Die Evangelie volgens Lukas: Die gelykenis van die groot feesmaal (Luk 14:15-24) – Francois Malan

14:15 Die tafelgesprek eindig met Jesus se onderig na aanleiding van die opmerking wat een van die gaste maak oor wat Jesus gesê het van die opstanding van die regverdiges. Die gas het opgemerk dat wie ookal ‘brood  eet’ (vgl. 14:1) in die koninkryk van God, is geseënd, dit wil sê: deur God geseën (vgl. Ps 22:27; Openb 19:9). Die Jode en veral die Fariseërs het gedink dit is vanselfsprekend dat alle gerespekteerde Jode in God se ewige feesmaal sal aansit by die opstanding van die regverdiges. Die man dink waarskynlik hy is een van die geseëndes. In die gelykenis wat Jesus vertel, breek Jesus die man se selfversekerdheid met die moontlikheid dat hy die seën kan misloop.

(Die gelykenis van die koning se bruilofsfees vir sy seun in Matt 22:1-14 het raakpunte met Lukas se gelykenis, maar daar is ook groot verskille tussen die twee).

14:16 Jesus antwoord die man se sekerheid met ’n beeld. Jesus beskryf nie die feesmaal nie, maar praat van die houding en optrede van die genooides. Dit verplaas die gesprek na die persoonlike keuse van elke mens. Die man in die gelykenis het ’n groot feesmaal (deipnon) voorberei en baie mense is daarna genooi.

14:17 In ’n tyd sonder whats-app en selfone word ’n slaaf gestuur om vir die gaste te gaan sê die feesmaal is gereed, hulle moet kom (in Matt 22:3 stuur hy sy slawe). Die enkele slaaf in Lukas kan verwys na Jesus, wat die Joodse volk kom uitnooi na die fees in die koninkryk van God.

14:18-20 Elkeen van die genooides het ’n verskoning waarom hulle nie nou na die feesmaal kan kom nie. Hulle is almal so betrokke by hulle sake in die wêreld dat hulle nie tyd het vir die groot feesmaal nie. Daar is ’n styging in die waarde van die verskillende verskonings van al die genooides: stuk grond gekoop, vyf paar osse moet uitgetoets word, ’n vrou getrou (vgl Deutr 20:5-8). Maar nie een van die verskonings hou water nie: die grond is klaar gekoop, die osse klaar gekoop en die vrou klaar getrou. Ten spyte van almal se verwagting van die koms van die Messias, is die Jode almal so verstrik in hierdie wêreld en in hulle eie belange, dat hulle nie Jesus en sy uitnodiging aanneem nie (Luk 8:14). Die koninkryk is nie ’n ander-wêreldse vooruitsig wat met skynvroom gedagtes en gevoelens bedink moet word nie, maar ’n huidige realiteit wat roep om ’n onmiddellike reaksie. Die feesmaal is nou gereed en volgens die Joodse gebruik gaan ’n slaaf die gaste roep. Die genooides wat die uitnodiging vergeet het en nou ander verpligtinge belangriker ag, verloor die geleentheid en hulle plek word deur ander gevul. Die gerespekteerde wetsgehoorsame Jode het hulle dowe oor na Jesus se prediking gedraai, en gewys dat hulle meer vir hulle eie godsdienstige sisteem omgee as vir die genadige roeping van God.

14:21 Die man word kwaad en stuur sy slaaf om die mense wat deur die Fariseërs en skrifgeleerdes toegang tot die tempel ontsê word (vgl. 2 Sam 5:8) te nooi; armes, kreupeles, blindes en verlamdes wat in die stad se arm buurte op die strate sit en bedel en in die stegies lê en verkluim, word ingebring in die feesmaal. Juis hulle wat nie kan terug uitnooi of iets betaal nie (14:13-14). Dit is die mense vir wie Jesus op eensame plekke kos gegee het en genees het. So is die tollenaars en sondaars, wat deur die Fariseërs met veragting behandel is, deur Jesus ingenooi in die feesmaal van sy Vader.

14:22-23 Daar is nog plek in die feeshuis en die eienaar stuur sy slaaf na die paaie en lanings om swerwers te dwing deur by hulle aan te hou om in te kom. So gaan Jesus uit na die heidene (Luk 8:26-33) en sit sy werk voort deur sy volgelinge (Luk 8:39), soos ook in Handelinge breedvoerig vertel word van Petrus se prediking by heidene en Paulus se sendingreise (vgl, Joh 10:16; 11:52; 12:32; ens.).

14:24 Die gelykenis verkondig duidelik die universele insluiting in die koninkryk van God, waar niemand uitgesluit word nie behalwe deur sy eie keuse. Die een sonde wat jou uitsluit is om jou eie belang en belangstelling aantrekliker te vind as vriendskap met God. Aan die einde sê Jesus vir hulle dit gaan in hierdie gelykenis om ‘my maaltyd.’ So antwoord Jesus die vraer se sekerheid oor sy deelname aan die groot feesmaal (14:15). Dit is God se besluit wie daar inkom. Die eerste genooides, wat nie opgedaag het nie, soos die Jode wat nie Jesus se uitnodiging en oproep tot bekering aangeneem het nie, sal nie in sy koninkryk se maaltyd toegelaat word nie. Dit verseker Jesus die mense wat saam met Hom aan die Fariseër se tafel sit. So ernstig is Jesus se oproep tot hulle om hulle te bekeer om aan sy feestafel te kom aansit.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se raad aan sy tafelgenote (Luk 14:7-11) – Francois Malan

14:7 Lukas bied hier tafelgesprekke van Jesus aan. Jesus het sy tafelgenote se optrede fyn dopgehou, hoe hulle geskarrel het om die beste sitplekke te kry, en van hulle optrede ’n gelykenis gemaak wat ooreenkom met Spreuke 25:6. Daarby knoop Hy aan by die eersug van die Jode by die aanwysing van die sitplekke, in die besonder by die eersug van die skrifgeleerdes en Fariseërs (vgl. Mark 12:39; Luk 20:48; Joh 5:44).

14:8-11 Lukas bied die tafelgesprek as ’n gelykenis van Jesus aan, waar Jesus die bruilofsfees (gamos) gebruik as ’n algemene waarheid oor goeie maniere, om hulle ’n godsdienstige les te leer, wat die skrifgeleerdes en Fariseërs in die besonder nodig het. Hy wil hulle gedagtes rig op die teenwoordigheid van God en die ingaan in sy koninkryk en hulle van hulleself losmaak (vl. 14:11). Soos in die sosiale etiket, so ontwyk erkenning juis die mense wat dit opeis, en word erkenning gegee aan mense wat meer van ander dink as van hulleself (vgl. Flp 2:3). Egte waardigheid is altyd onbewuste adel; en ware eer, wat deur mense of deur God aan iemand toegeken word, is onverwags. Jou plek in die hemel hang ook nie af van jou opinie van jouself nie, maar van die regverdige oordeel van God. Wie homself verhef in hierdie lewe sal tot skande kom wanneer die Here, wat die mens se hart en lewe ten volle ken, aan elkeen sy regmatige plek toeken. Die persoon wat in egte nederigheid lewe, sal ryklik geseën word. Vir die gemeente van die Here is Jesus se vernedering tot die kruis, sy opwekking uit die dood op Paassondag en sy hemelvaart tot aan die regterhand van God die voorbeeld wat nagevolg moet word (vgl. Fil 2:5-11). Jesus doen hier ’n oproep op eersugtige mense om klein te word voor God. Slegs dié mens wat bewus is van sy eie onwaardigheid, word deur die Gasheer in sy nabyheid opgeneem.

 

Jesus se raad aan sy gasheer (Luk 14:12-14)

14:12-14 Jesus se tweede tafelgesprek is ’n woord aan sy gasheer en is ook ’n paradoksale reël in God se koninkryk. Die kring aan tafel het bestaan uit die belangrike mense in die stadjie: sy vriende, broers, familie, ryk bure. Hulle ken mekaar en nooi mekaar wedersyds uit. Alleen Jesus is die vreemde gas en Hy is uitgenooi om te sien wie Hy is en wat Hy doen. Hy het die uitnodiging aangeneem om vir hulle ’n ander kyk op die lewe te gee. Met die gelykenis word gesê jy moet doen soos God optree. Hy neem die armes, ens. aan (4:18; 6:20; 7:22). Die Sabbat moet nie die goeie verdring nie. Die gierige gesoek na eer word deur God verwerp. In hierdie raadgewing word die liefde tot dié wat dit die meeste nodig het beperk deur die Fariseërs en mense se soeke na beloning. Om net jou familie en vriende te nooi verwag dat hulle jou ook sal nooi en dan het jy jou beloning klaar gekry in julle vriendskap. Maar dit het nie te doen met die ewige oordeel oor ’n mens nie (Matt 6:3-4). Die uitnodiging aan die armes, kreupeles, verlamdes en blindes is Jesus se radikale verandering van sy voorvader Dawid se bevel in 2 Sam 5:8. Jesus roep eintlik die gasheer om sy medewerker te wees deur homself te gee aan die ellende van ander. Om mense uit te nooi, wat jou nie kan terug uitnooi nie, is liefde sonder eie voordeel, soos Jesus Hom vir ons gegee het. Dit word deur God beloon by die opstanding van die regverdiges, dit is mense wie se verhouding met God reggestel is deur geloof in Jesus. Deur sy offer aan die kruis vir die sonde maak Hy elkeen wat in Hom glo, regverdig voor God.  Met die opstanding wag die ewige straf egter vir die onregverdiges (Matt 25:41; Joh 3:36; Hand 24:15). Die liefdevolle diens aan die hopeloses en behoeftiges, soos Jesus wat gekom het om te dien (Luk 22:27), is die lewenswyse in die koninkryk van God. Wie nou reeds leer om so te lewe sal tuis wees in die groot feesmaal van God vir sy kinders.




Die Evangelie volgens Lukas: ’n Volgende genesing op die Sabbat (Luk 14:1-6) – Francois Malan

Van Luk 14:1 tot 18:14 kom eintlik net in Lukas voor, met enkele sinne wat hier en daar ooreenstem met die ander Evangelies. Daarvoor moes Lukas ’n ander vertroubare bron as Markus of Q (die gemeenskaplike bron met Mattheus) gebruik het.

14:1 Lukas gebruik die episode by die Fariseër se middagete as die toneel vir drie gesprekke oor feesviering. Dit is ook ’n voortsetting van Jesus se debatte met die Fariseërs. Hierdie is die vyfde gesprek in Lukas oor die Sabbat oor werk op die Sabbat en vyf genesings op die Sabbat (4:31-37 ’n besetene, sonder ’n gesprek; 6:1-6 oor werk en die Hdre van die Sabbat; 9-11 ’n man se verdorde hand; 13:10-17 ’n kromgetrekte vrou; 14:1-6 ’n man met watersug). Die Sabbatsgebruik was dat daar ’n feesmaal was na die diens, wat die vorige dag voorberei was, en waarheen die voorganger in die onderwysing in die sinagoge genooi word om hom te vereer. Jesus word deur een van die leiers van die Fariseërs genooi om ‘brood te kom eet’ in sy huis. Maar daar word bygevoeg dat die Fariseërs Jesus fyn dopgehou het. In 11:54 is gesê dat die skrifkenners en Fariseërs Hom fyn dopgehou het om Hom vas te trek oor iets wat Hy sou sê of doen. Jesus vermy egter nie die Fariseërs nie, maar gebruik elke moontlike geleentheid om hulle te oortuig en tot bekering te roep.

14:2 Tussen die toeskouers by die maaltyd staan daar skielik en onverwags ’n man met watersug voor Jesus; dit is ’n swelling as gevolg van die vermeerdering van limf in die liggaamsweefsel. Die rabbi’s het dit veroordeel as die gevolg van ontug.

14:3 Jesus konfronteer die skrifgeleerdes en Fariseërs om duidelik uit te spel of genesing (therapeuō genees, ’n sieke versorg) op die Sabbat geoorloof is of nie. Vir die skrifgeleerdes en Fariseërs is ’n antwoord op dié keuse ’n probleem. Daar is geen wet in die Ou Testament wat dit verbied nie, dit behoort die skrifgeleerdes al te goed te weet, maar dit is ’n wet wat die rabbi’s gemaak het dat net noodgevalle of lewensgevaarlike gevalle op die Sabbat aandag mag kry. Antwoord hulle dit openlik, dan word hulle onbarmhartigheid voor die volk geopenbaar.

14:4 Hulle swyg en bly toeskouers oor wat Jesus gaan doen. Hulle kan nie ja of nee antwoord nie, sonder om die indruk by die mense te wek dat hulle laks is teenoor hulle eie wet, of dat hulle onsimpatiek staan teenoor lyding. Maar omdat hulle swyg oor ’n wetsopinie, maak hulle dit vir hulleself moeilik om ná die wondergenesing, Jesus aan te kla oor sy optrede. Hulle bedekte motief om Jesus dop te hou om Hom uit te vang word deur Jesus se optrede ondervang. Volgens hulle loop Jesus die gevaar om self onrein te word deur die onrein man vas te hou (epilambanomai styf vashou), maar Hy maak juis die onreine rein deur hom met sy goddelike volmag te genees, en hom gesond en gereinig te laat gaan.

14:5 Die tweede vraag,  ‘wie van julle?’ selfs die Fariseër wat vir Jesus genooi het; dit gaan nie oor ’n opinie oor die wet nie, maar neem die gesprek na die hoër hof van die mense se gewete. Hulle interpretasie van die Sabbatsgebod maak wel ruimte vir ‘n lewensgevaarlike situasie as hulle kind bv. in ’n put sou val. Maar vir die eienaar van sy os in die put is daar in die wet nie so ‘n gaping nie.  En tog sal hy nie sy eiendom prysgee nie en sal hy sy os dadelik op die Sabbat uithaal sonder om eers goedkeuring daarvoor te gaan vra. As die wet van barmhartigheid voorrang bo die Sabbatwet het in die geval van ’n dier, hoeveel te meer in die geval van ’n mens!

14:6 Ook op die gewetensvraag het hulle geen antwoord nie, omdat dit hulle skynheiligheid duidelik aan hulle behoort uit te wys. Die hele insident wys egter na Jesus se barmhartigheid teenoor siekes en swakkes, sy empatie met uitgeworpenes uit die samelewing en sy reiniging van onreines.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se klag oor Jerusalem (Luk 13:31-35) – Francois Malan

13:31 ‘Juis op hierdie tydstip (letterlik: op hierdie uur)’ – Lukas plaas hierdie deel van Jesus se reis onderweg na Jerusalem deur groot en klein dorpe (13:22) blykbaar in Perea, in die gebied van Herodes Antipas. Sommige van die Fariseërs kom Jesus waarsku oor Herodes se planne om Hom uit die weg te ruim. Herodes was blykbaar ’n man wat nie moeilikheid in sy gebied wou hê nie (die Joodse geskiedskrywer Josefus sê Herodes was ’n man ‘wat gehou het van ongestoorde rustigheid en gemak’(Antiquities of the Jews 18:7:2). Volgens Luk 9:9 het Herodes erken dat hy Johannes die Doper onthoof het, en dat hy probeer het om Jesus te siene te kry, waarskynlik om die skares wat Jesus gelok het en wat hy as ’n bedreiging vir vrede in sy land gesien het, stop te sit. Jesus stuur ’n boodskap na Herodes terug, waarskynlik saam met die Fariseërs wat die boodskap gebring het, wat eintlik aandui dat hulle ook vir Jesus uit hulle gebied wou weg hê, waar hy deur die dorpies die mense anders geleer het as wat hulle die mense leer (vgl. 12:1). Of dat hulle wou hê dat Jesus na Judea toe moet uitwyk waar hulle groter gesag kon uitoefen deur die Sanhedrin. Of was hulle opreg bekommerd oor Jesus se veiligheid?

13:32 Jesus noem Herodes ’n jakkals, geslepe en listig om Hom met ’n draai deur ander mense skrik op die lyf te jaag; die jakkals is die klein roofdier in Israel teenoor die leeu as die groot roofdier. Herodes was slegs tetrarg, wat regeer het oor ’n kwart van sy pa se gebied en dit by grasie van Rome, die groot leeu, wat deur Pilatus verteenwoordig is. Maar Jesus kom met ’n hoër gesag wat vandag en môre duiwels uitdryf en siekes gesondmaak; en op die derde (Vaticanus voeg in ‘dag’) sal Ek klaar wees en my hele sending suksesvol voltooi. Die werkwoord ‘voltooi’ is passief wat daarop dui dat dit God is wat Jesus gestuur het en sy sending sal afsluit. God, en nie Herodes nie, sal besluit wanneer Jesus gaan sterf en op die derde dag opstaan. Nou gaan Hy nog voort om die evangelie met woord en daad te verkondig.

13:33  Jesus moet (dei, volgens die plan van God wat Jesus se lewe en bewegings dra en lei. Jesus is God se plan wat besig is om te gebeur) vandag en môre en die volgende dag verder gaan met sy reis om die werk waarvoor Hy gekom het voort te sit. Die eindpunt van sy reis is Jerusalem waar die profete doodgemaak word (vgl. Luk 11:51; Jer 26: 20-23; 2 Kron 24:20-22; Josefus sê Hiskia se seun Manasse was so boos dat hy elke dag profete doodgemaak het tot Jerusalem vol bloed was (Ant. of the Jews 10:3:1). Jesus is beskou as ’n profeet (vgl. Luk 4:24; 7:16,39; 24:19). Nie Herodes nie, maar Jerusalem sal Jesus doodmaak. Daar word die verhore teen profete deur die Sanhedrin verhoor. Daar sal die houding van Israel teenoor Jesus finaal gevorm word en waar sy dood God se doel met sy Messias volbring sal word (Joh 19:30 Dit is volbring!). Juis deur sy dood sal Hy almal na Hom toe trek (Joh 12:32-33).

13:34 Die afsluitingswoord oor Jerusalem is ’n profetiese uitspraak. Dit is as profeet wie se woord verwerp word deur Jerusalem dat Jesus in Jerusalem sal sterwe. Die dubbele uitroep ‘Jerusalem, Jerusalem’ maak die oproep tot die stad soveel dringender en intiemer, ’n betoning van Jesus se liefde vir die stad en sy mense wat hulle dringend waarsku (vgl  Luk 22:31); die Heilige Stad aan wie die Here toegewy is. Hulle wat die profete wat God se woord aan hulle bring, gereeld doodmaak, en die mense wat die Here na hulle toe stuur gereeld stenig (die teenwoordige deelwoorde dui daarop dat dit telkens geskied). Hulle bring die oordeel oor hulleself deurdat hulle die boodskappe verwerp, wat hulle tot gemeenskap met God sou bring. ‘Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke’ – Jesus is die toevlug wat ’n mens by die Here het, soos Boas vir Rut gesê het: Mag jy ’n welverdiende beloning ontvang van die Here die God van Israel, onder wie se vleuels jy kom skuil het (Rut 2:12; vgl. Dawid se gebed in Ps 17:8 verberg my in die skadu van U vleuels; Ps 36:8: die troue liefde van God maak dat mense in die skadu van U vlerke kom skuil; vgl. Ps 57:2; 61:5; 63:8; 91:4; soos ’n arend sy kleintjies op sy vlerke dra Deutr 32:11). So het Jesus vir Israel die toevlug tot God oopgemaak, soos sy gelykenis van die verlore seun en oudste broer aan die Fariseërs en skrifkenners verduidelik (Luk 15:11-32). Maar die aanbod wat Jesus dikwels aan hulle gemaak het, wat wys na meer kere wat Jesus daar was as wat in die Evangelies beskryf is (of deur die eeue, Jer 22:5-9), word afgewys: ‘maar julle wou nie.’

13:35 Jerusalem word aan die oordeel van God oorgelaat sonder ’n toevlug of beskutting. ‘Jou huis’ verwys na die tempel in Jerusalem waarin God woon. ‘Kyk! jou huis word vir jou verlaat’ – die Godsnaam word deur die passiewe vorm van die werkwoord in die sin verberg, dit beteken: God gaan julle tempel verlaat (vgl. Jeremia 12:7; 22:5).

Die laaste seënwoord is vir Jode wat hulle in Jesus se arms kom werp (Rom 11:23-24), maar dié wat nie in Hom glo nie, sal op die oordeelsdag teen hulle wil moet erken: Geseënd is Hy, Jesus, wat kom in die Naam van die Here (Ps 118:26; Fil 2:9-11). Die huiseienaar sal egter sê: Ek ken julle nie (Luk 13:28).