God se beloftes – Francois Malan

Wilna vra:

Ek sal u hulp so waardeer – ek moet die naweek 31 Mei tot 2 Junie ‘n kort opsomming gee van al God se beloftes in die Bybel. Ek weet daar gaan meer wees as die tyd wat ek tot my beskikking het en sal graag dit mooi vir elke kamplid wil afrol en bind vir latere studie.

Tweedens moet ek ook ‘n kort rukkie oor God se wonderwerke gesels en hoe dit vandag op ons van toepassing is – ek het al my huiswerk begin doen met “vers van die dag” wat gelykenisse behandel het maar ek wil regtig treffendes met hul deel en die res weer vir hul afrond

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

1 ’n Kort opsomming van al God se beloftes in die Bybel:

Matteus 28:20b Jesus se laaste woorde aan sy volgelinge aan die einde van Matteus se Evangelie: ‘En kyk! Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.’

Dit is ’n toespeling op Haggai 1:13 waar Haggai as die boodskapper in opdrag van die Here vir die volk sê: ‘Ek is by julle’ sê die Here. Die naam ‘Here’ is ons vertaling van die Hebreeuse naam Jahweh wat die Here vir Moses by die braambos gegee het, en beteken Die ‘Ek is’ wat altyd aktief by julle teenwoordig is. Lees Eksodus 3:14-15.

Vgl. ook Matteus 11:28-30 Kom na My toe almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee…julle sal rus vind vir julle gemoed’

 

In Johannes 14 sê Jesus dit nog duideliker in vers 15-17 dat as ons Hom liefhet, ons sy opdragte sal gehoorsaam, nl. sy nuwe opdrag dat ons mekaar moet liefhê soos Hy ons liefgehad het (Joh 13: 34-35). En Hy sal die Vader vra en Hy sal vir ons ’n ander Parakleet (wat aan ons bystand verleen: ’n voorspraak, ’n pleitbesorger, ’n trooster, ’n helper) gee, sodat Hy ewig by ons kan wees. Hy is die Gees van die waarheid, die Heilige Gees wat by ons sal bly en in ons sal wees.

In vers 23 gaan Jesus nog verder: ‘As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.’ – Die Drie-enige God, Vader Seun en Heilige Gees kom woon in ons as ons in Jesus glo as God wat vir ons sondestraf en sondesmet aan die kruis gesterf het. Dis God se grootste liefdesdaad, om ons verhouding met God reg te maak, sodat ons kinders van God kan wees wat Hy as ons Vader in sy bewaring en onder sy leiding neem (vgl. Joh 16:8-11).

Paulus sê dieselfde in Romeine 8. Lees maar die hele hoofstuk. In verse 14-17 sê hy: ‘Almal wat deur die Gees gelei word, hulle is kinders van God……julle het die Gees van kindskap ontvang, deur wie ons roep “Abba, Vader” (Abba is die Aramese woord waarmee Jesus sy Vader aangespreek het, Markus 14:36). Maar as ons kinders is, is ons ook erfgename van God en mede-erfgename met Christus, sodat, as ons saam met Hom ly, ons ook saam met Hom verheerlik kan word.’

vers 31-39  ‘As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het – sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie? Wie sal die uitverkorenes van God aankla? God is die een wat vryspreek deur ons verhouding met Hom reg te maak. Wie sal ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf – meer nog, dit is Hy wat opgewek is, wat ook aan die regterhand van God sit (soos Psalm 110:1 sê), wat ook vir ons intree….niks kan ons van die liefde van Christus skei nie…in alles is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het…..niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie.’

2 God se wonderwerke word elke dag misgekyk. Hy gee aan ons om elke dag op te staan en te lewe, en die nag om ons te laat rus en te herstel. Hy gee ons die vermoë om te dink en te werk sodat Hy ons elke dag ons daaglikse brood kan gee, deur die reën op die lande, deur die wysheid en ywer van die boer, en die meulenaar en die bakker en die winkeleienaar wat dit vir ons beskikbaar stel. Hy gee ons gesondheid en versorging as ons siek is deur verpleegsters, en dokters en aptekers wat toegewyd is en wat Hy met die nodige kennis en vaardigheid toegerus het. Hy bewaar ons op die pad teen ongelukke en gevare dat ons saans veilig tuis kom, en Hy bewaar ons van die bose dat ons nie aan versoekings toegee en onsself vernietig nie. En Hy het in ons kom woon om ons daagliks te lei in ons denke en optrede, sodat ons in ons daaglikse werk ander mense kan dien in kantore, skole, hospitale, huise, ens. (vgl. die maatstawwe waaraan ons gemeet sal word deur die hemelse Regter Matteus 25:31-46).

Die werk van die Heilige Gees in ons om ons te verander na die beeld van Christus (2 Kor 3:18) word in Galasiërs 5:22-23 uitgespel: die vrug van die Gees is liefde, vreugde/blydskap, vrede, vriendelikheid, geduld, goedheid, getrouheid, nederigheid/sagmoedigheid, selfbeheersing. Dit is wat die Here van ons wil maak. Om te sien hoe die Here ’n mens verander om so te lyk is seker die grootste wonder van God – om God se beeld van liefde uit te straal, want God is liefde (vgl. 1 Joh 4:8-21 en Eksodus 34:5-7). Liefde is ’n verhoudingswoord, en liefde is die eenheidsband tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Hy wil ons in sy ewige liefde opneem deur in ons te kom woon sodat ons mense mekaar ook so sal liefhê, deur mekaar te vergewe en mekaar op te bou deur mekaar in liefde te dien by die huis en by die werk en by ons ontspanning.

Ek is ’n bietjie bang vir ‘jouself liefhê’. Dit doen ons vanself. Maar om Hom lief te hê en ons naaste soos ons onsself liefhet (Matteus 22:34-40), is ons roeping. Meer nog, om volmaak te wees soos ons hemelse Vader wat oor goeie en slegte mense sy son elke dag laat opkom en laat reën op wetsgehoorsames en wetsongehoorsames, moet ons ons vyande liefhê (Matteus 5:43-48; vgl. Romeine 12:20-21).

Skrywer: Prof Francois Malan




God Se Woord – Francois Malan

Martin vra:

Ek het my hele lewe lank nooit God se Woord gelees of geken nie. In die huis was nie so iets soos godsdiens of kerk in enige manier van gepraat nie.Ek is vandag 57,en probeer dinge optel en al meer vrae duik op en ek sukkel om werklik met die Woord reg te kom en te verstaan.Ek glo dat God bestaan, maar op die oomblik is ek werklik op soek na iets om aan werklik vas te hou in die Woord. Ek het my lank met drank en vriende omgegaan,en het op n tyd rondgeslaap terwyl ek getroud is. Dit is net asof iets my ongeveer 3 jaar gelede gestop het,en almeer na God se Woord begin soek en n waarheid wat vir my kan sê en wys dat God werklik is. Ek het n ruk lank die bybel begin lees ens, totdat my vrou eendag gese het jy kan die “stuk ding”maar verbrand. Ek het opgehou lees, maar kyk en luister net waar ek kan en kans het na die woord, soekende na God.Waar en hoe soek en vra ek om vergifnis vir alles,wat ek aangejaag het, teen God gesondig as ook aan almal om en met my. Dankie

 Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

Nadat Israel ’n goue kalf gemaak en dit aanbid het, het Moses wat, op bevel van die Here die volk Israel uit die slawerny van Egipte gelei het, vir die Here gesê: ‘Hierdie volk het ’n ernstige sonde gedoen deur vir hulle ’n god van goud te maak. Vergewe tog hulle sonde (Eksodus 32:31-32). Daarna het die Here Hom aan Moses soos volg bekendgemaak:

            ‘Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie’ (Eksodus 34:6-7).

 Die naam ‘Here’ is ’n vertaling van die Hebreeuse naam Jahweh wat die Here aan Moses bekendgemaak het toe Hy hom geroep het om Israel uit Egipte te lei. Moses het gevra wat Hy vir Israel moet gaan sê is die naam van die God van hulle voorvaders Abraham, Isak en Jakob wat hulle uit die slawerny sal verlos. Toe sê God vir Moses: ‘Ek is wat Ek is.’ Jy moet vir Israel gaan sê Jahweh,  ‘die Ek is,’ die God van Abraham en Isak en Jakob, het my na julle toe gestuur. Dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word (Eksodus 3:13-15). Die Naam beteken: ‘Ek is altyd en oral aktief teenwoordig’ en dit as die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Dit is die God wat vergewe as daar berou is oor die sonde.

 So het God Hom in die Ou Testament bekendgemaak. In die Nuwe Testament het God veel meer gedoen. Hy het sy enigste Seun gestuur, wat in die Ou Testament reeds opgetree het as die Woord van God, wat in die begin by God was en self God was. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense (Johannes 1:1-4). Genesis 1:3: Toe het God gesê (deur sy Woord): ‘Laat daar lig wees. En daar was lig, ens.’  ‘Dié Woord het mens geword en onder ons kom woon…die enigste Seun van die Vader, vol genade en waarheid…die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom, Hy het die Vader aan ons bekend gemaak’ (Johannes 1:14-18). Van Hom sê Paulus: ‘Vir ons is daar één God, die Vader, uit wie alles is en ons vir Hom, en één Here, Jesus Christus, deur wie alles is en ons deur Hom.’ (1 Korintiërs 8:6).

 Die ware lig wat elke mens verlig was in die wêreld en die wêreld het deur Hom ontstaan, en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het gekom na wat syne was, en tog het sy eie mense, die volk Israel, Hom nie aanvaar nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, hulle wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word (Johannes 1:8-12).

 Die wonder dat God ons as sy kinders aanneem kon slegs gebeur deurdat Jesus Christus, self God, aan die kruis gesterf het vir die sonde van die hele wêreld. Hy wat God is wat mens geword het, het die straf van God op die sonde van die mensdom op Hom geneem. Daardeur is ons verhouding met God reggemaak. Ons word deur God vrygespreek deur sy Seun se offer van Homself aan die kruis aan te neem. As ek glo dat Jesus ook vir my sonde gesterf het, en opgestaan het sal ek ook saam met Hom kan begin lewe vir God en my medemense.   

 Paulus skryf daaroor in Romeine 5. ‘Omdat ons nou op grond van geloof geregverdig en vrygespreek is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in geloof ook toegang tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons jubel oor die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God…ook te midde van verdrukking…En die hoop beskaam nie, want God se liefde is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is….God bewys sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was…’ (Romeine 5:1-8).

 Die Heilige Gees van God wat in ons kom woon het, verander ons lewe. Hy lei en leer en versterk ons in die geloof in God (Johannes 14:15-17; 16:8; Romeine 8:11.14). Die vrug van die werk van die Heilige Gees van God in ons, is liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid/nederigheid, selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23).

 Paulus sê: ‘God is vir ons, wie kan teen ons wees? Niks kan ons skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie’ (Romeine 8:31 en 39).

 Jy vra: ‘Waar en hoe soek en vra ek om vergifnis vir alles, wat ek aangejaag het, teen God gesondig asook aan almal om en met my.’ Waar? – enige plek waar jy ookal kan wees, want God is oral en altyd teenwoordig in sy skepping.

 In Ps 139:1-12 sê Dawid: ‘Here, U deursoek my en ken my. U ken my sit en my opstaan; van ver af verstaan U wat ek in gedagte het. My omswerwinge en waar ek rus – U het dit afgemeet; al my paaie is aan U bekend. Ja, daar is nog nie eers ‘n woord op my tong nie, of U, Here, ken dit volledig. Van agter en van voor omsluit U my; U plaas u handpalms op my. Om dit te verstaan, is ’n te groot wonder vir my; dit is te hoog, ek kan dit nie begryp nie. Waarheen kan ek gaan, weg van u Gees; waarheen kan ek vlug, weg van u teenwoordigheid? Klim ek op na die hemel – U is daar; gaan lê ek in die doderyk – ook daar is U! Neem ek die vlerke van die daeraad, gaan woon ek by die einde van die see; ook daar sal u hand my lei, u regterhand my vashou. En al sê ek, “As duisternis my maar net wil oorval, en die lig om my nag word”, is selfs die duisternis nie vir U donker nie, maar skyn nag so lig soos dag, is die duisternis soos die lig.’ 

 Dat iets jou ongeveer drie jaar gelede gestop het – jy kan seker wees dit is die Here wat met jou besig is. Selfs nadat jy ophou Bybel lees het, is die Here nog steeds met jou besig. Daarom het jy op 17 Mei met jou vrae na die webwerf gekom. 

Hoe ’n mens na die Here toe kom – in gebed. Deur te glo dat God by jou is en jou hoor as jy in gebed met Hom praat, al is dit ’n stilgebed.

 Jesus het die gelykenis vertel van die Fariseër en die tollenaar wat by die tempel gebid het (Lukas 18:9-14). Die Fariseër het vir die Here vertel hoe goed hy is. Die tollenaar het net gesê: ‘O God, wees my, die sondaar, genadig!’ ‘Jesus het vir sy volgelinge gesê, ‘hierdie man, eerder as die ander een, het na sy huis gegaan as iemand wie se saak met God reggestel is.’

 Skrywer:  Prof Francois Malan




Die Evangelie volgens Lukas: God se vreugde oor die bekering van die sondaar (Luk 15:1-10) – Francois Malan

Die drie gelykenisse oor die groot vreugde oor verlorenes wat gevind word, het ’n onderbou uit Jeremia 31:10-20:

  •             Die verlore skaap, vgl. Jer 21:10-12 oor die Here as wagter van sy trop skape wat Hy verlos het.
  •             Die verlore penning, vgl. Jer 21:13-14 die jongmeisies wat sonder kommer sal dans van blydskap.
  •             Die verlore seun, vgl. Jer 21:15-25 Rachel treur oor haar kinders wat weg is, die Here sê: jou kinders, wat  weggedwaal het, sal terugkom, hou jou oog op die grootpad. Die  Here skep iets nuuts.

15:1-2 Die drie gelykenisse sluit aan by die groot feesmaal van Luk 14:15-24, waar die onaanvaarbares aansit omdat die genooides verskonings het. Luk15:1-2 sluit daarby aan met die skrifgeleerdes en Fariseërs wat onder mekaar gemor het omdat Jesus tollenaars en sondaars ontvang en saam met hulle eet. Al die tollenaars en sondaars is ’n opsommende uitdrukking om te sê, oral waar Jesus kom, kom die sondaars en tollenaars van die dorp na Hom luister (vgl. Luk 5:30). Die skrifgeleerdes en Fariseërs mor soos hulle voorvaders in die woestyn (Eks 16:2,7,8 1983 vertaal murmurering met ‘verset’). Jesus ontvang sulke mense vriendelik. Die tollenaars en sondaars is bly dat Hy hulle so ontvang en dat Hy saam aan hulle feesmale aansit. Jesus verteenwoordig die sondaarsliefde van God, sodat ons sondaars met Hom gemeenskap verkry met die God van geregtigheid. Deur Jesus se liefde, wat Hom vir die sonde van die wêreld laat sterf, word ons sondaars se verhouding met God reggestel. Dit staan teenoor die ‘regverdiges’ wat meen dat hulle hulle téén Jesus kan beroep op die God van geregtigheid. Daarom roep Jesus die morrende ‘regverdigdes’ op met die drie gelykenisse tot vreugde oor een sondaar wat hom bekeer. Jesus regverdig sy optrede teenoor die uitgeworpenes deurdat God se liefde nie wag vir die sondaar se berou oor sy sonde nie, maar dat Hy die inisiatief neem om die skaap tot herstel te bring.

Tollenaars is deur die Jode, en veral deur die godsdienstige leiers, verwerp, o mdat hulle beskou is as verraaiers wat in diens staan van hulle onderdrukkende Romeine, en hulleself verryk ten koste van hulle landgenote. Sondaars was mense met losse sedes en oortreders van God se wet, wat beroepe beoefen wat strydig is met die wet. Daarom mag ’n Jood nie omgang met hulle hê of by hulle of by heidene besoek aflê  nie (vgl. Hand 10:28;). In 14:35 het Jesus gesê: wie ore het om te hoor, moet luister. Die sondaars en tollenaars het Hom duidelik gehoor en hulle daaroor verheug, terwyl die skrifgeleerdes en Fariseërs oor sy optrede mor.

 

Die gelykenis van die verlore skaap (Luk 15:1-7)

15:3-6 Die skaapwagter dink net aan die een skaap wat verlore geraak het, en los die 99 daar in die woestyn. Jesus stel dit as ’n vraag aan sy teenstanders om te oordink. Die vraag is so gestel dat hulle dit positief sal antwoord: wie van julle…?  Elkeen van hulle sal sy verlore skaap gaan soek, gedryf deur die verlies van sy verlore besitting. Die 100-tal verteenwoordig eintlik die hele Israel, wat die dwalendes insluit. Die herder aanvaar nie dat sy skaap verlore is nie, soos die ‘regverdiges’ met die sondaars van Israel doen nie, maar soek hom bergop en bergaf, en dra hom met blydskap terug, vertel vir sy vriende daarvan en saam is hulle bly daaroor.

15:7 Die skrifgeleerdes en Fariseërs is eintlik die herders van Israel wat hulle saam met God behoort te verheug oor elke verlore skaap wat hom bekeer, meer as oor die 99 ‘regverdiges,’ wat dit nie nodig het om hulle te bekeer nie. Die uitspraak van Jesus: ‘Ek sê vir julle’ kom met gesag oor wat in die hemel gebeur. Dit is met die gesag van sy Vader dat Jesus vertel wat God en wat Hy dink oor ’n sondaar wat tot bekering kom. En as die ‘regverdiges’ nie saam met God en Christus verheug is oor ’n bekeerde sondaar nie, is daar ’n vraagteken oor hulle ‘geregtigheid.’ God is wel verheug oor regverdiges wat nie bekering nodig het nie, maar is blyer oor die bekering van ‘n enkele sondaar. Dit is so anders as die Joodse spreekwoord: Daar is vreugde by God as dié wat Hom uittart uit die wêreld verdwyn. So het die

Jode God misverstaan en het Jesus gekom om te wys hoe God werklik is, soos Hy Hom 1200 jaar tevore reeds aan Moses geopenbaar het op die top van die berg Sinai (Eks 34:5-7). Die ironie is dat al die sondaars (verlore skape) na Jesus toe gekom het (enggizomai) en die herders van die skape, die Fariseërs, oor Jesus gemor het (diagogguzō) – Lukas speel met die twee Griekse woorde se ooreenklinkende klanke.

 

Die gelykenis van die verlore muntstuk (Luk 15:8-10)

15:8 Tipies van Lukas moet daar op die welgestelde herder wat sy een verlore skaap uit 100 gaan soek, ’n arm huisvrou volg, wat haar een muntstuk uit 10 verloor het (vgl. die gelykenis van een verlore seun uit 2). Die dubbele gelykenis oor die wil van God om sy verlore eiendom te herwin is ’n dubbele getuienis oor God se soeke na sy mense wat verlore raak. Die een van tien dragmas (’n Griekse silwermuntstuk gelyk aan die Romeinse dinarius wat ongeveer die dagloon van ’n arbeider is) verteenwoordig haar huisgesin se koste van een dag, of is een van haar kopbandjie se tien munstukke wat sy as bruid gekry het. Vir ’n arm vrou is dit in elk geval ’n kosbare besit. Met alle sorg word die huis deursoek na die kosbare munt. Die soektog na die verlore skaap vertel van die aanhou van die soeke. Die soektog na die verlore muntstuk beklemtoon die deeglikheid van die soektog.

15:9 Sy roep ook haar buurvroue om te deel in haar vreugde oor die muntstuk wat gevind is.

15:10 So is daar ook in die hemel blydskap onder die engele oor een verlore mens wat gevind is. Die engele wat die troon van God omring deel in God se vreugde. Soos die hemel in 15:7 is die engele in 15:10 ’n manier om na God, die Eienaar, se vreugde oor die vind van een van sy verlore mense, te verwys. Dit is Jesus se tweede oproep tot die skrifgeleerdes en Fariseërs om bly te wees oor die tollenaars en sondaars wat na Jesus toe kom. Jesus ondervind egter dat die vreugde in die hemel nog geen blydskap op die aarde is nie. Daarom is dit sy begeerte om hulle oë te open vir die koninkryk van God wat naby is en in Jesus geopenbaar word in wat Hy sê en doen. Maar die godsdienstige leiers is nie saam met Jesus, die Herder en die Eienaar, bly oor die verlorenes wat na Hom toe kom nie. Daarom sluit hulle hulle uit uit die vreugde van God en die hemelse skare van engele wat met Jesus bly is oor die bekering van ’n sondaar. Hulle sluit hulleself toe vir Jesus, die Herder van die kudde en Eienaar van die muntstukke, en vir die voorreg om saam met Hom en sy vriende daaroor bly te wees. Hulle onttrek hulle nie slegs van Jesus nie, maar ook van God.




Die Evangelie volgens Lukas: Die eise van dissipelskap (Luk 14:25-33) – Francois Malan

Na die inleiding volg twee uitsprake oor die eise om Jesus waarlik te kan volg. (14:26-27). Dit word gevolg deur twee gelykenisse om jouself op die proef te stel of jy vir die eise geskik is, met ’n toringbouer en ’n koning wat optrek in ’n oorlog as voorbeelde (14:28-33).

14:25 Na die maal by die Fariseër se huis en die gelykenis van die feesmaal waarheen die mense op straat later genooi word omdat die eerste genooides gevra het om verskoon te word, word hier gesê dat groot skares mense saam met Jesus gereis het. Die skare Galileërs volg Hom met entoesiasme waar Hy gaan (vgl. bv. 11:14, 27,29; 12:1,13,54; 13:14,16). Hulle bly by Hom, maar dit is met ’n entoesiasme wat Hom nie goed verstaan nie. Hulle dink dit is die triomftog van die Messias na Jerusalem, en wil sy kroning sien, hom besing en deel wees van sy heerlikheid.

14:26 Met meedoënlose eerlikheid ontnugter Jesus hulle. In Jerusalem wag daar vir Hom ’n veeleisende en gevaarlike taak. Daarvoor het Jesus nie entoesiastiese toeskouers nodig nie, maar volgelinge met onverdeelde lojaliteit en getrouheid aan Hom. Vir die skare volgelinge sê Jesus: ‘as iemand na My toe kom en My nie meer liefhet (die 1983-vertaling van die woord ‘haat’;  letterlik staan daar ‘en hy haat nie sy pa, ens…nie’ miseō om te haat  of te verafsku is om ’n sterk afkeer te hê; dit impliseer teensin en vyandskap; vgl. Luk 16:13 sonder om rekening te hou met iemand, teenoor ‘voorkeur gee’ aan iemand of iets). Jesus se woord vra dat sy volgeling alles eenkant toe skuif vir die binding aan Hom; Lukas noem al die persoonlike gesinsbindinge waarin ‘n mens staan (vgl. ook Mat 10:37). Lukas voeg by ‘ja, selfs sy eie lewe’ (vgl. jouself verloën, Luk 9:23; Joh 12:25) – dit alles moet nie mee rekening gehou word as jy Jesus volg nie. Dit was reeds die veronderstelling in Luk 12:51-53 oor die verdeeldheid in die gesin oor Jesus. Jesus bedoel nie dat jy jou vader of moeder nie sal liefhê nie (Luk 18:20,22). Jou binding aan Jesus is egter aan jou Here en Meester, wat die seggenskap kry oor jou lewe. Alle bindings waarin ’n Christusgelowige staan kry eers sin vanuit sy verhouding met sy Here (vgl. Luk 8:20). Jesus stel dit egter op ’n skokkende wyse om die skare tot selfondersoek te skok, met die woord ‘haat,’ wat nie letterlik opgeneem moet word nie. Die semitiese denke gebruik uiterstes: lig-duisternis; waar-vals; liefde-haat, sonder grys gebiede tussenin. Hulle sal nie sê ek verkies dit bo dat nie, maar ek hou van dit en haat dat (vgl. Gen 29:30; Deutr 21:15). In Luk 6:27 het Jesus reeds gesê: julle moet julle vyande liefhê. Maar toewyding aan Jesus kan nie anders wees as heelhartig nie. Vir volgelinge van Jesus om hulle families te haat beteken om aan hulle die tweede plek toe te ken in jou keuses.

14:27 Die tweede uitspraak se tweede vereiste, om jou kruis te dra, is ook nie so duidelik nie. In Galilea was kruisiging ’bekend as die Romeine se metode om politieke agitators tereg te stel. Het Jesus dit gebruik as ’n simbool vir lyding, buitensporige marteling en vernedering, en selfs die dood waarvoor sy volgelinge bereid moet wees?  In Luk 9:23  het Jesus gesê: As iemand My wil navolg moet hy homself verloën en elke dag sy kruis opneem en My volg, waaruit blyk dat kruis dra verwys na die uiterste selfverloëning wat daagliks om elke draai in die pad nodig is vir ’n Christusvolgeling, om selfs bereid te wees tot ’n wrede dood. Die uitspraak van Jesus is ook ’n voorbereiding vir die skare en vir sy dissipels oor wat werklik met Hom gaan gebeur wanneer hulle in Jerusalem kom.

14:28-30 Die eerste gelykenis waarmee Jesus sy waarskuwings verduidelik, verwys na ‘n toringbouer; waarskynlik na  ’n wynboer langs die skare se reis na Jerusalem, wat ’n toring in sy wingerd wil bou as wagtoring waaruit voëls en wilde diere betyds gesien kan word, soos in Mat 21:33, of ’n uitkyktoring op die stadsmuur of in die stad soos in Luk 13:4. As hy nie vooraf ’n berekening van die koste gaan maak nie, kan hy hom tot die spot van die mense maak wat altyd teen slegs ’n fondament of ’n halfgeboude gebou vaskyk. Om Jesus te volg moet jy die koste bereken, of jy wel bereid is om jou geheel en al aan Hom oor te gee as jou God. As daar van die skare droom oor wat die koninkryk vir hulleself kan beteken saam met die verwagte Messias, kan hulle wreed ontnugter word. Daarmee wil Jesus nie mense afskrik om sy volgelinge te word nie, maar Hy waarsku die entoesiastiese skare dat die keuse om Hom te volg die belangrikste besluit van hulle lewe is. Niemand kan op ’n vloedgolf van emosie en verkeerde verwagtings in die koninkryk van God ingaan nie. Jy moet met ernstige oorweging en oop oë deur geloof in Jesus bereid wees om jou daarin te laat opneem (soos Maria se reaksie na haar vrae aan die engel ‘Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Laat met my gebeur soos u gesê het’).

14:31-32 Ná die kleinboer, verskuif die tweede gelykenis na die groot koning wat wil optrek teen ’n ander koning om sy gebied teen die invaller te beskerm. As hy die saak goed bekyk en vind dat sy 10 000 man nie opgewasse is teen die ander koning se 20 000 nie, gaan vra hy vrede, soos koning Toï van Hamat (2 Sam 8:8-10;), die Gibeoniete (Jos 9:3-6) en vergelyk Jesus se raad in Luk 12:58. Die toringbouer het ’n eie keuse om te bou of nie. Die koning word egter bedreig deur die vyande wat teen hom optrek. In die eerste gelykenis sê Jesus: gaan sit en bereken of jy dit kan bekostig om My te volg. In die tweede geval sê Jesus: sit en bereken of jy dit kan bekostig om my eise te weier.

14:33 Die twee gelykenisse waarsku teen ondeurdagte intrede in die volgelingskap van Jesus, soos in Luk 9:57-62. Dit word saamgevat in die bereidheid om af te sien van al jou eie besittings, soos aan die ryk jongman gestel is (Mark 10:21). Die woord  hupargō wat vir besittings gebruik word is ’n omvattende term wat verwys na iets wat aan jou behoort of wat jy het, en sluit jou familie,  jou aardse besittings, talente,  jouself,  jou  begeertes, planne, ideale, jou hele menswees in.  Dit alles, die hele jy behoort eintlik aan God, jou Skepper en Onderhouer(vgl. Mat 13:45-46). Dit vra dat jy aan God toegewy sal lewe as volgeling van Jesus wat in alles aan sy Vader behoort en tot die dood aan die kruis vir al die sonde van die wêreld die Vader se wil volbring (Luk 22:42).

 

Goeie en Smaaklose sout (Luk 14:34-35)

Jesus se volgelinge word geroep om die sout van die samelewing te wees, wat bewaar en smaak gee. Sout is goed. In die kombuis of op die kalkgrond is daar egter nie plek vir smakelose sout nie. Dit word in die straat uitgegooi saam met die ander vullis. So is daar nie plek vir Jesusvolgelinge wat nie die eienskappe van ’n dissipel het nie. Die Dooie See wat geen water deurgee nie, is so sout dat dit onbruikbaar geword het, sonder enige plant of vis wat daarin lewe. Die sout wat die Jode uit die Dooie See gehaal het, was vol onsuiwerhede en het gou sleg geword. So ook ’n christen wat dit wat hy/sy het vir hom/haarself hou sonder om ander se nood te sien. Die volgeling wat by Jesus bly en sy woord gehoorsaam uitlewe, word ’n seën vir die samelewing waarin hy/sy lewe.

Wie ore het om te luister na wat Jesus sê, sal doen wat Hy sê deur selfverloëning en toewyding aan God en medemens.