Beloftes gemaak en gebreek – Hermie van Zyl

Leser vra:

Ek is 63 jaar oud en die afgelope plus minus vier jaar jaag ‘n belofte my wat ek aan Jesus gemaak het toe ek omtrent 34 jaar oud was, en nie nagekom het nie. My vraag: Kan so iets vergewe word? Indien wel, hoe kry ek vergifnis? Want ek kan myself nie vergewe nie.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ek gee eers algemene agtergrond oor geloftes in die Bybel voor ek spesifiek by die vraagsteller se probleem uitkom.

Geloftes, waar mense sekere dinge aan die Here belowe, word dikwels in die Bybel vermeld (hoofsaaklik in die Ou Testament). Trouens, dit was nie net in Israel ‘n bekende praktyk nie, maar ook onder ander antieke volke. Omdat die praktyk so wyd voorgekom het, was daar voorskrifte hieroor. In die Bybel vind ons dit in Numeri 30 en Deuteronomium 23:21-23. Veral belangrik hier is dat geloftes nie ‘n geringe saak is nie en dat dit konsekwensies het, soos dat dit uitgevoer moet word. Bekend is byvoorbeeld die spreuk dat mens liewer nie moet belowe nie as om te belowe en nie te betaal nie (Pred 5:3-6; vgl Ps 22:26; 50:14; 56:13; 61:9; 66:13-14; 116:14,18; Jona 2:9). Ons ken ook die spreuk uit ons eie tyd: Belofte maak skuld. ‘n Besondere gelofte in die Bybel was die nasireërgelofte van toewyding aan God (Num 6:1-21). Bekende voorbeelde van persone wat geloftes aan God maak, is die volgende: Jakob wat aan God ‘n belofte maak dat as God hom beskerm, sal hy van al sy besittings ‘n tiende aan God afstaan (Gen 28:20-22); Israel wat as volk ‘n gelofte aan die Here doen dat as Hy die Kaänaniete in hulle hand gee, dan sal hulle die land as brandoffer aan die Here gee (Num 20:2); Jefta, die rigter, wat aan God belowe dat as God die Ammoniete in sy (Jefta se) mag gee, sal hy die eerste een wat hom op pad huis toe tegemoet kom, as brandoffer aan die Here offer (Rig 11:30-40); die kinderlose Hanna wat aan God belowe dat as Hy vir haar ‘n kind gee, sy hom aan die Here sal wy solank hy lewe (1 Sam 1:11); en – die enigste duidelike voorbeelde in die Nuwe Testament – Paulus, en later ‘n paar ander manne, wat waarskynlik ‘n soort nasireërgelofte aan die Here gedoen en vervul het (Hand 18:18; 21:23-26).

Uit hierdie voorbeelde, asook uit die voorskrifte rakende geloftes aan God, is die volgende duidelik:

  • ‘n Gelofte spruit voort uit ‘n lewende verhouding met God. Geloftes funksioneer binne die konteks van mense wat hulle lewe in afhanklikheid stel van God. ‘n Gelofte is dan juis ‘n manier om die lewe saam met God te bekragtig en uit te bou;
  • Dit spreek daarom vanself dat geloftes nie ligtelik gemaak mag word nie. Dit is slegs na deeglike besinning en gebed dat daartoe oorgegaan mag word;
  • Daar is gewoonlik besondere omstandighede, soos lewensgevaar (bv oorlog, vyande; ander bedreigings) of lewensnood (bv kinderloosheid) wat ‘n gelofte aan die Here ontlok;
  • Die Here neem ons geloftes ernstig op; Hy hou ons aan ons woord. Dit hang saam met die feit dat God heilig is en ons respek verdien. Hy is nie net nog ‘n mens met wie allerlei magspeletjies gespeel kan word nie. Ons moenie dink dat ons Hom vir ons eie kleinlike voordele kan uitbuit, manipuleer of vir die gek hou nie. Mense wat probeer voordeel trek uit ‘n vinnige belofte, net om agterna gerieflik daarvan te vergeet, speel met vuur.

Hierdie gedagte dat die verhouding met God opregtheid en integriteit van ons vra, ontvang in die Ou Testament reeds groot klem, maar word in die Nuwe Testament nog sterker beklemtoon. Jesus benadruk dit byvoorbeeld dat mens nie jou woorde en jou lewe met allerlei uiterlike rituele, eedswerings en geloftes as geloofwaardig moet probeer voorstel terwyl jou hart ver van Hom af is nie. Laat jou woorde min, maar opreg wees, is Jesus se opdrag. Dit geld jou omgang met ander mense (jou “ja” moet “ja” en jou “nee” “nee” wees; Matt 5:33-37; vgl Jak 5:12), maar ook wanneer jy met God te doen het; byvoorbeeld, ons hoef Hom nie met ‘n stortvloed van woorde te probeer beïndruk wanneer ons bid nie (Matt 6:7-8). Dít is waarskynlik ook die rede waarom daar nie baie voorbeelde van geloftes of enige voorskrifte oor geloftes in die Nuwe Testament voorkom nie. Die verhouding met God word nie soseer by wyse van allerlei voorskrifte gereguleer as wat dit op ‘n innige verhouding met God berus nie. Dit gaan daaroor dat ons verenig met Christus sal lewe, soos die wingerdloot in die wingerdstok is (Joh 15:1-8); dan alleen dra ons veel vrug. God se wette is nie meer op kliptafels geskryf nie, maar in ons harte; dít is die kenmerk van die nuwe verbond wat God in Christus met ons gemaak het (Heb 8:10). Ons word dus nie net meer deur uiterlike wette gelei nie, maar deur die Gees van God wat in ons woon (Rom 8:4-17). Vanuit Nuwe-Testamentiese perspektief word die verhouding met God dus nie meer gedryf deur allerlei uiterlike tekens en manifestasies dat God dit goed bedoel met ons, dat Hy mét ons is in alle nood tot by die voltooiing van die wêreld nie (Matt 28:20). Ons hoef nie meer tekens en bewyse uit die hemel te ontvang dat Hy by ons is nie. Hy het dit reeds bewys toe Hy sy Seun na die wêreld gestuur het. Aan God se teenwoordigheid, nabyheid en redding mag ons nooit meer twyfel nie, maak nie saak wat die omstandighede is nie.

Dis vanuit hierdie manifestasie van God se nabyheid in Christus dat die behoefte aan tekens van God se kant, en geloftes van ons kant om God se nabyheid te verseker, in die Nuwe Testament op die agtergrond tree. Dit plaas egter nie ‘n absolute verbod op geloftes nie. Bepaalde omstandighede mag hulle steeds voordoen waar ‘n gelowige oor tyd heen tog daartoe gelei word om ‘n gelofte aan God te doen, nie noodwendig om iets van God te verkry of oor iets verseker te word nie, maar as uitdrukking van sy of haar toewyding aan God. Nie net individue nie, maar ook groepe gelowiges kan tot so ‘n oortuiging kom. Solank dit nie oorhaastig, ligtelik, om God se “arm te draai” of as “eksperiment” gedoen word nie, maar as uitdrukking van ‘n ernstige oortuiging, kan daar sekerlik nie fout gevind word daarmee nie. Maar myns insiens moet mens beklemtoon dat, vanweë die gewigtigheid van ‘n gelofte en gegewe die aard van die verhouding met God soos hierbo verduidelik, dit nie as “normale” geloofspraktyk beoefen behoort te word nie. Dis slegs by hoë uitsondering, na grondige konsultasie met ander gelowiges en na persoonlike gebedsworsteling dat tot so ‘n stap oorgegaan behoort te word. Die voorbeeld van die oorhaastige Jefta uit Rigters 11 waarsku ons teen geloftes wat op die ingewing van die oomblik gemaak word. En die uitvoerige voorskrifte oor die implikasies van ‘n gelofte (Num 30), asook die herhaaldelike vermanings in die Psalms dat geloftes aan die Here betáál moet word, waarsku teen ‘n onnadenkende en ligtelike omgaan met geloftes aan die Here. Ons kennis van God, maar ook ons selfkennis – gedagtig daaraan dat ons broos en sondig is – maak dat ons nie oorhaastig dinge aan God behoort te belowe nie.

In die lig van bostaande uiteensetting is dit verstaanbaar dat ons vraagsteller bekommerd is oor die belofte aan die Here wat hy verbreek het. Dit knaag aan hom; hy is teleurgesteld in homself en voel dat hy homself nie kan vergewe nie, amper asof hy die “onvergeeflike sonde” begaan het.

Maar ons kan die broer onomwonde verseker dat die genade van God in Christus ook hierdie verbreekte belofte bedek en vergewe. Hy is in elk geval in goeie geselskap. Ons weet ten minste van een ander “geloofsheld” wat ook ‘n belofte verbreek het en tog herstel is in sy posisie as volgeling van Jesus, en dit is Petrus. In sy voortvarendheid het hy plegtig voor al die dissipels belowe dat al sou die ander vir Jesus in die steek laat, hý beslis nie sal nie (Matt 26:33); net om enkele ure daarna vir Jesus drie maal te verloën (Matt 26:69-75). Uiteindelik het Petrus weer drie keer bely dat hy die Here liefhet (Joh 21:15-19), en so is hy in ere herstel.

Die punt is: God weet van watter stoffasie ons is, dat ons soms oorhaastig, voorbarig en oormoedig optree (soos Petrus), maar ook dat ons broos, weifelend en sondig is (soos Petrus). Daarom vergewe hy ook ons verbreekte beloftes wat soms in oormoed gedoen is. ‘n Verbreekte belofte is nie ‘n erger sonde as ander nie; dis ook nie die onvergeeflike sonde nie. Daar is net een sonde wat onvergeeflik is, en dit is wanneer ons nie vergewe wíl word nie. Daarom kan ons vraagsteller met groot vrymoedigheid ook hierdie oortreding van hom aan die Here bely, die Here se vergifnis aanvaar en voortgaan om Hom voluit te dien. Hy hoef hom nie verder daaroor te kasty nie. Hy is miskien teleurgesteld in homself, dat hy die Here nie genoeg liefgehad het om sy belofte te hou nie. Maar hy kan dit weet: Werklike liefde is nie die liefde wat ons vir God het nie (daarin is ons altyd teleurgesteld), maar die liefde wat God aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes (1 Joh 4:10). Ons word nie gered op grond van hoe getrou ons óns beloftes nakom nie, maar op grond van hoe getrou God aan sý beloftes is. En dié verbreek Hy nie; sy Woord is ewig (Jes 40:8). Dís die evangelie, die goeie nuus. Daarin kan ons rus. As dit nie so was nie, het nie een van ons ‘n kans gestaan by God nie. Ons redding is nie afhanklik van die verbond wat ons met Hom aangaan nie, maar van die verbond wat Hy in Christus met ons tot stand gebring het (Heb 9:23-28; 10:11-18).

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Die Evangelie volgens Lukas: Wie werklik geseënd is (Luk 11:27-28) – Francois Malan

Die gedeelte oor die vrou wat Jesus se moeder seën kom slegs in Lukas voor, wat in sy Evangelie veral aandag gee aan vroue. Die seënwoord van Jesus in Matteus 12:49 kom na aanleiding van sy moeder en sy broers wat met Hom wou praat, (wat reeds in Luk 8:18-21 gestel is). In Matteus volg dit op die gelykenis van die bose geeste wat terugkom in die leë huis.

11:27 ’n Vrou in die skare, wat diep beïndruk is deur Jesus se optrede en die krag van sy woord, roep uit en besing sy moeder as ’n geseënde van die Here, in tipiese Oosterse oordrewe styl, om uitdrukking te gee aan haar adorasie van Jesus. Daarmee word Jesus se Messiasskap ook erken en is dit deel van haar bewondering van Maria se Seun.

11:28 Jesus se saligspreking gaan bo die bloedverwantskap uit. Dit is nie omdat Maria sy moeder is nie, maar omdat sy die woord van God bewaar het. Om God se woord te hoor en te bewaar is die hulp teen die terugval in die heerskappy van die demone; dit is die manier om die gemeenskap met God te onderhou teen die demoniese heerskappy. Wie by Jesus wil wees (Luk 11:23) en by Hom bly, ken die egte saligheid, word deel van die gesin van sy Vader as sy kinders. Die mense wat in Jesus se persoon, sy optrede en verkondiging die woord van God hoor en dit bewaar, is deel van die gesin van God. Die ‘bewaar’  van sy woord beteken om in Jesus te glo en volgens sy woord te lewe.

 

Die teken van Jona (Luk 11:29-32)

Die verwagting oor ’n teken uit die hemel (11:16), die vrou se luide seënwoord oor Jesus se moeder en Jesus se antwoord oor wie werklik deur God geseënd is (Luk 11:27-28) laat die skare om Jesus aangroei (epathroizomai). Die skare hoor dat hulle ’n ‘slegte geslag’ is (Matteus 12:39 ’n ‘bose en owerspelige geslag,’ soos in Hosea 3:1, ’n teks wat Lukas se lesers nie ken nie). Die skare volgelinge se boosheid bestaan daarin dat hulle nie na Jesus se woorde luister nie, en net na wondertekens soek (vgl. 1 Kor 1:22). Ten spyte van al hulle godsdiens en godsdienstigheid het hulle nie die woord van God herken toe Hy self na hulle gekom het nie. Jesus sal egter vir hulle die teken van Jona gee.

11:29 Jesus antwoord op die versoek om ’n teken uit die hemel (11:16). Die teks stem grootliks met Matteus 12:38-42 ooreen. Matteus 12:40 se verklaring vir die teken van Jona verskil egter deels van Lukas se verklaring daarvan. Matteus sien Jona se drie dae in die vis as die drie dae van Jesus in die graf, en verwys na Nineve se bekering op sy prediking. Lukas sien die bekering van die groot stad Nineve op die prediking van die profeet Jona, as die teken van die Seun van die Mens se teenwoordigheid en prediking in die stede van Palestina.

11:30  Vir die mense van Nineve was Jona die teken van God. Hulle het sy oproep tot bekering aanvaar as die boodskap van God. As ‘die seun van die mens’ van Daniël 7:13-14 is Jesus die verteenwoordiger van God by die mense. Maar hulle het sy woorde nie as die woorde van God aanvaar nie, daarom sal geen teken hulle oortuig dat Hy God is nie.

11:31 Die koningin van Skeba en de stad Nineve met hulle koning het positief gereageer op die beste openbaring van God in hulle tyd: Jona en Salomo. (Jona 3:5; 1 Kon 13:8-10). Die profeet Jona het na Nineve gegaan om ’n enkele kort boodskap af te lewer (Jona 3:4). Die koningin uit die Suide het uit haar eie groot moeite gedoen om by Salomo en sy wysheid uit te kom. Jesus het na sy eie mense toe gekom en Homself as die Seun van die Mens bekend gestel, van wie Daniël gesê het dat Hy vir ewig sal regeer. Hy is meer as Jona en Salomo wat self geen tekens gedoen het nie. Maar op al Jesus se wonders en prediking het die meerderheid van Israel en hulle leiers nie ag geslaan nie. So stel die Here die hardheid van Israel se harte teenoor die ontvanklikheid van die heidene van Nineve en van die heidense vrou uit Skeba.

11:32 Hierdie heidene sal op die oordeelsdag beter vertoon as die Here se uitverkore volk wat hulle rug gedraai het op die grootste van alle geleenthede. Nie die geneesde stomme nie, maar Jesus self is die grootste teken wat aan Israel gegee is, sy hele Persoon, met alles wat Hy gedoen en gesê het. Simeon het Hom genoem: ’n teken wat betwis sal word’ (Luk 2:34). Die oordeelsdag sal dit alles openbaar.                                                     `

Die Kerkhervorming wat in 1517 deur Martin Luther ingelei is, het later met vier Latynse slagspreuke die weg van saligheid opgesom: sola gratia, sola fide, sola Scriptura, solus Christus – ‘alleen deur genade,’ ‘alleen deur geloof,’ ‘alleen deur die Skrif,’ ‘alleen deur Christus.’ Later is ’n vyfde slagspreuk bygevoeg: soli Deo gloria ‘aan God alleen die eer.’

Die hele Lukas en hierdie gedeelte in die besonder, sê ‘deur Christus alleen’ en ‘deur genade alleen’ vgl. 10:22: ‘niemand ken die Vader nie behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekendmaak.’ Ook ‘deur geloof alleen’ spreek uit hierdie vers met Nineve wat die prediking van Jona geglo en hulle bekeer het en ‘hier is meer as Jona.’ Vir ‘deur die Skrif alleen’ vgl. 11:28: ‘geseënd is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.’  In 2:14 het die engele al gesing: ‘ Eer aan God in die hoogste hemel.‘




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus en Beëlsebul (Luk 11:14-27) – Francois Malan

11:14-15 In hierdie gedeelte gaan dit vir Lukas nie soseer oor die genesing nie, maar oor die mense se teenstand teen Jesus. Dit gaan vir hulle om sy mag/gesag. Kortliks word vertel dat Jesus die stomme duiwel uit die man gedryf het. Die ou Joodse opvatting was dat demone die gesondheid van die mense ondergrawe. Toe die duiwel uitgedryf is, het die stom man begin praat, tot verwondering van die mense (Matteus 12:22 sê hy was ook blind). Hulle begin praat oor waar Jesus sy mag om te genees vandaan kry.

Sommige uit die skare, Jesus se teenstanders, maak dit af met ’n snedige opmerking dat Hy dit deur Beëlsebul gedoen het (Mark 3:22 sê dit was die skrifgeleerdes van Jerusalem wat so gesê het; Matteus 12:23-24 sê: dit was die Fariseërs wat die opmerking gemaak het, juis omdat van die mense begin vra het of Jesus nie die verwagte seun van Dawid is nie).

Die naam Beëlsebul word verskillend verklaar: (1) as ’n verkeerde uitspraak van Beëlsebub (Baäl zebub), die heer/god van Ekron (Filistyne; 2 Kon 1:2,3,6), ‘die god van (bees)mis’ = van afgodsoffers, of spottenderwys as ‘die heer/god van die vlieë’ (vgl 2 Kon 1:2,3,6). (2) Beëlsebul (Baäl zebul), ‘heer van die huis’, wat in die besetene woon, of ‘die heer van die hemelse woning.’ (3) Beëlsebul (van Beël debab af), ‘die heer van vyandskap.’ Hy is in Jesus se tyd as die regeerder oor die duiwels/demone se huis/koninkryk beskou. Met die minagtende naam wou die teenstanders by die Jode twyfel in Jesus wek.

11:16 Ander mense wou vir Jesus toets. Hulle is nie oortuig deur die genesing van die stomme nie, want van hulle mense dryf ook duiwels uit. Daarom vra hulle om ’n teken uit die hemel, soos bv. Elia se vuur uit die hemel (1 Kon 18:38; 2 Kon 1:10,12), of ’n teken aan die son of die maan of die sterre (vgl. Jes. 7:10), moontlik ’n sonstilstand soos Josua (Jos 10:20) of Hiskia (2 Kon 20:11) gevra het (hierdie vers kom slegs in Lukas voor. Jesus antwoord daarop in 11:29-32).

11:17-20 Jesus het egter hulle gedagtes en beredeneringe agter hulle miskenning en twyfel geken. Hy antwoord met drie argumente en spreek die skare toe (vgl. 11:23):

(1) Die duiwel is nie so ’n dwaas om ’n oorlog tussen sy eie dienaars te stook nie. Geestes- en liggaamlike siektes is deel van die duiwel se  beheer oor die lewe van mense, en daar kan nie van die duiwel verwag word om te sorg dat die lyding versag word nie (vgl. Job).

(2) Daar is ander duiweluitdrywers (letterlik: ‘julle seuns’ – volgelinge), wat weet dat Satan se trawante slegs deur die krag van God oorwin kan word. Hulle weet dat die minagting van Jesus en sy werk ’n godslasterlike geskinder is.

(3) Dié wat Jesus so afkraak behoort te weet dat die enigste mag wat die Satan se mag kan verbreek is ‘die vinger van God’ (Eks 8:19; Ps 8:4). Dit is ’n metafoor vir die krag van God  (Mat12:28 sê: dit verwys na die mag van die Heilige Gees van wie in Luk 1:13 gepraat is). Jesus sê: ‘As Ék deur die vinger van God demone uitdryf, dan het die koninkryk van God julle bereik.’ In Eks 8:19 is dit die Egiptiese towenaars wat die wonders wat Moses doen, beskryf as ‘die vinger van God.’ Soos die Here deur Moses vir Israel uit die slawehuis verlos het, so het Jesus gekom om mense uit die slawehuis van die Satan te verlos. Met sy koms het die koninkryk van God gekom. Hy is die koning van God se koninkryk wat die mense uit die duiwelse koninkryk kom verlos. Ps 8:4 sê :”U hemelruim is die werk van U vingers.” Paulus sê in 1 Kor 8:6: ‘Vir ons is daar één God, die Vader, uit wie alles is en ons vir Hom, en één Here, Jesus Christus, deur wie alles is en ons deur Hom’ (vgl. Joh 1:3). Die gevolgtrekking wat hulle behoort te maak is dat Satan se koninkryk ingeneem is deur die koninkryk van God wat by hulle is in die persoon van Jesus.

11:21-22 Jesus teken die duiwel as die heer van ’n versterkte kasteel, wat sy besittings wat hy onwettig verkry het, veilig bewaak, totdat hy oorrompl word deur iemand wat sterker as hy is (vgl. Luk  3:16). Daarom moet ons die wêreld beskou as ’n gebied wat deur die vyand beset is. Dit behoort na regte aan God, maar deur die mens se sonde het die wêreld onder die tirannie van die Satan gekom, wat die wêreld vashou in ’n greep wat geen mag van ’n mens kan verbreek nie. Die goeie nuus van die evangelie is dat die Leier van die invalsmag wat die wêreld kom bevry, die Koning van die koningskap van God, reeds die Satan se fort oopgebreek het (Jes 49:24-26).

11:23 Die twee koninkryke staan teenoor mekaar in ’n oorlog wat geen wapenstilstand of neutraliteit toelaat nie. Wie nie vir Jesus kies nie, kies vir Satan. Wie nie veg vir Jesus se magte van eenheid en bymekaarmaak nie, veg vir die magte van verbrokkeling en verstrooiing. Jesus versorg sy kudde en maak die lammers in sy arms bymekaar (Jes 40:9-11; Eseg 34; let op 34:5-6). Wie nie by die herder Jesus aansluit en hom aansluit by die ander skape van Jesus nie, begin dwaal op sy eie pad. Skaars 40 jaar na Jesus se woorde het die Romeine die Jode in 72 n.C. oor die aarde kom verstrooi en het hulle eers in 1948 weer ’n eie staat Israel gekry.

 

Die terugkeer van ’n onreine gees (Luk 11:24-26)

Die gedeelte kom ook in Matteus 12:43-45 voor. Dit wys op ’n gemeenskaplike bron vir Matteus en Lukas.

11:24 Die gelykenis van die leë huis verduidelik dieselfde boodskap as die twee huise van vers 23. Die hart van ’n mens is soos ’n huis wat ’n inwoner moet hê. En die enigste manier om te verseker dat die huis nie deur berugte plakkers soos Mammon ingeneem word nie, is om God, wat die mens gemaak het, sy hart te laat vul. Jesus se waarskuwing aan sy teenstanders word afgesluit met die beeldryke voorstelling van demone, wat bekend was in die ou Ooste en in die Jode se gedagtes. Hoewel die woestyn bekou is as die woonplek van die demone (vgl. Luk 4:1; 8:27) het hulle geglo dat die demone daarna verlang om by mense woning te maak. Die mens is die woning óf vir die demone óf vir die Heilige Gees (1 Kor 3:17; 6:11,19). Iemand uit wie die duiwel uitgedryf is en nie die Heilige Gees toegelaat het om sy leë hart te vul nie, maar verkies om neutraal te bly, staan in die gevaar. Die demone wat uit die mens uitgedryf is, verlang daarna om terug te kom na die mens waar hulle uitgeskop is, om hulle buit met die hulp van sewe slegter geeste te herower, want hulle aard is om oor mense te heers.

11:25-26 Jesus waarsku teen ’n leë skoongemaakte huis sonder inwoners. Die Jode het gepraat van sewe geeste wat deur Belial gestuur word (Deutr 13:12-13 praat van  ‘kwaadstokers,’ 1957-vertaling: ‘deugniete,’ Hebreeus: ‘kinders van Belial;’ Rigt 19:22;  20:13; 1 Sam 2:12; 10:27; 25:17,25;30:22; ens. vgl. 2 Kor 6:15). Die Joodse duiwelbesweerders los hulle geneesde pasiënte leeg, om self te probeer lewe volgens die wet van God. Die Christus-gelowige word vervul met die Heilige Gees om te lewe vir goeie dade, waarvoor God ons bestem het (Ef 2:10). Die verwondering van die mense oor Jesus se uitdrywing van die stom gees, is nie voldoende om hulle te vrywaar van die aanslae van die Bose nie. Daarvoor moet jy deel word van Jesus se leërmag wat die duiwel bestry, deur die Heilige Gees wat in jou kom woon. Jesus se bevryding van iemand uit die mag van die duiwel word slegs tot seën as dit gevolg word deur die persoon se toewyding aan Jesus.




Die Evangelie volgens Lukas: ’n Dringende maar ontydige gebed (Luk 11:5-13) – Francois Malan

Jesus skilder vir sy dissipels ’n humoristiese situasie om hulle te laat nadink oor hoe hulle sal optree in so ’n noodsituasie. Hy doen dit om hulle te leer hoe om hulle Vader vrymoedig in gebed te nader, en wat hulle Vader se houding teenoor sy kinders sal wees wat na Hom toe kom met hulle nood.

11:5-7 In ’n klein dorpie sonder winkels, bak elke Joodse gesin elke môre sy eie brood. ’n Man wie se voorraad brood vir die dag op is toe sy vriend middernag na ’n reis by hom opdaag, gaan sy buurman-vriend teen middernag opklop, terwyl die hele gesin saam in die huis se enigste kamer slaap. Die reisiger het waarskynlik in die namiddag begin loop om die kwaai hitte van die dag te vermy. Die gasheer gaan vra drie klein broodjies wat genoeg sal wees vir een maaltyd vir een reisiger (artos is ’n klein ronde broodjie wat meer soos ’n broodrolletjie is). Aangesien gasvryheid ’n heilige saak is, is dit ondenkbaar dat die man sy reisiger-vriend honger sal laat gaan slaap, en dat sy buurman-vriend sy versoek sal afwys. Dit terwyl dit vir die buurman ontydig is. Hy word wakker van die dringende geklop, loop tussen die slapendes deur om die deur se grendels los te maak en die deur oop te maak.  Sy vrou en kinders word wakker, en waarskynlik nog ’n koei of wat, ook in die kamer. ’n Hele gedoente en dit alles vir die ontydige vriend en sy middernagtelike vriend.

Dit is ondenkbaar dat die buurmanvriend sou sê: Moenie my pla nie, die deur is reeds gesluit, my kinders is by my in die bed, Ek kan nie opstaan om vir jou iets te gee nie. Want gasvryheid is ’n heilige roeping (Rom 12:13; 1 Tim 3:2; Tit 1:8; Hebr 13:2; 1 Petr 4:9).

11:8 Jesus sê: al is dit nie uit gasvriendskap nie, sal die man opstaan omdat die vriend so onbeskaamd aanhou klop. Hy word nie skaam om aan te hou klop nie, want hy vertrou sy vriend en ken sy goedhartigheid. En hy sal aan hom nie slegs drie broodjies gee nie, maar wat hy ook al nodig het. In Joh 15:14-5 het Jesus aan sy dissipels gesê: Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. …Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.

Die gelykenis vertel Jesus pas nadat Hy die ‘Vader-’gebed aan sy dissipels geleer het. So behoort gelowige kinders van God onbeskaamd aan te hou om van hulle Vader in gebed te vra wat hulle nodig het. Hier gaan dit veral om iemand wat vir iemand anders wat in nood is, iets vra. Dit beteken dat ons nie moet speel in ons gebede nie, maar met groot erns ons nood oor iemand of iets voor die Here te bring.

11:9-10 Verse 9-11 kom ook effens verkort  in Matteus 7:7-11 voor. Matteus plaas dit in die bergrede, ná die opdrag om nie te oordeel nie. Lukas plaas die woorde ná die Vader-gebed en die gelykenis van die onbeskaamd vra van jou vriend. Dit is ’n deel van die afsluiting van Jesus se onderrig oor gebed. Jesus verseker sy volgelinge: ‘Ek sê vir julle!’ om dringend by julle Vader-Vriend aan te hou met julle versoeke in julle nood en veral met jou nood oor ander. In Filippense 4:6 sê Paulus: ‘Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle versoeke aan God bekend deur te bid, te smeek en Hom te dank.’

Jesus se versekering is: vra, soek, klop; elkeen van die drie opdragte se antwoord is passiewe werkwoorde wat beteken dat God dit sal uitvoer: Hy sal gee, Hy sal laat kry, Hy sal oopmaak – die drie werkwoorde dui telkens voordurendheid aan; ons moet voortgaan met vra, soek, klop, en God sal voortgaan met gee, en laat vind en oopmaak. Mense wat alles vir hulleself wil verskaf, moet leer dat as hulle met God te doen kry, moet hulle bidders word, soekendes, en mense wat aanhou aanklop. Hy gee aan die bidders, Hy maak geslote deur oop, en laat soekendes vind wat die koninkryk/koningskap van God bied. Hy kan soms nee sê, maar Hy luister na dié wat vra.

11:11-13 Die vorige verse het God geteken as die Vriend vir wie ons vrymoedig en aanhoudend kan vra. Hier word Hy geteken as die Vader teenoor sy kind. Dit word weer met retoriese vrae gestel en die antwoord is telkens ’n algehele ontkenning. Dit is ondenkbaar dat ’n aardse vader ’n gevaarlike slang vir sy kind sal gee, wat ’n vis van hom vra; of ’n dodelike skerpioen as hy brood vra (Matteus 7:9 het brood en klip). Brood en vis was die stapelvoedsel van die Jode. Geen vader dink tog daaraan om aan sy seun ’n skadelike gawe in plaas van ’n nuttige gawe te gee nie.

Ten spyte van die mens se sondigheid, openbaar die verhouding van ’n vader en sy kind iets van die beeld van God, sodat Jesus kan sê: ‘As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Hemelse Vader die Heilige Gees gee as julle Hom vra’ (Matteus 7:11 het ‘goeie dinge’ in plaas van ‘die Heilige Gees’).  Die Heilige Gees is self God wat in ons kom woon (Eseg 36:27; Joh 14:17; Rom 8:9-11; 1 Kor 3:16). Hy oortuig ons van sonde en van wat reg is (Joh 16:8), Hy lei ons (Joh 16:13) en gee die krag vir alles wat ons moet doen (Hand 1:8). Hy is die Gees wat lewe gee en lewe neem; vgl. Gen 1:1-3: God skep met sy ruach (’n vroulike woord)  sy lewegewende teenwoordigheid en met sy dabar (’n manlike woord)  sy skeppende woord;  Ps 104:29-30 ruach in Ps 104:29-30; 1 Petr 3:18. Geen ander gawe kan met die Heilige Gees vergelyk word nie, dat God, die Skepper en Onderhouer van hemel en aarde, self in ons kom woon om by ons te bly. As ons bid om die leiding en krag van die Heilige Gees beteken dit eintlik dat ons ons dagtaak in sy hande oorgee en doen waarvan Hy ons oortuig. Hy maak deure vir ons toe en ander deure vir ons oop. Ons tye is in sy hand. As ons in dié bewussyn lewe, kan ons rustig word en doen wat ons hand vind om te doen.