Luther, the Reformer, tr by EP Weir, Cassel, Parys, 1884 (4de uitgawe).

Liardon, R, God’s Generals II, The roaring Reformers, Whitaker House, Laguna Hills, California, 2003.

Lienhard, M, Luther, witness to Jesus Christ, tr.by EH Robertson, Augsburg, Minneapolis, 1982

Praamsma, De kerk van alle tijden, IV, Wever, Franeker, 1981.

Von Loewenich, Walter, Martin Luther, The Man and his Work, tr by LW Denef, Augsburg, Minneapolis, 1982.

 




Aan ‘n kruis of dalk net aan ‘n paal?

Aan ‘n kruis of dalk net aan ‘n paal?

Daar is persone wat ‘n saak daarvoor uitmaak dat Jesus nie aan ‘n kruis gekruisig is nie, maar aan ‘n paal.

Hulle argumenteer dat ‘n paal klop met al die gegewens wat beskikbaar is. ‘n Paal steek byvoorbeeld bo Jesus se kop uit en die nota (titulus) kan daar vasgemaak gewees het; Jesus sou die paal kon dra; hulle sou sy voete en hande kon vasspyker (en veral sy voete, want as jy aan ‘n paal hang mag jy dalk te lank wees met jou uitgestrekte arms, sodat jou voete dalk aan die grond mag raak dan moes dit vasgespyker word met jou knieë wat gebuig is, ens).

‘n Verdere argument word gebaseer op Deut 21:22-23 (waar daar na ‘n boom of houtpaal verwys word) wat in Galasiërs 3:13 aangehaal en met die kuis van Jesus verbind word. Paulus sien dus ‘n verband tussen die houtpaal en die kruis. Reeds met die vertaling van die Septuagint het die gedagte dat Deuteronomium 21 net na dooie liggame verwys wat aan ‘n houtpaal of boom gehang is, begin vervaag en het dit na kruisiging ook begin verwys. Dit maak dit moontlik om tog te oorweeg of Jesus nie aan ‘n houtpaal gekruisig is nie. Johannes 3:14 kan hiermee saamgelees word. Die kruis van Jesus word hier vergelyk met die slang wat deur Moses in die woestyn verhoog is – merkwaardig dat Johannes kan voel dat die kruis van Jesus met die paal van die slang vergelyk kan word.

Ten spyte hiervan is die heersende opinie tog dat die kruis waaraan Jesus gesterf het, die tradisionele vorm wat ons ken gehad het. Tog moet ons erken dat niks met 100% sekerheid gesê kan word nie. Dit gaan meer oor waarskynlikhede.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Merke in Jesus se hande en voete?

Merke in Jesus se hande en voete?

Het jy geweet dat nie Markus of Matteus van enige spykers of van merke in die hande of voete van Jesus praat nie?

By Lukas (24:39-40) hoor ons dat Jesus sy hande en voete (nie die merke nie) vir sy dissipels wys as bewys dat dit Hy in lewende lywe, ja, in vlees en bloed is. Dit is Johannes wat ons hier ‘n bietjie verder help. Daar sê Tomas: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” (20:25) en dan antwoord Jesus hom: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy” (20:27). Hier word die spykers in die hande (nie in die voete nie) direk genoem. Lukas noem van die voete, maar nie van die spykers nie. So, met die saamsit van die gegewens is daar uiteindelik afgelei daar was spykers in Jesus se hande en voete, maar dit staan nêrens so in die Bybel nie. Die probleem is verder dat ons nie soveel weet van hoe die spykers gebruik is nie – daar is baie min daaroor uit die antieke wêreld bekend. Ons weet byvoorbeeld nie waar die spykers ingeslaan is nie (hoewel daar een opgrawing is waar die spykers deur die enkel geslaan is), of wanneer daar van toue en wanneer van spykers gebruik gemaak is nie. Hoe is gekeer dat die spykers nie uitskeur nie? Uit hierdie getuienis van Johannes, Paulus en moontlik Lukas ook, asook die argeologiese getuienis blyk dit of daar met redelike sekerheid aangeneem kan word dat Jesus wel met spykers aan die kruis vasgemaak kon gewees het. Of beide sy hande en voete aan die kruis vasgespyker is, bly onseker.

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 




Hoe is Jesus van die kruis afgehaal?

Hoe is Jesus van die kruis afgehaal?

Dit klink miskien na ‘n onnodige vraag, maar as ‘n mens in gedagte hou dat Jesus in die middel van die dag gekruisig is en die son al byna begin water trek het toe Hy dood is, raak die vraag meer interessant.

Dinge moes vinnig gaan om alles voor sononder klaar te kry. Die getuienis uit al vier evangelies stel dit bloot dat Jesus se liggaam afgehaal en weggeneem is. Van die wyse waarop Hy afgehaal is, word niks gesê nie. Dit was destyds nie so maklik om ‘n vasgespykerde liggaam van die kruis af te kry nie. Die spykers is goed ingekap en is oënskynlik soms omgeklink, volgens van die opgrawings wat al gedoen is. Uit die opgrawings blyk dit ook dat van die spykers so dik soos ‘n man se vingers was. As jy dus ‘n liggaam van die kruis moes afhaal, moes jy eers met die spykers spook. Dit kon nie maklik gewees het nie, want die hande en voete (gewrigte) was nie hard sodat jy dit maklik kon uitkry nie. Dit lyk selfs of die vasgespykerde hande en voete soms afgekap is om die liggaam vinniger af te kry. As in ag geneem word dat die helpers van Jesus in ‘n wedloop teen die naderende sonsondergang (Sabbat) was, sou so-iets dus ‘n moontlikheid kon gewees het. Die moontlikheid hiervoor word selfs groter as opgemerk word dat volgens Matteus 27:58-59 Josef skynbaar nie self die liggaam van die kruis afgehaal het nie, hoewel Markus 15:46 en Lukas 23:53 egter sê dat Josef dit wel gedoen het. Soldate sou waarskynlik nie dieselfde respek vir die liggaam gehad het as wat sy dissipels sou gehad het nie. Daar is egter geen direkte getuienis oor hoe die liggaam van die kruis afgehaal is nie, wat maar net sê dat die tekeninge en skilderye wat ons so dikwels sien met die gaatjies in Jesus se hande en voete nie noodwendig die regte voorstelling is nie.

Skrywer: Prof Jan van der Watt