Die Evangelie volgens Lukas: Jesus se onderrig oor gebed (Luk 11:1-13) – Francois Malan

Teenoor Matteus 6:9-13 se sewe bede, bied Lukas vyf bede aan in die gebed wat Jesus sy dissipels leer. In Matteus is dit deel van die bergrede se onderrig in verskeie sake, en as een van die drie algemene instruksies oor privaatheid wanneer julle liefdadigheid bewys, bid, vas. Hier volg dit op die goeie deel wat Maria uitgekies het en nie van haar weggeneem sal word nie.

11:1 Drie sake word sonder naam genoem: die tyd, plek en vraer, wat aan die gedeelte algemeen geldigheid gee vir alle tye, plekke, en die persoon wat met die versoek kom: ‘op ’n keer,’  ‘op ’n sekere plek’ en ‘een van sy dissipels.’  ‘Op ’n keer’  veronderstel dat Jesus dit dikwels en gereeld gedoen het, soos dit ook in Lukas dikwels aangedui word. ‘op ’n sekere plek’ dui daarop dat Hy apart van sy disspels met sy Vader gaan praat het. ’n Ongenoemde ‘een van sy dissipels’ vra Jesus om hulle te leer bid. Die versoek kom na aanleiding van Jesus se eie gebed en Johannes die Doper se dissipels se gebruik (Luk 5:33). Lukas beskryf Jesus as ’n bidder. Die dissipels vra wat Jesus se gebede behels, anders as die tipies Joodse gebede van hulle tyd. Dit dui op die begin van ’n Jesus-gemeente wat anders is as die tipies Joodse eredienste. Dit is ook deel van die kennis oor die koninkryk van God wat Jesus aan sy dissipels leer voordat Hy hulle gaan verlaat en deur hulle gaan werk.

11:2  Jesus sê: Wanneer julle bid, moet julle sê – as ’n model wat ons gereeld moet gebruik. Dit is anders as Matteus 6 se ‘Daarom moet julle só bid’- wat meer die hoe en die manier waarop gebid word beklemtoon. Die gebed wat Jesus hulle hier leer bid begin nie soos Matteus 6 se meer formele  ‘Ons Vader wat in die hemel is’ nie, wat God eintlik ver van ons af plaas. Hier is dit meer intiem persoonlik: ‘Vader’ (Abba) – soos kinders in ’n huisgesin hulle Vader vrymoedig sal aanspreek. So spreek Jesus self sy Vader aan (Luk 10:21;  22:42,34,46) en sluit ons in by sy verhouding tot sy Vader (vgl. júlle Vader in Luk 12:30; Rom 8:14-15; Gal 4:4-7).

laat u Naam geheilig word. Met sy Naam word juis sy Naam as Vader-vir-ons bedoel (soos die Ou Testamentiese naam Jahweh, ‘die Ek is,’ Eks 3:14-15, die Ek, wat persoonlik aktief by julle teenwoordig is). Sy heiligheid is juis geleë in sy Vaderskap, wat geheilig word as ek in Hom glo, en Hom as my Vader ten volle en met my hele lewe vertrou. Met my geloofsvertroue in my Vader, word sy Naam deur my onder mense geheilig. Jesus se volgelinge moet vra dat hulle Vader se Naam, sy reputasie as Vader, Hy self, met toewyding gehoorsaam en liefgehê sal word in die wêreld, maar veral deur sy gelowige kinders; dat elke kind van God sy Naam sal heilig deur aan Hom toegewy te lewe. Hy word gevra om hulle daarin te lei en die vermoë daarvoor te skenk. Hy word gevra om sy Naam in die wêreld, in sy kerk en in my, geheilig  te laat word (vgl. Eseg 36:21-23). In Rom 8:15 sê Paulus: ‘julle het die Gees van aanneming tot kindskap ontvang, deur wie ons roep Abba, Vader.’  Dit is nie slegs ’n formule nie, maar ’n kinderlike gebed tot ons Vader om met sy Gees in ons te werk, sodat ons as God se kinders sal lewe en so sy Naam in die wêreld heilig. Dit staan teenoor die Joodse gebed, soos in Matteus, met byvoeging van ‘wat in die hemel is’ om ’n groot afstand te skep teenoor die heilige God.

laat u koninkryk kom. Die koms van die koninkryk van ons Vader open vir ons die ingang tot die ewige Vaderhuis waar ons Vader regeer oor ons en oor sy ganse skepping. Dit beteken onder andere, dat die heerskappy van die sataniese mag gebreek word, en die einde van die duiwel se bewind (Luk 11:14-26). In Luk 11:20 sê Jesus: ‘As Ek deur die vinger van God demone uitdryf, dan het die koninkryk van God julle bereik (letterlik: op julle gekom).’ As Jesus se volgeling bid dat sy Vader se koninkryk/koningskap moet kom, vra hy iets wat besig is om te begin gebeur, dat hy die voltooiing daarvan afwag, en dat die Vader sy kinders betrek by die koms van sy seggenskap en heerskappy oor alles. Dit gaan om sy regverdige en liefdevolle regering wat gevestig word deur sy vrye onvoorwaardelike genade; dit vra die mens se geloof in Hom en gehoorsaamheid aan Hom. Die regering van God is volmaak teenwoordig in Jesus, en tot ’n sekere mate in sy volgelinge. Ons bid egter dat God se koningskap in ons lewe sal toeneem, sodat ons al meer soos Christus sal word (2 Kor 3:18). Sy koningskap moet egter groei en uitbrei om alle mense te omsluit.

Terwille van sy tweemaal driedeling (3 u-gebede; 3 ons-gebede) voeg Matteus 6:10 by: ‘Laat u wil geskied soos in die hemel, so ook op die aarde.’ Die derde u-gebed ontbreek in Lukas en is eintlik ’n uitbreiding en verduideliking van ‘laat u koninkryk kom.’

11:3 Gee ons elke dag ons daaglikse brood. Die teenwoordige tyd van die werkwoord ‘gee’ is ’n versoek dat my Vader telkens op elke dag vir my sal gee wat vir die dag nodig is (vgl. Spr 30:7-9). Die volgeling wat só bid, staan voor sy Vader in die wete: ek is die ontvanger voor my sorgsame Vader wat my behoefte ken. Hy vertrou my met wat Hy aan my gee dat ek dit reg sal gebruik. Die Jode bid vir hulle jaarlikse brood in die negende seën van hulle daaglikse 18 gebede. Daarteenoor staan die gelowige volgeling van Jesus elke dag in afwagting op die sorg van sy Vader, met afwagting op die heerskappy van sy Vader oor elke dag tot aan die voleinding, soos Hy vir Israel in die woestyn elke dag manna voorsien het volgens elkeen se behoefte (Eks 16:17-18,21). Christene lewe in konstante afhanklikheid van God. Brood is ’n simbool vir alles wat nodig is vir ons aardse bestaan om te lewe en te werk in ooreenstemming met God se wil. Dit is ook nie ’n selfsugtige gebed vir myself nie, maar vir ‘ons,’  wat al God se kinders insluit. God gee dit nie as beloning vir goeie werke nie, maar ons vra in vertroue op ons Vader se genade, vir sy konstante voorsiening in ons behoeftes.

11:4 en vergeef ons ons sondes, want ook ons vergeef elkeen wat teenoor ons skuldig staan.  Na die gebed om brood en alles daarby wat die Here aan ons toevertrou, staan ons in skuld voor God oor ons gebruik maar veral oor ons  misbruik van sy gawes. Daarom noem Lukas dit sonde teen ons Vader waarvoor ons vergifnis vra (vgl. Luk 7:41-43; Mat 6:12 praat van skulde). Omdat ons lewe uit God se genadige vergifnis, staan ons, wat ons Vader se vergifnis ontvang het, teenoor ons medemense as mense wat vergewe. Die gebed om vergifnis is ook soos die gebed om die daaglikse brood in die teenwoordige tyd wat voortdurend om vergifnis vra. Die gemeenskap met God as Vader skep ’n nuwe gemeenskap onder sy kinders. Die barmhartigheid van ons Vader maak ons ook barmhartig teenoor mekaar (vgl. Luk 6:20-38).  Die ‘want’ is nie ’n voorwaarde vir God om ons te vergewe nie, maar ’n belydenis van ons kindskap van die Vader en dat ons aan ander doen wat die Vader aan ons doen. Daarmee bely ons dat ons sy kinders is en dat Hy ’n barmhartige God is wat vergewe (vgl. Eks 34:5-7).

En bring ons nie in versoeking nie. Die Griekse woord peirasmos kan toetsing of versoeking aandui. Versoeking is die poging om iemand te laat sonde doen. Toetsing verwys na ’n deeglike en uitgebreide ondersoek om die karakter van iemand te leer ken. Jakobus 1:12-14 sê: ‘Geseënd is die man wat beproewing (peirasmos) deurstaan, want as hy die toets deurstaan, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat God beloof het aan hulle wat Hom liefhet. Laat niemand wat versoek word, sê: “Ek word deur God versoek,” nie, want God kan nie deur kwaad versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word.’ Dit is daarom ’n ernstige bede dat my Vader my sal bystaan wanneer die duiwel en my eie begeertes my in versoekings laat beland en met sy kragtige bystand my deur beproewings heen bewaar (1 Petrus 1:5-7). Die Vadergebed onderstreep die swakheid van die mens en die mag van die Bose. Daarom is dit ’n gebed om in God se hand te bly. ‘Geen versoeking het oor julle gekom behalwe ’n menslike een nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook uitkoms gee, sodat julle dit kan verduur’ (1 Kor 10:13).

Matteus voeg nog by: en verlos ons van die Bose. Lukas het egter in verse 5-8 ’n voorbeeld van ’n gebed wat nie in die ander Evangelies voorkom nie. Die volgende gedeeltes in Lukas brei uit op die gebed.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus as gas by Marta en Maria (Luk 10:38-42) – Francois Malan

Die verhaal kom slegs in Lukas voor.

10:38 Anders as die Samaritaanse dorpie wat Jesus nie wil ontvang nie, ontvang Marta van ’n sekere dorpie’ Hom (waarskynlik in Betanië; Johannes 11:1 en 12:1). Die naam Marta ‘Meesteres’ is die vroulike vorm van die Aramese Mar ‘Here.’  Jesus is nog op reis na Jerusalem, besig om sy dissipels in te lei in die lewenswyse volgens die wil van God. Na die verhaal oor die man wat deur rowers oorval is, die manlike priester en Leviet wat anderkant verby gegaan het, en die manlike Samaritaan wat hom versorg het, vertel Lukas van Jesus se ontmoeting met twee vroue in ’n huislike omgewing. Jesus maak nie onderskeid tussen mans en vroue nie. Hy is ook aanwesig in gewone huislike omstandighede.

10:39 Marta se suster Maria gaan sit aan die voete van die Here, soos ’n leerling van ’n rabbi (vgl. Hand 22:3). ’n Rabbi sou egter nooit ’n vrou in sy klas opgeneem het nie, maar die Here doen dit wel in sy nuwe bedeling wat Hy gebring het. Baie vroue het Hom reeds gevolg en na Hom geluister (Luk 8:2-3), iets wat teen die Joodse gebruik is. Maria luister na sy woord – wat elke volgeling van Jesus behoort te doen.

10:40 Marta was egter oorlaai en bekommerd (perespao) oor die baie bedieningswerk (pollen diakonian). Marta staan en sê vir Jesus:  ‘Here, pla dit U nie dat my suster my alleen los om te bedien nie? Sê vir haar om my te kom bystaan.’ Want daar was baie gaste saam met Jesus, wat goed bedien moes word.

10:41-42 Die Here sien dat Marta haar kwel en ontstel oor baie dinge; maar een is noodsaaklik; Maria het die goeie deel uitgekies, wat nie van haar weggeneem sal word nie, naamlik haar afhanklikheid van Jesus. In die woord van Jesus ontvang Maria die woord van die lewe wat vir haar die ewige lewe laat beërf (vgl. Luk 10:25). Jesus veroordeel nie Marta se werk nie, maar wys haar kritiek op Maria se keuse om na Hom te luister simpatiek af met ‘n liefdevolle aanspreekvorm: Marta, Marta’ (vgl. ‘Simon, Simon’ in Luk 22:31). Die baie aardse dinge waaroor Marta haar kwel, gaan verby. Wat Maria gekies het word aan haar vir ewig gegee.

Op verskillende maniere ontvang die twee susters vir Jesus: die een deur vir Hom te sorg, die ander om na Hom te luister. Jesus ontvang altwee: Hy spreek tot Maria, en praat met Marta, nie oor wat Hy van haar nodig het nie, maar wat sy van Hom nodig het. Lukas dui die onderskeid aan deur die houding van die twee vroue: die een gaan sit aan die voete van Jesus, die ander een is besig met baie dinge en kom ’n oomblik by Hom staan om ’n kritiese opmerking oor haar suster te maak, en om haar suster, wat net oë vir Jesus het, van Hom af weg te neem omdat sy, Marta, nie oë het vir die houding van Maria teenoor Jesus nie.

Na die verhaal van die diensbereidheid van die Samaritaan, plaas Lukas die verhaal van die diensvaardigheid van Marta. ’n Onderskeid word ook getref waartoe verskillende mense hulle onverwags deur God geroepe voel, en besluit om Hom op verskillende maniere te dien, maar dikwels nie sonder ’n tikkie selfwaardering nie. Die selfwaardering maak dat jy van ander ook verwag dat hulle soos jy moet optree. Jesus wil egter self besluit wat Hy aan elkeen opdra. Marta is te besig met die voorbereidings vir Jesus om na Hom te luister, te besig met haar eie diens aan Hom soos sy dit sien. Maria neem tyd om na Jesus te luister en ontvang kinderlik wat Hy aanbied. Marta kyk na die plig wat sy haarself oplê; Maria kyk na Jesus alleen. Marta kry ’n vriendelike teregwysing van Jesus. Sy moet leer dat onselfsugtige diens en selfs om jou op te offer, bederf kan word deur selfbejammering; dat goeie werke sonder dat jy jouself verloën, vir jou sleurwerk kan word, en ’n las, of ellendig kan word, en ’n tirannie word vir ander. Jesus keur nie haar voorbereidings af nie, maar wel haar klag teen haar suster se keuse.




Die Evangelie volgens Lukas: Die barmhartige Samaritaan (Luk 10:25-37) – Francois Malan

Nadat Jesus gesê het dat sy evangelie vir wyses en verstandige mense verberg is maar aan eenvoudiges geopenbaar word, en sy eenvoudige gelowige dissipels as geseënd verklaar het, staan ’n wetskenner op om Hom te toets (almal het rondom Jesus gesit). Jesus se antwoord verwys na ’n reis van Jerusalem na Jerigo, wat moontlik verwys na die gebied waar die gesprek plaasvind. Van vers 38 af is Hy ook in Betanië, net buitekant Jerusalem, waarheen Hy eintlik op pad is vir sy ‘uittog.’ In dié gedeelte word die woord ‘doen’ vier maal gebruik (10:25,28,37,37). Die verwysing na die opsomming van die wet (Luk 10:25-28) stem in wese ooreen met Mark 12:28-34 en Mat 22:34-40. Die voorbeeld van die barmhartige Samaritaan  (Luk 10:29-37) kom slegs in Lukas voor.  (In 2 Kronieke 28:5-15 word ’n uitsonderlike verhaal vertel wat raakpunte het met hierdie verhaal).

10:25 Die wetskenner (nomikos, uitlegger van die godsdienstige wet) vra vrae, nie om inligting te kry nie, maar om Jesus se bekwaamheid as uitlegger van die Skrif te toets en as ’n versoeking om Jesus voor die skare uit te vang en as ’n onbekwame rabbi te bewys. Hy staan op; waarskynlik was hy deel van die skare wat gesit en luister het na die 72 se vreugde en na Jesus se antwoord oor ware vreugde om te weet dat jou naam reeds in die hemel opgeskryf is. Hy noem Jesus wel ’Meester’ – didaskalos, die aanspreekvorm vir ’n rabbi –  om te kyk watter soort rabbi Jesus is. ‘wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?’; om seker te wees dat my naam in die hemel opgeskryf is (Dit was ook die vraag van die ryk jongman, Luk 18:18); m.a.w. hoe kan hy ook deel kry aan die vreugde wat hy hier belewe. Hy bring ander mense gewoonlik tot skuldbelydenis voor God deur die onverbiddellike eise van God se wet vir hulle voor te hou.

Die gesprek tussen Jesus en die wetskenner wys duidelik die verskil aan tussen die etiek van die wet en die etiek van liefde. Vir die wetsleraar is die ewige lewe ’n prys wat verdien moet word deur die noukeurige vervulling (doen) van godsdienstige reëls. Vir Jesus is die liefde tot God en die naaste op sigself die lewe van die hemelse koninkryk wat reeds op aarde begin (Luk 10:20). Die wetsleraar wil hê die morele pligte moet beperk en omskryf word met rabbynse presiesheid. Jesus plaas geen beperking op die verpligting om lief te hê nie. Vir die een is godsdiens ’n stel beperkende reëls en ’n las (vgl. Mat 11:28), vir die ander ’n onbeperkte vreugdevolle reeks geleenthede.

10:26 Soos ’n egte rabbi gooi Jesus die vraag terug na die wetskenner. Wat staan in die Wet? Jy, as kenner van die Wet van God, hoe lees jy God se Wet oor die beërf van die ewige lewe? Daarmee wys Jesus dat die wetskenner self die antwoord op sy vraag geken het, maar Jesus se vraag is hoe hy God se wil verstaan met sy kennis van die wet van God.

10:27 Die wetgeleerde haal die twee belangrikste wette van die Here aan (1) uit Deutr. 6:5 ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag ‘- hy voeg by ‘en met jou hele verstand’ soos Jesus in Mark 1:30 (Mat 22:27 het soos Deuteronomium. net die eerste drie). Die uitdrukking beklemtoon dat die mens met al sy vermoëns en fasette van sy lewe die Here moet liefhê, met sy denke, gevoel, vermoëns en sy hele wese;  (2) ’en jou naaste soos jouself’ uit Lev 19:18b. Vir die Jood was Deutr 6:4-5 deel van sy daaglikse gebed en Lev 19 was beskou as die opsomming van die etiese kode, hoewel 19:18a verwys na sy volksgenoot, en daarom het hy die naaste van 19:18b beperk tot sy volksgenoot. Die wetsgeleerde het duidelik ’n grondige kennis van die Skrif gehad.

10:28 Jesus sê die antwoord is reg, maar om dit te doen is die belangrike, dit beteken waarlik liefhê en alles uit liefde vir God en die naaste doen. En as jy in liefde lewe, dan ‘sal jy lewe’; deur nou reeds vir God en jou medemens te lewe en vir ewig te lewe by God. 1 Johannes 4:19-20 verduidelik: ‘Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. As iemand sê “Ek het God lief” en sy broer haat, is hy ’n leuenaar. Want wie sy broer wat hy sien nie liefhet nie, kan nie God liefhê wat hy nie sien nie…’

10:29 Die wetgeleerde wil homself regverdig met ’n vraag wat Jesus sal blootstel: en wie is my naaste? ’n Vraag wat baie deur die rabbi’s bespreek is. Die wetgeleerde wil ’n grens om die liefdesgebod trek. Tot waar strek die iefde wat God van my vra? Wie word uitgesluit en wie is in? Hierdie selfregverdiging van die wetsgeleerde is tipies van die  Fariseërs en van ’n farisese houding. Hulle wil die naaste net tot hulle eie groepie beperk. In Luk 6:27 het Jesus reeds gesê julle moet julle vyande liefhê; en in Luk 6:36: wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is.

10:30 Met die verhaal van die barmhartige Samaritaan draai Jesus egter die wetgeleerde se vraag om. Die wetgeleerde sien die naaste as ’n voorwerp van liefde. Jesus sien jou as die subjek, wat die liefde van God na ander moet uitlewe. Vir wie kan ek die liefde van God wat in my is, deurgee? Jesus rig sy antwoord aan die méns wat vra, nie op die probleem nie. Die skrifgeleerde vra: wat is die grootste gebod. Jesus sê: doen jy dit. Hy vra: wie is my naaste? Jesus sê: vir wie kan jy ’n naaste wees?

Jesus antwoord (hupolambano reageer) op die vraag van die wetgeleerde, deur hom te neem op die gevaarlike eensame pad van 27 kilometer oor berge en deur dale, van Jerusalem, die tempelstad, 3000 voet af, tussen rotse deur, tot by Jerigo, die priesterstad in die Jordaanvlakte wat 853 voet onder seespieël lê. Op die pad is ’n man wat afgaan na Jerigo. Hy word deur rowers oorval (lestai rowers wat geweld gebruik; word ook gebruik vir ’n oproermaker, ‘n rebel, soos die selote; Barnabas word so aangedui in Joh 18:40). Die rowers stroop die man se klere af, verwond hom en los hom halfdood (die soldate het Jesus se klere ook afgestroop, Matt 27:28, vgl. Joh 19:22; Ps 22:18-19; op Jesus se kop ’n doringkroon ingeslaan, Matt 27:29-30, spykers deur sy hande geslaan en ’n spies deur Hom gesteek, en heeltemal dood gelos, Joh 19:34; 20:21). Die rower se filosofie is: wat joune is is myne, ek vat dit vir my. Miskien het die man wat onder die rowers verval het ook van ’n byeenkoms in die tempel af gekom as ’n besondere ‘naaste,’ ’n geloofsgenoot van die priester en die Leviet.

10:31  Dit gebeur toe dat (sukuria, deur ’n sameloop van omstandighede) ‘’n priester met dieselfde pad van Jerusalem afgaan na Jerigo, waarskynlik ná sy diensbeurt by die tempel, op pad na sy huis in Jerigo. Levitikus 21:1 bepaal dat ‘n priester hom nie mag verontreinig deur naby ’n lyk te kom nie. Die priester sien die man daar lê en om enige kontak met die man te vermy, stap hy aan die anderkant van die halfdooie man verby. So meen hy om sy heiligheid (toewyding aan die Here en aan die woord van God) te behou, ná sy diens met die heilige dinge in die tempel. Die priester se filosofie is: wat myne is is myne, ek hou dit vir myself.

10:32  So ook die Leviet, wat waarskynlik ook van sy diensbeurt by die tempel terugkom. Die priesters het die volk se offers voor en aan die Here gebring, en moes vir die volk by die Here intree, en hulle seën (Luk 1:5,21-23). Die Leviete was, benewens die skoonmaak en onderhoud van die tempel, die hulp van die priesters met die bring van die offers aan die Here, en ook verantwoordelik vir die onderrig van die volk. Toe hy die man halfdood sien lê, gaan hy ook anderkant verby. Daar is dus twee getuienisse van die onbarmhartigheid van die godsdienstige leiers van die volk. Hulle beperk die liefdesgebod, wat hulle goed ken, tot hulle diens aan God by die tempel, en beperk hulle naaste tot hulle eie groep of volksgenoot. Hulle beskou die ‘naaste’ as ’n term wat jou verantwoordelikheid beperk en kon eindeloos argumenteer oor watter soort mense uitgesluit word uit die bedoeling van die liefdesgebod.

10:33 Maar ’n Samaritaan op reis sien die man en kry hom innig jammer. Terwyl die priester en die Leviet die man sien met oë wat op hulleself en hulle eie belange gerig is, sien die Samaritaan die man se nood en dit gryp hom aan (splangnizomai, sy binneste kom in beweging); en dit ten spyte van die eeue-oue onderlinge bitterheid tussen die Jode en die Samaritane wat deur die Jode as ketters beskou is, al het die Samaritaanse Bybel ook Deuteronomium en Levitikus. Hierdie Samaritaan se lewensfilosofie is: wat myne is is joune, ek wil dit vir jou gee. Jesus het die wetsgeleerde opsetlik geskok om hom te laat nadink oor die moontlikheid dat ’n half-heidense volksvreemdeling meer van die liefde van God weet as ’n toegewyde Jood wat verblind is deur sy vooringenomenheid met kleinlike reëls en gebruike.

10:34-35 Die verhaal wat tot hier kortliks vertel is, brei breed uit oor die optrede van die Samaritaan: wat, sonder vrees vir rowers, die man se wonde met wyn ontsmet, met helende olie smeer, hom verbind, optel, op sy eie donkie laai, na ’n herberg (pandogeion) neem, en hom daar versorg (epimelomai met toewyding versorg). Of dit nie genoeg is nie, reël hy vir die vreemdeling se versorging terwyl hy met sy reis voortgaan, betaal daarvoor twee daglone vir ’n arbeider se gesin en beloof om enige kostes te betaal as hy terugkom. Heel nugter word die Samaritaan se dade van barmhartigheid geskilder, teenoor die beperkings van godsdienstige wette en gebruike, rassepolitiek en mense se enge groepsverbondenheid.

10:36 Jesus draai sy vraag om: ‘wie van die drie, dink jy, was ‘n naaste vir die man wat deur die rowers oorval is?’ Die wetsleraar het gevra na die beperking van die liefdesgebod: ‘En wie is my naaste’ wat ek moet liefhê soos myself, vir wie hoef ek nie lief te hê volgens God se gebod nie. Jesus leer ons om te vra: vir wie kan ek ’n naaste wees? Dit beteken dat ek nie hoef te teoretiseer of te besluit wie my naaste is nie, maar wie het my hulp nou nodig, wat die Here oor my pad gebring het? Die teenstelling tussen Jesus en die wetgeleerde gaan oor die praktiese instelling teenoor mense. So was daar skielik ‘n man vol melaatse swere wat voor Jesus neergeval het, en deur Hom genees is (5:12); ’n verlamde word deur die dak voor Hom afgesak, terwyl Hy preek (5:19); Jesus roep ’n tollenaar by die tolhuis op die pad en gaan saam met hom en sy vriende eet (5:17); Hy sien ’n man met ’n verlamde hand in die sinagoge terwyl Hy preek (6:6). Op pad kry Hy ’n weduwee voor ’n stoet met haar enigste seun dood op die baar en kry haar innig jammer (7:13); ’n slegte vrou kom salf sy voete tydens sy maaltyd by ’n Fariseër en Hy vergewe haar sondes (7:48); ’n man vol demone storm op Hom af en Hy verlos hom uit hulle mag (8:27). Hy wek die leier van die sinagoge se dogter op uit die dood en op pad daarheen genees Hy ’n vrou wat aan sy kleed raak (8:40-56); Hy voed ’n honger skare in ’n verlate plek (9:10). Vir wie kan jy ’n naaste wees?

10:37 Die ‘versoeker’ (10:25) antwoord Jesus se vraag aan hom: ‘die een wat barmhartigheid aan hom gedoen het,’ hy is die naaste aan die man wat onder die rowers verval het. Die tweede gebod gaan om prakties te doen wat nodig is teenoor die mens in nood (Jak 1:22-25; 2:14-18). God se wil, soos in sy wet uitgedruk, duld geen skemas nie. Godsdiens word ’n karikatuur as liefde met vaste reëls begrens word. Die liefde begin by die raaksien van ander mense en hulle nood soos God self ons raaksien (vgl. Rom 11:32). Dit mag ook wees dat ’n Samaritaan nader aan die koninkryk van God en sy liefdesgebod staan en bly as die kinders van die koninkryk (Luk 13:26-30)

Vir die wetgeleerde sê Jesus: ‘Gaan en doen jy netso.’ Dit is Jesus se opdrag aan alle mense om soos die Samaritaan op te tree. My gebed moet wees dat die Here my oë sal open om die nood van ’n medemens wat Hy op my weg bring,  raak te sien, en dat Hy my hart sal vry maak van my binding aan myself, sodat my hart sal uitgaan na die mens in nood wat die Here op my weg bring. Dan sal dit uit my naasteliefde duidelik word hoe opreg my liefde tot God is. Jesus is dié

barmhartige Samaritaan teenoor my, en Hy wil van my ’n barmhartige Samaritaan maak wat myself verloën en Hom volg (Luk 9:23). Die Joodse godsdiens wat ander uitsluit weerspreek die verlossing wat God deur Jesus se sterwe en opstanding volbring, net soos die heidense Samaritane wat nie vir die Jood Jesus in hulle dorpie wil ontvang nie.




Die Evangelie volgens Lukas: Jesus loof die Vader en sê sy dissipels is geseënd (Luk 10:21-24) – Francois Malan

Dié twee gedeeltes in Lukas (10:21-22 en 23-24) kom nie in Markus voor nie, maar Lukas se twee dele is op twee verskillende plekke in Matteus opgeteken (Mat 1:25-27 en 13:16-17). Dit wys na ’n gemeenskaplike bron vir Matteus en Lukas.

10:21 Ná Jesus se aanwysing van die ware rede vir blydskap vir sy volgelinge, dat hulle name in God se boek van die lewe opgeneem is as die mense vir wie Hy ken en as sy kinders versorg (Luk 10:20; 12:6-7) vertel Lukas van Jesus se eie groot blydskap, sy jubeling (agalliao om uitermate bly te wees, soos in Maria se loflied, Luk 1:47). Tipies van Lukas se klem op die Heilige Gees, is Jesus se jubelende blydskap in ( gemeenskap met) die Heilige Gees. Jesus loof en dank die magtige Here, die Skepper, Eienaar en Regeerder oor die hemel en die aarde, wat Jesus se goeie en barmhartige Vader is (Luk 2:49; 11:2 ). Die Vader, die Seun en die Heilige Gees is hier één, op só ’n wyse dat elkeen dit kan hoor en lees. Aan die aanwesiges en aan almal wat dit lees, word iets van die basis van Jesus se lewe en optrede geopenbaar, oor sy bestendige verbondenheid met sy Vader en oor sy lewenstaak. Waarmee God besig is, is nie die vrug van menslike denke nie, maar van God se bemoeienis met mense wat in eenvoud luister en soos kindertjies wat die boodskap wat hulle hoor aanvaar en glo; ‘Ja Vader, want so word dit voor U goedgevind.’

Die rede vir Jesus se blydskap is dat die Vader ‘die dinge’ vir slim en geleerde mense verberg het (apekrupsas) – eie wysheid (sofoi wyses) en insig/intelligensie (sunetoi verstandiges, intelligentes) maak nie dat God jou ken of erken nie; dit laat God nie jou naam in sy boek van die lewe opskryf nie (Luk 10:20). Maar aan die kindertjies (nepioi kindertjies van 3-4 jaar; ongeleerdes en onkundiges) het die Vader die dinge geopenbaar (apekalupsas; let op die woordspel tussen apokrupto verberg en apokalupto openbaar anders as Matteus se krupto verberg).

Die wyse man begryp die gedagtes waarvolgens hy sy lewe inrig, die verstandige begryp die dinge wat hy teëkom en albei ontwikkel deur hulle begrip van dinge die vermoë om sake reg te beoordeel en daarvolgens te handel. Maar omdat Jesus en sy optrede vir hulle bedek bly, is dit duidelik dat die mens die kennis van Jesus en die koninkryk van God nie uit homself kan verstaan of begryp nie. Dit moet as ’n geskenk uit genade ontvang word uit die hand van God, deur die werking van die Heilige Gees (Joh 16:8). Omdat hulle dit nie uit hulleself kan begryp nie, is dit vir die wyses en verstandiges ’n ergernis, wat hulle trots krenk. Maar vir die kindertjies wat dit as ’n geskenk aanvaar, word die geheim van God se koninkryk geopenbaar; nl. dat die kleinste en die nederigste (die kleinste in eie oë) juis die grootste en vernaamste is in God se koninkryk. Dit gaan om geloof en kinderlike vertroue op die Here, wat vir die wyses en verstandiges so moeilik is (Luk 1:52; 6:20; 1 Kor 1:18,25; Ps 8:3; 116:6).

10:22 Die Vader het alles aan die Seun oorgegee. Wat die ‘alles’ insluit is eerstens dat God sy Vader is, dié Vader van alles in die skepping. Die Seun het deelname aan al die mag van God en aan die goddelike lewe. Dit beteken dat Jesus self ook God is, soos Joh 1:1 sê, en die lewe is (Joh 1:4); dat die Vader aan Hom die koningsheerskappy toevertrou het in God se koninkryk (vgl. 1:33; 7:28; 8:1; 10:9,11 en dwarsdeur die hele Evangelie van Lukas). Op grond van die geheimenisvolle Vaderskap van God wat as die liefdevolle Vader en die magtige Here oor die hemel en die aarde regeer, bestaan die wederkerige verhouding tussen  die Vader en die Seun: niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun. Die  woord ‘ken’ (ginosko) het soos die Hebreeuse woord ‘jada,’ ’n wye betekenis wat ook ’n direkte persoonlike verhouding wat voortgaan uitdruk. Dit gaan nie om intellektuele kennis nie, maar om die noue persoonlike verhouding tussen twee persone. Hier gaan dit om ’n verhouding tussen die Vader en die Seun wat niemand anders kan begryp nie (1 Joh 4:8,16 sê ‘God is liefde’ om die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees te beskryf); vir Filippus sê Jesus: ‘Glo My dat Ek in die Vader en die Vader in My is’ (Joh 14:11).

Jesus maak die pad na dié besondere verhouding oop sodat dié mense aan wie Hy dit wil openbaar, God kan ken soos Hy is. Hulle kry ook deel aan, of word opgeneem in dié besondere liefdesverhouding tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Omdat hulle aan die Seun van God, wat self ook God is, verbind word deur geloof in Hom, word hulle aangeneem as kinders van God. Aan dié persoon aan wie Hy wil, openbaar Jesus hoe God werklik is. Dit is ’n geskenk uit die genade van die Here. Dié geheimenis van die persoon van die Seun, nl. dat Hy God is, was deur min Jode aanvaar, en dat God is soos die nederige Jesus sy Vader  openbaar, was ook vir hulle onaanvaarbaar.

10:23 Dat die volgelinge van Jesus die openbaring oor die Vader deur die Seun ontvang, word duidelik gemaak deur hierdie seënuitspraak van Jesus, privaat aan sy groepie dissipels. Jesus sê: ‘Geseënd/gelukkig is dié oë wat sien wat julle sien.’ Hulle, hoofsaaklik ongeleerde vissers, is die bevoorregte mense wat die Seun van God self gesien het en met Hom gewandel het – vgl. Johannes se weergawe van hulle dissipels se bevoorregte posisie in 1 Joh 1:1-3. Hulle beleef die aanbreek van die koninkryk van God. Hulle het hulle eie idee gehad oor hoe God is en hoe Hy gedien moet word en moes die ander siening by Jesus leer.

10:24 Profete en konings het verlang om te sien en te hoor wat Jesus se eenvoudige dissipels beleef het (1 Petr 1:10-12). Profete en konings was draers van die belofte van God se Gesalfde (die verwagte Messias) ,’n Profeet soos Moses (Deutr 18:18-19) en ’n Koning soos Dawid (1 Sam 7:12-13) maar met baie meer glans en heerlikheid as Moses of Dawid. Die vrome Simeon het in die baba Jesus die vervulling van die beloftes gesien (Luk 2:29-32). Die dissipels was egter bevoorreg om ’n paar jaar metgeselle te wees van die Seun van God aan wie die Vader die seggenskap oor alles in die skepping gegee het (paradidomi). Hulle gaan ook die getuies word van sy kruisiging en sy opstanding en hemelvaart, en ontvangers van die Heilige Gees wat in hulle kom woon (Hand 2:4,en 2:17 – aangehaal uit Joël 2:28-32).